Deur
VE
d’Assonville (snr)
(Hierdie artikel
is die eerste in ’n reeks van vyf artikels uit die skrywer se wetenskaplike,
gedokumenteerde bydrae in die Duitse boek Ordenlich
und fruchtbar – Festschrift für Willem van ’t Spijker, Leiden 1997.)
“Daarom,
nadat ons noukeurig ondersoek ingestel het, en hier en daar gesoek het, sal ons
geen beter liedere vind, nóg wat beter aan die doel beantwoord, as die Psalms
van Dawid, wat die Heilige Gees deur hom gespreek en gemaak het nie. En
buitendien, as ons hulle sing, is ons seker dat God hulle ons in die mond lê,
asof Hy self in ons sing om sy roem te verhef.” (Calvyn in sy “Epistre au
lecteur”, 1542 – 1543)
Aan
die voet van die pragtige Banghoek naby Franschoek sit daar teen 1700 ’n
Hugenote-predikant in die eensaamheid besig om ’n nuwe Franse Psalmberyming te
maak. Hy was ds. Pierre Simond. Sover bekend, was hierdie Psalmberyming die
eerste volledige bundel van die 150 Psalms wat in Afrika ontstaan het.
Maar
helaas, Simond se beryming wat vir die Waalse (Franssprekende) kerke in Europa
bedoel was, het verlore gegaan. Die titel was Les Veillées africaines ou les Psaumes de David mis en vers français
(“Die Afrikaanse nagwake of die Psalms van Dawid in Franse beryming”).
Vir
die Franssprekende Gereformeerde kerk aan die Kaap is die Geneefse bundel in die
begin gebruik. In die Nederlands-(Afrikaans-)sprekende gemeentes was die
Psalmberyming van Datheen tot in 1775 in gebruik totdat die nuwe Nederlandse
beryming van 1773 ingevoer is.
Laasgenoemde
Psalmboek was tot in 1937 in die Afrikaanse gereformeerde kerke in diens totdat
dit met die beryming van JD du Toit (Totius) vervang is. Tot op die huidige
datum is hierdie beryming nog steeds in gebruik.
’n
Vergelyking tussen die eerste Franse Psalmberyming in Straatsburg van 1539 en
die eerste Afrikaanse Psalmberyming van 1937 is ’n opwindende ontdekkingsreis.
Grotendeels is dieselfde beginsels wat Calvyn gehuldig het, byna presies 400
jaar later deur die digter-teoloog Totius met die Afrikaanse beryming toegepas.
Die
Straatsburgbundel van 1539 is egter in die donkerste tyd van Calvyn se lewe
gebore. Op 23 April 1538 het die Raad van Genève vir hom en Farel uit die stad
verban. Maar die stad Straatsburg het hom met ope arms ontvang en hy word
predikant van die Franse vlugtelinggemeente. Op 8 September van dieselfde jaar
staan Calvyn weer op die preekstoel van ’n patetiese klein kerkie met die naam
van Saint Nicolas – aux ondes (aux
ondes = in die golwe) langs ’n waterkanaal. Is dit ironie – die kerk in die
golwe?
Eintlik
was Calvyn se verskyning op die kansel van die klein “armoedige” kerkie met
die groepie Franse vlugtelinge van buite af gesien uiters onindrukwekkend. In sy
voordrag het Calvyn glad nie geïmponeer nie. De Raemond, ’n bekende Franse
historikus kort na die Hervorming, sê: “Hy het nie die minste grasie gehad
nie en het op die kansel selfs nie eens gebare gemaak nie.” En dit in ’n
kerkgeboutjie buitekant die stad waar die drumpel dikwels met reëns oorstroom
is.
Maar
in die “kerk in die golwe” het die belangrikste van alles gebeur – die
Woord is gepreek. En as die evangelie van Jesus Christus verkondig word, dan is
die Heilige Gees aktief en die erediens kom in beweging. Dan word dit ’n
ontmoeting tussen God en die mens. God spreek en die gemeente moet antwoord.
Maar
wat antwoord hulle? Soos in Genève in 1536 staan Calvyn weer eens voor ’n
gemeente wat nie in staat is om met lofsange
op die prediking te antwoord nie. Oor eeue heen het die gemeente in die Roomse
Kerk heeltemal afgeleer om te sing.
Wat
gaan Calvyn nou doen? Hy is egter vasbeslote om met hierdie Franse
vlugtelinggemeente ’n nuwe begin te maak. Hulle moet ’n Psalmboek in hulle
eie Franse taal kry. Hy het dit raakgesien: Omdat die gemeente nie meer sing nie,
kan hulle ook nie bid nie.
