Ds. Jan Coetzee 9 Februarie
1997 Oggenddiens
Lees: I Petrus 4:
12-19
Sing: Ps. 97: 1, 7
Ps. 26: 2
Ps. 32: 3, 4
Ps. 50: 1, 11
Ps. 24: 4, 5
Die Bybel leer ons in hierdie gedeelte, wat ons
oordink vanoggend, dat God Sy kerk afsonder en in afsondering die geloof opbou.
Maar ons lewe ook ìn die wêreld en daarom is ons nie altyd sò afgesonder dat
ons niks met die samelewing te doene het nie.
Dit is twee kante
van ons geestelike lewe.
God wat ons eenkant wegbêre in afsondering, en God
wat ons instuur in die wêreld en sê: Gaan verheerlik die Naam van die Here daar
waar jy woon en werk.
Nou is daar nog
‘n saak wat ons ter inleiding vir u moet noem en dit is dat God se Woord
vooruit sê wat gaan gebeur. Jy hoor dit nie eers agterná nie. En juis omdat die Here dit vooruit sê,
gebeur daar stelselmatig, volgens God se plan, dinge in die wêreld. Dit
word genoem deur sommige (en ek dink dis ‘n goeie uitdrukking): ‘die voortgang
van God se Woord’.
Daar gebeur
gedurig dinge, wat jy weet wat gaan kom, maar wat so groot in omvang of wyd in
uitwerking is, dat jy amper nie kan dink dis waar nie. Dink maar bv. aan die
profesiëe in die boek Openbaring, hoe die Here daar vir ons leer dat die
onheilsmagte moet ontplooi en geweldig sterk word en die kerk sal lyk of hy al
swakker word; en in getalle sal hy ook swakker word, minder word, dit gebeùr. Nou gaan die Woord van God voort en gedurig
deur kom die wêreld in pas met wat God sê moet gebeur.
Daar is nòg ‘n
saak wat die Bybel vir ons op baie plekke sê en dit is dat, hoe verder die
wêreldgeskiedenis gaan, hoe vinniger gebeur die voortgang van God se Woord. Dit
is hiérdie vooruitgang van God se Woord wat vir die gelowiges in die wêreld ‘n
krisis veroorsaak.
Sê nou dit was sò
dat daar eintlik niks gebeur wat God vooruit bepaal nie en dat die kerk nie
nodig het om hom te probeer gerusstel met ‘n slegterwordende wêreld terwyl jy die kerk moet bly...die kerk word
al hoe magteloser.
Sê nou dit was so
dat ons nie ook siek geword het, persoonlike leed en skok moes verduur nie. Dan
het ons ook in die wêreld nie moeilikheid gehad nie. Dan het ons gelewe soos
een wat in die oggend wakker word en sê: wat vandag met my gebeur is maar
goed...hoop nie dis te erg nie. Soos diere maak. Maar nou is dit nié so nie.
Die Woord van God het ‘n voortgang en wanneer die kerk nou in sy krisis kom,
wanneer ‘n gelowige se persoonlike lewe in die noutes beland, dan sonder God
af. Dan bewaar Hy jou in Sy genade dat jy sonder die aanvalle van die wêreld
kan lewe. En nes jy sterk genoeg is , stuur Hy jou weer uit.
Dit is waaroor
hierdie deel van die Bybel gaan en waar ons graag een an ander oor wil sê.
‘n Mens moet
begin daarby dat die kerk van die wêreld afgeskei is. Soms fisies, soms net
geestelik, maar van die ongelowige wêreld. Die Bybel gebruik die term ‘wêreld’
om daarmee aan te dui dié mense wat nie in God wil glo nie, al weet hulle van
Hom. Dis belangrik om op hierdie term en sy betekenis te let en dit te onthou:
‘wêreld’ is nie maar net die mense uit die heidendom wat nog nie van die Here
gehoor het nie, maar dit is dié wat Sy Woord al gehoor het, wat van Sy bestaan
weet, wat van die kerk weet, maar nié tot bekering kom nie.
