Ds. Jan
Coetzee
30 Desember 2001 (Aand)
Lees: 2 Timotheüs 2:
1-13
Heidelbergse Kategismus: Sondag 12,
Vraag en Antwoord 31-32
Psalms: 93: 1,4; 56:1,4; 30:1,8; 24: 1,5
Die
leerstuk oor ons Christenskap het hierdie bepaalde kenmerk naamlik dat dit ons
gedagtes verhef bo die gewone wêreldse manier van dink. ‘n Christen dink nie meer soos ‘n gewone
sterweling nie.
En
nou is dit so dat die manier van dink wat die wêreld het, ‘n stelsel van
gedagtes is, en nie so omvangryk soos mens sou dink nie Daar is maar in
hoofsaak, so sê die geleerdes, vier maniere waarop jy kan dink as jy nie in die
Here glo nie. Die een is dat jy altyd die goeie verwag, dan is jy ‘n optimis.
Dit kan met jou nooit so gaan dat jy nie die goeie verwag nie. Ek sou sê dis nog
een van die beter maniere van dink. Maar nou wat gebeur as die stryd van die
geloof kom en jy daaronder ly en gebuk gaan? Kan jy dan nog sê dit gaan goed?
Hierdie manier van dink dat alles altyd goed sal gaan en goed behoort te gaan,
kan jou bitter ongelukkig maak en teleurstel, nie waar nie? Want wat maak jy dan
nou as dit sleg gaan? Die wêreld gaan gebuk onder hierdie manier van dink. Maar
die teenoorgestelde is net so erg en dit is as jy altyd die slegste verwag.
Die
eerste is die optimisme, maar daar is ook die pessimisme. Waar jy niks goed
verwag nie, maar altyd daarop bedug is. Dit is die mense wat oral vervolging
sien en nooit gelukkig kan wees nie. Die ander manier is dat jy die geluk soek.
‘n Geluksoeker wat in alles net vrolikheid en pret wil sien. Dis ook ‘n manier
van dink wat tipies van die wêreldling is. Maar ook hier het jy die moeilikheid
dat die werklikheid jou nie met geluk vervul nie. En wat doen jy dan as
geluksoeker wanneer dit met jou sleg gaan? Dan het jy niks. En die vierde is die
manier van lewe van die kluisenaars wat hulle onttrek van die wêreld. En eenkant
lewe met ‘n gedagte dat jy van die wêreld moet loskom en heeltemal daaruit moet
wegbeweeg.
Daar was, vir die interessantheid
daarvan, in die vroeë Kerkgeskiedenis, die sogenaamde paal-heiliges. Wat so bang
was dat hulle met die wêreld besoedel gaan word dat hulle nie net met niemand
gepraat het nie, maar op ‘n platvormpie op ‘n paal, so hoog as wat hulle dit kon
kry, gaan sit het. En daar in wind en weer bestaan het en met ‘n tou hulle kos
en water opgetrek het. Hierdie soort van wêreld-ontvlugting van hulle het seker
genadiglik nie lank geduur nie. Nou kan u merk hierdie vier gedagtegange, die
een wat net goedheid verwag, die een wat niks goeds verwag nie, die een wat net
geluk soek en die ander een wat vir die wêreld vlug, dat nie een van hulle vir
‘n medemens iets kan beteken nie. Eintlik is dit gedagtestelsels wat jou
vasvang.
En
ons dink nie daaraan dat, as jy deur die geloof in Christus ingelyf is, dan
verhef die Christenskap, die feit dat jy ‘n Christen is, jou bo hierdie wêreldse
gedagtestelsels. ‘n Christen weet dat dit nie altyd goed gaan nie, maar vertrou
op God. ‘n Christen weet dat dit nie altyd sleg gaan nie, want God seën ook. ‘n
Christen weet en glo dat jy nie net geluk moet soek nie, God seën soos en waar
Hy wil. ‘n Wêreldontvlugter kan ‘n
Christen nooit wees nie, ons het die roeping tot getuienis.
