Ps.105
Oordenking 1
Lees: Ps.105
Teks: Ps.105:5
Tema: Ons moet dink aan wat God gedoen het
In hierdie en in die volgende oordenking wil ek met u stilstaan by die Bybelse
woordjie dink.
In Psalm 105 het ons n hele stuk geskiedenis. Maar let wel: hier gaan dit nie
bloot maar net oor volksgeskiedenis nie: hier word aan ons heilsgeskiedenis vertel, die
geskiedenis van hoe die HERE sy volk verlos het. Dit gaan ook nie maar bloot om die
verlede van een van die duisende volke op aarde nie,maar om 'n heel besondere volk: die
volk van God, die kerk van die Here.
Die digter roep sy medegelowiges op om saam met hom te dink aan die reddingsdade van die HERE in die verlede (v.5). Dit is n bevel wat eweneens tot u kom: dink aan die geskiedenis van die kerk. Dink aan die kruis en die oop graf.
Dink! Dit is n bevel wat ook weerklink aan die nagmaalstafel: Neem, eet, gedenk en glo dat die liggaam van ons Here Jesus Christus gebreek is tot n volkome versoening van al ons sondes. En verder:Drink almal daaruit. Gedenk en glo dat die bloed van ons Here Jesus vergiet is tot n volkome versoening van al ons sondes. Ja, die nagmaal is n gedenkmaal, n dink-ete. Aan hierdie tafel gaan ons gedagtes terug in die geskiedenis , hoe God ons uit die slawehuis van die sonde verlos het.
Dit is belangrik dat ons aan die geskiedenis sal dink. In die politiek hoor ons soms die uitspraak: n volk wat sy geskiedenis vergeet, is nie werd om n volk te wees nie. MAAR NOG VEEL ERGER IS DIT as die volk van God sy geskiedenis vergeet.
Dink daaraan! Maar dan moet u steeds onthou: dit het by hierdie digter nie maar net
gegaan om n koue, onbetrokke oordenking van die verlede nie. By sy terugsien op die
geskiedenis is sy hart vervul met dankbaarheid. Hy is so daardeur aangegryp, dat hy sy
geloofsgenote oproep:Loof die HERE, roep sy Naam aan. Hy kon die wonder van
die geskiedenis onmoontlik nie vir homself hou nie. Dit was vir hom selfs nie genoeg om
dit aan sy mede-lidmate te vertel nie. Daarom sê hy: ...maak onder die volke sy
dade bekend.
Vir die meeste mense is geskiedenis maar n taamlik droë vak. Miskien moet die
rede daarvoor gesoek word in die feit dat ons dink: wat het al daardie stokou
gebeurtenisse nou eintlik vandag met my te make?
Met gewone geskiedenis kan n mens miskien nog ongeïnteresseerd
wees, omdat jy voel: wat sê al daardie dor feite uit die verlede nou eintlik vir my. Maar
met die Bybelse geskiedenis kan dit nooit so wees nie: WANT dit gaan om MY geskiedenis,
die geskiedenis van MY verlossing, hoe God sy Seun vir MY gestuur het, om MY te red van
die ewige dood.
Oordenking 2
Lees: Ps.105
Teks: Ps.105: 8
Tema: God het aan ons gedink.
In v.8 lees ons: Hy (die HERE) dink aan sy verbond...
Hierdie woordjie dink is n gelaaide woord. As daar staan: die HERE het
gedink aan sy verbond dan beteken dit nie maar slegs dat die HERE gedink het aan alles wat
Hy aan sy volk beloof het nie en verder niks nie. Nee, dink het hier die betekenis van
DOEN. Die HERE het gedoen wat Hy beloof het.
Wat het die Here beloof? Wel, aan Abraham het Hy beloof dat Hy sy nageslag 430 later uit Egipte sou uitlei. En Hy het gedink aan sy verbondsbelofte. Hy het sy volk uit die slawehuis verlos.
Maar kom ons boor nog dieper in hierdie woordjie dink. Die uitleiding
uit Egipte is immers n heenwysing na veel en veel meer. Dit is n afbeelding
van God se verbondsbelofte dat Hy sy kerk eenmaal uit die slawehuis van die sonde sou
uitlei. En die HERE het aan daardie belofte gedink. Hy het sy Seun gestuur. Hy het gedoen
wat Hy beloof het.
Aan daardie dink van God moet u vandag dink. U moet daaraan dink wat dit
Hom alles gekos het: dit het Hom sy Seun gekos, die dierbaarste en die kosbaarste wat Hy
gehad het. Hy het gedink aan sy genadeverbond met ons en daarom het Hy sy Seun gestuur om
die bittere en smadelike dood van die kruis te sterwe om ons te red.
Moet ek die dink van God vir u spel in die woorde van ons
Nagmaalsformulier? Kom ek doen dit. Dit klink so: ...die liggaam van Christus is
verbreek tot n volkome versoening van al ons sondes...(en) die bloed van Christus is
vergiet tot n volkome versoening van al ons sondes. Dit is wat die dink van
God inhou: dat Hy met die bloed van sy Seun ons sondes, nee, AL ons sondes versoen het.
Daar het nie een van oorgebly nie. AL ons skuld is afgewas. Heerlik dat God so aan ons
gedink het, nie waar nie?