Ds. Jan Coetzee 16
Desember 2001 (Aand)
Lees: Efesiërs 3:
1-13
Teks: Efesiërs 3:
13
Heidelbergse
Kategismus: Sondag 7 Vraag en antwoord 20-23
Psalms:
31:17,19; 146:2,3; 116:1-3
Ek meen dat dit
algemeen bekend is dat geloof uit die twee sake bestaan (as ons dit so mag noem)
nl. kennis van God se Woord en vertroue dat dit die waarheid is en ook vir ons
geld. Nou wil ons graag by hierdie oordenking u aandag vra vir geloofsvertroue,
vir gedagtes daaroor. Om op God te vertrou is ook ‘n uitsluiting van vertroue
op andere. Maar daarom juis is geloofsvertroue meer as net om jouself gerus te
stel voor die Here. Geloofsvertroue is
ook ‘n wapen, ‘n geweldige sterk wapen waarmee ons die kwaad moet oorwin.
In Efese was daar destyds die gemeente wat
ontsteld was dat die apostel wat vir hulle die evangelie kom verkondig het, nou
in die tronk sit. Juis omdat hy ook onder andere daar die evangelie verkondig
het. Die vervolging van gelowiges was ontstellend, is seker nou nog ontstellend.
En nou skrywe die apostel aan hulle dat hulle in hierdie ingewikkelde deel van
sy brief moet vashou aan goeie moed. Daarmee praat hy die woorde van ons Here
Jesus wat gesê het: Hou goeie moed, Ek het die wêreld oorwin. En kort daarna
het hulle Hom gekruisig. Sodat dit kon lyk vir die wat nie geloofsvertroue het
nie asof die kwaad tog uiteindelik sterker is as wat ‘n mens gedink het. Maar
kwaad word oorwin in die moed van ‘n gelowige.
Ag, en dis soms
so swaar, is dit nie, om onder verdrukkinge en in benoudheid en in selfs
vertwyfeling, tog moed te hou dat die Here uiteindelik die goeie sal bevestig.
Veral as ‘n mens hierdie goeie moed wil sien en bely as meer as net woorde. Nie
maar sommer ‘n blindelingse: Uiteindelik sal dit darem goed gaan, maar ek weet
nie hoe nie. Maar ‘n vaste vertroue dat dit so is.
Geloofsvertroue lê ‘n las op ons. ‘n Las om wat ons geleer het vas te hou. Nie elke keer ‘n ander leer te soek wat miskien die beproewinge bietjie makliker maak nie. Dit is die manier van die wêreldse kerk om die leer aan te pas by die aanval. Dis erg as mens dit gaan doen. Word jy aangeval, sê jy nee maar ek leer so. Dan is jy weer vir ‘n rukkie reg.
Goeie moed is dus volharding
met sekerheid dat wat jy geleer het aangaande die evangelie nie verander nie.
Eintlik is dit ‘n baie eenvoudige saak as mens daar so oor dink, nie waar
nie? Daar is mos nie baie waarhede nie, die waarheid is een. En hoe kan die
waarheid verander? Nou sê mense: Ja, maar ek sê die waarheid kort-kort op ‘n
ander manier. As hierdie ander manier ‘n volledige beskrywing van die waarheid
is, is dit goed, nie waar nie? Maar nou is dit, soos ek gesê het, die neiging
van gelowiges wat nie volhard nie, om die leer aan te pas by die aanval. Nou
word die Efesiërs opgeroep tot geloofsvertroue. Vir ons wat nou lank na daardie
tyd lewe gee dit moeilikheid, want Efese is ‘n ruïne, dis deel van die huidige
Turkye. Die Christelike gemeente daar is uitgewis, uiteindelik deur die
Mohammedane wat beheer oor daardie land geneem het.
Nou is geloofsvertroue dan so, kan mens vra, dat dit maar net vir my, vir
‘n rukkie, iets moet sê, maar dat dit nie blywend is nie? Wat dan van die
waarheid wat nie verander nie?
Merk u op dat ons probeer om aan te toon dat die saak van geloofsvertroue
‘n las op die gelowiges lê om ook die oënskynlike dwaasheid van die geloof vas
te hou? Paulus is die een wat dit baie goed kon doen en ook gesê het: Vir die
Grieke is hy ‘n dwaas, hy praat van mense wat gaan opstaan uit die dode, hulle
weet dit gebeur nie. Maar die Bybel leer dat dit wel gebeur. As u gaan nadink
oor wat God alles met mense laat gebeur, dan sou ek dink daar is amper meer
dinge wat jou geloofsvertroue weerspreek, as dit wat vas en seker en rustig
deur jou lewe gaan. Daarom is geloofsvertroue die saak waarmee Christene hulle
juis moet besig hou.
