KREMASIE IN DIE LIG VAN DIE
BYBEL
Ds. A. Lindhout
1. INLEIDING EN
HISTORIESE AGTERGROND
Die ou tyd
Dit kan nie ontken word nie dat lykverbranding tot die oudste
gebruike in die menslike geskiedenis behoort. Primitiewe
volke en stamme het die gebruik reeds geken en ...
beoefen.
Lykverbranding was egter nie die oorspronklike metode wat by
die ou volke in Asië, Afrika, Europa en Amerika die toon
aangegee het nie. Die Hetiete en die Egiptenare het
byvoorbeeld die gewoonte gehad om hulle dooies te
begrawe.
Mettertyd het egter by baie volke die gewoonte ontstaan om
hulle dooies te verbrand.
Die agtergrond van die gebruik in die ou tyd was vermoedelik
die wens om só radikaal van die dooies ontslae te raak
dat hulle vir die naasbestaandes geen gevaar meer kon oplewer
nie. Hier het die angsmotief by hulle wat nog in lewe was,
dus 'n duidelike rol gespeel.
In Griekeland bestaan die metode van lykverbranding reeds
sedert die Trojaanse oorlog. Op 'n later stadium het daar
onder invloed van sekere wysgerige strominge en skole die
gedagte bestaan dat totale vernietiging van die liggaam 'n
meer volkome bevryding van die siel veroorsaak. Die Romeine
ken lykverbranding sedert die dae van die konings. Tot die
dae van Karel die Grote was hierdie gebruik ook in Europa in
swang terwyl 'n groot aantal volke lykverbranding tot kort
voor die Hervorming van die 16de eeu gehandhaaf het. Onder
die Brahmane en Boeddhiste in Indië was en is dit 'n
baie ou gebruik wat met sekere godsdienstige gebruike gepaard
gaan.
Die Christendom daarenteen wou van die begin af van
lykverbranding nie weet nie. Dientengevolge is steeds
begrafnis bepleit. Die diepe vernedering wat die begrafnis
van 'n oorlede inhou, is wel deur die Christendom raakgesien,
maar die treffende simboliek van die koringkorrel wat gesaai
word en wat moet sterf om iets nuuts te kan voortbring, het
tog swaarder geweeg.
Die moderne tyd
Van die begin van die 17de eeu sien ons 'n kragtige herlewing
van die ou, heidense kremasie-gebruike.
- In 1628 het daar in Engeland van die hand van Sir
Thomas Brown 'n boek oor lykverbranding verskyn onder die
titel Hydriotaphia or Urnburial. Hierdie boek is in 1817
gevolg deur 'n boek van die hand van 'n sekere Dr.
Jamieson, getitel The Origin of Cremation. Hierna het die
gebruik van lykverbranding 'n sterk voorstander gekry in
die persoon van Dr. Lord van Hampstead waarna Sir H.
Thompson in 1874 die "Cremation Society of London" gestig
het.
- Gedurende die jare 1864-1874 het lykverbranding in
Italië begin veld wen, terwyl as gevolg van die
Frans-Duitse Oorlog (1870) hierdie kwessie ook in
Switserland sterk aandag gekry het.
- Ook in Nederland het hierdie nuwe idees vinnig veld
gewen en reeds in 1875 is 'n vereniging opgerig met as doel
die bevordering en uitvoering van lykverbranding. In 1907
is die eerste krematorium in Nederland gebou maar dit het
nog tot 1914 geduur voordat dit die eerste keer gebruik is.
In 1954 het die aantal lykverbrandinge in Nederland egter
reeds gestyg tot 2221. In 1971 was daar in Nederland reeds
9 krematoriums terwyl die getal persone wat gedurende
dié jaar veras is, 17942 bedra het. Om aan die
steeds toenemende vraag na lykverbranding te kan voldoen,
moet daar voor 1990 nog 31 krematoriums bygebou word. Teen
dié tyd sal 50 persent van alle oorledenes verbrand
word.
- In Rusland is die eerste krematorium reeds in 1928
opgerig. Die hoë regeringsamptenaar wat ter
geleentheid van die opening die rede gelewer het, het
daarin onder andere gesê dat die krematorium opgerig
is as 'n nuwe protes teen die Christelike godsdiens. Verder
het hy in sy toespraak die Russiese volk aangemoedig om
hulle dooies te laat verbrand as 'n duidelike bewys dat
hulle gebreek het met die Christelike geloof aan die
opstanding van die dode.
- Wat Suid-Afrika betref, kan vermeld word dat die eerste
krematorium in 1918 in Johannesburg opgerig is. Hierdie
gebou is oorspronklik gebou op inisiatief van die Hindoes
hoewel blankes ook toestemming verkry het om dit te
gebruik. Gedurende die jare na 1918 is krematoriums opgerig
in verskillende belangrike sentrums van ons land sodat
hulle tans ook aangetref word op die Kaapse Skiereiland, in
Pretoria, Brakpan, Pietermaritzburg, Bloemfontein, Durban,
ens.
Soos ons hierbo reeds gesien het, wou die Christendom
van die begin af nie van lykverbranding weet nie. Die
belangrikste rede waarom Christene oor die hele wêreld
hulle nog steeds heftig teen lykverbranding verset, is veral
omdat laasgenoemde gebruik hom keer teen 'n waardevolle,
Skrifgebonde, Christelike begrafnistradisie.
2. ENKELE VAN DIE
BELANGRIKSTE ARGUMENTE WAT MEESTAL DEUR VOORSTANDERS VAN
LYKVERBRANDING GEBRUIK WORD
Die argumente wat hieronder volg, is hoofsaaklik ontleen aan
die boekie van Donald K. Smith Why not Cremation? Uit die
boekie blyk duidelik dat die skrywer - wat 'n Amerikaner is -
'n sterk humanistiese agtergrond het. Bowendien moet die
boekie gelees word teen die agtergrond van die klipharde
Amerikaanse Pragmatisme. As ons dit in gedagte hou, sal ons
die gedagtegang van die skrywer beter verstaan. Sommige van
die argumente klink in ons ore belaglik, maar vir Smith is
hulle tog van die grootste belang.
