Ds.
Jan Coetzee 27 April 1997 Oggenddiens
Lees: II Tim. 3: 10-17 Teks: Vers 14-15
Sing: Ps. 68: 3, 5; Ps. 19: 4; Ps. 78: 1, 2; Ps. 42: 3, 5; Ps. 84: 2, 4
Daar word vandag, tereg, baie
gemaak van die behoefte aan ‘n woning, ‘n huis; ‘n mens moet ‘n huis hê. En dit
is ook die eerste werk wat die mense gedoen het in die ou tyd, in die begin, om
‘n manier van woon te maak, al was dit in ‘n grot. Nou leer die Bybel ons dat
die gelowiges by God woon maar nie in ‘n huis met hande gemaak nie. Nou waar is dan die woning van God? Dis die leer van
die Bybel. Die onderrig, die uiteensetting van wat God wil hê ons moet
doen. Dis ‘n kort woord: die leer van God se Woord. Maar dit het ‘n ontsaglike
inhoud, want die Here leer ons nie net een ding nie. Hy leer ons hoe ons in
elke opsig ons moet gedra. Hy leer ons waar lê ons troos. Hy leer ons om moed
te hou, en die rede waarom ons nie moed moet verloor nie.
Die wêreld probeer ook bestendigheid skep, maar doen dit deur woorde te gebruik
soos iets wat nie kan verander nie; deur woorde soos: dit moèt verander want
wat daar was is nie goed nie.
Maar die wêreld werk nie met geloof nie. As die wêreld hierdie dinge in die
geloof sou doen, dan het die kerk daar ‘n heilige vrede mee nie waar nie.
Want wat uit die geloof is, is goed. Maar wat uit ongeloof gedoen word
kan nooit goed wees nie. Nou leer die Bybel ons dat die leer van die Here aan
ons ‘n veilige woonplek gee as jy dit glo. Menslike bedenkinge word weggewys.
Wat ek uitdink, wat ‘n ander mens uitdink, is niks, rnaar God gee die ewige
lewe wat aanhou. Nou is die ewige lewe ‘n belangrike saak.
Kyk, die Here wag nie tot die Here Jesus eendag weer kon en dan kom die ewige
lewe nie. Hy gee dit nou al. Ons het twee lewens: ‘n tydelike lewe wat vergaan
en ‘n ewige lewe wat nie vergaan nie. Dit het ons nou al. En die ewige lewe wat nie vergaan nie woon in die leer van
die Bybel. Daarom is daar in die harte van die gelowige mense ‘n liefde vir
die onderrig.
Paulus skrywe vir Timotheus hierdie brief. Ten eerste sê hy (en hy het dit op
‘n ander plek ook gesê) dat Thimotheus se moeder en grootmoeder, gelowige
vroue, hom (Thimotheus) onderrig het in die weg van die Here. En toe het Paulus
self hom geleer hoe om as predikant op te tree. Thimotheus was een van die eerste
‘nie-apostel’-predikante. ‘n Opgeleide mens; een wat moes leer.
Nou skrywe Paulus hier aan hom en daarmee aan alle mense van hierdie onderrig
waardeur die gelowiges God leer ken. Thimotheus se pa was blykbaar ‘n
ongelowige Griek, nie ‘n gelowige nie, maar hy het ‘n gelowige moeder en
grootmoeder gehad. Die Bybel leer ons hier dat ‘n gelowige mens uit sy onderrig
lewe omdat jy mos weet dit is verbondsouers wat jou dit geleer het.
As ek lees hoe die mens vandag moeite maak en spanning veroorsaak oor die plek
van die vrou in die kerk, dan dink ek hulle moet net gaan kyk na Timotheus se
ma en grootmoeder, wat die grond gelê
het, die fondament daargestel het in hulle roeping as moeder en grootmoeder, as
vroue, sodat hy uiteindelik een van die eerste Woordverkondigers kon wees. Hoe sou mens ooit hierdie onderrig van moedersknie na waarde kan skat?
Nou leer die Here Jesus ons dat
hierdie onderrig eintlik jou huis is. Dit maak jou veilig, dit gee
jou behoud, dit maak dat jy nie vervaard word nie, dit gee aan jou ‘n plek om te bestaan.
Ons wys u eerstens daarop
dat hierdie geestelike woning, hierdie leer-woning, veiligheid borg.
Die woord wat Paulus hier in die teks gebruik is: ‘bly in wat jy geleer het’. Hierdie ‘bly’
is nie om maar sommer
soos ‘n dom ding
nie notisie te neem van iets anders nie, maar dis ‘n
interessante woord. Dit beteken, volgens die woordeboeke, dat jy eintlik aanhou om te woon in dieselfde plek. Bly in wat
jy geleer het, moenie trek nie. Moenie na ‘n ander leerstuk trek nie, woon hier.
