Ds. Jan Coetzee 8
September 2002 (Oggend)
Lees: Lukas 9:
37-45
Teks: Lukas 9: 41
Psalms:
89:1,4; 19:4; 65:3,4;
73:11,12; 74:15,16;
Die Bybel leer ons in hierdie deel dat
barmhartigheid en genade nie dieselfde is nie. Daar kan barmhartigheid betoon
word sonder dat jy verlos is, of dat jy gered word van die ewige oordeel. Daar het ‘n man gekom uit die skare, soos
ons hier gelees het; hy glo nie en hy bely geen geloof nie. Maar hy sê: Ek het
‘n kind wat siek is. Dis erg as jy sien wat met die kind gebeur het en nou sê
hy dis sy enigste seun. Dan antwoord die Here hom en dit is die teks: ‘O,
ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal ek by julle wees en julle verdra?
Bring jou seun hier.’
Die Here Jesus
het hier, anders as op ander plekke, nie gesê: ‘Gaan, jou geloof het jou gered’,
nie. Mens onthou nou nie sommerso met die aanhoor, tekste nie, maar dit kan
nagegaan word. Ek wys u op wat in Lukas 7 vers 59 en in Lukas 8 staan, die twee
hoofstukke: daar word baie genesingswonders beskrywe en elke keer was dit
gegrond op ‘n belydenis van die siekes. Dan sê die Here: Gaan, jou geloof het
jou gered. Jy word nou gesond, maar onthou elkeen wat gesond word bly in die
tydelike lewe. Daar moet tyd verbygaan en jou lewe moet vol word, vir sommige
is dit ‘n lang tyd, vir ander kort. En dan kan jy die ewigheid beërwe, maar dit
doen jy uit geloof. En daarom moet in hierdie lewe die geloof gebou word en
bely word.
Die Here het vir
die man ‘n harde woord gegee.
Ons wys u
eerstens teen hierdie agtergrond, hy het barmhartigheid gekry, maar nie genade
nie. Hy wou dit ook nie hê nie, hy was oor sy seun begaan.
Duiwelbesetenheid... mens staan
versteld as jy sien hoe die duiwel sy werk doen. Hy werk vanaf die vleeswording van die Woord, vandat die Here Jesus in
Betlehem uit Maria ‘n menslike natuur aangeneem het en tog God se Seun gebly
het, soos ons weet, met nabootsing:
die duiwel het ‘n mens geword, eintlik ‘n siekte van die mense.
Wat hierdie seun
gehad het, sal enige medikus weet, word epilepsie genoem. Die mal man van
Gadara, weet iedereen, was kranksinnig. Maar die Bybel sê hulle was van die
duiwel besete.
Daar is ‘n rede
voor, dat die duiwel in die tyd toe die Here Jesus op aarde was, juis siektes
in mense nageboots het. Hy moes uit as die Here hom verdryf, maar die duiwel
werk ook met lang tydperke. En minder as tweeduisend jaar na hierdie duiwel-besetenheid,
het die duiwel geweet sal daar mense wees wat sê: Hulle was nie van die duiwel
besete nie, hulle was siek; dit was van domheid dat die mense gesê het hulle
was van die duiwel besete. Dan is die duiwel los en kan hy doen wat hy wil,
want hy het mos nie in die tyd toe die Here Jesus daar was ‘n vergeefse stryd
gevoer nie. Dit was om sy neerlaag te bedek dat hy gedink het om lank vorentoe
die mense te laat sê: Hulle was siek. En as die Here Jesus dan ‘n duiwel
uitgedryf het, so word daar dan afgelei, is dit nie so nie. Die doel was van hierdie nabootsing om te
sê: Jesus het my nie oorwin nie.
Nou werk die
duiwel steeds met nabootsing: tans werk hy met die nabootsing op die terrein
van die bestaan van die mens. En hy het ‘n sogenaamde teoloog so ver gekry om
te leer, dis nou hier in ons tyd, dat die duiwel nie bestaan nie. Hy is daar,
maar die mense moet sê hy bestaan nie. Hoe kan hy dan verloor? En wat het jy
dan te doene met God? En wat het jy dan te doene met verlossing? En wat is dan
die sin van die kruisofferhande van onse Here? En wat is die Kerk? Want daar is
nie ‘n duiwel nie.
Meer as honderd
jaar gelede nou-al was daar ‘n Spanjaard wat die absurde beskryf het in die
persoon van ‘n kranksinnige ridder. Ag, u ken dit, Don Quixote wat teen
windpompe geveg het en gedink het dit is reuse. Al hierdie gebeurtenisse, moet
u weet, is deel van hoe die ongeloof
dinge doen. As jy veg met grootshede, dan veg jy teen windpompe, of wat
die man ookal verder gedoen het, dis ‘n hele boek. En in die Middeleeue die
verspottigheid van die snawelvormige sak met kruie in,voor die neus, dat die
slegte lug jou nie moet tref nie. En nou glo die mensdom nie meer dat die duiwel
daar is nie en ons weet daardie ou mense in die Here Jesus se tyd was siek. Hoe
preek ‘n mens dán die kwaad en die oordeel oor die kwaad?
