In die leerskool van ons hoogste Profeet en Leraar
Die waarde van die Ou Testament volgens HF Kohlbrugge
Dr.AH Bogaards
In 'n populêre kommentaar (Bybel in Praktyk) word gestel: Ons moet nie in die Messiaanse Psalms (soos Ps. 2 en 110) dadelik ’n voorspelling van Christus sien nie, maar weet dat dit ’n latere interpretasie is van die eerste Christene.
Daar is niks nuuts onder die son nie. Reeds in die 19de eeu was daar geleerdes wat dieselfde beskouing as Bybel in Praktyk gehad het. Hulle het geleer: Die skrywers van die Ou Testament het volstrek nie aan Christus gedink nie. Inteendeel, die skrywers van die Nuwe Testament het vele plekke in die Ou Testament so verdraai en gemaak pas (geïnterpreteer), dat dit op Christus pas, terwyl dit tog op Dawid en ander sien.
Ons sal moet besef hoe verrykend beskouings soos hierdie is. Daarmee word die Ou Testament na sy gesag en inhoud (Christus) aangetas.
Teen hierdie opvattings het Hermann Friedrich Kohlbrugge reeds in 1855 'n boek met die titel Waartoe die Ou Testament? geskryf. Sy oogmerk daarmee was om te laat sien dat die Nuwe Testament ons die Ou Testament leer waardeer en verstaan as die gesagvolle Woord van God met Christus as inhoud.
Die hele teologie van Kohlbrugge kan saamgevat word in een frase: die mens 'n nul, Christus alles.
Daarmee bedoel hy in die eerste plek: Ons saligheid is uitsluitlik die werk van Christus.
Maar hierdie frase, die mens 'n nul, Christus alles, is vir Kohlbrugge eweneens van toepassing wanneer ons die Ou Testament moet uitlê. Van nature is die mens nie bekwaam tot Skrifverklaring nie. Ons is 'n ronde nul, wanneer dit by Skrifuitleg kom. Christus alleen leer ons die Ou Testament reg verstaan en waardeer. Daarom moet die hulpelose mens na die Nuwe Testament toe gaan, want daar ontmoet ons ons hoogste Profeet en Leraar.
In sy proefskrif skryf Kohlbrugge: 'n Mens moet in die skool van die beste Leermeester, Jesus Christus, en sy apostels, dit wil sê in die Nuwe Testament, les ontvang in Skrifuitleg. Hulle het die sleutel tot die verstaan van die Ou Testament gegee. Met daardie sleutel kan ons die heilige deur tot die geheimenisse van die Skrifte van die Ou Verbond open. In die klaskamer van die Nuwe Testament leer ons die Ou Testament ken as die gesagvolle Woord van God, wat Christus aan ons verkondig.
Dit is duidelik: Kohlbrugge laat hom in sy verstaan en waardering van die Ou Testament nie lei deur buite-Bybelse bronne en deur 'n sosio-historiese Skrifverklaringsmetode nie, maar aan die hand van Jesus, dit wil sê aan die hand van die Nuwe Testament, gaan hy na die Ou Testament toe. Daarin is Kohlbugge deur en deur Bybels. Hy hou hom streng aan die gereformeerde beginsel: Die Skrif is sy eie uitlegger (Sacra Scriptura sui ipsius interpres = die Heilige Skrif is sy eie verklaarder).
Wie die Nuwe Testament nie wil gebruik in die verklaring van die Ou Tetament nie (en omgekeerd: die Oue in die verklaring van die Nuwe), verlaat die leerskool van Jesus.
Kohlbrugge bewys in sy Waartoe die Ou Testament? dat onder andere die ongelowige Jode (soos die Fariseërs), gelowige Joodse tydgenote van Jesus (soos Simeon), Jesus self en die Bybelskrywers die Ou Testament gesien het as
Ek lig een aangrypende voorbeeld uit uit die talle wat Kohlbrugge opnoem: Simeon.
In Lukas 2:25 staan van hom geskrywe: Simeon het die "vertroosting van Israel verwag" (vgl. Jes. 40:1; 49:13; 51:12; 54:11; Hag. 2:8). Met hierdie uitdrukking gee die evangelis duidelik te kenne dat Simeon die boeke van Moses en die profete as die betroubare, gesagvolle Woord van God beskou het, want hy het die vervulling van die belofte daarin as baie naby beskou.
Simeon was so vol van hierdie geloof, verklaar Kohlbrugge, dat hy nie kon ophou bid dat hy die vervulling van hierdie belofte aangaande die Vertroosting mag belewe nie. En, sê Kohlbrugge, iemand wat so bid, bewys daarmee dat hy die woorde van Moses en die Profete as die waaragtige woorde van God beskou.
