Oordenking 1
LEES: Ex.34:6,7
TEKS: Jona 1:1
TEMA: Inleiding
DIE SKRYWER
Die skrywer is onbekend, aangesien die Bybel ons niks in die verband
sê nie. Die boek dra die naam van die persoon in wie se wedervaringe
die HERE Hom openbaar, nl. die profeet Jona. Vs. 1 noem hom: Jona. die
seun van Amitt
Wie Amittai was, weet ons nie.
DIE DATERING
In II Kn 14: 25 (D.411) word van Jona melding gemaak Daar word ~ tel dat hy aan Jerobeam II voorspel het dat die gebied van sy ryk sou uitbrei tot die grense in die dae van Dawid en Salomo. Jona het dus opgetree in die tyd van Jerobeam II, koning van die Israelitiese tienstammeryk; dit was so ongeveer die jare 783 - 743 v.C. Moontlik was dit in die begin van sy regeringstyd.
DIE GEADRESSEERDES EN HULLE OMSTANDIGHEDE
In hierdie boek word Israel, d.w.s. die kerk, in Jona se dae aangespreek.
Hulle geestelike gesteldheid kan in twee begrippe beskryf word:
hoogmoed en valse gerustheid.
Amos en Hosea, wat ook so min of meer in dieselfde tyd geprofeteer
het, gee ons 'n duidelike beeld van die geestelike situasie. Amos beskrywe
sy volksgenote as sorgeloses en gerustes (6: 1). Oor die oordeelsdag was
hulle nie besorg nie, want hulle was blind vir hulle eie sondeskuld (Hos
12: 9). In hoogmoed het hulle neergesien op die heidendom en gedink dat
die gerig van die dag van die Here vir die heidene bedoel was. God se volk
daarenteen, sal skotvry gaan.
Intussen het die ongeregtigheid welig in Israel getier. Aan die
een kant het hulle geroep "ons is aan U toegewy, ons God! " (Hos 8: 2).
Aan die ander kant is egter oral die Baäls aanbid en in Bet-el en
Gilgal het die kalwerdiens gefloreer. Die dae van Jerobeam II was 'n tydperk
van groot voorspoed op politieke en ekonomiese gebied, maar geestelik het
die lewe 'n laagtepunt bereik. Dit sou dan ook nie meer lank duur voordat
Israel in ballingskap na Assirië sou gaan nie
TEMA
HERE roep sy kerk op tot 'n lewe uit genade alleen.
INHOUD
Hfst. 1. Die sondigheid ook van die kerk in sy verteenwoordiger,Jona,
blootgelê. Jona word bestraf.
Hfst. 2. Die gebed van Jona in die vis: hy bely sy ellende, erken
dat sy verlossing net van die HERE af kom en beloof dankbaarheid. Die HERE
red hom.
Hfst. 3. Die prediking van Jona en die heerlike vrugte daarvan:
Ninevé word bekeer en die HERE sien af van die straf.
Hfst. 4. Die ontevredenheid van Jona oor die redding van Ninevé.
Die Here se antwoord: Hy is 'n barmhartige God.
BETEKENIS VAN DIE BOEK
1. Twee sleuteltekste in die boek is 2: 9 en 4: 2, want daarin word
saamgevat wat die HERE in dié geskiedenis by sy volk wil tuisbring
nl. dat ook die kerk se verlossing net God se werk is (2: 9) en dat ook
die kerk se redding net te danke is aan die HERE se genade, barmhartigheid,
lankmoedigheid en goedertierenheid jeens hulle (4: 2). Dit ervaar die kerk,
in die persoon van sy verteenwoordiger, Jona, aan eie lyf, want in hom
laat die HERE sien dat ook die kerk so sondig is en hulself nie kan red
nie.
2. Al word Jesus nie by name genoem nie, is die boek Jona vol van
hom: Jona se verblyf in die ingewande van die vis is 'n profesie van Christus
se verblyf in die graf (Mt 12: 40, p.20; Mt 16: 4, p.26; Lk 11: 30, p.
98); die Here se genade, barmhartigheid en lankmoedigheid jeens Jona (die
kerk) en Ninevé en sy afsien van die straf kan net vanuit die offer
van Jesus verklaar word; Hy is die heil of verlossing van die Here (2:
9).
Oordenking 2
LEES: Jes.10:5-19; 36:18-20
TEKS: Jona 1:1-3
TEMA: Die HERE toets die gehoorsaamheid van sy kerk
"Die woord van die HERE het tot Jona…gekom" (v.1)
Die inhoud van die woord lui: "Maak jou klaar, gaan heen na die groot stad Ninevé en preek daarteen" (v. 2a, O.V.) Preek daarteen: dit gaan dus om oordeelsprediking. In Jon 3: 4b word die gerigswoord nader omskrywe: "Nog net veertig dae en Ninevé word verwoes".
Die rede vir die oordeelsprediking motiveer die HERE soos
volg: "Want hulle boosheid het opgestyg voor my aangesig (v. 26,
O.V.) Ninevé se verskriklike sondigheid word met 'n treffende beeldspraak
beskryf: Sonde is gestapel op sonde en die top van die sondeberg het opgestyg
tot voor die aangesig van die HERE. Ninevé se sonde het m.a.w. so
erg geword dat die HERE dit nie langer meer kon duld nie. Om 'n Afrikaanse
idioom te gebruik: Hulle boosheid was ten hemel skreiend. Dit het na die
hemel geroep om straf.
Ninevé was dus 'n uitermate goddelose stad. Jon 3: 8 praat
van "Hulle verkeerde dade" en "die geweld wat hulle gepleeg het". Nahum
noem Ninevé die bloedstad, wat louter bedrog, vol geweld is, terwyl
die rowery nie ophou nie (3: 1). Bedrieëry, diefstal en bloedvergieting
het nooit end gekry nie.
Ninevé was die kulturele en godsdienstige hoofsentrum van die opkomende wêreldryk, Assirië. In hulle opgang as wereldmoontheid het hulle die oorwonne lande op die vreeslikste wyse geplunder en Ninevé verfraai met die skatte wat oral geroof is. Hulle was bekend as die wreedste volk van daardie tyd. Op hulle veldtogte het die bloed letterlik gestroom. Een van hulle konings spog in 'n inskripsie oor die genadelose wreedheid van sy veldtogte. "Ek het die bergtoppe bestorm en dit geneem. In die midde van die magtigste gebergtes het ek hulle geslag; met hulle bloed het ek die berg rooi gekleur soos wol . . . Die koppe van hulle krygers het ek afgekap en dit in 'n pilaar voor hulle stad opgestapel; hulle jong manne en meisies het ek met vuur verbrand". Jesaja noem ook nog afgodery en buitengewone trots as sondes van Assirië. (10: 5 -19; 26: 18 - 20).
So erg was Ninevé se sonde, dat die stad in die Skrif op een lyn met Sodom en Gomorra geplaas word.
En tog is God nog lankmoedig met hulle! Hy stuur sy gesant, die profeet Jona, na hulle toe om vir hulle te preek. God is baie lankmoediger as ons (vgl. Jon 4: 2).
Calvyn sê verskeie male: ons moet die heidene sien as 'n spieël waarin ons onsself kan sien, hoe ons sou gewees het as dit nie vir God se genade was nie!
Die enigste verskil tussen die kerk en die heidendom lê opgesluit
in een woordjie: genade! Deur God se genade is ons wat ons is.
Oordenking 3
LEES: Lukas 7:47
TEKS: Jona 1:1-3
TEMA: Die HERE lê óók die kerk se ongehoorsaamheid:
sy Woord kom tot Jona (1)
'n Mens sou verwag dat dit vir Jona as goeie Israeliet heerlik moes wees om Ninevé die oordeel van God aan te sê. Assirië het immers as opkomende wêreldryk, 'n groot bedreiging vir Israel ingehou
Jona se reaksie op die woord van die HERE is egter skokkend: hy vlug. Sy antwoord is 'n radikale nee!
In hfst. 4: 2 gee hy die rede vir sy optrede: Hy het presies geweet hoe sy God is. Daarom het hy ook presies geweet wat die HERE se doel was met sy oordeelsprediking: om goddeloses te bekeer. O, en as dit sou gebeur dan sou die HERE Ninevé ook sy genade betoon. So ken hy sy God.
Dit was vir Jona 'n onverdraaglike gedagte. Daarvoor was Ninevé gans en al te goddeloos. Die heidene het niks beter as die oordeel van God verdien nie. Die HERE mag Hom nie met die heidene bemoei nie. Die heil is alleen vir die kerk bedoel, vir hulle wat leef by die wet van God
O, wat 'n hoogmoed! So asof God Israel uitverkies het, omdat hulle soveel beter was as die ander volke! So asof die kerk sondeloos is
In sy optrede spieël Jona sy volk af. Dit is asof 'n mens in hom die hele kerk van sy tyd in hulle hoogmoed sien staan en vertrou op hulle eie verdienste! In Jona sien 'n mens 'n voorloper van die Fariseërs. Ook die Fariseërs het hulle bloedig vererg omdat Jesus Hom met tollenaars en hoere bemoei het. Maar so gaan dit: mense wat blind is vir hulle eie sonde en daarom ook geen behoefte het aan genade nie, gun dit ook nie aan ander nie. So 'n kerk stagneer en leef nie na buite nie.
Daarom gaan die HERE Israel nou deur hulle verteenwoordiger leer hoe min hulleself reg op God se heil het. In Jona toon die HERE sy kerk 'n portret van hulle eie onwaardigheid, want Jona is ongehoorsaam aan die Woord: in plaas dat hy na Ninevé gaan, vlug hy in presies die teenoorgestelde rigting. Hy vlug van die aangesig van die HERE af weg (v. 3) Dit beteken dat hy sy amp neerlê. Twee maal staan dit daar om die erns van sy sonde te onderstreep. Jona sal nog in sy eie lewe ondervind hoe nodig hyself die inhoud van hfst. 4: 2 het!
Die reisgeld moes 'n aardige sommetjie bedra het, want 'n reis na
Tarris het ongeveer ses maande geduur. Ongehoorsaamheid kos duur. Sonde
verwoes ons na liggaam en stel. Salig is jy as jy insien: Die reisgeld
is te hoog, want uiteindelik kos dit jou jou stel.
Keer dan terug na God! Maar is die reisgeld vir die terugpad nie
baie hoog nie? Ja, ontsaglik hoog! U kan dit nie betaal nie, maar Christus
het dit vir u met sy kosbare bloed betaal. Gaan dan as verlore sondaar
op die skip van genade, wat vaar onder die vlag van die kruis.
