Sagaria
Naggesigte
 

Oordenking 1

Lees : Sag.1:7-17.
Naggesig: Algemene inleiding
Tema : Tyd, persoon en boodskap van Sagaria.

SY TYD
In die jaar 539 v.C. het koning Kores, die Pers, 'n dekreet uitgevaardig waarvolgens die Jode in Babel na hulle eie land kon terugkeer. Slegs 'n handjievol, ongeveer vyftigduisend, het egter van dié aanbod gebruik gemaak. Die res het die rus en voorspoed van Babel bo 'n lewe van armoede en stryd in Jerusalem verkies.
Spoedig na die terugkeer is die daaglikse offerdiens herstel. In 536 is begin met die herbou van die tempel, maar verder as die lê van die fondament het dit nie gekom nie. Die Samaritane het die werk in die wiele gery en deur lis die Persiese owerhede aan hul kant gekry. Boonop was daar ander faktore wat 'n nadelige invloed uitgeoefen het: Natuurrampe en misoeste het die land geteister. Gevolglik het die werk aan die tempel tot stilstand gekom.
Vyfien jaar na die terugkeer (520 n.C.) was dit nog die geval. In dié tyd verskyn die profeet Haggai op die toneel. Hy verkondig aan die volk dat die politieke en ekonomiese probleme wat hulle ondervind, juis sy oorsaak in hulle godsdienstige traagheid het: Hulle het wel alle tyd en alle geld vir eie, welbetimmerde huise, maar nie vir die huis van die HERE nie. Die gevolg van Haggai se prediking is dat die volk hulle bekeer en die werk aan die tempel hervat.
In dieselfde jaar, presies twee maande na Haggai se laaste preek, ontvang Sagaria sy visioene. Op daardie stadium is Darius, die heerser van die Persiese wêreldryk weer stewig in die saal, nadat hy verskeie onluste in sy ryk deeglik onderdruk het. Ook die volk van God was dus op daardie tydstip net 'n ondergeskikte onderdeel van dié heidense ryk.

SY PERSOON
Alreeds in die naam van die profeet - Sagaria - lê so groot en troosryke prediking opgesluit. Want dié naam beteken: die HERE gedenk. En dan moet u by die woordjie "gedenk" nie bloot verstaan dat die HERE met die verstand aan sy volk dink nie. Dit hou oneindig veel meer as dit in. Wanneer die HERE sy Kerk gedenk, beteken dit dat Hy hulle helpend tegemoet kom en hulle van hul vyande verlos (Nm.10:9).
Van die persoon van Sagaria word ons nie veel vertel nie. Al wat ons weet, is dat hy die seun van 'n sekere Berégja was. Sy grootvader was 'n ene Iddo, hoof van 'n priesterlike familie wat uit Babel teruggekeer het.  Net soos Jeremia en Esegiël was Sagaria dus van priesterlike afkoms. Waarskynlik is sy vader jonk dood, daarom dat hy in Esra(5:1; 6:14) In Nehemia(12:16) die ( klein-) seun van Iddo genoem word. Verder weet ons niks van Sagaria nie.
Die Bybel skuif ook hier dus weer die mens op die agtergrond. Die mens Sagaria is totaal onbelangrik. Dit gaan nie daarom wie dié jong dominee nou eintlik is en wie vandag die Woord bedien nie, maar wat daar gesê word: die Woord van God! Dit is wat saak maak.
Die HERE maak sy wil aan hom bekend in die vorm van gesigte. Die verskil tussen 'n gesig of visioen enersyds en drome andersyds is dat die gesigte, in teenstelling met drome, nie in 'n slapende nie, maar in 'n wakende toestand ontvang word. In so 'n gesig kry 'n profeet veral dinge te sien, maar ook te hore.

SY BOODSKAP
Aan 'n volk, onder druk van 'n heidense regime, verkondig Sagaria: Die HERE het hulle nie vergeet nie. Inteendeel, Hy is in hulle midde en met jaloerse liefde waak Hy oor hulle. Daarom sal Hy hul verlos van hul vyande en verseker Hy hul dat sy huis in Jerusalem voltooi sal word en dat Hy onder hulle sal woon.
Hierdie boek is besonder troosvol vir ons wat bouers aan die Nuwe Testamentiese tempel, die gemeente van God, is: God is in ons midde! Hy woon in ons as sy tempel en Hy sal sorg dat die bou daarvan tot sy heerlike voltooiing gevoer word, ondank alle aanslae daarteen.
 
 

Oordenking 2

Lees : Sag.1:7-8; Mt.24:1-14.
Naggesig: 1 (deel1)
Tema : Nag oor die Kerk: die volk van God in verdrukking.

'n DONKER TYD VIR DIE KERK

Die naggesigte van Sagaria begin op 'n pessimistiese noot. Bokant hierdie agt visioene staan in v.7 as somber opskrif dat die profeet hierdie gesigte gesien het "in die tweede jaar van Daríus..."

Hierdie aanhef is nie maar net 'n aanduiding van die TYD waarin Sagaria die gesigte gesien het nie. Dit is ook 'n verwysing na die donker tydsOMSTANDIGHEDE, die nood waarin die Kerk toe verkeer het.

Sekerlik, in die tweede jaar van Darius was die lang, vreeslike ballingskap verby. Alreeds vir agtien jaar kon die Israeliete weer in hulle eie land woon. Maar hierdie vergunning tot terugkeer het in geen enkele opsig beteken herstel van hulle onafhandlikheid nie. Die Joodse volk was nog steeds onder vreemde juk. Die opskrif bokant die naggesigte is daarom eintlik 'n klag. 'n Klag van verdruktes en vertraptes...in die tweede jaar van Darius, koning van die Persiese wêreldryk! Waar dit vroeër, voor die ballingskap, so was dat die optrede van die profete gedateer is na hul eie konings, word hul profetiese arbeid nou gedateer na heidense konings. Dit beteken: Die wêreldmag gee tans die toon aan. Die groepie Jode in Jerusalem is maar 'n klein - en verdrukte! - onderdeel van dié heidense wêreldmoondheid.

Dit is daarom ook om hierdie rede korrek om die agt gesigte van Sagaria NAGgesigte te noem. Want daarmee is nie alleen gesê dat die profeet die gesigte in die nag gesien het nie. Dit vertel ons ook iets van die omstandighede van die Kerk in daardie dae: Geestelik gesproke was dit ook vir hulle nag, want hulle het gesug onder heidense heerskappy.
Op hierdie swartgallige noot borduur die profeet skynbaar voort wanneer hy sê wat hy in daardie nag aanskou het: 'n mirt in die diepte!  Die MIRTEBOOM is hier beeld van die Kerk. Die DIEPTE waarin dit staan, is die see- of onderwêrelddiepte, sinnebeeld van die magsgebied van die duisternis. Die neerdrukkende gedagte wat daarmee by ons tuisgebring word, is die geweldige oormag van die magte van die duisternis en die nietigheid en die kleinheid van die Kerk.

DIE NAG VAN DIE ANTICHRIS!

Wil u weet hoe brandend aktueel hierdie NAGgesigte van Sagaria van Sagaria vir ons is? Dan moet u weet dat ons hierin 'n afskaduwing en 'n heenwysing het na ons dae!
Ook vandag verkeer die Kerk in die NAG VAN VERDRUKKING. Want leer die Nuwe Testament ons dit nie? Inderdaad! Want ons leef in, wat die Bybel noem, die laaste dae. Dit is die nag van die Antichris. En van daardie dae sê Jesus in die profeties rede, in Mt.24:9 : "Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam." Maar hierdie nag sal boonop nog veel, veel erger wees as die nag waarin die Kerk in die dae van Sagaria verkeer het. Dit sê Jesus self vir ons in die profetiese rede soos opgeteken in Markus:"Want daardie dae sal daar 'n verdukking wees soos daar nie gewees het van die begin van die skepping af wat God geskape het tot nou toe, en ook nooit sal wees nie (Mk.13:19)."

Sien u die antichris nie aan die werk in die Gode-vyandige staatkundige magte en ideologië nie?  Sien u hom nie besig in die opkoms van die New Age-beweging nie? Sien u hom nie arbeidsaam in die verderflike media nie? En in die fenomenale groei van die sektes nie?
Ons leef in 'n tyd van al groter wordende afval. Oral krimp die getalle van die Kerk. Ja, die Kerk van vandag is niks anders as 'n nietige ou struikie in die diepte van die see van heidendom en afval nie. Die wêreldmagte is so enorm groot...en onsself is so swak, dat ons in onsself geen oomblik daarteen staande kan bly nie (H.K.V/A 127).

Miskien dink u : "Dit is darem alles te swartgallig voorgestel! Ek ervaar dan geen verdrukking nie?"  Maar is dit nie miskien omdat jy te min op jou beginsels staan nie?
 



Oordenking 3

Lees : Sag.1:8-11a ; Mt.28:16-20.
Naggesig: 1 (deel2)
Tema : Lig in die nag: Die Woord skyn in die duisternis.

GOD SE ALMAGSWOORD BEHEERS DIE GESKIEDENIS
In die stikdonker duisternis van vernedering en verdrukking het die almagswoord van die HERE tot Sagaría "gekom". Ek sê dit met nadruk so: sy ALMAGSwoord, want in die oorspronklike staan nie dat die woord "gekom" het nie, maar die Woord van die HERE het "geskied"! As sy Woord weerklink, gebeur daar iets. Dieselfde woord kry ons ook in Genesis waar daar deur die skeppende woord van die HERE telkens iets geskied( 1:3). Wat die uiterlike skyn betref mag dit daarom lyk asof Daríus - en ek weet nie watter donker magte nog nie - die septer swaai in die geskiedenis en die lewensloop van God se kinders bepaal, maar hoog bo Daríus en die onheisbendes van ons tyd troon die HERE wat die geskiedenis in sy hande het en deur Wie se Woord alles geskied.

GESIGTE WAT UITSIG GEE IN DIE NAG
Die HERE maak sy wil aan Sagaria bekend in die vorm van gesigte. Hy kry heerlike dinge te sien, want elkeen van hierdie visioene verkondig 'n beter toekoms vir daardie handjie vol Jode wat daar swoeg en ploeter in Jerusalem: God het sy volk nie vergeet nie, maar Hy kom om die vyand te oordeel, sy volk te verlos en hul midde te woon. Hoe moes die dowwe oë van die moedelose Israeliete nie begin glinster het nie by die aanhoor hiervan nie.

CHRISTUS IS DIE LIG
Hierdie visioene predik almal Christus, want in Hom sou alles wat Sagaria verkondig het, vervul word. In Hom sou al die nagskadus verdryf word. In sy kruis en opstanding sou die donker magte van sonde en dood, duiwel en wêreld oorwin word.
Deur Hom het ons almal "sieners" geword van 'n goue toekoms, van 'n nuwe Jerusalem met goue strate en poorte van pêrels, waar daar geen sonde, siekte en dood meer sal wees nie. Dit is so, al sien ons vandag nog niks daarvan nie en al sluk die dood die een na die ander in en al kleef daar aan selfs die allerheiligste nog soveel sondes en gebreke.
Skitter u oë ook by die hoor van die prediking hiervan Sondae?

IETS WAT MOET AANGRYP
Wanneer die profeet vertel wat hy gesien het, begin hy in v.8 met die woordjie "kyk" : "Kyk, daar was 'n Man..."  Vele male vind ons by die profete die oproep: Kyk! Dit is 'n uitroep van diepe verwondering.
En dan gaan die profeet voort om te sê wat hom so aangryp : "...daar was 'n Man wat op 'n rooi perd ry, en Hy het gestaan tussen die mirtebome wat in die diepte was..." Dit is niemand anders as die Engel van die HERE van Wie ons in v.11 lees nie! Hierdie Engel is dieselfde Een deur Wie die HERE vroeër sy volk uit Egipte, deur die woestyn en in die beloofde land ingelei het nie. Sy verskyning hier by sy Kerk in die diepte was vir Sagaria 'n troosryke teken dat die HERE sy volk nie vergeet het nie. In Hom is God met hulle! Immanuel! Want hierdie Engel van die HERE is niemand anders as die Seun van God in sy Ou Testamentiese gedaante nie.
In Mt.24 kry ons die profetiese rede oor die groot verdrukking wat ons, die Kerk van die eindtyd sal ervaar, maar ewe verwonderenswaardig is dat daardie hoofstuk omring en ingesluit word deur die belofte: God met ons (Mt.1:23; 28:20). KYK, die Engel van die HERE in ons midde! Gryp dit u ook aan? Indien nie, is dit nie 'n goeie teken nie!

