Ds. Jan Coetzee Oggenddiens
Lees: Psalm 2
Sing: Ps 100: 1, 2, 3
Ps. 40: 4
Ps. 33: 5, 6
Ps. 45: 1, 2, 3
Ps. 99: 1, 2, 3
Psalm 2 gaan oor
Christus, al dink mense soms nie so nie. Dit gaan oor die seun van God en wat
Hy doen en dan begin hierdie gedig deur aan ons te leer dat die Here onheile op
‘n mens se pad bring. Dinge wat jou in hierdie lewe laat swaarkry. En dit
gebeur met alle mense, maar dit is nog nie die straf van God nie. Dit is Sy Hand wat jou stuur en in ‘n
rigting dwing om Hom te ken en te bely. En dit doen die Here deur in ‘n
mens se hele lewe ‘n afwisseling te laat kom van wat maklik is en wat swaar is.
Hierdie waarheid
maak dit vir ‘n gelowige partykeer swaar om werklik die diens van God met
vreugde en blydskap te volbring, want die onheile kom jou ook teë, maar dan net
daarna sê die gedig, die Psalm, dat hy van ‘n besluit wil vertel wat God geneem
het nl. dat daar ‘n Held, ‘n Oorwinnaar,
‘n Koning kom; ‘n Saligmaker, en Hy is God deur God self voortgebring.Hierdie
is ‘n geheimenis, al word dit bekend gemaak. In die taal waarin die gedig
oorspronklik geskrywe was, gebruik hulle die woord: “gebore word”. “Vandag het
Ek U laat gebore word.”
Hier het u ‘n
voorbeeld waar ons Bybels ook uit die Nuwe Testament ‘n woord kies om die Ou
Testament toe te lig, want êrens in die Nuwe Testament word gepraat van die
generasie, die ewige generasie, voortbring , van die Seun van God. So het dit
gekom dat hier in ons Bybels staan:”U is
my Seun, vandag het Ek U gegenereer.”
Wanneer is
daardie dag? Onthou Hy wil van ‘n besluit vertel. God se besluite word nie op
‘n oomblik geneem nie, hulle word geneem in die ewigheid. Maar Hy sê dit vir
mense. En daarom is daardie ‘vandag’ elke
dag in ‘n mens se lewe wanneer jy op hierdie pad van wisselende blydskap en
smart kom en jy soek hulp by God, dan sê die Here, maar jy het die Seun van God
wat deur God self daargestel is, wat deur die Here gedurigdeur gegee word. Hy
sal jou op die pad help om God te dien; om die smart te kan te bowe kom en om
jou vreugde te kan dra.
Hierdie gedigte
uit die Ou Testament is partykeer onbarmhartig, oënskynlik, in hul reguitpraat.
Selfs jou blydskap kan jy in sonde deurbring en ook daar moet en ook daar moet
God jou help om Hom te dien. Maar Hy wil vir ons vertel van die besluit, en
omdat dit ‘n besluit is, staan dit vas. Geen twyfel daaroor nie. Dan gaan die
gedig verder en verduidelik die wondere van God se weg as Hy teen die kwaad
stry. Nou is die mense op die weg. Almal wat Hom wil aanval en Sy Goddelikheid
nie wil herken nie, dié sal Hy laat vergaan, dis iets ergers as die beproewinge
wat die Here op ons lewenspad bring.
Nou sê hierdie
Psalm ‘n verskriklike ding wat waarheid geword het ‘n klomp kere al in die
geskiedenis en wat nou weer besig is om waar te word. Die konings van die wêreld staan saam en hulle sê: ons moet die bande
van God afskud. Maar wie is die ‘hulle’ wie se bande hulle wil losmaak?
Dit kan net in ‘n
gedig gebeur dat die Here so-iets vir ‘n mens sê: daar kom ‘n skielike draai
in; die goddelose mense soek nou iemand om aan te val en by God kom hulle nie
uit nie. Nou goed dan, die kerk...Goed dan, die gelowiges...Dis húlle wat die
bande maak. Dis húlle wat ‘n las lê op die wêreld, wat niemand kan dra nie. So
sê die konings van die wêreld.
