Ds. Jan Coetzee 13
Januarie 2002 (Aand)
Lees: Handelinge
17: 15-34
Heidelbergse
Kategismus: Sondag 10 Vraag en Antwoord 27,28
Psalms:
138:1,4; 78:1,2 72:3,4
36:2,3
Die Bybel leer
dat die onsienlike God tog by ons is. Nou, hierdie saak van die afstand en die
nabyheid van God, is vir ‘n mens soms ‘n probleem en ‘n vraag, veral as jy
onder beproewinge kom en dit met jou swaar gaan. Is God dan naby of is Hy nou
ver? Het Hy my ‘n rukkie laat twyfel aan Sy nabyheid en sal Hy my nou weer
verseker dat Hy by my is? Sulke soort vrae is natuurlik aan ‘n mens.
En nou het die Bybel in God se goedheid aan ons
die leer oor die Voorsienigheid van God gegee. Sodat ons kan weet en verstaan en glo hoe die
verre God, die ewige Heerlike, tog gedurig by ons is om ons te versorg en te
bewaar, om aan ons rus en vrede te gee. Die krag van God se Voorsienigheid is
onbeskryflik groot, want daardeur bewaar Hy alles, versorg Hy alles, het Hy
alles geskape. Om dit aan te toon, wys ons u eerstens op die oneindige
verhewenheid van God. En dan sal u sekerlik dink, maar daar weet ek van. Dit is
so. En tweedens daarop, dat God by ons is. ‘By’ beteken miskien iets anders as
naby.
Die verhewenheid van God lê, dink ek, in een
woord: Hy is ewig. En u
weet dat ewigheid buite ons begrip is, die ewigheid begin nie en het nie end
nie. En ons lewe is aanmekaar gesit van belewenisse, die een na die ander. En
ons is gedurig besig om in ons belewenisse in te werk om dit of te verander, of
draaglik te maak, of tot sukses te voer. God werk nie so nie. Dat Hy ewig is, maak Hom die onbegryplike.
Ek glo nie vir ‘n
enkele oomblik dat die mense in Athene destyds toe Paulus daar moes wag,
doelbewus aan ‘n God gedink het, ‘n bepaalde God nie, hulle het dan gesê: Aan
‘n onbekende God. Stellig om seker te maak dat hulle nie per ongeluk ‘n sekere
godheid nié eer nie. Maar u weet self dat Athene, ‘n stad uit die ou tyd, die
stad van die kunste was, die tempels en praggeboue. En daar gaan Paulus en hy
verduidelik vir hulle dat al hulle mooi geboue en skone kunste nie ewig is nie.
Vandag kan mens dit baie goed verstaan, as jy nou daar kom is dit ruïnes wat
maar enkele blyke nog gee van vervloeë en vergange mooiheid. En party van die
beelde het hulle uit die see moes haal, waar rowers dit gaan weggooi het.
Dis alles dinge
wat nie met God kan gebeur nie, want Hy is nie onderhewig aan belewenisse,
periodes in die geskiedenis en aan dit wat ‘n mens se lewe beïnvloed nie. As
mens oor die ewigheid van God dink, dan bly jy gou stil, want jy kan daar niks
meer van sê nie. Maar die Bybel werk so
dat Hy die onbegryplike van God vir ons al duideliker maak, dat die lig
helderder word deurdat God se Woord ons van die skepping leer.
God is die
Skepper, Hy het dit gemaak, alles wat daar is, die mens met sy vermoëns, sy
verstand, sy gevoelens, dis alles maaksel van God. Dit kan ons verstaan, dat
die Here die Skepper is, maar dan moet jy dit glo. Dit is baie makliker om die
grootheid van God te minag deur te sê alles het maar ontwikkel deur ‘n proses
van aanpassings. Dan het jy nie nodig om die grootheid en die verhewenheid van
God te bely nie. Maar dan is jy ook nie ‘n Christen nie. En dan is die Bybel so,
soos wat Hy ons die skepping laat verstaan; ons sien dit en ons ken die
natuurwette --dan word dit weer moeilik.
Die Bybel sê God
onderhou ook alles en dit is hier waar ‘n mens dan weer begin swaarkry, en God
se oneindige verhewenheid vir ‘n mens amper te veel word om aan vas te hou.
Want daar is dinge in ‘n mens se lewe wat nie van onderhouding praat nie, maar
van afsterwe. Ons word ouer, ons kry nie reg om te doen wat ons altyd wil nie,
mense word siek, waar eindig dit? Die dinge wat die onderhouding deur God, van
ons lewe, amper net woorde maak.
Maar dan moet ‘n
mens hierdie ding verstaan, nie waar nie? Dat as God my onderhou, beteken dit nie dat ek nou vrolik en vreugdevol,
sonder oudword en kwale deur die lewe gaan nie. Ons is nog steeds nie ewig nie.
