JESUS, KONING OOK VAN SY
LYDE
G.B.S. PASCH
(Nagmaalspreek)
Lees:
Johannes 13 : 21 - 30
Ps. 119 : 4
Ps. 116 : 7
Vanmôre vier ons deur die genade van die Here
weer nagmaal. Elke nagmaal hou ons en gebruik ons tot sy gedagtenis, en in die
lydenstyd waarin ons nou staan herdenk ons ook in besonder die lyde en die
sterwe van ons Here Jesus Christus. Daarom wil ons graag vanmôre die
lydingsherdenking en die nagmaalsviering tot een heerlike herdenking laat
saamvloei van Jesus wat Hom hier in ons teksverse openbaar as Koning - Koning
en Heer ook van sy lyde.
As Profeet het Hy in heldere en duidelike
profesie sy lyde en sterwe voor Hom gesien. Hy het van alles geweet en tog sê
Hy met heerlike vrywilligheid: Kyk ons gaan op na Jerusalem. En as Priester -
so staan daar in die eerste vers van Johannes 13, het Hy ons liefgehad tot die
dood toe. Hy staan langs die altaar as Priester gereed om sy offerwerk uit te
voer, en Hy gee Homself op die altaar as offerlam. Priester en lam tegelyk. Dit
is alleen moontlik deur sy liefde vir hulle wat die Vader Hom gegee het. In sy
lyde word Hy dus aan ons geopenbaar as Profeet en as Priester. Maar in sy lyde
is Hy ook ‘n waaragtige Koning, bekleed met majesteit en gesag wat
gehoorsaamheid vra en dit ontvang. En wil ons die Koningskap van Jesus Christus
verstaan wat Hy so sterk gehandhaaf het ook in sy lyde, dan moet ons ook die
agtergrond en die diepte van ons terksverse begryp in soverre as wat ons
daartoe in staat is. Wat jy doen - doen dit haastig. Dit word aan Judas die
verraaier gesê in die bovertrek waar Christus die nagmaal ingestel het. In
hierdie woord, in hierdie teks lê die koningstaf, die heerserskroon, omlys en
uitgevoer met skitterende edelgesteentes opgesluit. Hier verhef die volle
majesteit van Christus se koningskap Hom. En tog - hoe vreemd en vol ironie
klink dit nie om van majesteit en van heerlikheid te praat by hierdie lydende
Seun van God. Majesteit is dit moontlik by ‘n
lam wat na die slagplek gelei word? Heerlikheid - en daar word van Hom
gesê: Hy is ‘n wurm en geen man nie. Gesag - en die profeet Jesaja sê, verag en
deur die mense verlaat. Koningskap - en Hy werp Hom in Getsemane neer op die
grond met die smekende gebed: As dit moontlik is, laat hierdie drinkbeker by my
verbygaan. Werklikwaar vreemd en ironies. Die hele lewe van Christus hier op
aarde was een stuk vernedering en neerhaling. Van die krip tot by die kruis -
lyde en lyde en lyde opgestapel tot ‘n berg van smarte. Die koers van die lewe
van Christus gaan nie op nie - nie boontoe nie - geen opstyging na roem en eer
nie. Maar die koers van sy lewe peil altyd dieper die ellende en die dood in.
Hy bewandel die weg van Gods toorn oor die sonde. Hierin juis bly daar geen
heerlikheid en majesteit vir Christus oor nie. Want die toorn van God brand
juis teen die gevalle koning in die paradys in wie se plek Christus ingetree het. Sy pad loop omlaag en eindig met
baie smarte in die vulkaan, die vuurspuende toorn van God. Die pad teken die
geloofsbelydenis met kragtige gebondenheid gebore, gely, gekruisig, gesterwe,
begrawe, neergedaal na die hel. Word dit van ‘n koning gesê? Nee werklik
broeder en suster, dit bly vreemd om van die vernederde en lydende Christus te
praat as koning. En tog - ons teksverse bly nog staan. En tog - die son van sy
majesteit breek tog soms deur - deur die swarter wordender wolke van lyde en
vernedering. Enkele male voor ons oë strale van koninklike lig. Daar is in die
lewe van Jesus ‘n enkele oomblik dat sy koningskap helder deurbreek.
