Oordenking 1
Lees: Luk.10:38-42;
Joh.12:1-11
Teks: Luk.10:41-42; Joh.12:2,3
Tema: Die dienende Martha
Die
Woord van God, die onderrig van Jesus - dit is die kosbaarste wat die kerk het.
Weet ons dit nog?
Om
te luister - dit is die een ding wat nodig is. Besef ons dit nog?
Die
moderne mens kan nie meer luister nie en wil ook nie meer luister nie. Prediking
– luister na wat God sê – is uit die mode.
Deur
te luister na die onderrig van Jesus - so sal mense in die kerk waarlik tot
aksie oorgaan. Verstaan ons dit nog?
LUISTER
- So sou ek bogenoemde teks in een woord wil opsom.
Ek
wil in hierdie en in die volgende twee oordenkings na die volgende kyk: 1. die
dienende Martha; 2. die luisterende Maria; en 3. die dienende Maria.
Nou
gaan dit oor die dienende Martha.
Net
‘n paar kilometers van Jeusalem af het die dorpie Betanië gelê. Maar in
daardie klein dorpie het Jesus meer liefde geniet as in die groot en deftige
Jerusalem. Vir Hom was daar meer vrede in Betanië as in Jerusalem wat beteken
“die plek van vrede”. Daar in Betanië het opregte vriende van Hom gewoon,
wat Hom innig liefgehad het en wat geglo het dat Hy die Christus was. Dit was
Martha en Maria en hulle broer Lasarus. Dit was die Lasarus wat Jeus uit die
dood uit opgewek het.
Dikwels
nadat Hy in die stad gepreek het en die vyandskap van die Jode moes verdra, het
Hy daarheen gegaan. Uit ons teksgedeeltes weet ons van twee sulke geleenthede
dat Jesus daar besoek gaan aflê het. Die derde keer was natuurlik toe Hy
daarheen gegaan het om Lasarus lewend te maak.
Die
eerste twee besoeke gaan egter nou ons aandag geniet en ons begin by die besoek
wat vir ons beskryf word in Lukas 10:
Voorop
staan dat Martha Hom ontvang het. Waarskynlik was sy die oudste van die twee
susters.
Maria,
so vertel Lukas ons, het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister.
Martha
daarenteen was een en al bedrywigheid. Sy was BAIE besig om alles klaar te maak,
staan daar. Dit is tog belangrik om aan al die woorde in die Bybel aandag te
gee, ook die kleintjies. Dit geld ook van hierdie woordjie BAIE. Dit gee ons
‘n ideë hoe druk Martha doenig was. ‘n Mens kan dit jou eintlik voorstel
hoe sy heen en weer loop en hardloop om alles in orde te kry en om die
heerlikste maaltyd aan haar Heiland voor te sit. Af en toe het sy ook seker ‘n
paar van Jesus se woorde opgevang, maar sy was te besig om werklik daaraan
aandag te gee. Nee, sy wou die Here dien met haar dade dien. Vir Hom het sy net
die beste oorgehad. So wou sy sekerlik haar liefde vir Jeus bewys.
Maar
terwyl sy so druk besig en doenig was, was daar tog iets wat haar gepla het,
sommer baie gepla het. Dit was haar suster Maria, wat daar aan die voete van
Jeus gesit het en niks gedoen het nie. En hoe bedrywiger sy geword het en hoe
haastiger sy geraak het, hoe meer het dit haar gehinder. Moontlik het dit haar
ook dwars in die krop gesteek dat Maria niks doen vir haar dierbare Meester nie.
Sy sit net daar. Daar gaan geen dade, geen dade van liefde van haar uit nie,
maar sy sit maar net en luister aan die voete van Jesus.
‘n
Mens kan Martha se irritasie so goed begryp. Want sit ‘n mens nie vandag ook
met dié probleem in die kerk nie, met mens wat niks doen nie? Ag, dit is
algemeen in gemeentes dat ‘n klein groepie broeders en susters alles moet doen. Die werkende Martha’s, die dienende Martha’s! En tereg hinder dit
lidmate. Want wie werklik lief is vir Jeus, so voel ons, die sal ook mos graag
vir Jesus wil werk. Die sal Hom wil dien in sustersaksies en gemeentesamekomste
en funksies en ek weet nie wat nog alles nie. Want liefde is mos dade en uit jou
vrugte moet dit blyk dat jy alles vir God en vir sy kerk oor het.