Aangrypend
is dit dat Calvyn die Psalms in sy moedertaal “les oraysons des fidelles” noem – die gebede van die
gelowiges. Dit is egter nie ’n nuwe gedagte in die kerkgeskiedenis nie. Dit is
juis wat die Psalms self aan ons leer. Só het die Ou-Testamentiese kerk dit
gesien. Die Psalms van Dawid word in Psalm 72:20 die “gebede van Dawid”
genoem.
En
as die kerk hervorm moet word, dan moet die kerksang ook hervorm word. Daarvan
was Calvyn baie oortuig. Die kerklied, met name die Psalm, staan nie op sigself
in isolasie in die volk se erediens nie. Dit was die groot fout van Rome: die
kerksang is losgemaak van die gemeente wat dit moes sing en is gereserveer vir
’n koor van priesters.
In
die Psalms waarvoor Calvyn, soos Augustinus, “geen beter gesange” kon vind
nie, spreek die gemeente God aan. God het dit self aan hulle gegee. Daardeur bid
hulle tot God. Alreeds in die “Artikels” wat Calvyn saam met Farel aan die
Raad van Genève op 10 November 1536 gestuur het, pleit hulle dat die Psalms
weer in die kerk gesing moet word “omdat die gebede van die gelowiges so koud
is”.
Dit
was die dringende saak wat Calvyn, vóórdat hy in Straatsburg gekom het, aan
die Raad van Genève gestel het: Die kerk moet weer waarlik bid! En dit moet die
gemeente deur die Psalms (God se Woord) doen. Nie mompel en prewel en
binnensmonds die priester agterna sê sonder begrip en verstand nie (“a
murmurer entre eux sans aulcune intelligence”).
Dat
die Psalmsang gebede in die kerk is,
gee aan hierdie deel van die liturgie ’n buitengewoon dinamiese betekenis –
’n besondere aktivering van die Woord in die gemeente. In die eerste uitgawe van die Institusie (1536) skryf Calvyn dat God die
tong vir die gebed op twee maniere
gebruik, naamlik “deur sang en deur spraak”. Presies dieselfde gedagte vind
ons in die Voorwoord van die Psalmboek van Genève in 1542 (“La Forme des prièrs”).
Dáár onderskei Calvyn tussen twee vorms van gebed, naamlik “dié met woord
alleen en die ander met sang”.
Die
Psalmberymer Totius spreek dieselfde gedagte uit: In “Gods Woord word ons
verkondig dat ons sal kom tot die vernaamste
deel van ons dankbaarheid, naamlik die gebed, waaronder aanbidding en
lofsegginge begrepe is. ’n Lofsang is selfs ’n dubbele gebed, soos die
kerkvader Augustinus gesê het, sodat ons daarin nie mag verflou nie.”
Die
vraag is tog logies: Waarom het Calvyn nie by sy goeie vriend en kollega Martin
Bucer en die Duitssprekende gemeente hulle kerkliedere oorgeneem nie, al sou dit
by wyse van vertalings wees? Die
Gereformeerde Kerk Straatsburg het, toe Calvyn in 1538 daar aangekom het, in
volle bloei gestaan. Bucer skryf aan die stad Bern: “Naas Wittenberg was daar
geen ander stad wat hom só met die algemene belange van die evangelie besig
gehou het nie.”
Straatsburg
is “die Antiogië van die Reformasie” genoem. Uit die ryk skat van die
Duitssprekende Gereformeerde Kerk van Straatsburg se kerkliedere was daar ’n
groot verskeidenheid wat maklik vertaal kon word. Ook liedere uit die Lutherse
Reformasie was tot beskikking van die Franse gemeente in Straatsburg. Onder
andere was daar die baie bekende “Ein Feste Burg ist unser Gott”, Luther se
verwerking van Psalm 46, wat feitlik die Protestantse trefferlied van heel
Europa geword het.
Waarom
het dit nie ’n plek in die Franse Gereformeerde kerk gevind nie? Bloot taal-
en kultuurverskille? Nee, by Calvyn was daar ’n dieperliggende rede.
(Volgende
keer: Wittenberg en Straatsburg)
Twee maande na Calvyn se aankoms in Straatsburg, sing die Franse vlugtelinggemeente alreeds Psalms in hulle eie taal. Dit weet ons uit ’n brief van Johannes Zwick aan Bullinger in Zurich op 9 November 1538.
Vanwaar het Calvyn só gou ’n paar Franse Psalms in die hande gekry? Wel weet ons dat hyself met Psalm 46 ’n begin gemaak het – die eerste Franse beryming wat hy gemaak het. Onmiddellik sien ons die verskil met Luther se benadering. Luther vertolk die Psalms van die Ou Testament volgens ’n Nuwe-Testamentiese interpretasie. Calvyn hou homself streng aan die oorspronklike teks.