God maak ‘n verskil tussen kerk en wêreld en met
hierdie skeiding, die afskei van kerk en wêreld, oordeel Hy ook die ongeloof,
want Hy eis van die gelowiges om nie saam met die ongelowiges te lewe asof
hulle jou broers is nie.
Ongelowiges sal
jy mee in aanraking kom, maar hulle is mense téén wie jy moet getuig. Dit
beteken tog nie dat mens van die môre tot die aand moet veg nie, juis nie, maar
jou lewe moet sò wees dat dit ‘n voorbeeld is en ‘n toonbeeld, van ‘n mens wat
deur die Here Jesus vergewe is van sy kwaad. Daardeur oordeel God die wêreld.
Hier is die kerk;
kyk, hulle glo. Hier is die wêreld; kyk, hulle glo nié. Kyk, God het julle
uitmekaargehaal en hierdie skeiding sal in die voleinding van die wêreld finaal
word.
Daarom is ‘n
gelowige se belydenisvolle lewe rééds die begin van die oordeel van God. ‘n Mens doen dit nie doelbewus nie en jy
dink daar stellig nie aan nie, dat deur gelowig te lewe, deur God te dien en te
eer, selfs hoe ook al dit met jou gaan en waar jy ook al is, het jy die
ongeloof veroordeel deur jou voorbeeld. Méér nog so wanneer dit nodig word
dat mens dit met woorde moet doen.
Hierdie skeiding
van kerk en wêreld is nie iets wat die Here meganies doen en sê: hier is die
kerk en dáár is die wêreld, nie. Maar dit is ‘n skeiding wat die Here organies
doen deur die lewe van gelowiges. Elke
keer wanneer ‘n gelowige sy geloof in gehoorsaamheid bedink, elke keer wanneer
jy aan die Here méér gehoorsaam is as aan mense, het jy hierdie skeiding
gemaak.
En dit is ‘n
vreeslike gedagte, vir u en my, dat die Here gelowiges gebruik om die wêreld
mee te oordeel...die gelowiges se gehoorsaamheid gebruik om die ongehoorsaamheid
van die wêreld bloot te stel.
Nou sê Petrus in
sy brief: die tyd is nou daar dat hierdie oordeel in die Huis van God begin.
Dié tyd het gekom met die uitstorting van die Heilige Gees toe die Here Sy kerk
die wêreld ingestuur het, in die verkondiging van die Evangelie. So word God se besluit om kerk en wêreld
uitmekaar te haal., ‘n werklikheid wanneer ‘n gelowige voor God buig. Dis
‘n verskriklike en wonderbare gedagte.
Kom ons gebruik
‘n eenvoudige voorbeeld.
Ek vra die seën
van die Here voor ek eet en ek dank Hom daarvoor daarna, en dit sien die wêreld
nie, want ek doen dit in my huis. Dáármee is die oordeel begin oor almal wat
eet asof dit hulle toekom. Oor almal wat in die wêreld eet asof dit hulle
toekom, asof hul die rég het om te bestaan. As jy die konsekwensie van hierdie
gedagte neem is dit iets ergs.
Juis die seën-vra
voor jy eet, al het jy hard gewerk, en al het jy goed gespaar en al koop jy jou
kos kontant; vir die Here seën vra en Hom daarna dank dat Hy dit gegee het...
Dáármee word selfs ‘n streep getrek deur die hele idee dat die mens in homself
‘n reg sou hê voor God en voor die wêreld.
Dit word vandag
genoem ‘mense-regte’, en ‘mense-regte’ word, ek meen, seker oor die ganse
aardbol aanvaar. Dit het ook goeie kante. Ek dink werkende moeders wat beter
verlof kry wanneer hulle kinders in die wêrelkd moet bring vind o. a.
‘mense-regte’ ‘n beter heenkome en bedeling as in die tyd daarvòòr. ‘n Mens
moet hierdie dinge raaksien. Maar daar is ook slegte dinge wat gebeur: dat ‘n
mens die reg het om sê, ‘n misdaad te pleeg maar die samelewing is
verantwoordelik daarvoor. Hulle noem dit “kollektiewe verantwoordelikheid”;
hiedie soort goed leef ons mee saam. Dit is waaroor skrywers skryf, en dit is
die gedagte wat deur die Bybel veroordeel word.
