Kyk, Hy kom met die wolke!
(Voorbereidingsdiens)
Lees: Daniël 7 : 9 - 28
Teks: Openbaring 1 : 56 - 58
Sing: Ps.
107 : 1
Ps. 102 : 11, 12 (Ps. 86)
Ps. 73 : 10
Met die voorbereiding word daar
gewoonlik navraag gedoen na ons selfondersoek en skuldbelydenis en
sondebesef. Die sondebesef sirkel dan
gewoonlik rondom daelikse sondes wat ons met hart en hande doen. Maar ons kan ons ook ernstig besondig met
kleingeloof en geloofsverwildering, met ‘n ongeloofsuitkyk op gebeure en dinge,
met ongeloofstaal en met geen geloofsvergesig en visie nie. Want, sien u, broeder en suster ons leef in
‘n benouende tyd wat ook ernstige geloofsvrae omhoog laat rys. Al lyk dit nie na ‘n benouende tyd nie - tog
- wat wag, wat staan voor die deur? Wat
is die einde van dit waarmee nou begin is?
Watter geweldige kragte toets mekaar nie in ons tyd nie? Nie net magtige teen magtige nie, maar ook
die verstand en ontwikkeling van die mens teen die ruimtes van God bokant
ons. Het u nie ookal gevra, hoe kan God
dit toelaat nie? Verrys daar nie ook
voor u oë ‘n tweede toring van Babel nie, ‘n onheilige opklimme na God. En is dit vir u snaaks dat die begin juis
plaasvind by die Godlose en Godignorerende Rusland.
Alle onheiligheid se kenmerk is
juis ‘n daging van God, ‘n verheffing om soos God te wees totdat die verheffing
nie meer sateliet sal wees nie, maar mens.
Die Antichris. Sal dit vir u
snaaks wees as die mens wat die ruimtes verower en die maan en sterre, wat God
alleen tot dusver van naby gesien het, van naby sien, dat hy naderhand gaan
dink: Ek is God?
Ons beleef angsvolle tye. En dit is geskiedenis. ‘n Draaikolk van gebeurtenisse waarin ons
meegesuig word en verdwarrel word. Hoe
staan dit met ons geloof in hierdie verwarrende tyd? Het ons ‘n geloofstandpunt, ‘n vaste punt vanwaar ons die dinge
gelowig beskou, of wentel ons saam met dié verbysterende dinge rond sonder
vastigheid. En wat moet ons vir u sê in
hierdie nood en warreling? Ek sou dit
nie weet, as dit nie in die Skrif gesê word nie. Die Skrif praat ook van hierdie nood en gaos en verwarrende
gebeure maar sê dadelik daarby: Christus kom in die gaos en verwarring. Kyk, Hy kom met die wolke. En in sy koms bemerk ons drie dinge:
1)
Die loflied van die kerk.
2)
Die rouklag van die wêreld.
3)
Die bemoediging van God.
Het u die lofsang in ons teksvers
gehoor: Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy
bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die
heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid.
Amen.
Ek kan my voorstel dat u in u hart
spreek: Só ‘n Lofsang is in ons tyd onvanpas.
Ons moet dit bewaar vir beter tye as die krag en heerlikheid van God
geopenbaar word in sy koms. Maar nou het
ons te doen met swaar tye, met die krag en heerlikheid van die mens. Dit lyk of God geen krag en geen heerlikheid
het nie. Maar as (u) hierdie wrewel
ooit omhoogrys in u binneste, dan moet u ook eers let op die skrywer
hiervan. Hy noem homself: Ek Johannes,
julle broeder en deelgenoot in die verdrukking - ‘n banneling op Patmos ter
wille van Jesus Christus. Vir hom was
dit behalwe gaos en verwarring, ook nog verdrukking. Ons voel dit nog nie aan ons lyf nie - hy wel. En hy spreek nie vanaf ‘n hoë troon nie,
maar uit die naamlose ellende van sy bannelingskap en ouderdom en menslike
verdrukking. En wat gaan hy nou tot
vertroosting van die sewe gemeentes van Asië sê? Hy gaan praat oor Hom wat ons liefgehad het. Eintlik staan dit mooier in die Grieks. Sy liefde waarmee Hy ons liefgehad het, is
nie ‘n rykdom uit die verre verlede nie, maar daar staan, Hy wat ons lief
het. Toe en nou in ‘n ewigdurende
hede. Hy bewys sy liefde ook nou in
hierdie tyd van verwarring en nood en vrae. Miskien kan mens ophaal dat daar in
alle geval nie baie van sy liefde blyk nie.