Sy argumente is veral die volgende:
- Elke graf neem die plek in van grond wat vir
landboudoeleindes gebruik kan word. In verband met die
toenemende wêreldbevolking en die voedseltekorte wat
daarmee saamgaan, is dit onverantwoordelik om só
baie grond vir begraafplase te reserveer.
- Graftes word nie vir 'n onbepaalde tyd in hulle
oorspronklike toestand gelaat nie. Na vyftien of twintig
jaar word hulle opgeruim. Die menslike reste wat dan nog
aanwesig is, word bymekaargemaak en in 'n gemeenskaplike
gat gegooi of verbrand. Aangesien verbranding in die meeste
gevalle tog die uiteindelike resultaat is, is dit baie
beter om liewer 'n kort pad na die verbranding deur middel
van lykverbranding, te neem.
- Lykverbranding is baie goedkoper as 'n begrafnis. Dit
is ook goedkoper as geboorte. Waarom moet dit duurder wees
om die lewe te verlaat as om dit binne te kom? Ons sou gril
as iemand 'n televisie-apparaat van R1000.00 in 'n gat sou
laat sak en met grond sou toegooi. Maar as 'n oorledene in
'n gat laat sak en met grond toegegooi word, is ons bereid
om die bedrag dubbel te betaal. Bowendien weet die
oorledene tog nie wat daar vir sy begrafnis betaal word
nie. Hy gee ook nie om nie. Hoekom dan so baie bestee?
- Lykverbranding gaan vinnig. Jy spaar tyd. Om die
liggaam van 'n dooie tot ongeveer ses pond as te verminder,
neem slegs enkele ure. Na 'n begrafnis neem hierdie proses
jare of - afhanklik van die plek waar begrawe word - eeue.
- Lykverbranding is die mees direkte en snelle
verwesenliking van Gen. 3: 19b. (Want stof is jy, en tot
stof sal jy terugkeer).
- As jou as verstrooi word, keer jy onmiddellik terug tot
die aarde waaruit jy geneem is. Op die wyse dra jy dan ook
nog by tot die vrugbaarheid en die groei van die
plantewêreld, omdat jou liggaam saamgestel is uit
dieselfde elemente wat ook in die aarde aangetref word.
- Lykverbranding is skoner as 'n begrafnis. Uit
higiëniese oogpunt verdien dit dus aanbeveling.
- Die gevaar bestaan dat jy lewendig begrawe word.
3. 'N KORT BEOORDELING
VAN DIE VOORGAANDE ARGUMENTE
Wat sal ons nou van hierdie dinge sê? Met die eerste
oogopslag lyk dit tog asof daar baie waarheid in die
beweringe van Smith steek. Sommige van sy argumente spreek
ons selfs aan. Laat ons hulle dus van nader beskou.
* By Nr. 1
Hierdie argument handel oor 'n baie praktiese probleem. Dit
is inderdaad so dat die toenemende wêreldbevolking die
gevaar van verhongering van sekere bevolkingsgroepe insluit.
Maar is dit nou 'n argument ten gunste van lykverbranding? Ek
glo nie.
Die grond wat beskikbaar kom as alle begraafplase opgeruim
word en vervang word deur sogenaamde "tuine van herinnering"
wat minder plek inneem, kan wel vir landboudoeleindes gebruik
word, maar dit los die probleem van die wêreldwye
voedselvoorsiening nie op nie. Want die voedseltekorte wat
dreig, is nie die gevolg van te min beskikbare grond nie,
maar van verkeerde benutting van die grond wat wel beskikbaar
is. Indien die mens sou leer om sy kultuuropdrag van Gen. 1:
28 reg uit te voer, sou die probleme op 'n einde wees. Smith
se argument is nie baie sterk nie, terwyl tewens die gevaar
van gebrek aan grond vir die aanlê van kerkhowe in ons
uitgestrekte land denkbeeldig is.
* By Nr. 2
Hierdie stelling van Smith is waar. Grafte word na 'n
bepaalde tyd opgeruim om plek te maak vir ander graf te.
Menslike reste wat dan nog in die ou graf te aanwesig is,
word in die meeste gevalle verbrand. Maar dit beteken nog nie
'n regverdiging van lykverbranding nie. Want die liggaam is
'n saad. Dit sterf in die grond sodat iets nuuts daaruit kan
voortkom. En wat sien ons nou hier? Presies dieselfde wat ons
sien as ons mielies plant. Die mieliepit sterf in die grond.
Dan kom daar 'n nuwe mielie uit voort. Maar die ou pit word
nie heeltemal vernietig nie. Baie klein gedeeltes van die
membraan byvoorbeeld bly in die aarde agter. Maar tog het die
mieliepit dan aan sy doel voldoen. So is dit ook met die
menslike liggaam. Dit verteer en vergaan, maar klein dele,
soos stukke van die bene bly oor omdat hulle óf baie
stadig óf glad nie verteer nie. Maar dit beteken nie
dat die liggaam dan nie aan sy doel naamlik om 'n saad te
wees, voldoen het nie. Die kwessie van die liggaam wat 'n
saad is, sal verder op in hierdie studiestuk weer ter sprake
kom. Die bostaande word tans slegs gesê om aan te toon
dat Smith se argument op hierdie punt beslis geen vrybrief
vir lykverbranding beteken nie.
* By Nr. 3
Hierdie argument is ook waar. Maar Smith se bewysvoering kan
nie staan nie. 'n Televisieapparaat kan nie vergelyk word met
die liggaam van 'n dierbare oorledene nie. In hierdie
argument is dit nie die mens met sy gevoelens wat spreek nie,
maar die dooie Mammon.
Smith kom hier dus met 'n valse probleemstelling na vore. Ons
is bereid om vir 'n begrafnis te betaal - dikwels baie te
betaal - uit piëteit vir die oorledene. Want dit is nie
sommer 'n dooie liggaam wat in 'n gat laat sak en met grond
toegegooi word nie, maar 'n skepsel van God wat na sy laaste
aardse rusplek gebring word. En hierdie skepsel het 'n
ewigheidsbestemming, wat die bestemming ookal mag wees. Dit
gaan ook nie daarom dat die oorledene weet wat daar vir sy
begrafnis betaal word of dat hy wel of nie omgee nie. Dit het
niks met die saak te doen nie.
