Ds. Jan Coetzee 6
Oktober 1996 Oggenddiens
Lees: II Korinth.
6:11- 7:1 Teks:
II Korinth. 7:1
Sing: Ps. 118: 2,3
Ps. 128: 1
Ps. 15: 1,2
Ps. 119: 39, 40
Ps. 42: 5, 7
Die Bybel is, in
die brief aan die Korinthiërs, besig om aan die gelowiges te leer hoe ons op
hierdie aarde moet lewe. En dan is die beginsel wat die Bybel aan ons deurgee
dit: ons moet ‘n rein lewe voer.
Nou is dit ‘n
vraag: wat doen jy, as jy ‘n rein lewe het? Waaruit en waarin bestaan hierdie
reinheid? Dan gee die Bybel op baie plekke aan hierdie ‘rein lewe’ ‘n bepaalde
naam (‘n tegniese naam, kan ons dit noem) nl. Heiligmaking.
Ons moet leer om heilig te word. Maar daarin help God ons en Hy help ons op
‘n buitengewone manier, anders as wat ‘n mens dit sou doen: Hy gee beloftes.
En die beloftes
word jou besitting en uit die beloftes se krag kan ‘n mens dan die kwaad die
hoof bied.
Dis so anders as
wat ‘n mens dit sou doen. ‘n Mens sou een versterk met kennis, met krag, met
wapens, met toerusting van allerlei aard... Maar God doen dit nie. Hy gee ‘n
belofte. ‘n Belofte wat herhaal word uit die oudheid, nie nuwes nie. Dis oor en
oor dieselfde. En dan sê Hy vir die gelowiges: gebruik nou hierdie beloftekrag.
As jy in die versoeking kom, onthou God se belofte is so goed as die uitvoering
daarvan. Dit is die hele saak. Ons wil dan oor hierdie beloftes, waarvan die
Bybel praat, eerste iets sê.
Dit kom daarop neer dat God vir ons ‘n Vader sal
wees. Die Vaderskap van
God is vir Paulus en vir die mense van Korinthe nie ‘n nuwe gedagte nie, net
soos dit vir ons nie nuut is nie, Reeds die profeet Jeremia het met die gedagte
gekom, dat God ‘n Vader sal wees. Ons het dit hier aangehaal: dis in Jeremia 31:
9. En ook die profeet Hosea het aan Israel geleer dat God ‘n Vader is.
Nou klink dit vir
ons so doodgewoon. Wie van ons weet nie dat dit die Vader in die Hemel is tot
Wie ons bid nie? Maar stel dit teenoor die heidendom waaruit die mense van
Korinthe hul herkoms gehad het. Die gode is nie die mense se vader nie. Hy is
of jou dienaar --as jy goed genoeg offer sal hy doen wat jy sê—of hy is die
wrede beskikker oor jou lotgevalle. Al die afgodestelsels ontbreek in ‘n
vaderskap. Ja, die afgode het almal ‘n vaderfiguur, maar dan is dit ‘n
‘hoofgod’ met ‘n klomp kleintjies onder hom. Hy is nié die mense se vader nie.
As hulle dan praat van die afgod van die Baäldiens, genoem Eël, as ‘vader’ dan
het hulle bedoel, hy’s vader van ‘n spul afgode.
As ons God
‘Vader’ noem sê ons: Hy is my Vader. Dit is die vaderskap.
En daarop kom die beloftes van God neer: dit is
die troosryke versterking vir die gelowiges. As ‘n mens hierdie beloftes, waarvan Paulus
aanhaal, weer lees, soos dit hier in vers 16-18 staan, sal u hoor dit is so:
“Ek sal in hulle woon,” (want die gelowiges is ‘n tempel van God) “Ek sal
onder hulle woon en onder hulle wandel en Ek sal hulle God wees en hulle sal
vir My ‘n volk wees; daarom, gaan onder hulle uit, sonder julle af, spreek die
Here, en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem en Ek sal vir
julle ‘n Vader wees en julle sal vir My seuns en dogters wees, so spreek die
Here, die Almagtige.”