'n VERKENNERSPATROLLIE
'n Patrollie engele moet aan die Engel van die HERE rapporteer oor wêreldgebeure en natuurlik ook oor die toestand van die Kerk. Ag, vanselfsprekend was dit nie vir die alwetende God nodig om hiervoor van engele gebruik te maak nie, maar so wil Hy te kenne gee: Hy is geïnteresseerd in die lot van sy volk. Hy vergeet ons nie.
Ook die kleur van die perde is opvallend: rooi, vosrooi en wit. Dit wissel dus van rooi tot wit. Rooi wys op bloed in kryg vergiet en wit is die kleur van oorwinning. Die Engel kom om sy volk te verlos, maar die stryd sal bloed kos, sy eie bloed aan die kruis!
 
 

Oordenking 4

 

Lees : Sag.1:11-12a ; Ef.2:11-22.

Naggesig: 1 (deel3)

Tema : Die Voorbidder: aanleiding tot sy voorbede.

'n TERLEURSTELLENDE RAPPORT

Tussen die mirtebome in die diepte het Sagaria die Engel van die HERE gesien staan. Aan Hom as hul Opperbevelhebber moes die verkennerspatrollie verslag doen van die toestand in die wêreld: Hoe staan die volkere teenoor mekaar? Gis en kook dit? Is daar oorlogsrumoer en geweld? En hoe lyk dit met die volk van God?

Die rapport van die engele is egter diep terleurstellend:"Ons het die aarde deurkruis, en kyk, die ganse aarde is stil en rustig."

Miskien vind u dit vreemd dat ek dit 'n terleurstellende rapport noem. In ons tyd is daar soveel oorlogsrumoer op die wêreldtoneel. Wat sou tog heerliker gewees het om te hoor: Oral is daar rus en vrede?

WAAROM DIT 'n TERLEURSTELLENDE VERSLAG IS : GOD SE ONVERVULDE BELOFTES

Ons sal die terleurstellende van hierdie verslag moet verklaar teen die agtergrond van die profesie van Haggai. Net 'n paar maande tevore het Haggai geprofeteer in 'n skynbaar hopelose situasie. Slegs 'n hanjievol Israeliete het uit Babel teruggekeer en het geleef onder die heerskappy van die heidense wêreldryk. Wel het hul pas weer begin met die tempelbou, maar dinge wou maar nie vlot verloop nie: Die Samaritane het die werk teëgestaan en natuurrampe het hul geteister. Toe moes die mense terugdink aan die eerste tempel, die van Salomo: Hoe radikaal anders was dit nie toe gewees nie! Want, o, dit was 'n geweldige tyd : Die hele wêreld het in beweging gekom, die Libanon het gedreun van bylslae en tempelgoud is aangebring uit die verre Ofir. Ja, toe was die hele wêreld in rep en roer vir God se tempel. Maar nou - ag, nou was alles so terleurstellend anders.

Onder daardie omstandighede het Haggai die mense getroos met verrukkend heerlike vooruitsigte. Die HERE sou die wêreld in beroering bring: Enersyds sou daar 'n masale, wêreldwye GEESTELIKE BEWEGING kom. Volke sou hulle skatte in Jerusalem indra en die toekomstige heerlikheid van die huis van die HERE sou veel groter wees as in die tyd van Salomo (Hg.2:6-9); andersyds sou die oordele van God oor die Gode- en Kerk-vyandige nasies losbreek : Trone sal Hy omverstoot en die mag van groot koninkryke sou Hy verbreek (Hg.2:21-22).

Dit is egter nou juis die bittere terleurstelling van die rapport: Van al daardie wonderlike vergesigte, van die komende nuwe heilstyd was nog niks te sien nie. Alles was nog "stil en rustig."

 

Ons as Nuwe Testamentiese gelowiges bevind ons daarenteen in 'n ietwat anderse posisie as die Kerk in die dae van Sagaria : Ons weet immers van die triomf van ons Here Jesus oor die Satan aan die kruis; ons weet ook van die glorie van Pinkster, hoe die tempel van die N.T., die gemeente, vervul is met heerlikheid, met die Gees van ons verhoogde Heiland; ons weet ook van die tiomftog van die Gees, hoe mense uit verskillende nasies toegevoeg is tot die Nuwe Testamentiese tempel.

En tog, ook by ons is daar nog sprake van terleurstelling, want ook in ons dae is daar nog so min te sien van dié grootse beloftes van God : Nog is die volkome vervulling van die beloftes nie daar nie, want nog is die Kerk strydende Kerk en nog moet ons sug onder die vyandelike aktiwiteite van die duiwel, die wêreld en sy ganse ryk. Geen wonder dat ons Kategismus vol is van woorde soos "verdrukking" en "vyande" van die Here en sy Kerk (V/A 52). Op 'n ander plek is weer sprake van die werke van die duiwel, magte wat teen God opstaan en kwaadwillige planne wat bedink word teen die Woord van God (V/A 123). Die Kerk is in die spervuur van 'n aanslag sonder ophou (V/A 127).

Wie sê hy bemerk niks van hierdie vyandskap nie, moet horende doof wees vir wat Skrif en Belydenis ons leer en siende blind vir die groot geestelike afval van ons tyd. Daarby is een van die grootste foute wat ons kan maak dit: om die verdrukking van die Kerk te beperk tot slegs 'n liggaamlike vervolging. Ook dwaalleer, beginselloosheid en geestelike koudheid is niks minder as soveel aanslae teen ons nie.

Onder al hierdie hewige aanslae kreun die Kerk en onder dié swaar druk het die volk in die Ou Testament sekerlik ook gevra: Wat word nou van al God se mooi beloftes? Dit is die aanleiding tot die voorbidding.

Oordenking 5

Lees : Sag.1:12

Naggesig: 1 (deel 5)

Tema : Die Voorbidder: inhoud van sy voorbede.

DIE ANTWOORD VAN DIE ENGEL VAN DIE HERE OP DIE VERKENNERSVERSLAG

Die onmiddelike reaksie van die Engel van die HERE op die ongunstige verslag van die engele, is 'n hartstogtelike voorbidding.

Wat 'n aangrypende gedagte! Want daaruit blyk dat Christus ook onder die Ou Verbond al die Voorspraak van sy volk was. Die saak van die Kerk was toe al volledig sy saak. In al hul benoudhede was Hy benoud (Jes.63:9).

Opvallend, in antwoord op die somber verslag van die engele, rig die Seun van God Hom nie tot die boodskappers nie. Wat sou so 'n konferensie immers beteken? Nee, Hy rig Hom tot die HEER van die knegte. Dit is die regte adres. As daar geen antwoord te wagte is van oos en wes, van noord en suid nie - in alle rigtings het die engele die aarde deurkruis -, dan is die weg na bo nog oop!

Hartroerend bid Hy : "HERE van die leërskare, hoe lank nog bly U sonder ontferming oor Jerusalem en oor die stede van Juda waarop u alreeds sewentig jaar vertoornd was?"

O, Hy weet dat die HERE in sy toorn oor sy volk volkome regverdig was. Want hoe het Israel nie die maat van hul sondes volgemaak nie. Maar die Engel van die HERE weet ook dat daar by die HERE "ontferming" is. Die HERE het sy volk nie uit hardvogtigheid gestraf nie, dog ter wille van die handhawing van sy eer en met die oog op hulle behoudenis. "Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie (Ps.103:9)." Maar hy het self beloof dat Hy na sewentig jaar 'n einde sal maak aan sy tugtiging (Jer.25:11; 29:10).

ONS VOORBIDDER HERHINNER GOD AAN SY EIE BELOFTES

Hierdie Voorbidder weet hoe om die sterkste redes vir verhoring aan te voer, want Hy pleit o.g.v. God se eie beloftes. Hoor u Hom pleit: O HERE, hoe lank sal dit nog duur voordat die heilstyd kom? U het dit tog self beloof: sewentig jaar sal die ellende duur - maar dan sal Ek tot Israel terugkeer en My ontferm en in groot liefde my volk genadig wees? Hier hou ons Advokaat 'n aangrypende pleidooi!

ONS VOORBIDDER HET DIE REG OM DIE VERVULLING VAN DIE BELOFTES TE EIS

Ag, self het sy volk alle reg op God se beloftes verbeur. Maar hul Voorspraak kan met reg eis dat God sy beloftes aan hulle vervul, want in die volheid van die tyd sal Hy kom en hulle deur die bloed van die kruis weer die volste reg op God se heilsbeloftes skenk.

O, hoe moes hierdie gebed Sagaria en sy volk nie bemoedig het nie! Menigmaal het hulle self hierdie gebed gebid : "Hoe lank nog, o HERE?" Wat 'n geweldige troos moes dit daarom nie vir hulle gewees het nie: In hulle bede staan hulle nie alleen nie, maar daar is Iemand wat vir hulle pleit en hulle saak is sy saak!

Hoe lank nog, o HERE? Ook in die Nuwe Bedeling kom die gebed van lippe van God se volk wat in 'n doodstryd gewikkel is teen die groot vyand van die Kerk, die Satan en sy ganse ryk. Want in Openbaring 6 sien Johannes onder die altaar die siele van die wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het en hulle bid:"Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek u nie ons bloed op die bewoners van die aarde nie (v.9-10)?" Daardie "hoe lank" druk uit die groot verlange van die strydende Kerk dat God tog sy beloftes sal vervul: dat Hy alle Gode- en Kerk-vyandige magte in die poel van vuur sal werp (Mt.25:41; Op.20:10). Ons Voorbidder en die ontslape martelare leer ons wat bid is: pleit op God se beloftes!

Vol verlange, "met gespanne verwagting", sê die Kategismus (V/A 52), sien God se volk uit na die wederkoms van Christus, na daardie dag wanneer "Hy al my en sy vyande in die ewige verdoemenis sal werp, maar my saam met alle uitverkorenes na Hom in die hemelse blydskap en heerlikheid sal neem."

Sien u ook so, biddend, daarna uit dat daardie dag sal kom en om dan altyd by die Here te wees? Weet dan dat ons 'n groot Advokaat in die hemel het, wat voortdurend vir ons intree. Ons saak is sy saak!

 

Oordenking 6

Lees : Sag.1:13-17.

Naggesig: 1 (deel 6)

Tema : Die Voorbidder: die verhoring van sy voorbede.

DIE KERK ONTVANG DIE ANTWOORD OP DIE GEBED

Iets merkwaardigs gebeur: God gee die antwoord nie aan die Engel van die HERE nie, maar aan die engel wat by Sagaria gestaan het om die visioen aan hom uit te lê. Hy gee die antwoord aan die profeet deur en Sagaria kry, op sy beurt, opdrag om dit aan die volk bekend te maak. Tog is dit nie so vreemd nie. Die Engel van die HERE het immers nie vir Homself gebid nie. Hy het as Voorbidder opgetree vir die volk van God. Daarom word die antwoord bekend gemaak vir die Kerk in nood. Dit is juis besonder troosvol.

'n EVANGELIEWOORD

Die antwoord getuig van 'n ryk gebedsverhoring. Dit is immers "goeie woorde, troosvolle woorde." Dit is 'n goeie, 'n blye boodskap. Sagaria moet aan die volk predik: "So spreek die HERE van die leërskare: Ek ywer oor Jerusalem en oor Sion met 'n groot ywer."

