Die suurdeeg werk deur!
Ds. G.B.S Pasch
Lees: Matteus 13 : 24 - 25
Teks: Matteus 13 : 33
Sing: Ps. 23 : 2
Ps. 48 : 4
Dit is ‘n ou bekende beeld en gelykenis van die
suurdeeg. So eenvoudig kom dit uit die
mond van Jesus Christus dat dit amper onmoontlik lyk dat daar in so ‘n
eenvoudige beeld diepere dinge in verborge kan lê. Nogtans is dit ‘n volmaakte prediking van die Evangelie van
genade.
Die groot dinge van genade en vervulling van God se
Raadsplan kan nie eenvoudiger gesê word nie.
Ons ken suurdeeg en meel en die vrou wat knie. ‘n Alledaagse verskynsel in ons
boerelewe. Die suurdeeg is egter nou
nie soos op ander plekke in die Skrif, iets wat die sonde aandui nie - nou is
die suurdeeg die werkende krag van die koninkryk van God. Die meel is hier die beeld van die
menselewe, meel wat so ‘n belangrike lewensmiddel is. Ons weet hoe die suurdeeg op die meel inwerk. In die nag, as niemand sien of weet nie, dan
deursuur dit die meel en gee as dit gebak is, die goeie smaak aan die
brood. So is die koninkryk van God -
die kragte van hierdie koninkryk werk deur en werk in op die menselewe - dit
werk in die verborge deur en vul die ganse menselewe met nuwe hoedanighede. Dit is die bedoeling van hierdie eenvoudige
en deursigtige gelykenis. Ons sal die
diepte van hierdie gelykenis nie kan uitput nie - veral nie in een preek nie,
nogtans wil ons dan probeer om dit aan u bloot te lê in ons swakheid.
En dan moet ons vooraf daaraan dink dat die Here hier
‘n vrou laat optree in die gelykenis.
Dit is nogal opvallend. En nou
sal u onthou dat net op een ander plek ‘n vrou in ‘n gelykenis optree - die
drie gelykenisse in Lukas 15 - die verlore seun, die verlore skaap, die verlore
penning. In elkeen van hierdie
gelykenisse tree een van die drie persone van die Goddelike Drie-eenheid
op. Die Vader wat verlang na die
Verlore Seun. Die Herder wat uitsien na
die verlore Skaap. Die Vrou wat soek na
die verlore penning. God die Vader in
sy Vaderlike ontferming, Christus, die goeie Herder in sy opsoekende liefde en
die Heilige Gees in sy vroulike en moederlike sorg en tederheid. Sy steek die kers op - soek baie noukeurig.
En nou lyk dit of die optrede van ‘n vrou in hierdie
gelykenis nie sonder doel is nie. Ons
moet hierop ag gee. Die Heilige Gees is
die teerste, moederlikste, die vroulikste in die Drie-enige God. Ons mag die werking van die Drie Persone
hier nie skei nie, maar tog voel ‘n mens dan aan dat Christus hier wil nadruk
lê op die werking, die arbeid van die Heilige Gees. Die koninkryk is soos suurdeeg wat ‘n vrou neem en in drie mate
meel inwerk. Hier werk die Heilige
Gees. Wat - dit is nie genoegsaam dat
daar suurdeeg is nie - en dat daar meel is nie - maar die twee moet bymekaar
gebring word. En kyk nou - dit is die
vrou wat die suurdeeg in die meel inwerk.
Die suurdeeg - wat sou dit dan wees?
Ons het dit netnou genoem: die kragte van die koninkryk van God. Ons kan dit egter ook noem: wedergeboorte,
vernuwing, sondebesef, gebed en berou en sondebelydenis. Dit kan wees: Christus en al sy
weldade. Dit is die suurdeeg. Maar wat sou Christus vir ons werd wees as
Hy buite ons lewe bly, afgeskei van die menslike hart en lewe. Vat ‘n bietjie suurdeeg en sit dit op ‘n
bord neer! Daar gebeur niks - absoluut
niks. Die kragte bly in die suurdeeg -
dit werk nie as dit alleen gelaat word nie.
En so bly Christus sonder werking, dit bly alleen, dit beantwoord nie
aan die doel as dit nie in aanraking gebring word met die menslike lewe nie. En wie is dit nou anders as die Heilige Gees
wat die koninkryk van God in die mens inwerk, inbring. Dat Christus gebore is, gely, gesterwe,
opgestaan en opgevaar het is nie genoeg nie.
Dit is nie genoeg as daar nie meer as dit gebeur nie. Dant sterf die mens ‘n ewige dood, al staan
hy ook langs Christus. Maar Christus
moet in die mens ingewerk word, ingedra word, Christus en al sy
verdienste. Die suurdeeg moet in die
meel ingebring word. Die meel kan dit
nie doen nie - dit lê stil en magteloos en roerloos. Die vrou moet dit vat en die werk doen. Dit doen die Heilige Gees.
