DIE KERK VAN CHRISTUS IN
DIE KRISIS VAN SLAPENDE OF WAKENDE
(Ds. G.B.S. Pasch)
Lees: Matteus 24 : 36 - 47
Teks: Openbaring 3 : 1 tot 6
Sing: Ps. 36 : 2
Ps. 128 : 4
Ps. 134 : 1 of 3
Ps. 22 : 11
Gewoonlik, as daar oor
een van die briewe van Christus aan die gemeentes van klein-Asië gepreek word,
word daar eers iets gesê oor die stad waarin die gemeente lewe.
Uit die geskiedenis weet
ons nie iets besonders van Sa rdis nie. Ja . . . . . ‘n ou stad . . . . ‘n
veelbewoë geskiedenis, geleë aan die kant van ‘n vrugbare vlakte, met wol en
skaapboerdery as die vernaamste bedrywe. Tog was daar enkele dinge wat lig laat
val het op die mentaliteit van die bevolking.
Sardis . . . . ‘n stad
van vervalle grootheid, met baie, baie dapper voorsate, maar nou nie meer dapper
nie. Tweemaal oorval as gevolg van hulle onwaaksaamheid. Hulle teer op die mooi
verlede, maar presteer self nie meer iets nie. En toe in 17 n.C. ‘n aardbewing
die stad uitmekaar ruk, het keiser Tiberius help bou, maar die inwoners self
herstel hulle stad nooit weer ten volle nie. Al staan daar dan nou ‘n klompie
nuwe geboue, bly dit ‘n stad van vergane grootheid. Geen nuwe geesdrif . . . .
geen besielende aksie nie. Hulle lewe maar so van dag tot dag voort sonder hoë
momente van ywer en daadkrag. En dit wat die stad van Sardis geld, geld ook in
‘n hoë mate van die kerk aldaar. Nogtans is dit moeilik om die probleme en die
sonde van hierdie gemeente in ‘n preek raak te vat, want daar is so min wat
konkreet, tasbaar verkeerd is. Dit bly so vaag en algemeen. Efese byvoorbeeld
het daadwerklik te doen met die Nikolaïete. Pergamus is die tuiste van Satan
met sy baie afgode. Die vinger word by hierdie kerke op die sweer en die
ontsteking gedruk. Maar by Sardis word daar in die algemeen net gesê dat die
gemeente dood is, dat hulle slaap, maar hoe hulle dood is en waarom hulle slaap
word kwalik gesê.
Wat is ‘n dooie gemeente?
Ons dink dan gewoonlik
aan ‘n gemeente van gewoonte en verstarring. As die dominee preek omdat dit nou
maar eenmaal Sondag is en ‘n preek by Sondag en ‘n predikant hoort. As die
ouderling gereeld huisbesoek doen en maar oor koeitjies en kalfies gesels of op
hulle beste so ‘n outomatiese vraagmasjien geword het wat op ‘n ry ‘n klomp
vrae aframmel en tevrede is met elke dooie antwoord. As die diakens
kerkportrette is stewig in ‘n ry op die voorste banke, maar verder prakties
niks meer nie. As die lidmate Sondae tweemaal stewig in die kerk sit, maar in
die week rustig saam spoel in die donker stroom hel toe. As nooit iets
opvallends gebeur nie. As daar nooit ‘n preek soos ‘n sweepslag weerklink wat
wakker maak nie. As die dominee maar ou afgesaagde sinne gebruik wat gesellig
soos koel water op ‘n warm dag oor ‘n lui baaier val . . . . maar niemand tot
sy fondamente ruk of raak nie. Geen bekering, geen heiligmaking, van Sondag tot
Sondag beweeg soos ‘n ou karperd wat van huis tot huis loop en staan, loop en
staan. Nooit ‘n tuggeval nie . . . . almal vriende met die ouderling en
predikant . . . . nooit iemand vir hulle kwaad nie.
Maar laat ek maar dadelik
sê: So ‘n gemeente of kerk was Sardis nie. Hier het die kerk ‘n uitstekende
naam gehad . . . . ver buite sy grense.