Dit loop
uit, al hierdie wonderlike beloftes, waaraan die opdrag verbind is, op: gaan
dan uit onder dié wat die belofte nie glo nie, “Ek sal vir julle ‘n Vader
wees...”
En dit is wat ‘n
gelowige se lewe so anders maak as ‘n ongelowige s’n. Ons het ‘n Vader wat
alles kan en wil en sal doen. As mense meer op die Vaderskap van God wou staat
maak --dis dalk nie die regte woord nie, ‘vertrou’ is seker beter—as mense meer
hoop wil vestig op die feit dat God Vader is, dan sal baie van ons angs en
vrees en bekommernisse wegval. Hoe rus ‘n mens se gemoed nie as jy daaraan dink
dat God Vader is nie. Hy sorg... Hy slaap nie, Hy is magtig, Hy beskerm, Hy
bewaar...
En terwyl ons nou
hierdie beloftes het, sê Paulus (ons hét hulle, dis ons eiendom, niemand kan
dit van ons wegneem nie), terwyl ons dit het, moet ons die heiligmaking
volbring. Dit is die vertrekpunt van die
verbetering en suiwering van ‘n mens se lewe, dat God aan my ‘n belofte gee: Hy
sal my Vader wees.
Nou sal een sê:
Wanneer?
Die oomblik
wanneer jy na die belofte luister gaan hy in vervulling. U moet onthou dat God
se belofte nie soos ‘n mens s’n is nie. As ek vir u iets belowe, dan moet ek
dit nog doen. As God Sy beloftewoord gee, staan dit vas, want God kan nie ‘n
Woord gee wat nie gaan gebeur nie. Sò is dit met die beloftes van God.
En nou is aan die Vaderskap ook gebind, volgens
die Evangelie, die Koninkryk van God. Daaroor is daar al baie uitvoerig geskrywe. As u luister na die Woorde,
die onderrig van onse Here Jesus, soos wat dit in die Evangelies opgeskrywe is,
sien mens dat wanneer Hy van die Hemele praat, dan praat Hy van ‘My Vader’ en
‘Ons Vader’.
Die belofte van
God se Vaderskap is die vertrekpunt van ons heiligmaking omdat dit ook gebind
is aan die koninkryk van God. En die
Koninkryk van God staan teenoor al die onrus en geweld en onvrede van die
wêreld.
Die Here Jesus
gaan daarom ook ‘n Vrederyk op aarde vestig sodat die teenstelling van die
onheil, van hulle wat die belofte nie glo nie, en die rus in die gemoed van al
die baie mense wat die belofte wel glo, kan blyk. Die Here wil, net soos wat Hy
doen hier op aarde, terwyl ons nog nie vrede het nie, terwyl ons nog in stryd
en worsteling staan, die teenstelling maak tussen heilig en onheilig.
En hierdie
teenstelling van heilig—onheilig, godvresend—godveragtend, gaan ewig vasstaan
in die teensteling van koninkryk en verworpeling; van vrede en straf teenoor
mekaar. Ons kry soms swaar in die lewe en dan het ‘n mens die bekommernis, is
God nie besig om my te straf nie, het ek nie ‘n vreeslike ding begaan en daarom
slaag my lewe nie? Dis nooit, nooit so nie!
Die onrus van hierdie lewe is vir hulle wat die
belofte het, tydelik. Dis
iets wat verbygaan. Gewoonlik is die feit dat iets verbygaan, vir ‘n mens iets
om jou oor te bekommer. Jou lewe gaan verby, jou jeug gaan verby, jou werktyd
gaan verby, maar jou onrus gaan òòk verby. En die leed en die droefheid gaan
verby en die spanning en die smart hou op. Wat
standhou is die beloftewoord van God.
