HEMELSE BURGERSKAP
Ds. G.B.S Pacsh
Lees: Filippense
3
Teks: Filippense
3 : 20a
Sing: Psalm
99 : 4, 5
Psalm 119 : 44
Psalm 107 : 8
Psalm 107 : 10
Ons teksverse klink nie baie belangrik
vir ons wat op die aarde is nie. Daar
word gepraat van hemelse burgerskap.
Tog staan hierdie vers as die middelpunt van dinge wat op die aarde
gebeur. Lees maar weer vers 18 en
19. “Want baie wandel as vyande van die
kruis van Christus. Hulle einde is die
verderf, hulle God is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle dink oor
aardse dinge.”
Hier word dus van en met mense gepraat
in hierdie wêreld. Maar die mense met
wie Paulus praat in hierdie wêreld is nie burgers van hierdie wêreld nie, maar
van die hemel. Hulle woon hier, maar
hulle name is êrens anders ingeskrywe - hoog - in die hemel. Hulle is hier dus vreemdelinge.
Dit is u - geliefde gemeente. En die woord burgerskap moet ons reg
verstaan. Dit wil eintlik sê: Ons
behoort aan ‘n gemeenskap, ‘n samelewing wat in die hemele bestaan. Ons behoort aan ‘n verskanste en veilige
stad wat sy hoë mure in die hemel het.
Ons name is ingeskrywe in die registrasieboeke van die hemele. Ons het daar burger geword. Ons doopsertifikaat en ons burgerlike
registrasie dra die hemelse stempel.
Hemelburgers - u en ek.
Wanneer ons dit geword het, sal u my
vra: Daarvan kan ons geen rekenskap gee nie.
Ons weet alleen dit: Ons name was daar opgeteken buite ons wete en op ‘n
tydstip in die ewigheid waarvan God alleen weet. God het dié ereburgerskap toegeken lank voordat die burgers daar
was. Hy het vir Hom ‘n leër versamel
lank voordat daar stryd was. En in dié
burgerregistrasieboek was alle range en stande vasgelê. Vanaf die Generaal tot by die eenvoudige
waterdraer. Ons weet dus net dat
hierdie inskrywing plaasgevind het buite ons wete in die ewigheid.
Hoe ons die burgerskap verwerf het - dit
kan ons u haarfyn meedeel. En watter
heerlike voorreg het die gelowige nie daarin nie. Kyk, broeder en suster, daar is geen mens op aarde wat van nature
kan sê: Die hemel is my vaderland. Ons
is uit die aarde aards. Ons is deur die
mag van die sonde en deur die oordeel van God deur die stof vasgesuig. Ons is die slawevolk in Egipte wat nie
anders kan as om in die klei te ploeter en te werk nie. Van nature was ons name hier
aangeteken. Wêreldburgers. Gerus en tevrede in die stof en sonde. En waaruit het dit nou moontlik geword dat
daar vir sulke mense ‘n burgerskap in die hemelse gemeenskap oopval. Kan ek my naam hier skraap en daarbo
inskrywe. U weet wat die antwoord op
ons vraag is. Ons kan nie - maar
Christus kan. Paulus sê dit. Vanwaar ons ook ons Verlosser verwag die
Here Jesus Christus.
Sien u - het u dit gehoor en besef. Hy, die Seun van God het gekom. Hy alleen het reg gehad op die hemelse
burgerskap. Hy - die
Hemelgeregistreerde, die Hemelingeskrewene, Hy kom af en gaan in, in die aardse
lewe, aardse vloek en aardse dood!
Aardeburger.
Hier in die midde van die aardse lewe
het Hy sy huis geplant. Hier is Hy
begrawe en het die skuld en vloek van sy volk gedra. Hy versoen God met sy volk, sy kerk. En toe vaar Hy as Hoof op - nie alleen nie, maar hulle name het
Hy die hemel ingedra - geskrywe op sy hart.
En daar is die name nou in die hemel ingeskrywe. Oorgeskrywe in hemelse boeke. En nou is hulle nog op die aarde - maar
hulle het vreemdelinge en bywoners geword.
Hulle name is oorgeplaas in die ewige kiesafdeling. Hulle burgerskap is daarbo. Daar hoort hulle tuis. Sien u nou hoe het dit moontlik geword. Die werk van Christus. En dit geld die hele gemeente. Paulus praat van ons burgerskap. Jonk én oud. Paulus én Timotheus. Die
roemende Christen en die bevreesde bekommerde.
Saligsterwende grysaards en uitverkore kindertjies. Die hele gemeente van Christus wat in lewe
en belydenis Christus navolg. U en ek -
geliefde gemeente. Heerlike
gedagte. Hemelse burgers uit
genade. Arme sukkelaars - hoe ver sou
ons dit gebring het as ons die burgerskap moes uitwerk.
