Die Here is naby

Flitse uit Filippense en die ontstaan van die gemeente van Filippi
 

Oordenking 1

Lees: Hand. 15:40-16:10

Teks: Hand.16:6,7,9,10

Tema: Die Here stuur gesante deur sy Heilige Gees

In ons tekshoofstuk ontmoet ons die apostel Paulus en sy metgeselle op hulle tweede sendingreis. Sy bedoeling daarmee was om die gemeentes, wat hy op sy eerste sendingreis gestig het, te besoek (Hand.15:36). Nadat hy hierdie doel bereik het, wou hy ‘n paar ander plekke in Asië besoek. Maar God se bedoeling was anders: Paulus moes nie na Asië nie, maar na Europa.

Daarom gryp Koning Jesus vanuit sy hemelse paleis in en hy dwing sy gesante om te gaan waar Hy hulle wil hê. Drie maal hoor ons hoe Hy ingryp. In v.6 vertel Lukas dat die Heilige Gees Paulus en sy makkers verhinder het, om in Asië die woord te verkondig. En dan weer, net twee verse verder, staan daar: Die Gees het hulle nie toegelaat om na Bithinië in Asië te gaan nie. En die derde ingrype is die gesig van die Macedoniese man wat roep: ”Kom oor na Macedonië en help ons”. Kom oor na Europa.

Die eerste les wat ons hier dus leer is: Die Here self stuur sy boodskappers. Hy self besluit waarheen en na wie toe hulle moet gaan (vgl.D.L. I:3). Vanuit sy hemelse woning handel Koning Jesus deur sy Gees. Hy handel in Handelinge en nie mense nie, ook nie sy gesante nie.

Dit is vandag nog ewe waar. Geen dominee gaan uit sy eie na ‘n bepaalde gemeente nie. Die Here self besluit daaroor. Hy stuur hulle. So staan dit ook in die bevestigingsformulier vir predikante.

Maar in die gesig van die Macedoniese man lê daar vir ons nog ‘n tweede les opgesluit: die Here stuur nie alleen nie, maar Hy stuur na mense in nood.

Want hierdie gesig is niks minder as ‘n noodsein nie: help! Ons kan dit gerus vergelyk met die noodberigte wat skepe uitstuur as hulle in die moeilikheid is: S.O.S. Dit staan vir: Save Our Souls. Red ons siele. Red ons lewens.

Maar wat was dan die nood van hierdie man? En wat was die nood van die mense wat hy verteenwoordig? Wel, die lewensskip van die die Macedoniërs - of anders gesê : die lewensskip van die mense van Europa, want daarvan was Macedonië deel - hulle lewensskip was besig om onder te gaan onder die branders van die sonde. Hulle was aan’t vergaan onder die woedende golwe van God se toorn. Dit was hulle nood.

En hier kon geen mens help nie. Alleen die reddende evangelie kan. Dit is die enigste reddingsboot wat van ewige ondergang kan red. Alleen Jesus Christus is ons ark van behoud. Daarom kom die noodroep tot die draers van  die evangelie, tot die boodskappers van die Here: kom, Paulus, kom oor na Macedonië en help ons! S.O.S.! Red ons siele.

En is ons nood vandag anders? Nee, ons sit met dieselfde probleem: die sonde en daarmee saam die toorn van God. Maar dit is nou juis die Godswonder van elke erediens. Want daarin kom die Here self na ons toe en deur sy gesante werp Hy ons toe die reddingsboei van die evangelie.

Maar daarom moet ons die prediking en God se evangelie-dienaars waardeer. Ons moet hulle ontvang as lewensredders, as mense deur die Here self gestuur om ons die weg van verlossing aan te wys. Want deur hulle prediking steek God sy hand reddend na ons toe uit. So handel die handelende Koning van die kerk vandag nog met sy volk.

 

Oordenking 2

Lees: Hand. 15:16:9-15

Teks: Hand.16:14

Tema: Die Here open menseharte deur sy Heilige Gees

Die eerste plek in Macedonië waar Paulus-hulle aangekom het, was Filippi.

Hierdie stad het sy ontstaan alreeds in 360 v.C. gehad, maar eers sedert 42 v.C. het dit ‘n stad van betekenis geword. Toe het Octavius, die latere keiser Augustus, na sy oorwinning, Filippi verhef tot ‘n Romeinse kolonie. Anders as die woord “provinsie”, wat by die Romeine oorwonne gebied beteken, was ‘n kolonie ‘n gebied buite Italië waar Romeinse setlaars, gewoonlik oud-soldate, gevestig is. So ‘n kolonie moes dan diens doen as ‘n vesting en afskrikmiddel teen opstande deur die onderworpe inheemse bevolking. Filippi was dus ‘n soldatestad, maar ook ‘n koopmansstad.

By Filippi het keiser Augustus sy triomfboog opgerig, ‘n monument ter herinnering aan sy grootse oorwinning aldaar. Maar juis hier, in Filippi, sou die evangelie van die kruis sy eerste oorwinning op Europese bodem behaal. Hier sou die eerste gemeente in Europa tot stand kom.

Na hulle aankoms in die stad het Paulus en sy metgeselle ‘n paar dae in die stad rondgewandel op soek na Jode by wie hulle aansluiting kon vind, of na mense wat bereid was om na hulle prediking te luister. Blykbaar was daar egter so min Jode in die plek, dat daar nie eens ‘n sinagoge was nie.

Wel kon Paulus-hulle vasstel dat daar ‘n bidplek was buite die stad langs die rivier. Daar het ‘n aantal Jode op die Sabbat saamgekom. Toe die Sabbat aangebreek het, het Paulus en die ander dus daarheen gegaan. Daar was egter net ‘n paar vroue. By hulle het Paulus aangesluit en hulle begin vertel van Jesus Christus.

Een van die vrou het geluister én gehoor. Baie luister Sondae, maar min hoor.

Hierdie vrou se naam was Lidia. Sy was ‘n godvresende vrou. Dit beteken sy was ‘n heiden wat haar tot die Joodse godsdiens bekeer het.

Sy was voorts afkomstig uit Thiatire. Dié stad was bekend vir sy handel in ‘n purper kleurstof. Dit is verkry van die sogenaamde purperslak. Elke slak het maar een druppel van die verfstof gegee. U kan dus begryp dat dit geweldig duur en kosbaar moes wees. Hierdie keurstof is dan gebruik om klere mee te kleur. En nou het Lidia waarskynlik juis daaruit haar bestaan gemaak, dat sy van die uiters duursame purper klere verkoop het.

Uit dié handel het Lidia sekerlik ‘n goeie inkomste gemaak. Maar die aardse rykdom kon haar maar nie bevredig nie. Dit kon haar nie werklik gelukkig maak nie. Maar op daardie dag daar langs die rivier sou sy die ware lewensrykdom en die egte lewensgeluk ontvang: die blye boodskap, die vreugdetyding van Jesus Christus.

Moet ons nie ook hieruit leer nie? Aardse dinge, ons geld, ons goed, kan ons nie waarlik ryk en gelukkig maak nie. Alleen Jesus kan. Dit is tog opvallend dat in die Grieks, die taal waarin die Nuwe Testament oorspronklik geskryf is, die woordjies genade en blydskap soveel op mekaar lyk. Genade maak bly. Die blye boodskap gee vreugde. Het u dit ook al ervaar?

In die lewe van Lidia vind daar, onder die prediking van Paulus, ‘n Godswonder plaas: Die Here het haar hart geopen om ag te gee op wat deur Paulus gesê is.

Die beeld wat ons hier voor oë geroep word, is die van ‘n deur. Deur die sonde is ons hart toegegrendel vir God. Dit is gesluit vir sy evangelie. Ons kan dit ook nie self oopmaak nie. Trouens, ons wil ook nie. Dit is uitsluitlik God se werk. So staan dit ook hier: Die Here het haar hart geopen. Vanuit die hemel handel ons Here Jesus en deur sy Gees sluit Hy ons hart oop. Hier het u dit dus weer: die handelinge van Koning Jesus.

Hieruit moet ons leer: Die prediking alleen kan ons nie verander nie. G’n dominee, hoe goed hy ook al preek, kan ons hart open nie. God moet dit doen. Dit het Paulus ook op ‘n keer so saamgevat:”Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei” (1 Kor.3:6). Bid daarom die Here dat Hy u hart sal open vir die prediking. Doen u dit? Doen u dit voor elke diens?

Die prediking alleen is dus nie genoeg nie. Die Here en sy Gees moet daarby kom. Maar beteken dit dat die prediking dan waardeloos is? Geensins! Maar daaroor volgende keer (in Oordenking 3) meer.  

Oordenking 3

Lees: Hand. 16:9-15

Teks: Hand.16:14

Tema: Die Here gee ons deur sy Gees ‘n hart vir die gepredikte Woord

Calvyn se kommentaar op hierdie vers is besonder insiggewend en dan veral ook sy geballanseerdheid ten opsigte van die verhouding Woord en Gees: ENERSYDS huiwer hy nie om te verklaar dat die prediking alleen 'n dooie letter is nie. ANDERSYDS beklemtoon Hy dat die Heilige Gees juis die Woord wil gebruik om ons harte te verander. Sodra ons die Skrifte verag, word die lig van die Gees deur ons uitgedoof. Juis die gepredikte Woord is die werktuig waardeur die Here die verligting van sy Gees aan die gelowiges uitdeel. Geen wonder dat Calvyn ons verseker dat die Skrif die skool van die Heilige Gees is nie.

In die behandeling van die boek Handelinge is dit steeds van die allergrootste belang om te onthou: Wanneer die Heilige Gees in Handelinge 2 uitgestort word, dan is die heel eerste ding wat daarna gebeur dat daar GEPREEK word. Petrus staan op en preek en 3000 mense kom tot bekering deur die eenvoudige middel van die prediking. Handelinge is die boek wat handel oor die handelinge van Jesus deur sy Gees en deur die prediking van sy kerk.

Ook in ons teks mag dit nooit miskyk nie: Lidia het geluister en die Here het haar hart geopen. So staan dit in ons teks. Sy het die gepredikte Woord aangehoor en die Here het haar hart verander.