Dit is die doel van duiwelbesetenheid in die ou
tyd. Preek een dan daaroor, bely hy die neerlaag van die duiwel. As u die Nagmaalsbeker neem, soos u al
so baie gedoen het, die broodjie eet en sê: ‘ ‘n Volkome verlossing van die
sonde’, dan vra die duiwel watter sonde? Want as daar nie ‘n duiwel is nie, is
daar nie ‘n verleiding nie en was Adam en Eva se optrede bloot geskiedkundig te
verklaar. Is dit dan toevallig dat juis nou, hier, in ons tyd, die mense oor
die Here Jesus seminare hou en studies: Was Hy regtig daar? En dan behandel
hulle die Bybel nie as God se Woord nie, maar as ‘n ou dokument. Net soos hulle
hierdie geskrifte van Archimedes behandel en kyk wat het hy gesê.
Dit is die hele gedagte van die duiwelbesetenheid
in daardie tyd, die nabootsing. En ek sê weer, nou boots hy die nietigheid na,
die nie-bestaan. En wat
doen die wêreld? Dit is die vraag waaroor hierdie deel van die Bybel gaan. Nou
moet jy onderskei, dit was duiwels wat daarin was. Nou moet ek u eerlik sê, die
Here het toegelaat dat ons verbaas kan staan. Daar by Gadara waar die duiwels
toe in die varke gegaan het: ek wil u reguit sê ek verstaan nie. Wat doen ‘n
duiwel in ‘n vark? Behalwe as jy begin verder lees in die Bybel. Toe word die
eienaars van die varke kwaad, U maak my vark dood. En dat U ‘n besetene, ‘n
kranksinnige, ‘n geweldenaar, ten volle gekleed en by sy verstand by U laat sit
het, dis niks.
Hier het u dan die hele saak waar dit oor gaan in
die geskiedenis van die man by Gadara, naamlik,
ons moet onderskei: Het ek met ‘n belydenis van ‘n geestelike lewe te doene? Is
my beginsels wat ek uitleef op al die terreine van die lewe, professies, die
sakewêreld, landbestuur, wat jy ookal doen, is dit gerig op die ewigheid, of is
dit ‘my enigste seun’?
Dit is die saak
waaroor dit gaan en dit bring ‘n mens by die tweede gedagtereeks waar ons u
aandag voor vra. Naamlik die mens wat siek geword het, wat deur die duiwel
ingeneem is dat hy sy verstand en beheer oor sy liggaam verloor het. Die mens
wat sê: Ek glo in God die Vader. Die mens wat ly en leed verduur, soos u en ek
moet doen. Die mens werk met dit wat jy besit. ‘My enigste seun’. (Ek hét nie
‘n seun nie.) Wat maak dit dan saak dat jy ‘n enigste seun het?
Nou goed, nou kom
die mense en sê: Die kultuur was in daardie dae sò: jy het voortgeleef in jou
seun. Daar is iets daarvan, iets soos ‘n stamhouer,
nie waar nie? In ons kultuur en in ons afkoms van ons geskiedenis, maar dit is
nie die saak waaroor dit gaan nie.
Nou lees ons hoe
skrywe Lukas en onthou hy het noukeurig opgeskryf: ‘n groot skare het gekom,
hulle was baie. Hierdie groot skare mense was later verveeld toe die Here
opgehou het om baie kos te gee met min brood en vis. Toe Hy vir hulle geleer
het Hy moet oorgegee word aan hierdie mense. Toe sê hulle: maar ons verstaan
dit nie...
Ek lees vir u wat
het daar gebeur, wat skrywe Lukas in vers 43: Almal was verslae oor die
majesteit van God. En toe almal verwonderd was oor wat Jesus gedoen het, toe sê
Hy vir hulle ‘n ding wat hulle nie verstaan nie: Hy moet ‘n offerhande bring in
die mens se plek. Die mense verwag immerdeur die goedheid van God in hierdie
lewe.
Is dit nie waar
nie, broeders en susters, dat die goedheid van God in hierdie lewe so groot en
baie is, dat ‘n mens dit nie kan opsom nie. Ons aanvaar so dikwels die goedheid
van God vanselfsprekend, die Here is mos goed. En dit is Hy. Nou moet jy
onderskei tussen ewige goed en tydelike goed. Ons het gesing: Maar dis my
saalge lot, my ewige goed, as ek naby is by my God.
