Oordenking 1
Lees:
Psalm 33
Teks: Psalm 33:18-19
Tema: Die troos van die Psalmdigter: Ek glo in God die Vader
Die
Psalmdigters
was mense soos ons. Hulle het met dieselfde
nood as ons te make gehad. Net soos ons het hulle vyande gehad, wat
hulle lewens bedreig het; net soos ons het hulle droogtenood geken. Dit was in
‘n droë land soos Israel immers ook nie iets vreemds nie.
Die
Psalmiste het egter nie net nood geken nie. Hulle het ook van die troos van die
HERE geweet in hulle nood: Hulle het ook – deur die verligting van die Heilige
Gees - die antwoord van God op hulle kwellings geken. Daarom het hulle - onder
leiding van die Heilige Gees - nie net hulle diepste nood en hulle swaarste
kwellings in die Psalms opgeteken nie. Hulle het eweneens God se bemoedigende antwoord op daardie nood in hulle Psalms
verwerk.
Dit
alles maak hierdie Psalms so dierbaar en kosbaar vir ons vandag:
Nou het ook ons immers God se antwoord op die nood van 2001. Nou het ook ons die
bemoedigende boodskap van die HERE wat ons sal help om elke teëslag in ons lewe
gelowig te verwerk.
Psalm
33 is ‘n lofpsalm, ‘n vreugdelied: “Sing vrolik, hef die stem na bowe”!
Dit is tog verbasend, nie waar nie? Hierdie man weet van vyande wat hom bedreig.
Daar is ook sprake van hongersnood. Nogtans juig hy. Ook deur donker nag omgewe
sing hy nog sy pelgrimslied, ja, hy lofsing in die nag!
Hoe
kan dit wees? Hoe op aarde is dit moontlik? Wel hierdie man weet dat God alles
gemaak het, dat Hy regeer en...dat hierdie God ook sy Vader is. Ons kan maar
sê: Hy ken die belydenis “ek glo in God die Vader, die Almagtige”. En uit
daardie heerlike belydenis van God se Vaderskap put hy troos. Die wete maak hom
bly midde in sy moeilike omstandighede. Dit
gee hom stof om vrolik te sing.
Eintlik
kan ons maar sê: Psalm 33 is ‘n toonsetting van Sondag 9, die Sondag oor God
se Vaderskap. Dit is die belydenis “ek glo in God die Vader, die Almagtige”
in digvorm, in die vorm van ‘n Psalm!
Oordenking 2
Lees:
Psalm 33
Teks: Psalm 33:6-9
Tema: Ons troos: Ons Vader is die Skepper
Die
troos dat ons Vader die Skepper is - dit, kan ons maar sê, is die
eerste vers in hierdie vrolike lied: die Psalmis besing die Skeppersalmag
van sy God. Dit doen hy in vers 6 tot 9.
So
magtig is Hy, dat Hy, slegs deur te spreek, alles in aansyn geroep het. Slegs
een woord was genoeg om die hemel te
maak. En deur die Gees van sy mond het Hy aan die hemeltrans die son, die maan
en die leërskare van sterre gestel.
Oor
hierdie alvermoeënde krag van God se Woord sing ons in Psalm 33 vers 5:
“
Die HEER se woord is skeppingsmagtig
wat
lewe uit die dood gebied.
Hy
spreek
- dit staan daar lewenskragtig,
Hy
roep
net en dit het geskied”.
Aan
die hemelgewelf het God sy almag aan ons onthul.
En
dan, as die digter so ons aandag op die hemel gevestig het, wend hy ons blik na
die magtige oseaan, na die see met sy
geweldige golwe en onstuitbare waters. En dan sê hy in v.7: ook
dit het die HERE gemaak. Hierdie ontsaglike watermassas met hulle enorme,
onbeskryflik groote kragte...Hy, die Almagtige, hou die waters in hulle bedding
bymekaar, soos iemand water hou in ‘n leersak. Hy hou die waters binne die
grense wat Hy daarvoor gestel het, soos ‘n mens ‘n skat in ‘n skatkamer
bewaar.
Die
magtig see is vir die Psalmdigter ‘n vertoonvenster. Daarin word aan ons, op
luisterryke wyse, ‘n vertoning van God se almag gegee.