Die luister was dus wel belangrik. Ja, ek kan maar sê onmisbaar. Die Here werk immers deur sy Woord. Die prediking is sy instrument. Dit is die sleutel waarmee Hy die deur van ons hart oopmaak (Rom.10:14).

In die verband wil ek u op ‘n ander teks wys waar ook die beeld van ‘n deur gebruik word. Ek bedoel Op.3:20, hierdie woorde van Jesus: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na Hom toe en by hom maaltyd hou, en hy by my”. Soms word hierdie teks deur sektes so voorgestel asof Jesus by die deur van ons hart staan en klop. Maar Hy kan self nie inkom nie, want die deur het net ‘n knop aan die binnekant. Daarom moet ons die deur oopmaak en Jesus in ons harte inlaat. Dit is natuurlik glad nie wat daar staan nie. Wat daar wel staan, is dat ons die stem van die Here hoor. Hy praat met ons en deur sy Woord beweeg Hy ons om ons harte vir Hom te open. Sy Woord doen dit dus ten diepste. En dit onderstreep net nogeens die absolute noodsaak van die gepredikte Woord.

Maar ook uit die res van Hand.16:14 blyk dit duidelik hoe belangrik die prediking vir die Here is. Want daar staan: die Here het Lidia se hart geopen “om ag te gee op wat deur Paulus gesê is”. Dus: Die Here ontsluit haar hart om die woord van sy gesante ter harte te neem. Daarom het die Here haar hart oopgemaak, SODAT sy ‘n oop hart sou hê vir die verkondiging van sy gesante.

Sy het ag gegee op wat deur Paulus gesê is. Dit beteken nie alleen dat sy dit waardeer het nie. Dit hou ook in dat sy dit gehoorsaam het, dat sy dit ook toegepas het in haar lewe, dat sy ook daaruit gelewe het.

Dit is eweneens ‘n Godswonder. Want van nature, soos ons deur die sondeval geword het, het ons geen waardering vir die Woord nie. Die prediking laat ons yskoud. Om die waarheid te sê: Ons verveel ons in die kerk. ‘n Diens word gou vir ons te lank. Ons wil dit ook nie gehoorsaam nie. Maar as God ons aangryp, gryp ons sy Woord aan. Dan kom ons onder die indruk daarvan. Dan ontroer dit ons. Dan is dit vir ons heerlik.

Ek vestig u aandag ten slotte op nog iets: Toe die deur van Lidia se hart deur die Here geopen is, het sy ook die deur van haar huis geopen...vir die apostel van die Here. D.w.s. toe haar hart oopgegaan het vir God, het sy ook ‘n oop hart gehad vir sy kerk.

Ja, toe wou sy ook deel wees van die kerk. Daarom het sy haar, deur die doop, laat inlyf by die kerk. Want sy wou deel wees van die gemeenskap van die heiliges en sy wou luister na God se gesante. Sy wou graag die prediking hoor. God se kerk het vir haar kosbaar en dierbaar geword. Die blye boodskap van die prediking het haar hart met vreugde vervul.

Oordenking 4

Lees: Hand. 16:16-24

Teks: Hand.16:17,19,23

Tema: Die gebedsnood van die kerk

In Handelinge 16 vers 25 tref ons Paulus en Silas aan op hulle knieë.

In hierdie oordenking wil ek stilstaan by hulle gebedsnood. Of anders gesê: dit wat aanleiding gegee het tot die gebed.

Aan die begin van Handelinge 16 word vertel hoe die Here op ‘n wonderlike manier die deur van Lidia se hart geopen het.

Vanselfsprekend was die duiwel nie bly daaroor nie. Daardeur was daar nou ‘n bres geslaan in sy Europese vesting. Hy was besig om terrein te verloor. Sy alleen-heerskappy in Filippi is bedreig deur die handelinge van Koning Jesus deur die prediking van sy gesante aldaar. Dit kan die Satan nie verdra nie. Een bekeerling is vir hom alreeds een te veel.

Daarom gaan die duiwel ook oor tot aksie. Waar Jesus handel met sy evangelie, daar handel die Satan met sy weerstand teen die blye boodskap. Dit is vandag nog so: Troue evangelie-verkondigers sal sy teenstand ervaar.

In die boek Handelinge kry ons dus nie net die handelinge van Jesus deur sy gesante nie. Ons kry ook te doen met die handelinge van die duiwel deur sy trawante. In Filippi mobiliseer die engel van die duisternis sy helse magte teen die oorwinningstog van die evangelie.

Die eerste soldaat wat die duiwel teen Paulus in die veld stoot, is ‘n slavin met ‘n waarsêende gees. Hierdie vrou was in diens van die afgod Apollo. Waarskynlik was sy ‘n priesteres in sy tempel. Omdat sy onder die mag van ‘n bose gees, ‘n gees van die duiwel, was, kon sy die toekoms voorspel. Dit het haar eienaars uitgebuit en hulle het baie geld uit hierdie “gawe” van haar gemaak.

Terwyl Paulus-hulle op pad was na die bidplek, daar waar Lidia tot bekering gekom het, het hierdie slavin hulle teëgekom. Sy het Paulus en sy metgeselle gevolg en geskreeu: “Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg tot verlossing”.

Ons kan dus sê: Dit was nie net Paulus wat daar in Filippi gepreek het nie. Die duiwel het dit ook gedoen en dit het hy gedoen by monde van hierdie ongelukkige vrou.

Miskien klink dit vir u vreemd: die duiwel ‘n prediker! Is dit moontlik? Daarop moet ons antwoord : ja! Ons het meer voorbeelde daarvan in die Bybel. Hy misbruik die Woord vir sy doeleindes. Toe Jesus byvoorbeeld in die woestyn versoek is, het die duiwel juis met die Bybel na Hom toe gekom en vir Hom gesê: Daar staan geskrywe! Maar daar reeds het geblyk dat die ou slang die Woord verdraai.

Hier sien ons die groot teenstander van God op sy gevaarlikste. Hy kom met die Bybel in die hand. Hy kom in die gewaad van ‘n engel van die lig. Die "evangelie" van sy gesante klink na die ware, suiwer leer. Luister net wat preek hierdie vrou met die waarsêende gees: “Hierdie manne is dienaars van God, die Allerhoogste, en hulle verkondig aan julle die weg van verlossing”.

Dit klink so mooi, maar dis ‘n valse prediking. Ons moet mooi luister na wat sy sê. Sy preek nie: Paulus verkondig aan julle dié weg, die enigste weg van verlossing, nie. Nee, sy roep: Hierdie manne verkondig aan julle ‘n weg van verlossing. Dit is maar een klein woordjie, maar daardie klein woordjie "'n" maak die wêreldse verskil. Daarmee sê sy naamlik: Daar is ook nog ander paaie na God toe. Christus is nie die enigste nie. My Apollo is ook ‘n weg van verlossing. Dit is verder heel opvallend dat sy die Naam van Jesus verswyg. Ons moet nie net luister na wat iemand sê nie, maar ook hoor wat verswyg word.

In ons tyd hoor ons al meer en meer van hierdie soort preke. Daar is werklik teoloë wat leer dat ons en die Mohammedane en die Boediste dieselfde God aanbid. Hulle kom net langs ‘n ander weg by God uit. Maar ons sê: nee! Daar is net een weg en dit is Christus.

Dit is verder skokkend hoe Christus in preke en oordenkings vandag verswyg word. Daar word vir mense gesê wat hulle moet doen en nie moet doen nie, hoe hulle hulle in die huwelik moet gedra en wat hulle politieke plig is en nog baie meer. Maar van Christus hoor jy niks nie. Dit is presies hoe hierdie slavin gepreek het: 'n Christus-lose preek. Die duiwel gee nie om dat ons preek nie, maar dan moet ons tog net nie die Naam van Jesus noem nie. Ons moet liewer nog vir mense sê: Deur julle goeie werke kan julle salig word.

Ook enige Christus-plus-my-goeie-werke-prediking is nie die ware prediking nie, want dit leer ons dat Christus nie die enigste weg is nie. Hy is dan maar net ‘n weg, maar nie dié weg, die enigste, nie. Dit maak sulke prediking so uiters gevaarlik.

Hoe stuit Paulus die duiwel nou in sy stormloop? Probeer hy dit self doen? Nee, hy doen ‘n beroep op Christus, want vir die bose gees sê hy: “Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus om uit haar uit te gaan”. Daarmee sê hy ten diepste: Here Jesus, handel u, want ons handelinge kan die duiwel nie keer nie. En Jesus hét gehandel, want daar staan: “En hy het op dieselfde oomblik uit hom uitgegaan". Hier sien ons die krag van Christus-prediking gedemonstreer.

Die slavin was dus bevry. Maar daaroor was haar base nie bly nie, want nou was hulle wins daarmee heen. En juis dit gryp die duiwel as sy tweede soldaat aan: vir Mammon, die geldgod. Want die eienaars van die slavin gryp Paulus en Silas en hulle beland in die tronk. Met Mammon verslaan die duiwel vandag nog sy duisende.

Nou het die duiwel sy doel bereik. Sy handelinge het skynbaar geslaag. Die mond van die evangelie is gesnoer. Wat sal Paulus en Silas se antwoord op die nood wees? Daaroor 'n volgende keer.

 

Oordenking 5

Lees: Hand. 16:19-25

Teks: Hand.16:25

Tema: Gebed om Christus se handelinge

In die vorige oordenking het ons die handelinge van die duiwel gesien. Die resultaat van sy handelinge was dat Paulus en Silas in die tronk beland het. Nou het die duiwel skynbaar sy doel bereik: Die mond van die evangelie is gesnoer.

Wat sal Paulus en Silas se antwoord op die nood wees?

In hulle diepste nood het die kerk van die Here deur die eeue heen altyd een wapen geken: die wapen van die gevoude hande, die biddende hande.

Dit is ‘n wapen so ontsaglik kragtig, so enorm sterk. Nee, dit is nie kragtig, omdat die gevoude hande self so sterk is nie, maar wanneer ons bid, lê ons ons nood, lê ons die voortbestaan van God se kerk in die almagtige hande van ons Koning. Juis daarom is die gebed so kragtig.

