Ds. Jan Coetzee Oggenddiens
Lees: 2 Thess. 2:
1-17 Sing:
Ps. 66: 1, 2
Teks: 2 Thess. 2:
15 Ps. 25: 2
Ps. 86: 1, 2
Ps. 43: 4, 5
Ps. 87: 1, 4, 5
Die Bybel leer
ons nie net hoe goed God is nie, maar hy leer ons ook ‘n amper onbegryplike
saak. Dat God die kwaad aanhits en
toelaat dat daar magte ontplooi wat vyande van
God is.
Die Thessalonisense
word gewaarsku teen hierdie onchristelike magte wat deur die loop van die eeue
ontwikkel en as dit toé amper tweeduisend jaar gelede al ‘n gevaar was, dan
moet ons nie dink die gevaar is nou afgewend nie. Maar hier is een amper
onbegryplike opmerking wat die appostel maak. Hy sê: die mense van Thessalonica
het geweet wat hou die antichris teë. Hulle het ook geweet Wié hou hom teë dat
hy nie sommer dadelik kom en aanvalle teen God voer en die kerk probeer verwoes
nie. Maar dat hy ondergronds, suutjies-suutjies, maar onafwendbaar sy kwaad
verrig.
Dit is kennis wat
by ons nie meer bestaan nie. En dit help nie om te raai Wie hou die antichris
teë nie. Ons weet dat niks gebeur sonder God se wil nie, en daarom moet ons seker
die antwoord soek in dié rigting: God het
‘n tyd vir alles...nou gee Hy die kerk ‘n wapen téén die antichris. Want die
antichris het ook ‘n wapen, net een, en dit is verleiding.
Hy kom en sê
dinge wat nie so is nie en bring mense tot die oortuiging van die leuen asof
dit die waarheid is. Hy sal selfs as God op die troon van God sit en aanbid
word! Dit sal die minderheid van die mensdom wees wat nie in hierdie
ongoddelike mag glo nie. Die kerk sal eensaam word maar moet teen die antichris
sy wapen gebruik.
En dié wapen is
in een opsig moeilik en in ‘n ander opsig maklik. So skrywe die Bybel dan aan
ons en aan die Thessalonisense: “ So dan, broeders, terwyl julle al hierdie
goed weet, staan vas en hou julle aan die voorskrifte wat julle geleer is...”
deur die briewe van die appostels, deur hulle woorde.
Dìt is die wapen van die kerk teen die verleidende
mag van die goddeloosheid, dat jy by wat jy geleer het, staan.
Maar nou is dit juis op dié punt waar die goddelose magte hulle toespits en die
feite wat jy geleer het uit die Bybel en die waarheid wat jy leer glo het, word
twyfelagtig gestel. Met
een enkele enkelvoudige formule deur te sê: die Bybel het ontstaan in die ou
tyd.
En in die ou tyd
was die lewe anders as nou. Dit is in wese om die Woord van God tydgebonde te
maak. En hoe kan jy nou anders as om te anvaar dat die Bybel inderdaad in die
ou tyd ontstaan hét. Daar is dele uit die Bybel wat seker 1200 jaar voor
Christus al opgeskrywe was. Ek meen dis die lofsang van Deborah. (Meen dit nie,
dit is so.) ‘n Vrou het in die ou tyd, in die gryse verlede, die lof van God
gesing toe sy die volk waaraan sy behoort het, gelei het in die stryd teen die
duiwel se magte.
Nou sê die mense
nié dat Deborah se lied nie in die Bybel moet wees nie, hulle sê: sien julle,
dit het eers agterna gekom dat vrouens nie so op die voorgrond moet wees nie.
Maar die Bybel praat nie van ‘n mens se plek omdat jy aan ‘n bepaalde geslag of
groep behoort nie, die Bybel praat daarvan dat God jou uitverkies het, jou
geroep het tot stryd téén die goddeloosheid en dán maak dit nie saak wie jy is
of waar jy gaan nie, mens moet vas staan.
