Ds. Jan Coetzee 23 Desember 2001 (Aand)
Lees: 1
Korinthiërs 15: 1-21
Heidelbergse
Kategismus: Sondag 8: Vraag en Antwoord 24-25
Psalms:
138:2,3 33:5,6 85:1,3 68:9,16
Wat die dwaalleer
aanbetref is daar ook niks nuuts onder die son nie. In Salomo se Spreuke het hy
gesê daar is niks nuuts nie, ook in die boek Prediker. En nou is dit vir ‘n
mens ‘n troos, regtigwaar ‘n troos om te weet dat ook die duiwel nie nuwe dinge
kan uitdink nie. Onder die invloed van die Griekse geleerdheid, die
wysbegeerte, was daar al ‘n groep in Judea, Israeliete --dis die Sadduseërs in
die tyd van die Here-- wat nie in die opstanding geglo het nie. Hulle was Griekse Jode, nie noodwendig in die
manier van praat nie, maar veral in hulle kultuurbeskouing. En u weet hoedat
die Here hulle die mond gestop het oor die opstanding.
En nou na
Christus opgestaan het uit die dode, die apostels die Kerke gestig het en
Paulus agtien maande lank in Korinthe gewerk het as evangelieverkondiger,
verneem hy dat daar onder hulle is wat sê daar is nie ‘n opstanding nie. As jy
dood is, is dit met jou verby. Het u al gedink hoe ‘n lekker geloof is dit? Dan
is daar geen gewetensklag nie, daar is geen rede waarom ‘n mens moet ag gee op
jou lewenswandel nie, want as dit met jou verby is is dit gedaan. Jy kan
hoogstens deur God in hierdie lewe ‘n straf ontvang en die kan jy dra, want met
mense gaan dit buitendien nooit vreeslik goed nie.
Nou merk Paulus
by die Korinthiërs hierdie gesindheid --en dit was gekoppel, as u die eerste
hoofstukke van die eerste brief lees, aan die onsedelikheid wat hulle in
daardie gemeente bedryf het-- die weiering om kerklike tug op hulle toe te pas.
Nou is dit die waarheid dat, as in die Kerk van
die Here die eerste tree gegee word om ter wille van mense sonde te verduur,
dan loop dit uit op die verloëning van die Here self. En dit het dan nou daar gebeur. Hoor net hoe lank
(ons het dit alles gelees) het hy vir hulle gepreek en van die ander apostels
ook: Hoe sê julle dan dat daar nie ‘n opstanding is nie? Die Kerke van die
reformasie het van die begin van die reformasie af baie duidelik in die opstanding van die
liggaam en die opstanding van Christus geglo.
Sodat in die
leerboek van die Kerk in hierdie Sondagsafdeling wat ons gelees het, die vraag
gevra word: nie of Christus uit die dode opstaan en hoe nie, maar: wat is die
nut daarvan? Die feit van die opstanding
van Christus staan vas. En wat met ons gebeur as gelowiges omdat Christus
opgestaan het, is die volgende. Nou kan ons die genade en die heil ontvang. ‘n
Heiland wat nie betaal het, wat nie gekruisig is, wat nie gesterf het nie, dra
nie ons sondelas nie. Een wat dood bly, het niks om uit te deel nie.
En so was dit wat
op die Sondagoggend gebeur het, en waarvan Paulus sê Hy het eerste aan Cefas
verskyn. En dan sê Paulus nie daarmee dat die evangeliste verkeerd was nie wat
gesê het dit was vroue wat gaan kyk het nie, en wat Hom gesien het in die tuin
nie. Die Here se verskyning is ‘n doelbewuste optrede, hier kom Hy na Petrus. En
daarna het Hy aan baie verskyn; Hy het gekom en Hom aan hulle vertoon.
Daar is ‘n saak
wat vir ‘n mens moeilik is om te begryp. Dit het gekom by daardie Thomas wat
nie wou glo as hy nie sien nie. En nou het hy die merke van die kruisdood aan
die hande van die Here gesien.