Ons wys u teen hierdie agtergrond op twee opskrifte vir hierdie oordenking:
Die eerste is die geopenbaarde genade. En dan daarna wil ons graag iets sê oor
die wekroep tot geloofsvertroue.
Paulus was nie aanmatigend toe hy
gesê het dat aan hom dinge geopenbaar is wat verborge was deur al die eeue nie.
Dit is die waarheid, naamlik dat geloof jou salig maak en dat die heidene ook
deelgenote is. Hoor net hoe sê hy dit: Mede-erfgename, medelede van die liggaam
en mede-deelgenote aan sy belofte. Drie dinge wat Israel eie was. Erf gename, sodat hulle selfs ten
onregte gedink het dat as jy uit die nageslag van Abraham kom, dit genoeg is.
Dan is die geloof weg en die vertroue weg en kom die geslagsregister in die plek.
Godsdiens is nie ‘n genealogiese saak nie, dat jou afkoms bepaal waar jy gaan
nie.
Godsdiens is nie dat net jy
deel het aan die genade nie. God gee dit aan baie, selfs aan mense van wie ons
nie hou nie. En dis nie
maklik om dit te aanvaar nie, maar dis hoe die Bybel leer. En dan eindig die
derde saak wat Paulus sê: Mede-deelgenote aan die belofte. En hier kom die lig
van God se woord, meen ek, na vore. God
laat jou nie net deel hê aan Sy heil nie, Sy liggaam dis in Christus, die
goedheid van God nie, maar aan Sy belofte.
En Abraham aan wie se vaderskap baie hulle so gesteur het, het niks anders
gehad van die evangelie nie as ‘n belofte. In die Hebreërbrief, in hoofstuk 11
word dit baie duidelik gesê. Hoe baie ander was daar nie wat net die
beloftewoord gehoor het en nie die vervulling daarvan gesien het nie. Nou het
die Here deur die Heilige Gees aan Paulus bekend gemaak dat ook aan die heidene
hierdie wonder van God se redding en heil en dat jy aan Hom behoort, gegee
word. Immers, Israel was nie so ‘n wonderlike volk in die ou tyd nie. En die
Bybel leer ons uitdruklik dat as die Here hulle nie nodig wou hê, wou gebruik
in die koms van Christus nie, het Hy hulle verwoes van die wêreld af. Trouens Hy
het; net die gelowiges uit hulle het behoue gebly en bly behoue. Maar Christus
se koms moes volgens God se wil en raad uit Israel geskied, dit weet ons almal.
En hulle was die volk van die verbond, ten spyte van wat hulle gedoen het.
Hierdie selfde Abraham het by twee geleenthede omdat hy bang was vir die heidense
owerstes, sy mooi vrou Sara sy suster genoem en haar vir hulle gegee. Dan kry
hy haar terug en jaag hulle hom weg as hulle sien hoe hy was. En toe maak God
met hom ‘n verbond en sê: Nie omdat jy so
is, soos wat jy is, maak God die verbond nie, maar omdat die Here wil.
En nou kom hier lank-lank na Abraham, die onaansienlike jong rabbi, Paulus.
‘n Rasende vervolger van die Christene in die begin gewees, soos almal weet. En
as u aan die Galasiërsbrief dink en ook aan ander plekke waar Paulus vertel hoe
sieklik hy was, en ook die kommentaar van mense wat die Skrifte ondersoek, in
ag neem, was Paulus se voorkoms regtig onaansienlik. Maar wat ‘n begaafde, die
Bybel sê hy het uitgemunt onder sy tydgenote. En hierdie uitmunt onder sy
tydgenote, wat nie noodwendig fisies moet wees nie, is die saak waaroor dit
gaan en was hy dan die persoon wat die evangelie aan die heidendom verkondig
het. En Paulus noem dit: Hy maak ‘n verborgenheid bekend. Die Jode het hom
verjaag net waar hy gaan. Eerste in elke dorp met sy sendingreise, soos u weet
het hy die sinagoges besoek en vir hulle van Christus vertel. Nie lank daarna
nie, het die heidene dit gehoor en nie lank daarna nie, het die Jode hom
verdryf. En so is die verborgenheid van
die evangelie ‘n struikelblok vir mense wat dink dat hulle alles het.
Vir ons as gelowiges uit die
reformasie wat eeue gelede die Waarheid ontdek en geformuleer en ek sal amper
sê met hulle bloed geskrywe het, in sommige gevalle, vir ons is dit iets om aan
te dink, dat die verborgenheid van God ‘n saak is waar jy oor moet nadink. Oorbekendheid word verborgenheid. As jy
so alles maar hoor...neem die Wet van God wat Sondae gelees word in die
erediens. Baie keer betrap mens jouself dat jy oor ander goed sit en dink, want
ek ken dit en ek weet dit. Oorbekendheid kan maklik ‘n verborgenheid van die
aanpak en inhoud veroorsaak en daarom, ek het nou die voorbeeld van die tien
gebooie genoem, moet ‘n mens met die voorlees daarvan aandagtig luister en oor
jouself nadink. Daar is baie sondes wat mense doen en dink dit is nie teen een
van die gebooie nie.