'n VREUGDEBOODSKAP MET 'n RYK INHOUD : DIE LIEFDESYWER VAN DIE HERE

Let op die teëstelling! Die verslag van die verkennerspatrollie lui: Die hele aarde verkeer in volkome rus. Daarteenoor woed daar 'n storm in die hemel. Terwyl Israel moedeloos dink: "Daar gebeur niks nie", sê die HERE: Hy het al in groot ywer ontbrand jeens sy volk.

By hierdie "ywer" moet u dink aan 'n huweliksverhouding, aan die liefdesywer van 'n man jeens sy vrou: Ewe min as wat 'n man dit sal duld dat iemand die eer van sy vrou aantas, sal die HERE dit duld dat sy vrou, die Kerk, kwaad aangedoen word. Met jaloerse liefde waak Hy oor sy volk. Hy kan dit nie verdra dat die heidense volke stad en tempel met die grond gelyk gemaak en sy volk vertrap het nie.

OORDEEL OOR DIE VYAND, ONTFERMINGE VIR DIE KERK

Babel sal gestraf word en alle Godevyandige magte deur die eeue heen: Dit sien ons in ons dae in oorloë, natuurrampe en pessiektes soos Vigs. Dit is alles oordele van God. Dit is nog maar die begin van die smarte. Die finale oordeel kom nog.

Daarenteen wend die Hom met "ontferming" tot sy volk. Eintlik staan dit daar in die meervoud, ontferminge, om die oorvloed van sy medelyde vir sy Kerk uit te druk. Die Kerk sal die rykdom van sy liefde ervaar: Die tempel en Jerusalem sal herrys. Anders gestel: Die HERE sal weer onder sy volk kom woon en die Kerk sal weer opgebou word.

Die aanvanklike vervulling van hierdie profesie het gekom toe, onder Esra en Nehemia, die tempel voltooi is en die stede van Juda inderdaad herrys het. Maar nog heerliker het die liefdesywer van die HERE vir sy volk ontbrand in die sending van sy Seun : "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het........(Jh.3:16). Toe het God onder sy volk kom woon. En op Pinksterdag het Hy sy Nuwe Testamentiese tempel betrek: Sy Gees is in oorvloedige mate uitgestort en Hy het nie maar net onder ons nie, maar in ons kom woon. En Handelinge word verkondig die opbou van Jerusalem, d.i. die gemeente, want daarin lees ons hoe die Kerk met krag uitgebrei het oor die hele wêreld. Maar die volkome vervulling kom nog: daardie dag wanneer die Nuwe Jerusalem uit die hemel sal neerdaal, toeberei soos 'n bruid wat vir haar man versier is. Dan sal die tabernakel van God by die mense wees en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God sal self by hulle wees as hulle God. Dan sal al die stryd en verdriet van die Kerk iets van die verlede wees (Op.21:1-5).

Dit is ons uitsig in verdrukking- en vervolgingsnag: Daar kom 'n nuwe aarde onder 'n nuwe hemel en ons sal hierdie heerlike beloftes ontvang. Nee, nie omdat ons so goed is nie. Inteendeel, ons skuld voor God is hemelhoog, maar ons sal dit ontvang, want:

"Dis Christus wat die skuld wou dra,

die dood vir ons gesterf het, ja,

wat, opgewek in glorie sit

en altyddeur vir ons wil bid. "(Sk.10:2)

 

Oordenking 7

Lees : Sag.1:18-21.

Naggesig: 2 (deel 1)

Tema : Die Kerk bedreig deur wêreldmagte.

HORINGS, SINNEBEELD VAN MAG

Die eerste wat Sagaria gewaar wanneer hy na die eerste visioen weer sy oë opslaan, is vier horings. Die profeet begryp nie die betekenis van die horings nie. Daarom wend hy hom tot die tolk-engel, die engel wat ook die eerste gesig uitgelê het. Aan hom vra hy: "Wat beteken dit?" Daarop verklaar die engel dit aan hom: "Dit is die horings wat Juda, Israel en Jerusalem verstooi het."

In die Bybel is horings meermale simbole van mag (Deut.33:17; Ps.18:2). So sien ons dit dan ook in die diereryk : Baie diere gebruik hulle horings sowel om hulself te verdedig as om aan te val. Heel dikwels wys horings in die Woord egter ook op magte wat daarop uit is om die Kerk kwaad aan te doen (Dan.7). Ook in ons teks is dit duidelik die geval, want die engel sê dat die horings die volk van God "verstrooi het. "Soos 'n woedende bul met sy sterk horings alles wat hom hinder, die lug in slinger, sodat dit in alle rigtings verstrooi word, so het die volke met Israel gedoen: Hulle is weggeslinger na Babel en verstrooi in ballingskap. Die Kerk is vertrap deur die vyand.

VIER, GETAL VAN DIE GODE-VYANDIGE WERELD

Opmerklik is dat die profeet vier horings sien. Hierby moet ons nie gaan uitpluis watter vier moondhede dit was wat Juda so platgetrap het nie. Ons moet goed onthou dat ons hier naamlik met 'n visoen te doen het. Hierdie getal het dus nie 'n letterlike nie, maar 'n simboliese betekenis. Soos drie die getal van die Goddelike Drie-Eenheid is, dui vier die steeds die onheilige wêreld aan. Dit is die ganse wêreldmag wat vanuit al vier windrigtings, van oos en wes, van noord en suid teen die Kerk aanstorm. Van alle sye word die Kerk dus bedreig. Maar nie alleen van alle sye nie, maar ook in alle tye. Die name van die vyande mag wissel, maar in wese is en bly dit dieselfde vier horings. Noem die horings Babel, Persië, Hitler of die Kommunisme, dit maak uiteindelik nie werklik saak nie. Altyd stamp die horings teen die mure van die Kerk. Eeu in eeu uit word die poging herhaal om die mag en die invloed van die Kerk te breek. In sy kommentaar op hierdie gedeelte sê Calvyn : "Die Here stel hier voor ons, soos in 'n spieël, die ware toestand van die Kerk vandag. Laat ons nie verwonderd wees as die wêreld aan alle kante te kere gaan teen die Kerk nie." Laat ons eerder verbaas wees as ons geen teenstand ondervind nie, want dit is 'n aanduiding dat ons aan die verkeerde kant staan!

DIE GROOT KRAG VAN DIE HORINGS

Van dié kerkverwoestende werk van die horings sê die tolk-engel voorts: Hulle het die volk van die HERE so verstrooi "dat niemand sy hoof opgehef het nie." Die volk is verpletter. Weerstand was onmoontlik. Onder die druk en die alles oorwinnende oormag van die wêreldryk het niemand durf dink aan herstel. Moedeloos, die hoof omlaag, die houding van 'n verslaande - so het die volk van God rondgedwaal. Die heilige stad het in puin gelê, die tempel is verbrand en die volk is verstrooi in ballingskap. Enige hoop vir die toekoms van God se ryk is weggeslaan. Watter kans het Juda gehad teen die enorme oormag van die supermoondheid, Babel?

So was dit toe, so is dit tans: Die wêreld is magtig; die Satan is - so skyn dit altans - die onbetwiste alleenheerser van die aarde. Die Kerk van die HERE daarenteen kwyn weg en dit lyk asof die Koninkryk van God hoe langer hoe meer terrein verloor.

In die aangesig van die vyand, gekonfronteer met die geweldige mag van die sataniese media, stomgeslaan deur die verwoede aanval teen ons jeug...en dan: om die Kerk so in puin, vervalle, in 'n toestand van afval en wêreldgelykvormigheid te sien - dit maak 'n mens so moedeloos dat jy nie meer jou hoof durf ophef nie. Watter kans het ons teen so 'n oormag? Geen kans nie! Laat ons asseblief geen illusies daaroor hê nie. Die Satan is veels te sterk vir ONS! Ja, MAAR NIE VIR GOD NIE!

 

Oordenking 8

Lees : Sag.1:18-21; Op.12:13-17.

Naggesig: 2 (deel 2)

Tema : Die Kerk verlos deur die oordeel van die Wêreldheerser.

SAGARIA SE Oê GEOPEN OM VIER SMEDE TE SIEN

Sagaria sien vervolgens vier smede. Nee, eintlik sê ek dit verkeerd: Die HERE "toon" hom vier smede. Die verskil tussen v.18 en v.20 mag u beslis nie ontgaan nie. Die eerste vers lui : "En ek het my oë opgeslaan en gekyk - daar was vier horings." Dié vers benadruk dat Sagaria die horings met sy eie oë gesien het en kon sien. Maar met die smede was dit anders : Die profeet se aandag moes spesiaal daarop gevestig word. Sy oë moes daarvoor geopen word. Die HERE moet hom dit "toon". Dit is van besondere betekenis, want dit beteken: Die HERE het 'n plan met die smede, maar vanself sien ons dit nie. Ons natuurlike oë is blind daarvoor. Die Heilige Gees moet ons geloofsoë gee.

DIE BETEKENIS VAN DIE VIER SMEDE

Teenoor die vier horings wat die voortbestaan van sy Kerk bedreig, plaas die HERE vier smede.Maar waarom nou juis smede? Dit sê enersyds iets van die horings: Die horings is van yster! En yster is sterk! Die vyande van die Kerk is dus ystersterk, uiters gedug!

Maar die "vier smede" sê andersyds ook iets oor die magte wat die HERE teenoor die horings plaas ter verlossing van sy volk. Eerstens leer dit ons dat dié magte genoeg is. Wanneer daar sprake is van vier horings, plaas die HERE nie daarteenoor drie smede nie, maar vier: soveel verdrukkers, soveel uitredders!

Dat hul juis "smede" genoem word, leer ons tweedens hul bekwaamheid vir hul taak ken. "God vind", sê Spurgeon, "ook geskikte liede; nie vier om met penne te skryf nie...maar vier smede." Dit is manne wat gewoond is daaraan om met yster te kan werk en wat dit ook kan doen. Teenoor die vier ysterhorings plaas God dus vier gespierde manne vol krag en met hulle groot hamers slaan hulle die horings in puin.

Maar wie is nou hierdie magte wat deur die HERE ingeskakel word om die horings neer te slaan? Is dit engele in die hemel? Of is dit miskien groot manne in die Kerk, soos Luther en Calvyn? Daar is heelwat Bybel-verklaarders wat die antwoord in dié rigting soek.

Ons sal egter goed moet let op die getal "vier". Vier is in die Bybel altyd aanduiding van die aardse mag, die wêreldmag in sy volle krag. Dit beteken hier: Hierdie smede versinnebeeld 'n nuwe wêreldmag wat die eerste in sterkte ver te bowe gaan. Dit wil sê: Die wêreld bewerk self die ondergang van sy eie wêreldmagte. Groot wêreldmagte wat opruk teen die volk van die HERE, word nou-nou, nou-nou deur ander magte, ook van hierdie aarde, vernietigend verslaan.

Die Bybel self gaan ons in hierdie gedagte voor, want lees ons nie byvoorbeeld hoe Babel deur die Meders en Perse verslaan is nie?

Natuurlik moet ons nie dink dat die smede self so erg begaan was oor die lot van Juda nie: Persië was nie minder anti-christelik van aard as sy voorganger, Babel, nie. Hulle het ewe min die goeie vir die Kerk op die oog gehad. Hulle was ter selfder tyd self ook horings. Maar die HERE bestuur dit so dat die een vyandige mag die ander verteer.

Dieselfde gedagte kry ons ook in Openbaring 12, in die gesig van die vrou en die draak. Eers rig die draak hom teen die kind, Jesus. Maar na sy oorwinning en hemelvaart, wend die Satan hom tot die vrou, dit is die Kerk:"En die slang het uit sy bek water soos 'n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier (v.15)." Hierdie watervloed is niks anders as magte uit die aarde wat die draak teen die Kerk mobiliseer nie. Maar dan gebeur daar iets merkwaardigs:"...die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier opgesluk...(v.16)." D.w.s. aardse magte verhinder die vloed van wêreldmagte om die Kerk te verswelg!