Handelinge is die boek van die gebedshandelinge van die kerk. Dit is opvallend hoeveel maal ons hoor dat daar gebid word. Reeds rondom Pinkster hoor ons die kerk bid en hoe, in antwoord op die gebedshandeling van die dissipels, die Heilige Gees uitgestort word.

Ook Paulus was ‘n man van gebed. Toe hy daar, op die weg van Damaskus, van sy kameel afgeval het, het hy op sy knieë te lande gekom. En op sy knieë het hy, by wyse van spreke, vir die res van sy lewe gebly. Want dit is werklik opvallend hoe vol sy briewe met gebede is. Paulus was ‘n biddende man.

Ook hier in die tronk bid hy en Silas. So handel hulle in hulle nood. Hulle neem hulle toevlug tot die die handeling van die gebed. Dit moet ons tog nie verkeerd begryp nie. Gebed beteken nie dat ons self wil handel nie. Waaragtige gebed beteken juis: om jou hande na Christus uit te steek dat Hy sal handel, dat Hy met sy almagtige handelinge reddend sal ingryp. Gebed is juis om te sê: Met ons handelinge kry ons niks reg nie. Ons handelinge kan die duiwel nie stuit nie. Ons dade kan ons nie verlos nie, MAAR U handelinge is alles. U kan verlos. Daarin lê die krag van die gebed.

Paulus en Silas het die groot krag van die gebed geken? En ons?

 

Oordenking 6

Lees: Hand. 16:25-40

Teks: Hand.16:25, 26, 30

Tema: Die vrug van die gebedshandeling: die handelinge van Koning Jesus

·        Die eerste wat ons hoor na hulle gebed is dat Paulus en Silas gesing het.

Hulle het gebid én gesing. Die twee gaan saam: bid en sang. Wie bid, sing. Dit sien ons meermale in die Bybel (vgl. Ps.13). Die gebed maak die sanglus wakker. Sing ons ook? En as ons nie sing nie, waarom sing ons nie? Is dit miskien omdat ons nie bid nie of omdat ons nie waarlik bid nie?

Paulus en Silas het gesing. Maar wat? Klaagliedere? Psalms waarin hulle hulle nood voor God beklaag het? Nee, daar staan: Hulle het lofliedere gesing, jubelsange om middernag, deur donkernag omgewe.

Dit is tog ongelooflik, nie waar nie? Terwyl hulle met stukkend geslaande rûe in die tronk lê, hulle voete in blokke vasgeknel, sing hulle! Hoe kan dit? Dit kom deur die gebed. Deur die gebed lê ons ons diepste nood en die nood van God se kerk in die hande van die handelende Koning van Handelinge. Dan is die kerk veilig en die voortgang van die evangelie gewaarborg, ondanks die Satan se handelinge. Die gebed is die geheim van Paulus-hulle se blydskap. Deur die gebed weet hulle dat hulle lewens veilig is by God en dat die duiwel nie sal slaag om die kerk te kelder in sy evangelie-prediking en in sy voortgang en in sy voortbestaan nie.

·        Ons hoor in die tweede plek dat die gevangenes geluister het. Paulus en Silas se sang was ‘n soort prediking. Die Here word geloof vir sy groot dade. Die duiwel wil die evangelie agter die tronkmure en deure toesluit. Nou bereik die blye boodskap juis daardie mense binne die tronk. Die duiwel bereik die teenoorgestelde met die gevangenskap van Paulus en Silas : Dit loop uit op bevordering van die evangelie (Fil.1:12).

Is ons blymoedig? Sing ons ook graag? Dit kan ‘n middel tot evangelisasie wees, ‘n manier om ander te wys en te laat hoor: Dit is heerlik om ‘n Christen te wees. So kan ons mense tot die God van ons gebede trek.

·        Die krag van die gebed word derdens geïllustreer in die aardbewing wat daarop gevolg het. Openbaring 8 vers 20 vertel iets dergeliks: want toe die engel die skaal met die gebede van die heiliges daarin op die aarde gegooi het, het daar stemme gekom en donderslae en weerligte en aardbewing!

Lukas vertel ons dat die aardbewing so erg was, dat die fondamente van die gevangenis geskud het. As gevolg daarvan het die deure onmiddelik oopgegaan en die boeie van almal het losgegaan. Satan wou die evangelie agter die tronkdeure toesluit, maar deur die gebed van die kerk is die gevangenisdeure oopgeruk. 

Die koper-kerkerdeur het

gewaggel voor Gods mag

wat ysters weggebeur het,

verbreek het met een slag. (Ps.107:7, berymd)

Die gebed van die kerk is die geheim van die voortgang van die evangelie. Bid u dat die evangelie mag uitbrei?

·        Maar nie net gevangenisdeure het oopgegaan nie. Ons hoor ook in die vierde plek dat die deur van iemand se hart oopgegaan het: Die tronkbewaarder het tot bekering gekom. Koning Jesus laat die aarde bewe en Hy skud hierdie man in die fondamente van sy bestaan, sodat die deur van sy hart oopgaan. Daaragter sit die gebed van Paulus. Nee, die gebed op sigself kan mense nie verander nie, maar in die gebed vra ons dat die Here Jesus sal handel en dat Hy deur die handelinge van sy Heilige Gees mense nuwe harte sal gee.

Ons kan ander mense nie verander nie. Ons kan ons kinders nie tot geloof bring nie. Maar ons kan wel bid. Doen ons dit genoeg?

·        As laaste vrug op Paulus en Silas se gebed hoor ons dat hulle deur die geregsdienaars vrygelaat is. Die handelinge van die Satan het misluk. Want selfs in die tronk en ondanks die kerkerdeure en die tronkmure het die evangelie sy triomftog voortgesit. Die Here sal sy werk deur niks laat keer nie.

 

Oordenking 7

Lees: Fil.1:1-11

Teks: Fil.1:1-2

Tema: Die skrywer van die brief

Die brief aan die Filippense begin met die noem van:

1. die afsender van die brief;

2. die ontvangers van die brief; en

3. ‘n seëngroet.

In hierdie oordenking kyk ons na die afsender of skrywer. Die eerste vers sê dit: Paulus is die skrywer. Weliswaar word ook die naam van Timothëus genoem, maar uit die res van die brief is dit duidelik dat Paulus alleen die opsteller is. Waarskynlik word Timothëus se naam wel genoem, omdat hy self ook nou by die stigting van die gemeente betrokke was en omdat hy hom volledig met die inhoud van hierdie brief vereenselwig het.

Die omstandighede van Paulus terwyl hy hierdie brief skryf, laat besondere lig oor die Filippense-brief val. Dit is duidelik dat hy skryf vanuit die tronk. So praat hy ‘n paar keer van sy boeie en hy maak ook melding van die keiserlike lyfwag wat hom bewaak.

Net soos in die tyd van die stigting van die gemeente daar in Handelinge 16 bevind die apostel hom dus weer in die gevangenis. Daar hou die ooreenkoms egter nie op nie. In Handelinge 16 vers 25 het ons gehoor dat Paulus en Silas in die tronk gebid en lofliedere tot eer van die Here gesing het. En dit is nou juis so verrassend: In die Filippense-brief vind ons dit ook: GEBED EN SANG!

·        Die eerste wat Paulus doen, nadat hy die gemeente in vv.1 en 2 gegroet het, is om te bid. Dié gebed vind u in vv.3-11. En dit is ‘n heel besondere gebed. Want Paulus kla nie oor sy moeilike omstandighede nie, maar hy dank God! En wat so geweldig treffend is : Hy bid nie vir homself nie, maar vir die gemeente en hy dank die Here vir die heerlike werk wat God in die gemeente gedoen het. Hy self is nie belangrik nie, maar die skape van die Here. Verder loop die gebed - ondanks Paulus se moeilike omstandighede - oor van blydskap.

Hoeveel keer ons ons gebede nie vervul met egoïsme nie? Hoeveel maal dink ons nie net aan ons eie belange nie? En verder: Sien ons nog die genade van die Here raak in ons geloof en dank ons God daarvoor? Is daar in ons gebede die toon van blydskap? Want hier leer die Heilige Gees ons bid en hier toon Hy ons wat ons moet doen in ons lewensnood.

·        Tweedens, naas die gebed, sing Paulus ook. Daar in die tronk van Filippi het hy en Silas dit al begin doen. Hier in die gevangenis van Rome sit hy dit voort. Hy sing nog steeds en nog steeds is dit lofliedere tot eer van die Here. Nog steeds sing hy van die groot dade van God. Want Filippense 2:5-11 is ‘n jubellied oor die verlossingswerk van Christus en daardie blye toon weerklink deur die hele brief. Filippense is een groot vreugdesang oor God se werke in Christus en die blydskap wat dit ons gee.

Prikkel dit ook u sanglus as u dink wat God in sy Seun vir u gedoen het?

Maar wie is hierdie Paulus nou? Hy noem homself en Timothëus diensknegte van Jesus Christus. Daarmee wil hy sê: Hy staan in diens van Jesus Christus. Die Koning van die kerk self het hulle gestuur om Jesus Christus en sy blye boodskap aan die gemeente te verkondig. Dit is die diens waartoe hulle geroep is. Dit gaan om Christus en sy saak. Dit wil hulle predik en bevorder.

Dit geld vandag nog van alle predikers. Hulle kom na u toe as diensknegte van Koning Jesus. Ons is sy dienaars, deur Homself uitgestuur, om sy vreugdetyding aan u te predik. Dit is ook die besondere van elke erediens. By monde van sy diensknegte wil die Here vandag ook met ons bemoeienis maak en die vreugdeboodskap van die evangelie aan ons bekendmaak. Sien ons nog die hand van die Here agter hulle?

Oordenking 8

Lees: Fil.1:1-11

Teks: Fil.1:1-2

Tema: Die ontvangers van die brief

Die vorige keer was die skrywer van die brief ter sprake. In hierdie oordenking kyk ons na die ontvangers daarvan.

