MISLUKTE MESSIAS,
EWIGE KONING
Ds. G.B.S. Pasch
Lees: Johannes 6 :
1 - 15 en Johannes 18 : 39 - 19 : 16
Teks: Johannes 6 :
15 en 19 : 15
Sing: Ps.
48 : 1
Ps. 25 : 7
Ps. 118 : 8, 11
Ps. 149 : 1, 2
“15 En
toe Jesus merk dat hulle wou kom en Hom met geweld neem om Hom koning te maak,
het Hy weer weggegaan na die berg, Hy alleen.”
“15Maar
hulle skreeu: Neem weg, neem weg, kruisig Hom! Pilatus sê vir hulle: Moet ek
julle Koning kruisig? Die owerpriesters antwoord: Ons het geen koning behalwe
die keiser nie.”
Met hierdie
gebeurtenis aan die see van Galilea, met die uitbeelding van hierdie omgewing,
met die bepaalde en tog sobere aanwysing van die tyd van die jaar, staan ons in
die volle en lewendige milieu van die Joodse rebelle, op die geskiedkundige
aksieterrein van die Galiles Vryheidsparty.
Dit was Aprilmaand, die Paasfees was op hande en aan die oewers van die
see was die gras groen. En elke jaar
was die gras met Paasfees groen, asof dit die begeerte en vervulling en die
heerlikheid van die Messiasdroom afgebeeld het. Elke jaar weer het die hoop saam met die groen heuwels gegroei:
Sal die Messias miskien hierdie Paasfees sy ryk proklameer? En nêrens anders het hierdie hoop tot sulke
hoogtes opgestoot as juis hier aan die see van Galilea. Die see van Galilea - op hom die daaglikse
vreedsaamheid van eenvoudige vissers wat elkers maar, opnuut hoopvol, die nette
uitgooi. Langs hom die grotte, die
gate, die hutjies waar die vryheidsliewendes, die dwinglandyhaters, die verbete
guerilla-vegters, skuiling soek en vind.
Hierdie manne, hierdie vroue, hulle seuns en hulle dogters, is
konsekwente mense, hulle is mense van een koers - hulle ken alleen die
swaarpad, die weg met baie offers en min verwagtings. Hulle ken alleen één koersbepaler, één uitgangspunt - Die
Vryheid. Hulle loop wakker, aldeur maar
soekende: Die Messias. En dit is nou al
amper twee jaar dat hulle hink op twee gedagtes. Maar nou, na die gebeurtenisse van die afgelope dae, nou na die
dood van Johannes die Doper, bly daar maar een Man oor wat moet dopgehou word -
Jesus van Nasaret. Hoe nader die
Paasfees kom, hoe meer dring hulle wensdinkery hulle na Jesus toe. Hulle is reeds op pad Paasfees toe. Sou die
vryheidsmesse in hulle boesem gereed gelê het?
Jesus moet hulle nie ontglip nie.
Hierdie mense, hulle soek om Jesus koning te maak, hulle soek om Hom as
Messias te verklaar. Hulle is
konsekwente mense, hulle weet wat hulle wil hê. En tog ‘n jaar later skreeu hierdie manne, wat Hom ‘n jaar tevore
Jerusalem as koning wou binnejubel, saam met Fariseërs en Skrifgeleerdes:
Kruisig Hom! Kruisig Hom! En by hierdie
twee gedagtes wil ons graag die aandag bepaal:
1. Maak
Hom koning! Maak Hom Koning!
2. Kruisig
Hom! Kruisig Hom!
I. Daar is in die dae van Christus seker geen
ander saak wat so naarstiglik nagespeur is, na verlang is, voor gebid is deur
die verlangende Ou Testamentiese gelowiges, as juis die verlossende, heerlike
verskyning van die Messias nie. Die
volk het swaar gedruk gegaan onder die harde hand van die veroweraar, onder die
kastyding van renegate-vorste. En elke
figuur wat by die putte van Galilea wat in die vissershutte sy vryheidsbegeerte
driftig en daadywerig gelug het - van hom is gevra: Is hy nie miskien die
Messias nie? Ag, wanneer kom die
Messias tog? En toe die Romeine naas
die bestaande tempelbelasting, van elke Jood ‘n persoonlike belasting aan die
Keiser eis, het ‘n vloedgolf van verset en bitterheid deur die volk
gehuiwer. Alleen aan die God van hemel
en aarde is hulle iets verskuldig en geen aardse vreemde vors, mag uit hulle
hand iets ontvang nie. En uit hierdie
verset is daar in Galilea, aan die oewers van sy see, die Vryheidsparty - die
Lestes (?) gebore. Die program van
aksie en ideaal, kort en kragtig: Naas Jehowa geen sterfling as Heer erken, en
laat ons die Nasionale opstand begin.