U
weet tot - in die stal - mirre en goud en wierook om Hom opgestapel - hulde aan
die wieg van ‘n Koning, en in die tempel - sy ouers Hom soek en Hy besig moes
wees met die dinge van sy Hemelse Vader, en op die berg van verheerliking - sy
gesig blink soos die son - sy klere wit soos lig - en sy Vader sê vir Petrus en
die ander: luister na Hom! Koning is Hy daar. Hierdie enkele gebeure is ‘n
heenwysing na die koninklike verhogings van Christus as Hy sal sit aan die
regterhand van sy Vader. Hierdie strale wat sy koningskap en majesteit uitbeeld
skiet net ‘n oomblikkie deur die wolke. En so ‘n straal van koninklike
majesteit was daar ook in die bovertrek waar die nagmaal ingestel is. Daar sien
ons Jesus op die vooraand en aan die begin van sy lyde met ‘n Koninklike gebaar
en geheel en al vrywillig die man wegstuur wat Hom aan die dood gaan uitlewer.
Dit is Judas, Judas die verraaier wat in die diens staan van Satan. En Satan
het hierdie verraad deur Judas van stapel gestuur met die uitsluitlike doel om
Christus op ‘n bedrieglike manier te oorval. Christus moes van niks weet nie en
die soen van Judas moes vir Hom kom as ‘n eersterangse verrassing. Dan, so weet
Satan - sou Christus se lyde en sterwe nie meer die karakter gedra het van ‘n bewuste
en vrywillige oorgawe nie. Dan sou Jesus wel dood gemaak word, maar sy lyde en
dood was dan geen offer meer nie. ‘n Offer is tog alleen dit wat wel bewus en
volkome vrywillig gebring word. Dan sou daar ook nie voldoen word aan die
geregtigheid van God nie. Sien u - daarom het Satan die verraad deur Judas
beplan. Net Judas en Satan - die twee broers sou die geheim tussen hulle hou.
Maar dit is juis hierdie sataniese beplanning van Satan wat deur Christus
verydel word. Jesus weet dit - Hy deursien dit. Hy hou Judas so lank by Hom as
wat Hy nodig vind. Christus beheer soos ‘n Koning die situasie. Die verraaier
mag nie sy werk doen voordat hierdie laaste arbeid van Christus in die
bovertrek nie afgehandel is, voordat die nagmaal iingestel is, voordat Christus
Self die paasmaaltyd gebreek het nie. Die verraaier mag nie verraai nie voordat
Christus volkome gereed is om die donker nag van sy lyde in te gaan nie. En nou
doen Christus in sy majesteit twee dinge. Eers ontmasker Hy Judas met die
stukkie brood - u onthou die hele situasie. Hierdie ontmaskering vind so plaas
dat die ander dit nie agter kom nie. Hulle kon dan dalk ingryp, maar dit weer
was ‘n saak tussen Judas en Christus. Die verraaier weet nou dat Christus weet.
Mens wonder - Judas se oë was seker stip voor hom gerig toe hy sy hand in die
skottel insteek. En nie net die verraaier weet nou dat Christus weet nie, ook
die Satan weet dat Christus alles deursien en dat Hy as Hy wil alles kan
verhinder. As hy wil - as die Koning wil - van Christus se wil of se wil nie -
hang Judas se verraad af. En nou toon Christus op ‘n Koninklike en majesteuse
wyse dat Hy dit nie wil verhinder nie. En dan praat die Meester, die Koning,
die groot Vors. Hy rig sy heersersgestalte omhoog en terwyl Hy stip na Judas
kyk, wys Hy met Vorstelike gebaar na die deur. Daar is die deur! Hy stuur sy
verraaier weg om sy werk te gaan doen: Wat jy doen, doen dit haastig. En dan
sluip Judas nie weg op sy geleentheid en sy tyd nie. Nee, hy word weggestuur.