Die Duitse Psalmberymer Heinrich Vogel stel die verskille tussen die Lutherse en Calvinistiese uitgangspunte vir ’n Psalmberyming duidelik. In sy bundel van 50 Psalms wat hy in Duits berym het, plaas Vogel ’n “Nachwort” (nawoord) waarin hy die verskille aandui. Onder andere sien ons die volgende:
· Die Lutherse Psalmdigter gee ’n vrye bewerking van die Psalm in sy geheel en dit word “’n nuwe lied”; die Calvinistiese Psalmdigter is geheel en al aan die oorspronklike teks gebonde.
· By die Lutherse Psalmdigter is digterlike vryheid primêr en die teks is die leidraad; by die Calvinis is die oorspronklike Hebreeuse teks primêr en daarná kom die digterlike vryheid.
· Die Lutherse Psalmdigter doen sy werk sterk Christosentries sodat hy in ’n ruim mate van die teks kan afwyk. Goeie voorbeelde kry ons in Heinrich Vogel se Psalmberymings: in Psalm 23 noem hy die herder “Herr Jesu Christ”. Psalm 91 eindig hy met die aanspraak “mein Heiland”. Die Calvinistiese Psalmberymer daarenteen vertolk die oorspronklike teks sonder Nuwe-Testamentiese invoegings.
Hierdie verskille tussen die Lutherse en Calvinistiese benaderings vir ’n Psalmberyming sou tot in die twintigste eeu duidelik wees. In hoeverre die Lutherse uitgangspunt (waar die oorspronklike teks sekondêr is) die weg vir vrye gesange (waar geen oorspronklike teks is nie, of die oorspronklike teks moeilik aantoonbaar is) gebaan het, is ’n interessante vraag om te beantwoord. In die VSA kom dit ook duidelik uit studies van die Princeton Theological Seminary in Februarie 1907 na vore.
Dit word ’n verskil tussen Wittenberg en Straatsburg. Calvyn se werk aan die eerste Psalmbundel in die Gereformeerde kerke het dit onder ons aandag gebring. ’n Vergelyking tussen Luther, Calvyn en Totius in die eerste strofe van Psalm 46 toon die verskille aan:
|
Luther |
Calvyn |
Totius in Afrikaans |
|
Ein
feste Burg ist unser Gott, Ein
gute Wehr und Waffen. Er
hilft uns frei aus aller Noth, Die
uns jetst hat betroffen. Der
alte böse Feind Mit
Ernst ers jetst meint; Gross
Macht und viel List Sein
grausam Rüstung ist; Auf
Erd ist nicht seins gleichen. |
Nostre
Dieu nous est ferme appuy, Vertu,
fortresse et seur confort, Auquel aurons en nostre ennuy Present
refuge et tresbon port. Donc
certene asseurance aurons, Mesmes
quand la terre verrons Par
tremblement se desrocher, Et
mons en la mer se cacher. |
God
is ’n toevlug in die nood, ’n
rots wat altyd vas bly staan, al
dreig die vyand met die dood, al
storm sy leërbendes aan. Laat
dan maar buig en beef Al
wat ons hier omgeef; Laat
berge uit hul stee Wegwankel
in die see – Ons
sal nie beef of rugwaarts gaan. |
Kenners van die Franse taal dui duidelik aan hoe Calvyn en Totius se berymings ooreenstem – juis omdat albei sterk op die oorspronklike Hebreeus staan.
In Luther se tweede strofe kom sy standpunt om ’n “nuwe lied” na aanleiding van Psalm 46 te skep, baie duidelik uit. Hy kom tot ’n direkte belydenis van die Here as Jesus Christus, ons Redder:
Fragst du, wer der ist?
Er heisst Jesus Christ,
Der Herr Zebaoth …
Op
8 September 1538 preek Calvyn vir die eerste keer in Straatsburg. Binne twee
maande sing die gemeente reeds Franse Psalms. Kort daarna (begin 1539) verskyn
die Psalmbundel “Aulcuns Pseaulmes et
Cantiques mys en chant” (“Enige Psalms en Gesange in musiek getoonset”).
Die
boek bevat slegs 19 Psalms, die beryming van die Lofsang van Simeon, die Tien
Gebooie volgens Eksodus 20 en die “Credo” of Apostoliese Geloofsbelydenis.
Vyf van die Psalms is deur Calvyn berym, naamlik 25, 36, 46, 91 en 138. Die res
is afkomstig van Clément Marot.
