Oordenking 1
Lees:
Jes.60
Teks: Jes.60:1,2
Tema: Advent: die betekenis daarvan
Die
laaste vier weke voor Kersfees staan in die kerklike jaar bekend as ADVENT. Dié
moeilike woord dit kom uit die Latyn en dit beteken : naderende koms. Meer
volledig is dit : adventus Domini of naderende
koms van die Here.
Of
om dit nog duideliker te stel:
-
Op Kersdag dink ons aan
die koms van ons Here Jesus in die vlees. Op daardie heerlike feesdag vier ons die
koms van die Lig van die wêreld.
-
In hierdie Adventstyd
berei ons ons voor op Kersfees. In die Ou Testament en met name in ons teks,
weerklink die oproep tot die kerk tot voorbereiding
: ”Staan op, wees ‘n lig; want jou lig kom”. Die volk van die HERE moet
gereed wees vir die koms van hulle Son. Hy is reeds op pad. En vir sy koms moet
hulle gereed wees.
Nou
mag u miskien sê: Ja, maar die Lig het al gekom. 2000 jaar gelede reeds is
Christus immers gebore in die stal van Betlehem. Waarom moet ons ons dan nog
voorberei op sy koms? En inderdaad, dit is waar! Die Lig het alreeds gekom
daar op Kersnag twintig eeue gelede. MAAR dit is nie genoeg nie. Hy
moet ook kom in ons harte ! Ek bedoel maar: Ons moet ook weet wat sy koms in
die vlees vir ons inhou. Wat beteken dit vir ons? En ons moet dit ook glo! Die
krip van ons Here Jesus moet nie alleen in Betlehem staan nie, maar ook in ons
eie hart.
==>
En juis daarop is hierdie adventstyd, hierdie voorbereidingstyd gemik: Ons wil
onsself in gereedheid bring om sy koms op Kersdag feestelik te oordink. Daardie
dag moet vir my ‘n blye dag wees, omdat ek glo dat God sy Lig ook
in my duisternis gestuur het. En
hoe beter ons besef wat sy koms vir ons inhou, des te meer sal ons ons op
Kersfees verheug in die geboorte van die Seun.
Aan
die hand van ons teks wil ek DV die volgende twee keer met u oording:
1.
Advent:
die belofte van die komende Lig
2.
Advent:
die eis om, verlig deur die gekome Lig, 'n lig te wees
Oordenking 2
Lees:
Jes.60
Teks: Jes.60:1,2 (Advent)
Tema:
Advent: die belofte van die komende Lig
·
Om
hierdie teks en die wonderlik-mooie evangelie daarin werklik te begryp en te
waardeer, moet u weet in
watter tyd Jesaja dit uitgespreek het. Waar het die volk van die HERE
hulle bevind toe die profeet aan hulle profeteer het van die naderende koms van
die Lig? - Die kerk van die HERE, Israel, was in ballingskap in Babel. Vir die
volk van God was dit stikdonker nag, die nag van God se oordeel. Dit is wat die
ballingskap beteken het: die verbondsstraf van God. Dit het hulle ook verdien as
gevolg van hulle aanhoudende verbondsbreuk.
·
En
nou het die duisternis al 70 jaar geduur. 7 dekades was hulle al in hierdie
onbeskryflike donker nag. En dan, opeens, dan staan die gesant van die HERE voor
hulle: die profeet Jesaja.
Sy
boodskap moes soos hemelse musiek geklink het in die ore van sy hoorders. Hy kom
met die belofte van God: “Jou lig kom, en die heerlikheid van die
HERE gaan oor jou op”.
Die
beeld wat hier voor ons oë opgeroep word, is die van ‘n sonopkoms: die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op. Na ‘n pikdonker nag breek die dag weer aan. Dit
beteken: die duisternis van God se gerig, die nag van sy oordeel verdwyn.
“Jou
lig kom”, sê Jesaja. In die oorspronklike staan dit eintlik in so ‘n vorm
asof dié lig al klaar gekom het. Dit is in Hebreeus die manier om te sê dat
iets sekerlik gaan gebeur.