En nou is Paulus in die gevangenis en hy skrywe hierdie brief uit die tronk
aan die Efesiërs en sê: Kyk ek is nou weggesteek in ‘n tronksel. Dit lyk of die
evangelie weer verberg word in Paulus se gevangenskap en dan gaan die lig van
God se genade oop en sê: Ek is Christus se gevangene, nie die Romeinse ryk s’n
nie. Die Romeinse regter, wat seker uiteindelik deur hulle keiser bevestig was,
se vonnis oor Paulus dat hy gevang moet word, het nie van Paulus ‘n gevangene
van Rome gemaak nie. Hy is ‘n gevangene van Christus soos hy dit stel en hy is
dit ter wille van die gemeente. En hier het u die werklike, ek sou sê
dieptepunt van die geopenbaarde genade.
Dit is nie net dat God jou
deur geloof salig maak ongeag jou afkoms nie, maar dat jy moet weet dit is in
Christus dat dinge met my gebeur. Het u sukses, dan moet mens weet dat dit in Christus gebeur het. En ly een
beproewinge en verdrukking en smaad, moet hy weet dat dit in Christus is. Hy
moet aanhou glo en nie ophou glo, nie ophou volhard, nie terugsit, nie
moedeloos word nie. Die geopenbaarde genade is dus uiteindelik dat die
gevangene van Christus ‘n woord skrywe wat deur geen tronk ingehou kan word
nie. Hier lees ons dit dan vanaand nog in die erediens. Paulus het die Woord van God verkondig en dit word nie gebind nie.
Wat ‘n saak is dit nie! Nie net vir hulle wat die Woord van God verkondig
nie, maar vir elke mens wat uit die evangelie leef. En wie is daar wat dit nie
moet doen nie? Wat op een of ander manier die evangelie se waarheid moet bely
waar hy gaan en werk en ook waar hy in stryd en nood is. Wat ‘n troos is dit
nie om te weet dit is nie gebind nie, en die Woorde van God sterwe nie, maar
leef in die nageslag, in die wat dit gehoor het en wat dit sal onthou.
Die geopenbaarde genade van
die geloof roep ons dus om op God te vertrou. Daaroor die volgende paar gedagtes, oor die
vertroue in die geloof.
Oor die kennis, meen ek het ons nou die een en ander gesê, dit is
geopenbaarde genade. Altyd kom tot die gelowiges die herinnering aan die
geopenbaarde genade. Altyddeur kom die wekroep tot geloofsvertroue langs die
pad van die Bybel. Die geopenbaarde
genade, die wekroep om te vertrou, is nie in die ruimte ‘n los geklank nie,
maar gebind aan wat die Here deur die eeue en eeue heen aan die Kerk geopenbaar
het; oor Homself, oor Sy werk en oor die uiteinde van die wêreld. Daarom is
herinnering aan die geopenbaarde genade so ‘n belangrike saak in ons lewe. Wat
doen ouers in die verbond anders as om hulle kinders gedurig te herinner aan
dit wat God aan ons openbaar. Dis dan juis die doopsbelofte se inhoud.
Hoe kan mense saam woon as hierdie
herinnering nie onder hulle leef nie? En dit is ‘n geweldige wapen teen alle
vorme van verval, dat mense mekaar herinner. Nie omdat een dit nie weet nie,
maar om daaroor te praat. Ons sê baiekeer en mens sê dit dan met ‘n mate van
droefheid omdat dit dalk nie meer so is nie, dat vorige geslagte wat nie die
vermaakfasiliteite gehad het wat ons vandag het nie, baie meer oor die Bybel
met mekaar gepraat het. Hulle het partykeer bietjie nonsens gepraat ook. Ek het
al gehoor hoe twee oues met mekaar sit en sê: ek vat die Bybel so dan sê die
ander een nee, ek vat hom so. En dan wil jy vir hulle sê maar kyk julle is
heeltemal verkeerd, maar wat hulle gedoen het was goed, want nie een het
gelaster nie, maar hulle het elkeen ‘n idee gehad en mekaar herinner. So werk
dit dan dat ‘n mens nie al die geleerdheid oor die Bybel moet besit om oor die
Bybel te kan gesels nie, maar ons moet mekaar herinner aan die geopenbaarde
genade. Die Boek is goed en niks meer as nodig nie.
