Ds Jan Coetzee 16 April 2000 Oggenddiens
Lees: Matth 8: 18
– 27 Teks: Matth 8 : 26
Sing: Ps 138 : 1, 2
Ps 119 : 1
Ps 89 : 6, 7
Ps 116 : 1, 2, 3
Broeders en
susters, in hierdie deel van die Bybel, in besonder met die woorde van die Here
wat ons oordink, leer Christus ons hoe ons Hom moet volg.
Daar was die
skrifgeleerde wat die moed gehad het en gesê het hy sal gaan net waar Jesus
Christus gaan, van plek tot plek. ‘n
Ander een het gesê hy moet ‘n begrafnis gaan hou dan kom hy ook. En nou leer
die Here in hierdie deel vir ons dat Christus, dat God, op ‘n geestelike manier
nagevolg moet word en die plek waar ons leef, woon, ly, waar ons ons lewe
deurmaak, is van tweede belang. Ons moet
die Here geestelik volg.
Nou weet die bose
magte, die duiwel dit ook en hy probeer juis jou godsdiens aan ‘n plek bind.
Dat die navolging van onse Here, tyd- en plek- gebonde moet wees. Dit is wat
gebeur het: die skare het die Here gevolg. Hulle was baie want Hy het hulle
gesond gemaak, en hier op aarde, daar in Palestina, het dit goed gegaan met die
mense want Jesus het van plek tot plek deur hulle dorpe gegaan. Daarom wou
hulle hom hê as ‘n koning in die plek van die Romeinse Keiser. Onteenseglik ‘n
beter koning maar nie sy tyd daarvoor nie.
Die Here en sy
dissipels is in ‘n storm op die meer van Genesaret en die Here vra, toe hulle
hom wakker maak: “Hoekom is julle bang?”
Broeders en susters, ek sou ook bang gewees het en ek meen elke mens met
redelike insig sal vol angs wees as jy in ‘n gewone skuit is in ‘n groot storm.
Ek dink die skuite van destyds was sekerlik nie van die stabielste wat daar was
nie. Buitendien, op daardie see kom nie groot storms nie, dit was ‘n
binnelandse meer. En hulle wil vergaan en die Here slaap. Nie omdat hy nie
anders kon nie maar omdat hy woú. Christus het ook in sy mensheid tydens sy
omwandelinge op aarde niks gedoen omdat Hy nie anders kon nie. Maar elke
werk wat Hy gedoen het, elke optrede is deel van Sy wil. As ‘n mens dít in gedagte hou, lees jy die
Evangelie met groot eerbied.
Nou het die Here
nie net hierdie vraag gevra nie; ons gaan oor die vraag eerstens ‘n paar
gedagtes uitspreek. Hy het Hom ook as die almagtige geopenbaar deur die storm
te laat bedaar: onmiddellik. En dan wil ons afsluit deur oor die groot stilte
wat daar toe was iets te sê.
Daar is dus die
drie punte in die oordenking:
Die vraag
van die Here, die almagsopenbaring, en dan kom die stilte.
Nou moet ons eerste
na die aangesprokenes kyk, dit was die dissipels. En hulle is min. Daar was die twaalf en hulle was saam met
die Here op pad na die oorkant van die meer. Hulle word genoem: ‘kleingelowiges’.
Dit is nie ‘n vermaning, waar die Here hulle mee aanspreek nie. Die uitdrukking
‘kleingelowiges’ laat ‘n mens soms dink dat hulle geloof toe klein,
ontoereikend was. Dit lyk so; hulle was dan bang.
In die taal
waarin Mattheus hierdie opgeskryf het, beteken die woord kleingelowiges ook,
eintlik in die eerste plek, min in getal.
Hulle was ‘n skare wat saamgekom het en niemand was bang nie, selfs die
skrifgeleerde het die moed gehad om te sê “Ek kom saam”. En nou is hulle min.
Dit was nog nie kerk nie. Hulle het nog nie geleer nie; hoe kon hulle? Dit was
nog maar die begin van hulle onderrigtyd by die Here. Sodat die kleinheid van die
geloof nie net getalle was nie maar inderdaad ook kennis van God se werke. En dat die Here daar gaan slaap het in die
skuit, het hulle gedink is ongeërgdheid van Sy kant. Terwyl ons nou al weet uit die Bybel en uit die werke wat God,
dat hy niks toevalligs doen nie, maar dat Hy dit doen omdat Hy wil. Niemand dryf God nie, niemand hits Hom aan
nie, maar wat Hy doen is die uitvoer van Sy Wil.