Die Bybel gebruik
die woord ‘belofte’ stellig omdat dit mensetaal is waarin die Woord kom, maar
as ons oor die belofte van God mensvormig sou dink, maak ons ‘n fout. God se
belofte en die daarstel van wat Hy belowe, is dieselfde. As God sê: ‘Ek sal
hulle help’, dan ís Sy krag by ons. As Hy sê: ‘Ek sal onder hulle woon’, dan ís
Hy by ons. ‘n Belofte van God is nie iets wat nog moet kom nie.
Sê die Psalm nie:
“geen hede, toekoms of vergange...”, tyd
tel nie? Daarom is hierdie beloftes wat
ons besit, wat ons het, die vertrekpunt van my heiligmaking en van die
teenstelling wat God op aarde eis, en dit moet ons volbring.
Ons wys u op die
tweede paar gedagtes wat uit hiedie teks kom; dat ons die heiligmaking moet
volbring. Hoe verkeerd sou dit nie wees as ons die Bybel gaan verander soos sommige
dink moet gebeur nie, dat ons praat van ‘ons’ heiligmaking of’my’ heiligmaking,
‘my’ proses wat in ‘my’ lewe tot stand kom.
Ek glo nie dit is
iets wat by ons bestaan nie. Maar jy hoor baie dat mense praat van ‘ons’
heiligmaking, ‘die kerk’ se heiligmaking. Dis nie iets wat aan die kerk behoort
nie.
Die kerk het die
belofte. Die heiligmaking is iets wat jy moet doén. En dit is die belydenis van
die werk wat die Heilige Gees in ons doen. ‘n Belydenis, ‘n erkenning dat die
Here in my woon. As Hy hier sê, as deel van die belofte: ‘Ek sal in hulle woon
en onder hulle wandel omdat hulle ‘n tempel is’, dan praat die Bybel van die
Heilige Gees van God en Sy werk.
Wanneer ons dan
die heiligmaking moet volbring, begin dit soos alles in godsdiens, by die Here,
die Almagtige, se werk. Die heiligmaking
is ‘n belydenis dat die Heilige Gees in ons leef. Hoe kon ek sê die Gees
van God woon in my en ek leef soos ‘n dier of soos ‘n heiden?
Die begin van die
proses van om te volbring (want om te volbring is iets wat begin en klaar word,
dis ‘n proses) die begin van die heiligmaking is dat ons moet sê: die Heilige
Gees werk in my.
Kan u nou sien
hoe verskriklik is dit as mense meen dat hulle moet vra: kom tog deur U Gees na
ons toe; dat hulle na die Gees van God moet soek?! En wanneer jy in die ekstase
van die Heilige Gees meen dat jy God gevind het. Dis nie so nie! Die Heilige
Gees woon in ons, is altyd by ons.
Dis deel van die belofte: ‘Ek sal onder julle woon
en onder julle wandel’ d.w.s. waar jy tuis is en waar jy werk, waar jy gaan, is
hierdie heiligmakende, oortuigende werk van die Heilige Gees inderdaad die
sentrale punt waarom ons hele geloofsbelydenis draai. Kan ek sê dat die Vader my geskape het en my
versorg, as ek nie weet dat die Heilige Gees dit in my as ‘n oortuiging sê nie?
Hoe kan ek bely
as ek nie oortuig is nie? As ek sê die Here Jesus vergewe my sonde, maak my
salig en bring my in die ewige Koninkryk van God, dan kan ek dit nie sê as die
Heilige Gees nie in my woon nie.
Daarom is die
belydenis oor die werk van die Heilige Gees dié saak waaroor dit gaan in ons
geestelike lewe. En geen wonder nie dat juis oor hierdie belydenis die
verwarring, die foute, en die misverstande bestaan. En die vernaamste van
hierdie foute, waar alles op neerkom, is, ek moet God vrá: ‘Gee tog U Gees’,
terwyl; Hy reeds by ons is.
Dis die één ding
wat jy nié vir die Here vra nie. Jy dank Hom, ja. ‘n Mens leer in die Bybel dat
wanneer jy vir God vra in die gebed, vra jy die dinge wat jy nie het nie. En
die dinge w at jy wel het, daar dánk jy Hom voor. Dit is die kenmerk en
struktuur van ‘n gelowige se gebed en lewe.