En die stigter, Judas, die Galileër, het met sy vryheidsywer en in die
waan self Messias te wees, onverskrokke die Romein die hoof gebied - want die
Messiaanse ryk moet voorafgegaan word deur Nasionale herstel en wêreldverowering. Maar - Judas die Galileër sterf in die stryd
en was dus die Messias nie. En toe sou
ook hier in Galilea, aan manne en seuns wat die vryheidsdors en die Lestesdiens
erflik in die bloed gesit het, in die sinagoge gehoor het: Só en só moes die
Messias wees: Soos Moses sal hy die volk uitlei en hy sal manna gee en tekens
doen groter as Moses, en hy sal wees uit die geslag van Dawid - ‘n nasionale
redder wat sal verlos en oorwin en die eer terugbring na die huis van Jakob. Die koningshuis sal in Jerusalem herbou
word. Heerlike dag en jare en eeue sal
dit wees. En die Lestes het die Romeine
geteister met guerilla-aanvalle op kolonnes en voorrade sodat uit hierdie
poging en stryd miskien die Messias gebore mag word. Toe het Johannes gekom en sy woorde: Bekeer julle, bekeer julle,
het by hulle aweregse ingang gevind. Hy
maak gereed vir hulle Messias - of - miskien is hy die Messias self. Maar Johannes is doodgemaak en is dus die
Messias nie. En nou - maande al volg
hulle Jesus, groter en kleiner groepe. Hy genees siekes, verander water in wyn, Hy maak die vissers se
nette vol. Miskien! En nou is die Paasfees op hande. Die berig van Johannes se dood het hulle
verwagtinge in duie laat stort, maar hulle ook opnuut bitter gestem. En as Christus, self treurig, met die
bekende boot die see oorsteek volg hulle te voet, die Jordaan deur en hulle wag
Christus aan die oostekant in - verwagtend.
Waarom sou Hy na hierdie verlate plek op koers wees? Wil Hy nie dalk hier begin met ‘n nuwe
opstand nie? Die opstand? Sal Hy nou eindelik begin? Eindelik die leiding neem? Op die groen gras het hulle gesit. Feesgangers. Bonte mengeling van kleure en tussen hulle het Jesus deurgeloop,
genesende, geselsende oor die koninkryk van die Hemele. Die koninkryk van die Hemele, en sonder om
te verstaan, alleen maar verwagtend het Lestesveterane Hom aan- en
agternagestaar. Sy woorde wou hulle
altyd maar inkeer in die kanale van eie begeertes en verlangens. Dit het laat geword en daar was nie voedsel
nie en Hy het hulle laat sit en die vyf brode geneem - garsbrode, en twee
vissies, kurpertjies. Die voedsel van
die armes, die nederige vissers - garsbrode en kurpertjies. Christus het gedank - ook Hy sou die
algemeen-gebruikte dankgebed geprewel het: Geseënd is U, Here onse God, koning
van die wêreld, wat brood laat voortkom uit die aarde. Hy het uitgedeel aan sy dissipels en hulle
aan die duisende. Hulle almal het die
broodjies gesien en nou gesien dat hulle almal versadig raak - en dat daar
oorbly. Hulle het in ekstase aan Moses
gedink - dat die Messias soos hy sal wees en brood gee soos Manna. En wat gister en eergister hoop en
vermoedens was, wat netnou nog vrees was, dat dit nie so sou wees nie - met één
daad het dit waar geword en duidelik: Hy is dit, hy is dit! Soos ‘n ruising deur die duisende. En die ruising word ‘n dwingende mag: Ons
gaan, ons wil Hom koning maak. Maak Hom
koning, maak Hom koning! Al wat rebel
en Galileër was - hoe staan die vryheid nie voor hulle in sy tasbare
werklikheid nie. Hierdie sal die
Paasfees wees waarop die Messias sal ingryp.
Hulle is nou 5,000, maar as hulle Jerusalem nader sal dit 50,000 wees,
duisende strydbare manskappe - en oor brood hoef hulle nie bekommerd te wees
nie - die Messias is ook broodmaker. En
die wapens in hulle boesem. En Christus
- Hy het weggegaan. Hy alleen. Hy alleen, want ook sy dissipels was
Galilese manne, in murg en been rebelle en sou gedeel het in die begeerte om
Hom koning te maak. En teenoor hulle
blydskap, teenoor hulle jubeling: Hy is die Profeet - Christus in
eensaamheid. Netnou het Hy met hulle
gepraat oor die koninkryk van die Hemele, en hierdie Koning wat oor sy
koninkryk gepraat het wat aan Hom gegee is deur sy Vader - hierdie Koning wil
die mense koning maak. Hoe sou sy
eensaamheid nie blydskap gewees het as die duisende uitgejubel het: U is
Koning, U is die Christus! Hoe groot sy
vrede as sy dissipels die skare sou reggehelp het: Hoe kan julle Hom wil koning
maak wat van Ewigheid af Koning is.
