Ds. Jan Coetzee 6 Oktober 1996 Aanddiens
Lees: Efesiërs 1 Heidelbergse Kategismus: Sondag 19: vraag en antw. 50-52
Sing: Ps. 99: 1, 2;
Ps. 71: 12, 14;
Ps. 26: 5, 7;
Ps.149: 1, 2;
Ps.66: 1, 2.
Die brief aan die Efesiërs begin met ‘n ingewikkelde hoofstuk en
ingewikkelde sinne wat daarop neerkom, dat Christus die hoof van die kerk is.
Sy mag is in die Hemele en die heerlikheid wat daar bestaan. Maar op aarde gaan
Hy Sy mag vervul. Almal gaan op die aarde sien dat Hy die Hoof van alles is.
Paulus skrywe aan hulle en sê: die kerk besit die sekerheid dat die Here
Jesus weer na die aarde kom. Net daarom het die kerk kennis wat die wêreld nie
het nie. Christus betoon Sy mag in die
Hemele en die ongeloof sien dit nie, ken dit nie, aanvaar dit nie. Maar die
kerk weet dit, erken dit, bely dit, sê dit.
En daarom wil die Bybel aan ons leer, dat ons van die verborge kennis weet,
weet dat Christus die Hoof en Maghebber van alles is. Ons moet dit vertoon,
uitleef. Maar voordat ons dit kan doen moet ons aanvaar dat die Woord van God,
die Bybel, onwrikbaar vas is en van die oorwinning van die geloof leer.
Ons het u voorheen daarop gewys dat die Bybel ons as mense aanspreek, dat
ons die heiligmaking moet volbring op aarde. En vanaand by die oordenking oor
die hemelvaart van Christus gaan dit oor die werk wat Christus doen sodat ons
ons roeping kan uitvoer. Hierdie Sondagsafdeling, Sondag 19, sê dinge wat ons
almal weet. Christus het in die Hemel opgevaar, Hy is die Hoof, Hy kom terug.
Maar nou moet ons op die volgende onderskeiding let: Die Here Jesus betoon
Sy mag in die Hemel (die engele weet dit) en op aarde is dit besig om in
vervulling te gaan. Net die kerk kan dit vooruit sê.
Nou wys ons u eerstens daarop dat die magsbetoon in die Hemele iets is wat
Christus in heerlikheid doen. Heerlikheid is ‘n woord wat, dink ek, net in die
Vlaamse taal nog enigsens tot sy reg kom. Dit is dìt wat by ‘n heer pas:
‘heerlik’.
Vir ons is ‘heerlik’ baie keer net ‘iets lekkers’. Maar die grondbetekenis
van ‘heerlik’ is: ‘dit wat by ‘n heer pas’. Leefwyse, eer, grootheid, en in hierdie sin moet ons die heerlikheid van
Christus verstaan: dit wat by Hom as die Heer van alle dinge pas.
Nou staan daar in die Bybel, die Here Jesus het opgevaar na die Hemel. Dit
gee al klaar vir ons ‘n probleem, want as ons boontoe wys, dan sal die mense
aan die anderkant van die aarde (in, sê Australië) in die teenoorgestelde
rigting wys wanneer húlle boontoe wys. Opvaar
na die Hemel beteken, glo ek, dat Christus verhewe is bo alles wat aards is.
En dan kan jy maar op enige plek in die wêreld woon, Hy is verhewe bo dit wat
daar bestaan.
Die dissipels het gestaan en kyk hoe Hy van hulle weggeneem word. Hoe Hy
verhewe bo alles wat aards is, van hulle af weggaan en daarom is die woord
‘hemelvaart’ goed en reg, omdat die Woord van God ons daarmee leer dat die Here
Jesus Christus verhewe is bo die aardse. Ek mag dus nie aan Hom dink asof Hy ‘n
vriend of ‘n maat van ‘n mens is nie. Ons mag nie gemeensaam van of met Hom
spreek nie maar in aanbidding.
En nou is dit op hierdie punt, hierdie verhewendheid van Christus, waar die
bose hom op toespits, want waar hierdie magsbetoon in hemelse heerlikheid is,
wil die duiwel graag dat die mense op die aarde van die Here Jesus liewer meer
aards moet dink. Dat Hy meer mens as God sou wees. En dit is ‘n verkeerde
probleemstelling om te vra: ‘Was Jesus meer mens as God of meer God as mens?’
So iets bestaan nie: Hy was ten volle mens en ten volle God. En in dié
gedagte is God groter as die mens. As jy oor die verhewendheid van Christus
verkeerd gaan dink, dan is jou hele geloof daarmee heen.