Maar
waarom vestig die digter so ons aandag op die HERE se almagtige Woord, sy Woord
waardeur Hy alles geskape het? Waarom laat hy ons sien hoe sterk die HERE is, so
sterk dat Hy selfs die yslike oseaan in bedwang kan hou? Wel, hy doen dit, sodat
ons nooit klein van God sal dink nie. Ons moet daaruit weet hoe sterk die God is
wat ons Vader is, want uit hierdie indrukwekkende voorbeelde is dit tog
duidelik: Ons het ‘n Vader wat KAN help. Hy KAN en wil en sal in nood, selfs
as ons sidder vir die dood, volkome uitkoms gewe (Ps.68:9 berymd).
Ja,
Hy kan ook help in ‘n droogte en vir ons sorg wanneer natuurrampe oor ons kom.
Want bewys hierdie Psalm nie dat die HERE in beheer is van die natuur en dat Hy
die natuur in bedwang kan hou nie? Laat ons dan uit hierdie tentoonstelling van
God se almag in skepping en natuur ryklik troos put.
Oordenking 3
Lees:
Psalm 33
Teks: Psalm 33:10-12
Tema: Ons troos: Ons Vader is die Regeerder
Dit
kom ter sprake in vv.10-12.
Toe
die HERE alles klaar geskep het, het Hy die wêreld nie aan homself oorgelaat
nie. Ons bely immers dat die HERE, nadat Hy die hemel en aarde geskep het, dit
deur sy voorsienigheid nog onderhou en regeer. Dit beteken: Hy het die teuels
van die wêreldgeskiedenis in sy hande. Hy is in beheer van alles en in besonder
is sy hande in hierdie koningsheerskappy van Hom oor sy volk uitgestrek.
Ook
dit lig die Psalmdigter met ‘n voorbeeld toe. Want in vers. 10 tot 11 sê hy:
Vyandige heidene mag miskien planne beraam teen die volk van God - die HERE, die
Vader van sy volk, maak al hierdie planne tot niet. Die volkere mag planne
koester om God se kinders te vernietig - die HERE verydel daardie planne en al
hulle gewoel is tevergeefs.
En
as die Psalmis daaraan dink, aan hierdie wonderlike heerskappy van sy Vader, aan
sy besondere sorg daarin vir sy volk, dan juig hy. Dan sing hy: “Welgeluksalig
is die nasie wie se God die HERE is, die volk wat Hy vir Hom as erfdeel
uitgekies het” (v.12).
Leer
daaruit dat u nie alleen ‘n Vader het wat kan help nie, maar ook een wat dit
daadwerklik doen. Hy regeer. Die wêreldgeskiedenis is in sy hande en ook my
persoonlike lewensgeskiedenis. En in hierdie heerskappy van Hom dink Hy in die
besonder aan sy volk.
Hy
het ons heil en ons beswil op die oog ook wanneer Hy allerlei nood op ons
lewenspad bring.
Oordenking 4
Lees:
Psalm 32 en 33
Teks: Psalm 33:16
Tema: God is ons Vader om Christus wil
Dit
is nie sonder rede dat ek vandag Ps.32 en Ps.33 opgee nie. Hierdie twee Psalms
hoort bymekaar. Ons bely immers dat die Heilige Gees die groot Bybelskrywer is.
Hy is dus ook die Opsteller van die Psalmboek. Wanneer Hy daarom Ps.33 laat volg
op Ps.32, is dit met ‘n baie besondere bedoeling. Dan sit daar ‘n rede
daaragter. Dan sit daar ‘n les vir ons in opgesluit.
Laat
ek daarom die samehang van hierdie twee liedere aan u verduidelik. Ps.32 is ‘n
Christus-lied. Dawid sing daarin oor die wonder van skuldvergiffenis. Dit wil sê:
Hy juig oor wat Jesus Christus vir ons gedoen het: Hy het ons skuld uitgedelg.
Daarom eindig Ps.32 op so ‘n jubeltoon:
“Regverdiges,
laat hoor die blye tyding!