Hierdie
eerste Psalmboek in die geskiedenis van die Gereformeerde kerke is die “bron
waaruit die ander gereformeerde Psalmboeke in die wêreld weerklink, ontspring
het”.
Die
grondslae is in Straatsburg gelê. Die
fondamente vir die latere Psalmbundels van Genève (1542, 1545, 1562) word in
die Franse vlugtelingkerk “in die golwe” gevind. Calvyn se beginsels vir
’n suiwer Psalmberyming is met deeglike, nougesette navorsing deur H Hasper in
sy magistrale werk, Calvijns Beginsel voor
den Zang in de Eredienst (Deel 1, 1955) blootgelê. Vandag kan ons dit op
alle ander Psalmboeke gaan toepas om tot ’n beoordeling te kom – ook ten
opsigte van die Afrikaanse Psalmbundel
van 1937.
In
kort behels Calvyn se beginsels die volgende:
·
’n
beryming moet vanuit die Hebreeuse grondteks wees;
·
nie ’n
bloemlesing nie, maar één styl;
·
die koloriet
(kunseffek) van die Bybelse beelde moet bewaar word;
·
die melodieë
moet waardig vir die erediens wees.
(Volgende
keer: Gereformeerde kerke onder Psalmsang gestig.)
’n Bekende biograaf van Calvyn, Doumergue, vertel
die volgende:
“Die
Gereformeerde Kerk is onder Psalmsang gestig. Du Bouly getuig: Die Protestante
het by La Ferriere vergader om by Psalmsang die grondslag vir hulle godsdiens te
lê. De Raemond het geskryf dat toe die Psalms verskyn het, het die kerk van
Calvyn ontstaan. Volgens ’n ou teenstander het die Psalms ‘die formulier van
die Calvinistiese godsdiens’ geword. Op die brandstapel, in die kerker, in die
klaskamers, op die slagveld het die Psalms weerklink. Die lyfwag van Condé het
dit aangehef. Die Psalmsang het meegesleur, besiel, bekeer, getroos en het soos
’n vuur die oorhand gekry. Optogte van studente, vorste en volk van Parys, in
die Pré aux clercs, te Bourges en
Bordeau, het die Psalms gesing. Die Lutherane noem die Psalms die
‘Calvinistiese sirene’. Ons Psalms is vertaal en gesing in Duits, Romeens,
Deens, Hollands, Latyn, Portugees, Maleis, Italiaans, Gasconies, Boheems, Pools,
Turks, Hongaars, Engels en ten slotte (selfs) in Hebreeus. Hierdie (massale)
koor is gelei deur Calvyn wat die eerste Psalms berym het en die eerste melodieë
gekies het en die eerste komponiste in beskerming geneem het.”
Het die Psalmboek van Straatsburg vandag nog
betekenis? Het die suiwer Psalmsang in die kerke in die oggendstond van die 21ste
eeu nog ’n toekoms? Dit weet ons nie. Wat ons wel weet, is dat die kerke –
soos in die eeue wat verby is – nog ’n groot taak
met die Psalmsang het. Waar die Christelike wysbegeerte dikwels oor die hoofde
van die gewone kerkvolk gaan, is dit die Psalmsang wat hierdie volk weer kan
aangryp en elke lid weer in die aktiewe opmars van die kerk betrokke sal maak.
Ook vir die kerksang het Calvyn maar één boodskap gehad: Keer terug na die
Heilige Skrif!
Dít was die wekroep van Straatsburg se Psalmboek in
1539. Het die ander latere bundels en met name die Afrikaanse Psalmboek van 1937 aan hierdie beginsels voldoen?
In Suid-Afrika het die Psalmsang in die kerk sy eie
geskiedenis gehad. Van 1652 tot 1775 – meer as 100 jaar – is die
Psalmberyming van Datheen gebruik. Die Franse Hugenote (gemeente Drakenstein)
het van 1688 af tot in die begin van die 18de eeu die Psalmboek van
Genève gebruik.
Die Psalmboek van 1773 is van 1775 af in die
Gereformeerde gemeentes ingevoer. Dit was ’n Staatsberyming van Nederland, en
het by sy voortreflikhede ook die gebreke van die 18de-eeuse tydsgees
gedra. Tog was hierdie boek die een waarmee die Voortrekkerpioniers die
binnelande van Afrika ingetrek het. Saam met die Statebybel het dit per ossewa
duisende kilometers deurgedring tot oor die ewenaar, in Kenia, in Tanzanië,
Zimbabwe en Angola. Op die trekpaaie, in oerwoude en woestynvlaktes, is hierdie
Nederlandse Psalms tot diep in die 20ste eeu tot in die hart van
Afrika gesing.
