Ds. Jan Coetzee 13
Januarie 2002 (Oggend)
Lees: Mattheüs 5:
1-12
Teks: Mattheüs 5:
1-2
Psalms: 68:
1,2; 1:1; 89:3,6;
43:3,4; 42:5,7
Wat Hy gesê het,
is wat ons die saligsprekinge noem. Die leer van Christus is vreemd aan die
wêreld. Die ongeloof, die wêreld, die gewone mens wat nie eiendom van die Here
is nie, aanvaar niks van die leer van die Here nie. Want dit is ‘n leer van: ‘Draai
die ander wang’; dis ‘n leer waarin ‘n mens geoefen word om jouself prys te
gee, om jouself te kan wen vir God.
Nou was daar baie
mense wat agter die Here Jesus aangekom het, want hulle het gesien wat Hy doen.
Die wonderwerke wat Hy gedoen het.. siekes gesond --selfs die wat dood was, ‘n
paar het lewendig geword-- Hy het voedsel vermeerder. Dit was die moeite werd; maar let op, die wonderwerke wat die Here
gedoen het is almal bepaal tot hierdie lewe: kos, gesondheid en selfs nuwe lewe. En nie een van daardie wonderwerke was
saligmakend nie. Dit was gedoen, so leer die Bybel ons, sodat die mense moet
kom, dat hulle kan hoor waar dit eintlik op aankom.
En hier het die
tyd nou aangebreek, die mense is baie. En teen die skuinste --hulle noem dit ’n
berg, maar as hulle die plek reg aandui is dit maar ‘n skuinste, ‘n natuurlike
amfiteater-- het die Here gaan sit en die
dissipels het by Hom gekom en Hy het hard genoeg gepraat dat almal kon hoor.
Ons wil eers oor
die skare praat en hulle verwagting. God beskik dit dat mense iets van Hom,
iets van God, iets van godsdiens wil hoor en wil verstaan. Dit is een van die
eerste genadewerke wat die Here gedoen het en waar Hy van die begin af mee
gekom het. Selfs daardie Kain wat nie in die Here geglo het nie, was lus om vir
die Here ‘n offer te bring. Toe het Abel dit ook gedoen, hy het sy broer
nagedoen. Maar die Here het Kain se offer nie aanvaar nie, sê die Bybel. Hy het
Kain self nie in guns aangesien nie, Abel wel. En hier sien u nou, dis nie die
een wat die inisiatief neem wat noodwendig God se kind is nie. Maar dit gaan
oor wat jy glo, jou gees, jou gedagtes. Nou
het die Here vir die skare daar in Palestina die geleentheid gegee om ‘n
geestelike honger en dors te kom les; fisies het Hy dit gedoen, sommer daar.
En nou is die onbegryplike verder dit, dat die
honger en dors na die geregtigheid op ‘n manier by hulle verbind was aan hulle
nasionale verwagtings. Godsdiens
en die Israelse staat --hulle het dit genoem die Dawidsryk-- was vir hulle
heeltemal, volkome een saak. Dit het so geword na die ballingskap in Babel, toe
hulle aangewys was op die sinagoge-diens wat daar ontstaan het; en die verlange
om weer na Jerusalem te kon gaan by hulle gelewe het. Daarvan het hulle nooit
weer losgekom nie; die massa, die skare.
Dit is ‘n waarskuwing aan alle gelowiges, dat,
terwyl ‘n nasionale verwagting goed en reg is, dit nie die godsdiens se wese is
nie. Daar is natuurlik ‘n
raakpunt tussen alles wat jy doen en godsdiens.
Maar vir die
mense in Palestina was die Here Jesus se leer vreemd, want Hy het gepraat van
‘n koninkryk op ‘n ander plek as Palestina. ‘n Koningskap wat nie met ‘n veldslag,
of met geweld teruggewin was nie, maar ‘n koningskap in diens. En daarom was
die verwagting van die mense van Palestina sonder God.
