Ds. Jan Coetzee 30 Januarie 1994 Oggenddiens
Lees: Markus 9:
38-50 Teks: Markus
9: 50
Sing: Ps. 89: 1, 3
Ps. 1: 1
Ps. 133: 1, 2
Ps. 141: 2, 3, 4
Ps. 56: 1, 4
Die Here Jesus
het, in die tyd toe Hy op die aarde was, feitlik onophoudelik die mense geleer.
En as ‘n mens dit in gedagte hou, dan is jy bedug daarop om in alles wat in die
Evangelie beskrywe is van die Here Jesus, te soek en te sien hoe Hy die ganse rykdom
van die Bybel na vore laat kom. In hierdie deel loop dit daarop uit (die
onderrig) dat ons moet lewe dat almal kan
sien dat ons die eiendom van Christus is.
En dit het so
gegaan: Die Here Jesus was besig om oor die leefwyse van die Christene te praat
in hierdie deel van die Evangelie wat beskrywe is. En Hy het die gedagtes behandel
van hoe ‘n mens is as jy in die koninkryk van God is. Toe kom Johannes by Hom
en sê: “Daar is mense wat nie saam met ons loop nie en hulle dryf duiwels uit.
En Johannes het hom dit belet. Toe kom die Here Jesus met ‘n nuwe gedagte en Hy
sê: maar dit is nie vreemdes wat die Evangelie sò handhaaf nie; as iemand in
die Naam van Christus iets doen is dit mos baie duidelik dat hy ‘n kind van die
Here is.
Dan leer Hy
verder dat die gelowiges aan Hom behoort. Hy sê dit in vers 41 sò: “Elkeen wat
aan julle”, (en let nou op, nou is die gelowiges die ontvangers van
barmhartigheid), “in My Naam ‘n beker water gee om te drink, omdat julle aan
Christus behoort, voorwaar Ek sê vir julle, hy sal sy loon sekerlik nie verloor
nie.”
‘n Mens moet kan
sien een behoort aan Christus en ook die ander mense buite jou moet dit kan
sien maar, sê die Here, die mense wat struikelblokke in die weg lê word gestraf
vir ewig. En soos wat die taal van die Jode was en soos wat die Ou Testament se
beeldrykheid is, het die Here drie keer herhaal: as jou hand, jou voet, jou oog
jou sonde laat doen moet jy daarsonder wees. Anders kom jy in die vuur. Die
gedagte van vuur het nou by die Here Jesus se onderrig ingekom, en toe gaan Hy
verder om aan te toon dat gelowiges wat skuldvergiffenis ontvang het, die
eiendom van die Here is omdat Christus
die offer gebring het. Dit is ‘n nuwe gedagte by die offerhande wat nie in die
Ou Testament was nie nl. die een ten
gunste van wie die offer kom, word die besit van God. In die Ou Testament
was dit anders.
Ons wys u nou
eerste op hierdie gedagte van offerbesit. Dit is ‘n manier om uit te druk hoe
Christus die offerhandes, wat in die Ou Testament gebring is, vervul het. In
die Bybel is die gedagte van ‘om te offer’ ‘n baie grondliggende begrip. Dit
gaan oor offerande.
Jy moet aan God
gee wat Hom toekom. Jy moet uit die beste wat jy het jou dankbaarheid aan God
betoon. Jy moet opoffer om saam met mense te kan woon en jy moet offer om God
se vrede te kan ontvang. Deur die offer is die sondige mens se verhouding met
God herstel. En so was dit vir eeue lank in Ou Testament, dat die hoof van die
huis, in Jerusalem, as hulle vir die groot versoendag na Jerusalem getrek het.
En vir ongeveer twee weke die feestyd daar deurgemaak het. Dan gaan hulle huis
toe met die sekerheid: dit is goed tussen God en my.
En dit was ‘n
gemeenskapsmaaltyd. Hulle het saam met God geeët, as’t ware. En daarom staan in
Levitikus 2:13 die amper verrassende bevel, dat elke offer gepaard moet gaan
met sout. Dit is om dit smaaklik te maak. Die gemeenskaps-maaltyd moenie net
vir God welgevallig wees nie, maar ook die gelowiges wat dit kom eet moet die
aangenaamheid van dié gemeenskapsmaaltyd kan ken. En hierdie gedagte, wat in
die nagmaal voortgesit is, lê rondom die woord ‘sout’.