Nou sê hierdie
teksvers, jou liggaamlike en jou
geestelike lewe moet die kenmerke van die inwoon van die Gees vertoon. Nie
net wanneer ek besig is met formele godsdiens, Bybel lees, Bybelstudie, kerk
toe om, gebede doen, huisgodsdiens nie...Nie net dán moet die heiligmaking by
my werk nie, maar ook net so goed wanneer ek besig is om kos te verdien,
wanneer ek besig is om te rus; wat ons ookal mag doen, liggaamlik en geestelik,
vlees en gees (dit is die woorde wat hier in die teks staan).
‘n Mens moet dit
nie sommer verander in ‘liggaam en siel’ nie. ‘Vlees en gees’ is nes
‘heiligmaking’ ‘n vaste term in die Bybel. Lees ‘n bietjie Romeine 8 weer ‘n
keer. Daar gaan dit uitsluitlik oor die teenstelling: ‘vlees en gees’. En as jy
op een plek in die Bybel ‘liggaam en siel’ maak, dan moet jy dit op die ander
plekke ook doen, en waar bly die Woord van God dan oor? Ons moet mos die Woord
van God glo soos Hy dit gee.
Dis die groot
teenstelling: die heiligmaking teenoor onheilig bly. Vlees en gees.
En nou kom
Korinthe hier in hierdie teks en sê: moenie net dat vlees en gees ‘n
teenstelling in jou lewe wees nie, bring dit bymekaar in die heiligmaking. Dis die krag van die volbring van die
heiligmaking, dat wat normaalweg ‘n teenstelling is, moet verval in my lewe.
My liggaam (hy
word siek, hy gaan dood), my gees (die leef); die gelowiges (wat God eer), die
ongeloof (wat Hom nié eer nie); my luste en my liefde vir God; die teenstelling
vlees – gees moet verval.
Ek moenie
partykeer sê: hierdie ding het ek gedoen omdat ek bewoë geword het deur die
waarheid van die Evangelie, nie; hierdie ding het ek gedoen omdat ek maar ‘n
swak mens is, omdat ek ‘n liggaam het wat ook sy eise stel, nie. Vlees en gees
moenie in ons lewe ‘n teenstelling wees nie.
Ek dink dat dit
dié groot struikelblok is vir baie gelowiges waaroor ons val, dat ons hierdie
teenstelling wat in die wêreld bestaan, nie uitroei nie, en dat ons die
tweedelig-heid, vlees en gees, probeer behou.
En dan gebruik
die Bybel hier ‘n belangrike woord nl. besoedeling.
Besoedeling is
iets wat die lewe onmoontlik maak. Ons verstaan dit in ons dae baie beter, dink
ek, as in die ou tyd toe die wêreld nie so besoedel was nie. Het u al op ‘n
stil aand in ‘n besige straat, na die spitsverkeer beweeg, en die benoude
gevoel gekry van al die uitlaatgasse van motorkarre? En onthou hoe vry haal jy
asem as jy ver weg in die natuur is?
Besoedeling is
maar ‘n voorbeeld. Wat word nie alles besoedel nie. Jy kan nie leef in
besoedeling nie. Jy’s nie net vuil nie –ek sal nogal goed regkom al is ek
vuil—dis nie net ‘n onreinheid wat jou aankleef nie, dis ‘n besoedeling wat die
lewe onmoontlik maak, en daarvan moet ons ons reinig.Jy moet die besoedeling
wegneem. Nie die teenstelling vlees—gees eerstens in jou eie lewe handhaaf nie.
Wat ek met my liggaam doen en wat ek dink met my
gedagtes, is in diens van God. Dis nie so ingewikkeld nie, dis net iets waaraan jy moet dink: dat jy altyd
‘n woning van God is, altyd ‘n kind van God is.
Nou, as jy
hierdie dinge bely, weet en sê, dan moet jy kom tot die daad van die geloof,
want belydenis kan nie net woorde wees nie. As ‘n belydenis net woorde bly, hou
dit op om ‘n belydenis te wees; dan jok jy eintlik want jy sê iets wat jy nie
gaan doen nie.