Bid tot God voor
jy eet, dank Hom daarna, en jy het die reg van die mens tot niet gemaak. Nie in
die lewens van hulle wat nie in God glo nie, maar dit is hoe hierdie skeiding
werk: in die daad van gehoorsaamheid.
Ek het nou maar
hier een voorbeeld genoem, u sal hulle kan vermenigvuldig soveel as wat u oor
dinge dink. In die daad van
gehoorsaamheid maak die gelowiges, voor God, Wie alles sien en alles weet,
skeiding tussen kerk en wêreld.
Nou is daar die
gedagte by baie, en ek kan insien dat mense so kan dink en sê: kyk, dit help
nou niks dat jy in jou binnekamer in afsondering sterk is en God oordeel die
wêreld oor wat jy doen en intussen gaan die hele spul verlore. Doén iets. Doen
iets aan die wêreld. Dit is die roeping tot sending wat die Here op Sy kerk lê.
Dis ‘n getuienis en ‘n onderrig in die Evangelie (en dit vorm dan ook ‘n
belangrike deel van die tweede deel van hierdie oordenking, wat ons netnou by
sal kom).
Ek is nou besig
om te praat oor hoe die Here, waar jy en jou gesin en mede-gelowiges is (selfs hiér
waar ons in die erediens sit), jou gebruik om die wêreld te oordeel, sonder dat
jy dit weet en beslis sonder dat die wêreld dit weet, maar God weet dit.
U moet ‘n bietjie
oplet, as u, veral in die Ou Testament, weer lees, maar dan moet u ‘n vertaling
hê wat vir ‘n mens presies sê soos God dit laat skryf het: as ene vir die Here
iets vra dan sê hy: Here, U weet dit,
ek weet nie en die mense weet nie.
Dis hierdie uitdrukking wat jy veral in die
lydensbeskrywings van die ou tyd kry: Here, U weet dit. Sê vir ons waar lê die
krag van God se geesteswerkinge...omdat Hy dit weet. Dis genoeg as God dit
weet. Dit is genoeg, dit is oorvloedig as Hy dit weet. Dink aan die troos wat
hieruit kom: as mens in angs en leed verkeer , in swakheid, wat ookal jou lewe
tref, ‘Here, U weet dit’. En omdat God weet wat met jou gebeur en dit nie
toevallig is nie maar deur die voortgang van Sy Woord, daarom is die gelowiges
getroos en ontvang hulle moed.
God weet ook wanneer Hy oor ons verligting bring uit alle
angs en leed. En so is hierdie skeiding
van kerk en wêreld nie net iets wat God doen om die oordeel te weet, self te
weet nie, maar ook om die kerk te versterk, die gelowiges.
Daarby hoort nou nog hierdie gedagte: Hoe naby kom jy nie
aan Christus Jesus omdat jy nie deel van die wêreld is nie; hoe digby die
wederkoms van ons Heiland lewe jy nie wanneer jy onthou: God wéét. Hy weet die
maat en einde van my lyde, soos een Psalm in die Beryming dit so mooi sê. God
weet , God bepaal, God beskik en Hy laat met die voortgang van Sy Woord die
wêreld in ‘n rigting gaan wat juis nié wanorde is nie. Die duiwel wil dat alles
in wanorde moet verloop en daar is mense wat baie moeite doen om dinge ordeloos
en sonder orde te maak, maar God wil orde hê.
Daarom moet gelowige mense, wat in die moeilikheid beland
met die wêreld in een of ander vorm, omdat hy die orde wil handhaaf (wat reg
is), die troos hê: God wéét. En as Hy dit weet, dan gee Hy ook Sy seën.
Nou kom ons by die tweede deel waaroor Petrus hier skrywe
nl. Wat word nou van dié wat aan die Evangelie ongehoorsaam is; wat word van die wêreld? God stuur hulle nie
in die nag in nie, maar Hy sit Sy kerk as ‘n lig...