Vir die wêreld is die Mag
van Christus verberg. Dis
maklik om van die Here Jesus wêrelds te praat. ‘n Klompie jare gelede, weet ek,
was daar in die filmwêreld ‘n poging om oor die sg. ‘mens Jesus’ ‘n film te
maak waarin Hy dan uitgebeeld is as een met liefdesverhoudings tot mans!
En dit is nou weer aan die gang. Die gees van die wêreld is sò dat elkeen
kan doen wat hy glo reg is, soos in die tyd van die Rigters. Wees dus nie verbaas
as daar so ‘n film verskyn en bekend gestel word nie. Maar wee hom wat dit maak
en wee hulle wat daarna kyk, omdat jy dan deel word van die wêreld vir wie die
Mag en verheffing van Christus verborge is. Wat moet in die mense se gedagtes
aangaan as hulle doelbewus en moedswillig oor die Here Jesus iets
onaanvaarbaars wil bekendmaak.
Ek kan net sê, die Mag van die Here is vir hulle geheel en al verberg. Maar die kerk besit hierdie verborge kennis.
Daarom is al hierdie pogings, en elke poging van hierdie aard, ‘n stryd teen
die kerk en lok dit by die gelowiges ook teenkanting uit. Want die kerk besit
‘n verborgenheid.
Paulus het dit geskrywe in Efesiërs: “Hierdie wysheid is aan julle
geopenbaar, hierdie verborgenheid is aan julle bekendgemaak waarvan die wêreld
nie weet nie.”
Hy het vir hulle verduidelik dat hulle deel het aan wat Christus vir hulle
gee. Nadat hulle die Evangelie gehoor het, tot geloof gekom het en geleer het
om God te aanbid, het daar ook by hulle liefde gekom tot hulle medemens en tot
die nasies. Paulus noem hulle die heiliges wat in Efese is.
In die verbygaan, die hele brief aan die Efesiërs verduidelik wat die wese
van die kerk is. Hy begin om hulle heiliges te noem, maar dit mag jou nooit
laat dink dat die magsbetoon in die Hemele, van Christus, iets is waar ons by
kan kom nie. Ons weet dit, maar hoe dit is kan ons nie sê nie.
Daar is nog ‘n manier waarop die kerk aangeval word deur die bose. Dié wil ons van hierdie heerlike kennis,
hierdie besit van die verborgenheid, beroof. En die metode wat die duiwel gebruik is om die geloofsbelydenis
waardeur die kerk staan, aan te tas. Verander ‘n ietsie daar en die hele
struktuur van die belydenisskrifte van die kerk se reformasie, stort in duie.
Want dit het gebeur.
Hierdie belydenisskrifte, ofskoon hulle nie gelyktydig ontstaan het nie
(daar is selfs meer as 1000 jaar tussen hulle ontstaantye) is ‘n struktuur waar
die een op die ander gebou het. Die mense wat die Nederlandse Geloofsbelydenis,
die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls opgestel het, het dieselfde
bron gebruik nl. Die Bybel, en het ook op mekaar se insig gesteun.
En nou sit die kerk met drie veskillende belydenisstukke wat tenvolle die
verborgenheid beskrywe in sover dit beskryf kan word. En as jy nou dele daarvan
afbreek stort die hele struktuur ineen.
Daar is deesdae die vraag: ‘Wat beteken dit dat die Here Jesus neergedaal
het na die hel, want dit staan nie so in die Nederlandse Geloofsbelydenis nie,
maar wel in die Twaalf Artikels wat ons elke Sondag bely.
Nou is die gedagte: vat dit weg want die mense sal dit nie verstaan nie, of
dink die Here was drie dae lank in die hel toe Hy dood was. Maar is onbegrip ‘n
rede om ‘n stuk wat oor die 2000 jaar oud is te verander? Die enigste stuk wat
alle Christene saam bely? Nou goed, neem dit weg, dan val die hele Kategismus
in duie, want die hart van die Heidelbergse Kategismus is die behandeling van
die Twaalf Artikels.
Ons praat vanaand oor die vraag: waarom word daar bygevoeg: “en sit aan die
regterhand van God” ? Dit word bygevoeg in die Twaalf Artikels; waarom staan
dit daar? En as jy nou begin afbreek uit die Twaalf Artikels het jy niks oor
nie. En as jy uit die Kategismus wegneem dan val ook die ander belydenisskrifte
in duie.
So kan jy, met een vroomklinkende
gedagte ---die mense sal dit sommer verkeerd verstaan, maak dit anders--- die
kerk van sy rykdom beroof.
[Ek brei hierop uit omdat dit tans staan en omdat die Noord-Transvaalse
Sinode DV Novembermaand vergader waar hierdie saak gaan dien. Mens kan net hoop
en bid dat ‘n regte, ‘n goeie besluit daar geneem moet word.]