Een van die lewendigste en beste kerke in die klassis. Christus Self sê:
Julle het die naam dat julle leef. ‘n Uitstekende reputasie. Alles so pragtig
in orde. Die dominee van Sardis het vol kerke . . . . hy staan bekend as ‘n
vurige en talentvolle spreker. Hulle ingenomenheid met hulleself maak dat hulle
nie tevrede is met ‘n man sonder talente nie. Die kerkraad was ook hoog in aansien.
Die ouderlinge voer met huisbesoek ‘n geestelike gesprek. Ouderlinge van ander
plekke jaloers op hierdie ywerige swartspan. Die ander het gesukkel met ketters
en afwykers in hulle wyke . . . . Nikolaïete, Bileamsmense, Isabeliete. Elke
huisbesoek ‘n geveg, ‘n worsteling. Maar kom kyk bietjie na Sardis. Geen
vervolging van buite, geen dwaalleer van binne. En met kerkvisitasie kry hulle
‘n pragtige, salige rapport: pragtige dominee, voortreflike kerkraad, werkende
diakonie. Maar Christus sê: Julle is dood op ‘n paar na. Verskriklik so ‘n
uitspraak na ‘n kostelike visitasierapport. Julle is dood.
Wat skort dan?
Hier is net ‘n paar wat
hulle klere nie besoedel het nie. Mens kan die paar op jou vingers tel. Net ‘n
paar wat hulle klere nie besoedel het nie. En wat die res betref moet mens nie
dink aan uitspattighede nie. Maar die blinkende wit van die kleed was tog by
die meeste dof en vuil geword en goed gekreukel. Nou kan ‘n mens miskien sê:
Dit kan tog nie anders nie. Wie is volmaak? Mens kan tog nie onmoontlike eise
stel nie. Was die klere in Pergamus of Thiatire miskien smetteloos wit? Waarom
dan die skerpe oordeel van Christus: Julle is dood? Waarom soveel lof vir
Pergamus en Thiatire vir hulle trou en hulle werke? Al antwoord: Sardis is
doodtevrede met die peil wat eenmaal bereik is. Die gemeente het dieselfde
mentaliteit as die stad - Selfvoldaan. Teer op die glorie van die verlede en
hulle jaag nie die noodsaaklike wedloop na die volmaaktheid nie. Hier was geen
reaksie omdat daar geen aksie was nie. As ‘n kerk ‘n sterk en prinsipiële aksie
van stapel stuur . . . . . moet daar ook reaksie wees. - by die lidmate, by die
rondom die gemeente. Maar hier geen aksie en daarom geen reaksie nie. In die
ander kerke van Klein Asië was daar aksie en die aksie werk reaksie en nou moes
die kerk sterk en groeiend stelling inneem teen die reaksie - hom staal teen
aanvalle van buite wat gewek is deur hulle aksie. Almal wat hand-om-die-nek met
die wêreld wandel is gedwing na ‘n kant toe . . . . hulle moes hulle teen die sterk
aksie en prediking verdedig . . . . . hulle standpunt stel. Maar in Sardis was
dit nie nodig nie. Die slap broeders bly slap omdat die kerk hulle nie aanval
nie. Die predikant preek vurig en warm, maar al om die punt . . . . . die
vinger nooit op die abses nie. Die hoere en die dansers en baster-gelowiges in
die kerk hoor die predikant van Sardis graag. Hy maak nooit iemand seer nie. En
die ouderlinge met hulle vroom praatjies het so oor Christus gepraat dat die
duiwel nooit geprikkel is tot ‘n aanval of geveg nie. Dit was Sardis se dood.