Maar nou glo ek nie dat die meeste
ongelowige mense ooit daaraan dink dat hulle, wat hulle manier van dink,
geklassifiseer word in een van vier denkstelsels nie. Ek glo nie die mense dink
daaraan nie, maar tog gebeur dit. En nou is jy vasgevang, as ‘n wêreldling, in
‘n manier van dink wat jy nie deurgrond nie en wat vir jou geen waarde in die
lewe bring nie.
Die Christenskap beteken dat jy
dankbaar leef as ‘n profeet, ‘n
priester en ‘n koning in Christus. Dit is iets wat aan ons baie bekend
is, nie waar nie? Die drie dienste wat die gelowiges in die geloof moet
volbring. En ons kan nie anders nie as om weer daaroor te praat en dan,
asseblief in gedagte hou, dat dit ons losmaak van die wêreldse denkstelsels. Ek
dink mens moet jou doelbewus daarvan losmaak.
Nou
word die profetiese belydenis aan Timotheüs verduidelik. Dis Paulus wat vir hom
skrywe en sê: Jy was my leerling, nou is jy in die diens van die Kerk.Vertrou
dit wat jy weet toe aan betroubare manne wat ook andere kan leer. En daarmee het
hy dan die profetiese belydenis ingeskrywe, ingedra. Soos God hom dit laat doen
in die lewe van die gelowiges.
En
dan het die Kategismus, wat deur baie mense onderskat word as ‘n boek van
wysheid, so ‘n pragtige manier: Nou kan
ons die Naam van die Here bely. Dis ‘n vermoë wat jy verkry omdat jy in Christus
glo. ‘n Ongelowige kan nie die Naam van God bely nie, hy kan net in die Naam
van God vloek en laster. Maar nou sit die gelowiges met ‘n nuwe vermoë, ‘n krag
wat ver groter is as enige wêreldse gees.
Aan
Timotheüs skryf Paulus dat hy nie moet bang word nie. Paulus is ‘n gevangene vir
die Here, maar die Woord van God kan jy nie in ‘n tronk sit nie. Hier skrywe hy
uit die tronk vir Timotheüs ‘n brief. En so is die profetiese belydenis iets wat
magtiger is as selfs ‘n wêreldryk. Want Paulus was ‘n slagoffer van die Romeinse
wêreldryk van daardie tyd. En as jy nou verder gaan met hierdie vrye belydenis,
dat jy te alle tye die Naam van die Here bely, want jy kan, dan is die inhoud
van wat jy sê en die manier waarop jy praat eintlik daardeur bepaal.
Jy kan nie die Naam van die Here
bely en ook verloën nie. Jy kan nie die Naam van God bely en ook wêrelds praat
en dink nie. Dit hou jou op die goeie weg. Nou
is dit so dat deur die sonde en die duiwel ons maar altyd geneig is om ons
godsdienstige plig nie na te kom nie. Tog kan ons.
En
dan kom hierdie verdere en laaste deel, wat ons opmerk by die profetiese
belydenis, na vore: dat Christene eers ‘n
leerling is en dan ‘n leraar. Eers ‘n dissipel en dan ‘n apostel. Eers ‘n
katkisant en dan ‘n belydende lidmaat wat die Naam van die Here kan bely met
woord en daad. Hier, glo ek, is een van die groot gevaarpunte in die Kerke van
ons tyd, dat die voorbereiding, die eers dissipel wees, verwaarloos word. En dan
stellig in die katkisasie van kerke, ek praat in die algemeen. En dat mense baie
maklik lidmate kan word van ‘n Kerk.
Dit
is nogal insiggewend as ‘n mens dink in die eerste eeue na Christus was daar in
Griekeland gemeentes gewees wat ‘n bepaalde kerkmanier gehad het. Wanneer dit
byvoorbeeld Nagmaal is, dan kom ‘n diaken en hy staan voor in die Kerk en hy sê:
Kategumene gaan uit. Dit wil sê almal wat nog in die katkisasie is moet nou uit
die gebou uit. Sodat hulle nie dalk kan insluip in die Nagmaal nie. Ek dink dis
oordryf, maar hulle het dit so gedoen, dit was in die tyd van die leraar
Ambrosius.