Maar hier het u ‘n voorbeeld van hoe, deur ondeurdagtheid of welke rede
ookal, die kerk in gevaar kom om van sy besit van die verborge magsbetoon van
Christus beroof te word. Daar is baie ander maniere waarop dit gebeur.
Ek dink die hele aanslag op
die magsbetoon van Christus loop uit in ‘mensverheerliking’: die
mens is groot, die mens staan voor, en dan vergeet jy van die heerlikheid van
Christus wat alles in almal is. Hierdie was oor die magsbetoon in heerlikheid
in die hemele waarvan die kerk weet, daaroor bely, maar wat geen mens kan
begryp nie.
Op die aarde (dit is die tweede reeks gedagtes) gaan Christus Sy Mag vervul. Hier sal
die mense Hom sien in Sy heerlikheid wat nou nog verberg is. En hulle gaan skrik,
hulle gaan vra dat die berge op hulle moet val, so staan dit in die
Openbaringboek.
Dit het alreeds begin, hierdie vervulling van die Mag van Christus op
aarde, toe die duiwel op aarde oorwin is. Die Here het die stryd teen die
kwaad, teen die duiwel self, nie in die verborgenheid (in die Hemelse
heerlikheid) laat plaasvind nie. Ons lees in die Evangelie van Lukas dat die
Here Jesus die satan soos ‘n bliksem uit die Hemel sien val het.
Maar dit het die mense nie gesien nie en ook nie die verwoestende wegjaag
van hom uit die Hemel nie. Maar op aarde het hulle gesien dat die duiwel nie
kan oorwin nie. Selfs toe hulle die Here Jesus gekruisig het was daar één wat
gesê het: ‘Vrees jy ook God nie?’
Die een veroordeelde...Selfs daar is die kwaad oorwin in die lewe en in die
geloof van ‘n misdadiger wat ter dood veroordeel is en met reg.
Die duiwel word op die aarde
oorwin. In u en my lewe
vind dit ook plaas as ons die kwaad nie doen nie, na die verleiding van die
duiwel nie luister nie. Wanneer ons dit regkry om op te staan uit ‘n gevalle
toestand en wanneer ons ons lewe verbeter, gee dit elke keer ‘n oorwinning oor
die duiwel op aarde.
Hierdie oorwinning op aarde
word deur Christus gedoen maar ons is die strydperk, ons lewe is die strydperk
waarbinne dit gebeur; ons is op die aarde as ‘n resultaat van die Here se Mag
wat op die aarde getoon moet word. Teenoor ons bedorwe geaardheid, ons ou natuur, waarmee ons op die aarde
sit, giet Christus hemelse gawes in ons uit. En die duiwel kan dit nie keer
nie. Die mag van die satan is nie groot genoeg dat hy kan keer dat die Here
Jesus Sy gawes gee nie. Hy gee aan die mense geloof.
In Efese, die dorp wat tot niet is, bly geen mens meer nie, dis ‘n ruïne.
Die land Turkye, waar Efese geleë is, is nie ‘n Christelike land nie, maar die
belydenis van die gelowiges wat toé gelewe het stáán en u en ek lees daarvan en
word daardeur vertroos en versterk. Dit
kan dus gebeur dat dele van die wêreld onchristelik word deur oorlog en geweld
soos dit daar gebeur het; dit kan gebeur dat dit lyk of die onheilsmag wen,
want daar is nie meer ‘n kerk nie.
Dink daaraan dat in Noord-Afrika, die deel wat aan die Middelandse see
grens, ‘n bloeiende kerk was waarin die groot en begaafde Augustinus gewerk
het. Daar is nie meer ‘n Christelike kerk nie, dit is deur die Islam oorweldig
net soos in Turkye. En nou lyk dit of die ongeloof tòg op die ou end die
oorhand kry. Maar Augustinus se verdediging van die uitverkiesingsleer deur God
stáán. Ons gebruik vandag nog sy argumente om hulle wat aan die uitverkiesing
nie glo nie, die swye op te lê.
En so is die oorwinningsmag
van Christus op die aarde, dat die idee, die woord, die gees, die kennis, die
oortuiging van Christus se mag voortleef en nie kan sterf nie. Dit is wat geestelike lewe beteken vir
‘n gelowige, vir ‘n mens, dat jy bewus die oorwinnig van Christus verkondig.
Vroeër jare het hulle gevra , wanneer daar visitasie is van die klassis by
kerke: ‘Hoe staan dit met die geestelike lewe van die gemeente?’ Ek onthou nog
die verleentheid waar ‘n mens dan voor gekom het; wat kan jy daarvan sê? Wat
kan ons van mekaar se geestelike lewe sê?