Dan laat Kohlbrugge sien wat vir Simeon die inhoud van die Ou Testament was: Simeon het begeer om die Gesalfde van die Here met sy eie oë te aanskou. Dit bewys dat hy die Ou Testament, onder andere Jesaja 33:17 ("Jou oë sal die Koning in sy skoonheid aanskou"), Messiaans, van Jesus, verstaan het. In Lukas 2:30 jubel Simeon dit uit dat sy oë nou inderdaad die heil van God gesien het en uit hierdie woorde van vers 30 is dit vir Kohlbrugge duidelik dat Simeon ook Jesaja 52:10 ("Die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van al die nasies, en al die eindes van die aarde sal sien die heil van onse God".) geken en Messiaans verklaar het:
In Lukas 2:28 staan dat Simeon die Kind Jesus in sy arms geneem het en God geloof het. Dit is diep aangrypend wat Kohlbrugge van hierdie daad van Simeon skryf. Daarmee sê Simeon: Die boeke van Moses het vir hom in vlees en bloed oorgegaan. Simeon staan met die vervulde Ou Testament, met die inhoud van die Ou Testament, in sy arms. Voor sy oë sien hy in vlees en bloed dat God se Woord waaragtig en betroubaar is. En hy erken dit deur God te prys en in al die tekste wat hy aanhaal – Ou Testamentiese tekste wat hy vervuld sien in die vleesgeworde Woord in sy arms.
Simeon sien met sy oë die gesag van die Ou Testament en hy aanskou met sy oë die inhoud van die Ou Testament.
Hoe kan dit wees dat teoloë in ons tyd die Messias nie meer sien in die Ou Testament nie? Hoe sien die ou Simeon Christus wel in die Skrifte, ook, ja ook – let wel - toe Christus nog nie eens daar was nie en nog nie in sy hande was nie? Waar kom hy aan sy Messiasverwagting, sy verwagting van die Vertroosting van Israel? Dit sê Kohlbrugge in 'n preek oor Lukas 2:25: Dit was uit die Heilige Gees. Die Heilige Gees was op Simeon. Dit was God die Vader wat Simeon vanuit sy genadetroon deur die Heilige Gees aangespoor het en in sy sondeverlorenheid na die profetiese Geskrifte van die Ou Testament gedryf het. En daar – in die Ou Testament – het Simeon gelees van die heerlikheid van Christus en van die magtige vertroosting van sy leer. Deur daardie profetiese Skrifte het die Vader Simeon aangespoor om die dag van die koms van sy Seun in die vlees te begeer.
As iemand wil weet hoe die lesers in daardie tyd die Messiaanse gedeeltes verstaan het, hier kan hulle dit lees - in die geïnspireerde Nuwe Testament.
Ek gaan 'n bietjie weg van Kohlbrugge, maar ek glo wel dat die volgende in die gees van Kohlbrugge is. Waarom het die Jode nie geglo dat Jesus die Messias van die Skrifte is nie? Stefanus lê sy vinger op die wond, wanneer hy in sy preek in Handelinge 7 sê: Julle hardnekkiges, julle weerstaan altyd die Heilige Gees (v.51). En dan gaan Lukas verder: Stefanus "het die oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat staan aan die regterhand van God. En Stefanus het gesê: Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan" (vv.55-56). Ons kan maar sê: Stefanus kyk in die hemel in en – hy sien die Ou Testamentiese Psalm 110. Met sy oë aanskou hy die vervulling van daardie Messiaanse Psalm: Jesus aan die regterhand van God. Hoe sien hy dit? Lukas onthul die geheim, wanneer hy sê: Stefanus was vol van die Heilige Gees en het gesien.
Simeon sien en Stefanus sien. Beide van hulle sien op dieselfde manier: alleen deur die Heilige Gees. Beide sien dieselfde: Hulle sien die Ou Testament in sy betroubaarheid en in sy vervulling, na sy inhoud: Christus. Simeon hou die beloofde Christus in sy hande (Luk.2:28) en Stefanus gee homself oor in die hande van die Vors van die Ou Testamentiese Psalm 110 (Hand.7:59).
Hier is geen sprake van interpretasie of aanpassing nie, maar – sien. My oë het u heil gesien (Luk.2:30). Salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het (Joh.20:29).
Simeon het nie geïnterpreteer nie, maar geglo en gesien - deur die Heilige Gees.
Hier is geen sprake van interpretasie nie, maar inspirasie.
Ons is onbekwaam tot enige goed – ook tot uitleg (sien) van die Ou Testament -,tensy ons deur die Heilige Gees weergebore word (HK 3:8).