* By Nr. 4
Dit is myns insiens 'n belaglike argument. Vir 'n oorledene
is die aardse tyd nie meer belangrik nie. Dit maak aan hom
geen saak of die proses van die ontbinding van sy liggaam
drie jaar of drie eeue duur nie. Die naasbestaandes spaar ook
nie tyd nie. Die plegtighede wat met 'n lykverbranding
gepaard gaan, is ongeveer ewe lank as die wat met 'n
begrafnis plaasvind.
* By Nr. 5
Hierdie argument is myns insiens 'n argumentum e silentio.
Dit is waar dat 'n deel van die oordeel van God na die
sondeval is dat die mens na sy dood sal terugkeer tot die
aarde waaruit hy geneem is. Maar in Gen. 3: 19b gaan dit om
die "dat" van die terugkeer, nie om die "hoe" nie. Dat God
nie gesê het dat die terugkeer na die aarde deur middel
van 'n begrafnis moet plaasvind nie, beteken nie dat ons
daaruit mag aflei dat dit wel deur middel van lykverbranding
mag geskied nie.
* By Nr. 6
Hierdie argument lyk baie waar te wees. Ek is nie voldoende
op die hoogte van die chemiese en skeikundige samestelling
van die menslike liggaam om te kan sê of die stelling
van Smith waar of vals is nie. Maar een ding weet ek wel,
naamlik dat die mens nie op die aarde geplaas is om dit met
sy eie liggaam te bevrug nie. Die kultuuropdrag van Gen. 1
:28 sê dat die mens die aarde moet onderwerp en dat hy
daaroor moet heers. Daar word nie gesê dat die mens
homself aan die aarde moet onderwerp, sodat dit tot groter
bloei kan kom nie. Ons slotsom is dus dat ook die sesde
argument van Smith geen argument ten gunste van
lykverbranding kan wees nie.
* By Nr. 7
Hierdie argument is beslis nie waar nie. Bronne in die
onmiddellike nabyheid van begraafplase is ondersoek en geen
skadelike bestanddele is gevind nie. 'n Ondersoek van
bronwater wat op die Andreas-begraafplaas te Hannover,
Wes-Duitsland aangetref is, is ook ondersoek en daarby is die
belangrike ontdekking gedoen dat dié water suiwerder
is as die water wat aangetref is in bronne wat buite die
begraafplaas geleë is. 'n Begraafplaas wat goed
aangelê is, beteken dus beslis geen gevaar vir die
volksgesondheid nie.
* By Nr. 8
Hierdie argument word meestal na vore gebring in verband met
die sogenaamde "skyndood" waarin 'n mens kan raak. Die
voorstanders van lykverbranding sê dan dat as jy
begrawe word terwyl jy "skyndood" is, dit 'n vreeslike
ervaring moet wees om ses voet onder die grond in 'n doodkis
wakker te word in die besef dat daar geen enkele moontlikheid
is om aan die verskrikking 'n einde te maak nie. Nog afgesien
van die feit of daar so iets soos "skyndood" bestaan (wat
deur medici sterk betwyfel word), ontstaan die vraag of dit
nie net so verskriklik is om tydens 'n kremasie in 'n oond
met 'n temperatuur van 1000oC. uit 'n skyndood wakker te word
nie.
Samevattend kan daar teen die agt argumente ten gunste van
lykverbranding ook nog 'n juridiese argument teen
lykverbranding ingebring word. As daar by iemand se dood die
vermoede rys dat hy vermoor is, kan dit na die begrafnis dalk
nog vasgestel word. Dit geld byvoorbeeld veral in gevalle van
vergiftiging. In 'n geval van lykverbranding is dit egter
buite die kwessie dat 'n gewelddadige dood agterna vasgestel
kan word.
Ons het nou die verskillende argumente van Smith nader
ondersoek. Ek glo wel dat ons tot die slotsom gekom het dat
sy argumente ten gunste van lykverbranding nie baie swaar
weeg nie.
Maar ... dit is nie genoeg nie. Want al wat ons hieruit kan
aflei, is dat ons lykverbranding op grond van menslike
argumente met vrymoedigheid mag afwys. Maar vir 'n gelowige
mag menslike argumente nooit die swaarste weeg nie. Die
sterkste argument bly vir die gelowige nog altyd die Skrif.
Laat ons dus sien of ons in die Skrif iets kan vind op grond
waarvan ons lykverbranding met vrymoedigheid kan afwys.
4. 'N KORT OORSIG VAN DIE OU
TESTAMENTIESE GEGEWENS
In Israel was lykverbranding bekend, maar die dooies is
begrawe. Dit kom in talryke Skrifplekke duidelik na vore.
Abraham, Isak en Jakob, die vroue van die aartsvaders, Josef
ens. word almal begrawe.
Die begrafnis van geliefdes vind in die Ou Testament plaas as
'n bewys van besondere piëteit. Ons dink hier
byvoorbeeld aan die besondere sorg wat Abraham aan die
begrafnis van sy vrou Sara bestee het. Hy was selfs bereid om
vir die spelonk waarin sy begrawe is 'n buitensporige
hoë prys te betaal.
Aan familiegrafte is in Israel veel waarde geheg. Bekend is
hier die geval van Abraham wat in sy eie spelonk by Sara
begrawe wou word. Maar ons dink hier ook aan Jakob en sy
woorde in Gen. 49:29-31, waarin hy die wens te kenne gee dat
hy op dieselfde plek as sy stamvaders en stammoeders begrawe
wil word. In dieselfde lyn lê die geval van Josef wat
ten spyte van sy hoë posisie aan die Egiptiese hof tog
in die land van sy vaders begrawe wou word.
Hoewel die begrafnis in die Ou Testament dus 'n baie
vooraanstaande plek inneem, word daar tog ook van verbranding
gepraat. Ons noem 'n paar voorbeelde.
- Lev. 20: 14 "En as 'n man 'n vrou en haar moeder neem,
is dit 'n skandelike daad; hulle moet hom en dié
twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder
julle wees nie".
- Lev. 21:9 "En as die dogter van 'n priester haar
ontheilig om te hoereer, ontheilig sy haar vader; met vuur
moet sy verbrand word".
- Jos. 7:25 "En Josua het gesê: Hoe het jy ons in
die ongeluk gestort! Die HERE sal jou vandag in die ongeluk
stort! Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle
het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi".