Dis iets wat in die gees bestaan; jy kan oor die betuiging daarvan iets sê,
jy kan sê een se lewe is goed, maar hier het u tog ‘n duidelike aanwysing van wat geestelike lewe is: dit is dat die Mag
van Christus, die oorwinning oor die kwaad, oor die sonde en die duiwel, in
hierdie mens se lewe blyk.
Jy kan dit aan hom sien: sy lewe word inniger, ryker, dieper. Daar kom meer
terreine in sy lewe waarin hy gehoorsaam is aan God. Hy verbeter in elke opsig
sy lewe.
Kortweg: hy
ly ‘n lewe van bekering tot Christus.
Dít is geestelike lewe, maar weereens, hoe jy dit gaan uitspel in
besonderhede, kan God doen en die mens wat geestelik lewe. Een kan nie vir ‘n
ander sê: ‘Jy wys darem nou regtig nie die oorwinning van Christus nie’.
Ons sê partykeer vir mekaar gevaarlike goed; ons vermaan mekaar oor
swakhede en bemoedig mekaar, maar wat mòet gebeur en die manier waarop dit
gedoen moet word is dat ons pleit vir die oorwinning van die Here en iemand
moet opmerksaam maak op wat God in sy lewe doen.
Sê nou maar jy kom by ‘n mens wat ergerlik lewe, wat een of ander kwaad
doen, en jy val die verkeerdheid van wat hy doen aan, dan lyk dit of jy die
volste reg daartoe het, en ek glo mens
mag maar dan vir een sê: ‘Christus se Mag het die kwaad in jou tot niet gemaak;
gebruik dit!’
Om op ‘n positiewe manier een aan te moedig, om die vervulling van die mag
van die Here te bly vertoon en op duideliker maniere te vertoon, is seker ‘n
beter manier om mekaar te bemoedig.
Die Bybel sê daar kom geleenthede waar jy een soos ‘n stuk hout uit ‘n vuur
moet ruk en dan praat jy nie mooi nie, dan gebeur dit met geestelike geweld. En
wanneer jy so is, en mense positief op
die oorwinning van Christus wys, dan kom jy in stryd met die wêreld.
U kan dit vir uself toepas. Gebruik letterlik enige misstap wat mense in
die reël doen, val dit aan, en jy het spanning. Maar die spanning moet met die wêreld wees en nié onder mekaar nie.
Dit is so dat ons in ons sondigheid en in ons onvolkomendheid aan hierdie
hoë ideaal nie altyd voldoen nie. Daarvoor sal God ons nie in die oordeel bring
nie, maar ons lewe word armer, die skok word groter en almal van ons, dink ek,
het al op ‘n tyd gekom dat jy in stryd met die wêreld was toe jy jou
medegelowige ontmoet het. Toe was dit eintlik stryd met die wêreld. Omdat die
wêreldse gesindheid, die verheffing van die mens bo God, dáár geleef het.
Dit is die heilige voorreg
van die kerk op aarde dat ons in stryd met die wêreld moet wees en mag wees. Niemand hou van spanning en stryd nie.
Jy kan sielsongelukkig word oor sulke dinge. Maar dit is ‘n voorreg om nie te
swig voor die verleiding van die wêreld nie, want dit is genadebetoon van die
kant van die Here.
Daarom, as ons oor hierdie werk van
Christus dink en wat Hy op aarde gaan vervul, bly daar vir ons twee gesindhede
oor: dankbaarheid, dat God, vanuit Sy verhewendheid met mense moeite maak, en
ootmoed, omdat ons ons kleinheid ken en verstaan dat die Here ons nie verwerp
nie selfs al faal ons in ons roepingslewe.
Wanneer Christus se mag op aarde vervul word is dit nie iets wat ineens
gebeur nie, dit groei. Dit is soos die koms van die Koninkryk wat aanrol en
niks kan dit keer nie. En ons wag op die eindvervulling daarvan wanneer ons met
hierdie belydenis, met hierdie oorwinning oor die kwaad in ons gemoed, met die
sekerheid, met dank en met ootmoed voor God, kan staan en hoor: ‘Gaan in, in
die vreugde van jou Heer.’
Christus is hoof van die kerk. Die Bybel gebruik ‘n figuurlike uitspraak:
die kerk is die liggaam van Christus en Hy is die Hoof en die Hoof regeer
alles. As Hoof betoon Hy Sy mag in die hemele
en daardie hemelse mag vervul Hy geleidelik deur die geskiedenis heen op aarde.
Daarom is dit ‘n verheffing as jy die gang van gebeure, in die kerk en in
die wêreld deur die eeue heen mag leer ken. Dis
‘n verheffing om te sien hoe die Here se mag duideliker en duideliker word vir
dié wat nié glo nie.
Die hemelvaart van Christus leer ons nie so baie van wat óns moet doen nie
maar leer ons juis van wat Christus Jesus altyd doen tot in ewigheid.
Amen.