DIE WYSE MANNE UIT DIE
OOSTE.
Ds. G.B.S. Pasch
LEES: Matteus 2 : 1 - 12
TEKS: Matteus 2 : 1, 12
Sing: Ps.119 : 63
Ps. 72 : 5 en 6
Ps. 89 : 6
Ps. l16 : 1 en 3
Die eerste en die vroegste kerkgangers op die
heel eerste Kersfees wat op aarde gevier is, was die paar herders uit
die velde van Efrata. Dit was in
alle waarheid ‘n baie armsalige en bouvallige kerkie waar hulle heen is
die môre - ‘n stal. Hoewel ‘n
armsalige kerkie, was dit tog 'n
heerlike erediens - daar het hulle van aangesig tot aangesig leer ken - die
Saligmaker van die wêreld. Ons hoor die
Woord met elke erediens. Hulle het dié
Kersfeesdiens, die Woord gesien. ‘n
Allerkostelike preek.
In alle geval, broeder en suster, dit is die
mooie en die feestelike van die Kerkgang (en veral van die Nagnaalsviering) dat
ons die Here daar in die oë kyk en die Here Christus vir ons. Van die
waghoudende herders by hulle skape en van die engel wat aan hulle verskyn het,
en die boodskap wat hy gebring het en hoe hulle die Saligmaker in die krip, in
doeke toegedraai gekry het, daarvan weet U alles. Toe u 'n kind was het u dit geweet - en dit is kwalik vir ons
meer deel van die allerheerlikste evangelie.
Dit het 'n kinderverhaal geword.
Maar hieroor wil ons nie praat nie.
Ons wil praat oor ander mense wat ook dié kerkie besoek het, maar wat te
laat gekom het. Dit is moontlik dat
hulle selfs 'n jaar later gekom het as die eerste kerkgangers. Hulle het miskien laat gekom omdat hulle
geleerdes was. Die herders was
eenvoudige mense, soos kinders, en sulke mense is gou op die knieë, gou om te
glo. Daarom sê die Skrif ook dat ons
soos kinders moet word. Geleerde mense
het dikwels hulle kop vol bedenkinge en strikvrae en teenantwoorde. Geleerde
mense lees en ondersoek eerder baie boeke as om Die Boek te glo. Daar is soveel dinge in wat kwalik rym. Jy kan dit nie maar sommer aanneem nie. Daarom kom geleerde mense nie so maklik en
kinderlik by Jesus Christus uit nie.
Dit is amper nie snaaks dat die wyse uit die ooste laat by die kerkie
êrens in Betlehem aankom nie. Maar tog
kom hulle. Gelukkig! Daaroor het hulle nooit spyt gekry nie. Dit kan selfs gebeur dat die laaste eerste
word. En dié verhaal van die Wyse manne
uit die ooste ken u ook goed. Dit maak
nie in die minste saak uit watter land hulle kom, hoeveel hulle was en wat
hulle name was nie. Die Bybel vra
tewens ook nie wat u naam is, waar u woon of wat u doen nie. Dit is alles baie onbelangrike vrae. Belangrik is alleen dit dat u nie moet maak
of u nie hoor as die Here U roep of toewink nie. En hiermee staan ons in die middel van hierdie
genadeverhaal. God het eenmaal aan 'n
paar mense 'n wenk gegee, dat hulle moes kom kyk na die wonder. Die mense was heidene. Van beroep was hulle sterrekundiges. Wonders het hulle dus al genoeg gesien - want
hy wat, selfs met die blote oog, die sterrehemel afwandel, wandel uit die een
wonder die ander wonder binne. Hoe
groot is God tog nie wat die groot en hoë heelal geskep het nie. Die onmeetlike ewige hoogtes en bloutes
bokant ons, en die sterregeflonker kom uit sy kunstenaarshande. Maar dié groot Wonder het hierdie
geleerdes nog nie ontdek nie. Die
Wonder, dat God sy eniggebore Seun aan die wêreld gegee het, sodat elkeen wat
in Hom glo die ewige lewe mag hê. En hierdie geleerdes het baie geweet, ontsaglike
kennis. Hulle het selfs gedink dat
hulle uit die stand van die sterre die toekoms kon lees. Maar een ding het hulle nie geweet nie. Die allervernaamste. Hoedat ‘n sondaar vrede met God bekom
nie. En al het U alles, al weet U
alles, broeder en suster en u weet dit nie - dan is u doodarm én
doodongelukkig. En op ‘n sekere dag
loop hierdie geleerdes hulleself op die wonder af. Sommer, onverwags. Hulle
ontdek ‘n ster wat hulle nog nooit tevore voor die lense van hulle verkykers
gesien het nie. Hy wat die ster eerste
gesien het vertel dit aan die ander.