En as die Here
dan die vraag vra, vra Hy vir die dissipels: Hoekom het julle nog nie gevra, of
gedink of geleer dat God alles wil doen nie? Julle sien hoe stap die
siekes gesond weg. Julle sien hoe die skare agter Hom aanloop, nog nooit in die
wêreld het dit gebeur nie. En tog dink julle, julle gaan verdrink.
Hierdie ‘kleinheid’ van die geloof was dus dáárin
dat hulle die Saligmaker en die nabyheid van die Koninkryk van God nie regtig
verstaan het nie. As jy nie droog en behoue aan die anderkant
van die meer kom nie, is dit met jou verby.
As jy langs die pad verdrink in die see, saam met Jesus, is daar niks
oor van al die wonder van gesondmaak en van die wonders van Sy Woorde nie.
Kan u u aan ‘n
meer plek- en tydgebonde soort godsdiens dink as dit? As ek en Jesus verdrink
is daar niks oor nie. En dit het hulle
inderdaad nie kon weet nie. Daarom het die Here hulle nie vermaan nie maar hy
moét en hét hulle daarop gewys dat hulle geloof net soos hulle getalle nog
klein is. Nog nie ‘n enkele van daardie dissipels het sover gekom of was
gestuur selfs om ‘n ander mens met die Evangelie te konfronteer nie. Die skare
het gekom vir die sensasie, die lekker. Kleingelowiges ken nie die werking van
die Koninkryk van God nie.
Is dit nie vir U ‘n oneindige troos nie, dat
wanneer die beproewing kom, die nood, die leed, die dood, dan ken ons die Koninkrykskrag
van onse Here. Ons het
gesing: “Ons koning is deur Israel’s God gegewe.” Dis wáár. En Christus se
koninkryk is ewig en is vrede. Dis ‘n oorwinnings-koninkryk waar die kwaad nie
is nie. En waar die droefheid nie is nie. Maar nou die angs: “Sê nou ons
vergaan?”
As mens nou
hieroor gaan bespiegel, en ek dink dit het weinig waarde, sou mens kon gesê het
wat die dissipels kon gesê het. Hulle moes mos geweet het die Here sal sy werk
volbring. Hulle moes geweet het van die veiligheid. Hulle hét dit nie geweet
nie, kòn dit nie geweet het nie, en die Here Jesus het hulle daaroor
aangespreek: “Waarom is julle bang?”
Nie een het Hom
gesê nie; dis klaarblyklik, die skuit is toe onder die golwe, hy gaan netnou
sink; en nie een van hulle het gesê: “Here ons is bang”, nie. Hulle het Hom
wakker gemaak: ”Ons vergaan!” (Nou praat ons nie verder nie. Ons het ons nood
uitgespreek, nou praat ons nie verder nie.) En dáárom het die Here hulle terég
‘kleingelowiges’ genoem. Jy het begin bid maar nie aangehou nie.
En toe kom die almags-openbaring.
Mens moet eintlik
dankbaar wees, dat die Bybel so min maak van die aangesprokenes en die vraag.
Jy kan dit met ‘n paar sinne sê. Want toe kom die Almags-openbaring. Hy volg die vraag op; en nou is dit nie sommer om te sê wat
Hy doen nie: Hy staan op. As mens in
die Bybel lees van God wat opstaan, sien jy dit veral in die Psalms. Ek kan in
die Berymings vir u die een na die ander sê: ‘die Heer sal opstaan tot die
stryd’, ‘Staan op, o God, en stap U vyand teë’, ‘Waarom slaap U, Here, word
wakker...’ Daar is die profete wat sê: God sal opstaan oor die kwaad. Hierdie
deel van die Gods-openbaring, dat God opstaan, regop kom, is nie dieselfde as
die opstanding uit die dode nie, nie waar nie. Dit is iets anders.
Maar dat God Hom
oprig, Hom omhoog hef, nie lê nie, is die groot teenstelling met die slang. Van
wie die Here God gesê het: ‘hy sal op sy buik seil’. En dis presies wat hy
doen. Teenoor die kwaad wat uitgedruk word, simbolies, in God se Woord, as een
wat lê, terneergeslaan, plat, kom nou die openbaring van God se Almag. Hy lê
nie hier in die skuit en sê dit moet stil word nie. Maar Hy verhef Hom in sy
koninklike almag.