Wanneer ons ‘n brief ontvang, is dit belangrik om voorop die koevert te kyk vir wie die brief bedoel is. As ons naam en adres dan daarop verskyn, weet ons: Die brief is vir ons bedoel.

Ook op hierdie brief wat ons behandel, staan ‘n adres. Paulus sê uitdruklik: Dit is geadresseer “aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filippi is, saam met die opsieners en diakens”.

Hierdie brief en sy wonderlike boodskap - en dit moet ons benadruk - is dus nie vir die hele wêreld bedoel nie. Net ‘n sekere groep word aangespreek. Baie uitdruklik sê Paulus: aan al die heiliges in Christus Jesus. Om dus te weet of daardie brief ook aan ons geadresseer is, moet ons weet wat ‘n heilige is:

·        En dan wil ek eers begin deur te sê wat ‘n heilige nie is nie. Dit is nie ‘n sekere groep super-gelowiges in die kerk nie. Dit is nie so dat een deel van die gelowiges in ‘n gemeente heiliges is en ander Christene nie. Dit is ‘n dwaling waarmee die Roomse Kerk ons opgeskeep het. Hulle het sekere groot teoloë of uitstaande gelowiges gaan bevorder tot “heiliges”. So het hulle die groot kerkvader Augustinus genoem Sint Augustinus, of te wel “die heilige” Augustinus.

‘n Heilige is ook nie iemand wat sonder sonde is nie. As dit waar was, sou nie een van ons gekwalifiseer het nie en dan sou die boodskap van Filippense nie vir een van ons bedoel gewees het nie.

·        Maar wat is ‘n heilige dan wel? Dit sê die woordjie heilig al. Want dit beteken: afgesonder, eenkant gesit vir die diens van die Here. Die Here het ons uit die goddelose wêreld geneem en eenkant gesit vir sy diens. In die kerk en in ons huise en in die samelewing is ons geroep om die Here te dien. Dit is wat ‘n heilige is.

Maar nou moet ek direk vir u by sê: Soos ons is, is ons nie geskik vir die diens van die Here nie. Ons is bevlek van die sonde en onwillig om ons lewe af te sonder in sy diens. Maar luister nou mooi wat die apostel sê: hy sê nie dat die mense in Filippi opsigself heiliges is nie. NEE, sê Paulus, maar hulle is heiliges in Christus Jesus. En daardie woordjies “in Christus Jesus” sê alles. Want dit sê: hulle het deel aan Hom. Hulle is skoongewas deur sy bloed; Hy het hulle sy Heilige Gees geskenk en so het Hy hulle bekwaam gemaak om hulle lewe aan God toe te wy.

Die groot vraag is daarom: Hoe kan ons heiliges word? Hoe kan ons “in Christus Jesus” kom? Die antwoord is heel eenvoudig: deur die geloof! Deur die geloof word ons ingeplant in Hom en deur die geloof kry ons deel aan sy heiligende bloed en sy heiligende Gees. Jesus Christus is dus die sleutel tot ons heilig wees. As ons dus leef vanuit sy offerande en as ons ons laat regeer deur sy Gees, is ons heiliges.

Maar dan moet ons direk daarby sê: Dan is daar tog mense in die gemeente wat nie heiliges is nie. Want as ons aan die kerk behoort, maar ons steur ons nie aan die Woord van God nie en die bloed van die Lam is vir ons nie dierbaar nie...dan is ons nie heiliges nie. En...dan is Filippense ook nie aan ons geadresseer nie.

Oordenking 9

Lees: Fil.1:1-11

Teks: Fil.1:1-2

Tema: Die seëngroet

Die brief aan die Filippense begin met die noem van:

1. die afsender van die brief;

2. die ontvangers van die brief; en

3. ‘n seëngroet.

In hierdie oordenking kyk ons nou na die seëngroet.

Paulus groet die gemeente met die woorde: “Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus!” Dit is die gewone groet waarmee hy elke brief van hom begin.

Ons let eerstens op die woorde GENADE en VREDE:

Genade, dit kan ons beskryf as God se onverdiende liefde vir sondaars. Dit is sy genadige skuldvergiffenis. Vrede weer is die heerlike vrug van God se genade: danksy God se genade het ons die wonderlike, blye vrede met die Here.

Dit is dus duidelik: Genade en vrede hoort bymekaar. Sonder genade kan daar geen vrede met God wees nie. Want vrede is die gevolg van die genade. Of om dit met ‘n beeld te verduidelik: Genade is die bron, die fontein, die oorsprong. En vrede, dit is die stroom wat uit die fontein ontstaan. Sonder die bron sou daar geen rivier gewees het nie en net so is dit gesteld met ons geestelike lewe: as die genade van God nie daar was nie, sou die stroom van vrede met die Here ook nie in ons lewe gevloei het nie. Genade loop uit op vrede.

En vrede dit is weer so ‘n ryk woord. Daarom wil ek ook daarby kortliks met u stilstaan:

·        Ons is geneig om aan die woordjie vrede ‘n uitsluitlik negatiewe betekenis te gee. Vrede beteken vir ons: geen oorlog nie. Of geestelik toegepas beteken dit vir ons: die Here is nie meer kwaad vir ons nie.

·        Nou is dit alles waar. God is inderdaad, danksy die bloed van Christus, nie meer toornig op ons nie. Maar tog is daarmee nog nie alles gesê nie. Want die woord “vrede” het ook ‘n sterk positiewe inhoud. Want as die Here nie meer kwaad was vir ons nie, maar verder ook nie meer met ons bemoeienis sou gemaak het nie, sou dit ook verskriklik gewees het. Maar God sy dank, vrede beteken veel meer as dit. Dit hou ook in dat die Here in die praktyk van die lewe sy Vaderlike liefde en sy liefdevolle sorg na ons toe laat uitgaan. Ja, vrede is ‘n aksie-belaaide begrip: want dit spreek van God se beskerming en bewaring in tye van benoudheid.

ONS het die voorreg dat ons elke Sondag, aan die begin van elke diens, hierdie woorde mag hoor. Want deur die mond van die dominee sê die Here vir ons: GENADE en VREDE vir julle. En die woord genade sê vir u: die Here wil u skoonwas deur die bloed van Christus en Hy wil al u sondes vergewe.

En as u hier uitgaan, mag u die vrede van die Here met u saamneem. En u mag daaraan dink dat daardie vrede vir u beteken: God se Vaderlike sorg omstraal my hele lewe. In my werk is Hy met my. By die huis, op die pad, by die skool, op die sportveld, is sy Vaderhande vol liefde oor my uitgestrek.

En dan mag ek in die goeie dinge van die lewe weet: dit is God se Vaderhande wat daarin vir my oopgaan.

Maar ook in tye van teëspoed mag ek reken op die Here se Vaderlike nabyheid. Want dit het Hy so heel persoonlik aan elkeen van ons by ons doop belowe: Ek wil jou Vader wees...en alle kwaad van jou afweer of tot jou beswil laat dien. En as daar dan siekte en teëslae en terleurstellings oor ons kom, dan moet ons dink aan die woorde wat ons elke Sondag hoor: VREDE, VREDE vir jou. Vrede...dit wil sê: ook in hierdie aanvegting is Hy as Vader met my besig. My Vader! My liefdevolle Vader! Dit kan nie anders nie. Want Sondag het ek weer tweemaal die versekering gehoor: vrede, vrede vir u!

Genade vir julle en vrede, sê Paulus. En dan sê hy ook Wie die Gewer is: van God die Vader. HY open sy hande en skenk aan ons genade en vrede. So ‘n goeie Vader het ons. En dan voeg Paulus daarby:”en die Here Jesus Christus. Want deur die kruisdood van sy Seun en danksy die volmaakte gehoorsaamheid van sy Kind wil die Vader aan ons genade en vrede gee. CHRISTUS het vir ons die weelde van die genade en die rykdom van die vrede verdien.

In hierdie woorde van die seëngroet het ons eintlik ‘n opsomming van die hele Filippense-brief. Want dit is die genade en die vrede van God wat ons bly maak. Dit is die vreugde van ons lewe dat God ons Vader wil wees deur die werk van sy Seun op Golgota. Dit gee ware blydskap: die evangelie van ons Here Jesus Christus. Hou daaraan vas u hele lewe lank.

Wie hierdie genade ken en hierdie vrede smaak, sal soos Paulus in die tronk, bid en sing. Ja, hy sal dank en jubel, selfs in die nood. Want die genade en die vrede van God is die bron van ons blydskap en stof tot dankbaarheid.

Oordenking 10

Lees: Fil. 1:12-26

Teks: Fil. 1:12-14

Tema: Die Here sal sy werk deur niks laat keer nie

“Die bloed van die martelare is die saad van die kerk”. Dit is ‘n bekende uitspraak uit die kerkgeskiedenis en daarmee word dit bedoel: juis in tye van geloofsvervolging het die kerk besonder sterk gegroei. Hoe harder die duiwel probeer het om die kerk in sy eie bloed te versmoor, des te meer het die kerk floreer. Swaarkry, kruisdra was dus goed vir God se volk. Dit het eerder gedien tot bevordering van God se ryk hier op aarde as wat dit die groei van die koninkryk van die hemele teëgewerk het.

Dit geld natuurlik nie alleen van die kerk in sy geheel nie, maar ook van ons as gelowiges afsonderlik: beproewing doen ons goed. Wanneer dit met ons voor die wind gaan, leef ons ver van God af, maar as daar teenslae en vervolging kom, floreer ons geloofslewe.

In ons teksverse sien ons ook hoe vervolging en teestand van die duiwel juis die voortgang van die evangelie bevorder het. Daarom is kruisdra nooit ‘n domper op ons vreugde nie.

Terwyl Paulus hierdie brief skryf, sit hy in die tronk. Waarskynlik het die gevangeneming van die apostel ‘n negatiewe uitwerking op die gemeentelede van Filippi gehad:

- In hulle was daar kommer: wat sal van hulle geliefde Paulus word? Sal hy vrygespreek of veroordeel word? En u weet hoe neerdrukkend bekommernis kan werk: onder die druk van al ons sorge verdwyn ons lewensvreugde en ons geloofsblydskap soos mis voor die son.