En hiervoor sal
ons ons moet voorberei: dat die skok van my sondestraf, wat ons aan Hom sal
sien wanneer die opstanding van ons ook kom, ons nie bedroef nie. In hierdie
lewe bedroef dit my wel om te dink dat, in Sy heerlikheid, in Sy koningskap, in
Sy onvergelyklike majesteit as Koning van die konings, dra Hy die merktekens
van die straf van God aan Hom. Maar ek kan u nou-al sê hoe ons ons moet
voorberei om dit te doen soos die Bybel ons leer.
Ons moet weet dat ons nie aangekla kan word van
sondes nie, want die bewys van die straf wat Hy gedra het, die toorn van God
wat Hy op Hom gehad het, is ewig aan die Heiland. Sodat ons
nie aan die lyde van Christus dink na Sy opstanding nie, maar aan die feit dat
Hy genade uitdeel.
En dit is ‘n
baie, baie belangrike geestelike werk wat gelowiges moet doen. Om in jou
gedagtes verby te lewe, terwyl jy die lyde van Christus nie verstoot of vergeet
nie, maar ook uit te styg na die sekerheid van jou saligheid. Nie ‘n
soetsappige sekerheid nie, maar ‘n onomstootlike sekerheid en dit kom deur die
opstanding van onse Here.
Ons wil nou graag
teen hierdie agtergrond eerste daaroor praat dat Christus aan ons Sy
geregtigheid deelagtig gemaak het. Of, sal een dalk sê, nie hier nie, op ander
plekke: Die ou dogmatiese terme. Christus
maak ons Sy geregtigheid deelagtig.
Dis woorde wat
hier van die opstel van die Kategismus, ja van die skrywe van die Romeinebrief,
al in die Kerk bestaan. En ons moet nie dink dat die Waarheid iets is wat ooit
nuut gesê moet word nie, omdat die Waarheid nie kan verander nie. Dis te sê as
dit Waarheid is, moet ook die bewoording van die Waarheid bekend bly. Paulus sê
dit hier in die eerste vers van die hoofstuk: Ek maak aan julle bekend. En toe
maak hy aan hulle bekend, dit wat hy vir hulle gepreek het. Asof hulle dit vir
die eerste maal hoor, terwyl hy juis met die argument kom dat hulle dit uit die
kop ken.
Nou is die woord geregtigheid ‘n aanstoot in ons tyd.
Daar is baie sulke woorde, een woord wat ook ‘n aanstoot in ons tyd is, is duiwel. Daar is ‘n geleerde man, hier in
Pretoria, wat uitgevind het as teoloog dat die duiwel nie bestaan nie. Hy is
verkeerd, want as die duiwel nie bestaan nie, waarom moes Christus dan kom?
Daar het u dit. Geregtigheid is nie ‘n modewoord van ons tyd nie. Wat beteken
dit? Dit beteken ‘n toestand waarin jy nie aangekla word nie.
Die nuwe
Afrikaanse Bybel gebruik konstant die woord vryspraak
in die plek van geregtigheid. Dit kan nie waar wees nie, want vryspraak is
immers ‘n woord oor jou nadat jy aangekla is, verhoor is en toe nie gestraf is
nie. Maar dit gebeur nie met ons nie, deur
die opstanding van onse Here mag niemand ons meer aankla voor God nie. Ja,
voor die wêreld, maar wat maak dit saak? Maar die klag teen die mens, van God, het verval. En dit word genoem geregtigheid. Ons moet hierdie begrip vashou.
Geregtigheid, of
soos dit op ‘n ander plek gesê word, geregverdig deur die geloof in Christus.
Dit is wonderwoorde waar ons nie los van moet raak nie. Daar is dus nie ‘n
verborge sonde, een waarvan ons nog nie weet nie of waarvan ons dalk per
ongeluk vergeet het, wat kan maak dat ons uiteindelik verlore sal gaan nie.