Maar intussen het daar ’n geweldige ding gebeur,
’n ding wat nie in een van die ander lande in die suidelike halfrond
plaasgevind het nie: die nuwe Afrikaanse
taal het reeds van die 18de eeu af onder die kerkvolk ontstaan
– nie ’n Hollandse dialek of ’n “patois” of ’n “kombuistaal” nie,
maar ’n volwaardige, wetenskaplike taal, die jongste uit die Dietse stam, die
mees moderne in die Germaanse taalfamilie en as ’n Afrikataal sterker as baie
ander.
Toe kom die datum 11 Maart 1936. Op die dorp Bethulie
in die Suid-Vrystaat vergader die sinode van die Gereformeerde Kerke in
Suid-Afrika. Daar word die nuwe Afrikaanse Psalmberyming van Totius in ontvangs
geneem en goedgekeur om voortaan in al die gemeentes gebruik te word. Hoewel
hierdie bundel al op 19 Februarie 1936 deur die gesamentlike “Kommissie van
Reviseurs” van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, die
Nederduits-Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika en die Nederduitsch Hervormde
Kerk van Afrika goedgekeur is, word die Afrikaanse Psalmberyming met die melodieë
eers in 1937 gepubliseer.
Het die Afrikaanse Psalmboek aan die eerste
vereistes van die Straatsburgbundel beantwoord, naamlik om die beryming uit
die oorspronklike Hebreeus te doen?
Die antwoord is verrassend.
Hier het ’n unieke ding gebeur: Die man wat die 150
Psalms in Afrikaans moes omdig, was tegelykertyd vertaler van die Psalms uit Hebreeus en ook digter. Woord vir woord
het hy elke Hebreeuse Psalm vir die Afrikaanse Bybelvertaling van 1933
deurgewerk. Met ander woorde: Totius se vertaling van die Psalms in Afrikaans
vir die Afrikaanse Bybel het meteen die wetenskaplike grondslag vir die
omdigting van die Hebreeuse Psalms in Afrikaans gelê. Vir die digter was hier
dus nie ’n ander kenner van Hebreeus nodig, soos wat Marot (digter van sommige
Straatsburg-Psalms) die Hebraïkus François Vatable nodig gehad het nie. Dit is
selfs só dat die Afrikaanse Psalmboek in hierdie opsig (beryming uit Hebreeus)
’n voorsprong bo die Straatsburgbundel gehad het.
Opvallend is dit dat Totius, wat in sy tyd die
hoogste roem vir sy digkuns
ontvang het (waaronder twee keer die Hertzogprys – die hoogste erkenning vir
poësie in Afrikaans, asook sewe eredoktorsgrade, onder meer die gemeentelike
Universiteit van Amsterdam), self tydens ’n besoek aan Nederland die volgende
oor die Psalmberyming verklaar het: “Die mense dink dat om Psalms te berym
’n saak van digkuns is. Allereerst is dit ’n saak van wetenskap.” Die
Nederlandse digter Martinus Nijhoff het hierby aangesluit en eerlik sy standpunt
gegee: “Ik kán het niet. Ik kan het beslist niet. Het is geen werk voor
dichters.” Só kon dit gebeur dat Calvyn wat geen digter was nie, tog as
kenner van Hebreeus vyf van die Psalms in die Straatsburgbundel besorg het.
Ons kan selfs verder gaan:
By die Psalmberyming het Totius wat as vertaler van die Psalms die
Hebreeuse teks woord vir woord deurgewerk het, eintlik as eksegeet (Skrifverklaarder)
na vore getree – presies dieselfde as wat Calvyn self in Straatsburg gedoen
het.
In die hele geskiedenis
van Psalmberymings van die Reformasietyd af, is dit ’n unieke situasie. Met
die Afrikaanse Psalmboek het ons ’n vertalende (teologies-wetenskaplike)
digter wat meteen ’n digtende vertaler is. Totius is een van die
weiniges in wie wetenskap en kuns in een mens saamgevoeg is. Kom
ons gee ’n enkele voorbeeld waar die vertaalde Psalm in die Bybel buitengewoon
getrou is aan die oorspronklike teks, en tog ’n wonderlike eenheid met die
beryming (omdigting) vertoon:
Psalm 8 (uittreksel)
Bybelvertaling (1933)
2. O HERE, onse Here, hoe heerlik is u Naam op die ganse aarde!
U wat u majesteit gelê het op die hemele.
3. Uit die mond van kinders en suigelinge het U sterkte gegrondves, om u
teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak.
