Ds. Jan Coetzee 16 Desember 2001 (Oggend)
Lees: Rigters 9:1-21
Teks: Rigters 9: 7 Psalms:
138:1,4; 139:12; 65:3,4;
121:1,4; 74:15,16
Ek meen dat hierdie gelykenis van Jotam die enigste in die Ou Testament is,
die enigste gelykenis in die Ou Testament, die bome wil ‘n koning hê. En hy het
vir die mense van Sigem gesê hulle moet na hom luister. Sodat God na hulle kan
luister. Ons kan sê hy het op ‘n bedekte manier die evangelie aan hulle
verkondig. God is die koning, Hy regeer. En herken u dit nie? Dan sal daar vuur
uitgaan en jy kom onder die oordeel. Nou is die tyd van die Rigters een van die
verskriklikste tye wat daar ooit, dink ek, in die geskiedenis van Israel was.
Die Boek self sê: Elke man het gedoen wat reg was in sy eie oë. Kan jy dink hoe
is dit?
Tog het hulle een fout deur die bank gehad, wat vir almal gegeld het. Hulle het nie begryp dat God koning is nie.
Die teokrasie, die Godsregering, God alleen wat regeer. Het hulle nie begryp
nie en dit ook nie geglo nie. Hulle het die name van God geken. En God was nie oor
hulle die regeerder in hulle eie oë nie, hy was net ‘n naam. En as daar nou
strawwe kom van God, dan moet Hy hulle verlos en red. God was vir hulle ‘n uitkomsgewer, nie ‘n wetgewer nie. En dit is
die enkele sonde wat al die mense van Israel begaan het.
En nou het Gideon, wie se
geskiedenis u goed ken, dis die man met die bende, die klein klompie, Israel
verlos uit die vyand, die Midianiete se hande. Om hierdie gelykenis van Jotam,
Gideon se seun, te verstaan, meen ek moet ‘n mens die geskiedenis waarbinne dit
plaasgevind het, bietjie bedink. Ons sal eerste u aandag vra vir die
geskiedenis rondom die gelykenis. Dan sal ons oor die sonde wat daar was moet
dink. En derdens oor die genade van God, wat juis ook in Sy oordeel blyk.
Oor die geskiedenis dan, ons het reeds
gesê dit gaan oor Gideon, en hy is as rigter geroep. U weet hoe het hy God laat
kies, God laat aanwys, u weet met die dou op die vel, dan rondom die vel. En
toe kap hy die Baäl-altaar om in Ofra. En hy kap die heilige boomstam, wat ‘n
simbool was, om. Toe wil hulle hom doodmaak. Dis mos kenmerkend van as God net
jou uitkomsgewer is, maar nie jou wetgewer nie. Dan moet jy nie die simbole van
uitkoms verwoes nie. Maar wat Gideon gedoen het, was om die simbool van afgodery te verwoes.
Hulle wil hom doodmaak. En toe kry hy ‘n nuwe
naam Jerubbaäl, wat beteken, as ek dit nou wild mag vertaal, laat Baäl sy eie
oorlog voer. Dit is wat Gideon se pa vir die Israeliete gesê het. Laat Baäl sy
eie stryd voer, as hy dan nou julle god is. Dit is nie nodig dat julle in sy
belange iemand moet doodmaak nie. Daar staan Jerubbaäl en van toe af het hulle
hom so genoem.
Daarna het hy met die klein leërmag God se
oorwinning bevestig. Ek praat daar niks meer van nie. Maar na die oorwinning,
die uiteindelike oorwinning, toe hy nou die twee konings geboei en gevange
inbring, toe begin die onmin en die naywer. Ons lees daarvan in die vorige
hoofstuk. As u Rigters 8 op ‘n keer wil lees, dan kry ‘n mens die voorspel tot
hierdie vreeslike ding wat daar gebeur het in Sigem, in Ofra. Die Efraimiete,
die stam van Efraim sê: Wat het jy nou gedoen? Jy gaan wen ‘n oorlog sonder
ons. Pleks dat hulle bly was. En dit is ook presies wat Gideon vir hulle gesê
het. Hy sê hulle na-oes is groter as sy hele oes. Daarop het hulle nie ‘n
antwoord gehad nie.