En dit is letterlik besig om te gebeur dat die
mense die bande, wat oënskynlik deur die kerk gelê word in beskawings, in
gemeenskappe, in lande, in regerings, afgooi. Hulle sê: kom laat ons die bande stukkend ruk!
Dit is die moed
en durf van mense wat onder die straf van God staan. Die Bybel leer ons hier ‘n
ding wat jou benoud maak. As God jou gaan straf, word jy dapper. Dis wanneer
die Here vir jou goed word en jou seën en jou troos, dat jy jou kleinheid voor
God begryp. Maar as die Here jou straf, dan is jy soos die Farao van Egipte, in
die tyd van die tien plae, wat die Almag van God beleef het en op die laaste
gesê het: ek laat nie my bediendes trek nie, hulle sal vir my kom werk. Wie is
húlle? Maar eintlik sê hy: Wie is God? Of soos dié wat die Here Jesus laat
kruisig het, wat gesê het: Ons is nie bang nie, en selfs ons kinders kan maar
ly ás dit dan ‘n sonde is wat ons hier begaan.
As jy onder die straf van God staan, is jy braaf.
En daarom het die wêreld krag, hy’t die krag van die vreesloosheid omdat hy in
homself vertrou. Die
wêreld het ook, dink ek, al ‘n reg om op homself te vertrou, as hy dan nie op
God wil vertrou nie, want in die wêreld en deur die mense se krag word tegnieke
gevorm, nuwe dinge ontdek.
En ek vra u
aandag vir hierdie waarheid: omdat in die tegnologie ‘n nuwe ding beter is as
‘n oue (dis altyd so; dis die ontwikkeling en die voortgang) dink die mense dat
‘n nuwe soort godsdiens beter is as ‘n ou soort godsdiens. Of dink mense dat,
as ek jonk is, is ek beter as een wat oud geword het.
Maar geestelik is
die tegnologie mos nie, die tegnologie is stoflik. En waar dit ’n saak is
waaroor ons bly is, dat alles beter word (hoeveel waardevoller en nuttiger is
‘n rekenaar nie as sê ‘n telraam ?) Dit ís so.
Maar nou kom die nasies en hulle sê: omdat ons
sulke oulike dinge kan maak, en omdat die mensdom buitengewone tegniek en
vaardigheid ontwikkel het, kan ons vir die kerk sê: Jou bande is oud en lastig.
Maar eintlik het hulle dit teen God.
En dan sê die
Psalmis: as die Here dít sien dan lag Hy. Hierdie is een van die oudste
uitdrukkings wat ek van weet, in die hele taalgroep waarvan die Bybelse
Hebreeus een is. En dit is ‘n uitdrukking wat jy baiekeer kry in ook heidense
gedigte, dat die godheid lag. En daarmee word dan gesê (so kan mens ook uit die
heidense geskrifte die Bybelse woordbetekenis leer verstaan), nie dat die Here
‘n spotlag het of dat Hy die mense uitlag nie, maar Hy lag in Sy krag.
In die Bybel word
dit ook van ‘n wilde woestynesel gesê: hy lag vir die droogte, hy lag vir die
wind en hy gee sy balk en gaan voort. “Lag” is die uitdrukking van krag en
sterkte en ‘n groter vreesloosheid as dié van hulle wat onder God se straf
staan. ‘n Mens moet hierdie gedagte en woordstrukture van die Bybel vashou, jou
daaraan steur.
God lag nie oor
Hy verspot is nie, allermíns. Hy lag soos
Een wat die krag het en betuig en betoon; ‘n krag groter as dié van húlle wat
onder die straf staan. Daarom spot Hy met hulle.Hoe spot God met die wêreld?
Deur Sy heilige toelating.