Dit word die gesprek van snags én bedags. Hieroor kon hulle nie uitgepraat raak nie. Geen wonder. God het die ster verkies om as het ware die blydskap met sy
skitterstrale uit te jubel, die blydskap van die ganse. skepping omdat Christus ook die skepping sou
vrymaak van die slawerny van die verganklikheid. Oor die ster opgetoë en bly.
Hulle is ook rnaar kinders, die geleerdes tog. Bly en opgewonde oor 'n fonds waaroor ander kwalik praat. Hulle was stomverbaas. Hulle weet, die ster moet iets beteken. Wat, weet hulle nog nie maar die ster was 'n
hele omwenteling in hulle wetenskaplike sisteem. Hier beteken die nuwe ster die ontsluiting van die hemel. Maar toe het hulle dit nog nie geweet nie. Was die ontdekking van die ster die
Wonder? Nee! Want een ster meer of minder tusen al die ander miljoene maak
geen mens gelukkiger. Die ster was self
nie die Wonder nie, maar wys na die Wonder.
Dit was die wenk, die roeping van God: God doen 'n wonder, om mense te
bring na die Wonder, na Jesus Christus en ons moet weer nagaan hoe wonderlik
dit werklik is. Onder die heidense
sterrekundiges leef die gedagtes, dat die verskyning van ‘n onbekende ster of
‘n vreemde stand van die sterre, die geboorte van ‘n groot genie of leier
voorspel. ‘n Wêreldhervormer of iets
dergeliks. Sê maar dat dit bygeloof
was, maar van dié bygeloof maak God gebruik, om onwetendes uit hulle duisternis
te bring tot ware kennis van die saligheid.
God wil heidene omskep tot Christene en aanbidders en gee hulle ‘n
stille wenk. ‘n Stilstaande
aanduiding. En kyk na die
aanduiding. God haak ‘n nuwe ster aan
die breë hemelronding. God maak, as dit
moet 'n nuwe ster, bring 'n nuwe ster navore om mense te red van die
verderf. Hoe kosbaar is die redding van
‘n mens nie vir God nie. Daar doen Hy
wonders voor. Daarvoor roep en
mobiliseer hy die hele sterrehemel. Daarvoor
skep God planete. Om mense te red? Nee - Nee, wag nog effens. Daarvoor skeur God die hemel der hemele self
oop en neem sy eengebore Seun vanuit sy ewige Vaderboesem - om sondaars te red,
u en my. Dit is nog meer as sterre
maak. Hier is waaragtig rede om te
aanbid. Die ster is maar 'n sprakelose
wenk wat krip toe wys. Hier is die
genadewonder van God. So lief het God
die wêreld dat Hy sy Seun in ‘n krip in ‘n stalkerkie lê. En op die wenk het die wyse manne ag
gegee. Hulle het nie maar voortgegaan
soos gewoonlik nie. Ons wel? Ons wel?
Deur allerlei voorvalle in ons lewe - dit hoef nie groot skokkende gebeure
te wees nie - deur die gebreekte brood,
vergote wyn. Telkemale staan God en
wink u en my toe. Sommige sluit oog en
ore. Moenie omkyk nie. Maar U is tog nie van hulle nie. U laat tog wink - nie waar nie broeder en
suster. En hoe weet ons nie presies
nie, maar die wyse manne sou in ou geskrifte gelees het van die ster wat uit
Jakob sou opgaan. Jakob, Israel, die
Joodse volk. En daarom verbind hulle
aan die verskyning van die besondere ster die gedagte dat daar dalk ‘n koning
vir die Jode gebore is. Op pad -
Jerusalem toe. Maar daar vind hulle
niks van wat hulle soek nie. Die
verskyning van die karavaan kamele in die strate moes beroering gebring het en
nog meer die vraag: waar is die koning van die Jode wat gebore is. Veral in die
paleis. Daar is die goddelose Herodes
op die troon. Hy wil graag meer
besonderhede weet oor die koning wat gebore is. Nie uit belangstelling en ‘n begeerte om te gaan aanbid nie. Nie om Jesus Christus as Saligmaker te
begroet nie. Maar bang vir
mededinging. Hy was bang - dié gebore
koning kon hom van die troon stoot.