Maar soos wat dit gaan in sulke gevegte,
dit duur lank, jy kry nie klaar met ‘n oorlog in ‘n dag se tyd nie. Dis net
Israel wat dit in ses dae kon regkry, huidige Israel. ‘n Oorlog vat lank en
Gideon moes nog veg. Nou kom hy in die
stad Sukkot. En hy sê my manne is honger, die driehonderd, gee vir ons
broodjies. Toe sê hulle wie en wat is jy? Het jy al die twee konings gevange
geneem wat jy so vervolg, dat ons nou vir jou moet brood gee? Hy sê hy sal
hulle straf. Hy kom by die volgende dorp Pniël. Hulle gee ook nie broodjies
nie, met dieselfde woorde.
Gideon het gesê hy gaan hulle straf as hy
terugkom. Hy kom toe terug daarlangs met die twee konings wat ek netnou van
gepraat het. En Sebna was die een se naam en Salmuna. En hy sê hier is hulle
nou. En hy het die twee dorpe, Sukkot en Pniël, ernstig en swaar gestraf met
die dood, en baie leed aan hulle berokken. Mens kan vra was hy reg om dit te
doen? Kan jy jouself so wreek op iemand?
Die antwoord is: Nie jouself nie. Maar
hierdie mense het geweet God gee met driehonderd man duisende in ‘n oorwinning
oor. En Gideon was besig om te agtervolg. Hulle was onbarmhartig teenoor God se
soldate, ongehoorsaam. God is immers nie wetgewer nie, Hy moet uitkomsgewer
wees. Hier verbeel Gideon, wat nou Jerubbaäl is, verbeel hy hom dis hy. Dis hoe
die mense geredeneer het. Kan u sien dit is ‘n noodwendige logiese uitkoms
daarvan . As God net uitkoms moet gee en jy Hom nie met hart en siel dien en
gehoorsaam nie.
Toe hy terugkom, wil hulle Gideon met geweld
koning maak oor Israel. En hy sê nee, ek wil nie julle koning wees nie. Hy het
hulle seker goed geken. En buitendien God is koning. Die God wat die oorwinning
gegee het. Wat maak dat hy met die driehonderd man… Goed hy het ‘n plan gehad.
U weet met die fakkels en die kruike, en toe hulle dit stukkend slaan, is daar
skielik baie lig. Maar driehonderd fakkels is nog nie ‘n goed genoeg weermag
teen duisende nie. God regeer, maar nie net as ‘n uitkomsgewer nie. Hy heers.
Gideon het dit geweet. Hy het vir God gesê: As U my stuur, sal ek gaan, maar ek
wil sekerheid hê van my roeping. Sekerheid
oor ‘n mens se roeping in God se diens, is ‘n wonderbare gawe van God. En
daarom wil hy nie hulle koning wees nie.
Maar hy vra vir hulle gee vir my, elkeen
van julle, ‘n ring uit die buit wat julle gemaak het. Dit sou dan seker
driehonderd ringe gewees het, goue ringe. Mantel oop by elkeen en hulle sê: Ons
gee dit graag. En daar begin die sonde. Ek het vinnig oor die geskiedenis-deel
gegaan, want as u hoofstuk 8 en 9 deurlees, het u dit self beter as wat ek dit
kan vertel.
Gideon maak van die klomp ringe ‘n
skouerkleed. ‘n Skouerkleed word in hulle taal genoem ‘n efot, en is ‘n soort
jakkie wat hulle gemaak het. As jy baie materiaal gehad het, was hy langer. Hoe
ryker jy was, hoe langer was jou skouerkleed. Party s’n het sommer hier onder
die arms gesit. In Rigters was hulle erg oor ‘n
skouerkleed. U ken die geskiedenis van die Leviet wat by sy ma dertig
sikkels silwer gesteel het. En toe hy dit wil teruggee, sê sy ag nee en hulle
maak toe ‘n skouerkleed van die silwer. En hy word ‘n priester en dit het tot
moord gelei.