Hy bring suurdeeg en meel bymekaar.
Hy maak ons Christus en al sy weldade deelagtig. Dit al is die genadewerk van Christus wat
vooraf buite die wete van die sondaar om, plaasvind! Maar dit is nie genoeg dat Christus in die mens ingewerk word nie
- die mens self moet vir Christus toeberei, voorberei word. Dink daaraan: dit is meel waarin die
suurdeeg ingewerk word. Dit is nie
konringkorrels nie! As die suurdeeg in
die heel koringkorrels ingegooi word sou dit nie werk nie. Die graan, die korrels, moet gemaal en
gebreek word, dit moet met veel sorg voorberei word vir die suurdeeg. En dan eers werk die suurdeeg en meel.
Het u dit verstaan, broeders en susters? Koringkorrels en suurdeeg werk nie op mekaar
in nie. Die Evangelie van verlossing en
genade kan niks doen in ‘n hart wat nie deur die sonde verslaan is nie - die
hart moet gemaal en verbrysel word onder die swaar maalstene van die vrou. Die hart moet ontvanklik gemaak word deur
die werking van die Heilige Gees. Die
sonde moet gevoel, gesien en bely word.
Onverwerkte en ongemaalde korrels - die suurdeeg van God se genade het
daar geen deurwerkende krag nie. Die
Heilige Gees moet ons oortuig van ons sonde en van die oordeel wat ons
verwag. Dan eers! Dan eers!
Dit is die voorbereidende werk.
Maar algaandeweg is daar vordering.
Was ons nie eers die dooie bleek graankorrels nie, ons het niks aangeneem
nie, die woorde van genade en waarskuwing het tevergeefs op ons ore geval. Moes ons nie eers gebreek en gemaal en
vergruis word nie? Was ons toe nie die
meel wat hopeloos, moedeloos en stil gelê het, sonder werking in ons, sonder
heiliging van ons lewens. Moes die
genade van Christus nie van buite af in ons ingewerk word nie. Daar is die Gees. Ons self het magteloos gestaan.
Sonder toedoen van ons hart vind ons die suurdeeg van sondevergifnis en
sondebelydenis in ons binneste. Hoe
moederlik sorg die Heilige Gees nie vir ons nie. Die meel en suurdeeg gemeng - ek meel - suurdeeg werk. Genade - heerlike genade. Hierby bly dit nie. Die die Heilige Gees laat los nie wat begin
is nie. Hy gaan voort met die werk. Daar staan: totdat dit heeltemal gerys is,
deursuur is. Die werking van die
suurdeeg bly nie tot een plek beperk nie.
Dit trek deur - dit deursuur die hele deeg. Hoekom gebeur dit - hoekom is dit so vanselfsprekend dat die hele
deeg rys en deursuur word? Dit word
hieraan toegeskryf: Die suurdeeg en meel is aan mekaar verwant. Suurdeeg was nog altyd iets wat die huisvrou
oorgehou het van die deeg van die vorige dag.
Die suurdeeg is dus verwant aan die meel. Daarom gaan suurdeeg en meel in mekaar op, hulle gaan as het ware
in mekaar op. Die werking is die vrug,
die resultaat van hulle verwantskap of ooreenkoms. Sou mens probeer om silwer met meel te meng - daar sou niks
gebeur nie. Die meel word nie silwer
nie, en die silwer nie meel nie. En hoe
sal ons dit nou toe pas? Die koninkryk
van God is verwant aan die menslike hart, wanneer die hart deur die Heilige
Gees gemaal en verbrysel is. Soos suurdeeg
en meel op mekaar aangewys is - so is ook die Evangelie van verlossing en
genade aangelê op die behoefte van die verbryselde sondaarshart. Verwant aan mekaar. Pas by mekaar. En hier staan ons by die vleeswording van die Woord. Die Seun van God het soos ons geword. Hy het aan ons verwant geraak. Hy het gekom in ons natuur, in ons swakheid,
onder ons sware skuld. Sien u die genade! Hy het suurdeeg geword omdat ons meel
was. Ons was vir God sonder smaak, soos
meel in die mond - die Here kon van ons nie geniet nie - die smaak was walglik
in sy mond. En omdat ons smakeloos was,
daarom kom Hy in ons gestalte, word Hy aan ons verwant, word Hy suurdeeg. Hy word deur die Gees in ons - die smakelose
koringmeel ingewerk, en ons het soos goeie brood, smaakvolle brood geword
waarvan God geniet. Ons het aan
Christus verwant geword - uit genade.
En dit vind elke sondaar vroeër of later uit - die verwantskap van Jesus
Christus. Lê maar goud of silwer in die
meel, die meel neem dit nie op nie. Gee
aan die verbryselde sondaar die skatte van hierdie lewe, gee hom die ganse
wêreld en hy het daar niks aan nie - dit maak aan hom niks, dit verander hom
nie, dit help hom nie. Maar gee Jesus
Christus - die suurdeeg vir die meel - Jesus Christus gee antwoord op die
diepste vrae en behoeftes van die sondaar.
