Ds. Jan Coetzee 8
September 2002 (Aand)
Lees: 1
Korinthiërs 12: 12-31
Heidelbergse
Kategismus: Sondag 21 Vraag en Antwoord 54-56
Psalms:
100:2-4; 121:1,4; 43:3,4;
42:2,7
‘n Mens moet ag
slaan op die slot van hoofstuk twaalf
waar Paulus dan skrywe: Maar beywer julle dan met die oog op die beste gawes en
ek wys julle ‘n nog uitnemender weg. En toe skrywe hy die dertiende hoofstuk:
Al sou ek die tale van mense en engele spreek en ek het die liefde nie, dan het
ek ‘n klinkende metaal geword. En alles wat daarop volg. Dit is die weg van die liefde, maar ‘n liefde wat tot in ewigheid is.
Het dit u ook opgeval dat van die Psalms wat ons vanaand kon sing, sluit af met
die gedagte van die ewigheid, ‘n ewige vreugde, ‘n ewige blydskap. As u deur
die Psalmboek blaai, berymd en onberymd, dan sal dit u opval dat die ewigheid,
dit wat gebeur nadat die tyd klaar geraak het vir ons, dat die ewigheid so
groot in ons lewe is.
Nou gaan dit in
Korinthiërs se brief oor die Kerk. U ken seker die agtergrond van die Korinthiërbriewe,
ek stip dit maar net aan om die gedagtes weer op te skerp. In Korinthe was daar
‘n hele paar evangeliste waarvan Paulus een was. En die klomp het onder mekaar
begin veg, want daar was ‘n man wat in onsedelikheid gelewe het en hulle doen
hom niks. Paulus skryf vir hulle daar is so ‘n ding soos kerklike tug, toe wil
hulle hom weer nie vergewe nie. En u weet sodra jy twee teenoorgestelde dinge
doen, veral in die Kerk van die Here, en daar was oortuigings wat heen en weer
gaan, dan is die liefde weg. Nou skrywe
die Bybel hier aan ons oor die Kerk, vergelyk dit met die liggaam en sê
uiteindelik is dit nie die liggaam se volwassenheid wat tel nie, maar die
diensbaarheid. Kyk, kerke kom en gaan, gemeentes kom en gaan, bly sekere
rukke bestaan, dis niks. Dit is die dienswerk wat die gelowiges doen, wat tel.
Die uiterlike volg mos maar soos die een geslag na die ander kom.
En dan begin dit
vir ‘n mens noodsaaklik word om aan die ou bekende waarheid, waarvan u almal
weet, weer aandag te gee. Die Kerk is ‘n vergadering van gelowige mense. Die Here het met mense ‘n verbond gesluit en
as ‘t ware soos met ‘n hark deur Sy Woord en Gees uit al die geslagte die
bondelinge bymekaar gebring. Die Seun van God het hierdie werk gedoen.
As u weer deur
die evangelies lees, die beskrywings daarvan, dan staan ‘n mens verbaas hoedat
dit moontlik was dat die Here Jesus vir die drie jaar feitlik dag en nag op
plekke en op pad, geleer het. Die van ons wat onderrig moet oordra aan ander,
weet hoe moeilik is dit. As jy oor dinge waarvan mense niks weet nie, maar
eintlik alles moes geweet het, as jy aan hulle moet leer. Ja, die mense van
Palestina moes alles geweet het.Want voor die Here Jesus begin preek het, het
Hy dissipels uitgestuur en vir hulle gesê (net soos Johannes die Doper): Die
koninkryk van God is naby. En dan moet hulle dink: Koning Dawid, die man na
God’s hart, wat die koninkryk van God in Palestina gevestig het, sò moet ons
wees. En hulle moes verwag het en bly gewees het dat hierdie Saligmaker nou
gekom het en Hy bring die koninkryk van God.