Al vergaan ons uiterlike dan, soos Paulus geskrywe
het, en al staan ons bedroef by die dood en al verwag ons ons lewenseinde soos
wat ons tyd verbygaan en al minder word in die wêreld, dan is ons naby aan ons
God. En dan leer die
Bybel ons hierdie wonder dat as jy dan buite jou bewuste is, deur beproewing,
deur siekte, of wat ookal, dan tree die Gees van God vir ons in. Johannes het
dit so mooi beskrywe toe hy gesê het: Ek sal vir julle ‘n ander Trooster stuur,
Een wat julle die waarheid sal laat verstaan. Wat jou sal laat begryp jy is
naby jou God, jy is nie naby jou graf nie. Ek druk dit dalk kru uit, maar dit
is die mens. Hy is een wat moet leer dat
hy in werklikheid naby is aan sy God.
Daarom het die
Here dan ook in die tyd van Abraham die verbond van die genade gesluit. Sodat
elke ouer, elke vader in daardie tyd, dit is nou albei ouers, ‘n kind kan bring
met die belydenis: Hy is dan naby U, nog van voor sy geboorte af.
Dit is die
verskil tussen die Bybelse doop, terloops broeders en susters, en die
doopbeskouing van sommige. Jy bring hom nie na die Here toe vir die eerste keer
nie, hy is klaar God se kind, dit is die krag van die verbond. En die krag van
die verbond word ook in ons eie Kerkverbande en is in ons Kerkverbande aangeval
en verloën.
In die Nederlande
was daar in die veertigerjare ‘n hele stryd rondom die verbond. Die wat die
verbond nie wil aanvaar nie en die wat daaraan vasgehou het, laaste was die
minste.
Dis altyd so, die
getalle is nie die deurslag nie, dit is die mens, broeders en susters. Die
belydenis van die kruis van die Here en die verheerliking waarin ons nabyheid
by God lê, is die saak.
Hierdie man wie
se seun gesond weg is... Die Here sê: Bring jou seun. En toe maak Hy hom gesond
en Hy gee hom en daar loop die man, weg van die Here Jesus. In die berymde
Psalm 81 staan hierdie verskriklike oordeel wat die Here uitgespreek het oor
Israel in hulle ongehoorsaamheid: ‘Toe het Ek hulle laat gaan, ver van My
vandaan.’
En hierdie man
wat die almag van God, die reddende krag oor die duiwel, gesien het, daar loop
hy met sy gesonde kind.
Die mens ontvang barmhartigheid, maar hy moet
genade begeer.
En dan moet ‘n
mens ook dit weet dat dit op al die gebiede van ons godsdiens so is. En veral
sien ek die gevaar, ek sien dit en ek lees dit, dat in die Kerke die mens ook
die wêreld wil naboots. Dat jy wel in die Kerk moet wees, maar dat jy eintlik
nie so kerks moet lewe nie en tog ‘n wêreldsheid moet hê. U moet die Here dank,
broeders en susters, dat u hier deur ‘n kerkraad en ‘n bedienaar van die Woord
bedien word wat u wil leer en aanhou leer dat die genade van God ewig is.
In kort gesê: Tydgebondenheid teenoor die
koninkryk van die Here, dis die groot teenstelling. Want waar
die duiwel werk met nabootsing, werk God met teenstellings.
Hulle het dit in
Nederland genoem die antitese, die verskil tussen Kerk en wêreld, wat nie
gewild is nie, dit was ook nie. Maar God werk met teenstellings, goed en kwaad.
Eva en Adam, jy mag
nie van die boom eet nie, anders sterf jy. As jy nie eet nie, leef jy. En so is
die hele genadewerk van God, waarin die koninkryk van die Here vir ons gegee
word, langs die pad van teenstellings tussen goed en kwaad. Adam en Eva, ons
het al baie vir u gesê, het goed en kwaad leer ken deur hulle sondedaad in die
paradys. Maar nie die verskil tussen goed en kwaad nie, net dat dit daar is. En
ons loop met daardie onvermoë om te onderskei deur die eeue heen. Vra ons nie
maar nou nog baiekeer: Is hierdie ding reg, of is hy verkeerd? Mag ek dit, of
mag ek dat? Vergoeilik ‘n mens nie soms jou verkeerde ding dat dit dan tog nie
so sleg sou wees nie?
En bring nou in
verband hiermee die hele werk van die duiwel. Hy is nie, maar hy verlei, hy
maak of mense siek is sodat ons nie in die duiwel moet glo nie, ook nie in God
nie. Hy stel die simulering teenoor die koninkryk van God, die regeerwerk van
onse Here Jesus, dat Hy oor alles Koning is. Nou bevind ons ons almal op
verskillende terreine van die lewe, nie waar nie? Almal doen nie dieselfde werk
nie, almal se belangstellings is nie op dieselfde vlak nie. Maar waar ons gaan, is ons verplig om die
Koningsmag van onse Here Jesus Christus te bely.