·
Wat
is hierdie lig?
Om hierdie vraag te beantwoord, kyk ons eers na die Ou Testament en daarna die
Nuwe.
-
Eerstens die Ou Testament en met name die profeet Jesaja.
In
die 9de hoofstuk sê hy: “Die volk wat in die duisternis wandel, het ‘n
groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het
‘n lig geskyn”(v.1). En dan jubel, dan juig hy: “WANT ‘n Kind is vir ons
gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy
word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors”(v.5).
HIERDIE
KIND is die LIG. HY is die SON wat die duisternis van God se oordeel laat
opklaar. Dit leer die Ou Testament al.
-
En nou, tweedens, die Nuwe Testament.
>
En hier voer ek u aandag na Lukas 2:8-20:
Daar vertel die evangelie-skrywer ons van ‘n groep skaapwagters. In die omstreke van Betlehem het hulle oor hulle skape die wag gehou. Maar opeens, in die donkerte van die nag, is die duisternis deurbreek deur 'n helder lig: 'n Engel van die Here het aan hulle verskyn en die heerlikheid van die Here het hulle omstraal.
Mense in die stikdonker nag van sonde en van dood, in hulle lewens skyn skielik die lig van die lewe! Waar kom die lig vandaan? Uit die hemel! Die heerlikheid van die Here omskyn hulle. Dit is veelseggend! Nie 'n lig uit die aarde nie, nie hulle prestasies of goeie werke deurbreek die doodsnag van sonde en oordeel nie, maar die lig kom van bo af, van God af. Die verlossing is net sy werk. Daarom sing die engele: "Eer aan God in die hoogste hemele..."
Dit
is die eerste wat op daardie eerste Kersnag gebeur: 'n Kerslig verskyn. En diè
lig getuig van die koms van die Groot Lig, die geboorte van die Lig van die wêreld
in die krip van Betlehem. Oor 'n aarde vasgevang in die duisternis van die ewige
dood , het die Son van geregtigheid opgegaan: Die Vader het sy Seun na die wêreld
gestuur, gebore uit die maagd Maria! God verdryf die duisternis deur die koms
van sy Seun. Daarom: "Eer aan God in die hoogste hemele..."
>
Op talle plekke in die Nuwe Testament word die Seun van God die lig van die wêreld
genoem.
Maar
dit is veral die evangelis Johannes wat lief is vir hierdie uitdrukking.
Heel
aan die begin van sy evangelie (Jh.1:9) gebruik hy dit al, wanneer hy sê:
“Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan die kom in die wêreld”.
Hy
is die heerlikheid van God wat soos ‘n son oor ons opgaan - waarvan Jesaja in
ons teks praat. Want, sê Johannes, “die Woord het vlees geword en onder ons
gewoon - en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die
Eniggeborene wat van die Vader kom - vol van genade en waarheid.
·
Om
die profesie van Jesaja des te meer te waardeer, moet ONS weet waarheen die ballingskap uiteindelik wys.
-
Die Babiloniese ballingskap is
‘n vooruitwysing na die ewige nag
van God se oordeel. Dit is ‘n afbeelding van die nag van die hel.
-
Wat ons des te meer moet aanspreek, is die feit dat die kerk hier in Jesaja in die ballingskap sit. Ook hulle verdien
dit om gestraf te word.
Ja,
ook ons het sondes en ook ons sondes roep om straf, om ‘n altyddurende, nimmer
eindigende nag.
-
As u dit weet en dit werklik glo, sal u Jesaja se profesie van die komende lig
des te meer waardeer. Dan sal dit vir u ‘n blye wonder wees.
Dan
sal u weet wat Kerfees vir u persoonlik beteken. Want Kersfees is LIG-fees. Dit
is die fees van God se Lig. Op daardie dag - byna 2000 ,jaar gelede - het God sy
Lig gestuur om my duisternis, die nag van God se oordeel, die gerig wat ek
dubbel en dwars verdien het, te verdryf.
Op
Kersdag laat mense orals kersliggies skyn. Maar onthou ons nog die een Lig? Want
net daardie Lig, net die Seun van God, kan ons verlos van ‘n ewigdurende nag!