Hierdie drie tekste spreek vir hulleself. In aldrie
gevalle is verbranding 'n ernstige verswaring van die
doodstraf. Die meeste uitleggers stem wel ooreen dat hierdie
mense nie deur vuur om die lewe gebring is nie. Hulle is
(waarskynlik) gestenig. Daarna is hulle lyke verbrand.
- 1 Sam. 31: 12 ".... en hulle het die lyk van Saul en
die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en
by Jabes gekom en hulle daar verbrand".
Vir hierdie handelwyse het waarskynlik 'n goeie rede
bestaan, naamlik om te voorkom dat die lyke nog verder deur
die Filistyne vermink sou word.
- Amos 6: 10 "En wanneer iemand se bloedverwant, die een
wat hom wil verbrand, hom optel om die bene uit die huis te
verwyder..."
Hier is sprake van lykverbranding wat ook met 'n
besondere doel plaasvind. Ons het in hierdie hoofstuk te doen
met oordeelsprediking oor die Tienstammeryk. Daar word
gespreek oor 'n stad wat beleër word. Die stad is
waarskynlik Samaria. Die aantal lyke sal oorstelpend groot
wees. Dit is goed moontlik dat in die omstandighede die
begraafplaas - wat in die nabye Ooste altyd buite die stad
geleë was - nie bereik kon word nie. Hieruit mag ons
aflei dat lykverbranding in dié omstandig-hede 'n
noodsaak geword het om die uitbreek van aansteeklike siektes
te voorkom. Sowel in 1 Sam. 31: 12 as Amos 6: 10 het ons dus
met uitsonderlike gevalle te doen.
Daar is in die Skrif ook enkele gevalle waarin nóg van
begrawe nóg van verbranding sprake is. Ons noem weer
'n paar voorbeelde:
- 1 Sam. 17:44 "Verder sê die Filistyn vir Dawid:
Kom nà my toe, dat ek jou vlees aan die voëls
van die hemel en die diere van die veld kan gee".
- 1 Sam. 17:46 "Vandag sal die HERE jou in my hand
oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou
wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne
vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere
van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat
Israel 'n God het".
Hierdie verse wat 'n deel van die stryd tussen Dawid en
Goliat behandel, vertel vir ons dat daar in die geval van die
dood van een van die twee nóg 'n begrafnis nóg
'n lykverbranding sal plaasvind. Die lyk van die verloorder
sal net so in die veld gelaat word as 'n prooi vir
aasvoëls en wilde diere.
- II Kon. 9: 10. "En die honde sal Isébel eet op
die dorpsgebied van Jisreël, en daar sal niemand wees
wat haar begrawe nie."
Hierdie teks spreek vir homself.
- Ps. 79: 1-3 ,,'n Psalm van Asaf. O God, heidene het
gekom in u erfdeel, hulle het u heilige tempel
verontreinig, Jerusalem tot puinhope gemaak. Hulle het die
lyke van u knegte aan die voëls van die hemel tot spys
gegee, die vlees van u gunsgenote aan die wilde diere van
die land. Hulle het húlle bloed rondom Jerusalem
soos water uitgegiet sonder dat iemand hulle begrawe".
Ook hierdie teksverse spreek vir hulleself.
Uit hierdie gegewens - wat maklik vermeerder kan word - is
dit duidelik dat begrawe in die Ou Testament steeds
plaasgevind het as 'n daad van piëteitvolle liefde,
terwyl verbranding en nie-begrawe-nie steeds 'n besondere
strafoefening van God was.
Die allersterkste argument uit die Ou Testament het ons egter
nog nie genoem nie. En dit is die feit wat aan ons in Deut.
34:5 en 6 meegedeel word, naamlik dat die lyk van Moses deur
die HERE Self begrawe is. Dit is myns insiens seker die
duidelikste bewys uit die Ou Testament dat God die begrafnis
verkies bo die lykverbranding. Verbranding was bekend -
sterker nog: in sekere gevalle was dit self 'n gebod van God
- maar in normale gevalle is begrafnis toegepas. God Self
bekragtig dit deur die begrafnis van Moses.
Die vraag kan ontstaan of die uitsprake van die Ou Testament
as normatiewe uitsprake gesien moet word, met ander woorde of
die Ou-Testamentiese begrafnis kan of moet geld as 'n norm
vir ons manier van doen vandag.
Hier wil ons weer wys op die begrafnis van Moses omdat die
Here Self hom begrawe het. In Deut. 34:6 lees ons: "En Hy het
hom (Moses) in die dal in die land Moab, teenoor Bet-Peor,
begrawe; en niemand het tot vandag toe sy graf geken
nie.
Om deur die Here begrawe te word, is reeds 'n unieke
gebeurtenis. Maar verder is dit baie merkwaardig dat Judas
eeue later na "die liggaam van Moses" verwys. In Judas vers 9
lees ons dat die aartsengel Migael met die duiwel in 'n
woordestryd was oor die liggaam van Moses. Migael het egter
geen oordeel van lastering durf uitspreek nie, maar het vir
die duiwel gesê: "Die Here bestraf jou!" Hierdie teks
is seker nie een van die maklikste tekste in die Skrif nie,
maar gerefor-meerde uitleggers stem oor die algemeen wel saam
dat die mededeling van Judas betrekking het op 'n twisgesprek
tussen Migael en die duiwel waarby die twispunt die liggaam
van Moses was.
Baie vrae wat met betrekking tot hierdie moeilike teks gestel
kan word, moet onbeantwoord bly omdat die Skrif vir ons geen
antwoorde verskaf nie. Een ding is egter baie seker, naamlik
dat daar geen twisgesprek sou kon ontstaan het as Moses se
lyk verbrand sou gewees het nie. God het in die geval van
Moses egter geen kremasie toegepas nie, maar Self begrawe Hy
Moses se liggaam.