Ook jy is in opstand teen God as jy ongehoorsaam is, sê Calvyn.
Wie nie wil leef van genade alleen nie, is op vlug vir God. Alleen as jy
jou eie sondenood besef en die grootheid van God se barmhartigheid in jou
eie lewe ervaar het, sal jy oog hê vir die nood van jou naaste.
Oordenking 4
LEES: Hand.27
TEKS: Jona 1:4-6
TEMA: Die HERE is lankmoedig met vlugtende verbondskinders
Jona is op vlug. As dit van hom afgehang het, sou daar niks van sy amp as profeet tereggekom het nie. As die HERE hom nie genadig was nie, sou hy in ongehoorsaamheid onder die golwe van God se ewige toorn verdwyn het.
Dit is egter nou juis so ontroerend mooi in hierdie geskiedenis: Die HERE verteer hom nie onmiddellik in sy toorn nie, maar Hy agtervolg sy rebelse kind met amper oneindige geduld. Dit is wat genade is: dat die HERE mense agtervolg, wat willens en wetens sy Woord verwerp.
Jona is in die leerskool van genade. Hy is voorwerp van God se byna eindelose lankmoedigheid. Dit alles het hy Ninevé nie gegun nie. Nou skenk God hom dit, terwyl hy dit nog minder as Ninevé verdien. Immers, Jona sondig teen die uitdruklike Woord van God, terwyl die heidene die Woord nie het nie.
In v.3 kry ons die "maar van opstand": Maar Jona het gevlug. In v.4 kry ons die "maar van die HERE". Dit is die maar van sy genade, van sy opsoekende liefde. God gee sy engel of boodskapper genaamd Storm, bevel om die vlugteling te arresteer (vgl. Ps 104: 4. Die Hebreeus praat van engel). Noodweer breek los!
Die heidense matrose gooi die kosbare vrag oorboord in 'n poging
om hulle lewens te red. Eers in die aangesig van die dood leer die mens
hoe onbelangrik aardse skatte is. Dan is dit miskien al te laat. Ook ander
ly a.g.v. Jona se sonde en a.g.v. u sonde. Natuurrampe en 'n swak ekonomie,
teëslae en verdriet in u persoonlike lewe - d.i. alles boodskappers
van God.
God is 'n soekende God. Soms roep hy ons met 'n sagte stem, ander
kere met die harde stem van sy gerig. In alles weerklink egter sy liefde.
Iemand het eenmaal gese: In voorspoed fluister God tot ons. Ons is
egter hardhorend. Dan rig God klankversterkers op d.m.v. lyding. Dan dawer
God se stem deur die kamer.
'n Mens sou se dat Jona dadelik sou reageer op die stem van die
HERE maar Jona stop sy ore toe: hy gaan lê en slaap. Hy is deur en
deur verhard.
Sy optrede staan in skrille kontras teenoor dié van die heidene. Terwyl ruwe matrose luidkeels bid tot hulle afgode, lê hy en slaap. hy bid nie vir homself nie en ook nie vir sy medemens nie, so asof daar nie so iets soos God se toorn en sy ewige gerig bestaan nie. Die HERE beskaam Jona d.m.v. die heidene wat hy so diep verag. Die kerk swyg.
'n Heidense skeepskaptein moet hom wakker skud en wys op sy roeping
(v. 6). 'n Heiden preek vir 'n dominee. "Miskien sal Hy aan ons dink" (v.
6). Die kerk swyg terwyl hy 'n God ken wat sekerlik kan verlos van sy toorn.
(Jh 3: 18, 36).
Oordenking 5
LEES: Johannes 9
TEKS: Jona 1:7-10
TEMA: Die HERE is hardnekkig lankmoedig met 'n hardnekkig ongehoorsame
kerk
Die bekende teoloog, H.F. Kohlbrugge, het die Bybelse geskiedenis so opgesom: Dit is die geskiedenis van God se hardnekkige geduld teenoor die geskiedenis van Israel se hardnekkige opstand. Presies dit sien ons in Jona in die kleine voor ons afspeel. Jona spieël immers sy volk af.
Enersyds volhard Jona in die kwaad. Ten spyte van die kolkende golwe wat getuig van God se majesteit, van sy hand wat sy profeet soek, kom daar geen skuldbelydenis oor sy lippe nie. Hy bly onbekeerlik.
Andersyds openbaar die HERE Hom in sy hardnekkige geduld. Ons sou sê: Waarom bemoei God hom nog met Jona?? So 'n kneg is tog nie veel werd nie?? Hy is tog nie verleë oor hom nie?? Hy is immers in staat om uit stene kinders van Abraham, om uit sand profete te maak? Wat 'n nederige geduld van die hoë God om soveel moeite te doen om sy balhorige kind te agtervolg. Dit moet die kerk klein maak voor God, wanneer ons onsself in dié boek sien. Hoe nodig het die kerk self nie God se lankmoedigheid nie.
As die storm bly woed, besluit die matrose om die lot te werp ""sodat
ons kan uitvind oor wie hierdie ramp ons tref" (v. 7) Hulle le tereg 'n
nou verband tussen die nood waarin hulle verkeer en die sonde. Immers:
was daar geen sonde nie, dan was daar geen wonde nie. Alle ellende in hierdie
lewe is die gevolg van die sonde. Dit is 'n jammerlike waarheid en tog
is daar ook troos in. Ja, want dan weet ons met sekerheid: as die oorsaak
weggeneem word, sal die gevolge ook eenmaal weggeneem word en daarvoor
het Jesus gekom (Op 21). Hy het
die oorsaak van ons honger en kommer, die sonde, op Hom geneem.
Tog is die matrose nie heeltemal reg nie. Hulle gaan te ver wanneer hulle tot die slotsom kom: dié besondere nood is die gevolg van 'n besondere sonde van iemand. Dit is nie noodwendig so dat wanneer iemand deur 'n besondere nood getref word, hy dit as 'n straf op 'n besondere sonde in sy lewe moet sien nie. Lyding kan ook 'n ander rede he bv. ter wille van die eer van God (Jh 9: 3), goddelike opvoeding (Heb 5: 8) of as teken van navolging van Christus (Mat 10: 22, 38 ). Hier is dit wel straf op 'n besondere sonde.
As Jona ongeag die storm nog nie skuld wil bely nie, wys die HERE
hom met die vinger—deur die lot - as die skuldige aan. Die HERE bestuur
die lot. (Spr 16: 33). Die "vroom" Jona word nou deur heidene in die beskuldigdebank
geplaas! (v. 8) .
Die HERE wys ons vandag nie met die lot as skuldiges aan nie, maar
die Woord is sy vinger.
Oordenking 6
LEES: Psalm 51
TEKS: Jona 1:7-10
TEMA: Die kerk beleef dikwels nie wat hy bely nie
In v.9 maak Jona eers sy nasionaliteit bekend: "Ek is 'n Hebreër."
D.w.s. hy is 'n lid van God se verbondsvolk. In Nuwe Testamentiese taal
sou hy gesê het: "Ek is 'n Christen." Daarby sou die heidene seker
gedink het: "Is dit hoe 'n gelowige hom gedra?"
Dan volg sy geloofsbelydenis: " . . . ek vrees die HERE, die God
van die hemel, wat die see en die droë land gemaak het. " Dit klink
baie mooi, maar Jona beleef nie wat hy bely nie. Hy se dus dat hy die HERE
vrees of dien, maar intussen is hy besig om in ongehoorsaamheid van Hom
af weg te vlug.
Bely en beleef! In die verband is die verhaal van Luther en die ou boer baie leersaam. Op 'n dag loop Luther hom raak, uiters verslae en pessimisties, want sy hele boerdery het afgebrand. Die toekoms het vir hom donker gelyk. "Wel, man" sê Luther, "ken jy die Twaalf Artikels? " Ja, dit ken hy en op Luther se versoek begin hy dit opsê: ""Ek glo in God die Vader, die Almagtige, Skepper van hemel en aarde en . . ." "Stop! " sê Luther vir hom ""Glo jy dit werklik?"?" Op die bevestigende antwoord van die man sê hy:: "Maar mens, as jy nou waaragtig glo dat die Almagtige jou Vader is, hoe kan jy nog vir een oomblik bang wees dat Hy nie vir jou sal sorg nie?"?"
Die reaksie van die heidene op Jona se geloofsbelydenis is in skrille
kontras met die profeet se eie houding t.o.v. sy belydenis. Hulle het doodbang
geword ((v.10).). Geen wonder nie., want met so 'n God het hulle, hoewel
onwetend, die stryd aangeknoop. Daarom stort hulle hul verwyte op Jona
neer: Hoe kon jy dit waag om vir so 'n God te vlug? Dit is tog fataal.
O, hoe diep beskaam die heidene Jona. So 'n God het hulle nie geken
nie, maar as hulle hom sou geken het, sou hulle sekerlik nie gewaag het
om te doen wat Jona gedoen het nie. Vir die soveelste keer steek die kerk
sleg af by die heidene.
En ons? Wat sal die heidene van ons dink as hulle by ons in 'n erediens kom? Miskien sal hulle vra: "Maar as jy nou werklik glo dat die boodskap van die dominee 'n goddelike boodskap is, die heeI belangrikste wat in die hele wereld gese kan word, hoe kan jy dan so onbewoë en verveeld, so sonder enige verskrikking of verwondering daarna sit en luister? Hoekom doen dit niks aan jou lewe nie?"?" Die kerk het eweseer 'n behoefte aan bekering en genade.
Intussen het Jona nog nie werklik sy skuld bely nie.. O, so in die algemeen het hy wel erken dat hy vir God vlug, maar hy sê nie waarom nie. Dit is geen skuldbelydenis nie. Jona moet konkreter word.
Jy as Gereformeerde het 'n pragtige belydenis.. Is dit by jou
'n geval van beleef en bely of nie?
Oordenking 7
LEES: Romeine 6:23
TEKS: Jona 1:11,12
TEMA: Die HERE bring sy kerk tot belydenis van sy baie sondes
Luther het eenmaal gesê "God se natuur is dat hy uit niks iets maak; daarom, wie nog nie niks is nie, uit hom kan God ook niks maak nie."