Die skouerklede wat hulle gehad het, was
nabootsings uit die heidendom. Want onthou hulle het in hulle lewenswandel die
afgode erken asof hulle ook God is. Daar is darem niks nuuts onder die son nie.
Om die ware God gelyk te wil stel in jou gedagtes met afgode. En hulle het
veral die vrugbaarheidsgodsdiens liefgehad. Dit was ‘n plesierige godsdiens
gewees vir die vlees.
En hulle het hulle afgod Baäl, die naam
van Baäl-Berit gegee. En dit beteken Baäl van die verbond.Hulle het geweet van
die verbond met Abraham. Hulle was die besnedenes. Die het hulle onderhou, want
dit was ‘n ritueel. ‘n Ritueel is vir mense ‘n mooi ding, nog altyd. En Baäl se
naam het hulle verder verander na God-Baäl, Here-baäl, El-Baäl. En in Sigem het
hulle ‘n dubbelmuur aan die westekant van die stad gemaak. Dis nou wat die
opgrawings leer. En binne-in dit met grond opgevul. Dit was ‘n breë, veilige
skans en bo-op ‘n tempel vir Baäl. Dit is die Millo waarvan ons hier lees. Die
huis van Millo is die afgodstempel wat hulle bo-op gebou het en daar het hulle
al hulle vergaderings gehou en het hulle hulle besluite geneem.
Toe kom Abimeleg nadat Gideon, Jerubbaäl
vir veertig jaar ‘n vreedsame regering oor Israel gehad het. Sien u, die goed
het nie sommer gou klaargekom, alles in ‘n kort rukkie se tyd nie. Mens sê dit
maar net gou en skryf dit vinnig op. Maar hier staan in die Bybel Gideon het
veertig jaar oor Israel regeer as rigter en daar was vrede. Hierdie selfde
Gideon het die twee konings van die Midianiete doodgemaak. Vir hulle gevra daar
in Ofra: Het jy mense doodgemaak? Ja, het sê hy. Hy sê hoe het hulle gelyk? Soos
jy, groot, koningseuns. Toe laat hy hulle doodslaan. Hy roep ‘n jongman en sê:
Slaan dood. Nee, sê hy ek is ‘n seun. Toe maak hy hulle maar self dood. Dis
woes.
En Abimeleg, wat beteken my pa is koning.
Wat ‘n leuennaam was, wat Gideon vir hom gegee het. Nou die man het sewentig
seuns gehad, dan kan u dink hoe het hy aangegaan. Hy moes in elke dorp vrouens
gehad het. So was daar in Sigem ‘n vrou van mindere afkoms, hulle noem haar ‘n
slavin. En dit is sy wat die ma was van Abimeleg. Hier kom hy nou aan en hy sê
julle is my broers. Hy gaan na sy ma se mense toe, hy bly weg van sy pa se
mense af. Daar is sewentig en hy wil alleen regeer. En hy regeer deur moord.
Mens kan daar amper nie aan dink nie. Dat hy die seuns, sy halfbroers, almal
deur deugniete aan wie hy geld gegee het, op een klip laat vermoor het. Ek dink
mens moet verstaan dit was verbryseling van die skedels gewees, op een klip,
almal daar. Wreder kan ek my nie indink nie, want jy slaan tog nie sewentig in
‘n klein tydjie dood nie.
En hier is hy nou alleen oor, maar Jotam,
‘n ander halfbroer van hom, het gevlug. Nou sal u sien hoe die Bybel met
getalle werk. Gideon het sewentig seuns gehad en sewentig is doodgeslaan. Maar
Abimeleg was een van hulle en hierdie Jotam ook. So as jy nou gaan somme maak,
wat nie nodig is nie, dan het hulle agt-en-sestig doodgemaak. Dis nog baie. Wat
die Bybel wil sê, is Abimeleg maak almal dood wat kan sê hulle pa is koning. Hy
is die enigste Abimeleg wat daar is.
En toe kom Jotam wat weggekruip het. En
dit was so ‘n slagting dat hulle hom dalk nie eers gemis het nie. En hy klim op
die berg Gerisim, dis ‘n bult naby Sigem, jy kan van bo af inkyk in die stad.