Waaraan moet ons nou presies dink as ons hoor van wêreldmagte wat teen die volk van God opstaan? Sekerlik gaan dit om staatkundige magte, bv. die kommunisme, wat die voortbestaan van die Kerk in gevaar stel. Maar ook die stroom van die tydsgees, die watervloed van ons wêreldsgesinde kultuur - dink maar aan die sportverafgoding, popmusiek en die stroom van pornografie - dreig om die Kerk te oorweldig.

 

Oordenking 9

Lees : Sag.1:15, 18, 21; 2:6-9.

Naggesig: 2 (deel 3)

Tema : Die oordeel van die Wêreldheerser: die voorwerpe van sy toorn.

DIE REDE VIR DIE GERIG VAN GOD OOR DIE WERELDMAGTE

Die HERE kom met sy oordeel teen die horings. Sy gerig is aan die werk wanneer Hy die smede stuur om die horings "skrik aan te jaag" en "neer te werp". Miskien vind u dit ietwat vreemd dat God die wêreldmag so rig: Die HERE het tog self Babel gestuur om sy volk te straf?

Ja, dis waar, maar uit Sag.1:15 kan ons aflei dat hulle hul boekie te buite gegaan het: Terwyl dit vir die HERE net daarom gegaan het om sy volk vaderlik te tugtig, was dit die wêreldryk se oogmerk om hulle te verdelg. Dít was hul eintlike sonde en daarom was die HERE "grootliks vertoornd" oor hulle.

In die tweede naggesig word dit verder twee keer gesê dat hulle die volk van God "verstrooi" het (vv.19, 21). Moet tog nie in hierdie herhaling 'n breedsprakigheid sien nie. Nee, dit moet dien om as't ware uiting te gee aan die hewige verontwaardiging van God, omdat die vyand hom so vergryp het aan sy Kerk wat Hy so innig lief het.

Om die aard en die erns van hulle misdaad des te skerper in die lig te stel, sê die engel dat die wêreldmagte "Juda, Israel en Jerusalem verstrooi het." Juda is die stamnaam, Israel is die erenaam van die nasie wat deur God uitverkies is (Gn.32:24-30) en Jerusalem is die woonplek van God, waar sy troon staan. Toe Babel hulle dus vergryp het aan Israel, het hulle nie sommer enige nasie te na gekom nie, maar die volk deur God verkore om sy eiendom te wees en toe hulle Jerusalem verwoes het, was dit nie sommer enige stad wat hul in puin gelê het nie, maar God se heilige woning. Wie hom vandag aan die Kerk vergryp, vergryp hom aan die tempel van die Heilige Gees, God se kosbare besit!

En dit kan die HERE nie verdra nie! "Want", sê Sagaria in hf.2:8, "wie julle aanraak, raak sy oogappel aan." U weet self hoe teer en sensitief jou oogappel is. Met hierdie uitdrukking sê die HERE dus: Deur die leed sy volk aangedoen is Hyself seergemaak en dan nog wel op 'n uiters gevoelige plek. Dit is vir God persoonlik 'n pyniging as sy volk seergemaak word. Dit sny deur sy eie hart wanneer ons verdruk word. Dit vertoorn Hom ontsettend. Wat 'n troos is dit nie : Die leed ons aangedoen gaan nie ongemerk en ongestraf by Hom verby nie!

MAAR OOK SY AFVALLIGE VOLK SAL VOORWERP VAN SY TOORN WEES !

Ook hulle sal die gerig nie vryspring as hulle met die wêreld meedoen en net soos wêreldlinge leef nie. Want in hf.2:6,7 weerklink die dringende oproep : "Op, op, vlug uit die Noordland...Op, o Sion, red jouself, jy wat woon by die dogter van Babel!" Hierdie dringende oproep is gerig tot die Jode wat nie saam met die ander uit Babel, die Noordland, teruggekeer het nie.

Waarom het hulle nie teruggegaan nie? Ag, hulle wou doodeenvoudig nie. Dit het met hulle goed gegaan in Babel. Hulle het huise gebou en wingerde geplant en, na die woord van Jeremia, vrede gevind in Babel se vrede. Jerusalem daarenteen moes uit die puin herbou word. Talle vyande het hulle van alle sye omring en onophoudelik gedreig met vernietiging van die begonne werk. Wie wil nou die heerlike rus van Babel verruil vir so 'n onbestendige lewe? In vleeslike rus versink, het die dierbaarste beloftes geen waarde gehad nie.

Daarin is hulle beeld van soveel kerkmense vandag. Baie lidmate verkies dit om soos Babel, soos die wêreld te leef, want dit beteken rus en vrede. Maar om op jou beginsels te staan, om teen die stroom van die tyd in te gaan, om jou met jou hele lewenswandel te voeg by die Kerk, dit beteken stryd, haat en ongewildheid.

Dit is so bitter tragies, want hulle is blind vir die donker onweersbui van God wat oor Babel en almal wat in Babel, soos Babel, leef, hang. Dringend klink die oproep:"...o Sion, red jouself...!" Skei jou af van die sondige wêreld, sodat jy nie saam met haar vergaan nie. En nog dringender weerklink dit in Op.18:4 : Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie deel aan haar sondes mag hê en gevolglik van haar plae mag ontvang nie!

 

Oordenking 10

Lees : Sag.2:1-5; 10-13.

Naggesig: 3 (deel 1)

Tema : Die Kerk se grootte.

In 'n tyd waarin die getalle van die volk van God krimp en die Kerk so nietig klein lyk en dan boonop bedreig word van alle kante, in dae waarin die mense met veragting neersien op die Kerk en niks wonderliks en begerenswaardigs daarin sien nie, wil die derde visioen van Sagaria ons troos deur ons op drie dinge te wys:

1. die Kerk se grootte;

2. die Kerk se beskerming; en

3. die Kerk se heerlikheid.

Die eerste kom in hierdie oordenking ter sprake.

Die eerste wat Sagaria in sy derde naggesig sien, is 'n jongman met 'n meetsnoer in sy hand. So 'n meetsnoer is gebruik om mee grense te bepaal. Dit het die profeet natuurlik ook geweet. Daarom is sy vraag nie wat hy met die meetsnoer gaan doen nie, maar waar hy daarmee gaan werk."Waar gaan u heen?"

Nou weet ons: Toe Sagaria hierdie naggesigte ontvang het, was Jerusalem nog nie opgebou nie. Dié jongeling wil die stad dus afbaken en so vasstel waar die nuwe muur moet kom. Hoe uitgestrek sal die toekomstige Jerusalem word? Hy was dus wat ons sou noem 'n argitek of stadsbeplanner.

Opeens verskyn daar egter op die toneel twee hemelse gestaltes. Die een is die tolk-engel en hy stuur die ander engel met 'n dringende boodskap na die jongman:"Loop gou( haas jou), spreek met hierdie jongman en sê: Jerusalem sal lê soos 'n oop land weens die menigte van mense en vee daar binne-in."

Die bedoeling van dié vreugdeboodskap is om vir die jongman te sê: My liewe mens, dit is doodeenvoudig nie moontlik om die toekomstige Jerusalem te meet nie. Dit sal so groot wees, dat jy dit onmoontlik nie binne 'n muur sal kan opsluit nie.

Ag, op die tydstip van die naggesigte het dit nog glad nie daarna gelyk nie. Dié deel van die Godsvolk wat uit Babel teruggekeer het, was maar 'n geringe klompie mensie. Daarby het stad en tempel nog in puin gelê. Weliswaar het die heropbou van Jerusalem al in aanvang geneem, maar wat 'n powere begin was dit nie! In die oë van die wêreld en in eie oë was die Kerk so klein, so nietig, so gering.

Die derde naggesig open egter heerlike vergesigte. Jerusalem sal geen armsalige gehuggie meer wees nie, maar hom tot in die eindelose uitstrek. Dit sal selfs Babel en Nineve oortref. Want hierdie wêreldstede, hoewel hul miljoene inwoners getel het, was tog deur mure omring. Jerusalem daarenteen sal hom so uitbrei dat die stad onmoontlik binne mure ingesluit kan word.

Daarby moet u natuurlik nie dink aan die aardse Jerusalem nie, maar aan die Kerk van ons Here Jesus Christus. Op Pinksterdag het dit uitgebreek oor die hele wêreld: 3000 mense uit alle volke, nasies en tale is op daardie een dag daaraan toegevoeg en nog gaan die uitbreiding voort in erediens, sending en evangelisasie.

Wil dit nou sê dat uiteindelik alle mense hulle sal bekeer? Allermins! Inteendeel, die vyandskap word groter, die afval neem toe en die getal van die aanbidders van die Anti-chris is verreweg die grootste. Dog ondanks alle teëstand vergader Christus sy Kerk uit die ganse menslike geslag en eenmaal sal daar, in die nuwe Jerusalem, 'n skare wees wat niemand kan tel nie.

Ja, want in die hemelse Jerusalem sal die Kerk sy voltooiing vind. In Op.21:15-17 vertel Johannes van dié stad van die toekoms. Pas van dié voltooide Jerusalem kan met 'n goue meetstok die maat gemeet word, omdat geen uitbreiding dan meer moontlik is nie. Die stad dan egter, aldus Openbaring, so 'n enorme omvang dat dit met al ons voorstellings van stedelike grootheid volkome spot.

Daarvan sing ons ook in Sk.24:5 :

"In die stad se mate was

daar geen kleinheid en geen engte.

Van die klimmende terras

het die hoogte aan breedte en lengte

in sy maat geheel gelyk,

tot die hemelblou gereik."

Hoe moes hierdie derde naggesig die Kerk in die dae van Sagaria, 'n eilandjie omring deur 'n see van heidendom, nie bemoedig het nie. Hoe moet die uitsig op nuwe Jerusalem ons nie troos in 'n tyd van krimpende lidmaatgetalle en 'n al groter wordende afval nie: Ondanks die toenemende aanslag van die duiwel gaan die Here voort met sy kerkvergadering en Hy sal sy werk deur niks laat keer nie. Daarom sal die ontelbare skare van die nuwe Godstad 'n werklikheid word, ondanks die verwoede pogings van die Satan om dit te keer.

 

Oordenking 11

Lees : Sag.2:1-5; 10-13.

Naggesig: 3 (deel 2)

Tema : Die Kerk se beskerming.

Jerusalem sal so groot wees dat dit nie deur 'n muur omring kan word nie, het die engel gesê.

Nou moet u egter weet: Stede in die outyd was altyd omring deur 'n muur. Dit het beskerming verleen. Vanuit militêre oogpunt was dit fataal as daar geen muur was nie. So 'n stad was blootgestel aan aanvalle van die vyand.

Maar is dit dan nie gevaarlik as Jerusalem geen mure het nie? Is dit dan nie weerloos nie? Geensins! Want Jerusalem geniet die hoogste beskerming en is omring deur die magtigste bolwerk waaraan 'n mens maar kan dink: Die HERE is 'n vurige muur daar rondom!

Hiermee word gesinspeel op die gewoonte van Oosterse herders om kring van vure rondom die kamp aan te steek, om sodoende die laer teen wilde diere te beskerm. Hierdie vure vorm dan as't ware 'n muur van vuur. So omring die HERE dié wat Hy liefhet en beskerm Hy hul teen die vyand.

Prakties het die HERE dit in die geskiedenis van sy volk Israel gedemonstreer. Toe die Egiptenare die Israeliete na die uittog agtervolg het, het die Engel van die HERE, d.i. Jesus, Hom met sy vuurkolom tussen die Egiptenaars en Israel gestel, sodat hulle nie naby hulle kon kom nie. Maar in die môre het God die Egiptenaars in die see gestort en gedood( Ex.14).

Toe Elisa en sy kneg bedreig is deur die leërs van Aram wat Dotan beleër het, het die profeet sy kneg getroos met dié woorde:"...die wat by ons is, is meer as die wat by hulle is." Op die gebed van Elisa is die kneg se oë geopen en het hy gesien dat die berg vol perde en waens van vuur was. ( 2Kon.6:16,17). Die HERE was 'n vurige muur rondom hul!