Die omstandighede is só anders.
En tog as hy ons lief het en vrygekoop het, het, het, dan beteken dit
tog dat ons vandag vry is. Ons is
bevrydes. Christus koop nie net vry van
sondes nie, maar ook van alle gevolge van die sonde naamlik verwarring en gaos
en verdrukking. Johannes juig: In Hom
is ons vry. Vry van alle verwarring ook
wat die satelliete en wat nog meer bring.
Vry - en dit sê die man wat verklik gebonde is in die tasbare kettings van
die ballingskap. Ons is vry, sê
Johannes - en die ander, hulle is die gevangenes wat hulle selfs die vryheid
van die hemelruim toereken. Daarom sê
Johannes : moenie julle misgis nie. Net
hulle is vry wat deur die Seun vrygemaak is.
Die groot verwarring en gevangenis van hierdie lewe is die sonde. Alleen hy is werklik vry wat van die
sondebande vry is. Hierdie vryheid word
deur geen sondebande beroof nie. Wie is
dus die vryes in hierdie wêreld? Die
ruimteveroweraars, die atoombombesitters, hulle wat die Christus vrylik
vervolg? Nee! Maar hulle, net hulle wat
deur die bloed van Christus vrygekoop is.
Vry! En in die ware Christelike
vryheid is daar ook nog ‘n verheffing, ‘n meerdere genade, en ons gemaak het
konings en profete. Konings! Wie regeer daar in die wêreld? As mens op die gebeure en omstandighede let,
sê ons die grotes van hierdie wêreld en wat Johannes betref: die keiser en sy
ryksgenote. Van ‘n magsposisie in
hierdie wêreld is niemand skynbaar verder verwyder as die kerk van Christus
nie. En tog. Christus maak nie net los
en vry nie, maar herstel ons in die oorspronklike glorie. Wie was koning van
hierdie aarde ná die skepping: die mens natuurlik. Christus maak hom dit weer.
Ons is konings. Ons regeer. Ons gee stuur en koers aan hierdie
wêreld? Hoe benader u die gaos en
verwarring en verdrukking in ons tyd?
Hoe staan u teenoor al die vrae en vrees van die
hemelruimverowering? Soos ‘n
koning. Waardig, onbevrees, wetende ons
is ook Konings oor al hierdie gebeure. En ons koningskap is verbonde aan ons
priesterskap. Ons koningsregering is
nie iets van brute geweld nie, tewens ons is Konings én Priesters en ons regeer
op ‘n eienaardige manier - ons verbrand en verteer onsself in ware dankbaarheid
voor God ter wille van Jesus Christus.
Daar styg wierookgeure voor God op van mense wat verbrand word op die
altaar van dankbaarheid en dié geure seën die hele lewe. Hulle regerende koningskap bestaan dus in
die offerhande van hart en lewe. Hulle
sit aan sy regterhand - ewige regeerders en hulle regering bring nie dood en
verwoesting nie, want as priesters seën hulle God en die naaste. En dit is juis die geloof wat ons kort
kom. Dis geloof dat ons regeer in
hierdie wêreld en nie, regeer word nie.
Wie regeer? Nie die man wat
dekrete en verbanninge en afsettinge uitvaardig nie, nie die maghebber vir wie
die mense sidder nie. Maar die man, wat
niks kan uitvaardig nie en net bevele ontvang, wat selfs moet swig voor die
geweld, maar wat nog kan vashou. Ek
regeer met Christus. Ek is ‘n gekroonde van God. En so hang alles daarvan af of u te midde van alle snel gebeure
en verskrikkinge en vrae, nog u eie grootheid en glorie ken en of u nog weet
wat u in Christus besit. Wie is voor
God vry? Wie raak nie verwar nie, wie
sit nie in kettings en bande nie. Dit
is u wat in Jesus Christus glo. Vry is
hy wat nie die sonde doen nie. Konings
is nie hulle wat op die troon sit en ‘n hofhouding daarop nahou en leërs
aanvoer nie, maar hy wat deur Jesus Christus weer op sy oorspronklike plek kom
en teruggeplaas word. Hy wat in die Naam van God oor alle dinge regeer, maar
nie om homself te laat skitter nie, maar om hom ter wille van God te verteer en
te verbrand as priester. Ons is
vrygemaak. Ons ís konings en priesters. Maar Christus het ook nog werk vir die
toekoms. Aan Hom die heerlikheid en die
krag tot in alle ewigheid. Geen wens,
geen seënbede, geen verwagting nie. Dit
is werklikheid. Hy het die heerlikheid
en krag tot in ewigheid. En nou sien
ons Johannes deur die geloof triomfeer en die gemeente ophef bokant die
verwarring van die oomblik. Die keiser
wat hom op Patmos geplaas, het krag vandag.