En as Christus in al sy weldade dan deel is van die sondaar, dan bly die
krag van Christus , die suurdeeg, nie net beperk tot die hart, die binneste
nie, maar die suurdeeg werk deur in die hele persoon, daarvandaan in die gesin
en vandaar na die openbare lewe - die drie mate meel word heeltemaal
deursuur.
So het dit gegaan in die wêreldgeskiedenis. Die onaansienlike suurdeeg uit Bethelehem
het al die volke deursuur in elke terrein van die lewe. En so wil Christus ons deursuur. Ons mag hierdie deursuring nie teëwerk
nie. Ons moet soek na die smaak van die
suurdeeg - die heerlike smaak van Christus in ons lewe. En ons moet bid - bid dat deursuring
voortgaan - voortgaan totdat daar niks in en buite ons is wat nie van die
suurdeeg van Christus getuig nie.
Elke aanraking van my hande deur my vingerpunte, moet
wees voortwerking van die suurdeeg van Christus. Elke woord van my mond - deursuring met die suurdeeg van
Christus. En so dien ek ‘n heerlike
doel: Ek help mee uit genade om alles te deursuur die volle drie mate meel, die
hele wêreld. Ek verhaas die koms van
Christus. Christus kom nie voordat die
deeg tenvolle deursuur en gerys het nie.
Christus sê totdat, totdat dit heeltemal gerys
het. Daar is dus ‘n grens aan die
deurwerkende krag van die suurdeeg. As
die deeg gerys het en die aangename smaak het.
En dit staan vas - as die suurdeeg eers in die deeg is dan kan dit nie
anders nie - die suurdeeg werk deur na daardie totdat, daardie oomblik
van algehele deursuring. Nou op hierdie
oomblik vind die proses plaas - die deursuring van die krag van die koninkryk
van die hemele. Netnou is die deeg
gereed. En u sal miskien sê u sien so
min daarvan - in die wêreld lyk dit meer na agteruitgang as vooruitgang. Oorlog, haat, ellende, nood. Is dit nie deursuring van die koninkryk van
Christus?
In die maatskaplike lewe werk die beginsel van
Christus al vir die 20 eeue deur - en kyk hoe lyk dit - is dit deursuring. En in ons eie kerk en volk en gemeente - Sondag
vir Sondag die Woord en die Evangelie wat verkondig word - en waar is die
deursuring? Hoe lyk dit in ons
huise? Hoe sukkel ons met die
kerkbesoek? Waar is die vrees en
eerbied vir Gods Woord? Die kerke loop
leeg - is dit deursuring? En ook by en in
onsself. Ons glo die suurdeeg werk in
ons - hoe lank nou al? Wat is daar in
ons hart? Wat is daar in ons lewe? Waar is die vooruitgang? Die suurdeeg van die verlossing wat ons
deursuur tot in ons vingerpunte en ons tongpunte. Ou sondes kom maar weer en weer.
Daar duik elkers nuwes op. Ons
is lusteloos en sonder ywer. En tog -
die suurdeeg is aan werk - in die verborge donkerte binne die deeg daar doen
dit die werk. Ons sien nie, hoor niks,
weet van niks en tog gaan die deursuring voort. Toets dit aan u eie lewe.
Daar is tog groei. U is nie
dieselfde as tien-twintig jaar gelede nie - die Gees hou aan met werk. Daar is tog verandering en vernuwing. Alles vind plaas sonder dat ons dien en
weet. En in die lewe daarbuite. Nouja, ons lewe is maar God se
raadsplan. Ons wil die voleinding sien,
ons wil vordering sien. Maar God werk
op sy tempo, op sy tyd. Hy werk volgens
sy plan, stil en verborge deur na die voleinding van sy werk totdat die geheel
deursuur is. Die Here vra van ons
vertroue, vertroue in sy werk, in sy weë.
Vertroue dat Christus se woord waar is: Dit hou aan totdat die geheel
deursuur is. Dan weet ek ook: Ek hoef
in my swakheid nie te vrees nie. Al
gaan dit stadig en al is ek dikwels moedeloos - tog is God met my besig. Dit staan vas: Geen mag ter wêreld kan weer
die meel en die suurdeeg van mekaar skei nie as dit eers gemeng is nie. Geen mag ter wêreld kan die genade uit my
hart neem as die genade eers daar sy intrek geneem het. God breek nie sy werk af nie. En aan die voleinding en by my sterwe sal
God die smaak van goeddeursuurde, goedgeryste brood in sy mond neem. Nie meer meel nie, maar goeie brood, deur
Christus, die goeie suurdeeg.
Amen!