Eers moet Jona en die kerk wat hy verteenwoordig niks word, d.w.s. alle hoogmoed, elke besef as sou hy iets by God verdien, moet eers by hom afgebreek word. Eers dan sal hy niks wees nie, as hy besef dat hy geheel en al net van God se genade afhanklik is. Eers dan kan God van hom 'n nuttige en bruikbare dienskneg maak. Daarom is die HERE hier besig om hom stap vir stap tot die besef te bring.
Jona staan voor 'n regbank van heidene. Hy is die skuldige. Intussen het die noodsituasie vererger: "Die see het ondertussen al hoe onstuimiger geword." (v. 11b).). Daarom vra die matrose hom in hulle doodsangs: "wat moet ons met jou maak dat die see weer rondom ons kan kalm word?" (v. 11a).). Hulle besef: iets moet gedoen word. Hierdie man het 'n groot sonde begaan en op sonde moet straf volg. Die toorn van die Godheid teen wie hy hom verset het, moet gestil word.
Al was hulle maar net heidene, hulle redenasie, dat die sonde nie ongestraf kan bly nie, is heeltemaal Bybels (H.K. V/A. 10).
"Wat moet ons met jou maak?" Dit is tog vreemd dat hulle hom die vraag vra. Dit is immers nie die gewoonte dat 'n regter aan 'n misdadiger vra watter straf hy hom moet oplê nie. Agter die vraag le daar twee feite opgesluit.
In die eerste plek is daar 'n diepe ontsag by die heidene vir die God van Jona. Hulle het goed begryp dat hulle baie versigtig moet wees met die God. As jy iets verkeerd gedoen het, laat God dit nie maar net daar nie. Daarvan getuig die vreeslike storm. Hulle is bang hulle doen iets wat sy God aanstoot gee. Jona is immers Sy kneg en se nou hulle doen iets met hom waarvan sy God nie hou nie? Boonop voel hulle dat Jona, as sy dienskneg, die heel beste sal weet wat sy God verlang. By die heidene is daar dus 'n groter eerbied vir God as by Jona. Hulle is bang om teen God se wil in te gaan; dit was Jona nie. Hy het immers die wil van die HERE versaak. Nogeens staan die kerk beskaam!
In die tweede plek moet jy God se hand agter die vraag sien. Hy is hier aan die werk met sy kneg. Hy wil Jona bring tot skuldbelydenis en tot erkenning dat nie alleen Ninevé nie, maar ook die kerk niks anders as die doodvonnis verdien nie. Die HERE open dus met dié vraag Jona se lippe in skuldbelydenis: " . . . om my ontwil. " Hy bring hom tot die erkenning dat ook die kerk die dood skuldig is: "Vat my en gooi my in die see . . ." (v. 12a). Treetjie vir treetjie bring God die kerk tot die erkenning dat ook hulle God se genade en barmhartigheid nodig het.
Dink jy elke dag aan jou menigvuldige sondes en dat jy as gevolg daarvan diep by God in die skuld staan?
Dink jy daaraan dat ook jou sondes die tydelike en ewige straf van
God verdien het?
Alleen deur die werk van die HERE kom ons so ver om ons sondes te
bly. Daarmee wil die HERE ons nie tot wanhoop dryf nie. Hy wil ons prikkel
om ons toevlug tot sy genade en barmhartigheid in Jesus Christus te neem.
Vra die HERE om jou tot opregte skuldbesef en skuldbelydenis te bring
en om jou daarom sy genade en barmhartigheid te skenk.
Oordenking 8
LEES: Ps.32
TEKS: Jona 1:11,12
TEMA: Die HERE bring sy kerk tot belydenis van sy baie sondes
In die vorige les het ons gesien dat Jona bely het dat hy a.g.v. sy sonde sy lewe verbeur het. Hy verdien die regverdige oordeel van God.
In v. 12b noem hy die rede vir sy doodsvonnis: " Want ek weet dit is oor my dat hierdie groot storm rondom julle woed." Dit is my skuld.
Dit is seker die moeilikste sin wat 'n mens ooit kan uitspreek: Ek het gesondig. Dit is veel makliker om te se: hy of sy het gesondig. Huigelagtig maak ons dan asof ons dit vreeslik vind dat iemand so iets kon doen. Intussen is dit vir ons heerlik dat ons nou so 'n interessante onderwerp vir ons bespreking gevind het. Ons geniet dit mos om oor 'n ander se sondes te skinder. Ons verlustig ons daarin om 'n ander se foute in die donkerste kleure te skilder.
Intussen is ons blind vir ons eie sondes. Of op die heel beste is ons kleurblind daarvoor, want ons sien dit nooit so donker soos die sondes van ons naaste nie..
Alleen deur die genade van die HERE kom ons so ver om saam met Paulus te erken: ek is die grootste sondaar (I Tm 1: 15).
Dit is vir ons as mens so bitter moeilik om eerlik ons skuld voor God te bely. Ons het altyd een of ander verskoning byderhand: dit was a.g.v. my verkeerde vriende of my ongelukkige omstandighede of die slegte opvoeding van my ouers. Die mens is meester in die kuns van selfverontskuldiging.
Dit kos stryd om tot egte skuldbelydenis voor God te kom. Hoe lank het dit Dawid nie geneem en wat 'n worsteling het hy nie gehad nie voordat hy bely het: "Teen u alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë,"," (Ps 51: 6). Ps 32 vertel daarvan: "Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag" (v.3). Hy kon maar eers nie so ver kom om sy skuld te bely nie.
Jona erken sy skuld hier ook voor mense. Dit is miskien nog moeiliker. Dit is vir ons hoogmoedige hart te veel om eerlik teenoor ons naaste te sê: "ek is verkeerd". Ons sê veel eerder: "hy moet maar eerste na my toe kom. Hy het buitendien net soveel foute."
Jona se bekering bly nog half, want bekering beteken om berouvol jou spesifieke sondes te bely, om te breek daarmee en om van harte die wil van die HERE te doen. Lg. ontbreek nog by Jona. Hy sê nie dat hy nou gewillig is om na Ninevé te gaan nie. So klou ons ook vas aan ons boesemsondes en ons karaktergebreke al erken ons: ek weet ek het 'n kort humeur, ens.
Jou sondes, hoe klein ook al, is so erg, so donker in die oë
van die HERE dat jy vir elkeen daarvan die dood skuldig is. Bely daardie
sondes teenoor jou naaste wat hom seergemaak het en skeiding tussen julle
gebring het.
Oordenking 9
LEES: I Kor.1:18-31
TEKS: Jona 1:13-16
TEMA: Die HERE laat die sonde van sy kerk nie ongestraf nie
Jona is as oorsaak van die storm aangewys. 'n Mens sou dit goed kon begryp het as die heidene toe daar en dan korte mette met Jona gemaak het. Die verrassende gebeur egter: hulle roei met mag en mening om hom veilig aan wal te bring.
Ook dié optrede van die seelui was vir Jona diep beskamend. Hy het geen greintjie gevoel vir Ninevé gehad nie. 120 000 menselewens het hom absoluut koud gelaat. Hy wou niks doen om hulle van die gerig van die Here te red nie. In sy oë het hulle niks beter verdien nie. Die heidense matrose daarenteen doen alles in hul vermoë om een man van die oordeel van God te bewaar, al het hy dit deur en deur verdien.
Die optrede van die heidene is prysenswaardig en tog ook nie, want hoe probeer hulle Jona red? Met tersydestelling van God se eis van straf. Vr. 10 van die H.K. wys duidelik die verkeerde van hulle optrede aan: "Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval (ook die van Jona) ongestraf laat bly?" Met hulle reddingspoging-sonder-betaling-van-die-sonde antwoord die matrose: "Ons hoop so!! " Maar die H.K. antwoord: "Nee, glad nie, inteendeel, . . . hy wil dit tydelik en ewiglik met 'n regverdige oordeel straf."
Nogtans probeer die manne Jona red. sonder vereffening van sy sondeskuld. Maar dit is 'n hopelose saak: om so teen die wind van God se oordeel en die gety van sy wil te probeer inroei. Voordat Jona nie in die see gegooi is nie, kan hulle alles en nog wat probeer, maar hulle sal die kus nie bereik nie.
Kort tevore het die matrose nog die vrag oorboord gegooi in 'n poging
om die skip ligter te maak. Die oorsaak van die dreigende ondergang het
egter in Jona gele. Solank hy aan boord bly, sal die skip nooit lig genoeg
wees nie. Niks weeg by God swaarder as sondeskuld nie.
Die matrose is simbolies van die duisende mense wat d.m.v. selfverlossing,
son der die skuld betalende offer , hulle lewensboot aan wal probeer kry
. Vasberade probeer hulle dit met die roeispane van hul goeie werke, gebede,
ens. Dit is egter tevergeefs. Self kan ons nie betaal nie. Ons maak ons
skuld net daagliks meer (H.K.V/A. 13). Wie kan dit dan vir ons betaal?
Jesus Christus! Hy het met sy een offer vir al ons sondes teD volle betaal.
Daarom roem ons in die kruis alleen. ((Gl. 6: 14).
Toe Jona na Ninevé gestuur is, was juis dit sy groot probleem: Hoe kan 'n regverdige God oor die goddelose Ninevé sy barmhartigheid betoon? Sien Hy dan af van sy straf? Nou sal Jona aan eie Iyf ervaar dat die Here nie die sonde ongestraf laat nie, ook nie die van sy kerk nie. Daarom al dink die kerk nog so baie van sy eie vroomheid, alleen aan die voet van die kruis sal ons 'n barmhartige God ontmoet, want ook Jona en die kerk skiet ver te kort en verdien die regverdige oordeel.
Baie lidmate is vandag net so ongevoelig soos Jona. Hoeveel heidene laat jy na hulle ewige dood loop, sonder om een woord van God se reddende genade in Christus Jesus te getuig?
"Werp jou heiligingskrukke weg; daarmee kom jy nooit die berg Sion op nie" sê Kohlbrugge. Jou goeie werke kan nooit 'n middel tot jou saligheid wees nie. Dit is hopelose roeispane.
Dit beteken nie dat jy nie goeie werke moet doen nie. Jy moet beslis,
maar jou dankbaarheidswerk is 2 000 jaar te laat om iets by te dra tot
jou saligheid. Op Golgota het Jesus Christus immers volkome vir ons sondes
betaal.