Nou
goed, eers dissipel wees, maar dan daarna moet jy andere leer en aan hulle ook
sê wat jy glo wat reg is. Die gelowige gesprek het baie keer verstil in die
huise van die gelowiges, of in vriendskappe. Ek kan insien waarom dit so is. Ons
lewe in stede en in ‘n samelewing wat nie geslote is nie. Mens se vriende kom
nie net uit jou gemeente nie, meestal uit die werkskringe of uit ander
verbintenisse wat jy het. En dan is die geestelike gesprek nie altyd op die
agenda nie.
Die tweede saak waar die Bybel ons
op wys wat ‘n Christen doen, wat jou verhef bo die wêreldse denkstelsels, is dat
jy jouself as ‘n dankoffer, ‘n lewende dankoffer, aan God kan toewy. Weer ‘n
vermoë, ‘n dankoffer wat leef. Dit staan in teenstelling met die dankoffers wat
in die Ou Testament vereis was. As dit ‘n dier was, moes dit gedood word, as dit
graan of landbouprodukte was, dan was dit verbrand en vernietig.
Maar die Christen se dankbaarheid lê in sy
lewenskrag. Hy is nie ‘n optimis nie en hy is nie ‘n pessimis nie, hy is nie
‘n geluksoeker nie en hy vlug nie vir die wêreld nie. Hy is dankbaar teenoor die
Here, omdat die goedheid van God bekend is vanuit die profetiese belydenis, nie
waar nie? Uit jou leerlingskap en uit jou leraarskap as gelowige, weet jy mos
wat God doen en gee wat goed is en mooi is.
En
so leef die Kerk as’n dankoffer; dit bepaal jou lewenswyse, dinge wat jy doen en
wat jy nie doen nie. Jy kan tog nie die Here dank en moedswillig kwaad doen nie.
Daarom, omdat dit lewend is, kan
dankbaarheid nie anders nie as om te groei, jou dankbaarheid word meer.
Nou
is die lewenswerklikheid so, dat ons hierdie aardse lewe afsterwe en ons
dierbares word van ons weggeneem. En ons word partykeer losgemaak van ons
werkkringe. Die gewone samelewing bestaan uit die losmaak van baie soorte bande
totdat jy uiteindelik dan nou nie meer lewe nie. Maar die dankbaarheid groei so dat dit nie
sterwe nie. Dit word nie minder nie, maar meer.
Sodat jy selfs in Paulus se brief
aan Timotheüs lees: Kyk ek sit hier in die tronk en ek dink nie ek kom ooit hier
uit nie. Maar is dit nie vir jou wonderlik om te weet dat jy die evangelie kan
verkondig nie. Dan gebruik Paulus die beeld van die krygsman en ‘n atleet. En so
moet Timotheüs dankbaar wees dat hy God kan dien. En dit was nie net vir
Timotheüs nie, die Bybel is vir ons almal geskrywe, nie waar nie? Maar dit kom
uit die groeiende dankbaarheid. Soos wat jy as mens ouer word en gedaan raak,
word jou dankbaarheid nie minder nie. Moontlik die besef of die formulering
daarvan, want ouderdom is iets wat jou aangryp en in jou lewe ingryp, maar tog
is die dankbaarheid daar.
By
die priesterlike dankoffer kom die volgende toepassing: Nou kan mens onderskei tussen dinge in die
lewe. Kan ek God dank terwyl ek dit doen, of kan ek nie? En in die onderskeiding
tussen goed en kwaad, lê die priesterlike danksegging.
Dink daaraan dat Adam en Eva met die
sondeval in die paradys, hierdie onderskeidende manier van kyk na die lewe
verbeur het. Hulle het deur die verbode boom se vrug te eet wel goed en kwaad
geken, maar in verwarring gekom: Is dit goed of is dit sleg? En so kon Kain wat
eerste begin het met ‘n offer aan God, voor Abel, nie onderskei tussen die
gevoel wat hy het dat die Here nie sy offer aanneem nie en dat die Here wel Abel
s’n aangeneem het. Hy kon nie onderskei nie en toe slaan hy Abel dood.
