DIE BESONDERE ERNS VAN
DIE DOODGEWONE DINGE
G.B.S. PASCH
(Nagmaalspreek)
Lees: Luk. 13: 1 — 9
Teks: Luk. 13: 6 — 9
Sing: 1) Ps. 92: 1 en 5 (Ps. 9: 1, 5 en 7)
2)Ps.
119: 31
3)Ps.
65: 2
4)Ps.
32: 5
5)Ps.
100; 104; 116
Ons teksverse praat van gewone en alledaagse
dinge. Want die eienaar kom al vir die derde jaar kyk. En as iets drie jaar
lank geduur het, dan is dit beslis nie meer iets buitengewoon nie. Tog kry
hierdie woorde besondere betekenis as ons let op die moment waarop Jesus
Christus hierdie gelykenis uitspreek.
Daar het ‘n skokkende ding gebeur. Ek wou nie
praat hoe ons koerante dit sou uitgebuit het nie. Jesus Christus het so pas met
die skare gepraat oor die tekens van die tye en hulle vermaan om daarop ag te
gee. En toe storm sornmige op hom af wat Hom ‘n berig bring van ‘n ontsettende
ramp in Jerusalem. Pilatus het ‘n klompie Galileërs wat gekom het om hulle
offers in die tempel te bring, tydens hierdie heilige handeling laat doodslaan.
Met ontsetting het ooggetuies gekonstateer dat hulle gesien het hoedat die
Galileërs se bloed meng met die bloed van hulle offerdiere. En dit was die
tweede ramp in ‘n kort tydjie.
Daar is agtien dooies betreur by ‘n ongeluk in
Siloam. Hierdie twee gebeurtenisse het die mense baie laat skrik. En tog - die
skrik het ook maar nie baie lank geduur nie. Hulle het in daardie tyd hulle eie
teologie gehad, wat ook baie van ons teologie is, waarmee hulle hierdie
tragiese gebeurtenisse verklaar het — so naamlik: die Here het hierdeur laat
blyk sy groot en ernstige toorn en daaruit kon mens aflei dat die slagoffers op
een of ander manier baie ernstig teen Hom gesondig het. Daarmee het hulle dan
God se optrede geregverdig: Ek dank U Here dat ek nie is soos die agtien by
Siloam en die ongelukkige Galileërs nie. ‘n Dankgebed wat ook aan ons nie
vreemd is as ‘n ramp ander mense tref nie. Maar die ware roepstem en bedoeling
van God in hierdie gebeure feite het die skare nie meer verstaan nie. Daarom
moet Christus met alle klem tot hulle spreek van die erns van hierdie besondere
dinge sodat hulle hulle kan bekeer: indien julle nie bekeer nie, wag daar vir
julle dieselfde lot.
Teen die agtergrond van hierdie gebeurtenisse
kry die gelykenis van die onvrugbare vyeboom uit ons teksverse ‘n baie
duidelike omlyning. Die Here het nou drie jaar lank besondere sorg en moeite
bestee aan sy wingerd, aan die Vyeboom of Israel. Johannes die Doper het
gepreek en gedoop. Na hom het Christus gekom om die Evangelie aan die sondaars
te verkondig en Hy het die prediking bewys en bekragtig met baie wonders. Nou
mag die Here tog vrugte verwag. In die hele periode tussen Maleagi en Johannes
het God sy vyeboom bykans onbewerk laat lê. Maar as Johannes kom dan spaar hy
nie krag of moeite om die wingerd vrugte te laat dra nie. En as Johannes wegval
is Christus besig met nog ‘n intensiewer arbeid en bewerking. God soek
tevergeefs na vrugte en daarom wil Hy die vyeboom uitroei. Want dit is die
ontsaglike erns van die gewone dinge. Die optrede van Johannes en van Jesus
Christus het aanvanklik ewe veel belangstelling getrek, maar na ‘n rukkie het
die belangstelling en entoesiasme gedaal. Na ‘n rukkie vind hulle dit al weer
baie gewoon dat Johannes doop.
By Christus duur dit ietwat langer. Tog vind dit
op duur nie ingang nie. En netnou keer baie van sy dissipels die rug op Hom.
Dit het nou drie jaar geduur. Wat! Daar word gepreek, baie gewoonweg gepreek.
Maar daarom des te ernstiger. Want dit staan vas. Gewone dinge is baie, baie
ernstiger as besondere dinge. Gewone preke, gewone nagmaal, gewone huisbesoek —
is eintlik God se manier.
Ja, die bloedbad in die tempel het ‘n paniek
veroorsaak, en die ongeluk by Siloam het hulle diep geskok agtien dooies. Maar wat Christus preek. Ag,
nou ja - gister het Hy op ‘n ander plek presies dieselfde gedoen en more is Hy
êrens anders. Hulle raak daaraan gewoond. Hy het so pas ‘n duiwel uit iemand
gedrywe —haai die hoeveelste is dit nou al?
Die besondere dinge laat ons tenminste nog
bietjie skrik, maar die gewone dinge aanvaar hulle sonder skrik, of sonder
bewussyn. Ons maak ook so. ‘n Vliegramp, ‘n orkaan, ‘n sikloon — verskriklik.
