Psalm 1:1,6: "Welgeluksalig is die man … Want die HERE ken die weg van die regverdige, maar die weg van die goddelose sal vergaan".
Matt.5:1-3: "En toe Hy die skare sien, het Hy op die berg geklim; en nadat Hy gaan sit het, het sy dissipels na Hom gekom; en Hy het sy mond geopen en hulle geleer en gesê: Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele".
Die ooreenkoms
tussen Psalm 1 en die Jesus se Bergrede in Matteus 5 tot 7 het baie
Skrifverklaarders al opgeval.
In Matteus 5:2-3 open Jesus sy mond en sê: "Salig …". Ook in Psalm 1:1 open ons Heiland sy mond en leer: "Welgeluksalig …". Immers, nie net in die Bergrede nie, maar ook in die Psalm is Jesus aan die woord met sy Woord en hoor ons hoogste Profeet en Leraar (HK 12:31), wat die verborge raadsplan en wil van God aangaande ons verlossing openbaar.
Psalm 1 én Jesus se Bergrede begin met die woord welgeluksalig of salig: "welgeluksalig is die man" (Ps.1:1), "salig is die wat arm van gees is, ens...." (Mt.5:3-11).
In beide die Psalm en die Bergrede gaan dit om 'n luister na én 'n doen van die Woord. Van die regverdige in Psalm 1 word geskryf dat hy die wet van die HERE dag en nag oordink (Ps.1:2). In die Bergrede hoor ons enersyds van mense wat na hierdie Bergredewoorde van Jesus luister én dit doen. Andersyds word vertel van hulle wat hoor, maar nie doen nie. Die wat luister en doen, word vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het. Die wat luister en nie doen nie daarenteen word vergelyk met ‘n dwase man wat sy huis op die sand gebou het (Mt.7:24, 26).
In Psalm 1 sowel as in die Bergrede volg na die "salig" 'n belofte, wat ingelui word deur want: "want die HERE ken die weg van die regverdiges" (Ps.1:6), "want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele" (Mt.5:3).
In beide die Psalm en die Bergrede hoor ons van die twee paaie: die weg van die regverdiges en die weg van die goddelose (Ps.1:1,6; Mt.7:13-14).
In Psalm 1:6 staan dat die HERE die weg van die regverdige ken. Daarteenoor sê Jesus in Matteus 7:23 van die wat nie die wil van sy hemelse Vader gedoen het nie: "Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!"
In Psalm 1 sowel as in die Bergrede hoor ons van die uiteinde van die twee paaie: die een pad is die pad van die lewe (Ps.1:6, Mt.7:14, 26-27) en die ander is die pad van die verderf (Ps.1:6, Mt.7:13, 24-25).
As ons hierdie
ooreenkoms tussen Psalm 1 en die Bergrede raaksien, sal ons begryp hoe
belangrik die Bergrede – en die hele Nuwe Testament – is vir ons verstaan van
Psalm 1. Om 'n boek te verstaan, is dit van die uiterste belang dat ons die
skrywer self sal gaan vra wat hy bedoel. Dit geld nog meer van die Bybel. Die
Skrywer self sal die heel beste weet wat Hy bedoel op 'n bepaalde plek.