En toe veg hulle
oor die saak van of hulle van die man hou, of nie van hom hou nie? Moet hulle
hom tug of moet hulle hom vergewe? En dan die valse teenstelling tussen tug en vergifnis; die twee gaan sáám. Daarom
het die vaders wat die Kategismus opgestel het uit die wysheid wat God hulle
gegee het, by die leer oor die Kerk ook die leer oor die skuldvergifnis
ingestel. Hiervan het mense ‘n fout gemaak deur die eeue heen en gesê: Die
Kerk vergewe jou sonde. En as die priester dan in Latyns sê: Ek vergewe jou
sonde., dan is jy los. Maar dan is jy nie los nie.
Die vergifnis word nie deur die Kerk gegee nie,
maar deur die Kerk geléér. Soos wanneer gelowiges met mekaar saam is en die verontregte gevoel seëvier
nie, wanneer mense vir mekaar die goedheid doen en gun. Dit is waaroor hierdie
hoofstuk dan verder gaan. Maar hoe bereik ons hierdie ewigheid in die Kerk dat
uiteindelik net die dienswerk oorbly?
Dit is maklik vir
Paulus, want daar was nie kamera’s in sy tyd nie en niemand het daaraan gedink
om ‘n beeld van hom te maak of ‘n tekening nie. Nou weet ons nie hoe het hy
gelyk nie. Ons weet nie hoe die Here Jesus gelyk het nie, behalwe dat die Bybel
tog vir ons ‘n soort aanduiding gee. Die Seun van Dawid, onthou u hoe het hulle
hom beskrywe in die boek Samuel? Nou goed, groot, Saul se harnas het hom gepas,
rooierig en met mooi oë, dit sê die Bybel van koning Dawid, ‘n held. Sodat die
gedagte dat onse Here ‘n swakkeling sou wees wat al sukkelend en bewende
probeer het om ‘n gemeente, ‘n Kerk, in Palestina te stig, ‘n fout is. Toe dit
nodig was het Hy die tempel gereinig, hulle uitgegooi, hulle kon Hom nie
teenstaan nie. En toe dit nodig was het Hy Hom oorgegee dat hulle Hom kruisig.
Daarom is die
eerste gedagtereeks waarvoor ons u aandag vra, die werke van die Here Jesus. As
jy oor die Kerk dink moet jy nie oor die mense dink, oor die geskiedenis dink,
oor hoe dit deur die loop van die eeue gegaan het nie. Maar jy moet dink oor
wat die Here Jesus doen. Hy bou die koninkryk van die hemele, met Sy Kerk.
Hy het die Kerk daargestel, Hy bring mense
bymekaar deur al die eeue heen. En die doel is nie net dat hulle nou bymekaar
moet wees nie, maar dat hulle die regeermag van God sal erken.
Koninkryk van God,
is tog ‘n Koning en onderdane met ‘n regeermag, dit kan nie anders nie. Dit is
Hy, die Koning en Hy regeer oor ons, maar Hy regeer oor mense aan wie die Vader
die beeld van God gegee het. Hulle kan dink, hulle kan praat, hulle kan besluit
en hulle moet nie God teenstaan nie en hulle moet aan Hom gehoorsaam wees. Wat
‘n geweldige geestesaksie verwag God tereg, want Hy het ons so gemaak; sal
mense hê wat Hy in Sy Kerk bymekaar bring. En Hy wil hulle almal gebruik om die
regeermag van Christus te leer.
Nou is dit
wonderbaar en maklik, almal het gawes, jy kan uitbrei op wat Paulus hier noem.
Die een kan musiek maak, die ander een kan bereken, die ander een kan
administreer, ‘n ander een maak tuin. Waar eindig dit? En dan sê die Here: hierdie werke doen jy nie vir jouself nie,
maar vir die vreugde van jou medegelowige en sodat almal kan sien hier is mense
wat vir die Here se Kerk baie wil gee in diensvorm. Ek wens eintlik dit was
anders, want diens is moeilik. Dit eis trou, insig, selfverloëning en dit is
dinge wat moeilik kom.