Ons almal weet dat wanneer
iemand lank op ‘n plek woon, wanneer
‘n volk lank in ‘n land woon, dan ontstaan daar waardes. Maar wie los rondrol soos ‘n klip (soos die engelse
sê) maak nie bymekaar nie.
Daarom moet ons nie eksperimenteer met baie soorte leerstellinge
nie: die leer van die Evangelie staan vas. En ons moet daarin woon.
Dit is direk in stryd met die gees en gesindheid van ons tyd.
In ons dae wil die mense nuwe dinge beleef, nuwe dinge verstaan
en interessanter leefwyses hê as wat ons ken. Daar mag
terreine wees waarop dit nie saak maak nie soos kleredrag, kos
wat jy eet, die soort verf
wat jy aan die mure van jou huis verf. . . Dit tel nie.
Maar die voortgaande inwoon in die leer van die Verbond,
dis waaroor dit gaan. Hierdie leer van die verbond beteken dat die Here aan sy kinders sekerheid en
veiligheid wil gee. God wil
nie dat die mense moet twyfel,
moet wonder wat die waarheid is nie. Die duiwel werk met twyfel; die bose werk met vraagtekens. God werk met volsinne en ‘n punt
daarna.
Nou is dit baie moeilik vir ‘n mens wat aan nood en
beproewinge onderwerp is om
hierdie veiligheid van die leer te verstaan en God daarvoor te dank. Hoe baie keer gebeur dit nie dat ‘n mens
wel wil vashou aan die leer maar
tog onrustig voel. Daarom bly ‘n Psalm soos Psalm 42 die aangrypende,
van ‘n mens wat teen alle verwagting in nog op God hoop.
Die digter van die Psalm was ‘n
banneling en hy het die gedig gemaak by die oorsprong van die Jordaanrivier. Klein Stroompies in die berge, in die noorde van Palestina… en soos die ou stroompies daar
kabbel word dit in sy gedagte ‘n vloed wat na die vloed roep en sien hy in die geringheid reeds die groot rivier.
Dis die geheim wat die Bybel ons wil laat verstaan: dat die leer van die Bybel baie keer oor klein dinge gaan wat vir jou sê die Here sorg vir
jou. Niks gebeur sonder sy wil nie.
As daar dinge gebeur wat jou verskrik dan moet jy weet die volle stroom van God
se genade droog nie op nie,
maar gaan verder.
Nou kan jy hierdie dinge vir een sê en jy kan hom probeer troos en vir horn sê: hoor hier, die Here gaan
vorentoe vir jou tog baie goed wees. Dan troos jy niernand nie. Maar as jy vir een sê: die Here Jesus het jou aangeneem as sy kind, die Here het jou skuld vergewe, God het sy Verbond met jou opgerig en Hy hou dit in stand; ja, dan het jy ‘n woning by God waar
jy altyd in kan wees.
Ons (baie van ons) het in
hierdie land van ons die wonderlike voorreg van ‘n voorgeslag wat oor die dinge
nie getwyfel het nie; wat baie dinge ontbeer het, miskien min gehad het om hulle in te verlustig maar die sekerheid van die
geloof besit het. Dit lyk vir my, soos wat die ander dinge meer geword het in
ons lewe, die voorregte toegeneem het, vir sommige mense, ook die woonplek by
God vér begin lyk. En dit kan ek verstaan. As mens so te make het met die
moeite van hier en nou is dit ‘n worsteling om te weet: maar eintlik woon ek by
God.
Paulus, wat hierdie dinge vir Timotheus geskrywe het, het op’n plek gesê: ons
is vreemdelinge op hierdie aarde. Ons is reisigers oppad na ‘n lewe wat ons nie
ken nie. En ek dink as mens eerlik is sal ‘n mens sê: dis vir my lekkerder op die bekende pad as om te
dink aan die onbekende bestemming.
Dit is waarom ons hier hoor: bly in wat jy geleer het, jy weet immers van wie
jy dit geleer het; dit was jou ouers, dit was mense wat soms uit hul eie
swakheid en soms ten spyte van hul swakheid die waarheid aan jou oorgedra het.
Dis die wonder van die Evangelie. Jy weet van wie jy dit geleer het, en dan
moet jy nie dink dit was ‘n onaanvegbare, geweldige persoon nie. Jy kan sê dit was ‘n
sukkelende, een wat self worstel met die kwaad maar hy het die waarheid aan my
oorgedra.
God se waarheid uit sukkelende mond dra
geweldig krag. Paulus het nêrens vir Timotheus gesê dat sy moeder of
grootmoeder heilig of volkorne was nie, rnaar hy het vir hom. gesê: onthou wat
hulle jou geleer het.
