AAN DIE BEGIN EN EINDE, DAAR IS GOD!
(Nuwejaarspreek - 1960 - ‘n Maand voor ds. Pasch se tragiese dood -
hy is 11 Februarie begrawe)
Lees: Jes. 46
Teks: Jes. 46 : 10 en 9 (c)
Sing: Ps. 107
: 1 en 3
Ps. 40 : 6
Ps. 16 : 1
By elke oujaarsdag en elke nuwejaarsdag staan die
meeste mense verleë. Iets gebeur met
hulle, maar hulle kan die diepte nie peil nie.
Wat die meeste mense met hulle verleentheid doen, is ‘n ou film. Maar wat God se kinders MOET doen met die
verleentheid is ‘n totaal ander saak.
Hulle verleentheid moet ingly in die bane van God se Woord, en DAAR word
hulle verleentheid - geloofsvertroue EN geloofsopenbaringe. Ja ons staan verleë met ons tyd. Wêreldspanning. Lewensnood.
Vredesprobleme. Sal die grens
episode tussen Idië en Sjina oorlog bring?
Hoe hoog sal die donker kolos in Afrika opstaan. Maar ook : hoe sal dit met my kinders gaan,
met my gesondheid en krankheid - sal daar oorwinninge geboekstaaf word vir God
se koninkryk in die voorste linies van evangelisasie en sending? Sal die geloofsworsteling swaarder word en
sal my ou mens sterwe, al meer sterwe?
Aan DIE BEGIN staan ons verleë - wat sal die einde wees. Maar . . . aan die begin, ook die begin van
1960, aan die begin van die volgende 10 jaar - staan God. Hy, ons God deur Jesus Christus vra nie: Wat,
Hoe, Waarom, Wanneer, nie. Hy ken aan
die begin die einde, - nee, meer nog, dieper nog. Van die begin af VERKONDIG, VERKONDIG Hy die einde, en van
voortyd af, wat nog nie bestaan nie. Hy
sê : My raad sal bestaan en al wat My behaag sal EK doen. En daarom wil ons u, u met u baie vrae en
min antwoorde vertroos uit God se Woord.
God staan aan die begin. En ons teksverse spreek duidelik van twee dinge; WAT HY VERKONDIG
EN WAT HY DOEN. Ons teksverse begin met
‘n klein, magtige woordjie : EK. EK IS
GOD. Op die man af broeder en suster,
wat staan in ons daelikse en menslike teksverse voorop? Wat het eerste gestaan in die oujaar? Ons! Ons!
Ons! Ons met ons wense, node,
berekeninge en ons PRAAT van God en oor Hom en oor die hulp wat Hy gee, maar Hy
kom agterna, later. Ons, eers ons en
dan Hy. Maar God staan eerste - altyd
eerste. Hy begin met 1960. Ons behoort ons te skaam, diep te skaam, dat
ons 1960 ook weer met onsself begin het, en nie met Hom en met sy genade
nie. ONTFERM, O GOD, ONTFERM U TOG OOR
MY. God staan ook eerste in hierdie
nuwe jaar - ons hoef geen tree te gee sonder Hom nie. Hy het ons gedra van die moederskoot af, gedra in sy verbond en
genade. Maar - wat van die onsekere
toekoms. Laat ons verder luister,
luister wat die Goddelike EK sê: Ek wat van die begin af verkondig die
einde. Vergelyk DIT met U en my vermoë
en staan dan verleë voor soveel, soveel majesteit. Kan ons op hierdie dag sê wat die einde sal wees van dag en week
en jaar? Wie sal by sy lessenaar gaan
sit en die volkere program en gebeure punt vir punt uitskrywe? Wie sal planne maak vir oujaarsdag 1960 en
sê: ek sal seker daar wees? Ja, die
mens, 1960 se mens kan baie doen. Sal
ook baie doen dat die ONS, DIE EENVOUDIGES, verbyster. Maar watter mens kan die sluier maar net
effens lig. Ons staan verleë met môre
en netnou en oujaarsdag - daar is net EEN.