Maar Hy neem ons
tye in beslag. In Psalm 31 staan daar: Here, my tye is in U hand. Dit het die
digter uitgevind en agtergekom: My tye is
nie myne nie, maar hulle is in die hand van die Here. En daarom moet ‘n
mens weet dat van jou geboorte af, van die kleinste kind wat jy in die gemeente
het, tot by die oudste, is hulle almal deur die Here in beslag geneem.
Nou takel die
lewe wat verbygaan jou kragte af en nou vra jy: Wat kan iemand doen, wat ‘n kind is, om die koninkryk van God te
bevorder? Deur die kinderlike geloof,
deur te weet die Bybel, waarvan my ouers my leer, is waar. Een kan vra: Wat
kan ‘n ou mens doen in die aand van sy lewe? Dan moet jy Psalm 92 lees: Selfs
in hulle ouderdom is hulle nog groen. Dan vertrou hulle nog op die Here, dit is
solank jy kan en daarna tree die Heilige Gees vir ons in. Ons moet dus almal
weet daar kom ‘n tyd dat ons dit dalk sal nodig hê dat die Heilige Gees vir die
Vader sê: Dit is U kind wat hier oud en gedaan lê, of jonk en baie siek.
So is die werke van die Here Jesus die eintlike
saak in die Kerk en nie die mense nie. Nou is dit ook opvallend dat die Here Jesus hierdie werk in ‘n tydperk
doen: van die sondeval af tot by Sy wederkoms. Dit is die tyd; daarna is die
tyd verby, dan is dit net ewigheid. En waar God die Seun dan in die tyd werk,
het Hy daarmee vir u en vir my die moontlikheid gegee om te verstaan wat Hy
doen. Ons werk ook in die tyd: my dag begin en hy eindig; party s’n begin later
en ander vroeër en party s’n hou vroeër op, maar ons lewe in tydperke.
Nou het God
verder ‘n wonder gedoen om hierdie arbeid in die tyd waarbinne Hy Sy Kerk
bymekaar maak, vir ons maklik te laat verstaan. God het nie nodig gehad om in
Genesis te laat skrywe toe die skepping voltooi was, dat Hy op die sewende dag
gerus het nie. Die woord ‘Hy het gerus’ is in die taal van die Ou Testament ‘n
bekende woord, u spreek dit uit Sabbat. En so het die Sabbatdag en al die
Sabbatswette in die Ou Testament gekom en skrywe die Hebreërbrief: daar bly vir ons ‘n Sabbatsrus oor. Ons werk
dus in die tyd, maar rus-rus en die rus is met die gedagte en met jou gemoed:
eenwees met die Skepper, met die Trooster en met die Verlosser. Die Bybel
noem dit ook die heilige gemeenskap met God.
Daarom het die
Bybel ook nog verder ‘n leerstuk: Jy moenie bekommerd wees oor hoe kom jy by
hierdie heilige gemeenskap met God nie. God
doen dit: uit die verloregaande mensdom kies Hy uit wie Hy wil, wanneer Hy
wil; ander laat Hy staan. Dan sê mense: Wat ‘n onreg dat Hy nie almal red nie. Maar
almal is verlore.
Wanneer jy dus oor hierdie werk van die Here dink,
moet ‘n mens ook ‘n baie suiwer Bybelse mensbeskouing hê. Die mens is nie soos God nie, al wil hy
so wees.En hy is ook nie God nie; hy is niks anders nie as een wat op sy dood
afleef.
En nou sê die
Here: Al sterwe jy eendag, is jy in die Kerk bymekaargemaak en word jy
vergader, ja, beskerm en onderhou. Wat kon die ou mense wat die Kategismus
geskrywe het, tog die dinge maklik sê: Vergader, beskerm en onderhou. Ek dink
die naaste wat ons daaraan kom in die gewone lewe is in die begrip bestuur.
Feite bymekaarmaak, keer dat dit nie verlore gaan nie en dit toepas. Ons is
besig om as mense tog die werk te doen van ons Heiland, maar dan moet ek nie
vergeet nie: Ek wérk soos Hy, ek is nie soos Hy nie. Adam en Eva wou mos met die sondeval soos God wees en dan sê die Here:
Jesus werk, werk jy ook so.