Nou skrywe Paulus
aan hierdie mense in Korinthe: As julle
sterf die dag, is julle salig, en op God se tyd staan julle op uit die dood.
Een van die argumente, wat hierdie mense gebruik oor die opstanding uit die
dood, is die drukte daar waar hulle mense begrawe. En kyk, as dit gewoonweg was
soos nou in die tyd, dan sou dit nogal moeilik gegaan het, veral waar jy
massagrafte het, of twee of drie in een graf.
Maar dit is ‘n
geestelike lewe; die liggame is soos die Here s’n, wat by die toe deure kon
ingaan en uitgaan --juis om hierdie Thomas en die ander dissipels te kan troos.
Geestelike liggame het nie ‘n ordening en ‘n reëling nodig nie. Daarom is
hierdie sekerheid dat daar in my geen verborge sonde is nie, al kla my gewete
my aan dat ek nie goed is nie. Dan gee
die Here ons, omdat Hy uit die dood opgestaan het en die dood oorwin het, ‘n
lewensposisie waarin die aanklag nie moontlik is nie. Hierdie geregtigheid
wat die Here aan ons gee is nie ‘n geheime saak nie, dis bekend, dis openbaar.
Dit is wat die
kenmerk van die Kerk is. In ons dae hier te lande,maar ook op baie ander plekke
oor die hele wêreld, is dit so dat die Kerk sigbaar wil word deur sy
organisasie en sy hanteer van mense. Dan openbaar God nie Sy geregtigheid nie,
maar die Kerk doen wat hy maar mag, om ook te organiseer. Maar dan is die
geregtigheid van onse Here nog nie bekend nie. Die geregtigheid van die Here word bekend wanneer mense vasstaan en nie
twyfel oor die Waarheid nie. Wanneer
hulle lewe in sedelikheid en in ordelikheid, onberispelik word.
Hierdie woord onberispelik staan in die
attestasievorm. Dis ook ‘n ou woord, moet nie ‘berispe’ word nie, want die swakheid
wat daar is word erken, word uiteindelik te bowe gekom. Maar die aanklag is nie
meer daar nie, geregverdig in Christus.
Nou, sulke woorde,
met ‘n ryk inhoud, evangeliese inhoud, word vermy in ons dae. En so in die
verbygaan wil ons mekaar dan ook opskerp om hierdie inhoudryke woorde weer
opnuut te bedink, en dat die Here ons dit deelagtig
maak. Dit beteken nie dat Hy uitdeel nie. Mens moet dit vergelyk met wanneer
die Here brood uitgedeel het aan die mense, toe eet hulle dit en toe soek hulle
weer. En toe sê Hy vir hulle: Vir julle is daar nou nie meer brood nie, julle
het klaar geëet. Hulle was nie versadiging deelagtig nie, u en ek is dit ook
nie deelagtig nie, ons moet gereeld eet. En so is deelagtig wees ‘n begrip wat
hou, wat aanhou, wat ewig is.
Is dit nie vir u troosryk nie? Om daaraan te dink,
ons wat nie meer al ons dierbares by ons het nie, het saam met hulle ‘n
deelagtigheid aan dit wat goed is, wat van God kom. Dan is daar nie sulke verskriklike verbreking van
bande as wat dit op die oog af lyk, of vir ‘n ongelowige mens sou voorkom nie. Deelagtig wees is ‘n wonderwoord, ek is
dit immer. Die Here maak jou nie deelagtig, ‘n mens wat gereeld deel en sê nou
kry jy nie meer, jy het klaar geëet nie. Die
genade, die geregtigheid, die heil, die sekerheid van ons opstanding, die troos
is iets wat ons deelagtig gemaak word.
En net soos wat
die geregtigheid openbaar is, is hierdie deelagtig wees ook iets wat nie
verberg word nie. Soos wat ons die kruisiging van die Here in hierdie tyd en
land en in hierdie dae nie kan sien nie, net daarvan moet lees, is dit ook met
die deelagtig wees. Ons kan daarvan
praat, dis deel van die belydenis van die gelowiges.