4. As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre
wat U toeberei het –
5. wat is die mens dat U aan hom dink, en die mensekind dat U hom besoek?
6.
U het hom ’n weinig minder gemaak as ’n goddelike wese en hom met eer en
heerlikheid gekroon.
Psalmberyming (1937)
1. Daar is geen land so
ver of woes geleë,
geen strand, o Heer, of wilde waterweë,
geen hemelsfeer in die oneindigheid –
of orals blink u Naam en majesteit.
2. U het, o Heer, wat
troon oor alle dinge,
uit kindertaal en stem van suigelinge
u mag gegrond, sodat die mens moet swyg
wat, hoog van hart, uit wraakbegeerte dreig.
3. As ek, o Heer, u
nagtelike hemel
daarbo aanskou, die tint- en glansgewemel;
hoe, deur U toeberei, die skugter maan
met stille gang oor sterrevelde gaan –
4. wat is die mens dat U
hom gedenk het,
die mensekind wat U so ryk beskenk het!
Met eer en heerlikheid is hy gekroon,
skaars minder as die eng’le om u troon.
(Volgende keer: 400 jaar ná
Straatsburg.)
Tussen
die Psalmboek van Straatsburg (1539) en die Afrikaanse Psalmboek (1937) lê daar
vier eeue! Talle Psalmberymings in verskillende lande het hulle verskynings
gemaak. Die pad van Straatsburg na Genève was ’n wonderlike ontwikkeling. Van
1562 af het die Psalmbundel van Calvyn internasionaal geword. Die vlugtende
Hugenote het die Geneefse bundel in alle rigtings gedra: oor verskillende lande
in Europa en tot in Suid-Afrika. Via Nederland het die Afrikaanse Psalmboek sy
geskiedenis gehad: Marnix van St. Aldegonde, Datheen en die Staatsberyming van
1773. En op hierdie pad vind ons ook Vondel en Camphuysen. Straatsburg was die moederbundel.
En
na 400 jaar? Totius, die berymer van die Afrikaanse Psalms, skryf in 1937:
“Dankbaar is gebruik gemaak, veral by die ‘bekende Psalms’, van die onder
ons bekende en veelsins uitnemende Hollandse Psalmberyming. Dan het ook Marnix,
Vondel, Camphuysen en andere hulle kostelike bydrae gelewer …” Die beginsel
bly egter deurgaans: Wat sê die Hebreeus?
Die
fondamente is by Straatsburg gelê; in
Potchefstroom het Totius na 400 jaar voortgebou. Die digter sê verder: “Dit
was my strewe om dié ou goud vir die kerke van Suid-Afrika nie verlore te laat
gaan nie.”
Calvyn
se beginsel in Straatsburg was dat by hom dit “nimmer te doen is geweest om
daarvoor (die Psalmberyming) een bloemlezing te maken uit het werk der
toenmalige dichters. Hy heefte wel na verzen gezocht, maar Calvijn was geen man
voor ‘mengelwerken’.” So verklaar H Hasper, die man wat sekerlik nog die
grootste navorsing oor Calvyn se beginsels oor die kerksang gemaak het.
En
die Afrikaanse Psalmboek? Hier het ons die grootste poging van “geen
bloemlesing nie”, maar één styl – één enkele digter.
Maar
hierdie Straatsburgse beginsel van “geen bloemlesing nie” en “één styl”
is tog in die Afrikaanse beryming van buite bedreig – deur ’n interkerklike
kommissie wat “van beter weet” en die digter met kerklike gesag onder druk
geplaas het. (Lees my dokumentêre navorsing hieroor in Dit
is Totius, pp. 168-178 onder die opskrif “Onderlinge twiste en kleinlike
vooroordele”.) Die digter het dit self nooit gesê nie, maar uit wat die
betrokke kerklike kommissie in die Voorwoord skryf dat hulle “meermale
ingrypende wysigings” in die teks aan die digter voorgelê het, laat baie vrae
ontstaan – veral as die gegewens uit die argief nagegaan word.
Hieroor
– veranderings aan die teks van die digter deur ’n kerklike kommissie –
skryf ’n Nederlandse kritikus: “En wanneer we dan verder lezen hoe Totius
‘met vriendelike bereidwilligheid’ reageerde op ‘voorgestelde emendasies’,
dan vrezen we toch, dat de dichter hier te ver ging, en met zijn, door de
commissie zozeer geprezen ‘vriendelike bereidwilligheid’ min of meer verraad
pleegde aan de dichterlijke vrijheid.”
