Ds. Jan Coetzee 6
Januarie 2002 (Oggend)
Lees: 1
Thessalonisense 5: 12-28
Teks: 1
Thessalonisense 5: 23-24
Psalms:
75:1,2; 112:1,4; 119:26,28;
66:7,9; 31:16,17
Daar was blykbaar
in die gemeente van die Thessalonisense navrae oor die wederkoms van die Here.
Gaan dit gou wees, wat gaan gebeur, hoe gaan dit wees? En deel van die antwoord
op hulle vrae staan in hierdie hoofstuk. Maar dan openbaar die Here ook aan ons
hoe Hy ons bemoedig en troos tot op die laaste dag. Hy steek ons weg in Sy vrede. Die bede wat Paulus hier in opdrag
van die Heilige Gees opgeteken het, hierdie bewaar,
beteken eintlik toesluit. Iets wat jy
so kosbaar het dat jy dit nie sommer laat rondlê nie. En as die Here ons toevou
in Sy vrede, dan is die onrus van die wêreld nie oorheersend nie.
Onrus sal ons hê tot by die koms van onse Here,
maar die vrede is by God. Let baie goed op wat Paulus in die teks sê: Die God van die vrede. Dis
deel van God se wese, dat Hy vrede is. Hy is nie een wat veglustig is nie, wel
oordeel Hy die kwaad, maar Hy is die God van die vrede.
Ek wys u in die
verbygaan daarop dat in die nuwe Bybel dit sò staan: Die God wat vrede gee.
Maar dis nie wat hier staan nie. Vrede is deel van God en daarom is dit by die
goddelose onstuimig. En God se vrede word nie aan ons gegee nie. Wie van ons
kan sê, selfs nou, dat ons volle vrede het? Dit lyk eerder asof ons moeite en
ons stryd meer word. Maar God het vrede, vrede met ons deur Christus. En nou
roep God die gelowiges om so bewaar te word. Mens kan vra: Hoe maak God my toe in Sy vrede terwyl ek nog onrus het? Hy doen dit
met die roeping wat van God uitgaan.
Hier staan: Hy
wat julle roep is getrou, Hy sal julle ook so bewaar. En daarom is die
koppeling van vrede en roeping die saak in hierdie Skrifgedeelte, waar dit vir
ons oor gaan. Dit is wat in die wêreld nie kan gebeur nie, omdat God dit nie
wil laat gebeur nie. Maar in u en my lewe is die roeping: Kom, en die vrede,
saam in ons lewe gebind. Daar is nie meer oordeel nie en daarom het ons goeie
moed.
Hierdie selfde
apostel wat die brief geskrywe het, was eenmaal in die tronk, hulle het hom
geslaan. En hy skrywe in 2 Korinthiërs 8 al die goed wat met hom gebeur het. En
as hy die amper onmoontlike genoem het wat hy moes uithou, sê hy: Nogtans het
ek goeie moed. Want by God het ons vrede. Dit is soos ‘n skat wat jy by die
Here het, wat hy hou. En by die wederkoms van die Here mag ons daarin deel. As ons dan in hierdie lewe onrus moet uithou
van allerhande soorte, dan beteken dit nie dat die Here ons aan ons lot oorlaat
nie, maar Hy laat ons wag.
Nou skrywe Paulus
in hierdie brief nie net oor die wederkoms nie, maar ook oor die leefwyse wat
‘n gemeente moet hê. En u ken dit goed, mens sukkel daarmee; ons het ‘n klompie
daarvan gelees hier in die hoofstuk. En dan wil ek sê: Ek kan nie. En nie een
van ons is in staat om so goed en reg te lewe dat ons kan sê ons is volkome
onberispelik nie. Hoor net hoe word dit benadruk: Mag julle gees, siel en
liggaam, dis die gehele mens, onberispelik bewaar word, geheel en al, wanneer
die Here Sy vrederyk laat daal.
Die onberispelikheid (dis ‘n woord in die Bybel, dit kom ook in ons
attestasievorm voor) beteken nie volkome
wees nie, maar dat ons nie berispe moet word omdat ons nie glo nie. En so
het mens stryd en jy het moeite terwyl jy wag op die vrede van onse Here,
wanneer Hy die duiwel nog gaan bind dat hy niks kan doen nie.