Geen wonder dat hy bang was nie.
Jesus Christus stoot alle mense van die troon. Herodes wil meer informasie hê en die enigste wat informasie kan
verstrek is die skirifgeleerdes van die Joodse volk. Hulle weet van die koninkryk van God en van die Bybel alles
af. En toe hulle saamgekom het - uit
die vuis vertel hulle: daar en daar sal die Messias, die Verlosser van die
wêreld gebore word. In Betlehem. En die wyse manne is ‘n stap nader. Die wenk van die Almagtige en die roeping in
die natuur, die ster aan die hemeltrans het hulle by die Bybel uitgebring. Uit die sterre en wolke en berge en blomme
kan mens baie keer leer van God, die Skepper van alle dinge en baie ander
dinge, maar daaruit leer mens nooit die naam van Jesus Christus ken nie. Wie Jesus Christus is en die weg van
verlossing na God toe, kan ons alleen uit die Woord van God leer. Heerlike genade dat God mens met die Bybel
in aanraking bring. Ook hierdie wyse
manne. Nou is die soeke geëindig, hulle
tasting en dwaling is verby. Die weg is
duidelik. Dat ons die Bybel het en die
weg daarin uitgestippel deur die bloed en lyde van Jesus Christus heen - dit is
‘n onbegryplike genade. Die toe Bybel
in u huis - daarin word die weg gewys van Jerusalem na Betlehem. Nee - meer nog van Betlehem na Jerusalem,
die bovertrek die tuin van Getsemané, die hoofskedelplek, die graf. Dié weg van die lewe - uitgestippel in die
Bybel en vasgelê in die sigbare nagmaal - die gedagtenismaal aan die weg van
Betlehem na Jerusalem. Heerlike,
heerlike voorreg. Lees tog die
Bybel. Gebruik met biddende en
belydende harte die nagmaal. Daarin
spreek God met U en my; Hy sê: Dit is die weg, wandel daarin en daar sal rus en
vrede vir u wees. En nou kom die laaste
skof van die Christus-soekers. Van
Jerusalem na Betlehem, van die Skrifte na die lewende Heiland. Tog wonderlik dat die Skrifgeleerdes nie
saamgaan nie. Hulle weet alles van die
Bybel, hulle hoor dat die verwagte Messias gebore is en hulle gaan waaragtig
nie saam om te aanbid nie. Hierdie
mense het wel ‘n Bybel maar geen lewensverlosser nie. Dit kan natuurlik ook gebeur.
Hulle ken die Bybel uit hulle hoofde, maar hulle hou hulleself nie as
sondaar nie, en daarom geen behoefte om met die wyse manne saam te gaan
nie. Dit is die saak: Nie dat ons die
Bybel nie moet ken nie - dit wel ken en deeglik ook, maar daaruit leer om
onsself te leer, te leer ken as sondaar.
Dan en dan eers hunker ons Betlehem toe - Saligmaker toe, dan smag ons
na die nagmaal, die gedagtenismaal van Hom wat as Verlosser in die krip gelê
het. Arme, arme skrifgeleerdes - hulle
kry ook ‘n wenk van God, ‘n veel duideliker wenk as wat die wyse manne gehad
het - nie die veraf sterregeflonker nie, maar die lig van die Woord van
God. Maar hulle gee geen ag nie. Gaan maar aldeur voort. Arme mense.
Die wyse manne het toe in Betlehem hulle Saligmaker gevind. Rus wat hulle geleerdheid nooit gebring het
nie. Geen wonder ter wêreld kan die
Wonder van God se genadegawe vervang nie.
Die Wonder van die liefde van God.
Die Wonder dat die Seun van die mense gebore word, en sterf om ons skuld
te vereffen. Hiermee was die wyse manne
opgenome die ster, die Skrifte, die lewende Saligmaker. Hulle was so bly dat hulle alles daarvoor
oor gehad het. Goud en wierook en
mirre. Voor hulle reis het hulle hulle
verstom aan die hemelliggame. Na hulle
reis is hulle verbaas en dankbaar dat die hemeldeur self oopgegaan het. Nou kon hulle bokant die sterre sien, waar
die lig is, en waar die nuwe Jerusalem lê.
Heerlike vergesigte soos nooit tevore nie. En op die terugpad moes hulle vir mekaar gesê het: Hoe heerlik om
deur God gedenk te wees. Mag u broeder
en suster op u pad na dié nagmaal ook bly wees: Hoe heerlik om deur die Here
gedenk te wees.
AMEN!