Christus-lose verkondiging
Dit is vir my soms 'n bekommernis watter rol Christus nog in elke
aspek van ons prediking speel. Johan Cilliers se boek Die uitwissing van
God op die kansel waarin hy aantoon dat meer as 90% van die preke wat oor
'n paar jaar oor die radio uitgesaai is, ten diepste Christus-loos was,
was vir my 'n enorme skok.
Ek het nie 'n diepgaande studie van preke en oordenkings van Gereformeerde
predikante gemaak nie. Tog hinder dit my in watter mate vele van die preke
en oordenkings wat ek al wel gelees of gehoor het, mank gaan aan indringende
Christus-verkondiging. Dikwels kry dit wat óns moet doen - óns
liefde, óns dankbaarheid - die hoofklem en word daar glad nie gesê
hoe (deur Christus alleen) ons lief kan wees vir mekaar nie.
'n Preek wat nie "Christus alleen" verkondig nie, is geen preek
nie.
Toe Paulus in Korinthe was, het hy slegs een noot op sy snaar gehad:
Christus alleen. In 1 Korintiërs 2 vers 2 skryf hy: "Want ek het my
voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en
Hom as gekruisigde". Christus wat gekruisig is - dit was sy enigste tema.
Daarom het Luther ook eenmaal gesê: wie Christus nie gepreek
het nie, het nie gepreek nie. Dominee, het jy laas Sondag gepreek?
Die deurlopende lyn in die werke van Hermann Friedrich Kohlbrugge
was: die mens 'n nul, Christus alles. Ons kan niks doen nie. Net Hy kan
ons verlos van die skuld en die mag en die gevolge van die sonde.
Ek wil 'n preek daarom kort en kragtig so definiëer: dit is
'n voortdurende heenwys na Christus alleen.
God skep én herskep deur die Woord
Toe God aan die begin geskep het, het Hy dit gedoen deur sy Woord
(Joh.1:3). In sy herskeppingswerk doen Hy dit nie anders nie: Hy herskep
deur sy Woord alleen. Daardie Woord is Christus.
Net God kan skep en herskep. Ons kan dit nie doen nie. Net Hy kan
dooie harte lewend maak en geloof skep uit niks uit. Daarom is ons taak
as predikers alleen om sy Woord, sy Christus, te bring. Sy Woord alleen
is skeppingsmagtig, wat lewe uit die dood gebied.
'n Christus-lose verkondiging kom daarop neer dat ons herskeppers
probeer wees. Dit is die toppunt van dwaasheid en aanmatiging.
Ook ten opsigte van ons taak as verkondigers van die Woord geld
die les van Kohlbrugge: ons niks nie, Christus alleen alles. Dit wil sê:
jy, dominee, kan niks doen nie. Jy kan 'n ander nie verlos nie. Jy kan
jou lidmate nie die geloof gee nie. Los dit dan in die hande van Christus
deur Christus alleen te preek.
Die rede waarom daar geen lewe in die kerk is nie
Predikante is soms verbaas daaroor dat hulle preke so min effek het.
Sommige voel selfs: Dit help nie om mense te bepreek nie. Ons sal na ander
metodes moet kyk om nuwe lewe in die kerk in te blaas, word gedink.
Tog sal ons onsself moet afvra: Lê die diepste oorsaak van
die doodsheid in die kerk nie miskien juis in die feit dat ons Hom wat
die lewe is (Joh.14:6), nie meer verkondig of nie genoegsaam verkondig
nie? Is ons prediking nog 'n oproep om te kom na die lewende Steen wat
aan die ander stene lewe gee (1 Pet.2:4-5)?
Christus-prediking en vraag 1 van die Kategismus
Ons het die mooiste belydenis wat daar is.
Dit is waar dat antwoord een voluit trinitaries (dit handel oor
God Drie-enig) is: dit gaan oor die Vader en die Seun en die Heilige Gees.
Die antwoord is ook voluit Christologies. Dit bely wat Christus
doen. Let maar op die sentrale plek wat Christus in die antwoord inneem:
· Hy (Christus) het met sy bloed vir my betaal en my gekoop;
· Hy (Christus) bewaar my so dat sonder die wil van die Vader
geen haar van my hoof kan val nie; en
· Hy (Christus) verseker my deur sy Heilige Gees van die
ewige lewe en maak my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom
te lewe.
Sonder Christus sou ons geen Vader gehad het nie en sou ons die
Heilige Gees nie ontvang het nie.
Antwoord een is 'n mens-lose belydenis. Ek bedoel maar: daar staan
niks in van wat ons moet doen nie. Inteendeel, dit is 'n Christus-volle
belydenis: dit is tot oorlopens toe vol van wat Hy gedoen het en nog doen.