Dit is vandag nog
so dat ‘n oormatige band tussen hierdie lewe en godsdiens uitloop op ‘n
verwagting sonder God. Nou moet u dit breër trek as net nasionale verwagting. Ons het ook baie ander dinge wat ons in
hierdie lewe begeer en wil doen. As dit meer werd word in jou gemoed as die
ewige lewe, dan het jy ‘n lewensverwagting sonder God. Dit neem toe in die
wêreld, ons leef immers in ‘n land waar dit so is. Ek wil dit sê, oppad
hierheen vanoggend was die pad vol fietsryers, mense met die bont hemde aan, op
‘n Sondag. Die mense loop sonder Kerk, sonder God, heerlik in die wêreld rond
en niemand keer hulle nie. Dit sal meer en meer so word.
Daarom, broeders en susters, lê die las op die
gelowiges om ‘n heilsverwagting te hê. Die heilsverwagting is deel van die leer
van die evangelie. En
soos ek sê, vreemd aan die wêreld, maar dit mag nie vir ons ‘n vreemde boodskap
wees nie.
Die woord ‘salig’
wat so herhaal word --ek dink nege keer-- is ‘n woord wat in die Griekse taal
baie gebruik word. Moontlik onthou dié van ons wat ouer is: daar was ‘n
aartbiskop in Ciprus, Makarios, wat ‘n groot nasionale held was. Nou, hy het
presies die naam gehad van hierdie woord wat met ‘salig’ weergegee word. En dan
moet ‘n mens verstaan dat dit ‘n woord is wat moeilik is om weer te gee,
hierdie verwagting, die belofte, in ‘n ander taal weer te gee. Ek dink die ‘nuwe
bybel’ sê: ‘Dit gaan goed met…’ Maar sedert die Reformasie het al die tale die
woord ‘salig’ gebruik.
Dan moet mens nie
dink hulle gaan nou hemel toe omdat hulle vervolg word, omdat hulle sagmoedig
is, omdat hulle treur nie. Dit is ‘n
gesindheid waardeur die leer van die evangelie vir jou al meer bekend en
vertroud word. Dat jy nie meer verbaas kan wees as jy die inhoud en die
strekking van die evangeliewoord hoor nie. Maar dan moet ons onthou die
evangelie is ‘n leerstuk.
Mattheüs het gesê
die Here het op die berg geklim, die dissipels het gekom en Hy het Sy mond
geopen en hulle geleer. En toe hierdie Makarios-uitdrukkinge gebruik. Die evangelie is ’n leer, naamlik, dat die
vrede van God vreemd is aan die wêreld. God se vrede en die wêreld se vrede is
nie eenders nie.
In Johannes se
evangelie het hy dit opgeskrywe, ek meen dis in hoofstuk 16, dat die Here sê: ‘My
vrede gee Ek aan julle, nie soos die wêreld gee nie’. Die wêreldvrede kom deur
oorwinning; dis met jou verby, daarom het jy vrede. God se vrede kom deur genade; dis juis die lewe wat na jou toe kom by
God; daarom het mens vrede.
Almal van ons,
meen ek, doen dinge en ondergaan situasies waardeur God se vrede van ons wyk,
dit gebeur. Maar omdat die evangelie-leer aan ons bekend moet wees en ons ‘n
vertroudheid moet hê met God se vrede, dat Hy deur genade en deur lewensherstel
aan ons vrede by Hom gee, is ons oomblikke en belewenisse van stryd en kommer
en sorg verbygaande.
Daarom dat die
Here Jesus hierdie saligspreking so gemaak het dat dit ‘n blywende saak aandui.
In die oorspronklike taal van die Nuwe Testament het hulle die werkwoordtye om
iets te sê dat die leser kan verstaan dit hou nooit op nie. Wanneer ‘n mens dan
in jou oomblikke van onvrede kom, dan hou die vrede van God nie op nie. Wanneer
‘n mens in jou verdriet is, dan hou jou vreugde nie regtig op nie. Dit wat
kenmerkend is van die gevalle wêreld, dit is die negatiewe gesindhede en
gewaarwordinge, hou nie aan nie.
Die blydskap in die Here, wat miskien maar hier en
daar in jou lewe werklik na vore kom, hou nooit op nie, is ewig daar. Dit is
die leer van die vrede van God, daarom bring geloof in Christus ‘n teenstelling
met die wêreld.
Hierdie
teenstelling word fisies vir ons voorgestel in Mattheüs 5. Twaalf dissipels,
een van hulle was Judas, en die skare. Twee soorte mense: een klomp wil eet,
die ander is leerlinge, hulle luister. En van die leerlinge was een selfs nie
‘n leerling nie, maar ‘n eie-eer-soeker, ‘n eie-gewin-soeker, sou ek sê.