Daarom dwing hierdie belydenis van die
heiligmaking en die belydenis dat ons ons wil reinig van besoedeling: die
opruiming en vervanging van dit wat die lewe onmoontlik maak, met dit wat die
lewe moontlik maak.
Hierdie opruiming is die werk wat ‘n gelowige van God ontvang om te doen.
En dit maak dan
ook die praktyk van jou godsdiens makliker. Wanneer ek moet besluit wat ek moet
doen in hierdie saak, wat is my besluit, wat is my keuse wat ek moet maak, dan
moet ek weet dit is ‘n opruimingswerk. Ek moet die besoedeling opruim sodat die
suiwerheid en die lewensmoontlikheid wat God gee in my, nie tot niet gaan nie.
Ag, doen ons nie
dikwels die teenoorgestelde daarvan nie, dat ons ons gedagtes besoedel met wat
ons lees, met waarna ons kyk as ons die televisiestel aanskakel. Dìs die goed
waarteen ‘n mens praat en dan lyk dit naderhand of jy tog ook nie veel het om
te sê nie; dit bly maar dieselfde dinge: wat lees jy, waarna kyk jy, wat is jou
vreugde, wat is jou plesiere...maar is daar dan iets anders wat ‘n mens se gees
en liggaam besig hou, iets anders as juis dié dinge wat van buite na jou toe
aankom?
Dis die maklikste
om hierdie goed wat van buite kom op te ruim: lees nie gemors nie, lees wat
goed is, bedink wat goed is, praat oor dinge wat goed is; dit is wat van buite
kom.
Daar is natuurlik
ook die besoedeling wat van binne kom. Daarvoor is dit nodig dat ‘n mens voor
die Here in gebede lewe. Psalm 119 sê op ‘n plek: ‘Help my Heer, dat ek kan
lewe...’ Jy moet nie net die hulp van die
Here vra vir die tydelike lewe nie, maar vir alles wat jy doen.
En dan sluit
hierdie skrifgedeelte af met nog ‘n wonderbare gedagte; dis ‘n gelade sin
hierdie, nie ‘n klomp los sinnetjies nie. Ek lees weer die teks:
“Terwyl ons dan hierdie beloftes het, geliefdes, laat ons ons van alle
besoedeling van die vlees en gees reinig en laat ons die heiligmaking in die
vrees van God volbring.”
Hierdie “in die
vrees van God” is vlammende woorde uit die Bybel. Dit kom op twee maniere na
jou toe: die Here het in Genesis (as ek dit reg het) die eerste keer laat
opskrywe: ‘Vrees nie’, ‘Moenie vrees nie’. ‘Vrees nie, want Ek is die God van
die verbond’, het Hy vir Abraham gesê. Van toe af gaan die woorde ‘vrees nie’
soos ‘n helder noot wat ontroer en versterk, deur die gelowiges se lewe van
alle eeue: ‘Vrees nie’.
En Paulus sê self
(en Petrus skryf dit ook): ‘Gaan ons dan nou terugval in ‘n lewe van vrees,
want vrees is die kenmerk van die heidendom’? Jy moenie jou gode kwaad maak
nie, dan het jy moeilikheid. Probeer die gode kwaad maak vir jou vyande, dan
sukkel hùlle. Dit is die heidendom.
En nou sê die
Here: jy moet God vrees. Dis iets anders as die angsvallige vermyding van
gevare wat die heidendom se vrees kenmerk. Om God te vrees beteken dat jy Hom
ken. Jy moet die Bybel verstaan in sy geheel. Dis mos nie los deeltjies nie.
‘Die vrees van
die Here is die begin van die wysheid’, het koning Salomo in sy Spreuke-boek
gesê. Daarom is die vrees van God dít: Ek
ken God in Sy liefde, in Sy erbarming, in Sy troos én in die verskriklike van
Sy oordele.