En tog gee Paulus hier een puntjie van
selfondersoek. Hy sê: baie wandel
anders. En dan bedoel hy nie die
heindenwêreld, en nie die Jode nie - maar hy het dit teen die Joodse elemente
wat die Christelike kerk ingesypel het.
Hulle noem hulleself Christene.
Hulle onderhou die besnydenis en die wet en soek daarin saligheid en
maak Christus kragteloos. En nou wil
Paulus sê: Wie sy saligheid soek uit afkoms, uit besnydenis, uit die uiterlike
sakramente, uit die werke van die wet - vir hom is die kruis van geen waarde
nie. Die kruis van Christus is sy
vyand. Hier moet ons onsself ondersoek. My naam is in die hemel. Daarvoor is Christus en Christus alleen
verantwoordelik. Wil my getrouheid nie
die burgerskap uitwerk nie? Moet die
sakrament nie die wonder van die saligmaking vir my verdien nie? My eie waardigheid alles hang uitsluitlik af
van die werk van Christus . En nou die
vraag - Hoe staan ek teenoor Christus.
Het die geregtigheid van God ingestraal in my binneste. Het die lig van sy majesteit my hart
ingeskyn dat ek my ware gestalte ontdek het?
Het ek sondaar voor God geword en het ek elkers opnuut bely dat dit
alles uit genade, alles uit Christus voortkom?
Elkeen wat elke dag só verskyn voor God in Christus, hulle name is
oorgeplaas. Hulle is geregistreer as
burgers van die hemelse stad.
Nieteenstaande al hulle gebreke en sonde waarteen hulle daeliks moet
stry. Laat ons tog nooit vergeet hoe
ons burgerskap moontlik geword het nie.
Vreesagtige, moeë, kleingelowige, struikelende broeder en suster - hou
die oog alleen op Christus. In Hom
staan dit seker en vas - nie in u nie. Al
sou u nog so vroom en bekeerd wees - die feit dat u geboortesertifikaat daar bo
lê, het nie as oorsaak die toestand hier op aarde nie - my goeie werke en
getrouheid het daarmee niks te doen nie.
Dink daaraan! Alleen die werk
van Christus. Ek het nie help oorskrywe
of oordra aan die name nie. Hy - Hy
alleen. Ons burgerskap is in die
hemel. Dank God deur Christus.
En nou kom die vraag onwillekeurig -
waarin moet hierdie hemelse burgerskap hier op die aarde geopenbaar word? ‘n Direkte antwoord op hierdie vraag word in
ons teksverse nie gegee nie. Tog praat
Paulus van mense wie se einde die verderf is, hulle God is die buik en hulle
eer is in hulle skande; hulle dink oor aardse dinge.
En u sal miskien sê die apostel beskrywe
hier vreeslike losbandige en openbare goddelose. So is dit nie - hy het sy oog op mense in die gemeente. Maar Paulus beskryf hulle hier in hulle
aardse gesindheid. Hulle lewe vir
hierdie aarde en hulle hoop en vreugde en liefde is vir die dinge wat hier
benede is. Nie in die hemel, maar op
die aarde is hulle burgerskap. En ons
moet gewaarsku wees - broeder en suster.
Waar soek ons ons geluk en die bevrediging van ons siel? Word ons so vasgevang? ‘n Gewetensvraag. Soek ons dit hier - ons einde is die verderf. Ons wat dus ons burgerskap in die hemel het
moet op die aarde dus ‘n ander gesindheid vertoon. Daar moet op die aarde ‘n openbaring wees van die burgerskap in
die hemel. Dit moet aan die hemelse
burgers op aarde duidelik gesien word.
Dit beteken: Ons moet alles sien in ‘n hemelse lig en alles beoordeel
vanuit ‘n hemelse standpunt. Die
openbaring van ons hemelse burgerskap wil nie sê dat ons ons baie versigtig en
vroom van hierdie wêreld moet terugtrek, dat ons ons moet toesluit van die
aarde en sy beslommernisse - stil en afgetrokke wagtend dat die Here ons moet
kom haal nie. So is dit nie. Want dan sal ‘n moeder in haar gesinslewe en
‘n man in sy daelikse arbeid nie hierdie hemelse burgerskap kan openbaar
nie. Nee - om op die aarde hemelburger
te wees kom in baie eenvoudige en alledaagse dinge na vore. Net die eenvoudige vrae: Staan ek bewus met
albei my voete op die aarde? Doen ek
met my hele hart my werk in my aardse beroep?
Is u met innige, hartelike liefde aan u man, vrou en kinders
verbonde? Hoop u om nog baie jare met
getrouheid die werk te doen wat God u gegee het? Is u u Koning in die hemel meer gehoorsaam as die mense? Is u in alles, op die aarde en in die lewe,
iemand wat die Here Jesus Christus liefhet?
Iemand wat kragtens u hemelse burgerskap, hemelse beginsels het. Sien u, ons hemelse burgerskap geld
eenvoudige dinge - alledaagse dinge.
