TWEE UITERSTES
(Nagmaalspreek)
Ds. G.B.S. Pasch
Lees: Esegiël
33 : 1 - 11
Teks: Esegiël
33 : 10
Sing: Ps. 65 : 3
Ps. 119 : 63
Ps. 73 : 1
Ps. 48 : 4
'n Mens kan maklik van
die een uiterste in die ander verval. Vroeër was die stemming deurentyd uiters
optimisties gewees - in die kring van die ballinge waar Esegiël ook een van
was, sowel as in Jerusalem wat sy laaste ure tegemoet gaan.
Die ballinge is van
oortuiging dat hulle binne ‘n baie kort tyd bevry sal word en sal terugkeer na
die klein vessie in Jerusalem. En hulle
in Jerusalem verwag om met 'n nuwe Palestynse koalisie Nebukadnesar in sy
opmars te stuit. Selfs toe die stad omsingel was, bly hulle optimisties hoop.
Hulle reddende engele sal die Egiptenaars wees. Tot op die laaste nippertjie
heers 'n lughartige stemming. Die slagspreuk is: Jerusalem kan nooit verlore
gaan nie. Die Here sal Jerusalem nie prys gee nie. En daarom is hulle oortuig
dat wat Jeremia getuig en Esegiël dreig, praatjies van gekke is.
Dit was die agtergrond
van hulle ongemotiveerde optimisme. Ongemotiveerd - want die engel van die Here
trek wel laer rondom hulle wat Hom vrees, maar nooit rondom hulle wat hom verag
nie, al woon hulle ook in Jerusalem.
En toe stort hierdie
ongegronde optimisme soos 'n kaartehuis inmekaar. Want (vers 21) : “. . .
in die twaalfde jaar van ons ballingskap, .
. . het ‘n vlugteling uit Jerusalem
na my gekom met die woorde: Die stad is ingeneem!"
Oor Esegiël se woorde
kon hulle lag, maar vir hierdie vlugteling en ooggetuie gladnie. Nou kan hulle
net ween. En dit gebeur ook. Maar dit gebeur so radikaal dat die uitbundige
optimisme van netnou omslaan in 'n volslae en troostelose pessismisme. Hulle
stort uit die een uiterste in die ander. Troosteloos snik hulle uit en sonder
reserwe kruip hulle onder die las. Gewis, ons oortredinge en ons sondes is op
ons, en daardeur teer ons weg - hoe kan ons dan lewe?
As hulle gedink het om
vroeër lig te sien ook waar daar geen lig was nie, nou is dit so donker dat die
een vertwyfeld vir die ander sê: verby, vir altyd verby!
Bokant die poort van die
ballingskap lees elkeen nou die vlammende opskrif: Laat vaar alle hoop - elkeen
wat hier binnekom die hel is om ons - die hel aan alle kante.
Die rouklaers gaan die
strate deur en roep elkeen wat nog durf lag toe: Raak dit julle nie, julle
almal wat met die pad verbygaan? Aanskou en kyk of daar 'n smart is soos my
smart wat my aangedoen is, waarmee die Here my bedroef het op die dag van Sy
toorngloed. So staan dit letterlik in klaagliedere. En in al die verskriklike klagte en dodelike pessimisme is daar
een saak wat weldadig aandoen. Die skuldbesef, die skuldbewussyn het weer
wakker geword. Tot dusver het hulle met onverklaarbare gemaklikheid oor hulle
skuld heen geloop, maar nou erken hulle dit tog openlik en reguit: Ons
oortredinge en ons sonde is op ons. Daardeur teer ons weg. Dit gee goeie moed.
Maar as hulle uit dieptes gans verlore die twyfelmoedige vraag daarop laat hoor
- hoe kan ons dan lewe? As dit vir hulle sielsbesef opeens só donker word, dat
alle, alle hoop op herstel geheel en al uitgesluit is, wanneer die las van
hulle sonde só swaar word dat hulle uitroep: Nou sink ons vir goed weg in die
dood. Dan, dan is hierdie pessimisme net so ongegrond en sondig en onvanpas as
hulle optimisme van netnou.
Die lughartige en
oppervlakkige optimisme ontken die erns van die sonde en speel met die
vreeslike geregtigheid van God.
Die moedelose en donker
pessimisme aan die ander kant doen ernstige tekort en afbreuk aan God se
barmhartigheid en sy getrouheid. Veral God se trou. Sy getrouheid aan Homself.
Hoe sou God dit ooit met Homself kon rym, as Hy Sy kerk, ook Sy kerk van die
O.T. totaal en grondig sou vernietig? Hy verlaat mos nie die werk wat sy hand
mee begin het nie. Nie terwille van ons, maar terwille van sy eie eer. Daarom
is die sondedroefheid wat oorslaan in droefgeestige en somber pessimisme en
moedeloosheid, steeds ‘n ernstige sonde en moet bestraf word.
Ons hoor dat gesê word
dat dit beter is as iemand sy sonde liewers te swaar as te lig opneem. En dit
is beter om voor God wanhopig te snik as om lughartig oor alles heen te loop.
Nee - ewe sleg en ewe sondig. Net so sleg om God se barmhartigheid in twyfel te
trek in oormatige droefheid as om God se reg en geregtigheid te vertrap met
slordige wandel. Optimisme en
pessimisme is albei ernstige sondes - elkeen net in 'n ander rigting.