- Maar nie alleen die persoonlike welsyn van die apostel, wat vir hulle so dierbaar was, het hulle gekwel nie. Hulle was ook besorgd oor die voortgang van die evangelie. Want kyk nou net : daar sit die kragtige prediker, Paulus, in die gevangenis. En beteken dit dan nie dat die blye boodskap die swye opgelê is nie? Want hoe kan die verlossingsboodskap nou voortgaan as die apostel agter slot en grendel sit? Beteken dit dan nie dat die evangelie self nou agter tralies is en dat die blye boodskap in boeie geslaan is nie? Hoe kan die vreugdetyding nou die wêreld ingaan?

Dit was al sulke vrae wat sekerlik deur die Filippense se koppe gemaal het. En juis daarop wil Paulus hulle antwoord.

En hy begin deur aan hulle te verklaar:”...ek wil hê dat julle moet weet...”. Ons kan dit ook so vertaal: daar is iets wat julle moet weet, iets wat julle nooit, nooit mag vergeet nie, iets van die allergrootste belang, iets wat julle ‘n totale ander siening op my gevangenskap sal gee, iets wat ‘n volkome ander lig sal laat val op enige beproewings wat julle mag wedervaar.

En dan gaan die apostel voort om te sê WAT die gemeente van Filippi moet weet:”...ek wil hê dat julle moet weet...dat wat ek wedervaar het, eerder op die bevordering van die evangelie uitgeloop het.

Wat was dit presies wat die apostel wedervaar het? In kort gesê: Paulus is gevange geneem en in die tronk gegooi.

Nou moet u weet: deur die diens van sy apostels wou Koning Jesus sy evangelie laat uitdra van Jerusalem tot in Rome. Dit wou die Satan natuurlik ten alle koste keer. Op vele en verskillende maniere het hy padblokkades opgerig om die evangelie in sy opmars te stuit. Daarvan lees ons in die boek Handelinge. En met die inhegtenisname van Paulus in Jerusalem het hy skynbaar in sy doel geslaag, want nou kon die apostel immers nie verder nie.

Maar dit is nou juis so wonderlik : Juis deur sy gevangenskap het Paulus wel in Rome gekom. Want toe hy voor goewerneur Festus verskyn het, het hy hom op die keiser beroep en so het dit gebeur dat hy tog uiteindelik in Rome gekom het. JA DIE HERE SAL SY WERK DEUR NIKS LAAT KEER NIE.  

Oordenking 11

Lees: Fil. 1:12-26

Teks: Fil. 1:12-14

Tema: Die Here sal sy werk deur niks laat keer nie: twee voorbeelde

In ons teksverse noem Paulus twee heel spesifieke voorbeelde om die Filippense te laat sien hoe sy gevangenskap eerder die voortgang van die evangelie bevorder het.

·        VOORBEELD NOMMER EEN, sê die apostel: my boeie het openbaar geword in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander.

Hier is dit baie belangrik dat u presies sal weet onder watter omstandighede hy daar in die gevangenskap verkeer het: Hy was nie net in die tronk nie, maar volgens die gewoonte van daardie tyd was hy vasgeketting aan soldate, waarskynlik een aan elke kant. Met ander woorde: Hy was nie alleen ingeperk tot een sel of een kamer nie, maar sy bewegingsvryheid is ook beperk deur die soldate waaraan hy vasgeboei was. Van tyd tot tyd het ander soldate gekom om die voriges af te los. Paulus het dus geen privaatheid gehad nie. Alle gemak en gerief is hom ontsê. Boonop was hierdie soldate ruwe manne. ‘n Mens kan jou voorstel dat die apostel daagliks hulle growwe taal en en hulle gevloek moes aanhoor.

Die eerste wat ‘n mens hier opval is dat Paulus homself nie oorgee aan selfbeklag nie. Hy bejammer homself nie oor sy moeilike omstandighede nie. Hy bevraagteken ook nie God se liefde vir hom nie. Hy begin nie deur te vra: Waar is nou God se liefde en waar is nou sy troue Vadersorg oor my, nie? Geen negatiewe woord kom uit sy pen nie.

Wat inteendeel opval, en dit noem ek in die tweede plek, is dat die apostel juis besonder positief is. Die Filippense mag miskien dink dat die weg van die evangelie geblokkeer is deur Paulus se gevangenskap. Paulus sien dit egter juis nie as ‘n padversperring nie. Inteendeel hy sien dit as voordelig vir die voortgang van die evangelie. Die gevangenskap is geen blokkering van die triomftog van die blye boodskap nie, maar dit het juis die weg van die evangelie geopen. Dit het juis die pad vir die verlossingsboodskap geplavei. Dit het juis gemaak dat die evangelie bekend geword het tot in die hoogste kringe. In plaas dat sy gevangenskap ‘n doodloopstraat was, was dit juis ‘n snelweg om die evangelie te voer tot in die vernaamste kringe. Want, sê Paulus, daardeur het my boeie geopenbaar geword in Christus onder die hele keiserlike lyfwag en by al die ander.

“Weet julle”, sê Paulus vir die Filippense, “weet julle wat was die vernaamste gevolg van my gevangenskap? Daardeur het mense die evangelie gehoor wat andersins miskien nooit daarvan sou hoor nie!” Want u moet onthou : die wagte wat die apostel bewaak het, hulle was nie sommer gewone soldate nie. Nee, hulle was lede van die keiserlike lyfwag! Paulus sê dus eintlik:” Mense, luister tog: hierdie soldate het ontdek dat ek geen gewone misdadiger is nie; hulle het uitgevind dat ek hier is ter wille van Christus; hulle het my daarna uitgevra en ek het die kans gekry om hulle die evangelie te verkondig. Hierdie wagte sou dit waarskynlik nooit gehoor het as ek nie ‘n gevangene was nie. Maar nou, as hulle van diens af gaan en na hulle huis toe gaan...nou is die evangelie van Jesus Christus een van die belangrikste onderwerpe van hulle gesprekke in die keiserlike paleis ! “

Weet u wat maak Paulus so uitermate positief? Weet u wat maak dat Paulus sy negatiewe omstandighede met soveel blydskap kon verwerk? Hierdie ding dat hy na gebeure in sy lewe kyk in die lig van die voortgang van evangelie! Hierdie ding dat hy nie aan homself dink nie, maar aan die uitbreiding van God se koninkryk! Dat hy daaraan dink: hierdie swaar in my lewe dien om die evangelie in sy triomftog te bevorder. Dit gee aan sy lewe ‘n toon van vreugde.

Hoe verwerk ONS beproewings in ons lewe? Om maar enkele voorbeelde te noem: siekte, droogte, teenslae, werkloosheid - hoe hanteer ons dit? Ons kan dit baie negatief doen. Ons kan byvoorbeeld opstandig raak daaronder.

Maar ons kan ook, net soos Paulus, positief na ons omstandighede kyk. Ek noem enkele voorbeelde: Om hospitaal toe te gaan, is sekerlik nie lekker nie, maar dit kan ‘n kans wees om die evangelie aan ‘n mede-pasiënt te verkondig, aan iemand wat miskien nooit kerk toe gaan nie en andersins nooit die evangelie sou gehoor het nie.

Nog ‘n voorbeeld: teëspoed, werkloosheid, droogtes - dit is sekerlik nie aangenaam nie. Maar dit kan wel God se manier wees om die weg te berei vir die voortgang van sy evangelie. Want dit kan mense weer laat voel hoe nodig hulle die Here het.

Daarvan het die digter van Psalm 119 ook alles geweet, want hy bely:

“Voordat ek verdruk was, HERE,

 het ek dwaalsiek, al maar voort

 op verkeerde pad gewandel;

 maar nou let ek op u woord”( berym v.23)”.

Daarom kom hy tot die gevolgtrekking:

“Dat u my verdruk het, HERE,

 dit was enkel goed vir my,

 want daardeur het U my dieper

 in u kennis ingelei”(berym 25)”.

As ons so na al ons moeilike omstandighede kyk, as ons bedink: maar juis so wil die Here die voortgang van sy Woord bevorder nie net in die wêreld,maar ook in my eie lewe...as ons in die lig daarna kyk, sal ons ook soos Paulus en Silas sing in die middel van die nag !

Saam met Paulus moet ons dan leer sê: Maar ek weet dat wat met my gebeur, eerder op die bevordering van die evangelie uitloop. Dan sal u lewe eweneens ‘n blye klank kry.

·        Maar ons kom by VOORBEELD NOMMER TWEE. Ook op ‘n tweede manier het Paulus se wedervarings die voortgang van die blye boodskap aangehelp. Want hy sê in v.14: die meeste van die broeders het deur my boeie meer vertroue in die Here gekry en as gevolg daarvan het hulle dit des te meer gewaag om die woord onbevrees te spreek.

Enersyds het Paulus se gevangenskap dus ‘n effek op die heidene gehad : heidense soldate het daardeur in kontak met die evangelie gekom. Maar andersyds, en dit sien ons in hierdie tweede voorbeeld, het die apostel se boeie ook ‘n invloed op die broeders, op sy mede-gelowiges gehad. Want in plaas dat dit hulle ontmoedig het, het dit hulle juis bemoedig om die blye evangelie met vrymoedigheid te verkondig.

Paulus verwys hier sekerlik na sy mede-gelowiges daar in Rome. Waarskynlik het die toenemende vyandskap teen die evangelie hulle aanvanklik ontmoedig. Uit vrees vir vervolging het hulle die verkondiging van die woord al meer en meer nagelaat.

Deur die boeie van Paulus het daar egter ‘n verandering by hulle gekom. Want hulle het immers bemerk hoe die Here Paulus in die gevangenis onderskraag het op die aller wonderlikste wyse( 4:13). Dit het hulle vertroue in die Here versterk en hulle gemotiveer om weer voort te gaan met die evangelie-verkondiging en om met vrymoedigheid uit te kom vir die woord van hulle Here.

Oordenking 12

Lees: Fil.1:12-26

Teks: Fil.1:21a

Tema: Christus die sin van ons lewe

Wat is die sin van u lewe? Dink u nog na oor die vraag: Waarvoor leef ek eintlik?