Ek het nog nooit
in ‘n skuit gestaan wat toe was onder die golwe nie. Dit op sigself is al iets
wat, so in die verbygaan en amper ongemerk, vir ons leer dat die Here Jesus wat
op die water loop, ook in die skuit regop kon staan. Ek kan my indink hoe die
twaalf vasgeklou het, aan toue en vashouplekke op so ‘n skuit.
Die almags-openbaring van God is, so leer die Bybel ons, deur God wat Hom
verhef bo die kwaad. Ook
hierin lê vir u en my ‘n ontsaglike bron van genade. Hy verhef Hom ook nie oor
my nie, oor u nie, maar oor die kwaad wat daar is, staan God op.
Ek dink nie die
erediens is die plek om oor die heidendom veel te sê nie maar die teenstelling
is tog aangrypend as u dink aan die kanaänitiese godsdiens wat in daardie tyd
nog vaardig was...Daar was ook ‘n soort ‘al-god’ gewees en sy naam klink amper
soos die arabiese ‘allah’ (dit is maar die tale wat so was) en hy het gesit
as hy praat. Hy het ‘n troon gehad waar hulle gedink het die melkweg en die see
bymekaar kom; dis’n ver plek: daar sit hy. En as hy afklim van sy troon af, het
hy self moeilikheid, maar as hy op sy troon sit, oordeel hy, deel hy
gunste uit en is hy ‘n god. Daardie selfde Baälgodsdiens, so het hulle ons
geleer, is skrikwekkend na aan die Evangelie van Christus want Baäl (die
vrugbaarheidsgod) is doodgemaak en toe het hy weer lewend geword. Nou goed,
daar is sy suster se pogings, wat geen geringe prestasie, stellig, was nie, om
om te gaan met ‘n dooie dat hy lewend word. As ek die epos reg onthou was daar
ook sewentig buffelkalwers as gevolg
van die ‘opstanding’ en was daar (nou nie op Potchefstroom nie) ‘n onderwyser
wat ek gehad het wat gesê het: “Is dit nie die Evangelie nie? Redding
kom deur die opstanding van Ehul se seun.”
Verder van die
waarheid kon dit nie. Die seun van God, Jesus Christus, staan op. God staan op.
Hy voordeel nie so sit-sit so nie! Dis hoe die wêreld doen.
Ek probeer met
die uitdraaipaadjie wat ek gevat het u daarop bedag maak dat as u die Bybel
lees moet u bietjie kyk dat, wanneer God sy werke doen, dan het Hy Hom verhef. Bo lug en wolke het God Hom verhef en die oordeel wat uiteindelik nog moet voltrek
word, sal nie deur ‘n God wat rus gegee word nie.
En nou kom hier
‘n baie behartigenswaardige perspektief na vore: Na die skepping het die sabbat
gekom. Die Woord in die Ou Testament wat beteken ‘Hy het gerus’ klink so: “sabbat”.
God het gerus. Hy het nie meer Hom opgerig en die Skepping daargestel nie, maar
van tyd tot tyd wanneer die skepping in opstand kom dan stáán God. Hy het
gestáán in die tuin. Hy het nie daar gehurk by Adam, geloer waar hy is nie. Hy
het hom opgeroep om ook te staan.
Die Here het nie
vir die dissipels gesê: “Hoekom staan julle nie? Wat sit julle so?” Hy het oor
hulle gees gepraat. En toe volbring Hy die almagswerk van God as God wat Hom
verhef bo wind en meer en storm en die
dreigende dood. En dan bestraf Hy
ook die winde en die see.
Die feit dat Hy
dit met bestrawwende woorde gedoen het, daar waar Hy gestaan het, wys vir ons
dat daardie storm op see nie van God die Vader gekom het nie. Dit was ‘n bose
mag. Dit was die golwe wat probeer het om in ‘n tyd en in ‘n oomblik en op ‘n
plek in ‘n see ‘n einde te probeer maak aan die werk van onse Here. Dit was die
duiwel wat diè winde laat waai het. En nou bestraf God nie die duiwel nie, want
wie’s hy nou dat hy kort-kort bestraf moet word deur God. Hy bestraf sy werke.
Daaroor moet ons
baie goed nadink. Die duiwel is klaar veroordeel. God gaan Hom nie kort-kort
straf nie, maar sy werke is nog by ons. Ons doen dit soms uit swakheid self. En
dan staan onse Here en Hy vergewe nie net die sonde nie maar Hy bestraf die
kwaad wat daar is. Dit is wat ons daarin moet sien: dat die Here die winde en
die golwe bestraf het. Dit is ‘n aanval waaruit die dier kom, uit die aarde. In
Openbaring 13 leer ons van die dier wat uit die aarde kom, die Antichris, wat
uit die opskuimende see, die aarde sal kom. En hy word in sy werke bestraf.