Ag, met ons gewone oë sien ons, net soos die kneg van Elisa, niks daarvan nie."Maar", sê Luther,"hier is geloof nodig, omdat God sy mure van vuur op so 'n manier verborge hou dat 'n mens dit nie alleen nie kan sien nie, maar Hy laat selfs toe dat sy kinders vervolg en gedood word, asof Hy nie eens 'n strooihalm of 'n spinnerak, laat staan 'n muur van vuur rondom hulle opgetrek het nie. Die vlees is daarom te swak om hierdie...vertroostende beloftes te begryp of te glo. Die Heilige Gees moet genade en onderrig skenk." Hy moet ons geloofsoë gee. Hy moet ons vertroue gee in God se Beloftewoord. Die Woord is dus ons houvas. Daarom sê Luther ook:"As ons omring was van mure van staal en vuur, sou ons veilig gevoel het en die duiwel trotseer het. Maar die kenmerk van die geloof is nie om te roem in dit wat ons sien nie, maar in wat die Woord aan ons openbaar." Die hele werklikheid skyn te weerspreek dat die Kerk 'n gedugte Beskermer het, maar deur die geloof weet ons en op grond van God se Woord wat waar en betroubaar is, is ons versekerd:

"Die HEER is daar, Hy hou die wag...( Ps.46:3; berymd)."

En:

"Die HEER sal in gevaar

sy leërs om ons skaar,

oneindig in getal( Ps.46:6; berymd)."

Sonder ophou storm die driekoppige hellemonster, die duiwel, die wêreld en ons eie sondige vlees op ons en ons jeug af. Maar dit is die Kerk se troos: Die HERE is 'n muur van vuur rondom ons. Ons veiligheid is dus gewaarborg, gewaarborg deur God se almag en deur sy trou aan sy beloftes. Die poorte van die hel sal ons daarom nie oorweldig nie.

Oordenking 12

Lees : Sag.2:1-5; 10-13.

Naggesig: 3 (deel 3)

Tema : Die Kerk se heerlikheid.

In v.10 roep die profeet die volk op:"Jubel, en wees bly, o dogter van Sion!" En dan noem Sagaria ook die rede waarom die Kerk so verheug moet wees:"WANT kyk, Ek kom om in jou midde te woon, spreek die HERE." Wanneer 'n koning op pad is, klink daar 'n gejuig op uit die menigte. So is dit ook hier: Begroet julle Koning, die HERE, wat na julle toe kom met gejuig, o Sion!

Hierdie woorde is die eerste keer vervul op kersdag toe die Seun van God na die aarde toe gekom het."En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon...( Jh.1:14)." Die tweede vervulling was op pinksterdag, toe die Heilige Gees uitgestort is op die Kerk. Toe het die Kerk in sy geheel en elke gelowige afsonderlik wonings van God in die Gees geword( 1Kor.6:19; Ef.2:22 ,3:17). Die derde koms is nog uitstaande: wederkomsdag, daardie dag wanneer die Seun van die mens weer sal kom op die wolke van die hemel.

En nou is juis daarin die luister en die glans en die heerlikheid van die Kerk geleë: dat God self in ons midde is!

Ons leef tans in die tweede tydperk, die bedeling van die Heilige Gees. En as die Gees van God sy krag openbaar in die opwekking van sondaars uit die dood van die misdade en die sonde, en sy mag ten toon sprei in die wonder van die wedergeboorte, en arme bedelaars ryk maak met al die heerlike skatte van Christus, met die vergifnis van sondes in sy bloed en lewe in gemeenskap met God, dan besit die Kerk 'n heerlikheid wat ver bo die aardse uitstyg. Ons is skatryk, want God is met ons en oor ons straal die lig van sy vriendelike aangesig.

Wat 'n weelde is dit nie! Paradysweelde! Want dat God met ons is en met ons wandel, daarin daal die Eden van weleer weer op die aarde neer.

Maar is dit al heerlik dat die Gees so in ons woon, eenmaal sal dit nog oneindig veel heerliker wees: Daardie dag wanneer alles nuut gemaak sal word.In Openbaring 21:3 sien Johannes hoe die Nuwe Jerusalem uit die hemel neerdaal en dan hoor hy 'n groot stem uit die hemel, wat sê:"Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy self sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God." En wanneer Paulus dit het oor die wederkoms van Christus, eindig hy sy woorde op hierdie jubelende noot:"En so sal ons altyd by die Here wees( 1Ts.4:17)."

Wie sal nie hieroor jubel nie? Ja, in ons teks word ons opgeroep om te juig oor die koms van God om by ons te woon. Dit is die toppunt van saligheid. Saam met Asaf moet ons sing:

"Maar dis my goed, my saalge lot,

as ek naby is by my God ( Ps.73:12 ;berymd)."

Dit is die heerlikheid van die Kerk dat Jesus gesê het:"En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld( Mt.28:20)." En eenmaal sal daardie heerlikheid volkome wees.

In v.12 sê Sagaria voorts:"En die HERE sal...Jerusalem weer verkies." Waarom? Wat is so begeerlik aan haar? Wat is so begerenswaardig aan sy uitverkorenes vandag? Heeltemal niks nie! Insigself het ons en God se volk van die Ou Verbond geen waardigheid waardeur ons uitblink bo ander nie. Dit is alleen toe te skryf aan God se vrye guns, sy genade waartoe Hy geensins deur een of ander wonderlike eienskap in ons verplig was nie.

Hy kies u as sy erfenis en vind in u iets begeerliks. Dit is tog wonderlik as ons let op onsself: Ons is so vol sonde en selfs ons beste werke is met sonde bevlek. Maar Hy aanskou ons nie soos ons is nie, maar Hy aanskou ons in sy eie Seun.

Hoeveel gelowiges het nie al vol ongeduldige verlange gevra nie: Wanneer kom die Here dan? Hoeveel het dit nie al gevra te midde van die diepste nood en die swaarste vervolging nie: Wanneer sal die belofte van sy wederkoms dan tog uiteindelik vervul word? Maar die Here maak ons stil:"Swyg alle vlees voor die HERE!" Laat dit aan die HERE oor. Wie is ons per slot van sake om aan die hoë, alwyse God voor te skryf? Ons is niks meer as vlees nie: swak, sterflik, nietig, stof en as.

Tog laat die HERE ons nie sonder troos in ons hartstogtelike verlange nie, maar Hy bemoedig ons deur te sê:"Want Hy verhef Hom uit sy heilige woning." Hy het reeds opgestaan. Hy is al onderweg.

Alreeds het Hy na ons toe gekom in sy Seun en in sy Gees en in die tekens van die tye hoor ons die naderende voetstappe. Oorloë en gerugte van oorloë, natuurrampe en pessiektes is soveel roepstemme van God tot ons: Die Bruidegom kom! Kyk, Hy staan al voor die deur!

Intussen bly die bede van die Gees en die bruid:"Kom, Here Jesus." Ons verlang so na u.

Oordenking 13

Lees : Sag.3:1,3; Job 1.

Naggesig: 4 (deel 1)

Tema : Die Kerk voor die Regter, Jesus, aangekla.

 In die derde naggesig is heerlike dinge aan die Kerk geopenbaar: Die HERE wil weer in die midde van sy volk kom woon!

Die vraag wat egter sekerlik onwillekeurig op elke Israeliet se lippe was, was: Sal die heilige God onder so 'n diep skuldige volk wil woon?

Ons as Nuwe Testamentiese gelowiges kan 'n dergelike vraag vra: Hoe is dit moontlik dat die Heilige Gees sulke sondige mense soos ons as sy tempel kon verkies? Die antwoord op die vrae word gegee in die vierde naggesig: Die HERE self neem die skuld van sy volk weg.

Die naggesig vier verplaas ons in die hemel waar 'n hofsitting aan die gang is. Rondom die regterstoel is die hemelraad, bestaande uit engele en aartsengele vergader saam met God.

Die Regter is die Engel van die HERE, dus niemand anders as die Seun van God self nie. In lyn met die Heilige Skrif (Lk.3:9,17) bely ons immers ook, in die Twaalf Artikels, dat Jesus weerkom "om die lewendes en dooies te oordeel."

Voor die Regter van hemel en aarde staan die misdadiger, Josua - 'n lid van die verbondsvolk!  Aan sy regtersy, soos gebruiklik was in hofsake in daardie tyd, staan die aanklaer, die Satan, om die beskuldigde aan te kla (Vgl. Job 1 en 2; Op.12:10).

Wat opval, is dat Josua nie as losstaande persoon genoem word nie, maar dat nadruklik vermeld word dat hy hoëpriester is. Hy staan daarom in die beskuldigdebank as verteenwoordiger van die hele volk. In hom kla die Satan die ganse Kerk aan en dan nie alleen die Kerk van daardie tyd nie, maar ook ons!

Wat des te skokkender is, is dat die aanklaer deeglike gronde vir sy aanklag het. Josua was immers "bekleed met vuil klere" en dit simboliseer die sonde van die Kerk. So mag 'n hoëpriester nooit voor die aangesig van die HERE gekom het nie (Ex.28:2), laat staan dat die Heilige God in die midde van sulke mense sal wil woon (Hab.1:13).

Die Satan weet baie goed van die skuld van die Kerk. Hoeveel is daar nie op en aan te merk op elke gelowige nie.

Die aanklaer sien die sondeskuld van daardie tyd raak: die huwelik met heidense vroue, iets waarin die leidsliede - die priesters inkluis - die volk nogal voorgegaan het; die Satan sien hulle laksheid om die tempel te bou, terwyl hulle self in mooi huise bly.

Maar die aanlaer sien ook ons sondeskuld, ons traagheid om te bou aan die huis van die Here, die Kerk; hy sien ons liefdeloosheid en ons onbetrokkenheid.

Wat erger is: Die Regter sien dit ook! Josua staan immers bekleed met vuil klere "voor die Engel van die HERE (v.1)!"

Maar wat sê die aangeklaagde self? 'n Mens sou tog verwag dat hy iets sal sê? Dit is egter nou juis die opvallende in die hele visioen: Vir geen oomblik maak Josua sy mond oop om die Satan te weerlê nie. Hy het niks, geheel en al niks, om tot sy eie verdediging aan te voer nie. Hy weet hy is skuldig. Daar is nie eens gronde ter versagting, versagtende omstandighede nie. Vanuit die beskuldigde se oogpunt is sy posisie hopeloos. Dit is so haglik dat hy nie eens sy mond durf oopmaak nie.

Wat die prentjie nog somberder maak, is dat ook die Engel van die HERE, ons Here Jesus, die aanklagte nie weerlê nie.

Die skuld van die Kerk is duidelik. Die oogmerk van die Satan ook: Hoe kan die HERE in die midde van so 'n onheilige volk woon? Hoe kan ons onrein harte sy tempel wees? Hoe kan so vuil hoëpriester namens die volk tot God nader? Hoe kan ons, bevlek soos wat ons is, deur die gebed tot God kom? Sien u wat die oogmerk van die Satan is: Hy wil die Kerk afsny van God en beroof van sy guns?

Op die oog af is hier net een vonnis te verwagte: Die Kerk moet vir ewig van God verlaat word. Dit sou ons verdiende loon gewees het.

Maar die hofverrigtinge neem 'n verrassende wending...  

Oordenking 14

Lees : Sag.3:2; Rom.8:31-39.

Naggesig: 4 (deel 2)

Tema : Die aanklaer word deur die Regter-Advokaat afgewys.

As ons net op onsself sien, is daar slegs een uitspraak van die hemelse regbank te wagte: Julle is die ewige dood skuldig. Maar die hofverrigtinge neem 'n verrassende wending:

Die Regter rig Hom nie, soos te verwagte, tot die beskuldigde nie, maar tot die aanklaer. In plaas dat Hy die aangeklaagde tot rekenskap roep en die sy verdiende doemvonnis te hore kry, breek die HERE in toorn teen die Satan los: "Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf!" In die herhaling van diéwoorde klink die heftigheid van die Regter se woede deur. Die aanklaer word dus afgewys.