Maar God se Woord wat praat van Ewige, Ewige heil en ewige hel en hitte — en
verknersing — geen indruk — gewone dinge. Om nie eers te praat van die nagmaal
waarin niks minder as die DOOD VAN GOD SE SEUN gedenk word nie. Gewone dinge
wat nie meer tot ons raak of spreek nie. Die Jode sê: 18 dooies by Siloam en
die bloed van die mense tussen die bloed van die offerdiere — verskriklik. Maar
God sê: Drie jaar lank is die Evangelie verkondig. Ek het julle nie drie jaar
lank, daeliks laat skrik deur besondere rampe nie — maar drie jaar het Ek
daeliks gesoek en getrag om julle te beweeg tot geloof en tot bekering en tot
gehoorsaamheid van die verbond.
Ons sê: Verskriklike ongeluk, tragiese moord —
hoe vol is ons koerante. God sê: Twintig, vyftig, tagtig jaar het julle nagmaal
gebruik, die Evangelie is aan julle verkondig - Ek het julle nie daeliks laat
skrik deur besondere daelikse rampe nie, maar gesoek gesmeek om julle te beweeg
tot ware bekering en tot ware skuldbelydenis onder die nagmaal.
Waarom gaan Israel verlore? Omdat hulle die
besondere dinge nie na waarde skat nie? 0 nee. Maar omdat hulle die besondere
dinge nodig gehad het, nodig gekry het juis omdat hulle aan die gewone dinge
geen geloof en gehoor en bekering gee nie.
Israel gaan verlore, nie omdat hulle die skrik
van die Here, die toorn van die Here maar flou opmerk in die drama van die
tempel nie, maar omdat hulle die skrik van die Here, die toorn van die Here,
glad nie gehoor het in die gewone prediking oor drie jaar nie.
Ons leef in ‘n dramatiese tyd. Ons wag op
besondere dinge — selfs op besondere, donderende preke, maar vergeet dat hulle
dikwels nie red nie, maar kom as ‘n bewys dat ons nie geluister het na die
gewone jarelange prediking en nagmaalsvierings met sy lieflike
Evangelieverkondiging nie. Wag u vir ‘n besondere saak of weg om u weer ‘n slag
goed te laat luister, u weer in die suiwer sin van die woord nagmaal te laat
gebruik. Moet tog nie.
Die besondere dinge kan dalk dit wees wat vir u
die weg van bekering en opregte meelewing totaal afsny. U lê dalk onder die
toring van Siloam. U bloed meng dalk met die bloed van die offerdiere.
Die bloedbad en die ongeluk met die toring,
hulle sou onder ander omstandighede gewone ongelukke gewees het. As dit tien
jaar vroeër gebeur het — hulle sou net so tragies wees vir familielede van die
slagoffers maar Christus sou dit nooit gebruik het as stof vir ‘n preek nie.
Maar nou kom hulle as Johannes en Jesus Christus drie jaar tevergeefs gepreek het.
Nou word die ongevalle opeens alarmseine van God, vol van helse dreiging.
Die besondere dinge ontvang hulle erns van die
ernstige gewone dinge. Ons is ontroerd oor baie dinge — ons sal nog oor baie
dinge ontroerd raak soos wat dit meer raak. Ons skrik almal en sal skrik vir
die besondere gebeurtenis as God se toorn oor ons heen dreun. Ons het op die
gewone dinge geen ag gegee nie — nou volg God dit op met besondere dinge.
Maar hoeveel van ons besef dat hierdie dinge
hulle werklike en eintlike diepste erns ontleen aan baie gewone
nagmaalsvierings en nog meer Evangelieverkondigings oor baie jare.
Ja — ons belewe altyd ernstiger wordende tye —
hoekom al meer besondere dinge, omdat die erns van die gewone dinge gewoon
geword het en nie meer tot ons spreek nie — ons nie meer gryp in ons sondige
hart en lewe tot waaragtige bekering en heiliging nie.
O ja — ons wil graag sê: dit is hier nie net
gerig en oordeel nie. Ek lees hier ook van die gebed van Christus: Here laat
hom nog hierdie jaar staan. Maar dit beteken nie dat die erns minder word nie.
As die gewone bewerking van die boom nie meer
help nie — prediking, nagmaalsviering - dan kom die besondere dinge - die
kaphoue, vreeslike kaphoue aan die boomwortels.
Ons eredienste gaan voort - ons nagmaalsvierings
ook — maar juis daarom word dit gevaarliker - as dit nie die nodige uitwerking
het nie, moet ons iets anders verwag - besondere dinge — God se byl se kaphoue.
Daar is nog hoop al het die byl al twee, drie
wortels verbrysel -Hy wat pleit vir verdere uitstel is nog daar: Jesus Christus
pleitende, pleitende om lankmoedigheid by God, ter wille van ons.
Maar moet tog nie dat hierdie gewone nagmaal en
Woordverkondiging u so min raak dat dit God se lankmoedigheid verander in toorn
en dat dit roep om die besondere ding van God se oordeel en gerig nie.
Ag — Broeder en suster — as die finale bylhoue
moet val, dan sal dit niks help om te sê: Ag het ek die gewone dinge, ook
hierdie nagmaal aangegryp nie. Dan is dit te laat. Dan is ook die besondere
dinge die vreeslike oordeel van God.