EEN wat die antwoord weet, en antwoord gee. Die Een is EK, sê God. Ek
is aan die begin, maar nie as die groot onsekere wat pateties moet afwag wat
daar sal gebeur en min of meer hulpeloos die toekoms inkyk nie. Maar Hy is die magtige Koning van die
eeue. DIE KONING wat aan die begin die einde
verkondig. Wat deur niks verras word,
wat alles weet, wat die dae laat voortkom uit sy hande soos ‘n ketting. Maar waarom praat die Here eers hier van
verkondig. Waarom word die boodskap oor
die toekoms so sterk beklemtoon.
Hierom, eenvoudig, heerlik, hierom: dat Israel sal weet dat dit nie iets
vreemds is wat met hulle gebeur nie.
Asof hulle onverhoeds die nag ingedryf is sonder verlossing en
uitsig. Hy het gewaarsku en weer
gewaarsku dat die toekoms swart sou wees van donkerheid en nie ‘n enkele nood
kan hierdie volk as iets onverwags oorval nie.
Maar dieselfde God het ook van die begin, sy beproefde kinders vertroos
met die belofte dat Hy hulle nie sal verlaat en vergeet nie. Jesaja noem eeue vantevore die name van
Sirus en Babel. Hulle word deur God
verkondig van die begin af sodat as hulle toeslaan die volk sal weet - God het
dit verkondig en die God sal ook uitred soos Hy daarby verkondig het. En vir ons geld dit ook. Ook vir ons verkondig Hy die afloop. Nee - Hy gee nie op 1 Januarie ons ‘n
beknopte oorsig van die gebeure van 1960 nie.
En tog laat Hy ons nie onkundig oor hierdie jaar en alle ander tye wat
voor lê nie. As die mens groot word,
die wêreld in hulle oorlogsugtigheid rammel en die mens se plan die aarde en
die maan omsirkel, dan mag ons nie terugsak, en verjammerend in ons vrees
wegkruip nie. Nee - God sê : Van die
begin verkondig Ek die einde. Nee -
Christus sê : Het Ek dit nie vir julle gesê nie. Nee - die groot einde van die dinge is aanstaande : God het dit
verkondig: Christus kom, die Nuwe Jerusalem kom. Die donkerte kom nieteenstaande vae liggies en groot
verligting. En deur die donkerte breek
Christus in sy verskyning : heerlik, heerlik, heerlik. Sien u aan die begin van die nuwejaar met
heilige heimwee uit na die groot einde, die einde wat aan ons verkondig
is. Maar in die verkondiging lê nog
iets meer opgesluit. As Hy VERKONDIG
dan WEET Hy ook wat elke oomblik sal bring.
Die hele jaar 1960 lê vir ons alleen maar soos ‘n saadkorrel en ons weet
nie wat daaruit sal opskiet nie, maar onse God sien elke ontkieming, elke
uitgroei en rypwording. Hy verkondig
nie net nie, maar weet, ken, deurgrond ook waarom dit ‘n doring, of ‘n blomkelk
sal wees. Elke bloeisel, elke tak van
alle gebeurtenisse ken Hy en Hy weet van die stormwind wat die boom sal skud,
en van die geseënde reëns wat die aarde sal deurdrenk. Hy wat aan die begin staan ken die einde . .
. en alles, alles wat tussenin lê.
Begin ons die jaar ook so met diepe ontsag vir Hom wat alles weet en is
daar by ons dankbare aanbidding van die alleswetende God. Ja seker - ons moet planne maak en agendas
optrek, ons moet voorsorg maak en versigtig wees, maar die vraag is of ons dit
alles doen in die ootmoedige besef dat die Here alleen alles weet en dat Hy die
Enigste is wat die afloop helder en duidelik sien. Ag - in ons tyd waarin die mens groot dink, doen, lewe, ontbreek
aan ons soveel DEEMOED. DIE BESEF VAN
ONS EIE KLEINHEID IS SOEK, terwyl dit ons pas, nederig pas om diep neer te buig
voor Hom wat op die troon sit en wie se oë die hele aarde en alle tye
deurwandel. Hy ken die einde en ONS? Ons wag daarop. Loof God omdat Hy groot is.