Ons wil graag,
teen hierdie agtergrond (--om nou nie soos Paulus te sê, ‘so dan’, nie—)
broeders en susters, terwyl ons hierdie dinge weet...wil ons graag hierdie
stryd wat ons het, hierdie vasstaan teen die antichris, bespreek en eerstens
daarop wys dat daar inderdaad vyandskap teen Christus is.
Ons het nie vyande nie. Die mensdom word nie
aangeval deur vyande wat van ons kant kom nie. Ons vyande is maar by wyse van
afleiding omdat ons by Christus staan.
In die dorp
Antiochië –daar was twee, ene in die huidige Turkye en die ander in
Palestina—die een in Palestina, was ‘n plek waar die kerk ‘n bynaam gekry het:
Christene. Dáár, so sê die boek Handelinge, is die mense wat van dié weg was
vir die eerste keer Christene genoem.En van daaruit het die hele
sending-roeping gegaan van Paulus om die Evangelie in die wêreld te verkondig.
En oral waar hy gekom het was daar vyandskap teen sy boodskap van Verlossing.
Die rede is dat God die duiwel --nou praat ek maar
menslik—verras het. Hy
het nie geweet daar gaan ‘n Middelaar kom nie. Dis duidelik uit die Bybel en
uit die sondeval en uit die verleiding wat hy in die Paradys met Adam en Eva
gedoen het.
Hy het gedink hy kan God se werk bedorwe. En God gaan òf Adam en Eva vergewe en sê:
Toemaar, julle het ‘n vreeslike sonde gedoen , maar dis maar goed...Dan kan die
duiwel sê: God staan nie vas by sy eie besluite nie (en dit sou so wees); òf
die Here kon Adam en Eva verwoes en vernietig het en in die ewige verderf
ingegooi het, en dan kon die duiwel sê: God staan nie vas by die Skepping na Sy
beeld nie. En hy het gedink, eerlik gedink, so kan hy God aanval.
Maar die Here kom
toe met die gedagte van die Middelaar. Nie toé nie, dit is van ewigheid af deur
Hom besluit, sodat ons weet dat die duiwel nie op hoogte was van al God se raad
nie en al Sy planne nie. En toe moet hy
teen Christus veg. Teen ‘n Middelaar wat tussen die toornige God en die
swak mensdom inkom, die straf dra en net één eis stel: Julle moet in Christus
glò.
En nou is die
vyandskap van die goddelose magte –want die antichris moet uiteindelik nog kom,
hy het baie helpers en voorlopers—hulle oogmerk is om Christus te probeer tot
niet maak, en die manier waarop hierdie stryd tans gevoer word, dis nou vandat
die Here Jesus in heerlikheid opgeneem is tot die hede toe, is om vir die kerk
te sê: Wat julle glo het ‘n vraagteken oor; wat julle aanvaar is nie regtig of
noodwendig so nie; dálk glo julle reg.
Het u hierdie
ongelooflike sluheid al bedink dat die goddelose magte vir die gelowiges sê:
Dálk is julle reg. Maar die Bybel sê ons glo inderdáád reg. Daarom is die vyandskap wat teen Christus
bestaan, ‘n vyandskap wat met sluwe waarhede werk.
As ons dan moet
vasstaan, dan is dit om nie verskrik te word as ons hoor een sê: Jy’s ‘n
Christen. Dit lyk of jy reg kan wees, maar daar is nog baie ander, en dit lyk
of hulle òòk reg is.
In die Evangelie
is die Middelaar geopenbaar, en het die duiwel ‘n teëstander van Christus
geword. In die Evangelie word vir ons geleer dat Johannes sy vinger gewys het
na die Here en gesê het: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld
wegneem. En toe het die Heilige Gees met ‘n salwende werking, dit wil sê net om
dit wettig voor God te maak, op die Here neergedaal –dit is by die doop van die
Here in die Jordaanrivier—en het die duiwel begin om met verleiding Christus
aan te val, veertig dae in die woestyn.