Net nóú. Maar Christus het krag
tot in ewigheid. Hulle wat nou verwarring en gaos en vrees skep en inboesem het
groot krag - nou en miskien nog môre.
Maar Christus het krag tot in ewigheid.
Waarom beef u, kruip u beteuterd weg in die hoeke van hierdie
wêreld. Miskien kan u antwoord: Ons
sien van Christus se krag en glorie eintlik tog niks nie. Wat ons daeliks moet eet soos bitter brood
is die krag en die glorie van die grotes.
Is die nie maar dweepsiekheid om te sê: Christus het heerlikheid en krag
tot in ewigheid nie? As dit só is moet
ons tog die krag agterkom en moet Christus dit laat geld in hierdie lewe -
nou. Nou ja - sê Johannes - kyk Hy kom
met die wolke. Dáár kom Hy aan op sy
wolkewa. Daar om die wolkewa skyn en
skitter sy krag en heerlikheid. Sien u
Hom in sy majesteit. En dit is weer ons sonde.
Ons kyk deesdae baie op - wolke toe.
Maar ons oë soek daar die verganklike sirkelinge van mensewerk - en ons
skrik en sidder, maar ons sien nie meer en kyk nie meer op om te sien :
Christus op sy wolkewa. Ons verplaas
Christus se wolkewa tot die laate dag, maar Johannes herinner ons Christus se
woord voor die Sanhedrin: Van nou af sal julle die Seun van die mens sien kom
op die wolke. Dis is nie iets in die
verre verskiet nie, maar dit is nou.
Kyk, daar kom Hy. Nee, u moet
nie op soek na sy wolkewa die lug in kyk nie.
In die Bybel word die see ‘n simbool van die deienende, beweeglike,
onrustige, volkerelewe. En die
onweerswolke is die aanduiding van benouende, gaotiese kragte - hulle beeld die
spanning en gisting in die wêreld af - die botsing van die wêreldkragte. Lees nou weer: Kyk - kyk - nie kyk eendag
nie - kyk nou - Hy kom met die wolke.
Hy ry op sy wa - kyk hoe beweeg die wolkewa - Kyk hoe kom Hy aangery op
die wêreldstorms, oorloë, krisisse, satelietbedrywigheid, vuurpylproewe,
atoombompaddastoele, kyk, kyk hoe sit Hy bo-op die wolke - kalm, rustig in sy
krag en heerliheid. Wat ons sien en
beleef en in die koerante van lees: dit is Christus se wolkewa. Hy kom, Hy kom. Nee, daarmee is ons benouenis en verwarring en vrae nie weg nie :
romdom Hom is wolke en donkerheid en dit verskrik ons en niemand druf dit waag
om te sê, agter die wolke skyn die son nie.
Maar die geloof sê: In alles wat ons verwar en verskrik kom Christus
aangery op sy oorwinningstog. Alles is
verlossingstekens en die tekens dat alles veilig in tuig en leisels vasgelê
is. Wie ry op ‘n rytuig sonder stuur. So kom Christus op die wolkewa - sy
verskriklike wolkewa, maar Hy het beheer, die stuurstang, die leisels en stuur
dit na die Godsbeplande en gewisse einde.
En dit maak dit vir ons anders.
Al lyk dit so dwaas en onmoontlik dat dit alles kan diensbaar wees aan
ons uiteindelike verlossing - tog is dit waar.
Ons sien Hom nooit jaag met sy donderende wa van wolke en sy vurige
perde van wolkkolomme nie. Christus in
sy krag én in sy heerlikheid. Ons en ek
het geen woorde om uit te druk wat alles in die wêreld aangaan, maar dit weet
ek - in al die donkerhede en verwarring is Christus. En as ons dit só sien dan verdwyn die sonde van ons kleingeloof en
selfs ongeloof en sing ons die loflied van ons teksverse soos weergegee in ‘n
psalmvers: Geloof sy God: Hy het ons vrygemaak; die woedende ondier het ons nie
gemaak. God het die dodelike sprong
gestuit en ons nie oorgelewer tot ‘n buit.
Dus loof ons God: Hy het ons vrygemaak.