En daarmee is die
hele saak van ‘n mens se belydenis op die voorgrond. Dis nie ‘n saak waar ons
mense erg aan het nie. Ek praat nie van u nie, ek praat nie van ernstige
gelowiges nie, maar van diegene wat die Kerke graag wil verander. Want om
aanmekaar te weet ‘ek is dit deelagtig’, verhoed jou om gedurigdeur te
verander. En om belydenisse te verander is die gees van ons tyd.
Gewoonlik sit
daar ‘n ideologiese motief agter, waarom die Kerk nou anders moet praat as wat
hy altyd gepraat het. Maar die belydenis waaroor ons hier praat, is u en my
persoonlike belydenis; dit wat ons sê ons glo. En dan begin ‘n mens met hierdie
belydenis, met hierdie ryk woorde uit die kerkgeskiedenis.
Christus het deur Sy opstanding die geregtigheid,
die lewe, die saligheid aan ons deelagtig gemaak. En ons verloor dit nie, ons
kan dit nie verloor nie.
Die tweede saak
waarvoor ons u aandag vra is hierdie leerstuk van die Kategismus, dat ons
opgewek word tot ‘n nuwe lewe. Daarmee praat die Kategismus en ook die Bybel
dan; nie noodwendig net van die opstanding die dag by die wederkoms van die
Here nie. Maar die opstanding tot ‘n nuwe lewe, die ‘opgewek wees tot’ ‘n
daaglikse nuutheid van ons lewe. Dan moet ons die verskil onthou tussen anders
wees en nuut wees.
En hier kom die
belydenis van die gelowiges dan nou nog duideliker te pas. In die Bybel beteken vernuwing nie maar net verander nie, ‘n
verandering kan ‘n baie ou verandering wees.
Hier is die klomp
in Korinthe; hulle het verander na ‘n geloof waarin die opstanding van die
vlees nie bestaan nie. Hulle het verander na ongeloof deur net een waarheid van
die evangelie te laat vaar.
Maar nuutword is om iets wat jy dink jy nie meer
kan gebruik nie, opnuut bruikbaar te laat word. En daardie iets is ons as mense. Deur baie
oorsake kan dit gebeur dat ‘n mens nie meer baie bruikbaar is in God se diens
nie. Dat jou belydenis verstil, dat jou lewenstyl, jou kultuur en jou denke
wêreldse neigings begin verkry. En ek dink dit gebeur met ons, want ons is
blootgestel aan hierdie dinge deur die sogenaamde kommunikasie-media. Sodat ‘n
mens amper wil sê dat dit goed is om geen koerant te lees nie en nooit na die
televisie te kyk nie, maar dan weet jy ook nie wat sê die vyand nie.
En hier kom dan ‘n eenvoudige reël te pas vir die
vernuwing van ‘n gelowige: Ken die vyand. Leer die dwaling verstaan, begryp gou waar
die verleiding lê.
Dit lyk soms asof
mense nie omgee as daar ‘n verkeerde ding gebeur nie, asof ons verby lewe by
goed wat nie meer aanvaar kan word uit ‘n Skrifgelowige standpunt nie; die
mense het ‘n ongeërgdheid in hulle. Die oorsake daarvan dink ek kan ‘n mens
duidelik noem: dit het hoofsaaklik gekom uit die vorige groot oorlog. En hoe
lank terug was dit nie al nie, sommige van ons ken dit nie eers nie. Maar die
effek van die dood van baie, het gemaak dat mense die ellende ongeërg deurleef.
Ons is geskok, ja, praat ‘n rukkie daaroor en dan is dit verby.
Maar die nuutword is: om dit waartoe God ons roep
opnuut te bedink, die Waarheid vas te hou en die Here te dien soos dit voor jou
hand kom op daardie oomblik.