Daarom
voel ‘n mens, so by die eerste hoor, volle simpatie met Martha. Maria moet
vermaan word. En dit is ook presies wat Martha wil doen. Op ‘n stadium dan
raak alles vir haar net een te veel. Sy spreek Maria egter nie direk, nie self
aan nie, maar sy rig haar tot die Here Jesus: “Here, gee U nie om dat my
suster my alleen laat bedien nie? Sê dan vir haar dat sy my moet help”.
Miskien kon sy dit ook nie verstaan dat die Here dit maar toelaat dat Maria niks
doen nie.
En
nou sou ons verwag het - en dit het Martha ook sekerlik verwag - dat die Here
Jesus die luisterende Maria, die in ons oë niks doenende Maria, ernstig sou
aanspreek. Maar verbasend genoeg - eintlik verbysterend - doen Hy dit nie.
Inteendeel, nie Maria word vermaan nie, maar Martha, die dienende Martha.
Daarvan
begryp ‘n mens nou net mooi niks nie. Is dit nou nie water op die meul van
alle niksdoeners in die kerk nie? Versterk dit hulle nie in hulle kwaad nie?
Oordenking 2
Lees:
Luk.10:38-42; Joh.12:1-11
Teks: Luk.10:41-42; Joh.12:2,3
Tema: Die luisterende Maria
Maria
het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister. Dit was in daardie
tyd inderdaad die gebruik dat leerlinge aan die voete van hulle leermeester
gesit het. So hoor ons dat die apostel Paulus aan die voete van Gamaliël gesit
het.
Wat
sou Jesus daar gesê het? Sekerlik sou Hy Maria en sy dissipels wat daar
teenwoordig was, vertel het van sy werk. Hy sou hulle ongetwyfeld, soos Hy
telkens gedoen het, vertel het dat Hy moes ly en sterf, dat Hy gekom het om
sondaars te roep tot bekering en dat Hy die verlore skaap kom soek het. Ja, Hy
sou sekerlik, daar in die huis van Martha en Maria, die heerlike evangelie, die
blye boodskap van genade verkondig het, van die Vader wat ons so lief gehad het,
dat Hy Hom, sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee
het.
Wat
is groter en heerliker as hierdie evangelie! En wat is wonderliker as om hierdie
boodskap uit die eie mond van die Heiland te mag hoor! Woorde van heil, woorde
van ewige saligheid. Is dit dan ‘n wonder dat Maria aan sy lippe gehang het,
dat sy haar doodeenvoudig nie kon losskeur van haar Meester en Martha gaan help
het nie.
En
nou weer terug na Martha. Martha was BAIE, baie besig, het ons gehoor. Eintlik
beteken die woordjie “besig” - Martha was baie besig - soveel as : wegtrek.
Sy was so besig met wat sy moes doen, dat sy weggetrek is van die lerende Jesus.
Haar aandag is sodanig deur haar diens vir Jeus in beslag geneem, dat sy nie tyd
gehad het om te luister na die woorde van Jesus nie.
En
nou moet ons moet ons weer terug na dit wat Jesus aan Martha sê. Wanneer Martha
kla oor Maria se niksdoen, kry nie Maria nie, Maria Martha ‘n vermaning uit
die mond van die Here te hore: “Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor
baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies”.
Wat
is die een ding wat nodig is? En wat bedoel Jesus met die goeie deel wat Maria
uitgekies het? Vanselfsprekend: dat sy gaan sit en luister het.
Wel
moet ons die vermaning van Jesus goed begryp: Hy sê nie dat dit verkeerd is om
vir Hom te werk en om vir Hom besig te wees in die kerk en in die samelewing en
in verskillende organisasies nie. MAAR die LUISTER kom voorop. Dit is eerste.
Die
gevaar is ook vir ons groot dat jy so besig is met allerhande aktiwiteite in die
kerk en dat jy so jaag van een aksie na die ander, dat ‘n mens vergeet van die
een ding wat nodig is: om te gaan sit en luister aan die voete van Jesus.
Wanneer
sit ons aan die voete van Jesus? In die kerk! Daar spreek Jesus vandag nog met
ons. Hy doen dit deur sy gesante: deur die dominee en ook deur die ouderlinge
wat vir ons preek. Die Here Jesus is self hier teenwoordig. Weet ons dit nog? En
ook tot ons spreek hy, by monde van sy diensknegte woorde uit van ewige geluk en
heerlike saligheid. En hoe staan ons daarteenoor? Hang ons ook aan sy lippe? Is
ons ook soos Maria so geboeid en so diep aangegryp daardeur dat ons net
eenvoudig nie kan wegloop of wegbly nie? Nee, dan gaan dit nie daaroor of die
dominee of so mooi kan preek of so
‘n goeie voordrag het nie, maar is die evangelie vir ons mooi?