Wat kan mense
doen as God hulle nie toelaat nie? En die Here laat baie dinge gebeur; Hy straf
nie dadelik nie, Hy sit nie dadelik die onheil stop nie. Die lasteraars
verskrompel nie net daar waar hy laster nie. Die ongelowige gaan nie ten gronde
net waar hy staan nie maar die Here laat hom lank lewe. Psalm 73 se digter het
swaar gekry daaroor, hy’t gesê die goddelose se oë peul eintlik uit van die
vet, so goed gaan dit met hom en hier sit hy en swaarkry; totdat hy, sê Psalm
73 , op die eindes van hulle lewens gelet het. Dis gladde paaie na die afgrond waarnatoe
hulle gaan.
En dieselfde
gedagte lê hiér ook in. Nou, die Here laat toe dat die konings versamel en maak
nie met hulle soos Hy eenmaal in die woestyn gemaak het toe die drie manne wou
offer in die plek van die priester nie. Dit is die bekende Korag, Datan en
Abiram; dat die Here hulle nét daar vernietig het, mét hulle besittings...
Ek het nou al ‘n
paar keer na hierdie drie verwys, want dit is die unieke, dat die Here daar en
dan die sondaars straf. As Hy dit altyd sou doen sou die wêreld voor God gebeef
het en gesidder het. Maar nou, nou gee
God uiting aan Sy krag. Hy lag en Hy laat toe en sê: gaan maar nog ‘n bietjie
aan; verlustig julle nog in jul eie mag en seggenskap en werp die bande van die
kerk af, julle kán.
Hoeveel keer het
dit nie al gebeur nie. Op hierdie kontinent waarop ons woon het ons
opstandelinge selfs die liggame van nonne geëet. God laat dit gebeur; Hy het
dit toegelaat dat in Kaapstad ‘n kerkdiens ‘n moordplek word. En dan sê God:
Gaan aan.
En kyk, dis dan
wanneer Ps. 45 so aangrypend word, wanneer jy in die geloof van die Koning leer
wat ‘n Held is wat oorwinnend na die geveg ry vir Waarheid, Ootmoed, Hoogste
Reg. Dié dinge wat juis afgegooi wil word deur die wêreld se konings.
En so gee die
Here dan die toelating tót op ‘n tydstip. Die Bybel gebruik ‘n uitdrukking (dit
staan in die Galasiërs-brief): ‘die volheid van die tyd’.
U merk dat
hierdie Psalm verklaar moet word en verstaan en geglo moet word in die lig van
die res van die Bybel. Daar word in Galasiërs gesê: Toe die tyd vól was het
Christus gekom. Ek dink dit is by u nie ‘n onbekende gedagte nie en raak dit
dalk net effens aan. Die tyd was vol vir die koms van die Seun van God na die
wêreld toe, omdat, deur die ontwikkeling van beskawing (wat God toegelaat het,
aangehelp het, veral in die Helenistiese en Griekse beskawing---die kuns,
ongeëwenaard, die wysbegeerte, die letterkunde, ook die sport) die ietwat
naiëwe Baälsdiens (die vrugbaarheidskultus, waaraan die hele wêreld deelgeneem
het) verspot begin lyk het. Mense het begin insien, maar die Baäl-priesters het
nie die waarheid beet nie, en toe gooi hulle die bande van die heidendom van
hulle af (van die vrugbaarheidsgodsdiens).
Kan u sien hoe spot God? Hulle sê: kom ons gooi
die bande af wat God maak, maar in werklikheid het die wêreld ontwikkel in sy
heidensheid deur die afgooi van heidense bande.
