Oordenking 1
Lees:
Ps.22 en 23
Teks:
Ps.23:5,6
Tema:
(1) Nagmaal: Triomftafel
Sowel
Ps.22 as Ps.23 is Psalms van Dawid. In beide liedere druk hy uit wat hy
wedervaar het.
In
albei Psalms is daar sprake van vyande. Dawid ly onder die aanvalle van teëstanders.
Hulle soek sy lewe om hom dood te maak. In Ps.22:13-19 gee hy 'n beskrywing van
sy opponente en hulle vyandige aktiwiteite teen hom. Dit is duidelik dat hulle
baie in getal en sterk van krag is, want Dawid sê: " Baie stiere het my
omsingel, sterkes van Basan het my omring...'n bende kwaaddoeners...". Hy
voel hom ingesluit aan alle kante: 'n paar keer sê hy dat hy omsingel, dat hy
omring is. Uitkomkans is daar nie.
Maar
dan die verrassende: Ps.23:5. Ook daar weer is die vyande, die teëstanders,
maar daar is tog 'n verskil: Dit is opponente wat moet toesien hoe Dawid aansit
aan 'n feestafel. Dit is 'n verslane vyand.
Hoe is
dit moontlik? Ps.22 gee ons die antwoord op hierdie verrassende gebeure. In v.2
hoor ons Dawid roep: "My God, my God, waarom het u my verlaat? Dit is
bekende woorde, nie waar nie? Dit is een van Christus se kruiswoorde. En in die
19e vers sê koning Dawid: "Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die
lot oor my gewaad ". Maar is dit nie presies wat ons Heiland op Golgota
gely het nie? Inderdaad!
Ps.22
is dus 'n Christus-lied. Wie dit lees, sien voor sy oë verrys: die plek van die
hoofskedel en die slagveld van die kruis. Die baie stiere en die sterkes van
Basan - dit is die Satan en sy trawante, die duiwel en almal wat die Here Jesus
haat.
Van
ons Saligmaker word hier dus gesing, van sy sware stryd. Maar dit is nie al nie.
Dawid juig ook oor sy triomf, want beide Psalms eindig met 'n tafel. In Ps.22:27
sê Dawid: "Die ootmoediges sal eet en versadig word ". En net 'n ent
verder, in Ps.23:5, hoor ons: "U berei die tafel voor my aangesig teenoor
my teëstanders ".
Wat se
tafels is dit hierdie? Dit is triomftafels! Dit is tafels wat getuig van die
oorwinning oor die teenstanders, want in v.5 moet hulle met nydigheid toesien
hoe Dawid aansit aan die feestafel.
Wie se
oorwinning was dit? Uit Psalm 22 is dit al glashelder dat dit nie Dawid se
triomf was nie, maar Christus se lof word hier verkondig.
Dit
word des te duideliker in Ps.23, want vir geen enkele oomblik het Dawid dit oor
sy eie doen en late nie, maar uitsluitend oor God se werke. Viermaal
staan daar: HY. Dit is die HERE. HY
laat my neerlê in groen weivelde, HY lei my na waters waar daar rus is, HY
verkwik my siel en HY lei my in spore
van geregtigheid. En dan staan daar ook vyfmaal:
U. Weereens is dit God. U is met my, U
stok en U staf die vertroos my, U berei
die tafel voor my aangesig en U maak
my hoof vet met olie. Van begin tot einde, in die hele Ps.23, sien ons God in
aksie.
Dit
is eweneens waar wanneer ons by die triomftafel kom. U, U berei dit. Die oorwinning waarvan hierdie dis getuig, is dus sy
werk en geen mensewerk nie.
ONS
het eweneens vyande. Ek noem hulle:
die duiwel, die wêreld, ons eie sondige natuur en die dood. Ons staan voor 'n
oormag. Hulle is rondom ons. Aan alle kante word ons omring. Elke dag. Elke
oomblik. Ook ons ken die dreigende leeu van Ps.22, want, sê Petrus (1 Pt.5:8),
" julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek
die wat Hy kan verslind".
Vir
ons is dit 'n hopelose stryd. As dit van ons moes afhang, sou ons die oorlog
sekerlik verloor het, maar God neem ons stryd oor. Want Hy het sy Seun gestuur.
HY berei die tafel. Nie u en ek nie. Dit is geen mensewerk nie, maar God se
werk. Die oorwinning is syne en syne alleen.