Dit gaan so ver
dat die Bybel selfs sê daar is ‘n ‘soutverbond’, wat niks anders is nie as dat
ook by ‘n offer, waar ‘n belofte aan God gedoen word, die sout noodsaaklik is.
Dan doen die sout twee soorte werk. Die bewarende werk --sout maak dat kos
langer hou—en dan veral die aangename smaak.
Nou, hierdie hele
gedagte van die offer, wat vir die mens ook aangenaam moet wees, word deur die
offer van Christus aan die kruis vervul. En so het die nagmaal ontstaan. Ook as
‘n gemeenskapsmaal, maar die betaling van
ons skuld is meer as saam eet met God. Dit is dat jy van eienaar verwissel.
Sonder die offer,
sonder die heerlikheid en die vreugde daarvan, is ‘n mens eiendom van van die
kwaad. En dit lyk baie keer vir mense nie so dat die kwaad, die sonde, of die
duiwel dan, jou eienaar kan wees nie. Dit voel vir ‘n mens asof jy self oor jou
self die beskikkingsreg het. Maar jy is deel van die kwaad, en selfs nie heilig
nie! In teendeel, en so is die selfbeheer oor ‘n mens, in sy diepste grond, die
beheer van die kwaad oor die mensdom, want hy sorg dan vir homself.
Nou is dit die groot teenstelling wat daar deur
die eeue heen in die geskiedenis duidelik word. Mense wat deur die Here regeer
word, en mense wat hulleself wil beheer. Dis maklik as jy hierdie twee in hulle uiterste
vorms het, nie waar nie; dan het jy kerk en wêreld. Maar nou het dit so geword,
dat, vroeg in die geskiedenis van die mensdom, hierdie twee punte na mekaar toe
beweeg omdat mense dit uitdink, en is daar pogings gewees, dat ’n mens jouself
kan beheer en regeer, binne die kerk van die Here. Binne die gemeenskap van die
gelowiges. Dat die Here jou skuld betaal het, maar nie jou eienaar word nie,
net jou Saligmaker.
Dis ‘n gedagte so
oud soos die mensdom self. En dis verkeerd, want een van twee is waar, volgens
die Bybel. Jy behoort aan die Here, of jy
is ongelowig. En nou is dit die gedagte wat hiér deur die Here geleer word,
waar Hy vir hulle sê: die sout is goed, maar as dit nou souteloos geword het,
dan het jy niks, dan is dit met jou verby. Want ons hele lewe moet ‘n aangename
offer wees aan God, as antwoord op die feit dat ons aan Hom behoort.
Skuldbetaling
deur Christus maak die nuwe gedagte van die Nuwe Testament helder duidelik. Dit
is die nuutheid van die Nuwe Testament dat die offer jou nou die eiendom van
die Here maak. En dit is die oudheid van die Ou Testament dat die offer vir jou
vrede gee met God. Mens skrik as jy dit so stel, want, broeders en susters, dit
is met my so en dit is met u dalk ook so, dat die versoening met die Here, die
vrede wat ek met God het, vir my genoeg is.
Maar die feit dat
ek die éiendom van Christus is en daarom
sò moet lewe dat almal kan sien ek is die eiendom van Christus, dat hulle met
my een van twee dinge doen: òf, soos die Here sê, ‘n beker water gee ‘omdat julle
aan Christus behoort’, òf met jou stryd voer omdat jy aan Christus behoort. Dit
is die twee reaksies wat uit die mensdom moét kom en sál kom as die kerk reg
lewe.
So mens skrik as
jy dit so hoor dat jy nie met die versoening van die offer tevrede moet wees
nie. Dit is dáár, maar jy moet verder gaan. Jy moet die nuutheid van die Nuwe
Testament ook in jou lewe ken. En wanneer hierdie nuutheid jou lewe kenmerk,
dat jy bekend staan as ‘een met wie jy moet veg want hy behoort aan Christus’,
of as ‘een vir wie jy moet goed wees want hy behoort aan Christus’, dan het die
koninkryk van die Here Jesus in daardie mense, wat sy eiendom is, se lewe
gekom. Dit is die gedagte van offerbesit.
Die ander gedagte
wat hiermee saamgaan, is dat jy vrede met God het. En daaroor moet ons ook
praat, nie waar, anders het ons net ‘n deel van die Bybel.
Die Here Jesus
sê: sout is goed.
Nou weet ons, uit
die skeikunde, dat sout nie ‘n verbinding is wat self kan verander nie. Sout is
sout. En ‘n mens het partykeer ‘n probleem daarmee, met die sout wat laf word,
wat die Here van praat, of die sout wat souteloos word. Dit gebeur nie!