En dan is dit eintlik geen verraad meer nie. Dan staan Judas in diens van
Koning Jesus - sy verraad en al. Die verraad is sy dienskneg en Satan en die
hel staan in die diens van Koning Jesus Christus. Die Koning beheers hier
alles. Hy heers en hy regeer oor sy eie lyde en sterwe. Kyk hoedat Hy Hom
omhoog rig ver bokant hulle wat Hom die hewigste smarte aandoen. Die eenvoudig
bovertrek word ‘n Koningspaleis en Christus se nederige sitplek ‘n Koningstroon
in sy hofsaal. Hy gebruik sy lydeverwekkers vir sy Heilige doel. Hier breek ‘n
straal van waaragtige Koningskap deur - Wat jy doen, doen dit haastig!
Christus is dus die Koning, die Heer ook van sy lyde. En as Hy nou sterwe, sal
die dood nie oor Hom toesak soos oor die moordenaars langs hom nie. Maar soos
‘n Koning buig Hy sy hoof en gee Hy die gees. So openbaar Christus Hom dan ook
in sy lyde en sterwe as die Vorstelike regeerder van sy eie lyde en sterwe,
want dit is net ‘n Koning wat ook oor die sterwe heers, van wie daar geskrywe
staan - en Hy het sy hoof gebuig en die Gees oorgegee aan God. En as gevolg van
hierdie dinge kon die apostel Johannes later skrywe: Ons het sy heerlikheid
gesien.
En
so broeder en suster moet daar eintlik by die Christen iets wees van die
majesteit van Christus. Soos Hy kan ons natuurlik nie ly en sterwe nie. Sy lyde
en sterwe was in sy wese borgtogtelik. Maar as Christus ons borg is, dan word
hy deur die krag van die borgskap ook die voorbeeld vir hulle wat aan hom
behoort. Dan word hy veral vir hulle die voorbeeld van gewillige gehoorsame
liefde, maar ook daarin dat hulle, hulle lyde en smart in hierdie wêreld dra
met majesteit. By hulle moet daar ook iets skyn van die koninklike in die lyde.
So baie lyde in die wêreld, lyde die noodwendige neerslae van die sonde.
Niemand kom daarvan los nie. En behalwe dit - as ons waaragtig ernstig is in
ons Christenwees - dan is daar ook baie smart by ons om Christus ontwil. Hy wat
die innige gemeenskap verkry deur genade met hierdie Lam wat na die slagplek
gelei word, hy kom ook in stryd met homself, hy worstel met homself en hy sal
homself moet verloon, gedurig moet verloon en homself en sy eie ek geheel en al
moet kwytraak. En ook hy wat in hierdie wêreld met beslistheid uitkom en
vorendag kom vir die naam en saak van die Here - vir hom word die lyde geensins
gespaar nie. Hy stamp en word gestamp. Hyt ontvang vernedering, verdriet, selfs
stoflike verlies. En al hierdie lyde moet gedra word deur die gelowige met iets
van die majesteit van Christus - met majesteit. Nie dat ek my die beproewing
maar laat welgeval, omdat dit nie anders kan nie. U kastyding moenie
deurworstel word met haat en bitterheid nie, maar bokant die lyde en beproewing
moet ons deur die krag van Christus uitstyg om daarvan koning te wees. Biddend
en met ware geloof moet ons lyde beheers, omdat ek dit vrywillig uit die hand
van God ontvang en aanvaar. Ek moet dit aanvaar met ware geloof, en dit aanwend
vir die doel waarvoor God dit bedoel het - naamlik my loutering.