Ons het Psalm 50 gesing waarin in die beryming eintlik al
‘n pragtige verklaring van die Psalm na vore kom: die son kom op en hy gaan
onder, hy lewe en hy gaan dood, maar uit Sion, waar die tempel is, sprei God Sy
ligglans vér ten toon, méér as die son en Hy gaan nie onder nie! God plaas Sy
kerk in die wêreld om Sy lig bekend te maak. Die Here Jesus het daarvan gesê (u
ken dit goed), dat jy soos ‘n stad op ‘n berg is, ‘n lamp op ‘n staander, sout
wat bewaar en smaaklik maak.
God sit Sy kerk in die wêreld. Die gelowiges moet hul
geloof uitlééf, nie uitdink nie; dit moet met dade gebeur. Daarom skrywe Petrus
ook hier in vers 19 aan die einde van die hoofstuk: ”So laat dan ook die wat
volgens die wil van God ly hulle siele aan Hom, as die getroue Skepper,
toevertrou met goeie dade.”
Jy kan
nie op jou eie lewe en dink dat jy nou jou roeping vervul nie. ‘n Mens moet goed doen. Maar nie op die wêreld se manier nie. Die wêreld
se manier is om uit te deel, uit ‘n meelewendheid, uit jammerte; daarom deel jy
mee. God se manier is: jy moet uitdeel, as een van die goeie werke wat jy doen,
omdat God so sê.
Selfs al hou jy niks van die een wat jy help nie, selfs
al verag jy die mens wat hulp ontvang, selfs al stem jy nie saam met dit wat
mense doen nie, maar jy kan daar goed doen, dan moet jy dit doen omdat God so
sê en nie omdat jou eie gewete jou dit voorskryf nie.
Filosofies uitgedruk: die norm lê buite die mens, dit lê
in God se wil.
Sò
plaas die Here die kerk in die wêreld om Sy wil uit te voer, om te wys: God is
goed. Die Here Jesus het gesê jy moet vir jou vyand bid. Het u
dit al probeer doen? Het u al vir ‘n vyand probeer bid dat dit met hom goed
gaan? Ek kon dit nog nooit regkry nie. Maar die Here sê ons moet! Ons skiet
tekort in goeie werke. Ons skiet te kort in die uitvoer van ons roeping ìn die
wêreld.
Maar nou is dit òòk waar dat die wêreld die kerk
kortwiek. En dit is waar dat ons eie swakheid ons belemmer in die uitvoer van
ons roeping. Maar die beginsel is: as jy
‘n keer gehoorsaam was aan God, het jy die wêreld oorwin. Maar as jy aanhoudend
uit mede-menslikheid goed doen, het jy kwaad aangerig.
Dit is die beginsel van die kerk wat in die wêreld is.
Dit maak dit moéilik. As dit maar so was dat ek, oor ek een jammerkry, gou vir
hom iets goeds doen... dan voel ek lekker, ek het warmte in my want ek het
mede-menslik opgetree...en hoe sukkel jy nie om jouself te verskoon dié keer as
jy moet goed doen aan die haatlike wat God nie dien en eer nie!
Ek gebruik uiterste voorbeelde. Natuurlik sal dit in die
gewone lewe nie alles ook uiterstes wees nie, maar sal jy ‘n veskeidenheid van
situasies beleef waarin ‘n mens jou geloof moet uitleef.
Ons is besorg dat dit dalk mag klink of ons nou met
hierdie ding iets wil sê en dit in die midde van die gemeente los. Mag ek dan
‘n enkele toepassing hieroor maak wat wys dat dit tog maklik is.
Die
Bybel sê: “Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word.” Dan beteken
dit nie dat jy soos ‘n advertensie-glimlag deur die wêreld moet gaan nie, maar
dat jy die nyd en die haatlikheid moet aflê en ‘n toeganklike persoon moet
wees.