Nou hier het ons
dadelik alweer moeilikheid met die praktyk. Jy is oppad en een vra hulp en dan
ry jy verby, want jy weet dis dalk ‘n rower, maar dit kon dalk een gewees het
wat hulp nodig het. En so het die kwaad in die wêreld gemaak dat gelowiges soms
werklik nie kan waag om barmhartig te wees nie. En dan sê een: Maar wat van die
Samaritaan? Maar hy is nie aangerand nie, hy het goed gedoen. Ek het nie ‘n
antwoord in my eie gemoed op hierdie sake nie, broerders en susters, behalwe
dat dit ‘n saak is van ‘n gebed dat die Here dit tog weer vir ons moontlik kan
maak in hierdie wêreld om ‘n goeie belydenis uit te lewe.
Hierdie nuwe lewe is nie net om weer bruikbaar te
kan word en die hele worsteling wat daarom gaan nie, maar dit behels ook
heiligmaking. En heiligmaking is net so ‘n ryke woord in
die Bybel, dit beteken dat jy kan sien wat moet gebeur.
As u dit vergelyk
met wat in Openbaring 15 vers 2 staan, waar aan Johannes in sy visioen getoon
is ‘n see van glas, hy kon deurkyk tot ondertoe. ‘n Bekende eksegeet het
hiervan die teenstelling gemaak met die see in die Ou Testament, wat aanmekaar
skuim en slyk opgooi, jy kan nie in die see insien nie. Dis nou nog so, party
plekke kan jy niks sien nie so vuil is dit.
Maar heiligwees is om te kan sien wat God jou
toon.
En as jy dan kan
sien wat God jou toon, is jy nie by ‘n geloof deur aanskouing nie, maar by
aanbidding omdat jy opmerk. En so kan dit gebeur, soos dit ook inderdaad met
ons gebeur, dat jy selfs by ‘n graf staan en jy sien nie die dood nie, maar die
opstanding. Wat jy wel nie begryp nie, maar jy sien wat God gaan doen daar waar
dit lyk of dit verberg is. En in ‘n mens
se moed en in die dra van jou smart met troos, toon ‘n mens dan dat jy gesien
het wat God aan jou toon. Dit doen Hy deurdat Christus uit die dood
opgestaan het.
Die mense was
verbaas en ontsteld: hier is die Here. Van die dissipels het gesê: ‘Dit is die
Here.’ En dis dieselfde woorde waarvan ‘n mens in Psalm 29 lees.
Ons wil u in die
verbygaan daarop wys, broeders en susters, daar’s nie eers nuwe woorde en
uitdrukkings in die Bybel nie. God het deur Sy profete en in die
heilsgeskiedenis alles gesê wat Hy in die Nuwe Testament sê. In Psalm 29 was
daar ‘n donderstorm, geweldig, takbokke het gelam van die geweld, so sê die
Psalm. Dit moes erg gewees het. En in die tempel sê hulle: ‘Dit is die Here.’
En by die
ontsteltenis van: Ons het Hom sien hang aan die kruis en Hy was dood. En hier
leef Hy en volgens die laaste hoofstuk van Johannes se evangelie, het Hy gekom
en gesê: ‘My kinders, het julle nie iets om te eet nie?’ Toe sê hulle nee, want
hulle het nie vis gevang nie. Toe was daar klaar ‘n vuurtjie op die strand,
kole met vis wat daarop braai.
Waarmee die Here
dan duidelik bekend maak: Wat Hy van ons vra, het Hy klaar gedoen. En so is dit met die heiligmaking: dit wat
Hy van ons eis, dat ons moet kyk wat God doen, het Hy klaar bewerk. En so
is dit uiteindelik ons geloof in wat God doen wat weer ter sprake kom. En so is
dit in die evangelie: dit begin by geloof. Glo in die Here, en uiteindelik, glo
in Sy werke. Dit is wat ons nut is, onder andere, uit die opstanding van onse
Here.
Mag dit wees,
broeders en susters, dat hierdie groot en heilige nuttigheid ons deelagtigheid
mag bly. Amen.