Om nou hierdie
saak verder toe te lig, wil ons graag eerstens u aandag vra vir hierdie bede
wat Paulus hier skrywe: En mag die God van die vrede julle volkome heilig maak,
volkome mens, liggaam, siel, gees en ons bewaar. Die bede is bedoel om ons
gemoed te versterk.
Mens staan
verslae by die eise wat die Bybel aan ons stel en ons onvermoë om daaraan te
voldoen. Ons staan verbysterd oor die onbegrip wat daar op baie plekke is oor
wat in die Bybel staan. Ons is verbysterd as ‘n mens sien hoe die profesieë
inderdaad verag word. En die woorde: ‘Verag die profesieë nie’, is een van die
skerp punte wat hierdie Skrifgedeelte aan ons voorhou, want die evangelie is ‘n
profesie. En let op dat selfs in vers 24 sê hy: ‘Hy wat julle roep’. Dit is nie
‘n profesie dat Hy ons roep nie, dis ‘n feit. Hy is getrou, dit is ook nie ‘n
profesie nie, Hy sal dit doen.
Profesie is vooruitsegging van God se raad. En die
uitbou en die ontvouing van die geskiedenis is inderdaad deel van die profesie
in die Bybel. Maar dis
moeilik as die profesie so sentraal in jou lewe staan, want dan kom daar vrae
en daar kom kwessies waar jy moet sê: Is dit nou ‘n vervulling hierdie, of is
dit nie? Baie keer weet jy nie en daarom gee die Bybel hier ‘n gebed en dit is
so geskrywe in die oorspronklike taal sodat ons moet weet daar word nie maar
vaag gebid nie: Maar Hy, die God van die
vrede, wat die geskiedenis oopvou tot by die wederkoms van Sy Seun, Mag Hy ons
bewaar.
Waar kom die krag vandaan uit hierdie gebede? Uit
ons belydenis dat die vrede aan God behoort. Dit is die belydenis van die gelowiges, die vrede
is deel van God. En as daar dan in die wêreld onvrede is, dan weet ons die
wêreld is nie God nie. En as mense leef uit geweld en woestheid, dan weet ons
en bely ons hulle is nie van God nie.
Dit is die krag
van hierdie gebed, dat ons weet die vrede is by God. En as dit so is, dan kan
die wêreld nie werklik die gelowiges ombring nie. Ons lees van baie mense wat
doodgemaak is oor hulle geloof, maar hulle is nie dood nie. Die vrede is ‘n
verdienste van Christus aan die kruis, dit is hoekom God vrede het. Dis ‘n
gedagte waaraan mens dalk nie baie kere aan dink nie.
Met die kruisiging van die Here Jesus het Hy vir
ons die saligheid verdien, maar het Hy die vrede vir ewig by God laat bly. Die satan, die aanklaer, kan God nie meer
terg soos Israel ook gedoen het deur sy aanstigting nie. Die goddelose wek nie
meer nuwe toorn by God op nie, omdat die Here Jesus die vrede by God vasgemaak
het toe Hy gekruisig is.
En dit verklaar
dan, meen ek, die rede waarom God toelaat dat die woestheid in die wêreld
aangaan. Hoekom, so kan mens vra, is dit nie meer soos in die tyd van die
Rigters, toe Israel so vreeslik sleg was? En as een dan kom en hy bid en hulle
bekeer hulle, dan verwoes die Here die vyand met geweld. Hoekom doen Hy dit nie
meer nie?
In daardie tyd
was die vrede op aarde soos wat die engele gesing het. Baie mense dink by die
geboorte van die Here Jesus het die vrede op aarde gekom en dit is daarom dat
Kersfees so ‘n vrolike fees by mense is: Hier’s vrede! Is hier vrede? Nee, die
vrede is op die aarde waar dit aangetas word, waar dit nie kan groei nie. Met Sy verdienste aan die kruis het die Here
Jesus die vrede van die aarde weggeneem en dit is by God.