Die droefheid, ook die
sondedroefheid, veral as dit tyd is vir selfondersoek, loop soms gevaar om
eensydig te word. Met trane in die oë sien mens dinge dof en onduidelik. Menige
gelowige wat bedroef is oor sy sonde, sien hom op pad dood toe - vlug weg vir
die nagmaal - beskou die nagnaal ver bo sy sondediepte verhewe. En dit terwyl
hierdie droefheid die deurbraak, die deurbarsting is van die lewe. 'n Hartlike
droefheid oor ons sonde is nie die begin van die dood nie, maar die begin van
die lewe. Dit is 'n deel, 'n noodsaaklike deel van die nuwe lewe self. En
bekering is juis 'n hartlike droefheid omdat ons God met ons sonde vertoorn
het. Daarom tas die Israeliete skoon mis wat sê: Hoe kan ons dan lewe?
En wonderlik - die
profeet wat vroeër saam met Jerenia as pessimis uitgeskel is, moet nou
optimistiese klanke laat val op die ore van die huidige pessimiste. Sê vir
hulle: So waar as Ek leef, spreek die Here, Here, gewis, Ek het geen behae in
die dood van die goddelose nie, maar daarin dat die goddelose hom bekeer van sy
weg en lewe.
Reg teenoor Satan, wat
in vernietiging en uitdelging sy volle behae stel en plesier vind in die dood
en ondergang, staan die Here wat Lewe is, en nie behae het in dood en
vernietiging nie, maar in lewe, ewige lewe en behoud. En tot hierdie behoud en
lewe, die nuwe en ewige lewe is berou die nou poort. En dit is darem by die
volk aanwesig, maar raak die spoor byster deur te verval in 'n totale
wanhoopstemming.
En tog is daar hoop.
Daar is lewe bespeurbaar. Daarom kan die profeet op die vraag: Hoe kan ons dan
lewe, antwoord met 'n jubelende vraag: Waarom tog wil julle sterwe, Huis van
Israel.
En hier voor nagmaal,
met sy mooi en streng formulier is dit goed dat ons weet: Daar is onder ons ook
die optimiste, gelowiges sonder sorg. Stryd ken hulle nie - diepte in hulle
lewe en geloof is nie te bespeur nie - boetpsalms het vir hulle niks te sê nie
en oor die ontdekkende vraag: hoe groot my sonde en ellende is, lag hulle
gemoedelik heen. Die afgrond van hulle eie hart het hulle nooit gepeil juis
omdat hulle glo hulle is goed-gereformeerd, dikwels in die kerk kom, die
sakramente gebruik en niemand iets in die weg lê nie. Alles kom wel reg -
uitverkorene gaan nie verlore nie. Dat ons almal sondaars is gee hulle in
teorie dadelik toe, maar prakties sit vir hulle besef die goddelose in die
bioskoop en hulle in die kerk. Vir hulle eie dade en gedagtes vind hulle altyd
genoeg ekskuse en is op hierdie punt baie vindingryk. Hulle sondes van
gierigheid noem hulle deugsame suinigheid en hoogmoed het by hulle die naam
selfrespek. En hulle soeke na eer hou hulle verskuil agter baie praatjies.
Dit is hierdie optimiste
wat die beste verwag as hulle toekomstige lot, omdat hulle self van die beste
is en nie omdat God goed en genadig is nie.
Daarom is hulle
optimisme ongegrond en sal, as hulle nie hulle van hulle optimisme bekeer nie,
die ewige pessimisne van die buitenste duisternis hulle deel word.
Maar totaal anders is
dit met die egte en opregte pessimiste in die kerk van die Here. Hulle wat diep
en ernstig gebuk gaan onder die las van hulle sondes. Oor die deel van die
ellende het hulle alle paaie geloop en gekruis en elke skuilhoek deurvors. Daar
word nie 'n sondaar in die Bybel en in 'n preek geteken of hulle herken hulle
eie beeld daarin en van die gruwelike booshede ontdek hulle saadkorrels in eie
hart en lewe.
Laasgenoende is
natuurlik goed en baie uitnemend en noodsaaklik. Ons kan van onsself nooit te
lae en sondige gedagtes koester nie. Alle gedagtes aangaande onsself is nog te
mooi gekleur en getint en die werklikheid is honderdmaal erger as wat ons
vermoed. MAAR as dié skuldbesef ontaard in pessimisme en dowe vertwyfeling is
hierdie toestand sonde voor God.
Die gelowige wat saam
met Esegiël se tydgenote kan sug: My oortredinge en sonde is op my en daardeur
teer ek weg - hoe kan ek dan lewe - so iemand onderskat Christus in Sy
volmaakte verlossingswerk en het gebrek aan innige blydskap terwille van God se
redding van sy lewe. Aan die voet van Christus se kruis is daar nie plek vir
pessimiste nie.Golgota en Christus in Sy verdienste roep luid: So waar as wat
ek leef - Ek het geen behae in die dood van die goddelose nie. Inteendeel God
regverdig juis goddelose. Nou ken u die weg. Moenie tafel toe kom as u nie
bedroef is oor u sonde nie. Maar juig en wees bly want die sonde waaroor u
bedroef is, is vergewe om Christus ontwil. Die brood en wyn is juis daarvan die
teken..
AMEN