Oordenking 10
LEES: Jh.19:28-30
TEKS: Jona 1:13-16
TEMA: Jesus Christus is die kerk se enigste hoop op ontkoming
Uiteindelik het die heidene besef dat die vonnis voltrek sal moet word. Weereens is hul optrede treffend: hulle voer nie dadelik die vonnis uit nie, maar eers bid hulle. Met diep ontsag vra hulle die HERE dat Hy hulle dit tog nie as moord sal toereken nie. Die HERE self het hulle immers daartoe gelei (v.14). Dit is aangrypend: 'n gebed by 'n teregstelling, 'n gebed nie van die slagoffer nie, maar van die laksmanne. Weer 'n keer is daar 'n skrille kontras; hulle huiwer om 'n profeet dood te maak, maar hoeveel profete het Israel nie gedood nie!
Nadat die vonnis voltrek is, het die see stil geword. Die stilte toon aan dat Jona die profeet, die lidmaat van die Ou Testamentiese kerk, skuldiger as die ruwe heidense matrose is. Hulle bly immers op die skip en die golwe dien hulle, maar Jona word deur die woedende golwe opgesluk, hy wat sy eie vroomheid so hoog aangestaan het.
U moet die teregstelling van Jona sekerlik nie gering skat nie. Hy het nie geweet dat God 'n vis sou beskik om hom te red nie. Hy het dit as die oordeel van God oor sy ongehoorzaamheid ervaar. Dit blyk uit sy gebed in hfst. 2: 3. Hy het geweier om God se naam in Ninevé uit te roep. Nou mag hy dit ook nie meer doen nie. God smoor sy stem in die golwe.
Maar, heel verrassend, op dieselfde oomblik breek God die mond van heidene oop (v.16). As sy kerk sy roeping versaak, dan sal die klippe dit uitroep. Dan roep ruwe seemanne Hom aan. Aan boord vind daar selfs 'n soort erediens plaas. Wat by die man van God ontbreek het, dit vind ons by die heidene: 'n diepe vrees vir die HERE.
Jona 1 begin met die ongehoorsaamheid van die kerk. Dit eindig met die diep eerbied van die heidene. Die kerk, Israel, leer hier 'n duur les: ook die kerk verdien niks anders as die oordeel van God nie. Hulle gewaande vroomheid kan hulle nie red nie. Iets anders as wetsonderhouding of kerklidmaatskap is nodig: die kruis!
Tussen die eeue-oue puinhope van die Colosseum in Rome - daar waar talle Christene deur wilde diere verskeur is—staan 'n kruis. Op die voetstuk staan geskrywe: "Wees gegroet, o kruis, u is ons enigste hoop."
Nee, in die dae van die Christenmartelaars het daardie kruis nie daar gestaan nie. En tog, in figuurlike sin het dit wel daar gestaan. Voor hulle geestesoog het hierdie lydendes, om Christus wil, dit tog sien staan. Hulle het dit aanskou en daaraan krag ontleen. Die kruis het vir hulle gesê dat Jesus alles vir hulle gely het, ter versoening van hulle sondes en as hul nou moes sterwe, was die kruis hulle enigste hoop.
Die groot ellende van die kerk van vandag is dat hulle nie meer die
diepte van hulle sonde ken nie. Daarom ontbreek die verlange na verlossing
en is die verwondering oor en waardering vir die kruis soek. Is die kruis
ook jou enigste hoop op saligheid of soek jy nog steeds heilssekerheid
in iets in jouself of in jou kerklidmaatskap? Is jy dankbaar vir die verlossing?
Oordenking 11
LEES: Ps.116:1-4
TEKS: Jona 1:17-2:1
TEMA: Die HERE laat die sonde van sy kerk nie ongestraf nie
Jona is oorboord gegooi: dit moes verskriklik gewees het. Tog val
die nadruk nie op die profeet nie. Voorop staan wat die HERE gedoen het.
In v. 17 weerklink die getuienis van die groot dade van God: "Toe stuur
die HERE 'n groot vis om Jona in te slk . . ."
Vir "HERE" word in die oorspronklike die Naam Jahwe gebruik. In
die Ou Vertaling word dit weergegee as HERE met 4 hoofletters. Dit is die
Verbondsnaam en beteken: Ek is (teenwoordig). D.w.s. die HERE is aktief
by sy volk aanwesig om sy beloftes aan hulle te vervul en huile uit te
red. Jona, sy verbondskind, sink weg in die kolkende golwe, maar die HERE
is teenwoordig om hom te verlos.
Die HERE "stuur" 'n vis: dié woord sê dat God volkome beheer het oor die skepping. Alles staan in sy diens en Hy regeer so daaroor dat alles staan in diens van die saligheid van sy kerk. Wat 'n salige gedagte in 'n wereld vol rampe en teëslae! Hier in Jona staan alles tot God se beskikking om 'n wegloperkind tot inkeer te bring. Hoe heerlik openbaar die HERE sy barmhartigheid aan Jona, al het hy die dood dubbel en dwars verdien.
Dit beteken egter nie dat alle verskrikking van Jona af weggeneem
is nie. Inteendeel, later (2: 2) sê hy dat hy uit sy benoudheid tot
die HERE geroep het. reeslike gedagtes het deur sy kop gemaal toe hy weggesink
het in die dieptes n toe kom daardie aaklige seemonster met sy wydoopgesperde
bek nog boonop op hom af. "G'n wonder as hy bloed sou gesweet het van angs
nie" (Luther). Want in 1: 17 is die groot vis (nog) nie instrument in God
se hand ter redding nie, maar die monster wat die profeet afvoer na die
doderyk. Uit die hel word die profeet later (2: 10) gered. Tans beleef
hy egter 'n hellevaart: sy verblyf in die vis beskryf hy as 'n vertoef
in die maag van die hel (2: 2). Drie dae en drie nagte was hy daar en daarin
is hy tipe van Christus, met die verskil dat Christus, belaai met ons sondes,
daar verkeer het.
Ps 116: 2 (Berymd) was vir Jona 'n angswekkende werklikheid:
"Om my was bande en strikke van die dood; en angste van die hel het
my laat bewe."."
Uitkomkans was daar nie. Hy kon homself nie red nie. Toe het hy
die uitweg van Ps 116: 2 gevolg:
"Maar 'k het die HEER gesmeek in al my nood."
Hy was vasgekeer aan alle kante, maar daar was nog 'n uitkomplek: na bo!! Die gebed! (2: 1).
Hy het gebid tot "die HERE sy God." Aangrypend, nie waar nie? Al weet hy dat hy alles bederwe het en al ervaar hy God se toorn, nogtans vertrou hy dat God nog sy God is. Dit spreek van algehele vertroue, dat God tog ons Vader wil bly om Christus wil, al was ons hoe verkeerd.
Die HERE het vervoermiddels genoeg om ons terug te bring tot ons roeping. Daarvoor kan Hy sy ganse skepping inspan. Rampe en teëslae is sy getroue dienaars om opstandige kinders na Hom terug te bring en te red van die ewige dood.
"Nood leer bid, " sê ons. Dit is nie waar nie want dan sou
miljoene heidene in Afrika, wat tans van honger sterf, tot God gebid het.
Nee, die Gees leer ons bid. Hy open ons oë om in ons nood God se hand
te sien. Hy leer ons ons doemwaardigheid ken en bring ons op ons knieë.
Oordenking 12
LEES: Ps.42
TEKS: Jona 2:2-6a
TEMA: Die Kerk moet in sy gebed sy ellende bely
Jona se gebed is in die vorm van 'n lied of 'n psalm. D.i. ook opvallend hoeveel Psalms hy aanhaal. Hy ken sy Bybel en in die kake van die hel gryp hy, soos Jesus aan die kruis, na die Skrif. Met Skrifwoorde bekla hy sy nood en daarmee dank hy God vir sy verlossing. Die Psalms leer hom bid. Jona is in die leerskool van die gebed.
In hierdie dagstuk word dan die eerste deel van Jona se gebed behandel. Daarin vertel hy van sy ellende.
"U het my in die diepte gegooi" (v.3). Agter die matrose sien hy God se hand. "Al u bare en u golwe het oor my heengegaan." (v.3. Vgl. Ps 42: 8). Jona voel dat die golwe God se golwe, sy diensknegte, is om sy sonde te straf. Dit ervaar hy as die grootste ellende in sy ellende: dat God teen hom is. Dit is die dieptepunt van sy lyding: nie dat hy moet sterf nie, maar dat dit vir hom voel asof hy die tweede, die ewige dood, moet sterf.
Die magtige oseaan met sy onmeetlike dieptes het hom, nietige mens, aan alle kante omring en sy lewe met die dood bedreig (v.5. Vgl. Ps 40: 13 en 69: 2). "Ek het afgesak tot by die fondamente van die berge" (v.6). Die berge word voorgestel as rustende met die een voet op die bodem van die see. Tot by die voet van die berge, so diep het hy afgesink. Op die bodem van die see het seewiere sy hoof omring soos 'n krans (v.5). "Die grendels van die aarde het my vir altyd ingesluit". (v.6): Die grendels van die aarde, daar waar die lewendes woon, is stewig agter hom toegesluit, sodat hy vir altyd van sy familie en volksgenote afgesny is. Dit was vir Jona egter nog nie die ergste nie.
Die moeilikste was dit: "Ek is weggestoot, weg van u oë"" (v.4, vgl. Ps 31: 23). Hy beskou hom van God verlate en d.i. wat hel is, want vir 'n gelowige is God alles: nie 'n lewe van voorspoed nie, maar dat ons in voorspoed of in teëspoed mag weet dat God met ons is en ons omring met sy liefde. Hier het ons 'n wonder van God se genade: Eers het Jona weggevlug van God af, nou verlang hy weer na sy nabyheid! Skielik, midde-in sy nood, wanneer dit Iyk asof alles verlore is vir Jona, dan jubel hy dit uit: "NOGTANS sal ek weer u heilige tempel aanskou" (v.4, eie vertaling). In die een woordjie "nogtans" weerklink die triomf van God se genade! Nogtans sal hy weer God se liefdevolle nabyheid in sy tempel ervaar, ondanks die grootheid van sy sonde. Dit is die "nogtans" van die wonderskone Son. 23 van die Kategismus!
Wat is die grondslag van sy hoopvolle ""nogtans""? Jesus! Omdat hy
drie dae en drie nagte in die hart van die aarde was (Mt 12: 40, ), daarom
mag ons en Jona, ondanks ons baie sondes, nogtans vir ewig lewe in die
lig van God se vriendelike aangesig. Hy het die straf gedra wat Jona maar
net afgeskadu het. Hy was van God verlate in ons plek.