En daardeur is
ons nou Christus se gevangenes. Ons kan
net in God se vrede deel as ons die geloof bewaar, as ons Christus Jesus as ons
Verlosser aanbid. Dan is die hemeldeure vir ons oop en ken ons ‘n
gemoedsvrede wat dalk op aarde vir ons nie aldag bestaan nie. Psalm 4 sê dit op
‘n pragtige manier, dit is ook ‘n gebed in die aand: Ek wil meteens gaan lê en
aan die slaap raak, want by U alleen is die vrede. Net op hierdie manier, --met
ontsteltenis, miskien met kwale of die swakheid van ‘n lang lewe-- kan jy sê: Ek
wil aan die slaap raak, meteens by God. En Psalm 32 sê: Soos ‘n kind tevrede is
by sy moeder, is my siel in my. Omdat ons die vrede op ‘n afstand sien.
In 1 Korinthiërs
13 praat Paulus van iets wat ons deur ‘n spieël sien, ‘n raaisel wat ons
afgebeeld sien in die spieël. Ek sien nie my eie gesig daar nie. En die spieël
is nie dof soos sommiges dink nie, hy is helder. Maar hy weerkaats ‘n raaisel.
Hoekom weet ek van God se vrede, maar ek kry dan hier swaar? En daarom het hierdie bede die krag dat ons
weet die wêreld kan God se vrede nie neem nie.
Dis nie ‘n
smeekstem, hierdie bede, dat die Here ons tog in die slegte wêreld ‘n bietjie
geluk moet gee nie. Dit mag jy ook vir God vra, ongetwyfeld. Maar in hierdie
deel van die gebed waar jy die troos het, bely ons dat ons nie vir die Here sê:
Ag, help my asseblief, nie. Maar dat ons Sy vrede bely. Ons vra nie dat die
Here met Sy Almag vir ons part heilig moet wees nie. Dis ons opdrag en dit
bring juis die stryd mee. Maar in hierdie
bede is die stryd van ‘n gelowige nie dieselfde as onrus nie. Stryd en vrede
gaan vir u en my, saam.
In die
Hebreërbrief het die briefskrywer gesê: Die lesers het nog nie ten bloede toe
weerstand gebied teen die sonde nie. Ons het nie en ek dink ook nie ons kan
nie. Maar die stryd wat in ons lewe is,
neem nie die vrede met God weg nie. En aan ‘n meer troosryke Bybelwoord kan
jy haas nie dink nie.
Dan is die bede
dat die Here ons totale menswees, geheel en al, so moet bewaar dat ons by die
wederkoms van Christus nie sal hoor: ‘Gaan weg van my, jou werker van
ongeregtigheid’, nie. Maar dat ons sal hoor: ‘Gaan in, in die vreugde van jou
Heer’. Want ons het in die stryd volhard, ons het die vrede van God begeer en
ons het nie toegegee aan die kwaad nie.
Met toegee aan
die kwaad bedoel ek, vir goed. Daar sal nie ‘n mens wees wat nie soms aan die
kwaad toegegee het nie. Hierdie selfde apostel wat die brief skrywe was dan ‘n
goedkeurder van moord en ‘n vervolger van die gemeente. Sodat dit vir hom nodig
was om te sê hy is die vernaamste van al die sondaars, die slegste mens wat
daar kan wees. En kyk wat skryf hy hier.
Daarom moet ons
weet dat die ‘onberispelik wees’, die toeneem in heiligmaking, nie verniel word
deur swakhede wat ons te bowe kom nie. Nie verwoes word deur smarte wat vir ons
oënskynlik te veel is nie. Hier het ‘n
mens die ware genade van God, dat Hy ten spyte van ons onvolkomenheid, ons laat
lewe, totdat ons die onberispelikheid van die ewige lewe ontvang.
In die tweede
brief aan die Korinthiërs, in hoofstuk 5 skrywe Paulus: Hierdie aardse
tentwoning word afgebreek, hy kan amper nie meer nie. En hy sou so graag die
heerlikheid, die vrede wou hê. Sonder die afbraak wat eers kom van die liggaam,
maar dit kan nie. En nou is dit ook die troos wat ons by die jaarwisseling
altyd moet vashou as mens wonder wat gaan nou gebeur, want ons lewe is aan
kalenders gebind en aan programme. Dan is
dit ons troos dat die onberispelikheid beteken: ek hou aan glo.