Dit is dus
duidelik die Here is hier met ‘n figuurlike uitdrukking besig. Hy praat nie van
sout wat ‘n chemiese stof, ‘n verbinding is nie. Hy praat van ‘n eienskap, wat
soos die sout in die offer, jou lewe moet deurtrek. As die Here Jesus Christus
uit die Ou Testament die beelde haal, en daar ‘n Nuwe Testamentiese karakter
aan gee, moet ons oë daarvoor baie duidelik oop wees, dat die idee van die Ou
Testament ook nuut word in die nuwe; soos
wat die sout by die offergawes (verskillende soorte offers wat daar was), die
offermaaltyd smaaklik moes maak, so moet die feit dat Christene aan Christus
behoort, die lewe smaaklik maak.
Dit is die sout
en so ‘n soort sout wat figuurlik bedoel word, kán sy krag verloor. Want dit is
moontlik vir ‘n mens om in onvrede met God te lewe. Dit is moontlik dat jy
heimlik of openlik met God ‘n stryd voer, en dan is jou ‘behore’ aan die Here
in gedrang. Die Here Jesus waarsku ons daarteen, en met groot deernis doen Hy
dit, want watter mens is daar wat nie soms in sy beproewing en sy stryd begin
dink “God het my verstoot, God het my verlaat, en ek het nie meer die Here by
my nie”, nie; dat jy jou vrede met God vergeet.
Ons verloor, soms oënskynlik, die sout van die
offer van Christus. En
nou leer die Here ons, as dit so met ‘n mens word, dat jy jou rus en vrede voor
God mis en dit ontbeer, dan moet jy nie
wanhopig word nie; dan is die sout
nie weg nie. Dan is jou vrede met God
weg maar jy behoort nog aan Christus.
Hier het u die
praktiese raad uit die onderrig van die Here, wat vir ons baie duidelik aantoon
hoe ‘n mens met die Bybel moet omgaan: as jy besorg en bekommerd is, in ‘n
stryd kom, dan moet ‘n mens weet dat jy die eiendom van die Here is en jy moet
jou aandag dáárop toespits en moenie probeer, so sê die Here vir ons, om met
mag en mening vrede met God te wil maak nie.
Die vrede kom van Hòm. Hy is die Ene wat sê: ‘Gaan in in die vreugde
van jou Here’. ‘n Mens kan so ‘n worstelstryd voer om met God vrede te maak, en
ek het al gewonder of die woordspeling geregverdig is: is dit nie dalk so dat
mense met God ‘tevrede’ wil word nie.
Dat dit wat God doen so moet wees dat ek daarmee kan saam lewe. Dan is jy tevrede met wat God doen. En dit is ‘n
heeltemal ander saak. Dit bring jou op ‘n pad van ‘n worsteling met die Here,
wat sinneloos is.
Sout verander dus
inderdaad nie, ook in die gelowige se lewe. Jy bly eiendom van die Here, al
noem die Here dit hier ook figuurlik. En as jy die troos het dat, wanneer die
vrede jou verlaat, dan is jy nog stééds kind van die Here, dan kom jou lewe op
‘n goeie pad. Dán het jy krag en kan ‘n
mens, deur die hulp en genade van God, deur die onderrig van Christus, jou lewe
weer in die volle vrede van Christus voer.
Maar wanneer die
kerk die versoening misbruik, en die versoening wat deur die offer kom nie sien
as die beginpunt van ‘n lewenspad waar
jy op baie maniere gaan wys jy behoort aan die Here nie, as versoening vir jou
‘n oomblik is, ‘n stopplek, ‘n parkeerplek op die pad en as ek versoen is met
God dan is ek stil, dan het ek rus, dan beweeg my lewe nie, dan’s ek
gelukkig... dan, broeders en susters, misbruik ek die gedagte van versoening,
en dan word die kerk vir God ‘onsmaaklik’ (as ek dit so mag sê). Want die Here het Sy kerk op aarde geroep om
te beweeg, om voort te lewe; om in jou lewe en in die lewe van jou medemens,
nuwe terreine vir die Besitter Here te win.
Dis iets anders
as ‘siele wen’, nie waar nie. Die bekende uitdrukking wat jy het: jy moet ‘n siel
vir die Here wen. Dit kan jy nie doen nie. God doen dit.