So verdeel geloof
die mensdom, teenstellend met die wêreld en dit is moeilik om te aanvaar, veral
in ‘n mens se jonger lewensjare. Om te dink die geloof maak my dan anders as
dit wat rondom my is; dan kom dinge soos groepsdruk in sy slegste vorms na
vore. En dan moet ‘n mens kan terugval op jou wete van die evangelie, op die
leer van die evangelie. Dit is waarom die kategetiese onderrig in die Kerk van
so ‘n allerhoogste belang is. Ek dink dit is amper van die vernaamste werk wat
daar op die ampsdraers gelê word.
So het die wêreld
dan ‘n teenstelling. In Nederland het hulle dit genoem die antitese, wat gemaak
het dat die Kerke daar maklik skeur. Want die antitese bring ‘n onbuigbare
gesindheid mee. Die antitese is goed, die
teenstelling met die wêreld moet op alle vlakke deurgetrek word.
As u hierdie
saligsprekinge nou weer ‘n keer rustig gaan lees, sal u sien dit raak die lewe
in sy volheid. Al die dinge wat met jou gebeur: treur, sagmoedig wees teenoor
kwaad word; honger en dors na geregtigheid teenoor honger en dors na plesier;
barmhartig wees... En jy kry self ook teenspoed --dan moet aan jou
barmhartigheid bewys word-- jy is nie altyd die triomfantlike nie. Dan die een
wat seker die swaarste van almal is, ’n vredemaker; dis makliker om nie vrede
te maak nie. Selfs al veg jy nie, om net weg te stap, ‘n vredemaker het nou
eenmaal moeilikheid. Die vrede in jou gemoed gaan weg, want jy het te doen met
ander wat nie reg wil nie ...en so kan ek aangaan.
Die teenstelling tussen geloof en ongeloof, lê in
gesindhede. Die vermoë om terug te val op die leer van die evangelie, maar dan
ook ‘n vertroudheid met die leer van die evangelie. Daarom is dit goed, soos u ook doen, om die
Woordbediening en die Kerk by te woon. Daarom is dit goed dat ‘n mens in jou
huis die Bybel lees en dit oordenk.
Let goed op,
hierdie antitese bestaan nie daarin dat die georganiseerde Kerk teenoor die
georganiseerde wêreld staan nie. Die georganiseerde Kerk is iets anders as die
terugval op die leer van God. Daarom het die geloof nie tot niet geraak in
lande waar Kerke skeur nie, want die gesindheid van die geloof, die kennis van
die leer van God, is daar nie mee heen nie, maar leef in mense. Ek sê dit is ‘n
vreemde ding hierdie dat die Here Jesus dit vir mense leer, ons sou dit anders
wou.
Die populêre
Christus-beeld is ook totaal iets anders. In die oë van die wêreld is Hy ‘n
lieflike, een in wie se oë jy net die goedheid sien, wat nooit kwaad doen nie.
Maar die Here Jesus het nie geskroom om hierdie antitese te maak en vir
Israeliete in Jerusalem te sê: ‘Addergeslag, wie het gesê julle moet hierheen
kom?’ Gaan sê dit bietjie vir mense dat hy ‘n addergeslag is en jy sal die
onvrede beleef.
Hulle het geswyg
teenoor die Heiland, want onse Here was nie, al word Hy die Lam van God genoem,
geestelik swak, fisies swak nie. Hy was
‘n geweldige, so leer die Bybel ons, en nou het Hy hierdie teenstelling gemaak.
Dit is die leerstuk van die evangelie, ons kan nie
Kerk en wêreld gelyktydig wees nie, ons kan nie gelowig en wêrelds gelyktydig
wees nie. Dit is nie
moontlik nie, maar dit is die verleiding van ons dae. Ons dae? Dit was seker
nooit anders nie, dat die gelowiges hierdie teenstelling moeilik vind om te
verduur en selfs te bewerkstellig wanneer God ‘n mens daartoe roep.