Die stryd neem
nie vrede weg nie. God sal nie Sy Almag gebruik om my te laat lekker lewe nie.
Dan bly daar oor die getuienis van ‘n profeet. Daarom skrywe die Bybel dan ook hier ‘n
profetiese getuienis in die tweede vers wat ons as teks het: ‘Hy wat julle roep
is getrou, Hy sal dit ook doen’. Dis seker die kortste profetiese boekie in die
Bybel, wat inpas by alles wat die ander profete met meer woorde moes sê.
En dan is hierdie profetiese getuienis so dat dit
begin met die roeping deur God. Hy roep ons deur die Bybel, deur ons verbondsopvoeding in die huis, deur
ons stryd en worsteling om die Bybel reg te verstaan, deur die afwysing van die
dwaling. God se roeping kom tot ons wanneer ons gewaar: dit was die Here wat
hierin gewerk het. En dit is God wat my toegelaat het, my miskien ‘n rukkie
gelos het en my weer geneem het. God werk in ons deur Sy roeping. Dit wys
daarop dat die Here oor ‘n afstand werk.
Hy is in die ontoeganklike lig van die ewigheid,
maar tog naby ons juis deur Sy roeping. Juis deurdat Hy ons nooit vergeet nie, want hier
staan: Hy is getrou. En as ons dit weet, dan het ons ook die werk van die
Heilige Gees by ons.
Hier staan in
vers 19: ‘Blus die Gees nie uit nie’. Beteken dit dan dat jy die Heilige Gees
kan uitblus? Die woord wat Paulus hier skrywe, wat jy nooit volkome sal kan
vertaal nie, beteken dat jy die werk wat die Gees van God doen, nie moet negeer
nie.
Die geskiedenis
van hierdie woord is so, en ek dink mens moet dit weet, dat as jy ‘n saak
minag, dan het hy naderhand nie meer ‘n krag in jou nie. En as jy nooit oor die
werk van die Heilige Gees in jou dink, dat Hy geloofsvertroue by jou bou nie,
dan sal jy van God vergeet. Dan het jy die Gees, soos dit hier staan,
uitgeblus.
So kom die roeping van God tot ons ook veral deur
die Gees van God. Wat ons juis nie uitblus nie, maar wat ons in Sy werk as
Trooster en Heiligmaker bely. En dan word ook die opdrag wat so swaar is --‘Wees altyddeur bly. Bid
sonder ophou. Moenie ‘n ander een kwaad vir kwaad vergeld nie’-- makliker, want dit is die Heilige Gees wat
hierdie gawes in ons bewerk. En dit hang saam met ons onthou van Sy werk, met
ons luister na God se roeping, met ons dankbaarheid oor die bede wat vir ons
opgaan.
En dan is daar
hierdie heerlike toesegging: God sal dit doen. Is daar dan iemand wat ly, wat
nood het, wat verlang na uitkoms op een of ander manier? Hoor dan wat die Bybel sê: Hy sal dit doen, wanneer Hy uiteindelik ook
Sy vrederyk oor ons vestig, vir die tyd waarin Hy dit gaan doen. Die God
van die vrede hou ons gevange, ons kan nie loskom nie. Hoe dankbaar moet ons
nie wees dat God nie net vir ons sê: Daar is julle in die wêreld, nou sorg dat
julle by My uitkom., nie. Maar dat Hy ons toesluit in Sy vrede, op ‘n wêreld
wat die vrede nie ken nie, of wil ken nie. Daarby kom Sy roeping tot ons en die
heerlike toesegging.
Is dit dan
verbasend dat daar juis in ons tyd hierdie skerp aanvalle op God se Woord is?
Dat die mense die Bybel net eenvoudig nie wil glo nie en uitkomkanse soek om
die Bybel in ‘n skema in te pas? ‘n Skema van ou dokumente waarin ons ‘n
godsdiens moet leer. Daar is baie sulke skema’s, ek gaan nie eers probeer om
dit op te noem nie. Maar dit is nie verbasend nie, dat dit God se Woord is wat
in die aanval kom, want dan is die hoop daar, by die goddelose, dat ons sal
ontsnap uit die gevangenis van God se vrede. Maar dank Hom, ons kan nie, Sy
heil sal kom.
Amen