Maar nou - niemand wat sy sending verstaan nie. Aan 5000 van sy eie
volk, van die deel van sy volk wat Hy so goed ken, waarmee Hy daeliks gespreek
het, aan hulle is nie geopenbaar dat hierdie wonder, hierdie spysiging in
verband gebring moet word met die Paasfees, dat Hy hulle die brood van die lewe
gee.
Pyn en eensaamheid
- Christus se deel. Wat bedoel is om hulle oë oop te maak, wat bedoel is om
hallelujas en lofgesange te laat sing tot ere van God vir sy ewige verlossing
uit die diensbaarheid van die sonde, daarin sien hulle die tydelike, die verlossing
uit diensbaarheid van die Romeine, vervulling van hulle rebelle-ideale. Hulle
het op die groen gras langs die see van Galilea die wonder aanskou wat
afbeeldsel is van die wondergawe van die brood van sy liggaam en tog daaragter
nie gesien die wonder van die krag van God nie. Hulle kies garsbrood en droë
kurpertjies liewer as die brood wat laat lewe tot in ewigheid. Hulle het die
groot Middelaarskoning met menslike maatstawwe gemeet en hulle gevolgtrekkings:
aards, gewone alledaagse koning. Wat ‘n neerhaling. Hoe groot die
omlaagskeuring. Sy hemelse koningskap wil hulle hier trag te vernietig. Uit die
ewige heerlikheid wat Hom wag, waar die engele sy diensknegte is, wil hulle Hom
koning maak om gedien te word deur hulle eie, brose, swakke vissersvermoë. En
nog meer as dit alles - God wat in sy onverstaanbare genade, in sy skeppende
krag hierin geopenbaar is, word deur hulle ontken en vertrap deur laagvloerse:
Maak Hom koning, maak Hom koning. Hulle wat die besondere openbaring van die
Wet en die Profete gehad het. Dit is die magte van die duisternis wat in hulle
werk om die waaragtige koningskap van Christus te vernietig.
Pyn en eensaamheid
- Christus se deel. “Maak Hom koning” is in sy wese reeds “Kruisig Hom, weg met
Hom.” Want ook nou verstaan hulle Hom nie. Hier al verwerp hulle die wysheid
van God. Sy ware koningskap is vir hulle dwaasheid. Sy eensaamheid hier aan die
see van Galilea is reeds sy Gethsemane, is reeds sy van-God-verlatenheid sodat
ons van God geken kan word en lewe. En hulle geroep “Maak Hom koning”, moes in
Christus se ore ‘n ander weerklank gevind het. Daarin het Hy reeds gehoor die
prelude, die voorgelui van sy kruisiging. Die refrein van hierdie Joodse
komposisie wat ingelui is met die dartelende: Maak Hom koning, sou weldra deurslaan
in die vals basnote van hulle verdraaide Messiasverwagting: Kruisig Hom,
kruising Hom!
En tog, wat hier sy
vernedering was is al in wese ons verheerliking. Sy vernedering is juis wat
hulle bedoel as eerbetoon, as die hoogste Messias-eer. En omdat dit vir
Christus vernedering is en Hy die eensaamheid verkies bo hulle
Messiaskoningskap, daardeur het Hy reeds in beginsel sy Messiasroeping vervul
waardeur daar vir ons ons verheerliking gekom het. Hy is nie daar koning gemaak
nie - en daarom is Hy juis die Christus. En aan God die dank dat deur die
hoogste menslike eerbewys, wat deur die magte van duisternis daarop toegespits
was en gebruik was, die koningskap van Christus nie vernietig is nie en
onvernietigbaar geblyk het ook teen hierdie slinkse aanval. Christus is ewige
Middelaarskoning aan Wie alle dinge onderwerp is, en bly, totdat Hy aan die
voleinding dit wat aan Hom gegee is aan die Vader teruggee en dan
verheerlikingsmiddelaar bly tot in alle ewigheid.