Op grond van dit alles kan ons slotsom myns insiens slegs
wees dat die begrafnis die wens van die Here is. Die
begrafnis in die Ou Testament is dus veel meer as 'n
aanpassing aan 'n kultuurpatroon wat toevallig in Israel
bestaan het. So 'n aanpassing kon moontlik gewees het. Die
Here het Hom meer as een keer by bestaande omstandighede,
gewoontes en gebruike aangepas. 'n Goeie voorbeeld hiervan is
die taal waarin Hy Homself openbaar. Hy bedien Hom van 'n
taal wat deur ons verstaan kan word. Maar van 'n aanpassing
aan 'n kultuurpatroon waarvan die begrafnis 'n deel was, kan
geen sprake wees nie omdat in die tydperk van Israel se
Ou-Testamentiese bestaan die lykverbranding by die volke van
die wêreld én in Israel self bekend was en in
sommige gevalle ook toegepas is. As God ten gunste van die
begrafnis kies, is dit 'n welbewuste keuse, juis omdat die
begrafnis nie die enigste bestaande manier was om van 'n
dooie liggaam ontslae te raak nie.
Indien dus die vraag gestel word of die uitsprake van die Ou
Testament as normatiewe uitsprake gesien moet word, moet die
antwoord myns insiens 'n duidelike "ja" wees, omdat God Self
deur Sy handelswyse die norm gestel het vir die manier van
doen van Sy volk onder die Ou én onder die Nuwe
Verbond.
5. 'N KORT OORSIG VAN DIE
NUWE-TESTAMENTIESE GEGEWENS
Ook hier wil ons weer begin met 'n paar teksverwysings
waaruit duidelik blyk dat daar in die Nuwe Testament steeds
van begrawe sprake is en nie van lykverbranding nie.
- Matth. 23: 27 "Wee julle, Skrifgeleerdes en
Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte
grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol
doodsbene en allerhande onreinheid is".
- Matth. 26: 12 "Want toe sy hierdie salf op my liggaam
uitgegooi het, het sy dit gedoen met die oog op my
begrafnis".
- Mark. 6:29 "En toe sy dissipels dit hoor, het hulle
gekom en sy lyk weggeneem en dit in 'n graf
neergelê".
- Luk. 16: 23 "En die ryk man het ook gesterwe en is
begrawe".
- Joh. 5: 28 "Moenie julle hieroor verwonder nie, Want
daar kom 'n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem
sal hoor...".
- Joh. 11: 17 "Toe Jesus dan gekom het, het Hy gevind dat
hy (Lasarus) al vier dae in die graf was".
- Hand. 5:6 "Daarna het die jongmanne opgestaan en hom
(Ananias) toegedraai en uitgedra en begrawe".
- Hand. 5: 10 "Toe val sy onmiddellik aan sy voete neer
en het gesterwe. En die jongmanne het ingekom en haar
(Saffira) dood gevind en haar uitgedra en by haar man
begrawe".
- Hand. 8:2 "En godvresende manne het Stéfanus
begrawe en 'n groot rou oor hom bedrywe".
Uit die bostaande voorbeelde - wat gemaklik met ander
vermeerder kan word - blyk dit duidelik dat ook in die Nuwe
Testament die begrafnis gewoonte was. Hiermee is die Nuwe
Testament heeltemal in lyn met die Ou Testament. Die gevalle
van verbranding en van nie-begrawe-nie wat soms in die Ou
Testament nog gekry het, is in die Nuwe Testament
afwesig.
Daar is egter een uitsondering. Hierdie uitsondering gaan oor
'n geval van nie-begrawe-nie. Ons tref dit aan in Matth.
8:18-22. Dit gaan daar oor 'n man wat Jesus wil volg maar wat
toestemming vra om eers sy vader te gaan begrawe. Die
antwoord van Jesus op hierdie versoek is egter: "Volg My, en
laat die dooies hul eie dooies begrawe". Die versoek van die
man is heeltemal billik, want dit was sy heilige plig om sy
vader te begrawe. Tog wys Jesus hierdie versoek af omdat die
laere plig moet wyk vir die hoëre. Om die Woord te
verkondig is 'n beter werk as om die dooies te begrawe. Die
dooies word aan die "dooies" oorgelaat, dit wil sê aan
hulle wat geen enkele belangstelling het vir die Koninkryk
van God nie; hulle dus by wie dit aan elke vorm van egte
geestelike lewe ontbreek.
Ons sien dus dat die Nuwe Testament baie aandag aan begrawe
bestee. Van verbranding is nie een enkele keer sprake nie.
Dit is wel so dat die Nuwe Testament die oond ken. Die woord
word egter gebruik in 'n baie besondere betekenis wat nie in
die gedagtegang van die moderne lykverbran-dingspraktyke
tuishoort nie. Ons gee weer 'n paar voorbeelde:
- Matth. 6:30 "As God dan die gras van die veld, wat
vandag daar is en more in 'n oond gegooi word, so beklee,
hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges!"
Hierdie teks is 'n deel van die onderwys van Jesus aan
sy dissipels.
- Matth. 13:42 "...en sal hulle in die vuuroond gooi".
Dieselfde woorde tref ons ook aan in Matth.13:50. Met
hierdie vuuroond waar "daar geween sal wees en gekners van
die tande" word egter nie die plek bedoel waar die
verteringsproses van die menslike liggaam tot 'n kort tydjie
ingekort word nie. Hier word bedoel die plek waar God sy
gerig oefen oor die ongelowiges.
Soos in die geval van ons kort oorsig uit die Ou Testament
het ons ook by ons ondersoek van die Nuwe Testament ons
sterkste argument teen lykverbranding vir laaste bewaar. En
dit is die feit wat deur al vier Evangeliste baie nadruklik
vermeld word, naamlik dat Jesus Christus begrawe is. Ook deur
hierdie feit word weer duidelik aangetoon dat God die
begrafnis verkies bo die lykverbranding.
Net soos in die geval van die ou-Testamentiese gegewens wil
ons ook hier vir 'n paar oomblikke stilstaan by die vraag na
die normatiewe; die vraag dus of die begrafnisgebruik in die
Nuwe Testament vandag moet dien as norm vir ons manier van
doen in hierdie verband.
Soos ons hierbo reeds gesien het, neem "die graf" 'n baie
belangrike plek in in die onderwys van Jesus. Met betrekking
tot die normatiewe van hierdie onderwys in woord en daad wil
ons nou veral aandag gee aan twee sake, naamlik die
opstanding van Lasarus en die opstanding van Jesus.