En nou omdat die kerk Hom in die geloof reeds sien kom, word haar angs
en verwarring omgeskep in ‘n blye lied, ‘n lied wat ons ook sal sing in nog
veel donkerder tye. Maar - elke oog sal Hom sien - ook hulle wat Hom
deursteek het. Die kerk sien Hom vandag reeds soos wat Hy aangery kom op die
wêreldstorm na die einde toe. Die
wêreld sien Hom nog nie. Hulle sien net
die wolke, maar nie vir Christus wat van die wolke sy wa maak nie. Maar hulle sal Hom sien, ook dié wat Hom
deursteek het. Hierdie is ‘n woord van
die profeet Sagaria wat Johannes twee maal aanhaal. Die eerste keer in sy evangelie van die Goeie Vrydag waarin hy
vertel van ‘n soldaat wat Christus deursteek met ‘n spies. Dit was dan waarvan Sagaria gespreek het -
hulle sal sien in wie hulle gesteek het.
Nou kom die dag van bekering en rouklag by baie van Israel. Hulle het gesien in wie hulle gesteek het -
én hulle bekeer. By Christus se
wederkoms skryf Johannes weer die woord van Sagaria. Dan is dit baie anders.
Weer ‘n rouklag omdat hulle Hom deursteek het, maar nie van bekering nie, maar van afgrysing, ontsetting. Bekeringstyd verby. Genadetyd verby. Christus is nie net deur een soldaat deursteek nie - maar eeue
deur deursteek hulle Hom. Elkeen wat by
Hom verbygaan sonder bekering, elkeen wat soek om sy kerk uit te roei, elkeen
wat Hom tot swye wil bring deur sy diensknegte die mond te snoer. Maar nou weet hulle wat hulle doen en daar
klink nou nie op : Vergeef hulle want hulle weet nie, wat hulle doen nie. En hulle sal Hom sien wat hulle deursteek
het en hulle sal oor Hom rou bedryf - maar dit sal die rou van die wanhoop wees
en daar kom geen daeraad van nuwe genade nie.
Te laat - te laat. Ons sien
Christus nou al en sal Hom in die geloof bly sien - hulle sal Hom eers dan
sien. Verskriklik sien sal dit wees vir
hulle wat Hom dan eers sien en nie nou al nie.
En of dit waar is. Ja - ja sê
God. Amen - sê die kerk van
Christus. Ja - Amen. Ja - waaragtig - dit sal gebeur - dit is
waar. En wat is nou die waarborg van
dit alles. Waarom staan dit so
onwrikbaar vas? Wel - God sê: Ek is die
Alfa en die Omega, die A en die Z, die begin en die einde, wat is en wat was en
wat kom. Wat die mense begin dit
voltooi hulle nie. Hulle begin by A en
sê somtyds B, maar by Z kom hulle nooit.
Mense maak ook geskiedenis, doen groot dinge en wonders, maar hulle wat
dit vandag doen is nie dieselfde as die van gister nie. Hy wat is, kan nooit sê dat Hy was en hy kan
nie waarborg; Ek kom nie. Mense omspan
nie verlede, hede en toekoms nie. Maar
God is die A - ook by die Z. Ek is die
God van die eerste, eerste dag, maar op die laaste dag is daar geen ander as Ek
nie. Ek omspan alle eeue en daarom is
dit net My werk wat voortgaan. Ag ja,
laat die mense speel met bommetjies en blink maantjies en eie sterretjies - Ek
sit van ewigheid tot ewigheid bokant die ruimte waar die mens só om worstel en
bokant die tyd waarin die grootstes versink.
Die Almagtige - die Almagtige - ons Vader in Christus. Is ons nie skaam oor ons vrees en
kleingeloof en verwarring nie? Sien u
nie dat alles sonde is nie? Is u bang
vir al die raaiselagtige en stormwolke - weet tog dat Christus daarop ry om uit
altyd meer monde die lofsang van die kerk op te wek en om die roubedryf van die
wêreld vir ewig vas te lê. Kan u ook al
Amen sê hierop? As u nog nie kan nie -
hou dan vas aan die “Ja” uit God se mond en deur sy “Ja” sal ons amen moontlik
word. Smeek om vergifnis om u vrees en
kleingeloof en skrik ter wille van dinge wat vergaan en klem u in die geloof
vas aan die Alfa en die Omega, die A tot Z, die Almagtige. En laat die sigbare tekens van brood en wyn
u geloof versterk dat u aan Christus behoort deur wie die Alfa en Omega die Almagtige
ons Vader geword het. En as Hy ons
Vader is - hoekom sal ons bang wees vir Christus se wolkewa.
Amen.