En daarom is
hierdie spot van God iets waar ‘n gelowige voor bewe. Dat die Here toelaat dat
mense hulself vernietig en dat ‘n heidense kultus wat vir duisende jare, van
die mensdom se eerste bewus wees dat hulle mense is (en die opgrawings, daar
waar vandag Irak en Iran is, die noordelike dele daarvan, bewys dit) het hulle
hierdie vrugbaarheids-kultus beoefen. Dis die oudste godsdiens, nou ja,
afgodsdiens dan, wat bestaan, na ons wete. En daarlangs het die Here die pad
gemaak van Sy verbondsvolk. ‘n Klein klompie wat ook daar rondgetrek het (dit
was maar Abraham en dit was nie eers genoeg dat hy in Ur bly tussen die klomp
met hulle vrugbaarheidskultus wat op ‘n hoogtepunt was toe Abraham daar moes
uittrek nie...) ...ly Hy hom na Kanaän, na Egipte...waar hy ook swaar gekry het
(hy’s bang vir die konings, dan gee hy sy vrou vir hulle, gee hulle sy vrou
weer terug...)
Ek het nogal
gewonder as ‘n mens, in die verbygaan, in die huweliksformulier sê mens moet
gehoorsaam wees soos Sara aan haar man...nou wonder ek of die opstellers van
die formulier hieraan gedink het? ‘n
Gehoorsaamheid tot in die skande toe?
Ek weet nie. Ek
dink die opstellers van die formuliere het aan iets anders gedink. Nou, dit was
in die verbygaan...
Maar God het
Abraham gelei en hoe lank het dit nie gevat voor Israel volk kon word uit die
een seun, Isak, en toe hulle baie was toe sê hulle vir die Here: ons gaan U
bande afgooi en ons wil ‘n koning hê. En hulle kry Saul. Kop en skouers bo die
volk uit en toe hy gekies word kruip hy weg by die bagasie. ‘n Lang, sterk,
skaam man kry die volk want hulle gooi mos God se bande af.
Die Here het vir
Samuel gesê: dis nie teen joú wat hulle dit het nie, dis teen die Here wat hulle
dit het. Dis áltyd so en dit is die troos van die kerk wat in verdrukking kom: dis nie teen die kerk wat hulle dit het nie,
hulle het dit teen God.
Maar nou, so het
die Here dan, in die Bybel, die volheid van die tyd laat aanbreek.Die mense het
begin insien dat die godsdienste van die wêreld nie bevredig nie. En die Grieke
met hulle beskawing en al het, wanneer hulle die Here wou dien, ook ‘n
veelgodendom gehad. Die Romeinse Ryk het ‘n Vredesryk op aarde gestig: in hulle
eie taal het hulle dit genoem (soos u seker weet) die Pax Romana. Vrede van
Rome. Wat hulle met die kortdwaard gehandhaaf het. En die geoefende, gedrilde
soldate-kolonnes, want die Romeine het anders geveg as die res van die nasies,
en daarom oorwin. En hulle het wette gemaak wat orde daargestel het, gegrond op
waarheid. Sodat ook die regstelsel wat daardie mense gehad het, oorleef omdat
dit die waarheid dien. En toe kon die Seun van God kom.
En daar was
nogiets wat die volheid van die tyd bewerk het, en dit is ‘n taal wat almal kon
verstaan. So ‘n dialek van die Griekse taal, dis die een waarin die Nuwe
Testament geskrywe is.
Die toneel was
reg, die wêreld reggestel dat die Seun wat oorwinnend na die geveg ry en wat
die vyand met ‘n ysterstaf stukkend slaan, dat Hy kom. En toe Hy kom is Hy stom
voor Sy skeerders...Deur Hom te kruisig, het hulle verlore gegaan; deur nie te
glo nie, het hulle op ‘n pad gekom wat nie ‘n besteming het nie, hy loop maar.
En nou sê die gedig: as jy hierdie dinge verstaan:
welgeluksalig is dié wat die Here dien. Maar Hy nooi jou uit en sê: kom, kus
die Seun, die soen op die Hand...U sal onthou ons het die vorige Sondag vir u vertel van die verheerliking,
dis die soen op die hand wat jy geestelik, figuurlik gesproke, teenoor God
doen. Nie ‘n nuwe gedagte nie.