II. Kruisig Hom,
kruisig Hom! Nog maar ‘n jaar voor die volgende Paasfees - dié Paasfees, en sy
dissipels het sy roeping nog nie verstaan nie. Maar die Messiasverwagting wat
hier aan die see van Galilea één valse inslag gehad het by die vryheidsoekers
sowel as by sy dissipels word hier deur die verkiesende genade van God in twee
geslaan: Koningmakers en kruisigers en daarom verdoemdes en: Uitverkorenes en
Koningerkenners en daarom verheerliktes. Van nou af word aan die Syne die doel
van sy lyde en sterwe bekendgemaak - ‘n opvoeding en groei in die ganade van
hulle wat geroep is. En by hulle wat nie die genade ontvang het wat aan
kindertjies bewys is nie, by hulle het die sondige agtergrond in wese gebly
waaruit hulle : “Maak Hom koning”, gebore is.
So was daar ook in
Jerusalem vryheidsoekers, manne wat in murg en been die Romeinse tirannie
gehaat het, wat ook die wetgewing om belasting aan die keser te betaal,
verafsku het. Maar hierdie wetgewing dring hulle nie tot die wapens nie, tot
die stigting van ‘n versetorganisasie nie. Wat baat verset teen die magtige
militêre mag, teen die wrede veroweraar wat doodmaak elkeen wat hom verset.
Nee, in skynbare gewillige diensbaarheid betaal hulle getrou belasting aan die
keiser - elke Fariseër en skrifgeleerde. En elke teken van opstand werk hulle
teen omdat dit nuttelose verspilling van goeie bloed en kragte is. Maar ook by
hulle leef, floreer, die Messiasverwagting en hulle program van aksie en ideaal
word ook kort en kragtig gestel: Geen opstand totdat die Messias kom. Hy sal
Fariseër wees, Hy sal die vryheid bring en sy gunsgenote sal sy veldhere en
raadgewers wees. En teenoor die Lestes is hulle program: Vroegtydige verraad
van enige opstand. Gelukkig is Judas die Galileër dood en van Johannes het
hulle eiemondig die versekering: Ek is die Messias nie. Maar hierdie Jesus -
hulle spioeneer al maande lank baie gereeld en hulle vrees, Hy gaan ‘n opstand
bewerkstellig en hy is nog nie die Messias nie. Sy invloed by die volk neem toe
en vooraf weet hulle dat so ‘n opstand ‘n mislukkig sal wees - Hy is die
Messias nie. En uit hulle Vaderlandsliefde en uit hulle sorgsaamheid oor
onnodige bloedvergieting en uit hulle vryheidsbegeerte hierdie besluit: Hulle
sal ‘n sluipmoord uitvoer, hulle sal stilletjies soek om Hom dood te maak sodat
die volk daarvan nie weet nie. Maar in die saal waar die nagmaal deur Christus
ingestel word, waar die gemeenskap met die liggaam van Christus self bevestig
is, waar die Syne in wie God Christus geopenbaar het, die brood van die ewige
lewe deelagtig word, hoor Judas die gesprek gaan oor wie sal die meeste wees.
En sy interpretasie, hy die onbegenadigde, hulle stry oor die poste in die
aardse Messiasryk. En sou dit hierdie berig wees wat Hy oordra aan die
Sanhedrin: Hulle stry al oor die poste en daar sal sekerlik ‘n opstand wees
hierdie Paasfees. Nou nie meer sluipmoord waar niemand van weet nie, daarvoor
is daar te veel mense in die stad. Ten alle koste moet ‘n opstand verhoed word
- want Hy is nog nie die Messias nie. En nou staan Christus voor die
volksmenigte en voor Pilatus. Aangeklaagde. Die volksmenigte - daarby is die
Fariseërs en die skrifgeleerdes en die Galileërs, sy haters en sy eertydse
navolgers wat Hom koning wou maak ‘n jaar gelede. Fariseërs, en skrifgeleeres:
Hy is die Messias nie; en die volk: Hy kon die Messias gewees het as Hy na ons
geluister het. Sy eertydse gewillige volgelinge, sy koningmakers wat gister nog
‘n nuwe opvlamming van die hoop beleef het dat Hy tog die Messias is - Hosannas
geskreeu het voor die poorte van Jerusalem - sy navolgers, op hulle mantels nog
die stof- en trapmerke van die esel van gister - hulle almal saam staan in een
malende, skreeuende menigte saam met die ontkenners van sy Messiasskap, saam
met sy haters, saam met sy gevangenemers en veragters.
En die keuse staan
tussen Barabas en Jesus - tussen die mislukte Messias en ‘n partyleier wat nie
geskroom het om vir die vryheid sy lewe en lyding te gee nie. Tussen Jesus wat
gelate toelaat dat die Messiasgedagte bespot word en ‘n Lestesleier wat deur
daad en lewe getoon het dat hy die vredesryk van die messias wil voorberei.