Nou gebeur
hierdie werke van God, dat Hy ons versorg, dinge in ons lewe bepaal,
gebeurtenisse beskik, meestal sonder dat ons dit vooruit weet. Jy kom dit
agterna agter, God het dit met my gedoen en Hy het dit beskik en hier is dit.
En dan is jy dankbaar en ootmoedig voor God, maar God se werke is nie afhanklik
van ‘n mens se bewussyn nie. Hy doen dit ook soos Psalm 126 sê, dat die Here
aan ons Sy genade gee, soos in die slaap, dat jy dit maar sommer ontvang, as jy
weer sien dan het jy dit.
Daarom is hierdie verhewenheid van God vir ons ‘n
verpligting om ag te gee op wat die Here skenk, wat Hy in ons lewe beskik, hoe
Hy ons lewe voer. ‘n Mens
moet terugdink, want jy kan nie ver vooruit beplan en dink nie, dis buite ons.
Maar ‘n mens moet terugdink aan wat God aan mense doen, wat Hy aan ons gegee
het om mee te leef en mee besig te wees. En dan kom jy by die afhanklikheid van
God uit, ons afhanklikheid van God.
Waar die Here Hom dan as die Verhewene openbaar,
leer ons onsself ken as die afhanklikes. Die verhewenheid van God maak dit nie onmoontlik
dat ons ons volledige, volkome afhanklikheid van God kan begryp en bely en verstaan
nie. En wanneer ‘n mens jou afhanklikheid van die Here ten volle begin begryp...
ek dink nie ‘n mens sal ooit in hierdie lewe dit alles regkry nie. Dan is vrae,
lewensvrae oor wat ek moet doen, beplanning van my bestaan, die vestiging van
wat ek wil, iets anders as die van iemand wat nie van God afhanklik wil wees
nie. Want dan sê hy: ‘ek wil dit en ek gaan dat doen’. Maar met die besef van
die afhanklikheid van God word ons as ‘t ware gekeer om nie te vinnig en te ver
te hardloop in wat ons in die lewe wil doen nie, sodat die verhewenheid van God
ons nie druk nie.
Vir die mense op
die vergaderplek wat hulle die Areopagus genoem het, het Paulus gesê: Julle
moet weet God het vir elke volk sy land gegee om in te woon, sodat hulle God
kan soek, al is Hy nie ver van ons af nie. Dis ‘n deel van die Bybel wat, ek
meen, nie deur die mense in die algemeen meer geglo word, dat God aan volkere
‘n land gee nie. Die mens lewe in ‘n eenheidstrewe. Maar God is by ons deurdat
Hy aan ons ‘n verblyf op aarde gee. Partykeer is die verblyf karig; Paulus self
het skaars ‘n verblyf gehad, hy het meer in die tronk gewoon later in sy lewe
as daarbuite. Maar God is by ons eerstens in Sy versorgende werke, hierdie wat
ek netnou van gesê het, jy weet dit nie eers nie dan is God by jou, want dit
gebeur.
Ook hier gee die
Here aan ons duidelikheid oor die ding. In
die herskeppende liefde van Christus is die Vadersorg van God ook aanwesig.
Christus Jesus het self gesê dat die woorde wat Hy sê en dit wat Hy gedoen het,
om die Vader ontwille is, Hy het niks uit Homself gesê nie. En so is die herskeppende, die vernuwende
liefde van onse Here vir ons die duidelikste lig oor die nabyheid van God, ek
kan dan glo.
Nou het Paulus die
evangelie in Athene verkondig --mens verbaas jou oor die man-- terwyl hy nou moes wag vir Timotheüs en Silas
om te kom om hom te help om verder te gaan. Lyk my hy kon nie eers meer alleen
reis nie, hulle het hom begelei tot daar, kan nie verder nie, nou moet twee
ander weer kom, seker sy goed vir hom help dra. Ou man, gedaan van al die
moeite wat hy al ondervind het. Nou loop hy daar in Athene en hy sien die
heidendom in sy glorie. En toe bring hy God naby aan hulle, of hy wou dit doen
deur die evangelie te verkondig. En so beland hy dan op die beroemde forum, die
Areopagus, waar die mense gefilosofeer het.
Lukas wat hierdie
dinge opgeskrywe het, klink amper ‘n bietjie sinies as hy sê: Die mense in
Athene, tot die vreemdes wat daar gebly het, wou net iets nuuts sê, of iets
nuuts hoor. Dit het oor die nuwe dinge gegaan, oor die oues het hulle hul nie
bekreun nie. En daarom het God hierdie beskawing in Athene tot stand laat kom
met al sy skoonheid en wondermooie kunswerke, sodat hulle kan word soos hulle
was: ‘Ek wil nuwe goed hoor’. En toe bring die Here Sy apostel daar...dit is
hoe die nabyheid van die Here dan vir ons duidelik word. Selfs die mense in
Athene moes hoor, al het hulle dit nie geglo nie, dat Christus Jesus die
Verlosser is en hulle moes hoor van die oordeel oor die kwaad. En dan het
Paulus nie vir hulle gesê dit is deur die Here Jesus nie, maar deur ‘n man wat
uit die dode opgewek is. En net daar struikel hulle oor die geloof, is God
oneindig ver en weg van hulle af oor die ongeloof.