Nee, dit is nie dat Hy die aanklagte van die Satan weerlê of dat Hy die skuld van die gemeente ontken, verklein of verskoon nie. Lewensgroot staan die skuld van die Kerk immers in die persoon van Josua met sy vuil klere voor die Regter van hemel en aarde wat alles sien en weet. En tog word die aanklaer afgewys!

Hoe kan die aller regverdigste Regter dit doen? Wat is die dryfveer vir sy optrede, die gronde vir sy afwysing? God se uitverkiesing! "Mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf!" Maar verkiesing, beteken dit dat die HERE tog iets moois in Josua en ons sien, op grond waarvan Hy ons wil vryspreek. Nee, die hele visioen, die Kerk beklee met sondeskuld, weerspreek so opvatting. Die Kerk verdien niks anders as die doodsvonnis nie.

Daarby sluit die Dordtse Leerreëls aan wanneer dit bely dat die uitverkorenes "nie beter of waardiger is as die ander nie, maar in die gemeenskaplike ellende saam met die ander lê." Dit is mense wat net soos al die ander "deur hulle eie skuld van die eerste geregtigheid verval het in die sonde en verderf." Niks in ons het God dus verplig om ons uit te kies bo ander nie, maar uit vrye guns alleen het Hy besluit om ons nie aan te sien soos ons is nie, maar in Christus en om sy Seun tot fondament van ons saligheid te stel (D.L.I,7).

Hierdie uitverkiesing word nog verder verklaar in die woorde : "Is hierdie een (Josua) nie 'n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?" Vuur is in die Bybel meermale simbool van die gerig van God. Die Kerk van die Ou Testament is met die ballingskap prysgegee aan die vuuroond van die HERE se gloeiende toorn. Met hierdie ballingskap word die skuldigheid en die doemwaardigheid van die Kerk bevestig. Hulle was alreeds deur die regverdige Regter self oorgegee aan die gerig. Josua en sy medegelowiges was dus inderdaad nie beter as al die ander nie.

 

En tog het Josua en die ander teruggekeerdes daaraan ontkom! Hoe op aarde is dit moontlik? Het hulle dit self bewerkstellig, bv. deur eie, goeie werke of bekering?  Nee, ons teks skryf alle eer vir hul verlossing aan die HERE alleen toe: "Is hierdie een nie 'n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?"  Josua en die Kerk wat hy verteenwoordig was volledig passief in hulle verlossing: Hulle is uit die vuur geruk. Hulle is daaruit gehaal deur God. Om dit nou maar so te stel: Hulle het nie self daar uitgeloop, deur krag van eie verdienste, nie. Die HERE het sy hand uitgesteek en hulle daar uitgeruk, sodat hulle nie tot as verbrand is nie. Op hierdie reddingsdaad van God wys die Regter die aanklaer.

In Nuwe Testamentiese taal gestel: Deur Christus se soenverdienste is hulle verlos van die gloeiende toorn van God. Op sy eie verlossingswerk vestig die Engel van die HERE die Satan se aandag. Daarmee trek Hy 'n streep deur die aanklagte van die duiwel.

 

Hierdie Regter is dus ter selfder tyd ook Advokaat, Advokaat vir die verdediging wat regsgronde aanvoer vir die vryspraak van die beskuldigde. En op die regsgronde van ons verkiesing in Christus loop al die aanslae van die Satan te pletter. Omdat God van ewigheid af besluit het om ons skuld te bedek met die bloed van die Lam, ly al die aanklagte van die aanklaer skipbreuk.

Die Regter is dus ook Advokaat, met die waterdigste verdediging denkbaar.

Oordenking 15

Lees : Sag.3:4,5; Op.12.

Naggesig: 4 (deel 3)

Tema : Die beskuldigde se skuld deur die Regter-Redder weggeneem word.

Die Regter-Advokaat red die beskuldigde deur die gronde vir 'n aanklag weg te neem. Dit is die volgende wat gebeur in die hofsitting:

Aan die engele wat by Hom staan sê die Engel van die HERE : "Neem die vuil klere van hom weg." Die betekenis van dié simboliese daad verklaar die Regter self : "Kyk, Ek het jou skuld weggeneem."

 Vir die soveelste keer speel Josua 'n volkome passiewe rol : Hy lewer geen enkele bydrae in die wegneem van sy sondeskuld nie. Alle nadruk val op wat die Regter-Redder doen : "Kyk" - gee noukeurig aandag - "Ek neem jou sondeskuld weg."  Dit is uitsluitlik "Ek", God se werk.

Die wegneem van ons sondeskuld is gedoen deur die dood van ons Here Jesus Christus. In aansluiting by die beeld van die vierde naggesig kan ons sê: Jesus het ons vuil klere aangetrek. Hy het ons sondeskuld op Hom geneem. Hy het in ons plek in die beskuldigdebank gaan staan. Dit is werklik ongehoord: Die Regter het van regterstoel geklim , die plek van die beskuldigde gaan inneem en self die vonnis gedra.

Daarom is hierdie Regter ook Redder en die verdedigingsmateriaal is sy plaasvervangende lyding.

Maar nog is ons nie aan die einde van hierdie evangeliese naggesig nie. Nadat Josua se vuil klere weggeneem is, sê die Engel van die HERE : "En Ek" - weer is dit net "Ek", die HERE! - "en Ek beklee jou met feesklere."

 Dat Jesus ons skuld weggeneem het, was nie genoeg nie. Hy moes ook nog deur sy volmaakte gehoorsaamheid die ewige lewe vir ons verdien. En dit hét Hy gedoen en nou word elkeen wat in Hom glo, beklee met die spierwit gewaad van sy geregtigheid. Wat 'n wonder vind hier nie plaas nie: 'n verwisseling van klere, Christus in ons skuldgewaad en ons beklee met sy volmaakte gehoorsaamheid! Ons kom die regsaal in as besoedeldes en skuldige aangeklaagdes en ons gaan daar uit as reingewasde feesgenote van God! Van die regsaal na die feessaal! In plaas van 'n hellegewaad 'n hemelse gewaad!  O, wat 'n wonder!

Onder die Ou Testamentiese bedeling hoor ons nog dat Satan in die hemel kom, voor die troon van God (Job1:9 en 2:4,5), om God se kinders aan te kla (Sag.3). In Op.12:10 hoor Johannes egter 'n groot stem in die hemel sê : "...die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat ons aanklaag voor onse God, dag en nag."  Hy is uit die hemel gewerp, want alle regsgronde vir 'n aanklag teen ons is weggeneem deur die skuldbetalende offer van die Lam.

 Daarom :

                        "Wie kan ons voor die regter daag?

                         Gods uitverkore kind verklaag?

                         Waar is die mond wat durf verdoem

                         as God sy kind regverdig noem?"

 

Immers:

                        "Dis Christus wat die skuld wou dra,

                         die dood vir ons gesterf het, ja..."   (Sk.10:1,2)

 Maar al is Satan uit die hemel gewerp, dit neem nie weg dat daar nog aanklagte (tereg) teen ons gemaak kan word nie. Ons eie gewete kla ons aan dat ons teen al die gebooie van God swaar gesondig het en nie een daarvan gehou het nie en dat ons nog gedurigdeur tot alle kwaad geneig is (H.K. V/A 60). Daarby beskuldig Satan ons in ons hart. Hy vergroot ons sondes en probeer ons oortuig dat ons met dié vreeslike sondes nooit by die regbank van God verby sal kom nie. Menige egte kind van God is al so tot wanhoop gedryf.

 Laat ons egter nooit vergeet dat ons 'n Advokaat, nee, twee Advokate het nie: Een in die hemel, nl. Christus en Een op aarde, nl. die Heilige Gees.

Christus bepleit ons saak by God en die uitslag van daardie regsgeding is nooit onseker nie, want sy regsgronde voldoen aan God se vereistes.

 Daarby het ons nog 'n Advokaat by ons, die Heilige Gees. Teenoor die beskuldigings van ons eie gewetes en die aanklagte van die Satan vestig Hy ons aandag op die bloed van Christus en deur sy Woord, o.a. Sag.3, rig Hy ons blik op die volmaakte werk van ons hemelse Advokaat.

As ons net op onsself sien, is daar slegs een uitspraak van die hemelse regbank te wagte: Julle is die ewige dood skuldig. Maar die hofverrigtinge neem 'n verrassende wending:

Die Regter rig Hom nie, soos te verwagte, tot die beskuldigde nie, maar tot die aanklaer. In plaas dat Hy die aangeklaagde tot rekenskap roep en die sy verdiende doemvonnis te hore kry, breek die HERE in toorn teen die Satan los: "Mag die HERE jou bestraf, o Satan! Ja, mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf!" In die herhaling van diéwoorde klink die heftigheid van die Regter se woede deur. Die aanklaer word dus afgewys.

Nee, dit is nie dat Hy die aanklagte van die Satan weerlê of dat Hy die skuld van die gemeente ontken, verklein of verskoon nie. Lewensgroot staan die skuld van die Kerk immers in die persoon van Josua met sy vuil klere voor die Regter van hemel en aarde wat alles sien en weet. En tog word die aanklaer afgewys!

Hoe kan die aller regverdigste Regter dit doen? Wat is die dryfveer vir sy optrede, die gronde vir sy afwysing? God se uitverkiesing! "Mag die HERE, wat Jerusalem verkies het, jou bestraf!" Maar verkiesing, beteken dit dat die HERE tog iets moois in Josua en ons sien, op grond waarvan Hy ons wil vryspreek. Nee, die hele visioen, die Kerk beklee met sondeskuld, weerspreek so opvatting. Die Kerk verdien niks anders as die doodsvonnis nie.

Daarby sluit die Dordtse Leerreëls aan wanneer dit bely dat die uitverkorenes "nie beter of waardiger is as die ander nie, maar in die gemeenskaplike ellende saam met die ander lê." Dit is mense wat net soos al die ander "deur hulle eie skuld van die eerste geregtigheid verval het in die sonde en verderf." Niks in ons het God dus verplig om ons uit te kies bo ander nie, maar uit vrye guns alleen het Hy besluit om ons nie aan te sien soos ons is nie, maar in Christus en om sy Seun tot fondament van ons saligheid te stel (D.L.I,7).

Hierdie uitverkiesing word nog verder verklaar in die woorde : "Is hierdie een (Josua) nie 'n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?" Vuur is in die Bybel meermale simbool van die gerig van God. Die Kerk van die Ou Testament is met die ballingskap prysgegee aan die vuuroond van die HERE se gloeiende toorn. Met hierdie ballingskap word die skuldigheid en die doemwaardigheid van die Kerk bevestig. Hulle was alreeds deur die regverdige Regter self oorgegee aan die gerig. Josua en sy medegelowiges was dus inderdaad nie beter as al die ander nie.

 

En tog het Josua en die ander teruggekeerdes daaraan ontkom! Hoe op aarde is dit moontlik? Het hulle dit self bewerkstellig, bv. deur eie, goeie werke of bekering?  Nee, ons teks skryf alle eer vir hul verlossing aan die HERE alleen toe: "Is hierdie een nie 'n brandhout wat uit die vuur geruk is nie?"  Josua en die Kerk wat hy verteenwoordig was volledig passief in hulle verlossing: Hulle is uit die vuur geruk. Hulle is daaruit gehaal deur God. Om dit nou maar so te stel: Hulle het nie self daar uitgeloop, deur krag van eie verdienste, nie. Die HERE het sy hand uitgesteek en hulle daar uitgeruk, sodat hulle nie tot as verbrand is nie. Op hierdie reddingsdaad van God wys die Regter die aanklaer.

In Nuwe Testamentiese taal gestel: Deur Christus se soenverdienste is hulle verlos van die gloeiende toorn van God. Op sy eie verlossingswerk vestig die Engel van die HERE die Satan se aandag. Daarmee trek Hy 'n streep deur die aanklagte van die duiwel.