Mense soek die sin van hulle lewens in verskillende rigtings. Sommiges soek dit in hulle werk: Hulle voel as hulle nog kan werk, het hulle lewe sin. Dan beteken hulle immers nog iets. Ander soek dit in die vervulling van ‘n ideaal, in die bereik van die hoë pos waarna hulle lewenslank gestreef het. Ander weer vind die sin van hulle lewe in ‘n lewensmaat, in hulle gesin, in ‘n geliefde. Dit gee hulle lewe sin en betekenis om vir dié mense te werk. Nog mense vind dit in hulle ontspanning: in ‘n stokperdjie of in ‘n sport wat hulle graag beoefen.

U sal sekerlik met my saamstem : Dit wat ons lewe sin gee, gee ons ook blydskap. Watter mens wil nie bly en gelukkig wees nie? Daarom soek ons na dit wat ons lewensvreugde verskaf. Die een soek dit hier, die ander soek dit daar.

Maar nou ‘n ernstige vraag: Wat gebeur as dit wat aan u lewe sin verskaf, verloor? Ek bedoel maar: as u lewensmaat wegval of as u u werk verloor of as u nie die pos kry waarvoor u u lewe lank gemik het nie. Of gestel u verloor u gesondheid en u kan nie meer doen wat u wil nie, het u lewe dan nog sin? Of verloor die lewe dan sy betekenis, sy glans en sy vreugde vir u?

Ek dink die apostel Paulus het in so ‘n posisie gekom. Ek bedoel maar: Hy het sy vryheid verloor. Sy lewe lank het hy kruis en dwars oor die Romeinse ryk getrek en die evangelie verkondig. Daar was niks wat vir hom heerliker was as dit nie. Niks het hom blyer as dit gemaak nie. Maar nou het God ‘n punt daaragter gesit, want die apostel is in die tronk gesit. Skynbaar het hy dus alles verloor.

Wat is dan Paulus se reaksie? Gooi hy dan sy hande moedeloos in die lug op? Roep hy dit uit: Waarvoor leef ek eintlik? Watter sin het my bestaan nog? Nee, dit doen hy nie. Inteendeel, hy bely:"...vir my is die lewe Christus". Dink u dit in: Dit skryf die apostel terwyl hy in die gevangenis is. Tog juig hy: Ook nou is my lewe nog uitermate sinvol. WANT vir my is die lewe Christus. Want ook hier kan ek leef vir Hom, ook hier kan ek getuig van Hom, ook hier kan ek werk vir Hom, ook hier kan ek ander na Hom toe trek. Ja, hier kan ek die wagte wat oor my bewaak vertel van Hom wat die weg en die waarheid en die lewe is.

‘n Predikant het eenmaal by ‘n ou vroutjie gekom. Sy was bedlêend. Sy kon niks meer doen nie. Sy kon self nie meer kerk toe gaan nie. Maar weet u wat was haar antwoord aan die predikant? Dominee, ek kan nog baie doen. Ek kan nog bid: bid vir my kinders, bid vir die gemeente, bid vir die wêreld. Vir haar was die lewe Christus! Christus het haar lewe sin gegee. Want sy kon nog hande vou. Sy kon bid vir die uitbreiding van sy koninkryk.

‘n Besinning op die sin van die lewe, so kan ons hierdie teks van ons noem. Paulus besin sekerlik nie net op die sin van sy lewe daar in die tronk nie, maar hy laat sy blik gaan oor sy hele lewe en dan kom hy tot die gevolgtrekking: VIR MY IS DIE LEWE CHRISTUS! Maar ons moet nog meer sê. Paulus skryf hierdie brief onder inspirasie van die Heilige Gees. Daarom is dit God self wat ons hier wys op die sin, op die hoogste doel van ons lewe: dit is Christus!

Om te weet wat Paulus met hierdie sin bedoel, moet ons na die volgende vers (22) gaan kyk. Daar wei die apostel verder uit op die lewe en met name op die betekenis van die lewe: Lewe beteken vir hom “vrugbare arbeid” ter wille van die Filippense. Lewe beteken vir hom aktiwiteit. Dit beteken vir hom geleentheid om die heerlikheid en die eer van Christus te verkondig, dat Christus gepreek kan word. Dit is waarom hy in hierdie lewe wil bly: Hy wil so graag aan ander die blye boodskap van Christus verkondig.

Is dit ook vir u die sin van die lewe? Om ander van Christus te vertel?

Paulus het Christus gesien op weg na Damaskus. Daar het hy Hom liefgekry met sy hele hart. Van daardie dag af het alle ander dinge vir die apostel in die agtergrond geskuif. Toe was daar maar Een wat vir hom belangrik was: Christus, die Seun van God, sy Saligmaker, sy Koning en sy God.

Maar nie net Paulus het Christus gesien nie. U sien Hom ook. Ons sien Hom in die Bybel, in die Evangelie! Ons sien Hom met die oog van die geloof. Daar, in die Woord, word Hy aan ons vertoon. Daar sien ons Hom in sy ontsaglike groot liefde vir ons: “ ...die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my gegee het”(Gal.2:20). Daar sien ons sy kruis: die hoogste bewys van sy liefde. Hoe moet die wonder van die kruis ons nie dring tot wederliefde nie. Dit moet ons hart aan die brand steek van liefde vir ons Heiland en ons Saligmaker.

As ons eers onder die indruk gekom het van sy liefde, sal ons - net soos Paulus - nie anders kan as om te sê: vir my is die lewe Christus, nie! Nou wil ek niks liewer doen as om vir Hom te leef en te werk en om ander van Hom te vertel nie.

Vroeër, voor sy bekering, het die apostel hom toegelê op wetsonderhouding. Hy het alles op alles gesit om deur sy goeie werke in die regte verhouding tot God te kom. Dit het hy as wins beskou, maar toe hy Christus leer ken het en die krag van sy opstanding, het hy daardie dinge nie as wins nie, maar as skade begin ag en prysgegee om Christus en sy volmaakte soenverdienste as wins te verkry.

 Oordenking 13

Lees: Fil.1:12-26

Teks: Fil.1:21b

Tema: Christus die sin van ons sterwe

Die eerste deel van vers 21 leer ons: Die sin van die lewe is Christus. Maar dit is nou die verrassende: Nie alleen die lewe is vir Paulus Christus nie. Ook die sterwe is vir hom CHRISTUS!

Want in ons teks sê die apostel: Vir my is die sterwe wins. En in vers 23 - wat ons as ‘n kommentaar op ons teks kan beskou - sê hy waarom die sterwe vir hom wins is, want hy verklaar: Sterwe beteken “om heen te gaan en met Christus te wees”. Christus maak die dood vir hom sinvol! Christus maak die sterwe vir hom winsgewend.

Die woord wat Paulus in vers 23 gebruik vir "heengaan" - ek het verlang om heen te gaan en met Christus te wees - is ‘n baie interessante woord. Die woord word op twee verskillende maniere vertaal, maar uiteindelik verskil die twee nie werklik nie:

·        ‘n Eerste groep vertalers sê: die woord “heengaan” beteken "om die anker te lig". Die beeld wat hier voor ons oë opgeroep word, is die van ‘n skip wat uit ‘n hawe vertrek. Met ons doodvertrek ons uit die hawe van hierdie wêreld na die hawe van die ander wêreld. Sterwe beteken om die skip te bestyg en om oor te vaar na die land van volle saligheid.

·        ‘n Tweede groep Bybeluitleggers voel dat ons by hierdie woord “heengaan” eerder moet dink aan die beeld van ‘n tent wat afgebreek word en ‘n reis wat voortgesit word. Dit is miskien ‘n beeld wat beter pas in die denke van Paulus, want ook êrens anders, in 2 Kor.5:1 gebruik hy dit. Daar sê hy : “Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele”. Trouens, ook die apostel Petrus gebruik daardie beeld wanneer hy in sy tweede brief sê:”En ek beskou dit as reg, so lank as ek in hierdie tentwoning is, om julle deur herinnering op te wek, omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos ons Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het “(1:13-14).

Die ideë van hierdie wêreld as ‘n tentwoning was ‘n tipiese Joodse siening: Die gedagte was dat hierdie ‘n tydelike wêreld is, waar jy in tente leef; daar is geen permanente geboue hier nie. Dood beteken om die tent af te slaan en na ‘n permanente woning te verhuis. SO sien Paulus dus die dood: as ‘n vertrek van hierdie wêreld na ‘n ander een.

Maar dit is nie al nie. Wat vir Paulus hierdie vertrek so sinvol en so winsgewend maak, is dat hy dan "met Christus" sal wees. Daarna verlang hy en juis dit, om by sy Heiland te wees, beskryf hy as verreweg die beste.

Dieselfde gedagte kry ons ook in die eerste brief van Paulus aan die Thessalonicense. Daar het hy dit oor die wederkoms van Christus. En dan eindig die apostel sy beskrywing van daardie o so ‘n heerlike gebeurtenis met die woorde: “En so sal ons altyd by die Here wees” (4:17). Dit is die toppunt van ons saligheid: dat ons as die bruid van die Here vir altyd by ons hemelse Bruidegom, by Christus, sal wees.

Ja, want die bruidsgemeente, die kerk, verlang nie in die eerste plek na die hemelse heerlikheid, omdat alles daar so mooi en volmaak sal wees nie. Ons verlang nie in die vernaamste plek na die Nuwe Jerusalem, omdat ons so graag die goue strate en die pêrelpoorte daarvan wil sien nie. Ons hunker nie in die eerste plek na die hemel, omdat daar geen siekte en geen dood, omdat daar geen trane en verdriet meer sal wees nie. Ons verlang nie in die vernaamste plek daarna, omdat ons dan met ons ontslape dierbares herenig sal word nie.

Dit gaan vir ons daarom: "Dan sal ons altyd by die Here wees." Dit is die hoogste geluk van die bruid: dat sy by haar Bruidegom mag wees. Ook in die gewone lewe gaan dit tog nie vir die bruid om die mooi huis en die motor wat sy gaan kry as sy eers getroud is nie. Nee, sy sien uit na die bruilof, omdat sy dan vir altyd by haar bruidegom sal wees. Sonder hom is al daardie ander dinge niks werd nie. Wat is 'n pragtige woning tog sonder haar geliefde?