U ken die
geskiedenis duidelik uit die Evangelie. En nou is hierdie magstryd teen die
persoon van onse Here steeds aan die gang. Maar die Here is in die heerlikheid,
Hy sit aan die regterhand van God; die duiwel kan Hom nie daar bykom nie, self
is hy uit die Hemele uitgegooi. Die Here Jesus het dit self gedoen en gesê Hy
het die Satan sien val soos ‘n bliksem uit die Hemel, so vinnig. En nou moet die duiwel ‘n ander plan maak in
sy vyandskap en sy plan is gedagte-strominge.
In die begin van
die Christendom het hy al daarmee begin. Daar was ‘n man wat in Persië gewoon
het (die Nederlandse Geloofsbelydenis vertel van hom). Sy naam was Mani (nie
die afkorting vir Hermanus nie), en hy het geleer dat God nie die Engele gemaak
het en een van hulle het geval in sonde nie. Hy het geleer dar was maar altyd
‘n ongoddelike mag en die Here sukkel van die begin af teen hom.
Hierdie leer van
‘n ewige kwaad is die eerste sondige ideologie wat daar in die wêreld gekom
het. Die kerk van daardie tyd het vas gestaan en het nie ‘n woord geglo van wat
Mani sê nie behalwe dat hy ‘n klomp verlei het. Hulle word genoem in die
geskiedenis: die Manigeërs. Mense wat nié glo dat die duiwel ‘n ongehoorsame
skepsel is nie, maar wat glo die duiwel is ‘n alternatief vir God.
En dit is die kenmerk van die stryd wat die
anti-christelike magte teen Christus voer. Dit is die metode van die ideologie:
van ‘n alternatief vir God stel, of alternatiewé, dat jy nie in die ewige ware
God glo en Hom alleen bely nie.
Dit was dan al in
die tyd van Paulus so en daarom skrywe hy aan die Thessalonisense hulle moenie
moed verloor nie. Want die Wederkoms bly weg en hulle ideologiese teëstanders
het gesê: Sien julle, die Here Jesus kom nie terug na die wêreld toe nie, julle
het maar so gehoor by Hom. Dit is nie so nie. En toe skrywe hy aan hierdie
mense, wat geskok staan omdat die wederkoms so lank wegbly: Moenie moed verloor nie, moenie luister na
mense wat sê hulle is appostels nie m.a.w. wys hulle ideologieë, wat tot jou
kom, áf. En dit is die wese van vas staan.
As hy dan vir die
kerk sê ‘staan vas en hou by wat julle geleer het’ dan is die eerste ding wat
die Evangelie ons leer, dat die Here nie ‘n kalender opgestel het vir sy werke
en dìt bekend gemaak het nie. Die Gods-openbaring is nie ‘n tydtafel waar die
Here op gesette tye sy werke laat bekend word vooruit nie. Die Bybel is wel ‘n
boek wat sê dát dit gebeur, maar die wánneer word oorgelaat aan ‘n mens se
geloof. Ons meen dat dit ‘n belangrike rigting-aanwyser is vir wat ‘n mens moet
doen as jy in Christus glo.
Jy moet glo dat die beloftes, die vooruitsegginge,
die werk wat God sê Hy doen, dát Hy dit gaan doen, maar jy moenie soek na die
tyd wánneer dit gaan gebeur nie. Geloof is ‘n geloof in die werkende God. Die Here Jesus het op ‘n keer vir die
dissipels gesê: “My Vader werk altyd, en Ek werk ook.” Daarom is die Evangelie
aan ons gegee as ‘n opvoeding in die kennis van die Here.
Hoe kan jy glo
dát God dinge doen as jy nie weet wát Hy sê dat Hy gedoen het en gáán doen nie?