En daar staan hy en hy vertel vir hulle van die bome wat ‘n koning wou hê. Kan
u nou sien? Hulle maak Abimeleg koning, hy het dit ook verklaar, self. Hy wys
hulle op die verskriklike sonde wat besig is om toe te neem in Sigem. Hulle het
Sigem opgegrawe, sy ruïnes staan daar, vandag nog. En wat van Sigem oorgebly
het, is sekerlik ‘n vervulling van wat in Psalm 9 staan. Al wat van hulle
grootheid oor is, was kliphope waar geen pad of spoor is. En dit is regtig so.
Nou,
die gelykenis van die bome, was ‘n gelykenis gewees wat die spot dryf. En die
oordeel aansê oor Sigem. Bome… met ‘n koning. En die koning moet dan volgens
die vyeboom en die olyf en die druiwestok oor hulle swewe, oor die bome. Sodat
hulle kan groei, ‘n bewaarkoning, ‘n koning wat moet uitkoms gee, ‘n koning wat
jou bedek. En toe sê die steekdoring, volgens Jotam se verhaal, as julle my
koning maak, sal ek nie oor julle swewe nie, ek is ‘n groot boom, kom in my
koelte.
So oordeel die Here die mense van Sigem
deur vir hulle te sê: Julle het nou vir Abimeleg koning gemaak. Ek wil ook nie
koning wees nie, sê Jotam in soveel woorde vir hulle. Maar dan die vreeslike
oordeel: As julle in waarheid en opregtheid gehandel het met Abimeleg, mag dit
goed gaan. Sewentig broers doodgeslaan, sy broers verag. Sy familie aan sy ma
se kant hoog geag, baie bly, hulle broertjie is koning, mensebande. As julle in
waarheid gehandel het, dan sal dit met julle goed gaan. En wees dan vrolik, dit
beteken in die taal van die Ou Testament, gaan word ‘n bietjie dronk. En so het
Jotam met die mense van Sigem eintlik die gek geskeer.
Julle
is niks beter nie as bome, want julle erken nie dat God oor julle regeer nie. Julle familielid, julle broer is julle
koning.
Broeders en susters, die dag dat jou broer
jou koning is, is hy nie meer jou broer nie. En is dit nie juis ‘n kenmerk van
die ongeloof nie? Dat regeerders aangestel word wat dan ophou om aan menslike
beperkinge gehoorsaam hoef te wees? Wat norme op hulle eie is? Eeue-oue kwaal
van die ongelowige mensdom. Nou, Jotam kondig die wese van Abimeleg se
koningskap aan en ook die einde. As julle nou in waarheid gehandel het, moet
julle in julle eie gewete, so sê hy vir Sigem, moet julle nou gaan besluit: Het
ons reg gedoen?
Ek dink dit is die swaarste vraag, die
vraag wat die moeilikste is om te antwoord liewer. Wat jy aan ‘n mens kan stel:
Het jy reg gedoen? Het jy ook lank gevat voor jy besluit het? Soos ‘n oorlog
gaan, want ‘n besluit kom uit stryd voort. Maar Abimeleg se koningskap, ek moet
sê sy skyn-koningskap, het vinnig na vore gekom. Dit was nie die vrug van ‘n
stryd nie.
Hier, in die verbygaan, is ‘n baie, baie
groot troos vir mense wat in stryd en nood leef. Uiteindelik word uit die stryd
en die kommer en die nood, ‘n goeie besluit gebore. Dit is ‘n troos, dat as ‘n
mens dan besluit het, en voor jou besluit, is daar ‘n worsteling met God en met
mense, dan weet jy dit was in waarheid en in reg. Die Bybel werk so, hy gee aan ons ‘n maatstaf waarmee
ons kan vasstel of ons reg of verkeerd gedoen het. Dis nie so dat ‘n mens maar
dinge doen en wonder of dit goed was nie. Elke man doen nie wat reg is in sy
eie oë nie.