Ek sê weer, as
mens die gedagte-strukture, die woordbetekenis-strukture, in die Godsopenbaring
vat, dan sien jy daarin die rykdom van die wêreld-letterkunde, oor eeue
saamgevat en gebruik om die taal van God te praat: kom, kus die Seun, want Hy word gou toornig; lig ontvlam Sy toorn.
Het dit nie in
Getsemané gebeur nie? Toe Jesus hulle vra: wie soek julle? En hulle sê: ons
soek Jesus, toe sê Hy: Dit is Ek; en daar lê hulle. Dit kán. Hierdie skielike
toorn van God waarvan ons die voorbeelde het, genadiglik min, van Korag, Datan
en Abiram, hierdie skielike toorn van God, is nié ‘n onwerklikheid nie, dis
dáár. En daarom moet ‘n mens die Here vrees.
Die Seun van God, wat gegenereer word deur God die
Vader, is nié ons maat nie. Hy is die verskriklike. U moet weer in Openbaringboek gaan lees hoe het
Hy gelyk, hoe Johannes hom gesien het. Vlammende oë, voete van gloeiende koper,
met die tweesnydende swaard wat uit Sy mond uitgaan; dit is die Oorwinnaar, ‘n
Oorwinnaar-wese.
En hier waar
Christus as die oorwinnaarsheld besing word wil ek u graag daarop wys dat ook
in die heidense gedagte wat in die tyd van die Psalms geskryf is, was daar ‘n
afgod gewees, ook met die naam van Baäl. Hy het die bynaam gehad van
Baäl-oorwinnaar. Hulle het in ‘n plek gebly met die naam van Ugarit, in
Palestina.
Nou lyk dit asof
die wêreld eerste die oorwinnaarsgode gehad het en hier kom God agterna en Hy
noem Sy Seun ook die Oorwinnaar. Dìt doen die Here sodat ons geloof getoets kan
word. Nou, as een kom sê: og, die mense van Ugarit (by Rashamra het hulle dit
opgegrawe) het vòòr die Psalm eintlik al die verlosser Oorwinnaar genoem. Hier
kom God en Hy sê ook Sy Seun is ‘n Oorwinnaar.
Kan u die taal
van die ongeloof verstaan? Wat nie verder kom as ‘n opgegraafde klei-tablet
nie? Ek moet verder gaan, ons moet by ‘n herbore hart kom waarop God Sy Wet
inskrywe en nie soos hierdie ou klei blokkietjies wat hulle opgegrawe het, hard
en bietjie verbrokkel hier en daar nie. Maar ‘n lewendige, gelowige hart waarop
die Here die liefde vir Sy Waarheid geskrywe het, sodat jy die Seun kan kus. En
dan kom die seën op die end: Welgeluksalig is dié wat dit doen.
Hierdie gedig, broeders en susters, gee aan die
gelowiges moed, nie die braafheid van diegene wat onder die straf staan en God
uitdaag nie, nie die krag van God se lag nie, want ons kan niks toelaat nie,
maar die krag van die verlosde.
Die oortuiging
van die gelowige dat wanneer God op my lewenspad beproewinge bring, en vreugde
bring, of Hy doen met my niks, dat ek eenselwig deur die lewe gaan, dan kus ek
nog steeds die Seun. Dan dank ek Hom nog
altyd dat Hy die Oorwinnaar van alle tye is, wat gekom het toe die tyd vol was;
daar kom nòg ‘n tyd van volheid wanneer Christus die tweede keer na die wêreld toe kom, as die Here die
maat van die sonde laat volloop het.
Dat die laster, die afgodery, die verwerping van wat goed is, sò word dat mense
dink: nou gaan ons teen God veg. Dán is daar ‘n tweede volheid van die tyd. En
die Bybel sê ons kan dit nie uitreken nie, maar ons kan die tekens daarvan
sien.
Laat ons die Here
dank, broeders en susters, dat ons die troos het van die geloof, die moed en
die krag het wat bò die van die wêreld uitgaan en wat ons aanbiddend voor ons
Here laat neerbuig.
Amen.