Dit beteken uiteraard weer nié (seker onnodig om te sê)
dat ‘n mens daarmee jouself verloor en laat vaar nie. Ons het nou genoeg
daaroor gepraat dat jy ìn die wêreld is as gelowige, maar jy lewe nie op die
wêreldse wyse nie. Jy moet op die
kerkmanier leef.
En
omdat dit so is, lewe die kerk altyd onder beskuldiging van die wêreld. Die wêreld sê dat die kerk lewensvreugde bederf omdat hy dinge sê en doen
wat die lekkerte in die lewe soms stopsit. Dan is die kerk ‘n pretbederwer.
Met hierdie beskuldiging word die kerk nie veroordeel nie
en ook God nie, maar dit is ‘n self-veroordeling. Nou vra ons u aandag vir hoe
die Bybel soos ‘n struktuur inmekaarsteek.
Net soos wat jy, deur in jou binnekamer God te dien, iets
aan die oordeel doen, doen die ongelowige ook in sy binnekamer (of waar hy
gaan) iets aan sy eie oordeel, deurdat hy die kerk beskuldig dat hy nie wêreld
is nie; deurdat hy die kerk verag omdat hy wêreldvreemd optree. Daarmee is die
oordeel self oor homself gevel. Dit is die strukture van die Bybel, dat God ook
die wêreld gebruik om homself te veroordeel òòk vanuit sy innerlike aksies.
Nou is
dit nie die kerk se roeping om vir die wêreld te sê: gelukkig oordeel jy
jouself, jy’s deur en deur sleg en dit is met jou gedaan en ek is bly daaroor.
Dìt is nie die kerk se roeping nie. Die
kerk moet voortgaan om die heerlikheid van God ten toon te sprei. Die lig
wat uit Sion kom waar die offervuur gebrand het, waar die lamp van God nie
doodgemaak is nie, dag en nag gebrand het; waar die geur van wierook was... Dit
is die Ou-Testamentiese beeld van die tempel waar die priester sy hande seënend
oor die volk uitbrei. Dìt is die kerk se roeping: om daar die ligglans ten toon
te sprei. En dan gaan dit veral oor jou lewenswyse.
U moet dan ook daaraan dink, broeders en susters, dat die
aanval op die kerk veral in ons tyd, gaan oor die lewenswyse, die styl, die
kultuur wat die kerk beoefen. Dit gaan oor die styl en die inhoud van hoe jy
verbondsonderrig as gelowige ouer aan jou kind laat toekom. Die wêreld val ons lewensstyl aan en wil dit
gelykmaak met ‘n wêreldse styl; die wêreldse styl is ‘groot en verhewe’;
die wêreld kan die wonderlikste dinge sê en doen; die wêreld bereik ook veel
deur te manipuleer.
Ek dink nou maar aan ‘n voorbeeld van die man wat seker
(op die oomblik) die meeste invloed het in organisasies, sake en
besigheidskringe én in die staat. Hy kom met ‘n ou ding, die krag van positiewe
denke. Jy moet in alles iets goeds sien; moenie net na die slegte goed kyk nie;
moenie net veroordeel nie; sê ook hoe goed kan ‘n ding wees en dan konsentreer
jy daarop. As hy hierdie goed vir mense sê, betaal hulle hom maklik meer as ‘n
R1 000 ‘n uur vir ‘n lesing. Hy kan dit sò sê dat mense daarna luister.
Moet die kerk sy roeping in die wêreld uitlewe deur die
foute nie te sien nie; deur die positiewe sy te benader? Dan het ons die
oordeel van God verby laat gaan, het ons in die wêreld wêrelds geword. Dit is die gevaar wat die kerk tans bedreig,
dat ons nie meer ‘n getuiende krag in die wêreld is nie maar ‘n mee-sprekende
krag.
En hierdie is nie ‘n fiktiewe gevaar nie, dit is ook nie
‘n gevaar waaraan net andere blootgestel is nie, dis in eie boesem van ons
kerkverband aanwesig. Ons moet ook by onsself toesien dat ons die roeping van
die gelowiges in die wêreld nakom.
In die wêreld, dig die wêreld ook aan die kerk take toe.