Maar jy kan
lewensterreine vir die eienaarskap van Christus wen, deur jou manier van lewe.
En dit is op hierdie vlak waar ons, meen ek, in die jare wat vir ons voorlê, ‘n
stryd gaan hê, omdat baie van die terreine van ons lewe deur die landswette vir
Christus geheilig is. En kon die gelowiges gerus lewe (en ek dink dit was ‘n
valse gerustheid) dat dit tog alles goed is, Christus regeer, want daar’s wette
wat die Sabbat heilig; daar’s wette, landswette, wat al die goeie dinge wat die
Here beveel vir ons maak.
Dit gaan verander
en dan sal dit vir kerke nodig wees om hierdie lewe as eiendom van die Here te
voer, en mag ons nie skrik vir die moontlikheid van aanval op jou geloof, of
tevrede wees met die moontlikheid: ‘een sal darem vir my water gee omdat ek aan
die Here behoort’, nie.
Hierdie twee
dinge wat die wêreld aan jou doen, of jou mede-gelowiges aan jou doen, moenie
die dryfveer wees nie. Want dan het jy souteloos geword, as jy die offerbesit van
die Here gaan help verklein.
Die Bybel leer
ons dat die kerk oënskynlik hierdie stryd fisies nie kan wen nie. As u die boek
Openbaring lees, en al die profesiëe wat nog moet vervul word in ag neem, dan
word dit baie duidelik dat die oorwinning
en die vrede met God lê in die getuienis wat van die kerk uitgaan. En dan
nie ‘n goedkoop soort ‘witnessing’ van hoe goed die Here vir jou is nie, maar ‘n getuienis dat Christus die eienaar is,
want Hy het die wêreld en die mense wat aan Hom behoort gekoop met Sy bloed en
met Sy offer aan die kruis.
Dìt is die stryd
van die getuienisskap.
En hierdie idee
van getuies word in die Bybel op ‘n merkwaardige manier gevoer; ons het gewys
op Elia en Moses, wat getuies was van die heerlikheid van God. Ons lees in die
Openbaringsboek van die twee getuies wat die wêreld geteister het met hulle
goeie getuienis, en die juigtoon toe hulle tog dood is, en drie dae later toe
leef hulle weer. Daarmee word die
werklike kern van ons geloofslewe aangetoon: dat die Here ons vrymaak van die
helse straf waar die vuur nie uitgeblus word en waar die wurm nie sterf nie;dat
ons daarvan vrygemaak word, is iets om baie dankbaar voor te wees. Maar dan
moet ons ‘smaaklik vir God’ leef.
Die Bybel is dan
baie prakties. As jy vrede met God het,
en jy getuig van diè vrede, dan het die gelowiges ook onder mekaar vrede.
Daarom sê die Here Jesus vir die dissipels: ‘Julle moet sout in julle hê, en
julle moet vrede hou met mekaar.’
Die nuwe
Suid-Afrikaanse Bybel sê ‘julle moet sout word’. Ek dink dis verkeerd
want dit staan nie so in die oorspronklike taal nie, en jy kan dit nie verander
soos jy dink of wil hê dit moet wees nie. Daar staan, in die taal wat Markus
dit laat skryf het: ‘Julle moet sout in julle hê.’ Letterlik so. En dis
iets anders as wanneer jy die sout ìs.
Jy moet die getuiende krag in jou hê; jy moet die
gehoorsaamheid aan God in jou hê; en op diè manier leer die Here ons in hierdie
onderrig, hoè ons moet lewe.
Ons moet nog iets
sê oor die vuur wat by die offer hoort. Dit is eintlik ‘n hele Bybelse
gedagtelyn wat op sigself behandel kan word. Ons gaan dit baie kort aanraak
hier.
Die vuur is
inderdaad deel van die offerande want selfs die plengoffers wat bestaan uit
olie of wyn wat hulle spat om die altaar, was om ‘n brandende altaar gespat, en
die koring en brood wat hulle geoffer het, is by die altaar gebring waarop die
vuur was.
Nou lees ons dat
twee van Aaron se seuns (ek wil net die vuurlyn vir u ‘n bietjie aandui soos
dit in die Bybel aan ons gegee is) het u , in die taal van Levitikus 10,
‘vreemde vuur’ voor God gebring. Dit beteken dat hulle kole gaan haal het
sommer buite by ‘n vuur.