Sing
voor die HEER ‘n lofsang van bevryding,
‘n
sang wat juig van skuldvergiffenis.
Sing,
wie opreg van hart en wandel is”.
En
dan begin Ps.33. En daardie selfde hoë noot waarmee Ps.32 geëindig het, dit
word in Ps.33 weer opgeneem en voorgesit:
“Sing
vrolik, hef die stem na bowe;
regverdiges
verhef die HEER!”
Ek
wil die samehang tussen hierdie twee jubelsange so saamvat: Ps.32 sing oor die vreugde
van skuldvergiffenis, Ps.33 juig oor die vrug
van skuldvergiffenis. Ps.32 jubel oor die skuldbetalende werk van Christus,
Ps.33 juig oor die resultaat daarvan: die Vaderskap van God. Want deur die kruis
en danksy Golgota, deur en danksy Jesus is
God nou weer ons Vader wat ons elke dag wil versorg en wil bewaar.
Ons
kan dit ook so opsom: omdat Ps.32 in ons Bybel staan, daarom kan ook Ps.33 daar
staan. Want Ps.32 sing van Christus en Ps.33 verkondig God se Vaderskap danksy
Christus, danksy sy werk wat in Ps.32 beskryf word. In Ps.32 het u die wortel,
in Ps.33 die boom, die heerlike vrugte. Sonder die wortel sou daar geen boom,
geen vrugte gewees het nie. Maar danksy die wortel van Ps.32 is daar nou die ryk
vrug van Ps.33. Golgota is die wortel, God se Vaderskap is die vrug.
In
vv.16 en verder roep die Psalmdigter ons nou op om op hierdie goeie en almagtige
God en Vader van ons en op Hom alleen te vertrou. Ons moet tog nie - in die nood
van ons lewe - op menslike hulpmiddele staatmaak om ons te red nie. Want: "’n Koning word nie verlos deur ‘n groot leër, ‘n
held nie gered deur groot krag nie. Die perd help niks vir die oorwinning en red
nie deur sy groot krag nie". Daarmee sê die Heilige Gees: wie byvoorbeeld
op ‘n magtige leër vertrou, sal bedroë uitkom. Want nie die mens nie, maar
God regeer. En as dit gaan om oorwinning, gee nooit menslike mag nie, maar die
HERE alleen die deurslag.
Dit
geld natuurlik nie alleen in ‘n oorlogsituasie nie. Dit gaan om alle tereine
van ons lewe. In ‘n droogtenood, in ekonomiese nood en aan watter nood ons ook
al mag dink - nooit moet ons op mense vertrou om uitkoms nie, maar op ons liewe,
alvermoeënde Vader alleen.
Hy
kan nie alleen help nie. Hy wil dit ook doen. Hy wil dit doen vir diegene wat
klein word voor Hom, vir die wat in groot afhandlikheid alles alleen verwag van
hulle goeie Vader in die hemele alleen. Daarom berym Totius ook:
“
Maar die HEER se oë straal met mededoë
op wie, klein van krag,
voor Hom stilverslae in hul donker dae
op sy goedheid wag”.
En
wie so vertrou, sal nooit terleurgestel word nie. Want:
“
Sy arm ontbloot Hy uit die hoogte (Hy gryp in)
en red hul siele van die dood.
Hy sorg vir hul by somerdroogte,
in sware tyd en hongersnood”.
Ja,
Hy red van die allergrootste nood, ja, selfs van die dood. Dit kan Hy doen. Dit
het Hy immers bewys in die opstanding van Christus. Sal Hy dan nie in ons ander
nood ook kan help nie, ook in watter nood ook al van sy kerk nie?
Daarom
(selfs=):
“
In die grootste smarte bly nogtans ons harte
op die HEER vertrou”.
Want:
“
Hy, ons skild, Hy wyk nie, en ons hulp beswyk nie
waar ons hart op bou”.
Laat
ons in ons nood nooit vergeet nie: danksy Christus het ons weer ‘n Vader.
Laat
ons in ons nood nooit vergeet nie: ons het ‘n almagtige Vader.
Laat
ons nooit vergeet nie: Hy regeer. Hy is in beheer ook van ons lewens. En Hy weet
wat goed is vir ons.