 Hierdie Regter is dus ter selfder tyd ook Advokaat, Advokaat vir die verdediging wat regsgronde aanvoer vir die vryspraak van die beskuldigde. En op die regsgronde van ons verkiesing in Christus loop al die aanslae van die Satan te pletter. Omdat God van ewigheid af besluit het om ons skuld te bedek met die bloed van die Lam, ly al die aanklagte van die aanklaer skipbreuk.

Die Regter is dus ook Advokaat, met die waterdigste verdediging denkbaar.

   

Oordenking 16

Lees : Sag.3:6,7; Rom.12

Naggesig: 4 (deel 4)

Tema : Die plig wat skuldvergifnis meebring.

 

Op 'n wonderlike manier, sonder enige verdienste van hulle kant, is Josua en die Kerk wat hy verteenwoordig, gered uit die ballingskap en is hulle skuld uitgedelg. Uit genade alleen is hulle herstel in hul priesteramp en kon ook die volk weer 'n koninkryk van priesters wees (Ex.19:6). Alleen danksy die skuldversoenende lyding van ons Here Jesus Christus mag ook ons 'n priestervolk vir God wees (1Pt.2:9,10).

Maar maak hierdie leer nie sorgelose en goddelose mense nie (H.K. V/A 64)?  Kon Josua en sy kollegas nie redeneer nie: Ons is nou gered, ons kan maar in die sonde bly voortleef en die vuil klere van ongeregtigheid aanhou, Christus sal dit tog uiteindelik wegneem en alles sal regkom? Geensins nie, want uit die res van die visioen blyk dat alleen in die weg van gehoorsaamheid en getroue vervulling van hul priesteramp, die heerlike beloftes van God in vervulling sal gaan.

Met nadruk verklaar die Engel van die HERE in v.7 : "AS jy in my weë wandel en AS jy my verordeninge onderhou, DAN sal jy my huis bestuur en my voorhowe bewaak, en Ek sal jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan."

AS jy dit en dat doen, DAN sal jy in die teenwoordigheid van die teenwoordigheid van die HERE mag kom. Die heilsbeloftes en die toesegginge van die HERE is dus wel deeglik gekoppel aan sekere voorwaardes.

Twee voorwaardes, twee as'e, word aan Josua en sy vriende gestel (v.7a) : Eerstens moet hulle in die weë van die HERE wandel. Die HERE eis van hulle dat hulle in hulle persoonlike lewe getrou sal wees en hulle sal gedra na sy wil. Tweedens moet hulle die verordeninge van die HERE onderhou, d.w.s. hulle moet hulle ampswerk met getrouheid en in gehoorsaamheid aan die Woord volbring. Maar dan wag daar ook ryk beloftes op Josua: Dan mag hy weer die huis van die HERE bestuur en waak oor die suiwerheid van die erediens (v.7b). Dan mag hy dus weer die besonder voorreg van priester-wees ervaar.

Nog is die HERE egter nie klaar met sy ryk toesegginge nie, maar in die laaste deel van v.7 beloof Hy : "En Ek sal jou vrye toegang verleen onder diegene wat hier staan."  "Diegene wat hier staan", dit is die engele wat rondom die troon van die HERE staan om Hom te dien (v.4 e.v.; Ps.103:20 e.v.; Mt.18:10).  Wat hier belowe word, is nie alleen dat Josua toegang kry tot die engele nie, maar saam met hulle mag hy voor God se troon staan!

Onder die Ou Verbond was dit die besondere voorreg van die hoëpriester alleen dat hy in die allerheiligste van die tempel, daar waar die ark, simbool van die troon van die HERE, gestaan het, kon ingaan. Onder die Nuwe Verbond word hierdie voorreg op alle gelowiges oorgedra, want in Efesiërs  sê Paulus vir gelowiges uit die Jode, sowel as uit die heidene:"En Hy (Jesus) het die evangelie van vrede kom verkondig aan julle wat ver was en aan die wat naby was; want deur Hom het ons albei die toegang deur een Gees tot die Vader (2:17,18; vgl.Hb.4:16). Dit is die ontsaglike groot wonder van die gebed: Daardeur mag ons tot reg voor God se troon kom met al ons nood danksy ons Advokaat, Jesus.

Die feit dat Jesus aan die kruis vir ons sondes gesterf het, mag ook ons nie aanleiding gee tot 'n houding van: My sondeskuld is tog uitgedelg, nou kan ek maar leef soos ek wil nie. Nee, ook aan ons word die voorwaardes gestel van getrouheid in ons ampswerk as priesters van die Here: Priesterlik moet ons ons hele lewe as 'n lewende dankoffer aan die Here wy (Rom.12:1). Wie dit nie wil nie, kan geen priester van die Here wees nie en het geen toegang tot God nie, nie nou nie en ook nie wanneer Jesus weerkom nie.

U moet hierdie voorwaardes egter nie sien as eise waardeur u die hemel kan verdien nie. Dit volg op die skulddelging waarvan die eerste deel van die vierde naggesig vertel. Wie gewortel is in die vrugbare grond van die soenverdienste van Christus sal ook vrugte van dankbaarheid dra. Aan die anderkant lok die Here ons ook as't ware tot 'n lewe in sy diens deur aan ons dié wonderlike beloftes van die voorreg van priester-wees en die toegang tot Hom aan ons voor te hou.

Oordenking 17

Lees : Sag.3:8,9; Jes.53.

Naggesig: 4 (deel 5)

Tema : Tekens van die skuldvergifnis.

Om die belangrikheid van wat volg te benadruk, word Josua opgeroep : "Luister tog!"

"Luister tog, o Josua, jy wat die hoëpriester is, jy en jou vriende wat voor jou sit - ja, wondertekens is hulle."

Wondertekens word Josua en sy mede-priesters genoem, want daar het 'n reddingswonder aan hulle geskied. Dit het gelyk asof alles verby was toe God sy volk in ballingskap gedryf het en die priesters saam met hulle. Hulle het ook niks beters verdien nie. Maar sonder dat die HERE daartoe verplig is deur iets verdiensteliks in hulle, het God 'n wonder van almag en genade aan hulle gedoen. Hulle ampswerk was verontreinig, nogtans het die HERE hulle weer aangeneem en herstel in hulle amp. Is dit nie 'n wonder nie?

Maar hulle is nie slegs 'n wonder nie, maar 'n wonderteken. Hulle is voortekens van 'n des te groter wonder wat kom. Hulle is 'n afbeelding van iets wat in die toekoms sal gebeur. Hierdie wonder van God se reddende genade aan hulle wys na 'n oneindig groter handeling van sonde-delgende genade van God wat nog in die toekoms lê.

Hulle is wondertekens, want wat hulle ervaar het, wys na Iemand groter: die Christus!  "Want kyk, Ek sal my Kneg, die Spruit, laat kom!"  Deur Hom sal die skuld van God se volk uitgedelg word. Deur Hom sal die Kerk gered word van die ballingskap van die ewige dood.

God die Vader stuur Hom : "Want kyk, Ek sal my Kneg, die Spruit, stuur." Dit is tog 'n belangrike gedagte: Die Seun kom as gestuurde van die Vader. Meestal loop mense met die heel verkeerde voorstelling van die Vader as grimmige Regter, maar toe het ons liewe Heiland sy toorn kom stil. Die opvatting hier agter is dat ons verlossing uitsluitlik die werk van die Seun is. Hoe anders is die leer van die Bybel nie, want dit dit leer ons dat die Seun nie op eie inisiatief gekom het nie, maar as Gestuurde van die Vader : "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het (Jh.3:16)." Soveel het die Vader vir ons oorgehad, dat Hy sy geliefde Seun nie gespaar het nie!

Met die koningshuis van Dawid was dit gedaan. Saam is hulle weggevoer na Babel, afgekap deur die HERE. Van die boom, die vorstehuis, het daar net 'n stomp oorgebly, maar die HERE het sy Kneg, die Spruit, gestuur: Uit daardie afgekapte boomstomp laat die HERE nou 'n loot opspruit. Hier gebeur 'n ontsaglike wonder. Want, sê Jesaja : "Hy tog het soos 'n loot voor sy aangesig opgespruit en soos 'n wortel uit droë grond (Jes.53:1)."  In vrugbare, nat aarde sou 'n mens nog lewe kon verwag het, maar God gee lewe waar geen lewe menslikerwys gesproke meer moontlik is nie. Hy wek lewe uit die dood. Hy stuur sy Seun tot redding van sy volk. Deur Hom is ons wat dood was deur die misdade en die sondes, lewend gemaak (Ef.2:1).

Die Ryk van God sal daarom gebou word. Sy Kerk, d.i. sy tempel, sal voltooi word. En as waarborg daarvan lê die HERE voor die oë van Josua 'n steen neer : die sluit- of gewelsteen van die ou tempel (4:7).  Dit is nog 'n bewys dat Hy sy werk van Kerkbou nie laat vaar het nie, maar dat Hy sy werk sal afrond tot die laaste steen aan toe.

Op dié steen is voorts sewe oe gerig. Dit is die Gees van God (4:10; Op.5:6), wat waak oor die Kerk en ons beskerm teen alle woede van die vyand. Deur sy Gees sal die HERE ook sy graveersel graveer op die steen. D.w.s. sy Gees sal die ruwe, onooglike steen tot 'n verruklik mooi kunswerk maak. Dit sal Hy bowenal doen deur die Naam van die Spruit daarop te skrywe, deur die Naam van die Seun deur die gawe van die geloof in ons harte in te graveer.

Verder sal die HERE op een dag die skuld van sy volk uitdelg. Hier het ons weereens 'n profesie van die heilstyd wat met die koms van Christus sal aanbreek. Onder die Ou Bedeling was dit so dat die priesters dag in en dag uit offers moes bring om die sonde van die volk te versoen. Maar onder die Nuwe Verbond sal dit anders wees. Op een dag, die dag van Golgota, sal God in een slag, deur een offer, die offer van sy eniggebore Seun, die skuld van sy volk wegneem.

Oordenking 18

Lees: Sag.3:10; Op.21:1-8.

Naggesig: 4 (deel 6)

Tema: Die vrug van die Skuldvergiffenis (v.10).

Naggesig nommer vier eindig met 'n toneel wat van vrede spreek : "In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal julle mekaar uitnooi onder die wingerdstok en onder die vyeboom."  'n Paradystoneel!

Dit is die vrug van skuldvergiffenis: Die paradys keer terug! Kyk, die sonde is die rampsalige moeder van alle rampe. Dit het van die aarde 'n woesteny van ellende gemaak. Daardeur het die toorn van God oor die aarde gekom en dit is die teenoorgestelde van vrede. Maar deur die versoeningswerk van die Spruit daal die vrede van weleer weer op die aarde neer.

Dit word geteken met 'n beeld ontleen aan Salomo se gelukkige dae. Israel se volkslewe het toe die toppunt van sy bloei bereik. Die ou belofte van Levitikus het in vervulling gegaan: Julle sal julle brood volop eet en veilig in julle land woon; ook sal Ek vrede gee in die land (26:5,6)." Salomo het nie nodig gehad om oorlog te voer nie, want hy het vrede van alle kante rondom ondervind.  Sy volksgenote het die vrug daarvan geniet, want Juda en Israel het, aldus 1 Kon. 4:24,25, veilig gewoon, elkeen onder sy wingerdstok en sy vyeboom. In die tyd van Salomo kon iedereen rustig in die skaduwee van sy wingerdstok en sy vyeboom sit. Dit was die vrederyk van Salomo.

Maar natuurlik wil dié vrederyk en dus die beeld van ons teks na iets veel groters en veel heerliker wys: Dit is 'n heenwysing na die vrederyk van die groot Vredevors, ons Here Jesus Christus.

Allereers gaan dit in dié ryk natuurlik om vrede met God, om 'n lewe in die lig van sy vriendelike aangesig.