Die laaste paar gedagtes hier gaan oor wat nou
hieruit voortvloei, naamlik: God oordeel, al bewys Hy barmhartigheid. God
oordeel nie waar Hy genade gegee het nie. En as ‘n mens nou dink, die
aanvalle van daardie seun is verby, hy is ‘n gewone, goeie kind.
Barmhartigheid, die Kerk het ‘n barmhartigheidsdiens wat sonder die
koninkryksgedagte van God, geen ewigheidswaarde het nie. Net soos wat die
Woordverkondiging en die regeermag van die ouderlinge geen waarde het as dit
die mens nie lei op ‘n beter pad nie. Dis die interaksie: barmhartigheid sonder die Woord van God is nie barmhartigheid nie. Die Woord van God sonder die roersele van
die mens van die mens se siel om hom lief
te maak vir God, nie vir ‘n mens nie, is ook sinneloos. Barmhartigheid
en oordeel kan saamgaan.
Nou vra die Here Jesus: Hoe lank nog moet Ek by
die krom en verdraaide geslag wees? Nou sal iemand dalk sê: Man, maar jy het darem lank gevat om by jou teks
uit te kom. En dis waar. Hierdie soort uitsprake van die Here Jesus het ‘n
aanloop en ons is darem daarmee klaar.
‘Hoe lank moet Ek
by die krom en verdraaide geslag wees?’, sê die Here. Dié wat nie naby aan God
wil wees nie, maar wat tydgebonde die koninkryk nie wil hê nie. Onthou, die
Here Jesus het nie geweet wanneer Hy weer kom nie. Net die Vader in die hemele,
so sê die Bybel, weet die dag. En nou moet die Here as Saligmaker --dit kan nie
anders nie-- mense verduur. Hy moet
aanhou leer, onderrig, goedwees, barmhartigheid betoon en genade gee waar die
geloof is.
Hoe lank? Hy leer
ons wel in die Bybel dat die tyd uitloop, die tyd word korter. Trouens, dit is
‘n goeie definisie van tyd, dis ‘n ding wat korter word. En die tyd kom dat ons
die Here Jesus sal sien weerkom en dan word daar nie meer genade uitgedeel nie.
Hierdie krom en
verdraaide geslag: ons het dit nagegaan in die woordeboeke, dit is mense wat
afgewyk het van wat reg is. Og,
broeders en susters, is dit nie die oordeel oor mense nie, die ellende van ‘n
samelewing nie? Die wat wegdraai van wat reg is, willens en wetens krom en
verdraaid lewe.
En dit is seker
vir ‘n opregte mens wat hom voor God stel ook ‘n vraag: Hoe lank verduur God die krom en verdraaide geslag? Wat nie na Hom soek
nie, wat als wil verwoes en bederf wat goed is? Dan is die antwoord: Niemand
behalwe die Vader weet dit nie. Maar wat ons weet, is die tyd word korter en
dan kom die Here weer.
Het u al nagedink
oor die wonder van God se wete en kennis? Dat die Here Jesus nie weet wanneer
Hy moet kom nie, maar as Hy moet kom, is Hy ten volle gereed om te doen wat Hy
moet doen om die koningskap te aanvaar. Aan Hom is gegee alle mag in die hemel
en op die aarde. Hy kom as regter om te oordeel, wie glo en wie glo nie.
Daarom het die Here vir die mense gesê: Moenie
slaap, geestelik slaap nie. Wees gereed, maak jou sinne en jou kennis skerp, dat
jy die wederkoms van die Here ook kan aansien soos Hy wanneer Hy kom.
Dis ‘n gedagte
waar ‘n mens dalk nie baie keer in hierdie verband aan dink nie en dalk is dit
vir u bekend. Maar daarom leer ons die Bybel verstaan en glo --die geloof is
groter as ‘n begrip-- sodat ons gereed kan wees. Ag, die Here het dit in ‘n
maklike gelykenis gesê: Die huisheer weet nie wanneer kom die inbreker nie,
daarom kan hy hom nie net dan voorstaan nie, hy moet gedurig paraat wees.
En dit is die saak wat die Bybel dan hier aan ons
leer uit hierdie aandoenlike gebeure: dat ons gereed moet wees. Al meer gereed
moet word om die koninkryk van die Here te kan sien en te kan sê: Ek was altyd
naby aan my God.
Dit sê jy, dit
bely ‘n mens, partykeer met siddering vir die onheilsmagte wat jou beloer en
benader. Maar God gee krag, troos, behoud, ons moet aan Sy behoudenis vashou.
Amen