Hoe kan jy glo dát God die oorwinnaar is as jy na datums soek? Hoe kan jy glo
dat die Here die sonde tot niet maak as jy in jouself nog swakhede vind? En
daarom maak al hierdie tydgebonde dinge: my sondigheid, my swakheid, my
ontoereikendheid, die wêreld se gebondenheid aan oorsaak en gevolg, nie die
Evangelie tot niet nie.
Daar was hier in
ons land daardie groot geskiedkundige, prof. A.J.H.van der Walt, wat ook rektor
was van UNISA, wat veral hierdie metode van die geskiedenis uitgespel het (ek
dink dis sy groot bydrae): geskiedenis is oorsaak en gevolg en ‘n opeenhoping.
En as jy dit naspeur, kan jy verstaan wat gaan in die wêreld aan en dit ìs so.
Maar as jy nou
geloof wil koppel aan die historiese wetenskap òf enige ander geesteswetenskap,
dan kom jy uit by vrae en vrae nogeens vrae. Want my geloof is nie gebind aan
wat mense my dwing om te doen, wat mense my verlei om te doen, wat mense in hul
tydgebondenheid noodwendig moét doen nie.
Geloof is dát God werke doen en voleindig.
In Thessalonika
het hulle gevra na die Wederkoms: ‘Wanneer gebeur dit dan?’ want die magte van
die heidendom was sterk. Dit was in die tyd toe die afgodery van die Romeinse
Ryk nog sterk was en u weet dat die hoofgod van die Romeine die keiser was. Hy
het hom ook ‘die seun van god’ genoem. En dit is die aanklag wat die Jode teen
Christus gebring het (by die Romeinse Reg). ‘Hy sê Hy is die Seun van God
terwyl die keiser dit tog is!’ Dit het op die kruisiging van Christus
uitgeloop.
Nou stuur God sy Woord en die bediening van sy
Woord en wil Hy sy kerk gedurigdeur herinner aan die feit dat God wérk.
Dis jammer dat
goeie en goed-bedoelende skrywers so moeite doen om die dwaling, dat God beheer
verloor het, te probeer weerlê. Want as jy dit wil gaan bewys uit die
wêreld-gebeure, kom jy by niks uit nie. God laat toe dat die kwaad hand oor
hand toeneem.
Paulus het
geskrywe aan die Thessalonisense: die afval moet eers kom, die afvalligheid
moet ‘n hoogtepunt bereik, sodat die mens van ongeregtigheid geopenbaar kan
word. Jy moet kan sien dáár staan die onregdoener, onregdoenérs, soos hulle in
die geskiedenis se loop bekend raak.
God is die beheerder van oorsaak en gevolg. God is dit wat dit sò maak dat niemand
vir altyd kan wegkruip nie.
Julle weet wat
hom teëhou, en dit is maar my persoonlike raaiskoot hierdie, broeders en
susters, dit staan nie in die Woord van God nie, maar ek dink, wat die
antichris teëhou, is die liggelowigheid van sommige mense wat die leuen glo.
Paulus sê die dwaling, die krag van die dwaling,
word gestuur sodat hulle die leuen glo. En dit gebeur sienderoë! En dan kan die antichris
nie geopenbaar word nie. Dan kan die ongoddelike nie bekend word nie.
Weet u hoe baie
geld spandeer mense aan die verspreiding van kennis en waarheid oor die
ongoddelike magte. Daar is gelowiges oor die hele wêreld wat moeite doen, en
hulle roeping daarin vind, om juis die antichris bloot te lê. En daar kòm nie
baie van nie. En ek meen dat dit hoofsaaklik is (dit staan nie in die Bybel
nie, ek dink dit maar) deur die liggelowigheid van die mense wat sommer een se
mening aanvaar omdat jy hom ken of om een of ander rede wìl glo wat hy vir jou
sê.