Nou klink dit vir
‘n mens asof hierdie saligsprekinge eintlik ellende in die lewe bring. Dis nie
heeltemal so nie; dit bring stryd, maar nie ellende nie, want daar is die troos
van die Heilige Gees, deur wie die Here sê ons moet ons verbly. Verbly en verheug julle, so sluit Hy af,
omdat julle loon groot is in die hemele. Dit is die Heilige Gees wat as
Trooster vir ons intree voor die Vader en wat in ons gemoed ‘n hemelse rus
indra in ‘n wêreld waarin ook hierdie rus vreemd is.
Ons het eerste
oor die skare gepraat en hulle verwagting, toe oor die leer van die evangelie
en nou aan die einde oor die troos van die Gees van God. Teenoor elke strydpunt
in hierdie Skrifgedeelte aangeroer en ook in die res van die Bybel...teenoor
elke strydpunt stel Hy die troos van die vrederyk van Christus. Die Here Jesus
is die een wat inderwaarheid regeer en Sy koningskap gaan oënskynlik
onduideliker word namate die wêreld goddeloser word.
Mens wonder wat
sou gebeur het as een by so ‘n klomp fietsryers stilhou en vir hulle begin
preek; ek dink hulle sal wegry. Maar niemand doen dit nie.
Broeders en
susters, die troos van die Heilige Gees
is nie geleë in die gevegte nie, maar is geleë in die vrede wat die Here Jesus
vir ewig bewerk, wat nie tot niet gemaak kan word nie, die vrede sal daar wees.
En die wekroep om hierdie vrede te kom ontvang, is die heilsverwagting, die
terugval op die leer van die evangelie, wat jy met liefde in jou hart doen. Dit
is hoe die Here die troos van die vrede in ‘n mens vestig. En dan is jou skade
en jou skandes en ‘n mens se teleurstellings nie die oorwegende nie.
Daar is ‘n
toenemende neerslagtigheid merkbaar in die mensdom, ons noem dit agter die
mediese wetenskap aan, depressiwiteit, wat jou verlam dat jy niks kan doen nie.
Dit neem toe, dit sal nog meer word dat die gebrek aan vrede met God vir mense
onduidelik word. En dit tref ‘n gelowige
net soos ‘n ongelowige. Maar dan is dit die tyd dat ‘n mens met die nodige
hulp, die vrede van God weer moet vind. Dit is ook so dat ons deur ons
beginselvoorbeeld mense kan help om die vrede van God te verstaan en daarin te
deel. Die troos van die Gees is meer as
die onrus van die geestelike stryd, om nie net te praat van die fisiese stryd
wat gelowiges het nie. ‘n Mens het ook ‘n geestelike stryd; om vas te hou
aan God terwyl dit soms moeilik word; om die moed te behou wanneer dit eintlik
lyk of dit met jou verby is; om nie neerslagtig te wees nie, al is dit hoe
swaar.
En dan sê die
Bybel nie dis sonde as jy neerslagtig is nie, maar Hy noem die troos van die
Gees, wat meer is as die geestelike stryd wat ons hier het. En dan is dit so
dat mens selfs van hierdie troos van die Gees by tye nie kan weet nie, dat jy
so swaar kry hier op aarde. Dan hou die
Here die troos van die Gees in stand, Hy neem dit nie weg nie en Hy laat ons
dit weer ken. Daarom het die Here Jesus, toe Hy begin het met Sy prediking,
vir die mense hierdie saligsprekinge gegee, waarin Hy die heerlikheid van God
se goedheid aan ons leer.
Mag dit nou wees dat ons daaraan sal kan vashou en
daarmee deur die lewe sal gaan sodat ons vir mekaar kan sê, en vir onsself:
Verbly en verheug julle,omdat julle loon groot is in die hemele. En dan gebruik die Here die voorbeeld van
die profete van Israel, wat doodgemaak was en die vrede van God geken het
terwyl hulle onrus gepreek het. Die profete het nie mooi woorde gehad vir
Jerusalem se kwaad nie en hulle is almal die vrede in. So erg is hulle vervolg
dat die Here Jesus dit in gedagtenis gebring het in Sy eerste leerrede op
aarde. En hierdie vervolging is nie in die geskiedenis altyd daar nie, maar die
verheuging en die loon in die hemele is altyd daar.
Mag dit ons deel wees sodat ons tot eer van God
kan leef.
Amen