Drie jaar nadat Abimeleg nou koning geword
het, kom daar ‘n opstand teen hom en hy verloor die geveg. Hy vlug en ‘n vrou
gooi hom met ‘n meulklip, ‘n meulsteen van bo af. Hy gaan by ‘n verdieping
verby, hy het nie baie mooi gedink waar hy loop nie. En sy gooi hom teen die
kop en daar lê hy. En nou sê die Bybel hier hoe gaan dit met mense wat nie deur
God regeer wil word nie. Luister na my, sê Jotam, sodat God na julle kan
luister, sodat julle kan bid. Dis wat hy vir hulle gesê het. Maar hulle veg en
gaan voort op die manier waarop Abimeleg koning geword het. En daar skreeu
Abimeleg, waar hy gekwes lê, vir sy dienaar, maak my gou dood. Ek gaan nie lewe
nie, hulle moenie van my kan sê ‘n vrou het my doodgegooi nie. En hy doen dit. Het
‘n vrou hom nou nie doodgegooi nie? Omdat hy deur sy dienaar met ‘n spies of ‘n
swaard gesteek is? Dit bly steeds so.
Maar, broeders en susters, as God ‘n vrou
gebruik om ‘n einde te maak aan onreg, dan moet mens die Here dank. Dat hy nie
altyd die kragreuse, soos koning Dawid, gebruik het wat mans genoeg was vir
Goliat. En groot genoeg om Saul se harnas te kon dra. As hy ‘n klein mannetjie
was, sou hy mos nie in die harnas kon gepas het nie. God gebruik ook die wat
nie deurgaan vir vegtershelde nie, om sy werk te doen. En dis iets om oor na te
dink as mens dink oor die roeping waarmee God mense roep om Sy werk te doen.
En
daar is die oordeel voltrek oor Abimeleg en Sigem. En die ergste van God se
oordeel was, nou is hulle weer net soos hulle was in die rigterstyd.
Herderloos, regeringsloos, want God is vir hulle net ‘n naam. Nou moet ‘n mens
daaroor dink, as jy vir jouself hier ‘n toepassing van maak: Is God vir ons
werklik die wetgewer, of is Hy ‘n naam? En as Hy wetgewer is, soos Hy inderdaad
is, dan beheer Hy jou hele lewe. Dan het jy nie hierdie skouerklede nie en as
jy in Rigters lees, in hoofstuk 34, dan kom van die vreeslikste goed wat die
spul gedoen het, op skrif.
En
dan word dit vir ‘n mens tyd, wanneer dit in die wêreld so is, dat gode name
is, om na die reël van God in jou lewe te kyk. En nougeset daarop te let. God
is nie vir ons ‘n uitkomsgewer nie. Natuurlik gee Hy uitkoms, Hy gee volkome
uitkoms, so sê Psalm 68. En u weet dit is ‘n Psalm wat die Hugenote in Frankryk
gesing het tydens die vervolging van die Kerk daar. Het hulle gesê: Die Heer
sal opstaan tot die stryd. En hoe sleg dit met sy haters sal gaan en hoe vrolik
God se volk sal wees. En in daardie tyd het die spreekwoord gekom: Die koeël is
deur die kerk. Waar die mense onveilig was terwyl hulle God se almag bely en
lofsing daaroor.
Hier sê die Bybel dan in die rigtertyd vir
ons, hoe ons nié moet maak nie. En as Rigters dan die enigste boek in die Bybel
was, kon ons nie salig word daaruit nie. Dis juis die teenstelling van daardie
tyd met die vrederyk van onse Here, met die goedheid waarmee onse Here ons
oordek. Die rus wat Hy ons gee na stryd, die moed waarmee Hy ons vervul, die
uiteindelike heil wat daar vir gelowiges is.
En
so het dit dan gekom met Jotam, en mens moet aanvaar dat die Heilige Gees hom
gedryf het om hierdie ding te sê, want dit staan dan in die Bybel geskrywe.
Luister na my, sodat God na julle kan luister. Luister na my, hoe verkeerd julle gedoen het, en begin dan bid.
So
loop die erkenning van God as regeerder uit op die gebedslewe van die
gelowiges, waarin ons hulp vra, God loof, Hom dank en in Sy heilige wil berus.
Mag die Here gee, broeders en susters, dat
ons sal verstaan: slegs in die Godsregering is heil. Christus is die Koning van
die konings en ons moet Hom dank.
Amen