Die dood, begrafnis en opstanding van Lasarus tref ons aan in
Joh. 11: 1- 44. In Joh. 11:44 lees ons: "En die oorledene het
uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy
gesig was toege-draai met 'n doek..."
En dat die opstanding van Lasarus groot gevolge gehad het,
lees ons in Joh. 12: 17: "En die skare wat by Hom was toe Hy
Lasarus uit die graf geroep en hom uit die dode opgewek het,
het daarvan getuig".
By hierdie groot wonder is dit besonder opvallend dat die
opstanding van Lasarus soos Johannes dit beskrywe nooit sou
kon plaasgevind het as die lyk van Lasarus verbrand sou
gewees het nie. Want Lasarus het uit die graf uitgekom
presies soos wat hy daar vier dae tevore ingegaan het. Daar
was geen verskil nie. Selfs die grafdoeke was
ongeskonde.
Dit alles geld in 'n veel groter mate ook van die begrafnis
en opstanding van Jesus Christus. Nie-mand sal ontken dat
Jesus se opstanding tog moontlik sou gewees het as hulle sy
liggaam direk na sy dood sou verbrand het nie, want by God is
álle dinge moontlik. Maar in die geval van
verbran-ding sou sy opstanding nie plaasgevind het soos wat
dit op Paasmôre gebeur het nie. Ons sou nie gehad het
nie wat ons nou onder andere op verskillende plekke in die
Evangelie van Johannes wel het, naamlik die doeke en die
hoofdoek van Jesus opgerol op een plek afsonderlik (Joh. 20:6
en 7), die littekens aan Jesus se hande en sy sy (Joh. 20:20)
en die ooreenstemming tussen die begrawe liggaam van Jesus en
sy opstandingsliggaam (Joh. 20:25-29). Uit Joh. 20:20 en
25-29 blyk dus duidelik die ongeskonde identiteit van Jesus
voor en na sy opstanding. Daar kan geen twyfel wees nie. Die
Jesus wat opgestaan het, is presies dieselfde Jesus as wat 'n
paar dae vroeër begrawe is.
In verband met die vraag na die normatiewe van die
Nuwe-Testamentiese gegewens blyk eers dat. die Nuwe Testament
'n stap verder gaan as die Ou Testament. In laasgenoemde is
slegs sprake van begrawe. In eersgenoemde is sprake van
begrawe én opstanding. Maar - en dit moet ons goed
raak-sien - dit is nie lykverbranding en opstanding wat
aanmekaar gekoppel word nie, maar begrafnis en
opstanding.
Vir die behoud van sy Goddelike identiteit voor en na sy
opstanding laat Jesus Hom nie verbrand nie, maar begrawe. Die
behoud van die identiteit wat by die opstanding van Lasarus
reeds so duide-lik geblyk het, word by Jesus tot sy
hoogtepunt gevoer. Want Lasarus moes na kortere of langere
tyd weer sterwe. Maar Jesus nie. Hy het opgestaan uit die
graf en leef tot in alle ewigheid (Vgl. Hebr. 13:8). Teen die
agtergrond van hierdie gegewens is dit myns insiens baie
duidelik dat die Nuwe-Testamentiese norm die begrafnis is en
nie die lykverbranding nie.
Wanneer ons nou vir 'n paar oomblikke kyk na die briewe van
Paulus, dan sien ons dat hy nie uitdruklik teen die
kremasiepraktyke gewaarsku het nie. Tog was hierdie praktyke
in die heidense wêreld waarin hy gewerk het, normaal.
Voorstanders van kremasie het reeds aangevoer dat die feit
dat Paulus nie uitdruklik teen lykverbranding waarsku nie,
sou beteken dat hy dit as 'n middelmatige saak beskou het.
Dit is egter 'n verkeerde siening. Daar is veel meer heidense
gebruike waarteen Paulus nie gewaarsku het nie. Waar hy
wél teen gewaarsku het, is dié heidense
gebruike wat 'n bedreiging vir die jong gemeentes gevorm het,
soos byvoorbeeld die eet van vleis wat aan afgode gewy was.
Dit was vir Paulus egter nie nodig om teen lykverbranding te
waarsku nie, omdat laas-genoemde gebruik nooit ingang by die
jong kerke gevind het nie.
In die verband van dit alles moet ons nou I Kor. 15 nader
bestudeer. Dit is die hoofstuk waarin Paulus uitvoerig oor
die opstanding van Christus en in samehang daarmee oor die
opstanding van die gelowiges handel. Veral verse 35 tot 49 is
hier van belang. Maar die groot krag wat lei tot die waarheid
van hierdie verse gaan daaraan vooraf. Dié krag vind
ons in vers 20:
"Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die
Eersteling geword van die wat ontslaap het".
Met hierdie woorde en met wat daar verder volg, toon Paulus
aan dat Christus die waarborg is van die salige opstanding
van die gelowiges; 'n heilsfeit wat deur die Kerke van
Gereformeerde Belydenis ook beklemtoon word in Sondag 17 van
die Heidelbergse Kategismus.
Nadat Paulus die "dat" van die opstanding vasgestel het,
behandel hy die "hoe" daarvan. Hier gebruik die apostel die
voorbeeld van die koringkorrel. Die korrel sterf in die grond
sodat dit nuwe lewe kan gee aan die plant wat daaruit
ontkiem. Die een kom uit die ander een voort. So is dit ook
met die dooies. Die graf is vir die gelowige nie slegs die
plek waar die vertering van die liggaam plaasvind nie, maar
die plek waar die liggaam gesaai word in oneer, om op God se
tyd - as die basuine van die jongste dag weerklink - in
heerlikheid opgewek te word. Paulus gaan met sy beeld van die
koringkorrel duidelik uit van die begrafnis en nie van die
lykverbranding nie. Soos die koringkorrel in die aarde
gelê word, so word ook die liggaam van 'n oorledene in
die aarde gelê. En soos wat die koringkorrel in die
aarde vergaan, so vergaan ook die liggaam van 'n oorledene.
Maar dan ook: soos wat daar uit die koringkorrel wat vergaan
het 'n nuwe koringaar voortkom omdat die sterwende korrel die
kiem van die lewe in hom dra, so kom daar uit die dooie
liggaam wat vergaan 'n nuwe liggaam voort, omdat die gestorwe
liggaam die kiem van die nuwe lewe in hom dra.