Hier is nie ‘n keuse tussen ‘n rower, misdadiger, tronkvoël en Christus nie,
maar die keuse is veel meer subtiel, en des te gevaarliker: tussen ‘n nasionale
held en Christus.
En hulle uitroepe
is nie net die negatiewe, die Barabasverkiesende nie, maar die sterk positiewe,
verwerping van die mislukte Messias, van die onrusstoker: Kruisig Hom - weg met
Hom! Terwille van die gawe van garsbrood is hulle reaksie: Maak hom koning!
Maar as Hy hulle die brood van die lewe wil gee, is die dringende en eisende
begeerte: Kruisig Hom! Albei uitroepe, albei begeertes gebore uit die
verharding van hulle harte. En nou word die eensaamheid en die pyn wat Hy
beleef het aan die see van Galilea weer werklikheid, die hardste, ontsettende,
ellendigste werklikheid - kruisig die Koning! Maak die koning koning om Hom
neer te haal, het nou die finale aanslag geword: Maak die koning dood om Hom
vir ewig te vernietig. Die skyn-navolgers uit die Galilese seegebied en die
sanhedrinhaters van die Christus het hulle onderlinge twiste vergeet - een
magtige skreeuende front: Kruisig hom! Maak Hom koning en kruisig Hom vloei
hier saam in een magtige stemmegolf: WEG MET HOM! Geen kontras nie, geen
onverstaanbaarheid nie, want Galileër en skrifgeleerde, Lestes en Fariseër is
konsekwente mense en uit dieselfde verhardingsgrond van hulle harte het “Maak
Hom koning” en “Kruisig Hom”, dieselfde vernietigingsdoel. Maar nie één van
hierdie aanslae het geslaag of kon slaag nie, omdat die koningskap van Christus
verhewe is bokant alle koningskappe en Hy is die oorwinnaar van die dood waarin
sy Messiasskap moes ten ondergaan. Hy het opgestaan uit die dood wat hulle
kruisgeskreeu gebring het. Hy lewe tot in alle ewigheid en in Hom lewe elkeen
in wie God Hom geopenbaar het in ewige heerlike gemeenskap met Hom - want ons
navolging van Christus is gebore uit die heerlike gemeenskap met sy opgestane
liggaam, en in sy liggaam het ons deel deur die uitverkiesende genade van die
Ewige en Almagtige God - en ons
gemeenskap is onvernietigbaar.
Hulle navolging van
Christus daarenteen is gebore uit eie behoefte om eie begeertes verwesenlik te
sien en hierdie navolging is ook die kruisiging van Christus. Tussen hierdie
“Maak Hom Koning” en “Kruisig Hom” is ‘n gedurige wisseling, waarvan die finale
sal wees: een magtige akkoord: Weg met Christus! En daarop sal die Ewige Koning
in sy wêreldgerig antwoord: Weg met hulle.
Laat nou maar die
leiersfigure van die wêreld met hulle stelsels en ordes trag om weg te doen met
Christus! Laat hulle opnuut probeer om Hom te kruisig en te laat sterwe, omdat
hierdie Christus deur die eeue heen gebots het met hulle eie Messiasverwagting
van ‘n ewolusionistiese koningmens, ‘n volmaakte heerser, wat die dwinglandy
van die Romein oor die werker sal afwerp, sodat hy vry sal wees in ‘n
werkers-messiasstaat - laat hulle maar skreeu: Kruisig Hom - Christus leef tot
in alle ewigheid want Hy het die dood oorwin sodat ons kan lewe.
En langs hulle
staan die navolgers van Christus wat elke dag skreeu: Maak hom koning! Hulle
volg getrou en hou dop en soek, omdat hulle bang is om, as Christus dalk
werklik die Messias is, die Redder van die wêreld, uitgesluit te wees, daardie
dag as die oordeel val. Maar as Christus dalk nie verlos nie, as God nie
bestaan nie, is daar kans om weg te breek, en ander te soek wat die rebellie
van eie voordeel en selfverheerliking sal deurvoer tot ‘n magstaat waarin hulle
wêreldfigure sal wees saam met hulle valse christusse. Ook hulle: “Maak Hom
koning” versmelt met die ander se: “Kruisig Hom” tot hulle eie en verdoemende:
“Weg met hulle!” Goddank - daar is ook die uitverkorenes, die kindertjies aan
wie die krag en die genade van God in Christus geopenbaar is. Hulle is die
dissipelkring, die weiniges, die ware kerk van Christus, en Christus - EWIGE KONING.
Amen!