Die
verwarring tussen besef van goed en kwaad het nie opgehou nie. Maar die priesterlike dankbaarheid en die
offerhande van danksegging aan God met jou toegewyde lewe, maak dat jy toeneem
in die onderskeiding tussen goed en kwaad, sodat ‘n mens se lewe in reinheid
groei.
En
dan die koningskap, wat die Christen verlos van die wêreldse manier van dink?
Daar is twee koningstye in ‘n gelowige se lewe, in die tyd en in die ewigheid.
In die ewigheid sal dit wees, so leer die Bybel ons, wanneer die Here Jesus
finaal na die aarde toe kom en dit herskep en nuut maak, dan regeer ons saam met
Hom tot in ewigheid. Maar die koningskap
in die tyd, soos dit nou ook is solank daar nog tydperke is, bestaan uit ‘n
stryd teen die duiwel. Ons is oorlogskonings en in stryd teen die sonde.
Ons
is konings van die moraliteit, al het die woord moraliteit in ons tyd ‘n
ongunstige betekenis. Die tyd se koningskap is nie die regeermag waar jy almal
links en regs hiet en gebied nie, maar dit is ‘n stryd teen die kwaad.
So
is dit ook in die bedieninge in Kerke. By huisbesoek sal die ouderling nie
optree soos ‘n man wat veroordeel nie, maar wel soos een wat waarsku. Die stryd teen die duiwel en die sonde
bestaan hoofsaaklik in ‘n waarskuwing uit die Heilige Skrif.
Want onthou, ons is los daarvan dat
jy alles wat goed is verwag, alles wat sleg is verwag, of net geluk soek in wat
jy doen, of dat jy die wêreld wil ontvlug. Ons lewe geheel en al in die wêreld
met die stryd teen die duiwel en die sonde. En dan sê die Nagmaals-formulier dit
nog so, soos u wel weet, dat dit ook die swakheid is wat nog binne-in jou is,
daarteen moet mens ook stry.
Die
ewige koningskap is saam met Christus. As u die brief lees, soos Paulus dit aan
Timotheüs geskrywe het in die oorspronklike taal, dan het jy nou, soos wat die
Griekse taal wat hulle gebruik het hom baie goed daartoe leen, die baie mooi
woordspeling: As jy saamleef, sal jy saam
regeer. As jy nie saam leef nie, sal jy nie saam regeer nie, met nadruk op die
saam.
En
dit gee ‘n kyk op die koningskap van die gelowiges in die ewigheid wat die
moeite werd is om oor te dink. Daar is so min wat ons kan verstaan van hoe dit
dan sal wees, nie waar nie? Maar die nadruk is dan: Saam met Christus.
En
hierin sien ‘n mens ‘n groot, groot troos. Saam met Christus nou in die geloof, saam
met Christus as jy in die geloof heengegaan het en gesterf het. Jy bly saam
met Christus en daarin lê die band en binding tussen mense wat saam glo. Dis ‘n
baie ryk gedagte en troosryk om te weet die nadruk is nie op my nie. En die Here
se genade is so groot dat Hy Sy eie Middelaarskap, die Gesalfde Christus,
verbind aan die woord saam. Dit kom van Hom en in die ‘saam met Christus’ leef
die gelowiges deur al die geslagte nog saam met die Almagtige God. Christus is
die Seun van God, een van die drie persone. Die drie-enige God het hierdie
saamwees ook in Sy bemoeienis met ons. Die Heilige Gees is met ons, die Vader sorg
vir ons. En so is dit ‘n aangrypende begrip: Saam met Christus.
Ons
het probeer aantoon dat hierdie lewe en sterwe saam met Christus as konings, as
priesters en as profete, ons verhef bo die verwarring van die wêreldse denke wat
nie weet of dit goed of kwaad is nie. Hierdie vier stelsels wat ons vir u genoem
het is vier maniere om die verwarring van die sondeval in woorde uit te druk.
Ons is daarbo verhef.
Al sê jy net, ‘Ek dank U!’, aan God,
al sê jy dit met trane in jou oë van swaarkry, dan is jy nie ‘n wêreldling nie,
maar ingelyf in Christus.
Amen