Niemand praat absoluut nie. Altyd om die punt . . . . . niemand word tot
teenspraak geprikkel nie. Gisteraand op ‘n dans in die stadsaal van Sardis en
vanmôre salig in die kerk met geen woord uit die predikant se mond wat enigsins
die gewete kwel nie. Sardis daarom is jy dood. En behalwe die wandel wat buite
orde was . . . . . ook die leer was verkeerd. Die ganse massa van gelowiges
moet ons aflei was ontrou in hulle taak om Christus te belei. Hier swaai die
gevangenisdeure nooit oop ter wille van die Efangelie nie. Hier word geen
fakkel in die brandstapel gesteek ter wille van Christus nie. Geen martelare
soos Antipas in Smirna nie. Die andersdenkendes van die stad kom luister graag
na die dominee omdat hy so niemand seermaak nie. Geen wrewel, geen aksie teen
hom nie. Maar met Paulus was dit tog heeltemaal anders. Nêrens kon Paulus praat
of hy word opgesluit, geslaan en die hele stad jaag hom die poorte uit - juis
omdat Paulus ‘n absolute Evangelie bring. Hy bring iedereen voor die keuse van
dood of lewe . . . . van die mes insteek onder die sweer en gered word, of
sterwe. Nooit kon die mense onder sy prediking dieselfde bly nie . . . dit
breek uit na ‘n kant toe . . . . bekering of haat. Redding of opstand en moord
en dreiging. Maar in Sardis het die kerk die simpatie van die wêreld met hulle
binnkamergodsdiens wat nooit meer agressief na buite optree nie. En so ‘n kerk
het die naam, hy is populêr, hy lewe skynbaar skitterend, maar is inteendeel
dood, dood, dood.
Maar nog is dit nie al
rede dat Sardis dood is nie. Ons moet nog dieper delf. En dan kan daar geen
ander antwoord wees nie: In Sardis het die spanning van die koms van Christus
op die wolke, verlore gegaan. Hulle het die uitsig oor die jongste dag verloor.
Want ons moet daarop let met watter naam Christus Holmself hier noem. Dit sê Hy
wat die Sewe Geeste van God en die sewe sterre het. Met ander woorde Ek spreek
hier wat dit Pinkster laat word het, wat toe die volheid van die Heilige Gees
uitgestort het. Maar met hierdie uitstorting van die Heilige Gees begin die
einde, want Petrus sê: dit is wat gespreek is deur die profeet Joël: Dit is die
laaste dae. Pinkster beteken dat alles nou gedryf en gepers word na die einde -
na die voltooing van die eeue. En omdat Christus op Pinkster jaag na die einde
en daarvoor Sy Sewe Geeste Stuur, daarom hou hy ook die sewe sterre. Dit wil sê
Hy roep in sy kerk die ampte in aansyn . . . . . apostels, profete, herders,
leraars sodat die heiliges volmaak kan word. Met die Gees en met die ampsdraers
is daar uitgestort die kragte van die einde . . . . . die kragte wat moet
voortstu en voortdrywe na die einde toe. En so het Christus ook gaan werk in
Sardis. In die gemeente het Hy ontketen die kragte van die jongste dag. En
hulle is geroep om te werk en te bely in al die spanning, die hoogspanning van
die einde en om hulle uit te strek na die volmaaktheid van die gelowiges. Maar
Sardis weet van die jongste dag niks meer nie. Hulle weet nie meer dat hulle
die Heilige Gees nie ontvang het vir ‘n stigtelike lewe en om dit te geniet en
rustig en veilig te hê nie, maar om in die brandpunt te staan en om hierdie
wêreld aan die brand te steek sodat die vlamme soos van vuur oral uitslaan.
Hulle het ‘n kerkraad en ‘n predikant maar hulle weet self nie meer dat hulle
die gemeente moet voortjaag na die volmaaktheid en heiliging toe nie. Pragtig
en prettig vind hulle dit dat hulle geen moeilikhede het nie. Maar dat dit die
laaste dae is weet en besef hulle nie. Besef nie dat hulle met hulle belydenis
moet indring in die wêreld om die wêreld te dring na die einde toe nie. Om die
halwes in die kerk om te smelt tot bekeriing of tot verharding. En omdat die
spanning gemis word preek die dominee so swak. Sondae steek hy ‘n gesellige
vuurtjie aan die brand waarby elke Jan Rap hom warm maak, maar nie die vuur van
die Heilige Gees waardeur die slappes of gered of uitgedryf word nie. So gaan
die Sondae en die jare in Sardis verby. Daar is aksie, maar in die aksie word
die spanning van die einde gemis. Hulle vorder niks nie . . . . . word nie
heiliger nie, word nie meer volmaak nie en dit spel een woord: Jy is dood . . .
. . Sardis.