Die psalmdigters was mense soos ons met dieselfde aanvegtinge. "In
die Psalms kyk ons in die Bybelheiliges se harte." (Luther). Daarin hoor
ons hoe hulle o.l.v. die Gees hul nood voor God uitkerm, maar ook hoe hulle
tot die oplossing kom deur die Gees. Die Gees, die groot Bybelskrywer,
leer ons daar bid: In krisissituasies kan ons dikwels nie woorde vind nie,
maar die Gees kom ook in die Psalms ons swakhede te hulp en help ons om
reg te bid (Rm 8: 26).
As die Satan vir u se dat u sonde te groot is, dat u daarom geen
hoop op saligheid het nie, gooi hom dan met die ""nogtans"" van die geloof!
Oordenking 13
LEES: Ps.116:5-11
TEKS: Jona 2:6b-8, 9b, 10
TEMA: Die Kerk moet in sy ellende die HERE bid om verlossing
Hierdie oordenking handel oor die tweede deel van Jona se gebed: nl. oor wat hy in sy ellende toedoen het
Toe hy op die drumpel van die doderyk gestaan het, het hy aan die HERE "gedink" (v. 7). Dit beteken in die Bybel oneindig veel meer as om bloot met jou verstand aan Hom te dink. Dit hou in om gelowig aan Hom te dink, om jou toevlug tot Hom te neem in die gebed. Jona strek sy hande hulpbehoewend uit na die HERE (Jahwe, vgl. dagstuk 12 vir die troosryke betekenis van dié Naam) in die vaste vertroue op sy reddende teenwoordigheid en dat Hy ook sy belofte van verlossing sal vervul.
Sy gebed is verhoor: "my gebed het by U gekom, in U heilige tempel"
(v. 7)
Sy gebed word voorgestel as 'n boodskapper wat hardloop van die
terrein van ellende en wat intree in die paleis van die HERE en voor Hom
gaan staan. D.i. nou juis die geweldige krag van die gebed (Jk 5: 16):
Dit styg op vanuit die diepste dieptes van verlorenheid tot voor God se
genade troon in die allerhoogste hemele. Dit maak nie saak hoe diep jy
geval het nie, jou gebed om verlossing bereik sy Vaderhart! So het Jona
dit ervaar: diep in die doderyk het hy geroep om hulp en God het hom verhoor
(v. 2). Jona word verlos op sy gebed (v.10).
V 6 beskryf sy redding so: "Maar U het my lewe uit die kuil opgetrek, HERE my God (O.V.) Weer word die Naam HERE gebruik: Hy bewys sy reddende teenwoordigheid en doen sy belofte gestand. Jona kan homself nie red nie. "MAAR U (die HERE)" het dit gedoen. Dit is die "maar van sy reddende genade.
Hy verlos slegs deur te spreek (v.10). Sy Woord doen dit vandag nog!
Daarom jubel Jona dit uit: Die heil behoort aan die HERE ( vgl. Ps.3: 1). Die woorde vind 'n mens byna net so terug in die naam "Jesus": die HERE is heil. Verlossing is net God se werk in Christus. G'n wonder dat Luther sommige tekste in die Bybel mini-Bybeltjies noem nie, want in hierdie een vers word die hele inhoud van die Jona-boek en die ganse inhoud van die Evangelie saamgevat, want die teks sê: Jesus! (Mt 1: 21).
Hoe kon Jesus vir Jona, en ons, red uit die buik van die hel? Omdat aan Hom vervul is wat Jona afgeskadu het (Mt 12: 40). Omdat Hy afgedaal het in die verderf wat ons verdien het. Die Vader het egter ook die gevangenisdeure van die graf vir Hom oopgemaak. Hy het Jesus opgewek, omdat Hy ons straf klaar betaal het. Daarom se Hy vir sondaars agter slot en grendel dat Hy die sleutéls van die doderyk het (Op 1: 17, vgl. Jon 2: 6). Sy dood en opstanding open die doderyk. Danksy sy verlossing, omdat Hy gekroon is met 'n doringkroon, word ons gekroon met goedertierenheid en barmhartigheid i.p.v. met 'n oordeelskroon van seewiere (Ps. 103: 3, 4; . Vgl. Joh 2: 5!)
Die heil behoort aan die HERE! Wonderlik dat die belydenis uit die mond van Jona kom. Vroeër het hy gedink dat hy en sy volk deur die HERE verkies is omdat hulle soveel beter as die ander is. Nou verwerp hy die afgode van gewaande vroomheid en selfverlossing (v. 8). God het sy afgod van hoogmoed te pletter laat val in die maag van die hel.
As jy jouself figuurlik kan oopsny, sal jy in jou hart die afgod van hoogmoed, van vertroue op jouself vir verlossing, vind.
Self "dink" ons nie aan die enigste uitkoms uit die ewige dood nie. Die Gees laat ons deur die Woord dink (herinner) aan Jesus, as al kans ((Jh. 14: 26). Lees die Woord van die Gees!
Oordenking 14
LEES: Ps.116:12-19
TEKS: Jona 2:9a
TEMA: Die Kerk moet die HERE alleen dank vir die verlossing
Vandag kom die laaste deel van Jona se gebed aan die beurt. Die verlossing het Jona tot diepe dankbaarheid gestem. Daarom beloof hy twee dinge.
Eerstens sê hy: "Ek sal aan U offer met 'n stem van lof" (v.9,
O.V.). Jona sal offer, maar nie 'n diereoffer in die eerste plek nie. Sy
offer is om die HERE te loof. Daarby kan 'n mens in die eerste instansie
dink aan die gebed. Daarin laat hy hom vir die soveeIste keer lei deur
die Skrif en spesifiek met Psalms (Ps 50: 14, 23 p.604). Dit doen hy reeds
in hfst 2: Hy bid!
Tweedens sê hy dat hy sal betaal wat hy aan die HERE beloof
het (v.9). In sy doodsnood, in die aangesig van die hel, het hy aan die
HERE 'n offer belowe as Hy hom sou red. Dit het die Israeliete dikwels
gedoen as hulle in die nood was. Dit was die sogenaamde gelofte-offer.
Die gelofte-offer was een van die verskeie soorte vredesoffers of dankoffers.
Wanneer die verlossing dan 'n werklikheid geword het, het die vroom Israeliet
na die tempel toe gegaan om sy gelofte gestand te doen en sy dankbaarheid
aan die HERE te toon. In die vredesoffer het die gelowige tewens tot uitdrukking
gebring dat alles tussen Hom en die HERE nou weer goed was: daar was vrede
tussen hom en sy God. Die HERE was nie meer toornig op hom nie. Dit het
hy ervaar in die nood wat opgeklaar het. Die offer sê ook hoe dit
gebeur het: deur Jesus Christus. Hy is immers ons vrede. Hy is die vervulling
van die vredesoffer.
Hoe moes Jona dit nie in blye dankbaarheid uitgejubel het saam met
die digter van Ps 116, nadat hy uitgespuug is nie:
"Al my geloftes uitgespreek in nood,
sal ek betaal as ek voor U mag nader
en met u gunsvolk in U huis vergader." (Ps 116: 8. Berymd)
'n Gelowige Israeliet wou God nie net in die eensaamheid van sy binnekamer dank nie. Hy WOU en hy moes dit ook doen te midde van die kerkgangers, saam met die gemeenskap van die heiliges. Daarom:
"Ek sal U Naam met dankerkent'nis prys te midde van die feestelike skare. Jerusalem, ek hoor om jou altare die lofgeluid wat tot Gods eer verrys." (Ps 116: 10. Berymd)
Dit is vandag nog so. Elke verbondskind se stem moet elke Sondag deel wees van die magtige koor, van "die lofgeluid wat tot Gods eer verrys." Dankbaarheid is immers nie maar net iets vir jouself nie. Dit is nie bedoel uitsluitlik vir jou binnevertrek nie. O nee, ware dankbaarheid sal en moet weerklink "te midde van die feestelike skare." Egte dankbaarheid is nie net iets van die hart nie, maar waar die hart van vol is, loop die mond van oor. Dit moet gehoor en gesien word.
Die gebed is ons belangrikste offer van dank aan die HERE. Verloste mense is dankbare mense en dankbare mense is verloste mense. Reeds van kindsbeen af leer die Kategismus jou die noodsaak van die gebed: "Omdat dit die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis en omdat God sy genade en sy Heilige Gees alleen aan hulle wil gee wat Hom daarvoor dank.
Dank jy God in jou binnekamer en in sy kerk?
Oordenking 15
LEES: Jer.1
TEKS: Jona 3:1-3
TEMA: Die HERE neem ongehoorsame verbondskinders genadiglik weer
in diens
Toe Jona uitgespuug daar op die strand gele het, moes hy ongetwyfeld gewonder het of die HERE hom nog ooit wil gebruik. Immers, hy het sy profetiese roeping totaal onwaardig gemaak a.g.v. sy eie, moedswillige ongehoorsaamheid. Dit sou sy verdiende loon gewees het as God hom daar en dan afgedank het en 'n ander profeet in sy plek gestuur het.
Ja, so sou dit gewees het as God net 'n God van reg en geregtigheid was en nie ook 'n God van genade en barmhartigheid nie! Want Jona verdien dit om ontslaan te word uit sy diens, maar die teendeel gebeur: "Die woord van die HERE het 'n tweede keer tot Jona gekom" (v. 1). In daardie woordjies " 'n tweede keer" weerklink die Evangelie van God se onverdiende genade en byna eindelose geduld met sy ongehoorsame kneg. Jona kry nog 'n kans, ondanks sy ongehoorsaamheid, hy word herstel in sy diens.
Vir 'n tweede maal word sy opdrag herhaal en uitdruklik ontvang hy
die bevel om te preek, nie wat jy self wil nie, maar die boodskap "wat
Ek jou sal gee." (v. 2).
Laasgenoemde woorde is uitermate belangrik. 'n Profeet moet die
mond van die HERE wees. God alleen moet deur hom spreek. 'n Mens kan 'n
profeet se taak vergelyk met die van 'n ambassadeur van vandag. 'n Ambassadeur
mag nie sommer enigiets sê nie, maar uitsluitlik die boodskap wat
die regering hom gee: so sê my regering! Dieselfde doen 'n profeet:
so sê die HERE! 'n Profeet - ook 'n dominee—mag nie na die mond van
mense preek en populêr probeer wees nie, maar hy moet die boodskap
van die HERE bring, al maak dit hom hoe ongewild. Ook 'n lidmaat het 'n
profetiese taak! (H.K. Son 12).