Nou sê die Bybel vir ons wat is die wapen teen
hierdie liggelowigheid,
teen enige onvermoë om die kwaad van sy kwaaddadigheid bekend te maak. Wat is
ons wapen, hoe staan ek vas?
Daar is so iets
soos ‘n valse behoudendheid. Dat jy ook maar ‘n tyd kies waar jy wil by staan,
plaas van by die waarheid. In die kerk was daar al baie sulke verkeerde
behoudendhede; dat jy ‘n tradisie volg pleks van die waarheid. En nét so het
daar al verskillende dwalinge gekom omdat mense ‘n onwaarheid aanbied en dan
volg mense hierdie aangebode onwaarheid asof dit waar is.
Wat moet ek dan
doen om rég behoudend te wees? Die Bybel leer ons dit in hierdie brief. In vers
13 en 14 staan daar dat God ons liefhet, éérste liefhet en dat Hy ons geroep
het en uitverkies. Hy’t ons deur sy
Evangelie-woord geroep: ‘Kén Christus!’, en Hy het ons uitgekies om dit te
onthou.
Maar mens kan jou
uitverkiesing vergeet omdat ook hierdie hele waarheid, dat God vir Hom ‘n kerk
uitverkies, deur mense betwyfel word met ‘n drog-redenasie. Hulle sê: hoe
onregverdig is dit nie; daar smag iemand dalk om tog ook God se kind te wees
maar nou is hy nie uitverkies nie en nou help dit hom niks. Dit is nie hoe dit
werk nie.
As die Here een
uitgekies het om sy kind te wees, dan juig daardie mens selfs in sy swakhede;
juig hy en dien hy God. En as God nié een uitverkies het nie, dan is hy soos
bv. die skrifgeleerdes en owerstes van die Jode wat geskreeu het: ‘Laat sy bloed
op ons en op ons kom!’ Dis ‘n verskriklike ding om te sê! Ons gaan die
Middelaar doodmaak en God kan my nageslag tot in die verste verte toe straf
daaroor. Dit sê een wat nie uitverkies is nie.
Daardie Herodes,
wat báie seuntjies van twee jaar oud laat vermoor het, omdat hy bang was dit is
dalk ‘n gevaar vir hom, was nie bekommerd daaroor of hy dalk die uitverkorene
is of nie. Daarmee hierdie twee voorbeelde. Daar is oneindig meer in die Bybel.
Die onbesorgdheid
van die dwaling, van die dwaler, is die bewys dat die Here se uitverkiesing vas
staan.
En die kommer en
die sorg en die angs en die benoudheid en die radeloosheid wat ‘n mens beetneem
as jy sien hoedat die kwaad toeneem, is bewys dat jy by God ìs en by Hom hoort.
Staan dan vas in jou nood, in jou vrees vir die
kwaad, ja, broeders en susters, staan vas in die stryd. Moet nie, om die vrede van die gemoed
ontwille, die kwaad verdra nie. Ons word tot heerlikheid geroep; ons is tot
saligheid verkies.
Dit is nie omdat
God dink ons is beter nie. Die rede vir God se uitverkiesing weet ons nimmer,
nimmer, nooit. Ook nie in die hiernamaals nie. God maak nié die redes vir sy
werke bekend nie. Hy is immers God. Maar dát Hy dit doen staan vas.
Watter troos is
dit nie, as jy by die swakheid van, sê, jou ouderdom staan... as jy versteld is
oor iemand siek is en nie gesond wil word, kan word nie... as jy by die
mislukkings en die treurigheid van jou lewe staan... watter troos is dit nie om te weet die Here roep my tot heerlikheid. Hierdie
aardse ellende, hierdie ding dat ek die liggaam uiteindelik moét afsterwe, is nie
die wese van godsdiens nie.
Daarom, omdat ons tot heerlikheid geroep is, is
elke mens geroep om elke vorm van onheil of kwaad te bestry.