Hoé dit deur God op die jongste dag gedoen gaan word,
weet ons nie. Maar dát Hy dit gaan doen vir elkeen wat
deur die geloof in die lyde en sterwe en opstanding van sy
Seun aan Hom gebind is, is seker.
In die lig van dit alles is 'n begraafplaas dus eintlik 'n
groot saailand, waarin die liggame besig is om te vergaan
maar nie om nooit weer op te staan nie. Uit Paulus se
uiteensetting omtrent die op-standing van die dode is egter
een ding heeltemal duidelik. Sonder die begrafnis bly die
hele hoof-stuk I Kor. 15 onbegryplik. Vanuit die standpunt
van die voorstanders van lykverbranding kan die diepe
simboliek van hierdie hoofstuk nie verstaan word soos dit
verstaan moet word nie.
Vanselfsprekend kan ook hier weer verskillende opmerkings
gemaak word. Dit is baie duidelik dat dit in I Kor. 15 in die
eerste plek gaan om die dode, die ontslapenes en nie in die
eerste plek om die graf of die begrafnis nie. Dit is ook nie
so dat die graf waaruit Jesus opgestaan het die grond is van
ons hoop op 'n salige opstanding nie. Die opgestane Jesus is
die grond van ons hoop. Maar ...Jesus staan op uit die graf.
En dit is baie betekenisvol. Dit is die groot feit wat die
agtergrond vorm van Paulus se woorde in I Kor. 15. Alleen
teen die agtergrond kan die diepe simboliek van hierdie
hoofstuk verstaan word.
Voorts kan die vraag ontstaan of die Skrif in verband met die
begrafnis 'n gebruik beskryf of voor-skryf. Met ander woorde
gee die Ou en Nuwe Testament maar net 'n beskrywing van 'n
gebruik of is dit die bedoeling dat hierdie gebruik nagevolg
moet word omdat begrafnis 'n voorskrif is.
Die opmerking is reeds gemaak dat dit wat die begrafnis
betref in die Skrif slegs gaan om die mede-deling van 'n
kultuurgewoonte. Die herhaaldelike vermelding van die
begrafnis in die Skrif sou dan slegs die beskrywing wees van
'n gebruik en die beskrywing sou geen voorskrif inhou vir ons
van-dag nie. Myns insiens is hierdie siening verkeerd omdat
dit nie voldoende rekening hou met die besondere karakter van
die Skrif nie.
Die Skrif is in die eerste plek OPENBARING VAN
GOD en nie sommer een of ander boek wat vry-blywend
aangeneem of verwerp kan word nie. Maar dit beteken dan ook
dat die herhaaldelike beskrywing van en nadruk op die
begrafnis in die Skrif nie maar toevallig aan ons gegee is
nie. God wil daarmee iets aan ons sê. Moses word nie
deur God Self begrawe met daaragter die gedagte dat
óns met ons oorledenes kan doen wat ons wil nie. Jesus
Christus daal nie af in die graf sodat óns oond toe
kan gaan nie.
As ons die begrafnis in die Skrif bloot as die mededeling van
'n kultuurgewoonte sien, kom daar ook ander vrae na vore. Dan
kan ons byvoorbeeld vra of ons nie dalk ons hele siening van
teraardebe-stelling moet wysig, omdat die hoogtepunt van die
opstanding van die vlees, naamlik die opstan-ding van
Christus, verby is nie. Ons kan ons ook begin afvra of die
"hoe" van die teraardebestelling dalk nie meer soveel saak
maak omdat die dood tog oorwin is nie.
Sulke vrae raak egter myns insiens die gesag en die
normatiwiteit van die Skrif en derhalwe mag hulle nie gevra
word nie. Dit kan die deur oopmaak vir ander veel ingrypender
vraagtekens en daarom moet ons daarmee uiters versigtig wees.
Ons moet nie wyser wil wees as die Skrif self nie!
6. VOLGENS BEGINSELS VAN DIE
CALVINISTIESE MENSBESKOUING
Op grond van die gegewens wat hierbo genoem is, moet ons nou
probeer kom tot die bepaling van ons eie standpunt insake die
kwessie van begrafnis of kremasie. Hierby kan twee
Skriftuurlike beginsels van die Calvinistiese mensbeskouing
ons tot groot nut wees.
-
Die mens is geskape
volgens die beeld van God (Gen. 1:26 en 17)
Daarom het God moord en selfmoord verbied (Gen. 9:6).
Teneinde die mens met eerbied vir die menslike liggaam te
vervul, het God ook die verminking en beskadiging daarvan
verbied. (Lev. 19:28. Deut. 14:1). Paulus spreek van die
menslike liggaam as van 'n "tempel van die Heilige Gees" (I
Kor. 6: 19).
Die Skrif praat dus met groot eerbied van die menslike
liggaam, want ook die liggaam is 'n skepping van God. 'n Mens
bestaan uit siel én liggaam en dit beteken dat ook die
liggaam van die gelowige deel het aan die verlossing in
Christus. Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus sê
dan ook dat die gelowige met liggaam en siel aan Christus
behoort.
Ons liggaam is dus nie ons eiendom nie, maar God s'n. Maar
... wat van God is, moet van God bly. Daarom moet die liggaam
na die dood aan God teruggegee word op die wyse wat die Bybel
aan ons leer. Dié wyse is nie die pad van
lykverbranding waarby die hele liggaam vermink word nie, maar
die pad van begrafnis.
- Voorts moet ons in gedagte hou dat die intrede van die dood nie
sommer 'n natuurlike saak is nie, maar 'n handeling van
God. Slegs God kan heers oor lewe en dood. Slegs Hy
wat die mag het om die lewe te gee, het ook die reg om dit
weer te neem. Daarom hou sy reg op ons liggaam, wat deur
Hom gemaak is, ook nie op wanneer die dood intree nie. Maar
dit beteken dan ook dat die liggaam van 'n oorledene
volgens die wil van God behandel moet word. Derhalwe moet
dit aan die aarde toevertrou word en nie aan die oond nie.