Die volgende
reeks gedagtes (hulle is minder) waaroor ons wil praat is: In hierdie
vergadering van gelowiges, waarin die werke van die Here so duidelik blyk en
waarin die gehoorsaamheid aan Koning Christus groei, sê mense wat hulle glo. Jy sê waarom doen jy hierdie ding en waarom
laat jy ‘n ander juis na. Dit is ‘n belydenis. En die wesenlikste, die
diepste van ons belydenis is: dat God in ons werk deur Sy Seun, deur die Gees
wat ons troos dat ons moed vat, deur die versorging van die Vader, wat maak dat
daar met ons niks ongewoons gebeur nie.
Die belydenis in die Kerk is die saak waarsonder
die vergadering van die gelowiges nie kan bestaan nie. Nou sal een sê: Is die belydenis dan sterker as
die Here Jesus? Nee, maar die Here Jesus het daarmee begin en vir Petrus gevra:
Wat sê die mense van My, wie sê hulle is Ek? En u ken die antwoord, hy het
gesê: Party sê U is Elia wat teruggekom het, ander sê U is een van die profete.
En toe hierdie geweldige vraag aan Petrus: Maar jy, wie sê jy is Ek? En u ken
sy belydenis: U is die Christus, die Seun van God. En kon hy hoor dat hy salig
is: op grond van hierdie belydenis gaan
die Here Sy Kerk bou.
En daarom,
wanneer jy met jou belydenis kom, gaan jy van woorde na dade. Wat is die dade?
Die woorde ken u, die belydenis van die Kerk is vir u nie vreemd nie. Die dade
is om met gawes te dien. Jy dien ook partykeer een deur nié te gee nie. Gawes besit, beteken nie dat jy tydig en
ontydig op ‘n ander een se versoek moet géé nie, maar dat die gawe wat jy deel,
moet dien tot groter gehoorsaamheid aan God.
Die diakens doen
dit altyd as hulle ‘n barmhartigheidsgawe bring na ‘n behoewende, dan sê hulle:
Dit is in die Naam van Christus. Dit het Petrus ons baie goed geleer, ons lees
dit in die boek Handelinge, waar ‘n man vir hom geld gevra het, ’n kreupele: Ek
het nie geld nie, maar wat ek het, gee ek; in die Naam van Jesus Christus,
staan op en loop. En hy is van sy verlamming genees. Toe moet die arme man gaan
werk vir geld, hy kan nie meer bedel nie. Maar wat ‘n seën het hy nie ook
daarin van die Here ontvang nie.
Ek noem dit as ‘n
voorbeeld van hoe gawes in diens, ‘n krag is in jou wat woorde word. En kom
daar ‘n band in die goeie belydenis tussen ons woorde en God se Woorde.
In Romeine 8 het
Paulus geskrywe: Die Gees van God getuig saam met my gees en Hy sê, Abba,
Vader. En so is die goeie belydenis: die krag in jou wat woorde word, is uiteindelik
‘n ‘meespreek met God’. En ‘n mens dink nie altyd daaraan dat die ‘meespreek
met God’ nie net is wanneer jy uit die Bybel lees nie, maar wanneer dit oor die
belydenis gaan.
Is dit dan te
verbase dat die aanval van die duiwel juis oor mense se belydenis gaan? Die
ongelooflikste aanval op die belydenis van die Christene gaan in die hanteer
van God se Woord deur mense. Ek noem vir u ‘n voorbeeld wat u goed ken: die
nuwe Afrikaanse Bybel noem die Naam van God meer as sesduisend keer verkeerd.
En as ‘n gelowige dan anders wil bely, het hy moeilikheid.
Die aanval gaan
oor jou belydenis, moenie ‘n belydende Christen wees nie, word ‘n liefhebbende
Christen. Liefhebbend? Ja, jy moet mense liefhê.