Maar as ons God loof moet daar in ons lofprysing ook kinderlike vertroue
aanwesig wees. En hierdie vertroue word nog sterker as ons nou-nou sal sien dat
Hy nie alleen die Weter, maar ook die Werker van alle gebeure is. En nou moet ons kinderlik weet en vertrou
dat ons ook in hierdie nuwejaar nie te doen het met ‘n onwetende God nie, maar
met ‘n wetende God voor wie se Vaderoog niks verborge is nie - niks, niks nie. Nie ‘n vreugde wat kom nie, nie die smart
wat U sal tref nie, nie ‘n lewe wat Hy gee nie - ook nie ‘n sterwe as Hy dit
wil nie. God weet dit - Hy alleen. Is U daarmee tevrede? Gelowig tevrede? Laat U dit alles in sy hand of probeer u om u lot en lewe in u
eie hande te neem? Dink u miskien om
die Here behulpsaam te wees in sy versorging oor u? Moet u nie misgis nie. Hy
oorspan met sy Vaderlike en Goddelike oë u hele lewe en u MOET, u MOET tot Hom
bid en aan Hom u nood bekend maak - maar u vertel Hom niks nuuts nie. Hom wat van die begin af verkondig die
einde. U Hemelse Vader weet dit - maar
laat Hom dit ook kinderlik weet. En so
gaan ek met ope, kinderlike, blye oë die toekoms in. Want my Vader weet dit - Hy wat van die begin af die einde
verkondig. Dan het ONS nie nodig om die
toekoms te ken nie. DIT hoef ONS nie te
weet nie, as ons maar weet dat ons die eiendom van Christus is. Dan weet ek niks van 1960 nie, en ek weet
niks wat daarin met my sal gebeur nie - maar MY Vader in Christus weet - MY
VADER - - genoeg. Heerlik genoeg. Kom maar 1960. Maar, Hy wat aan die begin staan sê nog meer. Dit is Hy wat nie net die einde en alles wat
tussenin lê verkondig, sien en weet nie - MAAR - Hy is ook die groot en magtige
Werker van alle gebeure wat met sy werking, sy groot en omvattende plan
uitvoer. Hy sê : My raad sal bestaan en
al wat MY behaag, sal EK doen.
Kostelike, troosryke uitspraak.
Want as God hier van sy raad praat, dan verkondig dit dat God volgens ‘n
ewige vasgestelde plan werk. En die
plan is die toonbeeld van sy goedheid en geregtigheid, sy wysheid en
waarheid. Hoe kan dit anders. Elke denkende mens werk volgens plan en elke
bouer bou volgens vasgestelde plan. SAL
GOD DIT NIE VOLMAAK EN HEILIG DOEN NIE - Hy die heilige en volmaakte Kunstenaar
en Bouheer. Agter alles, alles van sy
dade lê daar sy raad. Hierdie
vasstaande, onwrikbare, volmaakte raad beheers ook 1960. Elke dag is daar arbeiders in die vervulling
van sy raadsplan, van sy besluit, en die besluit is soos dit God behaag. Soos Hy dit wil. In sy plan het hy dus ‘n Goddelike behae wat Hom bevredig, waarin
Hy Hom verbly. Nooit, let tog daarop,
nooit doen God iets, ook nie in hierdie jaarwentelinig nie, wat Hom nie
aanstaan, wat Hom nie behaag nie. Nee -
Hy is geen despoot wat weerbarstig losruk op alles omdat Hy wil nie. Hy is die heilige en volsalige God wat in sy
plan, sy raad, sy besluite, sy behae skep, omdat sy Goddelike selfliefde niks
anders kan begeer as die verheerliking van sy heilige Naam nie. So is dit dan. En nou kom die vrae.
Moeilike vrae en moeilike antwoorde - maar sê, waar is daar ryker troos
as hier. God se raad - ja, en wat Hy
behaag - ja. Maar waarmee sal 1960 vol
wees anders as met die volkere se dade en verantwoordelikhede? ONS dade, werk, denke en wat nog meer. Wat sal ons sê? God se raad bedoel nie dat ons niks doen nie en sy behae
vernietig nie ons verantwoordelikheid nie.
