Calvyn noem die bevel om te bid en God se beloftes die twee pilare
van die gebed. In hierdie verband wys hy onder andere op Matteus 7 vers
7: "Bid (bevel), en vir julle sal gegee word (belofte)…". Daar leer Christus,
sê die hervormer, ons nie slegs wat ons behoort te doen nie (bid),
maar hy beloof ons ook dat ons gebed nooit vrugteloos sal wees nie.
God se beloftes gee ons in ons gebedslewe heerlike sekerheid.
Ons gebede en die les van die Psalms
As ons wil leer hoe om te bid, moet ons onder andere na die PSALMS
toe gaan. Iemand noem die Psalms die leerskool van die gebed. In die Psalms
kom ons in die binnekamer van die Ou Verbond. Daar sien ons hoe gelowiges
onder die Ou Verbond in hulle binnekamers gebid het. Maar dit is nie al
nie. Ons moet veral onthou: Die gebede in die Psalms was nie sommer maar
net die gebede van mense nie, maar dit is geïnspireer deur die Heilige
Gees. Hy is immers die groot Bybelskrywer en daarom ook die Skrywer van
die gebede wat ons in die Psalmboek aantref. Daarom kom ons in die Psalms
ten diepste in die gebedskool van die Heilige Gees. Hy is die Een wat ons
daar leer bid.
En nou is een ding in die Psalms besonder opvallend: die groot rol
wat God se verbond daarin speel.
Oor God se verbond sing die digters. Oor die HERE se heerlike beloftes
en sy trou aan sy beloftes het hulle gejubel en gejuig. Dink maar net aan
Ps.105, soos Totius dit so pragtig gerym het:
"Die HEER wat van geen wankel weet nie,
sal nimmer sy verbond vergeet nie;
al sy beloftes bly van krag
tot in die duisendste geslag…."
En dit kry ons nou ook in die gebede in die Psalms. Wanneer hierdie
Psalmdigters bid, bid hulle nie sommer wildweg nie, maar hulle doen 'n
beroep op dit wat die HERE in sy verbond beloof het. In hulle gebede is
hulle besig met God se beloftes. Ek noem net een voorbeeld. In Psalm 31
vers 2 bid Dawid: "Bevry my deur u geregtigheid". Ek kan dit ook vertaal:
"Red my deur u verbondstrou". HERE, sê Dawid, U het dit tog in u
verbond beloof dat U U volk sal verlos. Wil u my ook dan nou in u trou
aan u belofte verlos uit die hand van die vyand.
Die Psalmdigters het geweet: Op God se beloftes kan hulle staatmaak.
Wie daarop pleit, doen dit nooit verniet nie. Die HERE is getrou. Hy doen
ook wat Hy beloof het.
Ons gebede en ons doopsformulier
Nou moet ons die onderrig van die Psalmboek NA ONSSELF TOE DEURTREK.
Ook ons is immers verbondskinders. Ook met ons het die HERE sy verbond
opgerig. Hy het aan ons 'n weelde van beloftes gegee. Op daardie beloftes
mag ons pleit en ons mag ook seker wees dat God ons sal verhoor wanneer
ons so 'n beroep doen op dit wat Hy aan ons beloof het.
In hierdie verband wil ek u wys op ons so kosbare doopsformulier.
Daar kry ons 'n samevatting, 'n opsomming, van God se beloftes aan ons.
Daar, in die uur van ons doop, het God Homself aan ons belowe. Hy het vir
ons gesê dat Hy ons Vader wil wees, dat Hy sy Seun aan ons wil gee
en dat Hy sy Gees aan ons wil skenk. By hierdie drie dele van God se beloftes
wil ek aan die hand van ons doopsformulier met u stilstaan:
· Ons doopsformulier sê eerstens: God belowe dat Hy
ons Vader wil wees. As Vader wil Hy ons met alle goeie dinge versorg en
alle kwaad van ons afweer of tot ons beswil laat dien.
Ons moet daarom nooit twyfel wanneer ons bid dat God ons sal versorg
nie. Hy het dit immers self belowe. En berge mag wyk en heuwels wankel,
maar God se trou aan sy beloftes sal nooit wankel nie. Wanneer ek daarom
om sy Vaderlik sorg en beskerming bid, dan mag ek ook sonder enige twyfel
weet: nou is my lewe ook in die almagtige hande van my liewe Vader.
Dit beteken nie dat daar nooit enige kwaad (siekte, verlies, ens.)
op ons pad sal kom nie. Dit belowe die Here nie aan ons nie. Wat ons wel
mag weet is dat ons in ons beproewings nooit sonder ons Vader is nie en
dat Hy ook die kwaad in my lewe vir my ten goede laat meewerk. Dit belowe
Hy wel.
· Ook ons vergewing is geen onsekere saak nie. Dit is die
tweede. Want toe ons gedoop is in die Naam van die Seun het God daarmee
beloof dat Hy ons wil skoon was van ons sondes in die bloed van sy Seun.
Kinders van God kan soms so twyfel: Sal God my ooit vergewe vir
hierdie of daardie groot sonde wat ek begaan het? Maar ons moet nie vaskyk
in die grootheid van ons sonde nie. Ons moet leer om te steun op die grootheid
van God se trou aan dit wat Hy beloof het.
· Derdens het God ons sy Heilige Gees belowe. Hy het beloof
om ons deur sy Heilige Gees in te plant in Christus en om ons deur die
Heilige Gees geloof en gehoorsaamheid te skenk.
As ek daarom vassit in 'n bepaalde sonde of worstel met my kleingeloof,
hoef ek nie daaraan te twyfel dat God my sy Heilige Gees aan my sal skenk
as ek daarom bid nie. Dit is juis met die oog op die Heilige Gees dat Jesus
gesê het: Soek en julle sal vind, klop en vir julle sal oopgemaak
word (Mt.7:7).
Christus en ons gebedssekerheid
Waarom is dit so seker dat die HERE sy beloftes aan ons in vervulling wil laat gaan? Waarom kan ons die HERE met soveel vrymoedigheid bid om die vervulling van sy beloftes aan ons? Is dit omdat ons dit miskien op 'n manier verdien? Nee, as ons na onsself kyk, het ons al God se beloftes verbeur. Dan kan ons nie op een daarvan reken nie. As ons na onsself kyk, oorval daarom die grootste onsekerheid en twyfel ons. Maar God se beloftes is ja en amen, dit is waar en seker en vas nie danksy ons nie, maar in Christus Jesus. Daarom bid ons ook in die Naam van Jesus.
Gebed en geloof in God se beloftes
Die HERE belowe aan ons groot dinge in sy verbond, maar Hy kom in
dieselfde verbond ook met sy eise: Ons moet glo en ons bekeer. Wie dit
nie doen nie, ontvang ook nie die vervulling van God se beloftes nie.
En dit geld nou ook ten opsigte van die gebed: ons moet gelowig
bid, anders ontvang ons nie. Dit leer Jakobus ons uitdruklik (1:6,7).
Ag, dit is vir ons dikwels so moeilik om te glo. Maar dit mag u
ook vir die Here sê en van Hom vra. En dan hoef u nie te twyfel nie:
Hy sal ook aan u die geloof gee. Hy skenk ook wat Hy van ons vra.