Oordenking 3
Lees:
Luk.10:38-42; Joh.12:1-11
Teks: Luk.10:41-42; Joh.12:2,3
Tema: Die dienende Maria
Martha
die dienende kry dus 'n vermaning. Maar Maria dan wat niks doen nie, wat net
passief sit en luister? Laat Jesus dit sommer net daar? En kry alle niksdoeners
in die kerk nie nou die groenlig om maar so voort te gaan nie?
Maar
wag! Voordat ons te veel sê, laat ons eers gaan kyk na: die dienende
Maria.
Ja,
die DIENENDE Maria! U het reg gelees!
Ons
praat in Afrikaans van "dienende Martha's". Daarmee bedoel ons mense
wat altyd bereid is om te werk, om te dien. Maar dan vergeet ons dat nie net
Martha die Here Jesus gedien het nie, maar ook haar suster Maria.
En
dit sien ons in die tweede besoek wat Jesus aan hulle bring. Daarvan het ons
gelees in die evangelie volgens Johannes: Daar hoor ons dan enersyds van die
dienende Martha: “Hulle het toe vir Jesus ‘n maaltyd berei, en Martha het
bedien”. Maar die “hulle” - hulle het ‘n maaltyd berei - sê al klaar
vir ons dat Martha nie die enigste dienende was nie, maar dat daar ook ‘n
dienende Maria was.
Maar
dit is nog nie die belangrikste nie. Net in die volgende vers lees ons: “En
Maria het ‘n pond egte, baie kosbare nardussalf geneem en die voete van Jesus
gesalf en sy voete afgedroog met haar hare”.
Maar
hoe het sy gekom tot hierdie daad? Deur die hoor en verstaan van Jesus se
onderwys!
Sien
u nou wat die luister uitgewerk het in haar lewe? Begryp u dat luister haar nie
passief gemaak nie, maar juis aktief? Dit lei haar en dring haar tot die hoogste
aktiwiteit. Die luister na God se woord bring haar tot hierdie grootse daad van
haar.
Daarom
wil Jesus hê dat ons vandag dààr sal begin: aan sy voete! Dààr, onder die
geklank van sy Woord! Dààr, onder die preekstoel, Jesus se preekstoel! Want dààr,
juis dààr, word dienende lidmate gemaak. Juis dààr word passief luisterende
gelowiges gemaak tot aktiewe kerkmense.
Dit
kan ook nie anders nie: Wie aangegryp is deur die liefde van Christus, wie diep
in sy of haar hart getref word deur dit wat Hy vir ons gedoen het - so iemand
kan ook nie anders nie as om met dade van liefde te antwoord nie. Ja, as jy weet
dat Christus vir jou soveel oorgehad het, so ontsaglik baie dat Hy Homself vir
jou in die ewige dood gegee het, dan sal jy ook alles vir Hom oorhê. Dan sal u
Hom ook so sielsgraag wil dien in die kerk, in kerkverenigings, in die
samelewing en orals waar u kom.
Waarom
is daar vandag so ‘n gebrek aan aktiwiteit in die kerk? Waarom is mense so min
bereid om vir die Here te werk? Moet ons nie die oorsaak daarin soek dat mense
nie meer wil luister nie? Sonder enige twyfel! Sonder brandstof kan ‘n motor
nie loop nie en sonder die Woord gaan ons staan, stop ons diens vir die Here.
Natuurlik
is luister opsigself nie genoeg nie. ‘n Mens kan luister en tog nie luister
nie. Ek bedoel maar: in die kerk sit daar ook mense wat luister maar die Woord
doen niks aan hulle nie. Dit raak hulle nie. Hulle word nie daardeur aan die
brand gesteek nie.
Daarom
moet ons die Here bid dat Hy sy Gees in ons hart sal stuur, dat Hy ons brandend
van ywer sal maak. En dit sal die Gees ook doen as ons Hom bid. Maar hoe doen Hy
dit? Deur die Woord en nie op ‘n ander manier nie. Daarom is dit so belangrik
dat ons moet luister, luister na wat God vir ons in die Bybel en in sy kerk vir
ons sê.
Die
geheim van ‘n aktiewe kerk is : luister, luister, luister.