Kan ‘n mens God
ken en nie weet watter geweld en verwoesting gaan van Hom uit oor die wat Hom
nie eer nie en Sy eer verlaat en verag nie? Ons het al baie verwys na die
verskriklike voorbeeld hiervan in die woestyntyd van Israel se lewe, toe Korag,
Datan en Abiram met hulle vrouens en kinders en al hul besittings in die aarde
ingeval het met ‘n aardbewing wat God beskik het. Die aarde het sy mond
oopgemaak en die hele klomp daar ingesluk en weer toegemaak. (Ek kan net dink
hoe ‘n sensasie-berig dit sou uitmaak as jy daaroor moet praat.) Maar dit is
die vrees van God; dit is die vrese van die Here wat Sy oordeel en Sy genade
ken.
Nou maak die
mense hiervan ook ‘n teenstelling nl. dáár is God se genade in Christus, dáár
Sy oordeel. Maar God se genade en oordeel
gebeur saam, nes die heiligmaking in vlees én gees moet gebeur.
As God vir jou
goed is, het Hy die onheil veroordeel. As God die onheil straf, het Hy Sy
genade verkondig oor dié wat in Hom glo. Ons moenie teenstellings maak nie en
in dubbelslagtighede leef nie. Die filosofiese woord is ‘dualisme’. Asof jy in
alles maar twee spore het en dit kan nie anders nie, jy het maar die twéé dinge.
Dit is die kern
van die Evangeliese opdrag: dat ons juis nié in ‘n ‘dualisme’ leef nie. Dat ons
dinge wat vir die natuurlike goddelose mens ‘n teenstelling is, nie as ‘n
teenstelling deurleef nie.
Vra iemand dan:
‘Wat doen ‘n mens as jy die heiligmaking in die vrees van God volbring terwyl
jy al hierdie beloftes het’, vra ene: ‘Wat is die kerngedagte van hierdie
teks?’, dan loop dit hierop uit: Moenie
uitmekaar haal wat God in jou saamvoeg nie. Moenie probeer om in
onheiligheid te lewe omdat jy twee spore het om op te beweeg nie. Die Evangelie
het één pad.
Dit was ook
genoem in die ou tyd: ‘die weg’. Mense wat van ‘die weg’ was. En ‘die weg’ was
nie ‘n plaaspad met twee spore nie, dis één pad waarop ons gaan. Dis ‘n ietwat
verrassende uitkoms, want ‘n mens sou nou dink die toepassing van die teks moet
wees: jy moet nou al hierdie sondes los en jy moet nou begin om reg te lewe.
Maar die
toepassing gaan dieper as dit, en sê: moenie uitmekaarhaal wat God in saamvoeg
nie. Kry ‘n oog, ‘n begrip vir die bymekaarvoeg deur God in jou lewe van al die
gawes wat die Here gee en sien: voorspoed---teenspoed, geluk---verdriet,
lewe---sterwe...al hierdie dinge wat vir die natuurlike mens twee dinge is,
maak God een saak.
As daar ‘n
babatjie gebore word, dan weet ons hy gaan sterwe; dan weet ons hy’s gebore as
‘n kind van God (as hy ‘n gelowige was). Ek gebruik sulke voorbeelde, en wat ‘n
troos is dit nie, dat die Here hierdie teenstellings wegneem nie. Want as jy
oud geword het en jy het nie krag nie, dan het jy die troos dat die Here die
krag vernuut. Wanneer ek worstel in leed het ek die troos dat die Here die
stryd sal laat eindig. Wanneer ek voor die wêreld ontsteld is, het ek die troos
dat ek die Vrederyk van God besit. Dit is die troos van hierdie skrifgedeelte.
Mag die Here gee, dat ons nie ons troos weggooi
deur in ‘n tweeledigheid te probeer lewe terwyl die Here alles saamvoeg in Sy
diens nie. Die
kerkhervormer, Calvyn, het dit baie mooi verstaan toe hy sy leuse gemaak het:
“Aan God alleen die eer.”
Amen.