Ons moeilikheid is - ons plaas wat ons wil en wat ons doen langs God se
wil en sy raad. Dit mag nie, kan
nie. Langs God is niks en niemand te
sitte nie. Nee - Hy staan bokant ons,
oorkoepel met sy raad en welbehae ons klein daad en doen en denke. In die ontsaglike tentdoek van sy raad is
daar plek vir alles wat die mens doen. Rusland
word sterk - die Gog en die Magog loer oor die oosterkim, die ruimtes raak
verower, ek werk en spit en skoffel - maar God het gespreek, GOD laat dit kom,
GOD het dit voorberei. Dit verkondig
Gods Woord aan ONS van 1960. Hulle
dink, woel, worstel, diplomaseer, oorweeg kanse - maar die grote God sê kalm
uit die hoogte: MY raad sal bestaan en al wat MY behaag doen EK. So word die gelowige se kwellinge stil. Sal u, u wil deurvoer? Sal die grotes van die wêreld dit doen? God sê : Ek het my program vir hierdie jaar
- ook met .......................... EN met u en my - dag vir dag - klaar. Maar dit onthef ons nie van ons roeping
nie. Ons staan almal in sy diens. En rekenskap sal Hy vra. Hy wat alles weet. Maar deur al die werk om ons heen, voltooi die almagtige sy
wêreldplan en bereik Hy sy doel op sy tyd.
Ek sal doen wat My behaag. En
nou moet ons eintlik ons koerant lees met hierdie verse van Jesaja langs
ons. Want in die wêreld lyk dit
anders. Dis nie God wat sy besluit
uitvoer nie, maar die mense wat hulle planne deurvoer. Met hoeveel vrae sit ons opgeskeep? Hoe kom ek by die dinge wat so lyk en wat ek
sien, verby? SO: laat ons teksverse in
1960 in u hart heerskappy voer - gelowig en kinderlik. Hy doen nou en elke dag wat Hom behaag. Hy volvoer sy plan. Sy koninkryk kom. Sy kerk word bymekaar gemaak.
Die jare en die eeue (as daar nog eeue oorbly) rol voort na die groot
einde toe. Volgens God se heilige
wêreldplan. Niks keer sy besluite.
Troos dit u? Of skrik u? Troos put ek alleen as die soewereine, ewige
God MY Vader is in Jesus Christus. Ons
rus alleen in sy raadsbesluit en welbehae as ons ware kennis het van ons
versoening met God deur die verdienste van Christus. Ja - ons het dikwels oor God baie te sê en sy Naam word baie
genoem - maar al te dikwels is dit ‘n oppervlakkige sondige geklets omdat die
eenvoudige diepte ontbreek - hierdie eenvoudige diepte waarop ek in hierdie
jaar ook gedurig moet antwoord: Is God MY Vader? Is ek sy kind? Is
Christus my Verlosser? Is ek SY
eiendom? EN solank as wat ek hierop nie
antwoord - of gemaakvroom antwoord: ek weet nog nie, dit is verwaand om dit te
weet, - solank is daar vir my min troos, nog minder rus. Dan verdrink ek my op nuwejaar om te vergeet
wat moontlik wag. Dan is daar OP my
onheilige skrik, al weet ek dit nie.
Maar andersom - as ek weet dat ek met liggaam en siel nie aan myself
behoort nie, maar aan my getroue Saligmaker Jesus Christus - dan lê 1960 voor
my en ek sit die eerste treë op die donker pad met gelowige gerustheid. SY raad staan vas. SY verkiesing onberoulik.
In my ellendige lewe voltooi Hy Sy raadsbesluite. Wie, wie, wie - so juig my hart, sal my ruk
uit God se raad en uit sy welbehae. Ek
is in die hande van DIE GOD wat van die begin af verkondig die einde. En die einde is nie vir ons verborge
nie. 1960 is ‘n stap nader aan die
grote - grote dag: Christus op die wolke - die einde soos onse God dit van die
begin af verkondig het.
AMEN.