Wat ‘n voorreg is
dit nie as die Here ‘n mens ook in ‘n roeping plaas, in hierdie lewe, wat jou
dring tot vermindering van leed en ellende. En watter verskrikking is dit nie
(en ek dink nou veral aan die polisie-diens van hierdie land) wat nie meer die
kwaad mag bestry soos dit hoort nie. Wat ‘n verskrikking is dit as jy dink: God roep my tot
heerlikheid en ek mag niks doen om leed te verlig nie. Maar wat ‘n troos om te
weet, al is dit so, dan moet die kerk vas staan by wat hy geleer het.
Dié roeping tot heerlikheid vergaan nié.
En dit is, meen
ek, een van die eienskappe wat ons lewe behoort te kenmerk. Dat ons die moed
behou, dat ons in die roeping tot heerlikheid volhard, in ons gehòòrsaamheid
aan die roeping tot heerlikheid volhard.
Ons moenie ophou
glo dat daar ‘n heerlike uiteinde van ons lewe is nie. En wat ‘n troos is dit
nie om te weet dat die almag en die liefde van God mense tot saligheid bring.
Ons sluit af met
‘n paar gedagtes om derdens daarop te wys dat hierdie teks ook nog dìt sê: Hou julle aan die voorskrifte wat julle
geleer het.
Ons het die getuienis
aangaande Christus en ons het ‘n vaste getuienis dat dit waar is. Dié van die
appostels, dié van die mense wat in die kerk volhard het, dié van hulle wat
onder groot moeite vasgestaan het. En die Here het aan sy gelowige volk op elke
plek in die wêreld altyd ‘n geskiedenis-agtergrond as getuies gegee.
Het u al daaraan
gedink dat daar nie ‘n enkele kerkgemeenskap in die hele wêreld is wat nie kan
dank vir ‘n gelowige voorgeslag nie. Mense wat vasgestaan het. In een van ons
stamlande, die Nederlande, het hulle 80 jaar vasgestaan teen Roomse
oorheersing. En dis maar een voorbeeld. In ons eie land se geskiedenis ontbreek
hierdie getuienis nie.
Nou vra ek: Wat laat ons geslag na? Moet ons dan nou
maar altyd die kinders leer om terug te gryp na ‘n vrome voorgeslag of kan òns
nageslag ook sê ‘My voorouers, nader as vêr terug, het ‘n getuienis aangaande
Christus vasgehou’?
Daaraan moet ek
nadink; u moet dit òòk doen, broeders en susters. Hoe getuig ek dit as ‘n lid
van die kerk, as een wat die Woord van God liefhet en daaruit wil leer?
En dan is daar
die tweede saak: Ons is verplig om van
die genade te spreek. Ons moét sê dat daar genade is. Die berymde Ps. 66 se
sewende vers sê: “Ek sal vertel aan al sy vriende wat Hy gedoen het aan my
gees.”
Ons maak dit maklik
af as dweep, maar daar is ook hierdie bevindelikheid van die geloof (ek dink
dis die naam wat hulle daarvoor het in die kerk). Jy moet tog ook kan sê dat jy
die genade ontvang het. En dan daarby lééf.
Maar nou is die
moeilikheid, jy kan nie baie van die genade praat en jy leef dalk soos een wat
nie die genade het nie...die twee goed gaan saam. Lewensvoorbeeld en ‘n getuienis aangaande die Here. Dìt moet u en ek
nalaat aan ‘n opgroeiende geslag wat baie moeite gaan hê om vas te staan by wat
hulle geleer het.
Maar ons het
Christus, die Middelaar, aan Wie die duiwel nie kon dink nie.
Ons het die
leidsman en die Voleinder van ons geloof.
Ons het God se
Woord in die Heilige Skrif.
Ons het gebede.
Ons kán dit doen deur die hulp en seën van die
Here.
Amen.