Maar wat ons
graag nou wil benadruk is dat die Here God dit so beskik dat mense die
evangelie hoor. Hy beskik ook die werk
van Sy Gees, dat mense die Woord glo, soos God dit wil. En soms beskik Hy
dit dat die Heilige Gees nie die geloof by ons bewerk en jy die Woord hoor en
daarvoor lag soos hierdie mense gemaak het nie. So word ons deur God op ‘n
manier versorg dat die ewige lewe naby kom.
En dit moet die antwoord wees op ons vrae oor ons
lyding. God laat dit met my gebeur sodat ek die ewige lewe van Hom ontvang. Was die lewe een gladde pad, een mooie
weg, sonder ‘n probleem of hartseer of angs, het ons God nie gesoek nie. Ons
soek God uit ons nood en daarom is die Voorsienigheid van God so, dat Hy ook
kwaad oor ons bring --lyding, droefheid-- sodat ons na die evangelie kan
luister.
Die Bybel noem
die evangelie die evangelie vir die armes. Om ‘n arme te gewees het in daardie
tyd in Jerusalem, kultuur-histories gesien, ‘n moeilike saak gewees, die arme-versorging
het haas nie bestaan nie. Dit was die tyd van die bedelaars, van die melaatses
op die strate en in die uitwykplekke waar hulle uiteindelik moes gaan bly; van
weduwees wat sonder versorging gebly het. En hulle het na die evangelie
geluister.
Mense wat hulle
met die sendingwerk besig hou, laat ons verstaan dat hier in ons land, die
evangelie eerder ingang vind by die vroue van Afrika, want hulle kry swaar. Dis
hulle wat die kinders in die wêreld moet bring en moet versorg, kos voorsien
sonder hulp.En uit die nood word blykbaar die evangelie dan makliker aanvaar,
as die groot, sterke wat koning is en almal moet hom eer.
So is die Voorsienigheid van God ‘n werk wat by
tye aan ons vreugde gee, by tye droefheid en vreugde meng, maar nooit so dat
ons die evangelie nie nodig het of soek nie. Daarom dank ons die Here ook vanuit ons nood.
Psalm 130 het die aangrypende openingswoorde: ‘Uit die dieptes roep ek U aan’.
Die Psalm het ‘n bynaam gekry in die teologie, ‘n Latynse ene, wat beteken: ‘Uit
die dieptes’. En in die musiekwêreld en in die teologie is dit bekende woorde: Uit die ellende ken ons God.
Nou het die Here
dit so beskik in hierdie land dat dit wil voorkom asof die voorspoedtyd nie
voluit gaan duur nie. Maar dan moet jy
nie net die leed verduur nie, dan moet ‘n mens ook die evangelie des te
yweriger glo.
Die laaste
gedagte wat ons hier noem, om die nabyheid van God te probeer verduidelik, is
dat God ook die voorsienige krag voleindig. By
die wederkoms van die Here Jesus werk God nie meer deur hierdie voorsienige
krag, waardeur ongeluk en geluk in ons lewe kom nie, waardeur ons geduld en
danksegging moet beoefen nie. Dan is daar die tyd wanneer daar nie meer
droefheid is nie, maar dan is die stryd ook op ‘n end.
Dan is al hierdie
dinge waar ons nou oor gepraat het om te worstel oor die nabyheid van God en Sy
verhewenheid, opgelos omdat ons ewig by die Here sal wees.
Dit is ons troos in ons ellende dat ons weet:
hierdie wisselgang van ‘n aardse lewe, hou op. Dit hou vir almal op, wanneer die Man, wie Paulus
aan die Atheners verkondig het, gekom het. Vir die tweede keer. Enkeles daar
uit die Areopagus het geglo. Maar as dit één was uit ‘n groep mense, ‘n
wysgerige geselskap wat net nuwe goed wil hoor
--Dionisius was
‘n Areopagiet, hulle was die gemaklikes van daardie tyd-- al is dit een wat
glo, dan het die Here bewys hoe naby aan ons Hy kom. Die voleinding en die
daarstel van die Kerk is ‘n wonder waardeur ons in hierdie lewe volhard.
Mag God nou gee, broeders en susters, dat die
verhewenheid van die Here, Sy oneindige grootheid en Sy nabyheid ons nie verwar
en ontstel nie, maar ons juis met troos vervul.
Amen