In Matteus 24 skets
Christus die dienskneg of die predikant wat preek en werk onder die spanning
van die jongste dag. Dit is die man wat voedsel gee op die regte tyd . . . . .
die man wat op die horlosie kyk en die wysers sien voortbeweeg 12 uur toe, en
dienooreenkomstig die regte spyse bied. Maar Sardis se dominiee preek die een
jaar soos die ander jaar. Hy sien nie God se horlosie nie. Hy die ouderlinge
besef nie hulle moet die gemeente met elke diens en elke huisbesoek opvoer en
aanvuur na die einde toe nie. Om aktueel en waaragtig te preek beteken om te
besef dat met elke preek die preektyd korter word, elke preek bring die einde
nader. Preek beteken die slappes wakker ruk en die volharde slappes hulle dood
verkondig, en hulle die kerk uitdrywe en die wêreld in reaksie bring teen die
kerk.
Hoe skiet ons tog nie
hieraan te kort nie. En broeder en suster dat die sonde van Sardis in alle waarheid
gelê het in die feit dat hulle die lewe losmaak uit die spanning van die
jongste lê ook daarin dat Christus aan die kerkraad en gemeente beveel: Wees
wakker, wees wakende. En om wakende te wees beteken in die Bybel nooit dat
mense moet oppas vir een of ander sienlike gevaar nie, maar dit is altyd die
verwagting van die koms van Christus. Elke dag lewe in die verwagting van die
einde en daarom ook elke dag werk in die spanning van die einde.
Word wakker: Dit beteken
vir die predikant hou die mense nie langer gesellig besig nie, maar preek onder
die hoogspanning van die einde. Hy mag hulle nie trakteer op nagereg nie, maar
op die vaste spyse dat hulle volwasse word in die geloof, liefde, heiligmaking.
Word wakker: Dit beteken vir die ouderling nie ‘n gesprekkie oor ditjies en
datjies nie maar ondersoek ernstig wat daar nog aan lidmate ontbreek aan die
volmaaktheid in hoeverre hulle nog nie gereed is om Christus te ontmoet nie.
Word wakker: Dit beteken
vir die hele gemeente, moenie langer ‘n binnekamergodsdiens daarop nahou nie,
want Christus kom en dan moet die wêreld gereed wees. En hulle moet gereed word
deur elkeen se tong. . . . . ook u tong en lewe. Vertel ‘n slag vir die mense langs u van Christus . . . . . praat
van Hom in die publieke lewe. Dan kry ‘n mens moeilikheid. Dit storm op jou af
. . . . . . jy word gehaat. Maar jy dring die wêreld na die einde toe. En as jy
wakende is, let jy gespanne op en mens sien die tekens van Christus se koms . .
. . . . jy is altyd bereid. En die dag kan jou nie oorrompel soos ‘n dief in
die nag nie. En ten slotte . . . . . . hier is niks wat mens kan prys in die
gemeente as geheel nie en tog is daar ‘n belofte vir hulle wat getrou bly. Wit
klere sal hulle dra . . . . . . hulle wat wakker was onder die geklank van God
se Woord. Wat geleef het vir een saak. Die koms van Christus op die wolke.
Hulle wat bekommerd was oor die stadige groei na die volmaaktheid toe. Hulle
name staan geskrywe in die Boek van die lewe.
Broeder en suster, dit
was ‘n eienaardige preek . . . . . ‘n preek sonder ‘n toepassing. Maar die
preek is bedoel vir u en my van die gemeente. God wil ook vanmiddag ‘n spieël
voor ons ophang. Sy Gees dra hierdie brief deur die eeue en eeue heen tot by
ons en lewer dit vanmiddag af aan ons adres af. Hoor wat sê die Gees van God
tot hierdie kerk: ‘n mooi gemeente, ‘n goeie kerkraad, ‘n redelike predikant.
Daar word gewerk. Maar ons durf nie roem nie. Het ons nie dalk die naam dat ons
lewe, terwyl ons dood is nie? Is dit nie ‘n vraag om baie, baie ernstig oor te
besin nie. Waar is die spanning van die einde, wat ons dwing, opjaag, verteer?
As ons maar nie slaap nie . . . . . . en wat my betref as ek u maar net nie
doodpreek nie. God bewaar ons daarvan. Maar ons moet in die spieël kyk. Ernstig
kyk . . . . . . voor dit te laat is. Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees
aan die Gemeentes sê.
AMEN.