Wat sal van u of
my word as God kom en Hy staan in sy heiligheid en Hy bestraf my. Weet u dat
dit nog nooit met ‘n gelowige gebeur dat God hom bestraf nie maar die werke wat
ons doen, dié sal Hy bestraf. En so beloon God ook nie die persoon van die mens
nie. Ons gaan vry uit deur genade, maar
die werke wat ons doen, sy dit onvolkome, word deur God beloon met genade, asof
dit goed was. Dit is wat die begrip ‘geregverdig voor God in Christus’ beteken,
nie waar nie, soos die Kategismus my ook leer, dat God my dinge wat ek doen in
die geloof as volkome beskou terwyl dit nie so was nie. Sodat in die plek van
‘n bestrawwing oor geloofswerke daar ‘n genadeverkondiging kom.
En toe kom daar
‘n groot stilte.
Die bestrawwing
het die wind en die golwe onmiddelik laat lê. Kyk, natuurlik, in die natuur
gebeur dit nie so nie. Die golwe is nog lank onstuimig na ‘n storm. Maar
onmiddelik gaan lê die wind en die see was stil. Dit is vir ‘n mens, stel ek my
voor, net so ‘n verskriklike ondervinding, as die opkom van die storm, die
opwel van die onheilsmag, en die plotselinge stilte wat daar kom. En dit is ‘n
stilte wat u en ek kan ken as ons weet die Here staan op oor die kwaad; van
binne en van buite my en Hy bestraf die
fout, die sonde, maar die mens red Hy en bewaar Hy, voer Hy met Hom saam om die
raadsplan van God te sien tot stand kom.
Toe die Here die
sonde vergewe het, die skuld betaal het, het Hy nie soos ‘n offerdier op ‘n
altaar gelê nie, maar regop gehang aan die kruis. Iets om aan te dink. Ook as
skuldbetaler het Hy nie gelê of gesit nie; Hy kòn nie lê of sit nie. So het God
dit gewil en daarom is die hele gedagte van ‘n altaar as simboliek van die Here
se offerande misplaas; die kruis nie. Dit is ‘n Christelike simbool, so meen
ek, maar nou het die stilte daar aangebreek van waaruit die Evangelie nou kom
groei en klink. Hierdie dissipels sou sekerlik by die eerste mens wat hulle by
kom, na hierdie bootrit, vertel het wat daar gebeur het. Vanuit die stilte sê
hulle nie net “ons leef!” nie, maar “Hy het die winde bestraf!” en so kom die
eerste Evangelie-verkondiging
(sonder dat die Bybel dit hoef aan te teken want dit is mense wat daar was) uit
hierdie stilte.
En so moet dit
ook wees in ‘n mens se gemoed. In die onrus en in die opstuwing van jou gemoed
kom die Evangelie nie uit jou lewe nie maar wanneer die rus neergedaal het. En
is dit nie vir u ook ‘n treffende gedagte nie, dat, soos wat die Here die
sabbatsrus op aarde gemaak het, en dit as ‘n belofte weggelê het, en waar die saamkom van die gemeente by die
Woord van God ‘n rusdag is, die Here daarmee die krag gee en die beginpunt van altyd nuwe Evangelie-verkondiging.
Hierdie groot
stilte is deur die disipels met verwondering bejeën. In die plek van die angs oor
die golwe, is daar nou verwondering oor die stilte. En het dit eers ‘n
geestelike belewenis en belydenis geword toe hulle daaroor kon begin praat met
ander.
Dit was so dat
die mense toe al baie goed van die Here Jesus geweet het. As u nou Mattheus 8
verder lees dan sien u Mattheus het darem, net hierna, van die besetenes van
Gadara geskrywe, wat geweet het dit is Jesus, die seun van God, en Hom verjaag
het. Die mense van Gadara, so sê ‘n ander Evangelie, het by die verlies van
hulle varke, die Here weggejaag; “Gaan weg, u maak ons varke dood!” Terwyl die
dissipels vanuit die stilte kon sê: “Hy gee die lewe.”
Daarom, broeders en susters, is dit ons plig en
leer die Bybel ons, dat wanneer die Here so deur die vraag en almagsopenbaring
en stilte aan ons leer, ons ‘n verantwoordelikheid het om van God se werke te
vertel.
Amen.