Nou het die Bybel nie geleer, nooit,
dat die Kerk in Efese vir altyd sal bestaan ongeag die wêreldgeskiedenis nie. Die verwoesting van gemeentes deur ongeloof,
is ‘n waarskuwing aan die Kerke om op God te vertrou. Die hele Noord-Afrika
aan die Middellandse see, is deur dieselfde Mohammedaanse geloof, as jy dit ‘n
geloof moet noem, ontkersten. In Alexandrië was daar ‘n akademiese inrigting,
ek sou sê ‘n teologiese skool van naam. Waarin die Bybel en veral die Nuwe
Testament oorgeskryf en oorgeskryf en bekend was. Daar is niks van behalwe in
museums. Dis nie waar nie, hier is nog steeds dele van die Alexandrynse Bybel
in ons Bybels.
Geen wonder dat die aanval kom om te
sê: Die Bybel is karig oorgelewer en wat die Nuwe Testament betref drie
grondtekste, die res is nonsens, dit is wat vandag geglo word. Is dit
Godsvertroue? Is dit Godsvertroue om te weet daar waar ongeloof ‘n kerk verwoes het, het die Woord van God
gelewe, tot die dood van mense? Augustinus was daarvandaan, ‘n groot kerkvader.
Nou leer die Bybel, as Hy
oproep tot geloofsvertroue, nie dat hierdie die hemel is, of hierdie die nuwe
aarde is nie, hy gaan dit word. Hier is die wekroep tot geloofsvertroue vir ons ‘n troos en ‘n
herinnering. Oorwin die kwaad tot die dood toe. En sterwe sal ons. Maar dan
moet die herinnering aan die geopenbaarde genade en die geloofsvertroue
teenstand bied solank jy kan teen die heidendom. Ons lewe in ‘n land waar die
aanslag van die Islam al hewiger word. En mag dit wees dat ons nie Efese word
of Noord-Afrika nie.
Maar dit gaan nie van u en my afhang
of dit so is nie, God beskik dit. Wat wel
van ons afhang, is of ons ‘n nalatenskap het. Aan die Efesiërs het Paulus
geskrywe oor hoe die Kerk moet wees. Ons het veral die leer oor die Kerk se
wese uit die Efesiërbrief. Ek het reeds genoem dat in Noord-Afrika het die
Skrif bewaar gebly. En daarom moet die geloofsvertroue wat ons het, so wees dat
ons ook ‘n nalatenskap het as ons dan moet gaan. Dis nie so moeilik nie; u
dierbares, wat nie meer lewe nie, het almal ‘n geloofsnalatenskap nagelaat. In
hulle manier van vertrou, in woorde, in voorbeeld, in orde, hoe dit ook is. Daarom is die wekroep tot geloofsvertroue
inderwaarheid ‘n wekroep tot behoud van die Woord van God in Sy suiwere
waarheid. So het vertroue ook ‘n profetiese sin. Die vertroue van ‘n
gelowige leef voort, sterf nie met hom saam nie. En dit is wat ‘n mens moed
gee, dat geloofsvertroue die uiteindelike profetiese sin van ons lewe is.
Jeremia, as hy, toe hulle hom in die modderput wou gooi en dit gedoen het,
gesê het: ‘Goed, ek trek alles terug wat ek gesê het’, het hulle hom uitgehaal.
Hosea kon gesê het: ‘Ek lê nie meer op my sy nie, ek is moeg’. Hy het drie jaar
op sy sy gelê. As u die profeet Hosea lees, sal u daarin sien watter
verskriklike goed moes hy nie doen nie en hoe moes hy sy kos maak.
En het hy vertrou dat al lyk
hy hier verspot, is dit die Woord van die Here wat klink as hy praat. Daarom is geloofsvertroue by
uitnemendheid die sinvolle huidige lewe. Wat ons doen is nie dwaas nie, is nie
tevergeefs nie, moet voortleef en sal.
Die ware godsdiens se sin lê uiteindelik gebed in die vertroue van die
Christendom, van die individue, sowel as van die Kerk as geheel.
En dan skrywe Paulus aan die Efesiërs, nou het julle toegang tot God. Die woorde: ‘Gaan in in die vreugde van jou
heer’, geld vir hulle wat nie baie lank kerk kon bly nie, geld vir almal wat
glo. En die toegang tot God in Christus, die ingaan na die Here toe, is van
die wonderbaarste dinge wat kan gebeur. As u dink die simboliek van die Ou
Testament het die ingang tot die allerheiligste verbied, selfs die hoëpriester
het daar maar eenmaal ‘n jaar mag ingaan, die volk glad nie. U en ek ten volle.
Dit is die geopenbaarde
genade en waarop ons moet vertrou. Die ten volle toegang tot God.
Hoe goed is die Here nie vir gelowiges wat op Hom moet vertrou nie. Daarom
sê Paulus: Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word by my verdrukking ter
wille van julle nie, dit is julle eer. Dis vers 13 van Efesiërs 3. En Paulus se
gebed wat in die Bybel geskrywe is, klink ook vir u en my in die oor en in die
hart.
Amen