Sien
u nou hoe noodsaaklik voorbereiding, hoe noodsaaklik ADVENT is ?
Want ons moet ons weer gaan voorberei op die koms van die Lig van die wêreld.
Ons moet weer gaan besin op die betekenis van die geboorte van ons Here Jesus
Christus!!
Oordenking 3
Lees:
Jes.60
Teks: Jes.60:1,2 (Advent)
Tema: Die eis om, verlig deur die gekome Lig, 'n lig te wees
Jesaja
begin sy profesie in hoofstuk 60 met ‘n bevel, ‘n eis: skyn! Wees ‘n lig!
·
Die
kerk van die Here moet ‘n lig wees in die wêreld! Maar HOE kan ons dit wees? Dit is die eerste vraag.
In
die verband wil ek u aandag vestig op dit wat Jesaja in ons teks doen: Hy
verbind hierdie opdrag ten nouste aan die belofte, want daar staan: Wees
‘n lig, WANT julle lig kom. Dit is besonder veelseggend dat die profeet
belofte en eis so aan mekaar koppel. Daarmee wil hy ons leer: alleen danksy die
belofte kan ons ligte wees. Alleen danksy die belofte kan ons die eis nakom. Die
belofte is die basis, die fondament. Die belofte is die geheim van die kerk se
lig-wees. Sonder die belofte, sou die kerk nie lig kon wees nie.
Laat
ek dit anders verduidelik: die kerk is nie self ‘n son nie. Ons
is ‘n spieël. En u weet: ‘n spieël produseer of genereer nie self
lig nie. ‘n Spieël weerkaats die lig wat van die son af kom. En dit is nou
presies wat u moet doen in die wêreld: u moet die lig van die lewe, Jesus
Christus weerkaats. Ek bedoel maar: u moet vertel van Christus. U moet Hom, die
lig van die lewe, verkondig.
Ek
kan dit ook nog anders stel: u moet die
belofte uitdra. U moet ander daarvan vertel. U moet vir ander sê dat
die Lig van die wêreld gekom het, dat Jesus in die vlees verskyn het, dat Hy
gebore is om die duisternis van God se oordeel weg te neem. As u hierdie belofte
aan ander voorhou, dan is u ligte in die wêreld. Dan skyn u in die donker. Dan
kom u die eis van die HERE in Jesaja 60:1 na.
·
Maar
nou die tweede vraag: WAAROM
moet ons ligte wees?
Natuurlik
omdat God dit van ons vra !
En
omdat ons ‘n verantwoordelikheid het ten opsigte van die wêreld rondom ons en
die omgewing waarin God ons geplaas het.
En
hoe sien daardie wêreld daar uit?
Dit
laat die profeet ons sien. Want in v.2 kom die
groot kontras tussen die kerk en die wêreld na vore:
-duisternis
oordek die aarde en donkerheid die
volke. Daarenteen het die kerk die
Lig.
=die
wêreld lê onder die duisternis van
die sonde en onder die donkerheid van die toorn van God. Daarenteen het u
die Lig van verlossing.
God
het u ryk gemaak, sodat u ander sal ryk maak. God het u verlig, sodat u ander
sal verlig. ‘n Mens steek nie ‘n lamp op en sit dit onder die maatemmer nie,
maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is (Mt.5:15). Dit
beteken:
>
U moet aan ‘n wêreld verlore in skuld die evangelie verkondig. U moet hulle
vertel van Jesus wat gekom het om vir ons te betaal.
>>
U moet aan ‘n wêreld, vasgevang in die mag van die sonde, aan ‘n wêreld
wat verwoes word deur haat en twis vertel dat net Jesus ons kan verlos van
daardie duister oormag.
Kersfees
is fees van die Lig, want ons oordink die koms van ons Lig, Jesus Christus. Maar
Kersfees is nie alleen fees van dié groot Lig nie. Dit is ook fees
van die ligte: u is daardie ligte. En u kan skyn in ‘n donker wêreld,
u kan lig gee, as u die glans van Christus se verlossingswerk weerkaats in u
omgewing.