Die drie dele van die verbond: Christus, Christus, Christus
Basies kom daar drie dinge in die Woord (en dus in die prediking)
ter sprake: belofte, bevel en bedreiging. Iemand noem dit die drie B's
van die verbond. Ons kan ook praat van belofte, eis en straf. Hierdie drie
het alles met Christus te make.
· Eerstens belowe God iets aan ons.
Hy beloof byvoorbeeld vergifnis, om ons Vader te wees en sy Heilige
Gees aan ons te skenk. Steeds egter het hierdie beloftes alles met Christus
te make: deur sy bloed het ons vergifnis, danksy Hom het ons weer 'n Vader
en Hy het die Heilige Gees vir ons verwerf.
Ons moet voorts sê: deur die geloof in Christus kan ons heerlike
sekerheid hê aangaande al God se beloftes. Kyk ons na onsself, ons
eie sondigheid, kom daar 'n vreeslike twyfel in ons hart op: kan ek daarop
reken dat ek God se beloftes sal ontvang? En inderdaad, in onsself het
ons alles verbeur en verdien ons geen enkele belofte van God nie. Deur
die geloof egter vestig ons ons blik op die volmaakte offer van die Lam:
in Christus is al God se beloftes ja en amen, vas en seker.
· In die tweede plek eis God ook iets van ons: geloof en
bekering.
En weereens het dit alles met Christus te make. Deur sy Heilige
Gees skenk Christus ons die geloof. Dit wil sê: deur sy Gees verbind
Hy ons aan Hom. Deur die Heilige Gees plant Christus ons in in die vrugbare
grond van Golgota en daar is geen vrugbaarder grond as dit nie. Deur die
bloed van Christus, deur sy oorwinning aan die kruis, dra ons vrugte wat
by die bekering pas.
Kohlbrugge sê: op Golgota is ek bekeer. En hoe waar is dit
nie. Want op Golgota is ons ou mens, ons ou natuur wat onder die heerskappy
van die sonde staan, gedood.
Daarom, 'n bekeringsprediking wat nie eers lei na die kruis nie
en vandaar en daardeur oproep tot bekering nie, is Fariseïsme. Dit
is 'n verkondiging wat die mens op homself terugwerp.
Maar ek wil onder hierdie punt van God se eise nog iets noem: God
eis van ons heiligmaking (volmaakte vervulling van sy eise). Die Here is
nie tevrede met maar net 80 of 90 persent nie. Hy vra 100 persent. Daartoe
is nie een van ons instaat nie. Maar daarom moet ons ook aan ons lidmate
leer dat Christus nie alleen vir ons wysheid uit God en geregtigheid geword
het nie, maar ook heiligmaking (1 Kor.1:30). Dit is die absolute wonder
van die evangelie: Christus se gehoorsaamheid word my toegereken en geskenk.
Christus-prediking is 'n bevrydende prediking: dit bevry ons van
alle krampagtigheid en elke poging om self ons heil uit te werk. Dit is
ook so heerlik troosryk, want in Christus lê die geheim en die antwoord
hoe ek verlos kan word van al my onreinheid en die verskriklike mag van
die sonde in my lewe.
· In die derde instansie is daar die straf van die verbond.
Ons kan van gerigsprediking 'n vreeslike karikatuur maak. Hel-en-verdoemenis-preke
word dit soms genoem. Oordeelsprediking wat in die Bybel gegrond is, noem
ek egter Christus-prediking. Die bedoeling daarvan is immers om ons na
Christus te dryf. Oordeelsprediking wil ons nie die angs op die lyf jaag
nie. Dit wil ons nie tot radeloosheid dryf nie, maar dit wil 'n alarmsinjaal
wees: vlug na Hom wat God se gerig gedra het vir elkeen wat in Hom glo.
Calvyn sê op 'n plek: God trek ons en Hy dryf ons. Ek verklaar
dit maar 'n bietjie in my eie woorde: met sy heerlike beloftes lok en trek
God ons na Hom toe; met sy oordeel dryf Hy ons na Hom toe.
'n Prediking wat God verheerlik en die mens verneder
Christus-prediking is 'n prediking wat God ten hoogste verheerlik,
want dit erken: ons heil is slegs God se werk in sy Seun.
Dit is ook 'n prediking wat die mens ten diepste verneder, want
dit leer: sonder God kan ons niks doen nie. Dit is 'n verkondiging wat
nie na die mens is nie (Gal.1:11) en daarom ook weerstand sal oproep.