Koninklike
priesters moet ons wees - priesters wat hulle offers bring, ook hulle pynlike
offers - met iets van die majesteit van Christus in sy lyde. Dit is die weg vir
ons gebaan juis deur sy koninklike majesteit oor sy eie lyde en sterwe. En so
moet ons sterwe - nie hooghartig nie, nie spottend met die dood nie, maar
koninklik en stil en rustig - deur Christus is die sterwe se angel en die dood
vir ons omgeskep tot wins. Veral en te meer as ons hierby gedenk - die sondaar
is ‘n gevalle koning - Hy sou - so spreek die Here by die skepping, heerskappy
besit, Koning sou Hy wees oor alles wat geskape is. En - nou - ‘n slaaf. Hy wat
die sonde doen is ‘n slaaf van die sonde. Die sondaar heers nie meer nie, maar
lê onder die heerskappy van Satan gebind. Nou kom Christus en Hy gee Hom
Koninklik en gewillig in die boeie van Satan - en kyk, ons word vrygemaak, vry
van Satan se koningskap. Maar as Hy Hom gee vir die boeie van Satan - dan doen
hy dit as Koning. Nooit soos ‘n slaaf nie, nooit soos ‘n willose slagoffer nie.
Dit is altyd nog ‘n daad van homself. Lam is Hy - maar ook Leeu, Leeu uit die
stam van Juda. En nou weet ons - omdat Christus op sy lydensweg en aan sy kruis
vry was, Koninklik vry was - nou is dit ‘n offer. Anders is dit maar ‘n lot
waar Satan Hom ingedompel het, so en so alleen word ons los van Satan se
koningskap. En so en so alleen word slawe weer herstel en herskep tot konings.
En hierom - hoe diepsinnig en heerlik is die genade van God nie. Hierom -
beveel Christus vir Judas - hierom steier die bende agteruit in Getsemane -
hierom bestuur Christus met eie hand sy hele vervolging en kruisiging - hierom
kom hy nie af van die kruis as hulle hom dit spottend vra nie - Hy kon as Hy
wou, maar soos ‘n Koning wou Hy nie - en hierom staan daar bokant sy kruis -
KONING. En nou weet ons - Salige wetenskap sy lyde en sterwe was nie die lot
van ‘n willose slaaf nie, maar die genadige werk van ‘n verlossende Koning.
Hoe heerlik troos dit nie? Maar vreeslik is ook die
waarskuwing. Hy wat nie buig voor Christus, hy wil nie buig voor ‘n Magtige
Koning nie. Die ganse opstandige mensdom lê in sy hand, sy Koningshand, en Hy
maak hulle gereed om uitgestort te word in ewige vergetelheid. Laat ons tog
veel - veel liewer vrede hê met hierdie Koning. Veel liewer vrede met so ‘n
Almagtige Heerser wat sy lyde en selfs sy sterwe in sy hand hou. En by Golgota
was daar sekerlik een man wat die Koninklikheid, hierdie majesteit van Christus
oor sy lyde gesien en aanbid het. Iemand van wie ‘n mens dit nie sou verag nie
- die moordenaar langs Christus. Die diepte van die opskrif bo Christus se hoof
het in sy hart ingang gevind. Vir hom was dit nie spot nie. En in die hoë nood
van sy siel neem hy tot die genade en almag van hierdie Koning sy toevlug: Dink
aan my HERE, wanneer U in u koninkryk kom. Hoeveel vertroosting moes
daar nie vir Christus met hierdie geloofswoord gekom het nie? EEN - ten minste
EEN - wat van sy koninkryk spreek en sy Koningskap en majesteit aan die kruis
aanskou het. Alleen hulle dan wat die woorde van die moordenaas as hulle eie
erken en hierdie lydende Koning aanroep as hulle Saligmaker - hulle het ook die
antwoord wat Christus aan hierdie moordenaar gee. Hulle sal in die Paredys wees
- van slawe word hulle herbore en verander en versoen tot ewige Konings. En in
hulle lewe sal ook iets gesien word van sy koninklike majesteit. En daarom - as
U dan tafel toe kom - en elke dag van U lewe, laat hierdie bede en erkenning
ook in U hart gevind word. Dink aan my, HERE, wanneer U in U koninkryk kom.
Amen.