In skerp kontras met hfst. 1: 3, waar Jona teen die woord van die HERE ingaan, gaan hy nou volgens die Woord van die HERE (v. 3). Dit blyk egter uit hfst. 4: 1, 2 dat dit 'n gehoorsaamheid teen wil en dank is. Dit is alweer iets wonderliks in die optrede van God dat Hy nog so geduldig bly en van so 'n onwillige dienaar gebruik wil maak. Terselfdertyd moet 'n mens sê:: as God die sonde van sy ampsdraers (insluitend die amp van die gelowiges)—ons sonde van hoogmoed, geldgierigheid, luiheid, onwilligheid, gemaksug, eersug, heerssug, ens.. - sou toereken, sou daar geen dominee meer op die kansel gestaan het nie, geen ouderling meer in die kerkraadsbank gesit het nie en geen lidmaat meer in die kerk gewees het nie.
As 'n mens die geskiedenis van Jona lees, is 'n mens geneig om te sê:: O, maar die Jona was darem 'n moeilike geval. So asof ons geval vir die HERE so eenvoudig is! Want hoeveel moeite - beproewings en vermanings - kos dit die HERE nie om ons te kry waar Hy ons wil hê nie. Ons vergeet al te maklik dat ons in Jona 'n selfportret het.
As ons dink aan ons baie sondes, is daar by ons ook dikwels die gedagte: nou sal God niks meer met my te doen wil hê nie. Genadiglik kom sy roepstem egter telkens weer - vir 'n tweede, vir 'n sewende maal, ens.. - tot ons in die prediking en rondom die huisaltaar.
Wat het jy gedoen met daardie roepstem van God wat opnuut tot jou gekom het? Onthou, God se geduld is byna eindeloos, maar daar kom 'n einde aan.
Kom jy jou profetiese roeping na deur ander te vertel van Jesus Christus
en deur hulle te vermaan, of is jy bang dit kos jou jou gewildheid?
Oordenking 16
LEES: Lk.11:29-32
TEKS: Jona 3:4-5
TEMA: Die HERE se Woord kom met oordeel én genade
Jona se preek is enersyds 'n oordeelspreek: "Nog net veertig dae en Ninevé word verwoes".
Dit is 'n vreeslike woord, maar dit sal elke getroue prediker vandag ook moet bring. Dit is immers God se opdrag: sê vir die regverdige dat dit met hom goed sal gaan en vir die goddelose dat dit met hom slegs sal gaan. Dit geld ook die goddeloses in die kerk! Nie almal in die kerk is immers bekeerdes nie (Rom 9: 6). Daarom moet ook hulle die oordeel van God aangesê word as hulle hul nie bekeer nie: "Nog veertig dae dan sal u stad, u lewenshuis omgekeer word! "
Daar is kerkmense wat meen dat oordeels- en bekeringspreke alleen vir buitekerklikes bedoel is. Sommiges meen selfs dat sulke preke Ou Testamenties is. Volgens lg. pas dit nie binne die raamwerk van die Nuwe Testament nie, want dit verkondig mos: God is liefde. Jesus self sê egter vir kerkmense: "Nie elkeen wat vir My sê:: 'HERE, HERE', sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie,, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is." (Mt 7: 21). Doen jy die wil van jou Vader of is jy nog onbekeerd?
Die wet is 'n spieël wat ons almal, kerkmense'en heidene, ontmasker as doemwaardige sondaars (Rom 3: 12, ; Gal 3: 10). Dit is sekerlik nie aangenaam as 'n predikant dit vir ons sê nie, maar dit is wel heilsaam want dit is eers wanneer ons besef hoe siek ons is, dat ons soek na 'n geneesheer. Dit is eers wanneer ons weet hoe sondig ons is, dat ons verlang na verlossing.
Jona se prediking is andersyds volgenade, want daar is nog uitstel van die oordeel. Nog veertig dae: dit is 'n bewys van God se geduld. Daar is nog bekeringstyd. Veertig sê egter ook dat daar 'n grens is aan God se geduld!
Jona se prediking word hier (v.4) verkort weergegee. Uit Lk 11: 30
blyk. dit dat hy nog meer gesê het. Daar sê Jesus dat Jona
vir die Nineviete tot 'n teken geword het. Daaruit mag ons aflei dat Jona
die Nineviete vertel het hoe hy weggesink het onder God se straffende hand,
maar ook hoe hy God se ontferming ondervind het. Deur dié verhaal
het hy vir hulle tot 'n lewende teken geword, 'n teken wat verkondig dat
God die sonde nie ongestraf laat bly nie, maar ook dat Hy 'n God is by
wie daar vergifnis en verlossing is.
Ons, as Nuwe Testamentiese kerk, is nog veel ryker.. Ons het immers
die groot Jona-teken: die dood en die opstanding van Jesus. Hy het weggesink
onder die oordeel van God, waarin God bewys het dat Hy ons sondes nie ongestraf
laat nie. Sy oop graf sê dat die straf klaar betaal is. Die oop graf
verkondig God se vergifnis en liefde jeens almal wat in Jesus glo, want
dit is ons graf, ons gevangenis wat Hy oopgebreek het. Elke jaar, elke
dag, elke uur is 'n bewys van God se geduld met ons. Hy gee ons nog bekeringstyd.
-Hy wil ons nie verdelg nie, maar behou.
Die lankmoedigheid is te danke aan Jesus Christus. Hy het aan die kruis die oordeel gedra. HY is die Groot Priester wat die gerig uitstel. Sy deurboorde hande hou terug en pleit om vergifnis en geduld.
Wat maak jy met die genadetyd? Stel jy jou bekering uit?
Onthou: Ons weet nie wanneer die "veertig dae" vir ons om is nie.
Ons ken nie ons sterfdag of die dag van ons HERE Jesus se wederkoms nie.
Oordenking 17
LEES: Mt.12:38-42
TEKS: Jona 3:4-5
TEMA: Die krag van die gepredikte Woord geopenbaar
In hierdie oordenking word Ninevé se antwoord op Jona se preek behandel.
'n Godswonder vind plaas: die deur en deur verdorwe Ninevé bekeer hul. Dink jou 'n oomblik in: die Jode en Assiriërs was aartsvyande en hier kom 'n Jood en een met wat 'n boodskap (Nog 40 dae . . .! ) Op die heel minste sou 'n mens verwag het dat die rou heidene hom sou spot en wegjaag. Die teendeel gebeur: Ninevé bekeer hul in sak en as en dit na een preek!
Dit is in een woord beskamend vir Israel, want hulle het honderde preke gehoor. Daar was nie net een profeet nie, maar baie. Wat was egter die resultaat? Profetemoord! (Mt 23: 37). Uiteindelik het hulle die grootste van alle profete, die Seun van God, gedood!
Die Jode ten tyde van die N.T. was soveel meer bevoorreg as Ninevé: hulle het Jesus self gehoor en gesien hoe sy prediking bevestig is met die magtigste wonders. Nogtans het hulle nie geglo nie, maar van Hom 'n teken geëis as bewys dat Hy regtig deur God gestuur is (Mt 12: 38). Jesus weier om hulle die teken te gee wat hulle vra. Hulle kry wel 'n ander teken; die teken van alle tekens: die dood en opstanding van Jesus, die vervulde Jona-teken! (Mt 12: 39, 40). Daarin was hulle soveel ryker as Ninevé, want Ninevé moes tevrede wees met slegs die afskaduwing van daardie teken: al wat hulle gehad het, was die afbeelding van Jesus se sterwe en opstanding in die ondergang van Jona in die woedende golwe van God se toorn en sy wonderbare verlossing. Die Jode daarenteen het soveel meer gehad: Jesus self wat die teken van Jona vervul het (Mt 12: 41). Nogtans verwerp hulle die Christus. Daarom waarsku Jesus hulle: "Die mense van Ninevé sal op die oordeelsdag saam met die mense van vandag opstaan en teen hulle getuig." (Mt 12: 41).
Die manne van Ninevé het "geglo", d.w.s. hulle het aanvaar dat dit regtig sal gebeur. Die komende gerig was vir hulle 'n verskriklike werklikheid. Let wel, daar staan nie dat hulle Jona geglo het nie, maar dat hulle "in God geglo" het. Agter Jona het hulle dus sy Sender gesien en in sy prediking het hulle die stem van God gehoor. As dit nie die geval was nie, sou hulle reaksie totaal anders gewees het. Dan sou hulle die profeet miskien gespot of selfs gestenig het. Hulle het die groot erns van die prediking begryp. God self wat daarin tot hulle kom!
Dit het ook vrugte gedra in hulle lewens: hulle het 'n vasdag uitgeroep, groot en klein, aansienlikes en geringes, het hulle met rougewaad beklee. Dit was 'n teken van droefheid. Hulle het gerou daaroor dat hulle God hartseer gemaak het en sy troon oor hulle gehaal het a.g.v. hulle sondes. Vir sulke mense, wat treur oor hulle sondes en hul toevlug tot God se barmhartigheid neem, is daar hoop: Jesus spreek hulle salig. (Mt 5: 4).
Ninevé het hulle bekeer na een preek. Hoeveel preke het jy
al gehoor? Die manne van Ninevé het een preek gehad. Jy het die
hele Bybel. Jy het soveel meer kennis aangaande God se verlossingswerk
in Christus. Wat is die vrug daarvan in jou lewe?
Waarom bly die meeste mense vandag onbekeer, ondanks die ernstigste
prediking? Omdat hulle blind is vir God wat daar agter staan!
Is die komende gerig vir jou 'n lewende werklikheid? Berei jy jou
daarop voor? Onthou: God eis ook van jou 'n "hartlike berou" oor jou sonde
(H.K. V/A. 89).
Oordenking 18
LEES: Twaalf Artikels
TEKS: Jona 3:6-9
TEMA: Die gepredikte Woord lewer heerlike vrugte op
V.5 was 'n kort opsomming van Ninevé se reaksie op die prediking.
In vv. 6 - 9 word die heerlike vrugte van die Woordverkondiging nou breër
uitgewerk, soos dit o.a. na vore kom in die koninklike proklamasie:
Die koninklike proklamasie getuig in die eerste plek van 'n diep
skuldbesef. Die prediking van Jona het die gewete van die koning geraak.
Soos 'n weerligstraal in 'n donker nag skielik die hele landskap helder
verlig, so het die verkondiging van Jona in een slag die koning en sy volk
se sonde in die helder lig van God se Woord gestel. Dit bring die koning
tot die belydenis dat hy en sy volk op die verkeerde weg was (v.8). Hy
probeer die sonde nie verbloem nie. Daarteenoor was Israel salig onbewus
van hulle sondeskuld en van die toorn van God wat hulle as gevolg daarvan
verdien het. (vgl. dagstuk 1).