Die kerk se werk is dìt en die kerk se werk is sò; die kerk moet sorg dat dit
nie met die mense sleg gaan nie; die kerk moet sorg dat daar lewensmoontlikheid
is...En so het die kerk ‘n welsynsorganisasie geword in die oë van die wêreld.
Daarom maak dit nie saak watter kerk is watter kerk nie; solank as wat hy
hierdie taak, wat die wêreld hom oplê, nakom, is hy ‘n goeie kerk.
Dit is die standpunt wat mense in ons tyd huldig (veral
vanuit die wêreld se hoek) dat, solank as jy in terme van die wêreld jou
roeping uitleef, is jy ‘n goeie kerk. Nou maak dit nie saak wat jou belydenis
is, wat jou binnekamergodsdiens is, hoe jy die oordeel van God uit jou gebede
na vore laat kom nie; u kan sien dit is die rigting waarin ons gestuur word en
ons is in die wêreld.
Daar was ‘n tyd, veral toe die Romeinse Ryk begin verswak
het, en die wêreld al meer wanordelik was en ons Germaanse voorvaders vir die
Romeine moeilikheid gemaak het, dat hulle in kloosters gaan bly het. Hulle het
hul fisies afgesonder.
Dáár het geen getuienis uitgegaan nie. Nou, eeue na die
tyd, kan jy geskrifte van daardie geleerdes lees. Hulle het baie geleerd geword
in die klooster; jy moet darem iets daar doen. Party het wyn gemaak, ander het
geboer en nog ander het gestudeer, maar agter mure. Nou kan ons darem die boeke
lees en ons verbaas oor die denkkrag van die ou tyd.
Maar dit is nie ‘n getuienis van die kerk in die wêreld
nie. Dit is ‘n woeling agter mure en dit mag jy nooit bepleit nie. Dis nòòit
ons roeping en ons taak nie, maar die wêreld sal tevrede wees met ‘n kerk wat
mure het rondom sy belydenis.
Dan is Christus nie meer koning nie en kom Sy Koninkryk
nie nader nie. Dan hoef ons nie die ryk van Christus se heerskappy te verwag
nie, en is die stryd uit die wêreld weg en is God se eer gemoeid met wat die
kerk doen as hy nie sy roeping uitleef nie.
Dis ‘n harde saak hierdie, waar ek liewer nie oor sou wou
praat nie, want daar is dinge wat ‘n mens graag nalaat omdat die wêreld vol
spanning en stryd is. Dis nie altyd
moeilik om kerk te wees nie; veral nie as God jou afsonder nie. Maar die dag
dat jy die lig moet gaan versprei kom jy in die noutes.
Daarom leer die Bybel ons waar lê ons troos; ons troos lê
op twee vlakke. Die een is as God jou weg laat skuil (soos Ps. 57 sê) onder die
skaduwee van God se Vleuel totdat die onheil weer verby getrek het. Dis een
vlak van troos.
Die ander is die feit dat jy in die wêreld stryd ervaar
is vir jou ‘n bewys dat jy reg is, dat jy God se reg handhaaf, en dis ook ‘n
troos dat jy ‘n goeie stryd kan hê. Paulus het aan die Thessalonicense geskryf:
hy het die goeie stryd gestry en hy het die geloof behou.
Dit is
die twee vlakke van troos: Waar God jou toevou en jou leed en smart versag, en
waar jy in die hitte van die stryd staan en weet jy praat van God, jou Koning,
Saligmaker, van Sy Ryk, van die vooruitgang van Sy Woord, en nie te huiwer om
te sê en uit te leef wat God op jou lê nie.
As iemand vra, hoe begin ‘n mens met hierdie dinge in jou
lewe, is die antwoord: met jou lewensstyl. En dis dan ook, dink ek, die maklike
deel; om te begin om ‘n lig in die wêreld te wees.
Meet
jou manier van lewe aan die maatstaf van die Evangelie. Wie dit doen word deur God versorg en gebruik en het die
saligheid van God in hierdie lewe reeds ten volle.
Mag God so aan ons gee.
Amen.