Ons naam wat daarbo staan moet hier deur ons gedra, bely én geopenbaar
word. As dit so is verloor u lewe nie
sy betekenis vir hierdie aarde nie. Dan
is u egte mens. Die mens wat aardse
dinge bedink is nie die egte mens nie.
Maar die egte en ware mense vir hierdie aarde is hulle wat hulle
burgerskap in die hemele het. Want
Christus en die genade in Hom herskep juis die eg menslike. Dan is die beste hemelburger ook die beste
aardeburger. Leef ek vanuit die hemel,
vanuit die krag van ons Koning in hemelse lig - dan sal ek ook ernstig probeer
om die hemelse suurdeeg in hierdie lewe in te dra en alles te deursuur. En dan moet ek begin met my persoonlike en huislike
lewe. In altyd breër kringe moet die
heiliging uitwerk. En dan sien ek, ook
soos ek my arbeid en werk vanuit ‘n hemelse standpunt sien, my beproewinge en
kruis en teleurstelling in ‘n hemelse lig.
Dan sal ek my siekte en swakheid dra in ootmoed en lydsaamheid. So word my ganse aardse taak geheilig en my
aardse stryd omstraal met hemelse glans.
So sien ons dan waarin hierdie burgerskap op aarde hom openbaar. En nou: as ek dit alles goed verstaan het,
dan sal daar noodwendig by ons ook droefheid wees - bedroef en bekommerd omdat
die openbaring van ons burgerskap nog so swak, dikwels hopeloos is. Ja, my toestand op aarde moet ooreenkom met
my staat in die hemel - maar ek moet bely, dit is nie so nie. Maar wees getroos
- Paulus het ook aan ons droefheid en bekommernis gedink. Hy praat van Christus wat ons vernederde
liggaam van gedaante sal verander. Ons
vernederde liggaam. Daarmee sê Paulus
wat nog die aardse toestand is van die hemelburgers. Paulus weet dit uit sy eie lewe.
Hoe dit met die lewe gesteld is van hulle wie se name in die hemel
geregistreer is. Ons vernederde liggam
- daarin woon dood en verderf van versoeking waarin ons val, van ‘n
wederstrewige en opstandige en verbitterde hart, van swakheid in geloof en
gebed, van skuld wat daeliks meer word - ag ‘n altyd groeiende
ellendebesef. Dit is die vernederde
liggaam. Hy kan maar nie loskom van die
dinge wat hom grond toe ruk, onder die voete vertrap én verneder nie. Hoe ironies is ons lewe nie dikwels dat
Satan ons aanval en met ons spot nie:
Praat jy van hemese burgerskap met só ‘n hart en só ‘n lewe. Ag, alles lyk so hopeloos. Maar dan die vraag aan u en my: Belewe u smart ter wille van so ‘n liggaam -
is hierdie vernederde liggaam ‘n oorsaak van droefheid? Dan - kyk - hier is die troos: U is vir
uself veragtelik. Bedroef is u oor ‘n
vernederde liggaam - maar u is nie vir Christus veragtelik nie. Hy weet presies hoe u voel, hoe dit met u
gaan. Hy het tewens u naam daarbo
ingedra. Maar meer nog: Hy het vir al u
sonde, vir die verskil tussen wat u hier is en wat u sal wees as hemelse
burger, versoening gebring. Vir die
andersins noodlottige verskil het Hy betaal.
Gaan net voort en roer gedurigdeur deur die gebed die krag van Christus
in u lewe. Christus is en bly
Saligmaker. Nou ook nog. In die hemel. Besig met sy saligmakende werk.
En as Saligmaker het ons Christus altyd nodig. Soek sy krag en sy genade geliefde broeder en suster. Kniel in die verborge baie keer voor Hom -
smeekend om sy krag en genade om u staande te hou in u stryd teen die
vernederde liggaam. Hoe mooi is so ‘n
mens wat in die hemel ingeskrywe is as hemelburger, maar wat hier op aarde nog
‘n arme sondaar bly. En as dit dan so
met ons gesteld is - dan is daar ook die heerlike verwagting. Ons vernederde liggaam sal van gedaante
verander word. In ons stryd en
getrouheid in sy diens, by die worsteling om ons hemelse burgerskap hier op
aarde te vertoon - kom hierdie verwagting altyd na vore. Die Saligmaker kom en Hy kom om te
verander. Ons liggaam word verander en
aan sy verheerlikte liggaam gelyk gemaak.
Daarheen lei ons burgerskap. Laat ons by hierdie verwagting leef. En nou: Eenmaal het ‘n heidense hoofman vir
Paulus gesê dat hy die Romeinse burgerskap vir ‘n groot som gekoop het. Maar die hemelse burgerskap is nie te koop
nie. Dit kos net niks. Ons moet dit net aanneem uit die hand van
Christus. Amen.