Die koninklike proklamasie roep tweedens op tot berou, gebed en
bekering:
—Die volk word gebied om te treur oor hulle sondes. Dit word uitgedruk
deur die vas en rougewade. Daarin stel die koning self die voorbeeld, want
hy ruil sy troon vir 'n ashoop en sy koningsgewaad vir 'n boetekleed (v.6).
Selfs die diere word betrek by die nasionale boetedag. Dit is in lyn met
Rm 8: 19 - 22 wat leer dat ook die skepping aan die vloek van God
onderworpe is a.g.v. ons sondes en sug om daarvan bevry te word.
—Die volk word voorts opgeroep tot gebed. Die gepredikte Woord breek
rou heidene se mond oop in 'n smeekgebed.
—Ook moet elkeen hom bekeer van sy sondes. Rou en gebed moet altyd
gepaardgaan met bekering!
Droefheid oor jou sonde sonder afkeer van jou sondes is huigelary.
Hoe treurig dat 'n heiden dit beter weet as die kerk! (Vgl. Jes 58: 6,
7) Gebed om vergifnis, sonder bekering, is soos 'n pappegaai op 'n
stok met 'n ketting aan sy poot: Dit styg nie uit bo die plafon van jou
kamer nie. Wat 'n skande dat die koning van Ninevé dit beter begryp
as die volk van God! (Vgl. Jes 1: 15, 16)
In die derde plek moet ons let op wat die koning met die proklamasie
beoog. Dit sê hy in v.9: Miskien sal God barmhartig wees? Ninevé
het dus die kern van Jona se prediking goed begryp: die God van Jona ken
ook genade, want as die mens roep om hulp, verlos hy uit die hel (die vis)
en as die mens omkeer, keer Hy ook om. Daarop hoop die koning vurig: "Miskien?"
Daarin klink iets van twyfel deur. Dit was nie dat hy nie geglo het aan
God se belofte van verlossing nie, maar sy bewustheid van die grootsheid
van sy sonde beroof hom van geloofsekerheid.
Die krag en die waarde van die prediking word hier op luisterryke
wyse geïllustreer.
Hartseer oor jou sonde is nie genoeg nie. Dit is nie genoeg om te
vas oor jou sondes nie, maar jy moet ook vas van jou sonde (M. Henry).
As jy na jouself kyk, sal jy nooit geloofsekerheid kry nie, want
jou sonde sal altyd soos 'n berg voor God le, hoe heilig jy ookal probeer
leef. Sekerheid van jou saligheid sal jy nêrens anders kry as in
God se belofte in Christus nie: ons sondes is nooit so groot dat dit nie
bedek kan word met die bloed van Christus Jesus nie.
Oordenking 19
LEES: Jer.18:1-10 en die doopsformulier.
TEKS: Jona 3:10
TEMA: Die HERE het berou
Dikwels is daar in die Bybel sprake van die berou van God. Dit beteken
dat God afsien van iets (Jon 3 :10. Vgl. O.V. en N.V.). Dit mag by 'n mens
die indruk skep dat God veranderlik is: Hy hou Hom nie by sy Woord (sy
beloftes of straf) nie en Hy is veranderlik t.o.v. sy ewige raadsplan.
Dit is egter hoegenaàmd nie die geval nie.
Om God se berou en hoe Hy tot berou beweeg word, goed te verstaan,
moet ons dit verklaar vanuit die verbond. Die verbond bestaan uit drie
dele nl. beloftes, eise en strawwe.
As sy volk hulle nie hou aan die eise van die verbond nie, dan het
God berou oor die goeie dinge wat Hy beloof het. Dan sien Hy daarvan af
en Hy hou hom onveranderlik aan sy Woord deur sy kerk met sy strawwe te
besoek. As hulle hulle egter bekeer en glo dan het God berou oor die straf
waarmee Hy hulle gedreig het. Wat beweeg God dus tot berou? Die mens se
houding t.o.v. die eise van die verbond, d.w.s. of hulle hulle bekeer en
glo of nie. God se beloftes is dus altyd voorwaardelik: dit is gebind aan
die voorwaarde van geloof en bekering.
So moet 'n mens ook die prediking van Jona in Ninevé verstaan.
Dit was nie 'n onvoorwaardelike onheilsaankondiging so in die sin van:
dit maak nie saak hoe gehoorsaam Ninevé word en hoe hulle ookal
smeek om genade nie, dit SAL gebeur! Die Niniviete het dit nie gesien as
'n onontkombare lot nie, maar as 'n dreiging wat werklikheid sou word,
tensy hulle hulle bekeer.
"Toe God sien wat hulle doen, en hoe hulle hulle bekeer . . . het
Hy afgesien van die ramp . . ." (v. 10). God het hulle goeie werke gesien.
Dit mag verkeerdelik by ons die indruk wek asof hulle hulle redding deur
hulle goeie werke verdien het, en asof ons God se beloftes kan verdien
deur ons bekering. Dit bly egter altyd belangrik, ook hier weer, om nie
'n teks uit sy verband te ruk nie, want doelbewus het die skrywer van hierdie
boek v. 5 (Jon 3) voorop geplaas: "Die manne van Ninevé het toe
in God geglo . . ." As gevolg daarvan het hulle gebreek met hulle sonde
en toe God die egtheid van hulle geloof "sien" (v. 10) soos dit na vore
kom in die vrug van bekering, toe het God afgesien van die straf. Deur
die geloof is hulle dus geregverdig, maar so 'n geloof dra ook vrugte!
Dit beteken ook weer nie dat ons geloof iets verdiensteliks is nie, maar
die geloof is 'n leë hand wat gevul moet word met Christus se soenverdienste
en dit red ons.
God is onveranderlik ook t.o.v. sy raadsplan, want die bekering
en redding van Ninevé was ook daarin opgeneem. Dit is nie 'n besluit
waartoe God skielik beweeg is deur hulle bekering nie.
God het sulke groot en heerlike dinge by die doop aan jou belowe.
Daar word egter ook ook eise aan jou gestel: geloof en bekering! Sy beloftes
aan jou is dus voorwaardelik.
Self kan jy die eise nooit nakom nie! Die wonderlike is egter dat
die Here ons by die doop ook die Heilige Gees belowe: Hy skenk ons die
geloof in die reinigende bloed van Christus en Hy vernuwe daagliks ons
lewe, d.w.s. Hy maak ons tot gehoorsame kinders van God. Geloof en bekering
is dus 'n gawe van Hom en nie 'n verdienste van ons kant nie.
Oordenking 20
LEES: Lk.15
TEKS: Jona 4:1-4
TEMA: Dit is vir die kerk moeilik om van genade alleen te leef
Vandag word verse 1 tot 3 bespreek.
Jona se tweede gebed verskil radikaal van sy eerste (Jon 2). Terwyl hy in die eerste tot die ootmoedige belydenis kom dat die verlossing net van die HERE af kom (2: 9), is die tweede gebed die ene hoogmoedige opstand teen die leer van genade alleen.
Ninevé is gered. Dit was vir hulle seer sekerlik 'n bron van groot vreugde en 'n rede om fees te vier. Jona daarenteen is woedend. Dit is doodeenvoudig onbegryplik: 'n Dominee is kwaad, omdat duisende mense gered is op sy prediking. Waarom is hy so kwaad? "Hieroor" (v.1), d.i. oor God se barmhartigheid teenoor Ninevé (3 :10).
Jona laat 'n mens baie dink aan die oudste broer in die gelykenis van die verlore seun: Hy was boos, omdat sy vader 'n deurbringer met oop arms terugontvang het, al het hy dit nie verdien nie. Net so is Jona woedend op God, omdat Hy Hom ontferm het oor so 'n slegte stad. Ninevé het dit eerder verdien om te vergaan.
In sy boosheid begin hy bid (v.2). Dat hy bid tot God is goed, want dan is ons by die regte adres met al ons vrae en probleme. Wat hy bid, is in een woord ontstellend (vv. 2,3).
Sy gebed is in die eerste plek 'n skerp verwyt teen God, omdat Hy Ninevé barmhartig was. Sy gebed begin met "ag". So is ook klaagliedere in die Bybel. Terwyl daar blydskap in die hemel is oor een sondaar wat hom bekeer, sug en kla Jona daaroor. Soos die oudste seun (Lk 15: 28 ) weier hy om saam fees te vier.
In die vervolg kom die oorsaak van sy toorn nog duideliker na vore: "Ek het geweet U is 'n genadige en barmhartige God . . . " (v.2) . Dit Iyk na 'n belydenis maar dit is 'n verwyt: Hoe kan U sulke goddelose mense barmhartig gewees het? Agter die woorde le 'n hele hoop hoogmoed: Ek en my volk verdien dit, maar nie hierdie sondaars nie! Weer is dit asof 'n mens die stem van die oudste broer hoor (Lk 15: 29).
Jona het ook 'n probleem met die verhouding tussen God se regverdigheid en barmhartigheid: Hoe kan 'n regverdige God die sonde ongestraf laat? Jona haal Eks 34: 6, 7 egter half aan, want daar staan dat God die sonde nie ongestraf laat nie en op Golgota het Hy sy regverdigheid in die openbaar bewys, deur die sondes van sy uitverkorenes te straf aan sy eie Seun (Rm 3: 25).
In die tweede plek praat hy sy vlug na Tarsis goed. Ondanks die feit
dat God hom so duidelik geleer het wat sy wil is en ondanks die feit dat
God hom so wonderlik verlos het, keer hy weer terug na sy ou sonde van
opstand teen die wil van God. Hy is ondankbaar!
In die derde plek bid hy om te mag sterwe. Die gebed verskil soos
dag en nag van die van Elia (I Kn 19: 4, 10 Elia wil sterf, omdat
daar geen vrug op sy arbeid is nie, maar Jona wil sterf, omdat sy prediking
geslaagd was! Jona wil liewer sterf as om die HERE se wil en barmhartigheid
met blydskap en oorgawe te aanvaar.
Ons het almal moeite daarmee om van genade alleen te lewe. Dit krenk immers ons ego, want genade se: Jy is 'n nul op die kontrak. Jy kan geen bydrae lewer tot jou eie saligheid nie.
Hoeveel keer het jy nie al teruggeval in dieselfde sonde nie?