Dit is wat die godsdiens en die geloofslewe innig en verrykend maak, dat die
Here nie sê jy moet eers volmaak wees voor jy God kan dien nie. Hy sê jy moet
weet wat die regte woorde is, selfs al kwyn jy wanneerjy dit sê; selfs al vra
jy wanneer jy dit sê: “Is dit ook vir my?”
Dan bly Psalm 42, die bannelingspsalm, die een wat uit die klein stroompies ‘n groot
rivier gesien het, vir ons die trooslied wat sê die Here sal ook in die nag vir
jou goed wees. Dis hierdie belydenis wat ons vertrou, waarvan Paulus gesê het
jy weet van wie jy dit geleer het. Jy het van kleinsaf die skrifte leer ken en
die Bybel maak jou wys (nie ‘n kwansuise wysheid nie maar ‘n sekerheid) dat jy
die saligheid in Christus Jesus het.
Die vertroue in ons belydenis gee krag.
Maar dit is wanneer jy saam met die ongeloof, saam met die duiwel en die
mens-aanbidders vrae oor die waarheid begin stel en nie meer vashou aan die
leer nie, dat die belydenis sy krag verloor.
Maar dit moet ons nie moedeloos maak nie, broeders en susters. Ons is onderwerp
aan ‘n samelewing, aan ‘n gedagte-aanslag wat dit vir die gelowige baie, baie
moeilik maak om vas te hou aan sy troos. As
een dalk dan in sy gemoed vind ‘my troos is te min, dan moet hy nie moedeloos
word en dink God het hom verlaat nie. Dan moet hy weet daar is ‘n krag buite
homself, die krag van ‘n belydenis van ander gelowiges. Timotheus se moeder
en grootmoeder, Paulus (wat nie by hom was nie), die mense vir wie hy die Evangelie
moes verkondig, die gelowiges van wie hy nog nooit gehoor het nie, die wat in
Eukonium en Listre, waar Paulus gely het, die waarheid vasgehou het en nie
geskrik het vir die geweld van vervolging nie, die baie wat die goeie belydenis
vashou…dra die gelowige wanneer hy swaarkry. Dit is wat die Bybel vir ons sê:
die skrifte kan jou wysmaak dat die saligheid in Christus lê en dis nie net jy
alleen as enkeling wat hierdie belydenis vashou nie. Voor en na jou kom die rye
en rye van gelowiges en was daar die voorgeslagte wat hierdie waarheid vasgehou
het.
Die skriftuurlike belydenis
het tot ons gekom deur die eeue, eeue waarin die waarheid vasgestaan het. Hoe
sal daar ‘n kerk kon wees as mense nie geweet het om by die leer van die Bybel
te staan nie? Hoe kon daar ‘n suiwer kerk gewees het as daar nie ‘n groep mense, van tyd tot tyd, altyd maar daar was (en hulle was
altyd min) wat in die woning van God gebly het nie?
En nou is dit u en my roeping om na te laat aan ‘n geslag wat kom, maar dit is ook ons
roeping om mekaar te dra. Dis vir my aangrypend om daaraan te dink dat ‘n mens wat self
worstel, deur aan sy geloofsbelydenis vas te hou, ‘n ander een wat swaar kry
help sonder dat hy dit weet.
Wat is die struktuur van God se volk tog ‘n wonderbare iets?
Om te dink dat die Here nie op die bekende maniere werk nie; ek moet een se
adres ken, as ek sy telefoonnommer ken is dit nog beter, as ek na hom kan gaan
en ‘n afspraak met hom kan kry kan ek met hom praat... so werk die wêreld, God nie. God nie.
Hy roep mense om oënskynlik in die wind te bely: ‘Christus maak my salig’ en vér weg of
naby word iemand daarvan sterk. Tog gaan hierdie belydenis van die een geslag
na die ander.
Dit is ‘n oorsaak van kommer en besorgdheid (erg so) as ‘n mens dink dat ‘n
kerk sy erflating gaan vergeet. Nie wil wees soos hy moet wees nie maar wil
word soos die wat die belydenis laat los het. Dit is die aanslag op die kerk
van die Here op baie vlakke en op baie plekke. Dat mense God wil dien soos die
wêreld dit doen. Maar die wêreld dien nie God nie, hy praat net van God. Die gelowiges dra van een geslag na die
volgende, kragtens die verbond, kragtens die beloftes van doopouers, hierdie
heilige waarheid oor.