Daar was mos nie
vuurhoutjies of ander maniere om vuur te maak nie. Die vuur moes in stand gehou
word en om aan te toon dat dit offervuur is (skoon vuur in die taal van die
offerande), moes hierdie vuur op die altaar, by die altaar in die heiligdom op
‘n plek aan die gang gehou word.
Ek dink dit was
‘n groot werk, veral in die woestyn, om te sorg dat daar altyd ‘n vuurtjie is
waar jy kole by kan gaan haal met jou vuurpan, waarmee jy dit dan kan opskep. En
toe het hierdie twee seuns, so verstaan ek Levitikus 10, nagelaat om van die
regte vuur te vat. Dalk het hulle die vuur laat doodgaan, vir al wat mens wet,
toe gaan haal hulle gou hier buite by ‘n kookvuur kole, en toe gebeur daar ‘n
vreeslike ding. Vuur het van die altaar van God uitgegaan, en die seuns
verbrand (die twee priesters), want hulle het vreemde vuur by die offer
gebring.
Dit is ook ‘n
pragtige uitdrukking, wat so baie sê. As jy nou sommer gaan sê, ‘onwettige
vuur’ of ‘kole wat van ‘n plek af kom waar dit nie moes wees nie’, het jy ‘n
groot deel van die Bybel weggelaat. Vreemd
is vir God ‘n begrip wat aandui dat jy nie by Hom hoort nie.
U moet ‘n bietjie
die ding van vreemdelingskap-gedagte beskou. Dit is ook ‘n Bybelse gedagte; dit
word so baie dat jy eintlik dit naderhand nie alles kan onthou nie.
Hoe Abraham ‘n
vreemdeling was vir Kanaän maar nie vir God nie.
Ons lewe op aarde
word in die Nuwe Testament genoem die dae van ons vreemdelingskap.
Paulus het vir
die towenaar op Cyprus gesê: “Ek ken jou nie.”
Selfs die duiwel
werk met die ‘vreemde’ begrip: ‘Jesus ken ek, en van Paulus weet ek, maar julle, wie is julle?’ het hy gevra vir
die aanmatigende mense. U lees in Handelinge daarvan.
Nou daarom ‘vreemde
vuur’, wat nie inpas in die kader van die Godsopenbaring nie; wat van buite kom
en nie is soos die Here dit vasstel nie. Nou kan u die vuur waarvan die Here
Jesus gepraat het, wat nie uitgeblus word nie, beter verstaan. Die vuur wat ewig brand en doodmaak. Dìs die
vreemde vuur. Soos daardie vuur wat die twee seuns van Aäron verbrand het. Dit is wanneer jy buite die Bybelse kader
lewe; wanneer daar dele van jou lewe is wat jy nie kan reinig of inpas by die Godsopenbaring nie; wanneer jy sò lewe
dat jy netsowel ‘n gewone mens kan gewees het, bedoelende ‘n ongelowige.
Paulus skrywe in
die tweede Korinthiërs-brief, dat daar mense is wat ook die wet hou, maar nie
uit gehoorsaamheid nie. Hulle doen dit omdat hulle self goed wil wees. Dit is
die etiese mense. Watter mens wil nou vir ‘n dief deurgaan, vir ‘n moordenaar,
vir ‘n geweldenaar, vir ‘n onsedelike? Jy lewe ordentlik maar nie omdat jy die
eiendom van die Here is nie.
Dis vreemde vuur
wat van buite die Godsopenbaring se gedagte jou lewe besiel. Dit bring Christus nie by Sy offer nie. Aan
die kruis was alles binne die Godsopenbaring. Dit was juis vervulling van die
profesie en hiermee sluit ons af, om u daarop te wys dat as jy offerbesit is van die Here, bewustelik, in die geloof is, as jy
vrede met God het en daarvan getuig, dan is daar by jou nie vreemde vuur nie.
Dan leef jy nie buite die Godsopenbaring om nie.
Die sleutelbegrip
is: Woordvervulling. Profesie wat gebèur. God sê en dit kom tot stand. Dit is
die grondliggende begrip as jy binne die Godsopenbaring se kader wil lewe. Dat
jy nie vreemd van God is nie. Christus het nie vreemde vuur gebring nie. Die
vreemde vuur is daar waar die ewige straf is.
Ons het probeer
aantoon, uit hierdie onderrigdeel van die Here Jesus Christus, dat ons leefwyse sò moet wees dat dit ‘n getuienis is
en nuwe terreine wen vir die besit van Christus Jesus.
Dit bring stryd mee, maar is aangenaam voor God.
Amen.