So moet dit met ons ook wees. Ons hoogste geluk in die Nuwe Jerusalem moet en sal daarin bestaan: "En so sal ons altyd by die Here wees." Dít is wat die hemel so hemels heerlik sal maak: dat ons vir ewig, sonder ophou, vir altyd by ons Bruidegom sal wees, by ons Here Jesus Christus. Daar is niks heerliker as dit nie.

Terwyl Luther met die vertaling van Psalm 73 vers 25 ("Wie het ek buiten U in die hemel? Buiten U begeer ek ook niks op die aarde nie") besig was, het hy daarby gesê: "Hoekom vra ek na die hemel, as U nie daar is nie? Op aarde vra ek na niks nie, as ek U maar net het. Ek sou nie in die hemel wou wees, as U nie daar was nie en met U sou ek wel in die hel wou wees. As ek u maar het, vra ek na hemel nog aarde, dit wil sê na goed nog sleg. Die belangrikste is: As dit met my sleg gaan, hou ek my aan U. Dan is U my troos".

Daar is niks volmaakter as om by die Here te wees nie en bedink nou daarby: Die begin van daardie hoogste geluk smaak diegene wat in die Here ontslaap het, nou alreeds! Ons hoef nie daarvoor te wag tot met die wederkoms nie. Reeds met ons sterwe breek die groot oomblik aan. Paulus leer ons dit. In ons teks sê hy immers: Die sterwe is wins en sterwe beteken om met Christus te wees.

In sy onderrig spreek die Heidelbergse Kategismus die Bybel na, wanneer ons troosboekie vir ons sê: Ons siel sal na hierdie lewe, met ons sterwe dus, dadelik tot Christus, ons Hoof, opgeneem word (H.K.antw. 57). En as Jesus weerkom, sal "ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die verheerlikte liggaam van Christus gelykvormig sal word." Met woorde aan die Skrif (1Kor.2:9) ontleen, beskryf die Heidelberger dié volle saligheid: Na hierdie lewe sal ons 'n saligheid besit, wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens opgekom het nie (H.K. antw. 58). Onbeskryflik heerlik, dus!

Vir die wêreld is die dood ‘n sinnelose gebeurtenis. Vir hulle is dit immers die einde van alles. Vir ons daarenteen is dit die begin van die volle saligheid.

 

Oordenking 14

Lees:  Fil.2:1-11

Teks:  Fil.2:5

Tema: Die oproep tot eensgesindheid

Blydskap is die groot tema van hierdie wonderlike brief. Soos ‘n goue draad loop dit daardeur.

Selfs onder sy uiters moeilike omstandighede daar in die tronk kon die apostel hom verbly.

Tog is daar iets wat ‘n domper op sy vreugde plaas. Sy blydskap is tog nog nie volkome nie. Die Filippense-brief, ons kan dit in ‘n sekere sin ‘n lied van blydskap noem. Maar al word daar in die hoë tone gejubel,tog is dit asof hierdie sang van vreugde nie sy hoogste moontlike toon bereik nie. Wat is dan die probleem? Wel daar was ‘n ernstige gebrek aan eensgesindheid by die Filippense.

Want hoor maar wat sê hy:”...maak dan my blydskap volkome”. HOE? “Deur eensgesind te wees”. Ja, dan sal Paulus se vreugdesbeker oorloop: as die gemeente eensgesind is!

Ons stel almal belang in vreugde. Dit is iets wat elkeen van ons so graag wil hê. Daarom, wil ek beweer, daarom juis is die Filippense-brief so ‘n gewilde brief. En daardie blydskap het alles met God te make, met wat Hy vir ons gedoen het en nog steeds doen. MAAR dit is nie al nie. Egte, ware blydskap het ook alles te make met my broeder en suster. Ja, dit het alles te make met eensgesindheid onderling. DAAROM: waar die eensgesindheid opbloei, blom die blydskap in volle prag ook in eie lewe.

Daarom roep die apostel op tot eensgesindheid.

Maar ons moet nog dieper kyk : Hierdie is nie maar net ‘n oproep van ‘n sekere apostel nie. Dit is nie maar net dominee sus-of-so wat u vra om eensgesind te wees nie. Die Heilige Gees self is die groot Skrywer van hierdie brief. Daarom is dit GOD SELF wat die Filippense en elkeen van ons (!) ernstig vermaan : Wees eensgesind! Dit is ook nie sommer net ‘n vriendelike versoek nie. Dit is ‘n BEVEL.

Van nature is ons nie eensgesind nie. Soos ons deur die sonde geword het, ontbreek dit ons daaraan. Ons is nie eensgesind nie,maar verkeerd gesind. Ons twis, ons baklei, ons is jaloers op mekaar en ons gun mekaar niks nie. Dit is vleeslike gesindheid. Dit maak dat ons nie eensgesind is nie.

Soos ‘n goeie geneesheer kom Paulus nou in ons tekshoofstuk en hy wys die OORSAAK aan, die wortel van die siekte. Daar is twee oorsake, sê hy. Eerstens is daar selfsug en tweedens die apostel hoogmoed.

- Ek begin dan by die eerste : selfsug. Dit was die een probleem by die Filippense, maar nie net by hulle nie. Dit is iets algemeens. Ook ons het ‘n stryd met dié siekte. Deur die sondeval van Adam het dit na ons almal versprei en elkeen van ons is daardeur aangesteek. En die woord sê al wat die probleem is : self-sug, ‘n sug na jouself, ‘n begeerte om net aan jouself te dink. En ervaar ons dit nie elke dag nie: mens leef net vir hulleself? Ons leef bymekaar verby. Ons eie belange is vir ons die belangrikste : ons werk, ons probleme, ons nood. Ons dink nie aan mekaar nie. Ons het geen oog vir die node en behoeftes van ons mede-mens nie. Ons praat net van ons regte en ons dit en ons dat. Samevattend: self-sug beteken dat ons beheers word deur onsself. Ons het net oog vir ons eie belange. Dit regeer ons.

Dit spreek vanself dat so ‘n geestesgesteldheid verdeling in die hand moet werk. So kan daar nooit eenheid en eensgesindheid in die wêreld en in die kerk kom nie.

- Die tweede waarop die apostel sy vinger lê, is die siekte van hoogmoed. Hierdie kwaal kom daarop neer dat ons onsself veel en veel belangriker as ander beskou. Ons sien neer op mekaar. Om dit so te verduidelik: ons beskou onsself as konings en ‘n kenmerk van ‘n koning is dat hy gedien wil word. Hy dien nie ander nie, maar ander dien hom.

Dit is, net soos self-sug, ‘n verdelende faktor in die samelewing en onder die gelowiges. As hierdie gees in ons regeer, sal ons nie na ander toe gaan en hulle dien nie. Ja, laat ons dit maar beken: dit is swaar vir ‘n koning om klein te word. Dit is moeilik vir ‘n vors om ‘n dienskneg te word en die ander se voete te was. Maar as ons dit nie wil nie en as ons nooit die minste en die geringste wil wees nie, kan daar geen eenheid wees nie.

= SAMEVATTEND: selfsug en hoogmoed kom daarop neer dat ons beheers word deur onsself en deur eie belang. Daarop is ons oë gerig.

> Daarteenoor roep Paulus nou die Filippense en die kerk van alle eeue op tot EENSGESINDHEID. Dit is meer as maar net eenheid. Die woord eensgesindheid beteken soveel as: om jou deur dieselfde saak te laat beheers. Jy rig jou aandag op dieselfde saak. Nie die self, die eie-ek is dan meer koning nie. Nie die sondige selfsug en eie-belang dryf jou meer nie. Nie die belange van Koning Jesus en sy gemeente - ons laat ons daardeur beheers. Die saak wil ons dien. Dit is vir ons die alles. En as dit so met ons gesteld is, is ons eensgesind. EEN-gesind - ons lewe is toegespits op daardie een groot saak: God en sy koninkryk. Die Here en sy gemeente - dit wil ons DIEN.

Dit is die groot saak waarop Paulus vandag ons aandag wil vestig: DIEN! DIEN! DIEN! Dat ons DIENSKNEGTE sal wil wees, mens wat alles oor het vir die Here en sy kinders. Daarom gaan dit in EENSGESINDHEID. Dan kom daar ook werklik eenheid onderling.

Oordenking 15

Lees:  Fil.2:1-11

Teks:  Fil.2:5

Tema: Die motivering tot eensgesindheid

Die groot saak waarop Paulus ons aandag wil vestig is: DIEN en nogmaals DIEN! Daarom gaan dit in EENSGESINDHEID. Dan kom daar ook werklik eenheid onderling.

Maar hoe kry die apostel nou die gemeente so ver om so te word?

Motivering is vandag ‘n belangrike saak. As mense nie gemotiveerd is nie, werk hulle nie. En as ‘n sportspan nie reg gemotiveer is nie, sit hulle nie alles op alles om die wedstryd te wen nie.

Hoe motiveer Paulus dan die kerk? Dood eenvoudig: HY VESTIG ONS AANDAG OP DIE VOORBEELD VAN CHRISTUS. Dit doen hy in verse 6-11.

Calvyn stel dit so skitterend: aan die eenkant, sê hy, spoor Paulus ons aan met die voorbeeld van Christus. Aan die anderkant, sê Calvyn, lok die apostel ons met die voorbeeld van ons Heiland.

Hy spoor ons aan en hy lok ons, hy dryf ons en trek ons. Die voorbeeld van Christus is die groot dryfkrag en trekkrag tot eensgesindheid en diensbaarheid.

By altwee hierdie dryfvere wil ek met u stilstaan:

·        In die eerste plek spoor God ons aan met die voorbeeld van Christus. Hier gaan dit oor verse 6-8. Die inhoud daarvan vat ek so saam: Hy wat Koning was, het dienskneg geword, lydende dienskneg, om ons ontwil.