Maar die Kerk sal ook nie meer aanvalle van vyandige magte hoef te vrees nie, want die doodsvyande van die Kerk, nl. die duiwel, die wêreld en ons eie sondige vlees sal finaal verslaan wees. Dit sal vir ons geen bedreiging meer inhou nie, maar ons sal veilig woon by God. Verder sal die gelowiges in volmaakte harmonie met mekaar lewe. Alle haat, jaloesie en twis tussen mense onderling sal vreemd wees aan hierdie ryk. Nee, sê Sagaria, "In dié dag...sal julle mekaar uitnooi onder die wingerdstok en onder die vyeboom", want elkeen sal 'n behoefte daaraan hê dat ander deel in hul seën. Gedeelde vreugde is immers dubbele vreugde. Ander moet ook geniet van hulle geestelike vrede en voorspoed.

Wanneer sal hierdie vrederyk kom?  "In die dag", sê Sagaria. Dit is die groot dag waarop die Kerk wag, waarna elke gelowige met rykhalsende verlange uitsien : Dit is die dag van die Here Jesus se wederkoms!

Ons mag egter daardie dag waarvan Sagaria praat, nie uitsluitlik beperk tot die dag van die wederkoms nie. Natuurlik sal met die wederkoms die woorde van v.10 volkome in vervulling gaan, maar tog is dit ook so dat iets van daardie ryk nou al begin deurbreek. Want Paulus sê immers:"Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus (Rom.5:1)."

En by elke ware gelowige tref ons nou alreeds die vrede met die naaste aan. Dit is immers een van die vrugte van die Heilige Gees (Gal.5:22).  Nou al reeds moet daar by ons die verlange en begeerte wees om ander te laat deel in die ryk gawes wat ons uit die hande van God ontvang het.  Nou al reeds moet ons ander oproep :

            "Kom luister toe, o Godgesinde!

             Kom, almal wat die HERE vrees!

             Ek sal vertel aan al sy vrinde

             wat Hy gedoen het aan my gees."    (Ps.66:7; berymd)

Is daardie by u die begeerte om ander te laat deel in die vreugde van skuldvergifnis?  Is daar by u die verlange om ander van die evangelie te vertel?

Hierdie naggesig begin op 'n lae noot. Dit eindig op 'n hemelhoë noot. Dit begin met die dreigende wolk van God se gerig vanweë ons sondeskuld. Dit eindig met die wegneem van ons sondeskuld en die aankondiging van vrede. Dit begin in die beskuldigdebank. Dit eindig onder die wingerde en vyebome van die nuwe aarde.

 

Oordenking 19

Lees : Sag.4:1-3; Op.1:9-20

Naggesig: 5 (deel 1)

Tema : Die BELOFTE van die Kerk se herstel.

Geestelik uitgeput deur die eerste vier gesigte wat hy gesien het, het die profeet Sagaria aan die slaap geraak.  Die tolkengel wat ook die vorige gesigte verklaar het, wek hom op met die vraag : "Wat sien jy?"

Die profeet kyk met groot aandag en sien dan 'n goue kandelaar van suiwer goud met 'n oliehouer bo. Twee olyfbome staan aan weerskante en is met toevoerpype verbind met die kandelaar.

Die kandelaar was sekerlik aan Sagaria goed bekend. In die boek Exodus lees ons dat die HERE aan Moses opdrag gegee het om 'n goue kandelaar vir die tabernakel te laat maak. In die heilige, die tweede vertrek van die tabernakel, moes dit saam met die reukofferaltaar en die tafel met die toonbrode geplaas word. Later toe Salomo op bevel van die HERE die tempel in al sy prag gebou het, het hy daar op dieselfde plek tien goue kandelaars laat plaas. Onder Israel was die heilige kandelaar dus baie nou verbind aan die erediens. Hoewel die gelowige van die ou bedeling nie die heilige van die tabernakel of tempel mog betree nie, het hy geweet dat daar die kandelaar gestaan het wat met sy sewe ligte in die stilte van die heiligdom geskyn het.

Uit die laaste Bybelboek (Op.1:20) weet ons dat die kandelaar beeld van die gemeente is.  Dit geld ook die Kerk van die Nuwe Verbond.

Uit alle volke van die aarde is Israel deur die HERE bestem om die kandelaar te wees waarop sy heerlike lig sou skyn. Hy het die lig van sy openbaring aan hierdie volk toevertrou. Israel moes die lig van God se genade laat uitstraal in die duisternis van die heidendom. Dit was 'n heerlike vooreg, maar dit het ook swaar geestelike verpligtings op die volk gelê. En hoe jammerlik het Israel nie tekort geskiet in die goddelike opdrag nie. Hoe dikwels het die lig wat die volk moes uitstraal, verdonker!  In plaas van om 'n invloed onder die heidene uit te oefen, het Israel gedurig weer die heidense gode gaan dien. Daarom het die HERE die volk uiteindelik in ballingskap laat wegvoer, die tempel is verwoes en die tempelgereedskap, waarskynlik dus ook die kandelaars, is weggevoer na Babel.

Dit het dus gelyk asof die HERE klaar was met sy volk. Hoe 'n bitter pynlike saak moes dit nie vir die gelowiges in daardie tyd gewees het nie. Maar daarteenoor: Hoe heerlike gesig moes hierdie een nie vir elke egte kind van God in daardie dae gewees het nie. Want as Sagaria nou tog nog 'n kandelaar in sy naggesig mag sien, dui dit daarop dat die HERE sy volk nog nie vergeet het nie. Hierdie kandelaar stel die oorblyfsel van Israel voor. Die HERE sal dit weer gebruik in sy diens. Hierdie gesig bevat dus 'n belofte: Die tempel sal herstel word. Die lampe sal weer brand. God het nog 'n bedoeling met sy volk. Dit moet soos 'n kandelaar sy lig versprei. Juda wat teruggekeer het, moet weer 'n getuienis lewer van die openbaring van die almagtige God wat sy verbond bevestig van geslag tot geslag.

Maar wat van Juda gegeld het, geld nog des te meer van die Kerk van die Nuwe Verbond: In woord en wandel moet ons ons lig laat skyn. Die Nuwe Testament is vol oproepe dat ons 'n lig moet wees. So sê Jesus byvoorbeeld in die Bergrede : "Julle is die lig van die wêreld. 'n Stad wat bo-op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie; en 'n mens steek ook nie 'n lamp op en sit dit onder 'n maatemmer nie, maar op die staander, en dit skyn vir almal wat in die huis is. Laat julle lig so skyn voor die mense dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik (Mt.5:14-16)." In 'n wêreld donker van die sonde en verduisterd in die verstand word die Kerk opgeroep om 'n lig te wees (Fil.2:14-16).

Die Kerk, elke gelowige dus, moet 'n lig wees. Laat in die verband die wedervaringe van Israel vir ons 'n waarskuwende voorbeeld wees: 'n Kerk wat nie lig van die wêreld wil wees nie, se lig sal uitgedoof word in die ewige gerig, waarvan die ballingskap maar net 'n dreigende voorafskaduwing was. In Openbaring word die gemeente van Efese dan ook oproep om hulle te bekeer : "Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie (Op.2:5)."

 

Oordenking 20

Lees : Sag.4:6; Eseg,36:25-28

Naggesig: 5 (deel 2)

Tema : Die GEHEIM van die Kerk se herstel: die olie van die Gees.

 

By die aanskou van die gesig is die profeet stomgeslaan. Die beeld is vir hom onduidelik. Dit is ook te begrype, want die kandelaar van die naggesig verskil van die wat in die tabernakel en die tempel was. Die kandelaars van die tabernakel en die tempel moes naamlik elke dag deur die priesters van olie gevoed word. Hierdie kandelaar daarenteen word gevoed deur twee olyfbome wat deur twee olyftakkies hulle olie in die oliekan laat vloei. Vanuit hierdie oliekan loop sewe aanvoerpype na die sewe lampe van die kandelaar.

Sagaria verstaan dit nie. Daarom sê hy aan die tolk-engel : "Wat beteken dit, my heer?"  waarop die engel hom vra : "Weet jy nie wat dit beteken nie?"  Daarmee wil hy van die profeet 'n belydenis van sy onkunde uitlok. "Nee, my heer", antwoord Sagaria. Hier bely die profeet eerlik sy eie gebrek aan kennis. God moet die profeet deur sy engel insig gee, anders bly hierdie visioen vir hom 'n geheimenis, 'n verborgenheid waarvan hy niks begryp nie.  En as die Here ons nie te hulp kom nie, wie van ons sal iets verstaan van die Woord van God. Dit moet ons leer uit hierdie gesig.  Daarom sê Calvyn ook by hierdie verse : "En laat ons vandag nie skaam wees om aan die voete van God te lê nie, dat Hy ons kan leer soos klein kinderjies nie; want wie begeer om 'n dissipel van God te wees, moet noodwendig bewus wees van sy eie dwaasheid, d.w.s. hy moet ontslae raak van die waan van sy eie vernuf of wysheid en gewillig wees om geleer te word deur God."  Het u al so klein geword voor God?

In antwoord op Sagaria se erkenning onthul die engel die geheim van hierdie visioen aan hom in die woorde van vs.6 : "Dit is die woord van die HERE aan Serubabel, naamlik: Nie deur krag of geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare."

Dit beteken: Nie deur menslike mag of inspanning sal die werk van tempelbou wat Serubabel op hom geneem het tot stand kom nie, maar alleen deur die Gees van die HERE van die leërskare. Hy is die groot geheim van die Kerk se herstel, opbou en voltooiing.

Die Heilige Gees is die olie van die kerk. In Palestina was olie of salfolie naamlik nie net 'n medisyne nie. Op meer as een plek in die Bybel is olie beeld van die Heilige Gees. So is profete priesters en konings in die Ou Testament met heilige salfolie gesalf as teken dat hulle toegerus word met die Heilige Gees.

Net so beeld die olie van die kandelaar die Heilige Gees en sy werk in die Kerk af.  Sonder Hom kan die Kerk nie sy lig laat skyn nie, want Hy is die olie wat die lampe brandende hou. Ewemin as wat 'n kandelaar lig kan gee as dit nie olie het nie, ewemin kan die kerk en 'n gelowige hulle goddelike taak verrig as hulle nie die olie van die Heilige Gees het nie.

Die vraag wat daarom tot elkeen van ons kom, is: Het u olie in u kandelaar? Het u die gawe van die Heilige Gees? 'n Sierlike kandelaar sonder olie is immers niks werd nie. Dit gee geen lig nie. Net so min kan ons 'n lig vir die wêreld wees, as ons die Gees het nie.

Is ons 'n lig vir ons omgewing? Dra u in u persoon en as gemeente die lig van die evangelie in u omgewing uit, orals waar u met mense in aanraking kom? Kan hulle uit u optrede sien dat u uit die geloof lewe en dat die geloof in Jesus Christus vir u 'n werklikheid geword het? Onthou: Ons is geroepe om 'n lig vir die wêreld te wees. Ons ontvang immers nie die gawes van die Heilige Gees om dit vir onsself te hou nie. Ons ontvang om te gee, om uit te deel, om daarmee die wêreld te bestraal, met die helder lig van die goddelike Woord.

As ons nie 'n lig vir ons omgewing is nie, moet ons onsself ernstig afvra of ons ooit die Heilge Gees het. En as ons oortuig is dat ons harte nie vervul is met die Heilige Gees nie, moet ons bid om die Heilige Gees, want die gebed is die weg waarlangs ons lampe met olie gevul word. Verder moet ons die Woord met erns bestudeer, want die Woord is die brandstof van die kandelaar, want in die Woord kom die Gees tot ons en die Woord is 'n lig op ons pad.

 

Oordenking 21

Lees : Sag.4:6,7; Ef.4:1-16.

Naggesig: 5 (deel 3)

Tema : Die GEHEIM van die Kerk se herstel: die Gees die groot Kerkbouer.

 Die Heilige Gees werk a