Deurdat 'n oorledene begrawe word, vind die vernietiging
van sy liggaam plaas volgens die wil van God. Dit is by
kremasie egter nie die geval nie, omdat daarby die proses van
vernietiging van die liggaam deur die mens self ter hand
geneem word. Dan tree die mens dus op as die heerser oor lewe
en dood waarby uitgegaan word van die gedagte dat die liggaam
die eiendom van die mens is, ter-wyl dit God se eiendom
is.
7. KONKLUSIE
- Ons slotsom in verband met die gegewens wat die Skrif
ons bied, is dat begrafnis steeds veronderstel word.
- Daarmee keer die Skrif hom teen lykverbranding.
- Dié gevalle waar die gebruik wel genoem word, is
óf straf wat deur God beveel is óf
uitsonderlike gevalle.
- Die Seun van God is die grond van ons hoop op 'n salige
opstanding. Hierdie belangrike geloofs-waarheid is deur die
Christelike Kerk van die begin af besef. Daarom het die
Kerk hom steeds met die grootste beslistheid teen die
heidens lykverbrandingspraktyke verset. Dat hierdie gebruik
tans in sogenaamde Christelike nasies 'n steeds groter plek
inneem, stem tot besorgdheid.
Dit is 'n teken van voortgaande ontkerstening en
deformasie.
Verder is dit opvallend dat die toenemende vraag na
lykverbranding hand in hand gaan met 'n toe-neming van
heidense gebruike tydens die verbrandingsplegtigheid. Die
aanwesiges kan byvoor-beeld kies uit 'n breë
verskeidenheid musiek op elke gebied. Naas Psalms is daar
klassieke en moderne musiek voorhande, terwyl die sogenaamde
Negro-Spirituals en Evangelieliedere 'n veel-gevraagde
begeleiding by lykverbranding is. Maar dit is nie al nie. Dit
gebeur meermale dat ouers 'n kind laat verbrand terwyl die
Beatles of 'n ander popgroep een van hulle populêre
wysies via geluidsband of plaat ten gehore bring. In
Duitsland het Heintje met sy liedjies die krematoriums
verower.
Waar hierdie gebruik ook in ons land reeds 'n groot plek
inneem, is dit noodsaaklik dat die Skrifgetroue gelowige
ernstig tot reformasie oproep. Want die lykverbranding en
alles wat daarmee saamhang, is in stryd met die Skrif. Een
van die kerngedagtes van die Calvinistiese mensbeskouing,
naamlik dat ook die stof die eiendom van God is, gaan
verlore.
Dit is wel waar dat die manier waarop van die liggaam van 'n
oorledene ontslae geraak word geen struikelblok is vir die
opstanding uit die dode nie. Dit geld vir seebegrafnisse, vir
gevalle waarby die menslike liggaam in so 'n mate vermink is
dat daar van 'n begrafnis eintlik geen sprake meer is nie en
vir lykverbranding. Daar is mense wat ten gevolge van 'n
brand om die lewe gekom het en wat tog sal opstaan om tydens
die laaste oordeel op die jongste dag hulle
ewigheidsbestemming te bereik. Maar mense wat in 'n brand
omkom, verrig nie die vrywillige, onskriftuurlike daad van
lykverbranding nie.
Samevattend kan ons sê dat die proses van ontbinding
van die liggaam nie in die hande van mense gelê is nie.
Ons mag met die liggaam van 'n oorledene nie willekeurig
handel nie. Lykverbranding is nie in ooreenstemming met die
Woord van God nie. Dit is heidens en dit bots met die egte
Christe-like lewenstyl. Derhalwe wys ons dit onvoorwaardelik
af.
8. LITERATUUR
8.1 Algemeen
Brillenburgh Wurth G. Lijkverbranding. In Christelijke
Encyclopedie Deel IV. Kok, Kampen (2), 1959.
De Bruyn, P.J. Begrafnis of lykverbranding? In Bewaar jou
goeie pand. Pro Rege-Pers, Potchefstroom, 1964.
p.119-125.
De Klerk, B.J. "Lykverbranding", In Die Almanak van die
Geref. Kerk in S.A., 1950, p. 105-113 (ook as pamflet in
Engels onder die titel "Cremation" gepubliseer).
Delleman, T.H. Alles nieuw: Over sterven, begraven en
opstandingsleven. Wever, Franeker, s.j.
Dijk, K. De Leer der laatste dingen. In Het Dogma der
Kerk.Haan. Groningen, 1949.
Dijk, K. De Leer der laatste Dingen. Deel III (De toekomst
van Christus). Kok, Kampen, 1953
Francken Joh. Veel vragen, één antwoord. Kok,
Kampen, s.j. Jongeling P. Woord en Wandel. Stichting
Gereformeerd Gesinsblad, Groningen,1968
Lategan, D. "Kremasie of Lykverbranding". In Koers in die
Krisis III, p.144-156. F.C. S.V., Stellenbosch (Pro
Ecclesia-drukkery), 1941.
Lok, P. Graf of Oven. De Vuurbaak, Groningen, s.j. Smith,
Donald K. Why not Cremation? Dorrance & Co.,
Philadelphia. 1970.
Van der Walt, B.J. Graf of askruik? Perspektief in ons J.
V.-werk, jrg.3, nr. 3, Maart 1965, p. 215-219.
8.2 Kommentare
De Boor, W. Der erste Brief des Paulus an die Korinther. In
Wuppertaler Studienbibel. Broekhaus Verlag, Wuppertal,
1968.
Grosheide, F.W. Paulus' eerste Brief aan de Kerk te Korinthe.
In Korte Verklaring der Heilige Schrift. Kok, Kampen,
1954.
Grosheide, F.W. De eerste Brief aan de Kerk te Korinthe. In
Commentaar op het Nieuwe Testament. Kok, Kampen, 1957.
Pop, F.J. De eerste brief van Paulus aan de Corinthiërs.
In De Prediking van het Nieuwe Testament. Callenbach,
Nijkerk, 1971.
'n Lys van reeds gepubliseerde I..B.C.-studiestukke kan
gratis by die I.B.C.-kantoor, P.U. Vir C.H.O., Potchefstroom,
2520 (Telefoon: 22112, uitbreiding 418) aangevra word.
Persone wat in die toekoms graag I. B.C.-studiestukke
(gratis) wil ontvang, kan hul name en adresse na bogenoemde
adres stuur.
ISBN 0 86990 237 7