Dit is waar die krag van die gelowiges in lê. Dis jou woning, jou huis as die
storms rondom jou woed -- as dit reën, as dit
koud is, as die weer jou dreig, as die son jon brand, is ‘n woning ‘n veilige
plek. Dis die beeld wat die Bybel in hierdie teksgedeelte gebruik: die leer van
die Evangelie bring ‘n rus, ‘n veiligheid, ‘n sekerheid: ek is by God. Maar nie
‘ii sekerheid wat swak is lie; die het krag, dit hou jou staande wanneerjy
gedink het jy sou val. Broeders en susters, die krag van die geloof, die krag
van die belydenis, is sterker as wat ons kan yerstaan.
Nou sê Paulus vir Timotheus (en ook vir ons) dat die sekerheid van jou
saligheid groei as ‘n vorm van wysheid. Dis ‘n baie belangrike ding. Die
sekerheid van my saligheid groei nie in my in die vorm van ‘n emosie van ni
jubeling, van lekkerkry, van gerus wees nie. Dit groei langs die weg van wysheid en die wysheid van God is ‘n weg
van lyde en ontbering.
God gee nie sy wysheid in die vorm van gerief en gemak nie. Hy gee sy wysheid
in die woestyne, langs die pad van ontberinge, in die lewe van ‘n stryd wat
virjou lyk of jy nie gaan wen nie. God
gee sy wysheid langs die weg van moeite.
Nou sal een sê: Watse God is dit?
0, dis goed dat God dit doen want die moeite is ‘n straf op die sonde en vir
Adam het die Here gesê: Jy en almal wat nie in God glo nie, al glo jy, Adam, sal
met rnoeite werk. Die onkruid sal jou tuin toegroei, die siektes sal jou moeg
maak, die spanninge van die wêreld sal jou laat wonder of jy kan bly lewe, waar
eindig dit? Die moeite?! Nou sê God, die moeite is nie nou meer die voor waarin
jou lewensstroom spoel nie, die moeite is nou die kanaal waarin die wysheid van
God groei.
As moeite my net laat swaarkry het en laat sukkel het (ek is eensaam, ek het nie vreugde in die lewe
nie) dan is die geloof niks.
Maar nou sê Paulus hier, die Skrifte,
die kennis van die Bybel, maak jou een wat in
die wysheid groei langs die weg
van ‘n moeitevolle groei.
Ek sou so graag wou hê dat dit so kon wees dat ons die
dinge van God sommer kan
verstaan. Sonder sukkel. Maar dit werk nie so nie. God het in sy almag beslis dat die mens Hom
langs die weg van stryd leer ken.
Die Spreukeskrywer, Salomo, het hierdie ding op ‘n amper naïewe rnanier gesê:
drukking van die neus bring
bloed voort (as jy hard genoeg
druk sal dit so wees) en as jy
melk druk word dit botter.
‘n Eenvoudige proses waar jy een
mee kan seermaak of waar jy kos rnaak,
rnaar jy knie en woel daarmee voor dit gebeur.
Wat ‘n troos is dit nie as God op ‘n mens
se lewensweg moeite bring nie, want dan
weet jy die Here laat jou in wysheid groei. Dis een van die mees troosyke dinge wat die Bybel vir ons sê. En dis verbasend hoe baie keer ‘n mens wil sê dis een van die mees troosryke dinge want
álles uit die Bybel gee jou moed.
Daarom het die gelowiges die krag van ‘n vaste woning; nie ‘n
tempel of ‘n boom soos die wonderboom
van Jona wat vinnig vergaan, of
‘n grot waarin jy soos n dier leef
nie, maar ‘n gemaakte huis waarin
alles is wat jy moet hê.
Die vaste woning by God is, broeders en susters, volkome genoeg vir elke
mens om in te lewe en hierdie woning (nou is ek weer waar ek begin het) is die leer van die Bybel. Gooi jou huis weg en die storms
laat jou swaarkry, maar woon in die leer van die
Evangelie, in die vaste sekerheid
van wat oorgedra kan word van
een geslag na ‘n ander, en dan kan geen moeite of bekommernis of ellende jou
daaruit losruk nie. Ons het al
die krag wat God aan mense wil
gee. Ons het die leer van die Bybel, ‘n geestelike woning.
Paulus gebruik die woord ‘gesond’ as hy met Timotheus praat. ‘Bly’ in die
‘gesonde’ leer want daar is ook ‘n siek leer. As u die twee
briewe lees (dis nie lank nie, u
kan dit in ‘n uur deurlees) dan sal u hierdie nadruk op die gesonde leer sien, teenoor die siekte van mensverheerliking.
Daarom is die bede van Paulus:
‘0 Timotheus, bewaar jou pand, behou
dit wat God aan jou gegee
het’, ‘n bede vir u en my tot troos, tot waarskuwing, tot versekering. So kan ons dan die Here dien deur by Hom te
woon.