Een
ding is baie duidelik: In Straatsburg het Calvyn ’n vry hand gehad. Hy was nie
aan ’n “kerklike kommissie” van sinodes onderwerp nie. Daar is nie van
buite voortdurend oor sy skouer geloer of hy sy werk volgens ’n bepaalde smaak
doen nie. Met Totius was dit anders. Die hele “kerklike” geskiedenis van die
Afrikaanse Psalmberyming was vir hom ’n lydingspad en ’n pynlike weg van
selfverloëning onder sy eie mense.
Hasper
identifiseer die bewaring van die oorspronklike Oosterse beelde en segswyses (koloriet)
as een van Calvyn se beginsels vir ’n Psalmberyming. ’n Tipiese voorbeeld
waar die Oosterse beeld uit die land van Palestina verwaarloos is, vind ons in
twee Nederlandse berymings van Psalm 42. Die Psalmboek van 1773 begin met die
woorde:
Hijgend hert, de
jagt ontkomen,
Schreeuwt met
sterker naar ’t genot
In
Camphuysen se beryming van dieselfde gedeelte word selfs “honde” vir die jag
op die wildsbok ingeskakel:
Een dorstig hert
dat voor den honden vlied,
Verlangt zoo zeer
na ’t versche water niet
Als mijn gemoed
dat troost van U verbeyd.
Totius
doen dit soos volg:
Skreeuend dors na
die genot
Van die helder
waterbeke,
Die
Nederlander met sy land vol water het hom nie in die werklike beeld van die land
van die Bybel ingeleef nie. Daar is vir hom maar één moontlike rede waarom die
wildsbok (hert) so kan hyg van dors: as op hom gejag word of as hy vir diere (honde)
moet vlug en geen geleentheid het om water te drink nie. Totius egter, wat leef
in ’n land met ’n soortgelyke natuur as Palestina, kan in baie Psalms ’n
deurleefde vertolking gee: die versengende hitte van “die son wat op jou
trekpad staan”, die onherbergsame woestyn met sy “dorre streke” wat vertel
van die Negeb (die woestyn van Judea). In Suid-Afrika het Totius hierdie selfde
omstandighede beleef. Of dink aan Psalm 29 wat in ’n Hoëveldse donderstorm in
die somer dieselfde beelde laat sien:
Uit die
donderwolke stuur
Bliksempyle skiet
Hy neer,
Kades bewe van dié
weer.
(Volgende keer: Melodieë van die Afrikaanse
Psalmboek)
Calvyn se vereistes vir musiek volgens sy uitsprake
in die kerk is duidelik:
Die melodieë moet waardig wees om in die
erediens te sing. Soos wat wyn deur ’n tregter in die vat gegooi word, so word
woorde deur die melodie in die hart gegiet. As die melodie sleg is, sal gif en
verderf maklik indring. Die melodie is die konsentrator van die woorde. Dit
staan in diens van die woorde om die hart in die regte rigting te buig.
By al die pragtige dinge wat daar van die Afrikaanse
Psalmboek van 1937 in vergelyking met die Straatsburgbundel gesê kan word, is
daar ook die tragiese donker kant. Daar was groot kritiek in Suid-Afrika en in
die buiteland. Dit kom op die volgende neer: die melodieë was geen terugkeer na
die oorspronklike beginsels van die Reformasie, inteendeel, die afwyking het net
groter geword.
Die digter Totius was nie die skuldige nie – sy
beryming was puik en hoogstaande, maar alweer was dit ’n interkerklike
kommissie wat in 1935 hulle wil deurgedruk het. Van die oorspronklike Geneefse
melodieë het slegs sewentig oorgebly, waarvan sommige nog gewysig is. ’n
Groot aantal verskillende komponiste, waarvan sommige onder invloed van die
negentiende-eeuse Piëtisme en die Engelse Metodistiese Hymn en die
Hallelujaboek gekom het, het vir die res van die melodieë gesorg.
Wat was die gevolg? Waar die beryming van die
Afrikaanse Psalms in 1937 hoog geroem is, moes die melodieë, veral van
Nederlandse kant, felle kritiek verduur. DWL Milo noem die musikale gedeelte van
hierdie Afrikaanse Psalmboek “een misselijk conglomeraat van recht-, vrij- en
loszinnige melodieën”. Hy wys verder op die verminking (ritmies en melodies)
van die ou melodieë en spreek sy argwaan teen die nuwe melodieë uit: “Een
ander voorbeeld geeft Psalm 130. Hier is het een melodie, die voor een
kampliedjie of wandelmars geschikt is, maar het nu voor Ps. 130 ‘E profundis’
moet doen. Men zinge de kostbare woorden van Totius: ‘Uit dieptes, gans
verlore’ … en men constatere zelf, hoe deze psalm door de profane melodie
‘onsingbaar ook nie melodieus nie’ geworden is.” Psalm 2 beskou Milo as
’n “ordinaire mars” en die isometriese melodieë as ’n “categorie
slepende, zeurige, isorhythmische brouwsels”.