En dit lei tot
die laaste paar gedagtes. Die liefde tussen mense lê daarin dat ons soos God vergewe. Die vergewing
van sondes gebeur omdat Christus betaal het. Dis om Sy ontwil. Hy het gely, gesterf en betaal. En deur die
toedoen van die kwaad van die duiwel het dit gekom dat, deur die eeue heen,
daar ‘n toenemende verset onder mense gekom het. Die Here Jesus kan my nie alleen,
moet my nie alleen verlos nie; ek wil ook daaraan iets doen. Dit was maar hier,
dink ek, die vierde eeu min of meer na Christus, toe daardie Pelagius uit
Ierland gekom het en gesê het daar is nie so iets soos erfsonde nie. En jy moet
maar net besluit om ‘n gelowige te wees, dan is jy reg. Goed, hulle het hom die
mond toegemaak, maar elfhonderd jaar later, toe kom dieselfde stem weer deur ‘n
ander persoon, deur Armenius: die vrye wil van die mens om te besluit en die
miskenning dat ek in sonde gebore is. Want as ek nie in sonde gebore is nie,
kan ek aan my verlossing meewerk.
Hierdie
belydenis, hierdie oorgaan van kragte in jou, na woorde saam met God se Woord,
die belydenis oor die werke van God, broeders en susters, kom van die Here. En jy besluit nie self daartoe nie, dit is
aan ons gegee. Wat ‘n skat, wat ‘n wonder, wat ‘n las word jou nie opgelê
as God jou leer om aan die belydenis vas te hou nie.
Maar nou moet ons
dit doen en dit gebeur as ons die liefde van God ken in die vergifnis van
sonde. Dat die Here Jesus wel wetende van Sy verheerliking, angste van die hel
deurgegaan en gevra het: liewer nie, maar Hy sal as dit moet. Dink aan
Getsemane waar, soos ons met elke Nagmaal sê, die bloedsweet Hom ontpers is. Die
Here Jesus het geweet wat gaan kom, maar het ook geweet van
daarna, van die verheerliking. Daarom kon Hy die vergifnis verdien.
En om hierdie
rede kan gelowiges ook vergewe. Nou, ek dink nie die Bybel leer ons, jy moet
maar vergewe-vergewe deur die wêreld gaan nie. Daar moet ‘n skuldbelydenis wees om vergifnis te kan kry, en daar
moet ook genoegdoening wees; die skuld moet betaal wees, vòòr die vergifnis
kom. Om vergifnis te ontvang is ‘n werk en om dit te gee is ’n genade; ‘n
genade dat jy in die liefde van God geanker is.
Is dit nie die
troos wat ons as gelowiges het, dat die ewigheid, wat vir ons so onbegryplik
lyk (wat jy met ‘n mate van huiwering afwag, wat moet kom na jou dood), Dat dié
ewigheid nie vreemd is nie. Al ken ons
dit nie goed nie, ons ken die troos.
Daar is ‘n Psalm
32 wat sê: Voorwaar, my siel is in my stil, weer een met God se Heilige Wil.
Dan die beeld van die kind wat getroos op die moederskoot slaap.
Dit is die troos
van die Kerk: dat die Here vir ons goed is, dat Hy na die kort verdriet, ‘n
ewige vreugde bied. As ‘n mens dan nou hierdie hele leerstuk oor die Kerk
sistematies deurdink, dan eindig jy noodwendig daarby dat daar troos is in
hierdie lewe.
Daar was ‘n man,
ons weet nie wie hy was nie, wat verban was uit Jerusalem, uit die tempeldiens
na die Libanon-gebergte, waar die Jordaan ontspring. En daar sit hy en hy dink:
Hoe het ek nie saam met die juigende skare in die tempel ingegaan nie. En hier
hoor ek die ou klein stroompie waarvan ek weet hy word ‘n rivier. En dan is die
troos daar: Waarom onrustig, wat kan die
spotter of die vyand aan jou doen? Want God troos.
Amen