Oordenking 21
LEES: 2 Kor.12:1-10
TEKS: Jona 4:1-4
TEMA: Die kerk self het die HERE se lankmoedigheid en genade so
nodig
In hierdie oordenking word die verhoring van Jona se gebed behandel
((v.4).).
Jona het weer in sy ou sonde van verset teen God se wil en genade
verval. In sy gebed het hy gevra om te mag sterwe.
In ons oë sou Jona dit verdien het as God sy gebed sou verhoor het en sy lewe van hom weggeneem het. Hy verhard hom immers in sy ou kwaad.
Hoe wonderlik reageer God dan nie op die gebed van sy hardkoppige kneg nie, want Hy gee hom nie wat hy vra en wat hy verdien nie! Selfs nou, op sy herhaalde sondigheid, word die HERE nie toornig op hom nie. Al wat Hy doen, is om Jona 'n vraag te stel: "Het jy rede om kwaad te word?" God verhoor dus wel Jona se gebed, maar nie soos hy self dit wou gehad het nie. Hoe goed is die HERE nie dat Hy tog die sondige gebed verhoor nie!
Die vraag is eerstens so liefdevol, want daarmee wil Hy Jona tot besinning bring. Hy laat Jona nie voortploeter in die kwaad nie, maar met die vraag sit Hy hom agterna en wil Hy hom terugbring na Hom toe. 'n Mens begryp die wonder en grootheid van God se liefde eers dan werklik as 'n mens bedink dat dit die tweede maal in 'n kort tyd is dat sy soekende liefde sy halsstarrige kneg agtervolg. God is so geduldig met hom!
Tweedens is die vraag so ontdekkend, want dit le Jona se eie sondigheid en dus sy eie behoefte aan genade bloot. Ons kan die vraag so omskryf: Jona, jy wat pas God se genade ervaar het, toe Hy, ondanks jou ongehoorsaamheid, jou lewe op so wonderlike manier van so 'n deur en deur verdiende dood gered het, is jy kwaad, omdat hierdie selfde genade nie net aan jou en jou volksgenote nie, maar ook aan 'n heidennasie bewys word?!
In verband met hierdie geskiedenis se Luther: "Ek hoor baie liewer hoe die groot heiliges gedwaal en geval het, as van die groot, heerlike dade en wonders wat hulle gedoen het, want hulle dwaling en val getuig dat hulle ook mense was soos ek. Wanneer ek hoor of lees hoe skandelik Dawid, Jona of Petrus en dergelike heiliges gestruikel en geval het, skep ek moed daar ek dink: God wat hierdie heiliges wat tog so swaar gesondig het, weer in genade aangeneem het, sal tog ook my nie verwerp nie."
Jona verset hom so teen God se barmhartigheid, genade, lankmoedigheid, goedertierenheid en berou (v.2), maar telkens ervaar hy God se barmhartigheid ens. aan eie lyf. Dié vers kan ons daarom ook die kern van die boek Jona noem: Jona en die kerk moet leer hoe nodig hulle dit alles het.
Ons praat soms van die raaisel van die onverhoorde gebed. Dit is beter om te praat van die wonder van die anders verhoorde gebed, want dikwels vra ons dinge wat nie goed is vir ons nie en dan verhoor die Here ons tog in die sin dat Hy ons nie dit gee waarom ons vra nie, maar iets veel beters.
Oordenking 22
LEES: Ps.19
TEKS: Jona 4:5-9
TEMA: Die HERE gee hoorbare en sigbare onderwys aan sy kinders
Soos 'n nukkerige kind beantwoord Jona nie die HERE se vraag (v. 4) nie, want hy het soveel moeite met God se barmhartigheid jeens sondaars.
Selfs nou laat die HERE egter sy kneg nie los nie. Hy wil so graag
he dat Jona iets van sy barmhartigheid sal begryp. Daarom gaan Hy voort
met sy onderwys. As woorde dan nie help nie, maak God van 'n ander metode
gebruik: aanskoulike onderwys!
Almal wat by die onderwys betrokke is, weet hoe belangrik dit is
om 'n leerling iets te laat sien.. As 'n onderwyser bv. die anatomie van
die hart aan hulle wil verduidelik, help 'n prent daarvan die leerlinge
om sy woorde des te beter te begryp.
Nou is daar geen beter Onderwyser as God nie. As woorde nie genoeg is om sy barmhartigheid by Jona tuis te bring nie, dan maak Hy gebruik van "prente", nl. 'n wonderboom, 'n wurm en 'n gloeiende oostewind.. Eers kry Jona ore-onderwys en dan oë-onderrig. Daar is ook nie 'n geduldiger Onderwyser as God nie, want kyk net hoeveel geduld le hy aan die dag met sy leerling.
Drie maal staan daar: God "beskik" (O.V.). Hy beskik 'n wonderboom (v. 6), 'n wurm (v. 7) en 'n oostewind (v. 8). Ook op 'n ander plek het ons die woord al teëgekom (Jon 1: 17). Die ganse skepping staan tot God se beskikking om iets by sy kinders tuis te bring, om hulle te straf en om hulle op die regte pad te lei.
In v. 6 se die HERE wat sy doel met die wonderboom was, nl. om skaduwee te gee vir sy kop en dan veral "om hom van sy misnoeë te bevry." Waaroor was Jona ontevrede? Oor God se barmhartigheid jeens sondaars! Van hierdie onredelike ontevredenheid wil die HERE hom "red" d.m.v. hierdie sigbare onderwys.
Jona reageer egter glad nie positief op God se geduldige bemoeienis met hom nie. Vir die tweede maal se hy: "Dit is vir my beter om te sterwe as om te lewe" (v. 8; vgl. v. 3). Hierdie keer is dit egter nie 'n gebed nie, maar 'n wens. Jona neem dus nie meer sy toevlug tot die HERE nie!
Hoe wonderlik is God se reaksie dan nie: al soek Jona hom nie op
nie, Hy soek hom wel op! Vir die soveelste maal loop hy agter Jona aan
en vir die tweede ( ! ) maal vra Hy hom 'n vraag: "Het jy rede om kwaad
te word oor die komkommerplant?" (v. 9; vgl. v.4). Daarop antwoord die
profeet driftig: "Ek het reg (dit staan voorop in die oorspronklike! )
om terdeë vertoornd te wees" (eie vertaling). 'n Mens sou verwag dat
die HERE Jona nou sal doodmaak op so 'n astrante antwoord, maar dan ken
jy nog nie die geduld van God nie.
Ons ontvang ook aanskoulike onderwys van die HERE. Die doop en die
nagmaal is ook "prente" van sy barmhartigheid in Jesus Christus. Verder
leer die Here ons ook deur natuurrampe, siekte, ens.
God soek mense op wat na Hom nie gevra het nie. Dit geld ook van ons: God bewys sy liefde vir ons daarin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars en vyande van Hom was, d.w.s. toe ons niks van Hom wou weet nie, toe het Hy sy Seun gestuur (Rm 5: 8, 10).
Oordenking 23
LEES: Esegiël 18
TEKS: Jona 4:5-11
TEMA: Die HERE is genadig, barmhartig en lankmoedig
Ten spyte van Jona se rebelse antwoord (v.9) verdelg die HERE hom nie, maar gaan geduldig verder met sy kneg.
Die boek Jona eindig met 'n woord van die HERE. God het altyd, en so ook nou, die laaste woord. Die HERE vergelyk Jona se houding teenoor die wonderboom met sy (God se) houding teenoor Ninevé. Daardeur wil Hy Jona laat voel hoe onbillik en sleg dit van hom was om van God te eis dat Hy die stad moet vernietig.
Jona is baie besorgd oor 'n nietige ou eendagstruikie, wat heeltemal
buite sy sorg ontstaan en opgegroei het. Hy is woedend, omdat so 'n plantjie,
waaraan hy geen werk gehad het nie, nou vergaan het. 'n Verganklike plant
le hom na aan die hart.
Daarteenoor stel die HERE nou die groot stad Ninevé en sy
houding teenoor dié stad. Die enorme stad is die werk van God se
hande. Hy het die mense geskape en Hy versorg en onderhou hulle ook nog
elke dag. Boonop is daar onder hulle 120 000 kinders wat nog nie weet wat
reg of verkeerd is nie. Ook is daar baie vee wat eweneens sy skepsele is
en vir wie Hy ook baie omgee. God skep nie 'n behae daarin om die werk
van sy hande sommer net so te vernietig nie.
Jona stort geen enkele traan oor dié duisende mense en vee nie. Daarteenoor is dit vir die HERE 'n smartlike saak om die stad te verwoes. V.11 kan ook so gelees word: "Sou ek nie verdrietig wees oor die groot stad . . . nie?"?" Dit is hartroerende woorde. Die HERE is nie 'n tiran wat koud en onbewoë 'n hele stad of wereld oorgee aan die gerig nie. Dit bedroef Hom. Hy dink aan die duisende kindertjies en selfs aan die onskuldige vee. Hy hoor hulle angskrete en radelose gille. Daarom kom Hy nie oorhaastig met sy oordeel nie, maar eers dan wanneer sy lankmoedigheid sy uiterste grens bereik het. Dwarsdeur die Bybel openbaar Hy Homself so: as 'n God wat nie 'n vreugde daaruit put dat die sondaar omkom nie, maar eerder dat hy gered word (I Tm 2: 4; II Pt 3: 9). Vir oulaas wys God Jona dus op sy groot barmhartigheid en lankmoedigheid.
Dit lyk asof die boek Jona stomp afeindig. Ons weet immers nie wat toe uiteindelik van Jona geword het nie. Dit beteken egter nie dat die boodskap van die boek onvoltooid is nie. Inteendeel, die boek het volkome sy doel bereik, want dit het ons 'n dieper blik in elke verbondskind se hart gegee en ons geleer hoe bitter nodig ook 'n kerkmens die genade van God het. Veral het die boek ons 'n kyk gegee in God se hart: Hy is 'n God wat barmhartig en genadig is!
Die naam Jesus lees ons nie in hierdie boek nie, maar die hele boek
is vol van Hom. Dit is immers alleen danksy Hom dat God ons genadig is
en afsien van die straf wat ons verdien. Dit is daarom die groot boodskap
van dié boek: die heil behoort aan die HERE, d.w.s. ons verlossing
is net sy werk (Vgl. Jon 2: 9).
Gee altyd aan God alleen die eer vir jou verlossing, d.w.s. vir
jou geloof, jou bekering, jou vryspraak van skuld en jou beërwing
van die ewige heerlikheid.