In aangrypende, hartroerende woorde skilder Paulus die dienswerk van Christus: Christus - dink u dit in -, Christus was met koninklike heerlikheid beklee. Hy het gewoon in die hoë, heerlike hemel, in sy koninklike paleis. Hy was omstraal met mag en majesteit. En tog het hy nie krampagtig daaraan vasgehou nie. Hy kon dit gedoen het as Hy wou. Hy kon net aan Homself gedink het en rustig op sy koninklike troon bly sit het en ons in ons sonde-ellende laat vergaan het. En tog het hy dit nie gedoen nie. Inteendeel, Hy het sy koninklike luister neergelê. Hy het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem.

Hy, die Koning van alle konings en die Here van alle here, het in die gedaante van ‘n dienskneg na ons toe gekom. En wat het daardie diens, daardie dienskneg-wees nie alles behels nie. Want Hy het “Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis”. Daarop het sy dienswerk neergekom: dat hy moes sterf. En dan nie sommer ‘n gewone dood nie, maar ‘n aller verskriklikste dood: die bittere en die smadelike dood van die kruis. Bange pyn en helse Godverlatenheid - daarin is sy dienskneg-wees saamgevat.

Waarom het Hy dit alles gedoen? Ter wille van die eer van sy Vader en om ons te kon verlos van die ewige dood. Daarvoor het Hy alles oorgehad. DIT was sy gesindheid. Dit het Hom beheers.

En nou sê Paulus: daardie gesindheid moet ook in ons wees. Net soos ons Koning moet ons bereid wees om te dien. Ja, ons moet klein word en dink in die eerste plek aan die eer van God se Naam en tweedens ook aan ons naaste se belange.

Ag, dit is vir ons so moeilik, nie waar nie? Ons wil nie die minste wees nie. Maar kyk dan na u Koning: hoe diep het Hy Hom nie verneder om ons ontwil nie. As Hy dan ALLES vir ons oorgehad het, sal ons dan nie ook ALLES vir sy kerk oor hê nie?

Christus het ook nie gesê: Ek kom net vir goeie mense en Ek sal net daardie mense dien met my kruis wat lief is vir my, nie. Nee, die ontsaglik wonder is dat Hy gekom het vir vyande. Hy het kom sterf vir sondaars. Daarom behoort u ook nie net diegene te dien wat goed is vir u nie.

·        Maar Paulus spoor nie net aan met die voorbeeld van Christus nie. Hy lok, hy trek ons ook. En dit doen hy in verse 9-11. Daarby staan ons in die tweede plek stil.

Christus het alles vir God oorgehad. Hy was bereid om dienskneg te wees. Maar daarom het die beloning ook nie uitgebly nie. Want, sê die apostel, DAAROM, “daarom het God Hom ook uitermate verhoog...”.: Hy is opgeneem in heerlikheid. Hy het ‘n ereplek ontvang. Dit was sy loon, omdat Hy bereid was om dienskneg te word.

Maar waarom skryf Paulus al hierdie dinge? Om ons te leer: die weg van vernedering, die pad van dienskneg-wees, dit is die weg van heerlikheid. Langs daardie weg sal ons ook verheerlik word. Op hierdie pad sal die loon ook vir ons nie uitbly nie. Hierdie uitsig moet ons lok en trek op die pad van diensbaarheid aan God en medemens.

Paulus gebruik meermale van hierdie beelde om ons aan te spoor om die goeie stryd te stry tot die einde toe. In 2 Tim.4:7-8 sê hy byvoorbeeld: ”Ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in die dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar aan elkeen wat sy verskyning liefgehad het.

Dit loon die moeite om die wedloop van dienskneg-wees te hardloop. Want aan die einde daarvan wag ‘n groot beloning. Laat dit ons dan aanspoor om mekaar se diensknegte en bowenal God se diensknegte te wees.

Oordenking 16

Lees: Fil.2:1-18

Teks: Fil.2: 12,13

Tema: Ons verantwoordelikheid of werke

Ons leef in ‘n tyd van werkloosheid. Ons weet presies wat die woord werkloosheid inhou : dit beteken dat jy nie werk het nie. Jy wil graag werk, maar jy kan nie werk kry nie.

Helaas is daar in die kerk ook werkloses, mense wat nie werk nie. Hier is dit egter nie ‘n geval van : hulle wil graag werk vir God en sy kerk, maar daar is ongelukkig nie werk te kry nie. Nee, werk is daar genoeg, maar hierdie mense wil nie werk nie.

Hoekom wil hulle nie werk nie ? Wel, hulle redeneer: Christus het mos alles gedoen. Waarom moet ek dan nog werk? Daarom sit hulle werkloos agteroor. Maar u moet dit goed begryp: Dit gaan nie net oor deelneem aan kerklike aktiwiteite nie. Nee, in hierdie mense se daaglikse lewe ontbreek die goeie werke, die dankbaarheidswerke. Hulle redeneer: dit is mos alles net genade. Waarom sal ek daarom werk of goeie werke doen?

In vers 12 roep Paulus die Filippense en ons op : “Daarom...werk julle eie heil uit met vrees en bewing”. Dit is ‘n bevel van die Heilige Gees self: werk! Slaan die hand aan die ploeg!

Hierdie woorde trek dus ‘n streep deur die houding van die werkloses in die kerk. Werke is noodsaaklik. Want God self wil dit hê. Hy wil hê dat dit uit ons dade sal blyk dat ons gelowiges is. Ons kan dus nie agteroor sit en sê: Christus het alles gedoen nie, nou hoef ek niks meer te doen nie.

Tog klink hierdie teks by die eerste hoor vreemd op die Gereformeerde oor. Want Paulus sê: ”...werk julle eie heil (julle eie verlossing) uit”. Dit klink asof Paulus die ander groep in die kerk, die werkesels, volle gelyk gee. Dit klink asof hy hier sê: leef goed, werk hard, dan sal julle die geskenk van die verlossing ontvang. Dit klink dus asof die oud-Fariseër, Paulus, sy gewese kollegas volle gelyk gee: die saligheid kan verdien word. Vir God se heil kan gewerk word.

Tog kan dit onmoontlik nie die bedoeling van hierdie teks wees nie. Immers, op verskeie ander plekke leer die apostel: deur die geloof alleen, deur genade alleen en nie deur werke nie! Daaroor is hy baie beslis. By God se werk in Christus hoef nie nog ons werke te kom om so die deur na die saligheid vir ons te open nie.

Dit kan dus sekerlik nie waar wees dat hierdie teks ons beveel om self ons heil uit te werk met ons goeie werke nie. Wel leer dit ons die noodsaak van goeie werke. Of laat ek dit so stel: dankbaarheidswerke, werke waarin ons God dank vir sy werk in Christus.

Daardie werke moet daar wees. Ook Jakobus leer ons dit: ‘n geloof sonder werke is dood. So ‘n werklose geloof is nie die saligmakende geloof nie. En die Heidelbergse Kategismus stel eweneens: dit is onmoontlik dat ‘n ware geloof nie vrugte van dankbaarheid sal voortbring nie. Aan die boom van die egte geloof hang dus die vrugte van werke.

Ek wil alles so saamvat: ons word nie salig deur en danksy ons werke nie, DOG ons word ook nie salig sonder om te werk nie. Vir werkloses is daar dus geen plek in die hemel nie. Immers, die Hebreër-brief sê dit so duidelik: sonder heiligmaking, sonder dankbaarheidswerke, sal niemand God sien nie.

Dit bring ons dadelik by die vraag: wat beteken die woorde dan dat ons ons eie heil moet uitwerk? Hoe doen jy dit? Wat se werke is dit eintlik?

Om hierdie vraag te kan beantwoord, vestig ek u aandag op die woordjie “daarom” in vers 12: “DAAROM...werk julle eie heil uit...”. Ons is nogal geneig om oor die klein woordjies in die Bybel te lees. Woorde soos “daarom” en “want” word dikwels deur ons verwaarloos en as onbelangrik beskou. Tog is dit nie goed nie. Inteendeel, dit is gevaarlik, want so word ‘n teks dan losgemaak uit sy verband.

Neem nou maar ons teks: “DAAROM...werk julle eie heil uit...”. Daardie “daarom” verbind ons teks aan die vorige verse. Met daardie “daarom” sê Paulus eintlik vir ons: daar, in die vorige verse, daar kry u die werke waarvan ek nou praat. Ons kan dus sê: die voorafgaande tekste is die kommentaar op vers 12. Wil u hierdie teks daarom begryp en wil u verstaan wat Paulus met werke bedoel, dan moet u verse 5-11 gaan lees.

En die vorige keer het ons juis daardie woorde oordink. Ek herhaal dit kortliks: Daar roep die apostel ons op tot die gesindheid van Christus: “...hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus was”. As hierdie gesindheid van Christus in ons is, dan werk ons ons eie heil uit. Hierdie gesindheid van Christus, dit is die werk waartoe ons opgeroep word.

En wat was nou die gesindheid van Christus? Dit sê verse 5-8 vir u: Hy het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem. Hy, die Koning van alle konings, het van sy allehoogste troon geklim en dienskneg geword. Hy het nie aan Homself gedink nie, maar aan ons heil. Hy was absoluut gehoorsaam aan die Vader. God se eer, sy Vader se wet en ons verlossing - dit was vir Hom ALLES. Daarop was sy denke gerig. Dit het Hom beheers. Daarom was Hy gehoorsaam, ja, gehoorsaam tot die dood van die kruis. DIT was dus sy gesindheid.

En nou wil die Here hê dat ons die voorbeeld van Christus moet navolg. Dan, ja dan is ons besig om ons eie heil uit te werk. Ons moet DUS diensknegte word. En dit beteken eerstens: Ons moet gehoorsaam wees soos Hy was. Ons moet die eer van die Here najaag. Sy gebooie moet vir ons dierbaar wees. En tweedens: soos ons Heiland moet ons die heil van ons naaste op die oog hê. Dit beteken natuurlik nie dat ons ook soos Hy moet sterf vir die sondes van ons broeders en susters nie. Dit is onmoontlik. Wat dit wel inhou is dat die heil van ons naaste ons na aan die hart moet lê. Ons moet hulle veral graag van Christus