Of
om dit so te stel: die tafel kom nie van onder af, van mense, nie. Dit kom van
bo-af, uit die hemel. Dit is 'n neerdalende tafel. Uit die hemel word dit berei.
En uit sy paleis sit die Vader self die dis, oorwinningsdis ,op die tafel: die
liggaam en die bloed van sy Seun.
Op
Golgota, daar op die slagplek van die kruis, het die Vader self die triomfspyse
vir ons berei. Dit sit Hy aan die Nagmaal aan ons voor: brood en wyn, tekens en
seëls van die offer van sy Seun.
Aan
daardie nagmaalstafel bring ons niks van ons self nie: nie ons vroomheid, nie
ons liefde, nie ons goeie werke nie. In geen enkele opsig berei ons of help ons
om die triomf te berei nie. Die Vader dek die tafel alleen. Hy is die Gasheer.
Die enigste. En aan die dis van die verbond sien ons net wat Hy voorsit: brood
en wyn, tekens van die Lam wat vir ons en tot ons verlossing geslag is.
Die Vader sit daardie tafel tussen ons en ons vyande: die duiwel en die sonde en die dood. En ons vyande kyk toe, woedend, want die tafel sê: julle is verslaan. Julle lê verpletterd op die heuwel van die kruis. Want daarvan getuig die hemelse dis van die Nagmaal.
Oordenking 2
Lees: Ps.22 en 23
Teks: Ps.23:5,6
Tema: (2) Nagmaal: Oorvloedstafel
Die Nagmaal is ook oorvloedstafel.
Want: " U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor ".
- Eregaste is so ontvang in die huis van hulle gasheer: hulle is met kosbare olie oorgiet.
Die beeld wat ons hier voor oë geroep word, is voorts een van oorvloed, want die woord "salf" wat hier gebruik word, is nie die een wat gewoonlik gebruik word om te sê dat iemand met olie gesalf word nie. Nee, die woordjie "vet maak" of "salf" in ons teks beteken eintlik soveel as: oorvloedig salf, sodat die hoof van vettigheid druip.
Wat is dié olie dan? Dit is die Heilige Gees. In die Bybel word olie meermale as simbool van die Heilige Gees gebruik.
Ons kan dus sê: aan die tafel van die HERE word die Heilige Gees oor ons uitgegiet en nie sommer so bietjie, bietjie nie, maar oorvloediglik, in ryke mate.
Dit is die wonder van Nagmaal. Daar kom die Heilige Gees na ons toe. Hy gebruik die dis van die verbond om ons geloof te versterk. Hy vestig ons aandag op die verlossingswerk van Christus. Ja, daar is niks wat Hy liewer doen as om ons blik te rig op die tafel en dit wat die tafel versinnebeeld nie. Want dit is sy werk: Hy wend ons oë op die Oorwinnaar van die Oorwinningstafel, op die Lam van God. "Hy sal my verheerlik", sê Jesus in Jh.16, "omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort en aan julle verkondig". Hy is die Gees van die waarheid wat ons in die hele waarheid sal lei (Jh.16:13) en daardie waarheid is niemand anders as Jesus self nie (Jh.14:6). Hy maak dus nie mense en hulle goeie werke groot nie, maar net die verlossingswerk van Christus.
- My beker loop oor, sê Dawid vervolgens. Ons Gasheer gee geen halwe beker nie. Ons het 'n milde Koning. Aan sy tafel word ons deur en deur verkwik. Want ons ontvang daar geen halwe verlossing en 'n halwe troos en 'n halwe hoop nie, maar hier is genoeg. Die beker is tot oorlopens toe vol. Daarom: o almal wat dors het, kom! Drink almal daaruit, gedenk en glo dat die bloed van Christus vergiet is tot 'n volkome versoening van al ons sondes. As u aan hierdie verlossingstafel gelowig gedrink het, sal u geen behoefte meer gevoel om die ete nog te gaan aanvul by die Wimpy Bar van u goeie werke en hooggewaande vroomheid nie. Trouens, dit sou ook 'n belediging vir ons hemelse Gasheer wees. Want aan sy tafel ontvang u ALLES wat tot u saligheid dien. Dit het geen aanvulling nodig nie.
En as Dawid van hierdie tafel af opstaan, juig hy: "Net goedheid en guns sal my volg". Dit agtervolg hom, dit dek sy agterhoede, die goedheid en die onverderdiende hulp van die Here. Wie sal dan nog bang wees vir 'n agtervolgende duiwel en listige vyande en magtige teëstanders?
Wat 'n weeldetafel, nie waar nie?