Hasper (die outoriteit oor Calvyn se beginsels vir
die kerksang) sê “dat de prachtige Psalmberijmingen van Prof. JD du Toit
helaas niet op uitsluitend verheven melodieën de harten zal vervoeren”. G van
de Leeuw konstateer: “Helaas hebben onze Afrikaanse broeders vele prachtige
psalmwijzen vervangen door zg. ‘nuwe wysies’, die niet alle slecht, maar
zonder uitzondering ver beneden het peil van de oude zijn.”
Dit is egter nie alleen in die buiteland dat die
Afrikaanse Psalmboek van 1937 striemende kritiek vir sy musiek moes verduur nie.
Die bekende Afrikaanse digter WEG Louw kom in skerp reaksie teen die feit “dat
die Geneefse psalmmelodieë, nadat hulle byna 300 jaar lank ook in ons land
gebruik is, vir ánder, minderwaardige en dikwels volkome onwaardige melodieë
verruil” is. Die digter Louw se verontwaardiging is baie groot: “… dat
één of meer mense sou faal, dit is alleen menslik en verstaanbaar; maar dat
’n hele geslag kon gefaal het – nie slegs uit onwetenheid nie, hoewel dié
element altyd aanwesig was, maar ook opsetlik, uit oortuiging en daarom selfs
met ’n soort koppige blymoedigheid – dit is ’n gedagte só verskriklik,
dat ’n mens huiwer om te dink aan die straf wat dit sou kon meebring.”
In die Straatsburgse “Alcuns Psealmus et Cantiques”
(die eerste Gereformeerde Psalmboek) is daar, behalwe die negentien Psalms, nog
drie berymings, naamlik die Lofsang van Simeon, die Tien Gebooie
en die Credo (“12 Artikels”, onberymd). In die Afrikaanse Psalmboek
van 1937 is ooreenkomstig artikel 69 van die Dordtse Sinode (1618-19) ook nog
die lofsange van Maria en Sagaria. Ook dit is deur Totius berym.
Sy beginselstandpunt was dat, behalwe die Psalms,
alleen “Skrifberyminge” in die erediens gesing mag word. In latere uitgawes
van die Afrikaanse Psalmboek is hierdie Skrifberyminge tot meer as vyftig
uitgebrei – meeste deur Totius berym. Die besluit van die Gereformeerde Kerke
in Suid-Afrika in 1876 lui soos volg: “De Synode der Gereformeerde Kerk in
Zuid-Afrika stelt vast, overeenkomstig art. 69 harer kerkorde: dat bij den
openbaren godsdienst alleen zullen gezongen worden de 150 Psalmen Davids gezangen
van welke de tekst in Gods Woord staat uitgedrukt” (Sinode 1876, art. 87).
In die Franse uitgawe van Calvyn se kommentaar op
die Psalms is daar ’n uitdrukking wat hy herhaaldelik gebruik: “Il n’y
a livre …” – daar is geen boek … Wat hy bedoel is dat daar geen boek
soos die Psalms is nie. Onder andere prys hy die Psalmboek soos volg:
·
Daar is geen boek waarin die mens duideliker en mooier lofprysings vind
oor God se besondere genadegawes en al sy werke nie.
·
Daar is geen boek waarin meer bevrydinge, meer getuienisse en ervarings
van God se voorsienigheid en vaderlike sorg oor ons vertel word nie.
·
Daar is geen boek waarin die manier om God te loof, volmaakter onderwys
word en waarin ons vuriger gedryf word in die oefening van godsvrug nie.
·
Daar is geen boek soos die Psalms wat so vol van onderwysinge is om ons
lewens te vorm tot heiligheid, regskapenheid en geregtigheid nie.
Lees ’n mens hierdie Voorwoord van Calvyn van sy
kommentaar op die Psalms, dan laat dit jou dink aan die magtige, forse klank van
’n groot orrel waar al die registers oopgetrek word en die uitsprake oor die
Psalms groei tot ’n grootse crescendo as hy nog ’n keer kom met sy “Il
n’y a livre …: “Daar is geen boek waarin ons die manier om God te loof,
beter vind nie!”
Hierdie boek het God vir sy kerk gegee – in
Straatsburg 1539 in die somer van die Reformasie, en in Suid-Afrika in 1937 in
die lente van die Afrikaanse taal.